Verklaring oor die kabinetsvergadering van 31 Augustus 2016

1. Implementering van belangrike Regeringsprogramme

1.1. President Jacob Zuma het 'n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse Regering na die 36ste Gewone Spitsberaad van Staatshoofde van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gelei wat van 30 tot 31 Augustus 2016 gehou is met die tema "Mobilisasie van Hulpbronne vir Belegging in Infrastruktuur vir Volhoubare Energie vir 'n Inklusiewe Industrialisasie van die SAOG en die welvaart van die streek".

Die beraad het gefokus op die behoefte om industriële en infrastruktuurontwikkeling te verbeter en sodoende integrasie en handel binne die streek te verbeter om stukrag te verleen aan die SAOG se agenda vir volhoubare ontwikkeling.

Wat betref die politieke en veiligheidsituasie in die streek, het die beraad gefokus op hervormings in die grondwetlike, openbare en veiligheidsektore in die Koninkryk van Lesotho, asook op nasionale versoening, die implementering van die SAOG-padkaart vir Madagaskar en die nasionale dialoog vir voorbereidings vir nasionale verkiesings in die Demokratiese Republiek die Kongo.

Die Kabinet sluit hom aan by president Jacob Zuma en bedank die SAOG-ledestate vir hul vertroue in Suid-Afrika deur die land as voorsitter van die SAOG vanaf Augustus 2017 te verkies.

1.2. Die Kabinet verwelkom die geskiedkundige belegging van R11 miljard deur Beijing Automobile International Corporation (BAIC) vir die bou van 'n motorvervaardigingsaanleg in die Coega-nywerheidsontwikkelingsone.

Die transaksie is die grootste van sy soort in Afrika in die laaste 40 jaar en herbevestig die land as 'n topbeleggingsbestemming vir internasionale motorvervaardigers.

Dit is moontlik gemaak danksy Suid-Afrika se bevorderlike beleidsomgewing, veral die Motorvervaardigingsontwikkelingsprogram wat reeds motorvervaardigers van oor die hele wêreld gelok het.

Die BAIC-belegging is 'n uitvloeisel van die Forum vir Samewerking tussen China en Afrika wat in Desember 2015 in Johannesburg gehou is, en waartydens president Jacob Zuma en die Chinese premier, Xi Jinping, nie minder nie as 26 bilaterale ooreenkomste ter waarde van ongeveer R100 miljard onderteken het.

Die projek posisioneer die Oos-Kaap as 'n kern vir die motorbedryf en het die potensiaal om die voerketting van komponente, werkskepping en ekonomiese ontwikkeling uit te brei. Na verwagting sal 2 500 direkte en meer as 10 600 indirekte werksgeleenthede in die sektor geskep word.

Vroeër vanjaar het Toyota aangekondig dat hulle die nuwe Toyota Hilux- en Fortuner-modelle plaaslik gaan vervaardig as deel van 'n belegging van R6,1 miljard. Op sy beurt gaan BMW 'n monteeraanleg van R6 miljard bou.

Hierdie beleggings help om nasionale prioriteite soos die aansporing van ekonomiese groei, die behoud van bestaande werksgeleenthede en die skepping van nuwe werkgeleenthede te verwesenlik.

1.3. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die eerste koöperatiewe finansiële instelling vir landelike vroue in kunsvlyt deur die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti. Die Mzansi Landelike, Korporatiewe Finansiële-Instellingkoöperasie Vir Kuns En Kunsvlyt, , wat vroeër vanjaar geregistreer is, sal as 'n bankdiensplatform dien vir landelike handwerkers wat lede van koöperasies is wat in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga gestig is.

Die instelling gee hierdie vroue toegang tot die nasionale betaalstelsel, geoutomatiseerde sakebedrywighede, akkurate, omsigtige verslagdoening en sal lede in staat te stel om transaksies by betaalpunte, OTM's en met ander koöperatiewe finansiële instellings oor die hele land te beklink. Van die belangrikste uitkomste van ondersteuning sluit in die verkryging van geldige registrasiesertifikate, bankrekeninge, belastingklaringsertifikate en skakeling met nuwe markte, plaaslik en internasionaal. Die inisiatief is deel van 'n holistiese poging om vroue in landelike gebiede met vaardighede en kennis te bemagtig sodat hulle suksesvolle ondernemings kan bedryf.

1.4. Danksy die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se bekendstelling van die 50/50-beleid, het die eerste plaas in KwaZulu-Natal die loodsfase betree van die beleidsraamwerk op die versterking van die relatiewe regte van mense wat op grond werk.

Die plaas, Westcliffe, wat 514 hektaar groot is, bestaan uit 270 hektaar suikerriet, 140 hektaar boomplantasies en 10 hektaar kool onder besproeiing. Ingevolge die ooreenkoms sal werkers en plaaseienaars mede-eienaars van die boerdery in die uMshwathi plaaslike munisipaliteit naby Greytown word.

Die beleid is onder andere daarop gemik om verblyfreg vir plaaswerkers te bewerkstellig, om patrone van grondeienaarskap te transformeer en werkers te bemagtig om aandele in boerderye te bekom. Die 50/50-beleidsraamwerk het dit ten doel om ekonomiese transformasie van die landbousektor te bevorder.

1.5. Die doel van die 2016 Colloquium oor Transformasie in die Gedrukte Media van die Departement van Kommunikasie was om transformasie en diversiteit in die media te berdeneer en het aan verskeie aktiewe belanghebbendes in die media 'n platform gebied om transformasie in die media, aanspreeklikheid en diversiteit te bespreek.

Die colloquium het op die hele waardeketting in die gedrukte media gefokus, van eienaarskap tot drukwerk, verspreiding, navorsing en reklame. Dit sal die raamwerk skep vir 'n konsepdokument rakende transformasie en hervorming van tradisionele en nuwe media in Suid-Afrika.

1.6. Suid-Afrika vier in September Toerismemaand met die tema "Toerisme vir Almal" om die land se ryk toerismehulpbronne aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar te stel.

Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om saam te werk om hindernisse tot toegang uit die weg te ruim om belangstelling onder alle Suid-Afrikaners te kweek om ons merkwaardige en beeldskone land te verken.

1.7. Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om die verskillende kulture in ons land te vier in die lig van Erfenismaand in September met die tema "Menslike skatte en Legendes: Ons lewende erfenis".

Ons moedig Suid-Afrikaners aan om trots te wees op ons lewende erfenis en aktief hierdie erfenis te bevorder, te versterk en te bewaar. Dit is belangrik dat ons ons lewende menslike skatte op alle vlakke van ons samelewing vier.

Vanjaar is dit 20 jaar sedert Erfenisdag in 1996 geproklameer is en ons moet die dag gebruik om  ons gedeelde erfenis te omhels en op die vordering vir die skepping van 'n verenigde Suid-Afrika sedert 1994 te bou.

1.8. Die Kabinet neem kennis van die 2016-Staatsdiensmaand in September met die tema "Staatsdiens vir die inklusiewe groei maak saak: Neem Batho Pele na die volgende vlak om die staatsdiens vorentoe te neem".

Vanjaar se Staatsdiensmaand vind plaas tydens die vyfde administrasie en 'n maand ná die plaaslikeregeringsverkiesings. Die maandlange program vorm 'n integrale deel van die Batho Pele-Opknappingstrategie, wat daarop gemik is om goeie etiek, moreel, trots en professionaliteit van staatsamptenare te herbou deur die voorsiening van openbare goedere en dienste.

Staatsamptenare sal vandeesmaand met landsburgers en openbare belangegroepe skakel rakende die behoefte aan doeltreffende dienslewering. Die doel hiervan is om die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan te versterk deur 'n bekwame staat te help bou en transformasie en ontwikkeling te help bevorder.

1.9. Die jaarlikse Thusong-dienssentrumweek vind plaas van 19 tot 23 September 2016 met die tema "Thusong-dienssentrums - Neem die staatsdiens vorentoe: Ons behoort, ons gee om, ons dien". Tydens die week kom inligting, dienste en geleenthede wat in Thusong-dienssentrums oor die hele land beskikbaar is, onder die loep. Geleenthede is beplan om die week te herdenk en die prestasies van die sentrums sedert hul stigting in 1999 uit te lig.

1.10. Die Regering het die handelsmerk en kommunikasiestrategie van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) bekend gestel. Die visuele identiteit van die NOP sal Regeringskommunikasie saamsnoer en vordering rakende die implementering van die NOP deur middel van 'n herkenbare handelsmerk uitlig.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet keur Suid-Afrika se oorkoepelende benadering tot deelname aan vanjaar se G20-beraad goed wat onder die Chinese presidensie, op 'n oorkoepelende werkstema besluit het, naamlik "Vir 'n innoverende, lewenskragtige, interkonnektiewe en inklusiewe wêreldekonomie".

Die hooffokus van die G20-beraad is om multilaterale samewerking te verhoog om die wêreldekonomie te herstel, stabiliteit in die internasionale finansiële stelsel mee te bring,  volhoubare groei oor die lang termyn te bewerkstellig en wêreldwye ekonomiese bestuur te verbeter.

President Jacob Zuma sal die G20-beraad in Hangzhou, China, op 4 en 5 September 2016 bywoon. Suid-Afrika sal tydens die G20-beraad strategiese visie verleen om 'n ekonomiese en internasionale beleidplatform te help skep wat die beste moontlike uitkomste vir Suid-Afrika, Afrika en die ontwikkelende wêreld sal meebring. 'n Rekordgetal afgevaardigdes van ontwikkelende lande sal vanjaar se G20-beraad bywoon.

2.2. Die 2015/16 Nasionale Jaarlikse misdaadsyfers, wat saamgestel is uit misdaadsyfers van polisiestasies, is goedgekeur en sal op 2 September 2016 gepubliseer word.

Die vrystelling van die statistiek help dat "alle Suid-Afrikaners veilig voel".

Die misdaadstatistiek is in belangrike aanwyser in die Regering se stryd teen misdaad in samewerking met gemeenskappe, arbeid en die sakesektor. Die statistiek moet gesien word binne die konteks van bevolkingsgroei en die ekonomie. 

2.3. Die Kabinet het 'n verslag oor die uitkomste van die twaalfde sitting van die partykonferensie by die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Bekamping van Verwoestyning  in Ankara, Turkye, vanaf 12 tot 23 Oktober 2015 ontvang.

Suid-Afrika is as een van die begunstigdes van die ondersteuningsprogramme vir doelwitstelling aangewys. Die doel hiervan is sodat lande vrywillig teikens kan formuleer wat in ooreenstemming is met nasionale omstandighede en ontwikkelingsprioriteite.

Suid-Afrika aanvaar die omvattendheid van die konvensie en die behoefte om alle lande te dien wat met verwoestyning, grondagteruitgang en droogte te kampe het. Dit sal op sy beurt verseker dat sodanige kwessies aandag op nasionale en internasionale vlak aandag geniet. Dit sal inklusiwiteit en verbeterde noord-suid-betrekkinge en samewerking teweeg bring.

2.4. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die mede-aanbieding van die 2de Wêreldborsvoedingkonferensie deur die Departement van Gesondheid en die Internasionale Babavoedselaksienetwerk van 11 tot 14 Desember 2016 onder die tema "Kom ons belê in 'n gunstige omgewing vir moeders en babas".

Dit bewys Suid-Afrika se verbintenis tot die beskerming, bevordering en ondersteuning van borsvoeding en bevorder voeding onder babas en jong kinders.

Dit help om een van die nege langtermyngesondheidsdoelwitte te bereik soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan, naamlik die vermindering van sterftes onder moeders, babas en kinders. Die Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling plaas ook klem op die verbetering van voeding. Een van ses internasionale teikens vir voeding in die Omvattende Implementeringsplan oor Voeding vir Moeders, Babas en jong Kinders is om die koers vir uitsluitlike borsvoeding in die eerste ses maande ná geboorte teen 2025 tot minstens 50% te verhoog.

Borsvoeding is een van die beste beleggings in die oorlewing van 'n kind. Suboptimale borsvoedingspraktyke dra jaarliks by tot 800 000 sterftes (13% van alle sterfgevalle) onder kinders onder vyf in ontwikkelende lande, asook die hoë voorkoms van wanvoeding, 'n groot uitdaging in openbare gesondheid in Afrika.

2.5. Die Kabinet keur goed dat die Departement van Gesondheid die 17de Internasionale Konferensie oor Medisynereguleringsowerhede aanbied, wat vanaf 27 November tot 2 Desember 2016 in samewerking met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal plaasvind. Dit weerspieël die Regering se verbintenis om internasionale gesondheidskwessies te pak deur regulasies eenvormig te maak en veiligheid, doeltreffendheid en gehalte van medisyne en mediese toestelle te verbeter.

Hierdie raadplegende forum vir medisynereguleringsowerhede van die 194 WGO-lidlande het ten doel om die regulering van medisyne en mediese toerusting te bekyk en regulerende beginsels meer eenvormig te maak.

Die aanbieding sal die Medisynebeheerraad en stelsels vir mediese produkte versterk. Die gesprekvoering sal help om regulatoriese standaarde in Afrika en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) te verbeter en met mekaar te versoen.

Dit verleen erkenning aan Suid-Afrika as 'n wêreldrolspeler in die regulatiewe toesig oor medisyne en verwante produkte. Die land sal kan deelneem aan die formulering van internasionale medisynebeleid wat verpligtend vir WGO-lidlande kan word.

2.6. Die Kabinet neem kennis van die vordering oor die inwerkingstelling van die Wet op Openbare Administrasiebestuur, No 11 van 2014. Die wet skep 'n eenvormige stelsel van openbare administrasie op al drie vlakke van regering om die waardes en beginsels van openbare administrasie soos vervat in artikel 195 (1) van die Grondwet uit te bou.

Die Wet maak voorsiening vir die vestiging van twee strukture naamlik: (i) die Kantoor van Standaarde en Nakoming en (ii) 'n Tegniese Bystandeenheid. 'n Trapsgewyse benadering gaan gevolg word om die strukture in te voer.

Die Departement van Staatsdiens en Administrasie (DSA) het die eerste stel regulasies saamgestel wat op 15 Julie 2016 vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer is.  Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde en ander instellings werk tans saam om 'n wettige meganisme te ontwikkel wat tot die operasionalisering en vestiging van die Kantoor van Standaarde en Nakoming sal lei.

Die DSA is besig om norme en standaarde, en bestuursreëlings op te stel wat vir die implementering van die toepaslike norme voorsiening sal maak.

2.7. Die Kabinet neem kennis van 'n verslag oor asielstatistiek vir Januarie tot Desember 2015. Die Kabinet ondersteun 'n multi-departementele taakspan vir die bespreking van die bestuur van asielsoekers wie se aansoeke finaal verwerp is.

Die verslag help met ingeligte bestuur van immigrasie om die bestuur van asielsoekers en vlugtelinge te verbeter.

Volgens inligting van die Nasionale Immigrasie-inligtingstelsel, is 62 159 nuwe asielsoekers geregistreer, teenoor 71 914 in 2014 en 70 010 in 2013. Nagenoeg 60 640 geregistreerde gevalle van asiel is tussen Januarie en Desember 2015 op Vlugtelingstatusbepalingsvlak beoordeel en afgehandel. Hiervan is 2 499 asielgevalle goedgekeur, 4 093 as ongegrond verwerp en 44 048 verwerp as klaarblyklik ongegrond, misbruikend en bedrieglik.

2.8. Die Kabinet neem kennis van vordering met die Wetsontwerp op die Grensbestuurowerheid (GBO), 2016 wat vir voorlegging aan die Parlement op 23 September 2015 goedgekeur is. Hierdie wetsontwerp is oorspronklik op 8 Oktober 2015 aan die Parlement voorgelê. Die sosio-ekonomiese implikasies van die beoogde skepping van die Grensbeheerowerheid vereis dat dit ook aan die NEOAR voorgelê word, wat op 13 Oktober 2015 gedoen is.

Tussen November 2015 en Mei 2016 was daar uitgebreide gesprekvoering deur NEOAR oor die wetsontwerp. Op 12 Mei 2016 is 'n finale NEOAR-verslag oor die GBO-wetsontwerp van 2016 deur die NEOAR-bestuurskomitee goedgekeur. Die wetsontwerp is op 18 Mei 2016 deur die Kantoor van die Hoofstaatsregsadviseurs vir voorlegging aan die Parlement gesertifiseer. Die Kabinet neem kennis dat die GBO-wetsontwerp van 2016 hierna op 25 Mei 2016 aan die Parlement voorgelê is en die eerste besprekings daaroor het op 6 Augustus 2016 in die Parlement plaasgevind.

Die Kabinet keur dit goed dat die Departement van Binnelandse Sake (DBS) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die finalisering van die ooreenkoms oor die tydelike afstaan van SAID-personeel aan die DBS om grensbestuur te verbeter.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp oor Verenigings van Gemeenskaplike Eiendom, 2016 aan die Parlement voorgelê word. Die wetsontwerp wysig die Wet op Verenigings van Gemeenskaplike Eiendom, 1996 (Wet No 28 van 1996), om dit by die land se breër mandaat oor grondhervorming te laat inpas.

Dit bevorder demokratiese regering en volhoubare gebruik van gemeenskaplike grond wat namens gemeenskappe deur verenigings van gemeenskaplike eiendom bestuur word. Dit versterk die regulering en verbetering van staatsondersteuning aan bestuursinstellings. Die wetsontwerp het dit ten doel om 'n kantoor vir verenigings van gemeenskaplike eiendom onder leiding van 'n registrateur van verenigings van gemeenskaplike eiendom te vestig.

Hiervolgens sal gemeenskappe makliker eiendom kan bekom, besit en bestuur deur middel van doeltreffende statutêr-ingestelde bestuur van gemeenskapshulpbronne en -toewysings en administrasie-entiteite wat deur die Regering ondersteun word.

3.2. Die bekendstelling van die Wysigingswetsontwerp op Geregtelike Aangeleenthede, 2016 in die Parlement wat daarop gemik is om talle wette met betrekking tot regspleging te wysig ten einde aandag te skenk aan praktiese en tegniese kwessies om behoorlike regspleging te verseker, is ook goedgekeur.

Die wysigings is van so 'n aard dat dit nie prakties is om individuele wysigingswette deur te voer nie. Die wysigings is divers en kan verbind word met die volgende belangrike doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan: om te verseker dat alle mense veilig voel gegrond op 'n onafhanklike en billike strafregstelsel; maatskaplike samehorigheid; om 'n ontwikkelings-, bekwame en etiese staat wat burgers met waardigheid behandel na te streef; en ekonomiese insluiting.

4. Komende gebeure

4.1. President Jacob Zuma sal Suid-Afrika se afvaardiging na die VN se 71ste Algemene Vergadering tussen 13 en 26 September in New York lei met die tema "Die Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling: 'n Universele hupstoot om ons wêreld te transformeer."

Dit bied 'n geleentheid vir lidlande om bestek op te neem van die doeltreffendheid van die Verenigde Nasies, veral in die lig daarvan dat die organisasie onlangs sy 70ste bestaansjaar gevier het. Beraadslagings oor hervorming van die VN word verwag, insluitend die hervorming van die Algemene Vergadering, verbetering van die werk van die Ekonomiese en Maatskaplike Raad, en hervorming van die Veiligheidsraad om lidmaatskap in permanente en niepermanente kategorieë uit te brei. 

Dit sal ook die laaste keer wees dat Ban Ki-Moon die Algemene Vergadering as sekretaris-generaal sal toespreek.

4.2. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gaan die jaarlikse Nasionale Herdenkingsdag op 4 September 2016 aanbied ter herdenking van polisielede wat hul lewens tussen 31 Maart 2016 en 1 April 2015 in die uitvoering van hul pligte verloor het.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Kabinet spreek sy kommer uit oor voortgesette openbare geskille tussen verskillende partye oor die Valke se ondersoek na kwessies wat met die SAID verband hou. Die Kabinet doen 'n beroep op alle betrokkenes, insluitende lede van die Kabinet, vir selfbeheer en op te hou om openbare uitsprake oor die aangeleentheid te maak.  Die Kabinet doen 'n beroep op alle partye om fatsoenlik op te tree en om ander met respek te behandel in plaas daarvan om mekaar in die openbaar aan te val.

5.2. Die Kabinet sluit by president Zuma aan en spreek sy volle vertroue in die Minister van Finansies uit wat in samewerking met verskeie ander lede van die uitvoerende gesag, die sakesektor, arbeid en die burgerlike samelewing, uitstekende werk doen om vertroue onder plaaslike en buitelandse beleggers in die ekonomie te skep. Die Kabinet doen egter 'n beroep op alle partye om staatsinstellings wat met wetstoepassing belas is te respekteer en met hulle saam te werk.

5.3. Die uitvoerende gesag sal alles in sy vermoë doen om die ekonomie en die werk waarvoor maatskappye in staatsbesit verantwoordelik is, te beskerm. Alle staatsagentskappe moet hul mandaat uitvoer op 'n manier wat nie die werk van die Regering destabiliseer of 'n negatiewe invloed op die ekonomie het nie.

5.4. President Jacob Zuma het die spitsberaad van die Sesde Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika-ontwikkeling in Nairobi, Kenia, op 27 en 28 Augustus 2016 bygewoon. Dit was die eerste keer dat die spitsberaad sedert sy ontstaan in 1993 in Afrika gehou is.

Die spitsberaad bied staatshoofde en regerings van Afrika 'n belangrike geleentheid om vordering en inwerkingstelling van vorige ooreenkomste vir versnelde groei en ontwikkeling in Afrika te monitor.

Die beraad het plaasgevind tydens die eerste jaar van die implementering van die wêreld- en streeksontwikkelingsagendas, naamlik die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling asook Agenda 2063 en sy eerste implementeringsplan van tien jaar. In ooreenstemming met hierdie ontwikkelingsagendas het die beraad kwessies bespreek waarmee Afrika sedert die laaste beraad in Yokohama, Japan, in 2013 te kampe het. Dit sluit in industrialisering, gesondheid en maatskaplike stabiliteit.

Die Kabinet verwelkom premier Shinzo Abe se belofte dat Japan $30 miljard oor die volgende drie jaar in Afrika gaan bestee om die bou van infrastruktuur 'n hupstoot te gee.

Die beraad het beleggings in die privaat sektor, die industrialisering van ekonomieë in Afrika, die skepping van volhoubare ekonomiese strukture, gesondheid en voorkoming van pandemies soos Ebola en zika, die stryd teen terrorisme, onderwys en bemagtiging van arm jeugdiges om te verhoed hulle by ekstremistiese groepe en terrorisme aansluit, breedvoerig bespreek.

Die staatshoofde het hul opnuut verbind tot ontwikkeling in Afrika met as grondbeginsels 'n oop en inklusiewe gesprekvoering, betrokkenheid van belanghebbendes, belyning van agendas, klem op ontwikkeling van mense en doeltreffende inwerkingstelling met geïntegreerde opvolgmeganismes.

5.5. Die voorvalle van rassisme by die Pretoria High School for Girls wek kommer. Die Kabinet loof leerders vir hul dapperheid om die rassisme en vooroordeel by die skool bloot te lê. Hulle is inderdaad aktiviste van maatskaplike verandering, wat nodig is om ons land van sy verdelende verlede weg te beweeg en nader aan die verwesenliking van die doelwitte van 'n meer verenigde Suid-Afrika te bring.

Ons doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om mekaar te respekteer en te verenig teen die verdeeldheid van rassisme in ons samelewing. Ons demokratiese reis is op verdraagsaamheid en respek geskoei.

5.6. Ons sluit by miljoene Suid-Afrikaners aan en wens Suid-Afrika se Olimpiese span geluk met hul uitstekende prestasie by die 2016 Olimpiese Spele in Rio. Die span het tien medaljes in verskeie kategorieë gewen, insluitend twee goue medaljes.  Die uitstekende prestasie van Wayde van Niekerk toe hy goud in die 400 m gewen het en daarmee 'n wêreldrekord geslaan het, en die pragtige vertoning deur Caster Semenya in die 800 m sal ons nog lank bybly.

5.7. Die Kabinet wens Suid-Afrikaners en die OVK geluk met die suksesvolle plaaslikeregeringsverkiesing. Rade van oor die hele land het burgemeesters, speakers en hoofswepe verkies in 'n klinkende oorwinning vir demokrasie in aksie.

Die Kabinet moedig landsburgers aan om steeds deur middel van wykskomitees en ander meganismes wat gemeenskappe in plaaslike regering insluit, deel te neem.

5.8. Die boete van R1,5 miljard aan ArcelorMittal, die land se grootste staalvervaardiger, vir prysvasstelling en samespanning in die staalbedryf is die grootste boete teen 'n maatskappy wat tot nog toe deur die mededingingsowerhede gehef is.

Die maatskappy het ook onderneem om as deel van die skikking met die owerhede, R4,6 miljard in nuwe kapitaalbesteding te belê om sy aanlegte op te gradeer en mededingendheid te verbeter. Die skikking maak verder voorsiening vir 'n prysmeganisme wat ’n limiet op die maatskappy se winsmarge vir vlakstaalprodukte vir vyf jaar sal plaas.

Dit maak deel uit van 'n verskerpte optrede teen die misbruik van markkragte en prysvasstelling wat die ekonomie ondermyn, onnodige koste op fabrieke laer af in die waardeketting plaas en plaaslike werksgeleenthede in gedrang bring. Die Regering bly verbind tot die bevordering van ekonomiese groei deur belegging en om samespanning, wat ekonomiese stagnasie veroorsaak, te voorkom.

5.9. Ons doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om water spaarsamig te gebruik; deur saam te werk kan ons bestendige watervoorsiening verseker en ons waterinfrastruktuur beskerm.

Daar is 'n voortslepende droogte in verskeie dele van die land en die geïntegreerde Vaalrivierstelsel in Gauteng verkeer tans onder geweldige druk. 

Om die situasie die hoof te bied, gaan die Departement van Water en Sanitasie in samewerking met SALGA, die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake  en munisipaliteite waterbeperkings in Ekurhuleni, Johannesburg, Tshwane en Mogale City instel.

Stedelike watervoorsiening sal met 15% verminder word en water vir besproeiing sal met 20% gesny word.  Die beperkings is onvermydelik en sal van krag bly totdat die situasie verbeter. 

5.10. Die halfjaarlikse Bevolkingskatting deur Statistieke Suid-Afrika toon dat die Suid-Afrikaanse bevolking tot 55,9 miljoen mense gegroei het, dat die lewensverwagting nou 62 jaar is en dat die kindersterftesyfer op 33,7 per 1 000 lewende geboortes beraam word.

Die Kabinet is bekommerd oor die styging in die voorkoms van MIV van 11,2% verlede jaar tot 12,7% in 2016, wat neerkom op 'n geskatte 7 miljoen mense wat met MIV leef.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om met die Regering saam te werk om nuwe infeksies te voorkom deur ten minste een keer per jaar vir MIV te toets, veiliger seks te beoefen en vir mans en seuns om mediese besnydenis te oorweeg.

5.11. Die Kabinet neem kennis van die beslissing deur die Konstitusionele Hof oor die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte, wat in 2014 gepromulgeer is om die land se grondhervormingproses te heropen.

Die hof het die Parlement twee jaar gegun om die wet deur te voer of om 'n nuwe wetsontwerp te aanvaar. Die beslissing beteken geen nuwe aansoeke kan verwerk word voordat 'n nuwe wet vir die indiening van eise deurgevoer is nie.

Die Kommissie op die Herstel van Grondregte sal 'n mediakonferensie hou wat die pad vorentoe sal aandui in ooreenstemming met die hofbeslissing.

5.12. Suid-Afrika gaan die 35ste Internasionale Geologiekongres by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum van 27 Augustus tot 4 September 2016 aanbied.

Die kongres het ten doel om fundamentele en toegepaste navorsing in geologiese wetenskappe te bevorder. Die geleentheid sal die aandag vestig op die streek se wêreldbekende geologie en geologie-erfenis asook sy geologiese en skilderagtige terreine. Geologiese uitdagings in die veld sal ook ondersoek word.

5.13. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die familie en vriende van die voormalige kabinetsminister en premier van die Oos-Kaap, ds. Arnold Makhenkesi Stofile. Ds. Stofile was 'n veteraanaktivis wat aan alle vlakke van die Suid-Afrikaanse stryd deelgeneem het - van ondergrondse en massamobilisasie tot internasionale solidariteit en formele samestelling van regeringstrukture.

Die Kabinet spreek ook sy meegevoel uit aan die families van die lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat hul lewens in die busongeluk op Clarens in die Vrystaat verloor het.

Die Kabinet sluit by president Jacob Zuma aan en betoon sy meegevoel aan president Sergio Mattarella, die regering en mense van Italië ná die aardbewing wat Sentraal-Italië geruk het en tot die dood van mense en groot skade in verskeie dorpe gelei het. Ons wens die beseerdes ’n spoedige herstel toe.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en uitklarings.

6.1. Die Kabinet het die aanstelling van die Raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) bespreek en keur die volgende aanstellings goed:

a) Me. Duduzile Cynthia Myeni (heraanstelling as voorsitter);
b) Me. Mmakeaya Magoro Trifosa Ramano (Adjunkvoorsitter en nie-uitvoerende direkteur);
c) Me. Bajabulile Swazi Tshabalala (nie-uitvoerende direkteur);
d)”Me. Thandeka Nozipho Mgoduso (nie-uitvoerende direkteur);
e) Me. Nazmeera Moola (nie-uitvoerende direkteur);
f) Mnr. Akhter Hoosen Moosa (nie-uitvoerende direkteur);
g) Me. Gugu Sepamla (nie-uitvoerende direkteur);
h) Mnr. Siphile Buthelezi (nie-uitvoerende direkteur);
i) Mnr. Peter Holmes Maluleka (nie-uitvoerende direkteur);
j) Mnr. Mzimkulurivier Malunga (nie-uitvoerende direkteur);
k) Dr. Martha Mbatha (nie-uitvoerende direkteur); en
l) Mnr. Peter Tshisevhe (nie-uitvoerende direkteur).

Die Minister van Finansies sal met die nuutaangestelde raad vergader om leiding vanuit 'n aandeelhouersoogpunt te gee.

Navrae:
Mnr. Donald Liphoko
Skakel: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore