Die Kabinet het op Woensdag 24 Mei 2017 te Tuynhuys, Kaapstad vergader.
1. Kwessies in die omgewing
1.1 Die Kabinet is bekommerd oor die toenemende voorkoms van mishandeling en geweld teen vroue in ons samelewing. Na aanleiding van onlangse voorvalle waarby intieme vriende betrokke was, het verskeie dapper en moedige vroue hul teen hierdie skending van hul regte uitgespreek.
1.2 Die Kabinet erken dat ons land steeds 'n patriargale samelewing het en doen as sodanig 'n beroep op mense om meer te doen om die plaag van vrouemoord en mensesmokkelary te bestry.
1.3 Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore van die samelewing om saam te staan teen hierdie plaag asook teen enige vorm van geweld teenoor vroue en kinders, en om met die polisie en die regstelsel saam te werk om die skuldiges te vervolg.
1.4 President Jacob Zuma doen 'n ernstige beroep dat 'n einde gebring moet word aan die voortgesette geweld teen vroue en kinders. Die Kabinet het die regeringsgroepering vir Sosiale Beskerming, Gemeenskaps- en Menslike Ontwikkeling opdrag gegee om 'n program van aksie vir die land saam te stel wat as 'n dryfveer sal dien om die misbruik van vroue en kinders te stuit.
1.5 Die Kabinet verwelkom die uitslae van die 2016 Suid-Afrikaanse Demografiese en Gesondheidsopname deur Statistieke Suid-Afrika, wat die gesondheidstatus van Suid-Afrikaners en die omvang en gehalte van gesondheidsprogramme meet. Die opname meld onder meer 'n daling van 20% in kindersterftes en 'n daling van 11% in die aantal vroue en mans wat tabak rook.
Die uitslae toon dat die beleidstussenkoms wat deur President Zuma se administrasie ingestel is, ’n positiewe uitwerking het.
Die Kabinet is egter bekommerd oor die aantal Suid-Afrikaners wat steeds onbeskermde seks met verskeie mense het. Sowat 32% van vroue en 42% van mans het aangedui dat hulle nog nooit vir MIV getoets is nie, ondanks die regering se pogings om bewustheid oor MIV-toetsing te verhoog.
Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om persoonlike verantwoordelikheid vir hul gesondheid en welsyn te neem, veilige seks te beoefen en gereeld getoets te word vir MIV sowel as vir alle oordraagbare en nie-oordraagbare siektes.
1.6 Die Kabinet doen 'n beroep op ouers en voogde om te verseker dat hul kinders teen kindersiektes ingeënt word. Die Kabinet bly daartoe verbind om te verseker dat kinders geïmmuniseer word om lewensbedreigende aansteeklike siektes uit te skakel. Die Kabinet verseker ouers en voogde dat die middels wat deur die Departement van Gesondheid toegedien word, veilig is.
1.7 Die Kabinet verwelkom die eerste fase van die opgeknapte Vulindlela Heights-nywerheidsgebied in Mthatha in die Oos-Kaap. Dit is deel van die land se Herlewing van Nywerheidsparke-program (Revitalization of Industrial Parks Programme. Dit is die tweede van sy soort in die Oos-Kaap en een van ses parke regdeur die land wat opgeknap word.
Die regering herstel nywerheidsparke om werkskepping te bevorder en om inklusiewe groei te verseker. Die verskuiwing van ekonomiese aktiwiteite weg van stedelike sentrums is ook deel van die regering se ekonomiese transformasiepogings.
Inligting oor hoe om voordeel te trek uit geleenthede wat by ons nywerheidsparke beskikbaar is, sowel as om toegang tot regerings- en aansporingsprogramme, en beleggingsgeleenthede in verskeie sektor te verkry, is beskikbaar by www.thedti.gov.za of deur die Departement van Handel en Nywerheid (die dti) se kliëntekontaksentrum by 0861 843 384.
1.8 Die Kabinet het met spyt kennis geneem van General Motors Suid-Afrika (GMSA) (Edms) Bpk se besluit om die vervaardiging en verkoop van Chevrolet-voertuie in die land uit te faseer. Dit hou ernstige gevolge in vir mense wat hul werk sal verloor, asook vir ons ekonomie.
Die regering bly verbind om die land se motorsektor, wat noodsaaklik is vir die ekonomie en werkskepping, te ondersteun.
Die dti werk steeds saam met alle belanghebbendes om die impak te versag. Om produksie, werkskepping en uitvoerintensiteit te verhoog, het ons onlangs die negende fase van die Nywerheidsbeleidaksieplan (IPAP) geloods om ons optrede te lei. Die Kabinet neem kennis dat Isuzu, wat die afgelope jare met GMSA saamgewerk het, GMSA se bedrywighede sal oorneem.
1.9 Die Kabinet het kennis geneem van die agteruitgang van die droogtesituasie in die Wes- en Oos-Kaap. Die Kabinet doen derhalwe ’n ernstige beroep op gemeenskappe om die waterbeperkings wat deur die provinsies ingestel is, te ondersteun. 'n Span wat uit beamptes van die Departement van Water en Sanitasie en die Nasionale Rampbestuurskomitee bestaan en wat saam met die provinsies en plaaslike regerings werk, was aktief betrokke by planne om te versker dat kort- tot mediumtermynoplossings versnel word om watersekerheid op die lang termyn in die provinsie te verseker.
Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners, insluitende huishoudelike gebruikers, sakeondernemings, mynbou, energie en landbou om saam te werk deur water meer spaarsamig te gebruik.
1.10 Die Kabinet verwelkom die besprekingsdokument oor die Teenkorrupsie-strategie, wat die Nasionale Teenkorrupsie-strategie sal lei. Die Kabinet nooi die publiek uit om skriftelike insette te maak op die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering se webwerf: www.dpme.gov.za.
Die stryd teen korrupsie bly een van die regring se belangrikste prioriteite. Korrupsie en ’n gebrek aan integriteit in die private sowel as openbare sektor het ’n nadelige uitwerking op ons land se ontwikkeling.
1.11 Die Kabinet spreek sy kommer uit oor die onlangse wêreldwye kuberaanval, wat as die grootste kuberaanval ooit beskou word.
Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om die nodige voorsorgmaatreëls te tref wanneer hulle gebruik maak van elektroniese kommunikasie of aanlyntransaksies. Die gebruik van geaktiveerde antivirusprogrammatuur wat gereeld die kuberomgewing skandeer, word ook aanbeveel.
1.12Die Kabinet is bekommerd oor die onlangse ontwikkelings by Eskom. Die Kabinet het waardering vir die feit dat die heraanstelling van mnr Brian Molefe as Hoof Uitvoerende Beampte van Eskom in die hof en in die Parlement aangehoor sal word, en sal hierdie prosesse respekteer.
Die President het egter 'n Interministeriële Komitee (IMK) aangestel wat bestaan uit die ministers van Openbare Ondernemings; Energie; Finansies; en Justisie en Korrektiewe Dienste. Die IMK is versoek om die feite in te samel en leiding aan die Kabinet te gee oor hoe om sulke sake in die toekoms te hanteer. Die sameroeper is die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, mnr Michael Masuthaha.
2. Kabinetsbesluite
2.1 Die Kabinet verleen goedkeuring vir die publikasie van die Hersiene Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtigingshandves vir die Suid-Afrikaanse Mynbou- en Mineralebedyf in 2017.
Die Minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane, sal 'n inligtingsessie aanbied sodra die handves in die Staatskoerant aangekondig is.
2.2 Die Kabinet onderskryf die goedgekeurde Nasionale Radiofrekwensieplan 2017 deur die Ministerie van Telekommunikasie en Posdienste. Die toekenning van spektrum deur die Wêreld Radiokommunikasiekonferensie het 'n beduidende uitwerking op Suid-Afrika se ekonomiese groei.
Die Nasionale Radiofrekwensieplan 2017 is 'n omvattende bron van radiofrekwensiespektrum wat aan verskillende radiokommunikasiedienste toegewys is. Die hersiene Nasionale Radiofrekwensieplan 2017 verseker dat Suid-Afrika belyn is met die goedgekeurde Internasionale Radioregulasies wat by die Konferensie van die Internasionale Telekommunikasie Unie in 2015 aanvaar is.
2.3 Die Kabinet het die Veiligheidstrategie vir Binnelandse Waters goedgekeur. Deur die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid, stel die strategie standaarde vas en verbeter prosedures vir die uitreik van pemitte en lisensies aan bote wat op binnelandse waterweë bedryf word. Dit sal die veiligheid van klein vaartuie op Suid-Afrika se binnelandse waterweë verseker.
2.4 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Padvragstrategie. Die strategie is daarop gerig om 'n geïntegreerde regulerende en operasionele raamwerk te skep, wat Suid-Afrika in staat sal stel om die beste internasionale standaarde van padvrag-bedrywighede te bereik.
Die aanbevelings van hierdie strategie sal die doeltreffendheid van handhawing verbeter, padveiligheid bevorder, die beskerming van infrastruktuur verbeter, die impak op die omgewing verminder, en 'n geïntegreerde raamwerk skep vir gehaltegereguleerde mededinging waarbinne die padvragsektor kan voortgaan om aan die behoeftes van die Suid-Afrikaanse ekonomie te voldoen.
2.5 Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy se ontwerpe vir die 2017- en 2018-numismatiese gedenk- en sirkulasiemuntstukke.
In samewerking met die Kabinet is 'n nuwe reeks ontwikkel wat kultuur, vryheid en demokrasie verteenwoordig onder die tema: "Ter Viering van Suid-Afrika". Die eeufees van die vryheidsveteraan Oliver Reginald Tambo se geboorte is gekies as die eerste onderwerp wat uitgebeeld word.
Bekendstelling van die nuwe R50-muntstuk (1oz, sterling-silwer), R500-muntstuk (1oz, 24-karaat goud) en R50-muntstuk (basismetaal-allooi) wat die 100-jarige herdenking van OR Tambo se geboortedatum vier.
2.5.1. Ontwerpe vir die volgende 2017- en 2018-herdenkingsmuntstukreeks is ontwikkel:
a. 2017 muntstukreeks: Oliver Reginald Tambo Eeufeesviering;
b. 2017 sirkulasiemuntstuk: R5-muntstuk wat die Orde van die Kamerade van OR Tambo uitbeeld;
c. 2017 protea-muntstukreeks: Lewe van 'n legende – Nelson Mandela;
d. 2017 R1-muntstukreeks: Reptiele van Suid-Afrika – die pofadder;
e. 2018 VN Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) se Mens- en die Biosfeer-muntstukreeks: Die Waterberg-biosfeerreservaat;
f. 2018 muntstukreeks: Nasionale Geografiese Vereniging se Grootkatte-inisiatief – die Leeu;
g. 2018 muntstuk: 2018 FIFA Wêreldbekertoernooi Rusland.
3. Toekomstige gebeure
3.1 Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om Kinderbeskermingsweek vanaf 28 Mei tot 4 Junie met die tema: "Laat ons almal kinders beskerm om Suid-Afrika vorentoe te beweeg." Dit is die plig en verantwoordelikheid van alle Suid-Afrikaners – ouers, voogde, individue en gemeenskappe – om ons kinders te beskerm.
As 'n samelewing is dit ons plig om meer te doen om te verseker dat die kwesbaarste mense in ons samelewing nie mishandel word nie. Dit is binne ons vermoë om die siklus van verwaarlosing, mishandeling, geweld en uitbuiting van kinders te stuit.
Die Kabinet moedig alle sektore van die samelewing aan om saam te werk om veiliger en gesonder gemeenskappe te skep sodat ons kinders kan floreer.
3.2 As deel van die OR Tambo-eeufeesviering, sal Suid-Afrika Jeugmaand in Junie 2017 met die tema: "Die Jaar van OR Tambo: Bevorder die Jeug se Ekonomiese Deelname" vier.
Gedurende die maand sal die regering verskeie funksies aanbied, insluitend jeuguitstallings, dialoë en jeug-entrepreneurskerns om geleenthede wat vir die jeug beskikbaar is uit te lig, en om die opvoedkundige en leierskapwaardes van OR Tambo te bevorder.
Die Kabinet moedig alle jeugdiges aan om gebruik te maak van die verskillende ondersteunings- en opvoedkundige programme wat deur die regering beskikbaar gestel word om hul vooruitsigte te verbeter en hul deelname aan die ekonomie te bevorder.
3.3 Die Kabinet doen 'n beroep op werkgewers om by te dra tot die inisiatief Neem 'n meisiekind werk toe op 25 en 26 Mei. Die doel is om jong meisies van graad 10 tot graad 12 aan verskillende loopbaanmoontlikhede bloot te stel.
3.4 President Zuma bied op Donderdag 25 Mei 2017 die nasionale 2017-Afrika-dagviering by die Sefako Makgatho Presidensiële Gastehuis in Pretoria aan. Dit is die hoogtepunt van aktiwiteite en programme ter viering van Afrika-maand met die tema "Die Jaar van OR Tambo: 'n Beter Afrika en 'n Beter Wêreld". Die jaarlikse viering van Afrika-dag herdenk die onstaan van die Organisasie vir Afrika-eenheid in 1963.
Terwyl Afrika-maand ten einde loop, doen die Kabinet ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om met ons mede-Afrikane wat in Suid-Afrika en elders op die vasteland woon, saam te werk om die welvaart van ons streek en die res van Afrika te verseker.
Dit is ook die verantwoordelikheid van almal wat binne ons grense woon – Suid-Afrikaners sowel as vreemdelinge – om die land se wette te gehoorsaam. Saam moet ons die plaag van mensehandel, ontvoering en die misbruik van vroue en kinders bestry.
4. Boodskappe van gelukwense
4.1 Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die Universiteit van Stellenbosch en die Tygerberg Akademiese Hospitaal se mediese span, wat bestaan uit prof Andre van der Merwe, dr Alexander Zuhlke, prof Rafique Moosa, dr Amir Zarrabi en dr Zamira Keyser. Hulle het onlangs 'n tweede penisoorplanting uitgevoer, wat dit die eerste mediese sentrum in die wêreld maak om hierdie prosedure twee keer suksesvol uit te voer. Die sukses van hierdie prosedure deur ons oorplantingspan is 'n bewys van die hoë vlak van vaardigheid en kundigheid in Suid-Afrika se openbare gesondheidsektor.
4.2 Die Kabinet wens die iSimangaliso-vleilandpark geluk met die Toekenning vir Oudit-uitnemendheid wat hulle vroeër vandeesmaand van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se Openbare Sektor Uitnemendheidstoekennings ontvang het. Die toekenning is ter erkenning van die Park se skoon oudits oor vyf opeenvolgende jare. ISimangaliso is in Desember 1999 tot Suid-Afrika se eerste Wêrelderfenisterrein verklaar.
4.3 Die Kabinet wens die Working on Fire-program geluk met die toekenning wat hulle van die Alberta-regering in Kanada ontvang het ter erkenning van die program se bystand tydens veldbrande in hul provinsie in 2016. Working on Fire is deel van die Uitgebreide Openbare Werkeprogram (UOWP) wat daarop gemik is om werksgeleenthede aan jeugdigdes te verskaf.
5. Simpatiebetuigings
5.1 Die Kabinet sluit aan by President Zuma en die internasionale gemeenskap om die terroriste-aanval op die Manchester-arena in Engeland, waartydens talle kinders en jeugdiges gesterf het of beseer is, ten sterkste te veroordeel.
Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die regering en die mense van die Verenigde Koninkryk, veral die families en geliefdes van die oorledenes, en wens die beseerdes 'n spoedige herstel toe. Geweld en ekstremisme het geen plek in die samelewing nie en is 'n bedreiging vir vrede, sekuriteit en ontwikkeling.
Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemede Direkteur-Generaal (GCIS)
Kontak: 083 501 0139