Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 17 Februarie 2016

1. Implementering van belangrike regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet het President Jacob Zuma se Staatsrede wat op Donderdag, 11 Februarie gelewer is, verwelkom.  Die toespraak het die strategiese roete vir die implementering van die Regering se plan van aksie uiteengesit. Die President het ’n beroep gedoen op die Regering, asook die arbeid- en sakesektor om saam te werk om oplossing vir volhoubare ekonomiese groei te vind. Die Kabinet ondersteun die kostebesparingsmaatreëls wat deur die President aangekondig is, waarop die Minister van Finansies op 24 Februarie verder sal uitgebrei.

Die 2016/17-Begrotingsrede sal die toewysing van hulopbronne aan die verskillende staatsprogramme soos deur die President beklemtoon verder uitstippel.

1.2. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle Mynbou-indaba, wat van 8 tot 11 Februarie in Kaapstad gehou is. Voorste verteenwoordigers van die mynbousektor en verskeie regerings uit Afrika het hul insigte oor hoe die sektor beleggings kan dryf en munt kan slaan uit die geleenthede wat in Afrika beskikbaar is, gedeel. Die Kabinet waardeer die verbintenis wat deur die Japannese Regering gemaak is om meer beleggings in Suid-Afrika te maak.

Die Kabinet bevestig sy verbintenis tot 'n stabiele en florerende mynbousektor. Die Raamwerk-ooreenkoms vir 'n Volhoubare Mynbedryf ondersteun die mynbedryf in die heersende moeilike omstandighede. Die Regering voorsien steeds 'n regulatoriese versekering en sal seker maak dat die Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne, wat aan die Parlement voorgelê is, gefinaliseer sal word.
 
2. Belangrike Kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet het die finale Nasionale Dobbelbeleid goedgekeur, wat die uitdagings aanpak wat die doeltreffendheid van die Nasionale Dobbelwet, 2004 (Wet 7 van 2004) belemmer. Hierdie beleid het reeds 'n openbare konsultasieproses ondergaan. Die beleid stel wysigings aan die regulerende struktuurraamwerk van die dobbelrade voor en versterk beheermeganismes om dobbelmisbruik te mininmaliseer. Dit is van toepassing op kasino's, bingo, beperkte uitbetaalmasjiene en weddenskappe op perdewedrenne. Die beleid sal die Nasionale Dobbelraad vervang met 'n Nasionale Dobbelreguleerder wat regstreeks aan die Departement van Handel en Nywerheid verslag sal doen.

2.2. Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die indiening van die Verslag oor die Hersiening van die Minimum Ouderdom van Toerekeningsvatbaarheid aan die Parlement, wat ooreenkomstig die Wet op Kindergeregtigheid, 2008 (Wet 75 van 2008) vereis word. Die verslag beveel aan dat die land die internasionale en plaaslike verpligtinge met betrekking tot die minimum ouderdom van toerekeningsvatbaarheid van kinders wat in konflik met die gereg is, aanvaar.

2.3. Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die proklamasie van Ontwikkelingzones vir Hernubare Energie (REDZ). Hulle sal die regulatoriese proses meer vaartbelyn maak, geografiese gebiede identifiseer waar wind- en fotovoltaïse tegnologie aangespoor kan word en waar diep ruitgebieduitbreiding (deep grid expansion) gerig kan word.
 
Hierdie REDZ sal die oorgang na 'n laekoolstof-ekonomie verseker, infrastruktuurontwikkeling versnel, en bydra tot 'n meer samehangende en betroubare regulerende raamwerk wat die burokrasie rondom die koste van nakoming verminder.

2.4. Die Kabinet is ingelig oor die bevindings van die Nasionale Adviesraad vir Innovasie se 2014 Suid-Afrikaanse Aanwysers vir Wetenskap, Tegnologie en Innovasie. Die verslag gee die tendense in die prestasie van die Nasionale Stelsel van Innovasie (NSI). Dit assesseer die prestasie en bydrae van die NSI tot belangrike nasionale prioriteite, soos in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) uiteengesit.

2.5. Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die gebruik van afgetrede en diensdoenende staatsamptenare as dosente in die Nasionale Skool van die Regering (NSG).

Die NSG is in 2013 van stapel gestuur om die Publieke Administrasie Leierskap- en Bestuursakademie (PALAMA) te vervang, en het 'n mandaat om die progressiewe verwesenliking van die waardes en beginsels wat openbare administrasie stuur, te bevorder en om die gehalte, die omvang en impak van die ontwikkeling van menslike hulpbronkapasiteit in instellings te verbeter.

Dié inisiatief sal met die implementering van die verpligte induksieprogram vir staatsamptenare geloods word. Hierdie benadering stel staatsamptenare in staat om waarde tot die staatsdiens toe te voeg. Hulle sal hul ervaring, kundigheid, vaardighede en kennis as mentors en afrigters.aan staatsamptenare oordra Die inisiatief sal die gehalte van die dienste wat ons aan die publiek lewer, verder verbeter op 'n doeltreffende en koste-effektiewe manier.

2.6. Die Kabinet verleen goedgekeuring aan Suid-Afrika se Finale Fase 3 Landverslag oor die implementering van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) (Anti-Omkopery-Konvensie). Die verslag sal aan die  OESO se Werkgroep oor Omkopery voorgelê word.

Die verslag gee 'n uiteensetting van die vordering wat deur die Regering gemaak is in sy ingrypings om buitelandse omkopery te bekamp, deur dit op te spoor, te ondersoek en te vervolg. Die verslag beklemtoon verder die inisiatief om bewustheid van hierdie misdaad te verhoog.

2.7 Die Kabinet verleen goedgekeuring dat die Departement van Binnelandse Sake herklassifiseer word onder die Groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit.

Die mandaat van die Departement van Binnelandse Sake is om 'n veilige, akkurate register van die identiteit en status van almal binne ons landsgrense te hou, wat 'n kritieke bemagtiger van alle ander funksies van die staat is. Die departement het ook 'n mandaat om die immigrasiestelsel, wat 'n regstreekse invloed op nasionale veiligheid, sosiale samehorigheid en die bereiking van doelwitte vir ontwikkeling het, te bestuur.

Die departement is voorheen geklassifiseer as 'n algemene ondersteuningsdiens vir administrasie onder die Groepering vir Bestuur en Administratie.

3. Wetsontwerpe

3.1 Die Kabinet het goedkeuring verleen dat die Wetsontwerp op die Beskerming, Bevordering, Ontwikkeling en Bestuur van Inheemse Kennis, by die Parlement ingedien word.

Die wetsontwerp is gerig op die beskerming, bevordering, ontwikkeling en bestuur van inheemse kennisstelsels. Dit maak voorsiening vir die vestiging en funksies van 'n Kantoor vir Nasionale Inheemse Kennisstelsels, asook die bestuur van die regte van inheemse kennisstelselhouers, en die vestiging en funksies van die adviespaneel vir inheemse kennisstelsels.

Dit verleen ook toegang en voorwaardes vir toegang tot die kennis van inheemse en plaaslike gemeenskappe, die vestiging van 'n nasionale boekstawingstelsel van inheemse kennisstelsels, registrasie, akkreditasie en sertifisering van inheemse praktisyns, en die fasilitering en koördinering van inheemse kennisgebaseerde innovasie. Die wetsontwerp sal die Wysigingswet op Intellektuele Eiendom, 2013 (Wet 28 van 2013) aanvul.

Die Kabinet verleen ook goedkeuring vir die publikasie van die Wysigingswetsontwerp op Registrasie van Aktes van 2015 vir openbare kommentaar. Die Wetsontwerp wysig die Wet op die Registrasie van Aktes, 1937 (Wet 47 van 1937). Die Wetsontwerp is daarop gerig om die Wet op die Registrasie van Aktes, 1937 (Wet 47 van 1937) te wysig om van ’n papier- na ’n elektroniesgedrewe aktekantoor te migreer. Dit sal veiligheidskwessies aanpak deur die verskaffing van registrasie van oordragte as gemagtigde gebruikers van die elektroniese akteregistrasiestelsel.

3.2 Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die indiening van die Wetsontwerp op Plantgesondheid (Fitosanitêr), 2015 aan die Parlement. Die wetsontwerp belyn Suid-Afrika se wetgewing met toepaslike verpligtinge en standaarde om veilige en regverdige internasionale handel te fasiliteer vir die beveiliging van die land se binnelandse en internasionale handel in plante en plantprodukte. Sodra die wetsontwerp aanvaar is, sal Suid-Afrika kan voorkom dat buitelandse kwarantynpeste en siektes wat skadelike peste en plansiektes in die land kan versprei, in die land ingebring word.

3.3 Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die indiening van die Wysigingswetsontwerp op Geregshowe, 2015 aan die Parlement.

Die Wetsontwerp wysig die Wet op Landdroshowe, 1944 (Wet 32 van 1944) en die Wysigingswet op Hoër Howe, 2013 (Wet 10 van 2013).

Die wysigings poog om die lot van debiteure wat aan die ontvangkant van misbruik in die skuldinvorderingstelsel in die landdroshowe is, te verlig en om voorsiening te maak vir die Departement van Handel en Nywerheid se projek om ongunstige verbruikerskredietinligting te verwyder. Die Wetsontwerp is daarop gerig om artikels van die Wet op Landdroshowe, 1994 (Wet 32 van 1994) (die MCA) te wysig, om misbruik in die Wysigingsbevel op Besoldiging (Emoluments Amendments Order [EAO]) te voorkom.

Die Wetsontwerp poog om uitsprake wat onreëlmatig toegestaan word, meestal deur klerke van die hof sonder enige geregtelike toesig, dikwels weens ’n gebrek aan ervaring of samespanning met die krediteure, hul prokureurs of skuldinvorderaars, aan te pak en te beëindig. Die wetsontwerp sal verseker dat uitsprake aan debiteure toegestaan word wat voldoen aan ’n paaiementbevel of ’n besoldigingbeslagleggingsbevel wat binne die wetlike paaiementdrumpel val.

4. Toekomstige gebeure
4.1 Die eerste kiesersregistrasie-naweek vir die 2016 plaaslike verkiesings word van 5 tot 6 Maart 2016 gehou. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om voordeel te trek uit en waardering te toon vir die demokrasie waarvoor ons so hard geveg het, deur hul demokratiese reg uit te oefen om vir die komende verkiesings te registreer en hul stemme uit te bring.

4.2 President Zuma onderneem van 28 tot 29 Februarie 'n staatsbesoek aan die Islamitiese Republiek van Iran. Die besoek sal ons voortgesette politieke en ekonomiese betrekkinge met Iran versterk en Suid-Suid-betrekkinge ’n hupstoot gee.

As die Opperbevelhebber van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), sal President Zuma op 21 Februarie 2016 by die vyfde segment van die Gewapendemagtedag-vierings in Port Elizabeth, Oos-Kaap optree. Die herdenking van hierdie dag toon ons ondersteuning en dankbaarheid teenoor die manne en vroue van die SANW.

4.3 Op 26 Februarie 2016, sal President Zuma sal die opening van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers in die Parlement, Kaapstad toespreek. Die verhouding tussen die Regering en tradisionele leiers is van kritieke belang omdat hulle hul beywer vir die verbetering van mense se lewens.

4.4 Op Saterdag, 20 Februarie 2016, sal Adjunk-president Cyril Ramaphosa 'n afvaardiging van ministers na die Presidensiële Jeugontwikkeling-ekspo by die Grace Bible Church in Pimville, Soweto lei. Die ekspo word deur die departemente van Binnelandse Sake, Arbeid, Maatskaplike Ontwikkeling en Verdediging ondersteun.

Die Kabinet doen 'n beroep op jong mense in die gebied om die ekspo, wat inligting sal verskaf oor hoe hulle hul studies kan voortsit, hul eie besighede kan begin of voordeel kan trek uit die Regering se ondersteuningsinisiatiewe, te besoek.

4.5 Die Kabinet verleen goedkeuring vir die aanbied van die Afrika Streekseminaar oor die Beskerming van Persone gebaseer op Seksuele Oriëntasie, Geslagsidentiteit en -uitdrukking van 3 tot 5 Maart 2016, deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.

Die seminaar sal besprekings fasiliteer om groter begrip te bewerkstellig vir die oorsake en manifestering van hierdie uitdagings om sodoende praktiese oplossings en beskikbare opsies vir lande te vind om dit te hanteer.

4.6 Die Kabinet wens alle leerders wat hul Aanvullende Senior Sertifikaat-eksamens skryf alles van die beste toe. Leerders word aangemoedig om toegang te verkry tot die onlangs gestigte Tweede Kans Matriekondersteuningsprogram, wat in al die provinsies beskikbaar is, en leerders met behulp van verskeie bronne met hul studies help. Die doel van die Tweede Kans Matriekprogram is om jong mense wat nie aan die vereistes van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) voldoen het nie, 'n tweede kans te bied om matriek te slaag en sodoende hul lewensgehalte te verbeter.

Aanvullende eksamens maak deel uit van die Tweede Kans Matriekprogram en bied ’n geleentheid aan kandidate wat nie aan die minimum bevorderings- en sertifiseringsvereistes voldoen het nie, maar wat 'n maksimum van twee vakke vereis om 'n NSS te verwerf,  'n geleentheid om dit te doen.

Die Kabinet verwelkom die President se aankondiging van die name van lede van die Kommissie van Ondersoek op Hoër Onderwys. 'n Beroep word op al die belanghebbendes in hoër onderwys gedoen om ’n bydrae te lewer tot die kommissie se werk sodat 'n blywende oplossing vir die uitdagings wat hoër onderwys in die gesig staar gevind kan word.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1 Die Minister van Minerale Bronne, Mosebenzi Zwane; die Minister in die Presidensie, Susan Shabangu; en die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini – wat deur President Zuma aangestel is om steun te verleen aan die provinsiale regering, myneienaars en families wat geraak word deur die tragedie by die Lily-goudmyn in Barberton – het die Kabinet oor die jongste verwikkelinge ingelig. Die Kabinet het saam met die President 'n beroep gedoen op die nasie om die drie mynwerkers wat steeds ondergronds vasgekeer is, en hul gesinne in hul gedagtes en gebede te hou.

5.2 Die Kabinet bly bekommerd oor die droogte wat sommige dele van die land steeds teister en spreek sy opregte dank uit teenoor alle Suid-Afrikaners wat droogtehulppogings ondersteun.

Die Kabinet spreek ook sy waardering uit teenoor almal wat ag geslaan het op die oproep om enige lekkasies aan te meld ter ondersteuning van die Oorlog teen Lekkasies Veldotg, wat deur die Minister van Water en Sanitasie, Nomvula Mokonyane, gelei word. Die Kabinet het waardering vir die gees van Ubuntu wat deur die inisiatief onder leiding van Operasie Hidreer getoon is, en gemeenskappe in nood ondersteun het.

5.3 Die Kabinet het debat gevoer en oorweging geskenk aan die volle implikasies van die aanvang van die Wysigingswet op Belastingwette, 2014. Ingevolge hierdie Wet sal die annuïsering van voorsorgfondsvoordele op 1 Maart 2016 begin. Dit beteken dat vanaf daardie datum voorsorgfondsvoordele en pensioenfondsvoordele dieselfde hanteer sal word in die sin dat voorsorgfondslede by aftrede toegelaat sal word om 'n derde van hul voorsorgfondsvoordele in kontant as 'n enkelbedrag-uitbetaling te kry, en dat die oorblywende twee derdes van hul voordele gebruik sal moet word om annuïteite te koop. Dieslefde voorwaarde is tans van toepassing op lede van pensioenfondse.

Die veranderinge in die wetgewing beïnvloed hoë-inkomste-verdieners en alle ander mense wat aan voorsorgfondse behoort.

Verskeie organisasies en individue het hul kommer uitgespreek oor die implementering van hierdie veranderings en het vertoë tot die Regering gerig oor die implementering. Dit is duidelik dat ondanks die uitgebreide konsultasieproses wat aangepak is voordat die wet in werking getree het, kommer hieroor voortduur en dat die bekommernisse dringend aandag moet kry om te verseker dat wanneer die wet in werking tree, die veranderinge aan die voorsorgfondsvoordele glad en doeltreffend geïmplementeer sal word.

Om dié rede het die Kabinet besluit om 'n wetswysiging aan die Wysigingswet op Belastingwette ter tafel te lê as 'n saak van dringendheid om die aanvangsdatum van 1 Maart 2016 tot 1 Maart 2018 uit te stel, om voorsiening te maak vir verdere samesprekings met alle belanghebbendes. Sodanige konsultasies kan tot verdere wysiging van die wette lei. 'n Wysigingswetsontwerp sal binne die volgende paar dae in die Parlement ter tafel gelê word.

6. Meegevoel

6.1 Die Kabinet spreek sy innige meegevoel uit oor die onlangse afsterwe van Sy Hoogheid Biskop Clayton Modise van die International Pentecostal Holiness Church. Biskop Modise het ná die afsterwe van sy vader en die stigter van die kerk, Sy Hoogheid Comforter Frederick Modise in 1996, die gemeente met meer as drie miljoen lede regoor Suider-Afrika, gelei.

6.2 Die Kabinet spreek ook sy innige meegevoel uit oor die onlangse afsterwe van die voormalige Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN) se hoof, Boutros Boutros-Ghali. Hy het die amp vanaf 1992 vir 'n vyfjaar-termyn beklee, ten tyde van die toenemende invloed van die VN ná die organisasie se deurslaggewende rol in die Golf-oorlog. Hy is Dinsdag in 'n hospitaal in Kaïro oorlede op die ouderdom van 93. Hy sal onthou word vir sy bydrae tot vrede en demokrasie.

7. Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan Mnr Kevin Govender van die Kaapse Kantoor van Sterrekunde vir Ontwikkeling en die Internasionale Astronomiese Unie, wat gesamentlik die gesogte Edinburgh-medalje vir 2016 sal ontvang vir die vestiging van die Kantoor van Sterrekunde vir Ontwikkeling in Kaapstad. Govender is die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie gesogte toekenning vir prestasies in wetenskap en tegnologie wat tot die begrip en welstand van die mensdom bydra, ontvang.

Die Kabinet prys die 16-jarige balletdanser Leroy Mokgatle wat ’n toekenning  as die gehoor se gunsteling gewen het, en 'n beurs ingepalm het by die Prix de Lausanne Internasionale Balletkompetisie in Switserland. Hy is die eerste Suid-Afrikaner in 28 jaar en die tweede in die land se geskiedenis wat hierdie beurs wen.

Die Kabinet loof saam met President Zuma die wenners van die 2de Jaarlikse Ubuntu-toekennings. Hierdie toekennings gee erkenning aan Suid-Afrikaanse leiers en vooraanstaande mense in die nywerheidsektor vir hul bydrae tot die bevordering van ons nasionale belange en waardes regoor die wêreld.

Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan fluitspeler Wouter Kellerman, cappella-groep Ladysmith Black Mambazo, en gospelsanger Neville D vir hul 2016 Grammy-nominasies. Hierdie kunstenaars is 'n inspirasie en hou die Suid-Afrikaanse vlag hoog

8. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verfikiasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

8.1 Lepelle Noordelike Waterraad:
a) Sy Majesteit Thovhele Tshivhase (Voorsitter);
b) Mnr Matsebe Ivor Phasha (Ondervoorsitter);
c) Me Thandeka Thembekile Celiwe Hlongwa (lid);
d) Mnr Boxing Phillemon Sebola (lid);
e) Mnr Ntale Herold Matsepe (lid);
f) Me Mankone Mabatang Ntsaba (lid);
g) Me L Malamba (lid);
h) Me Josephine Mampheri Letsoalo (lid); en
i) Me Makgetsi Annabelle Mphahlele (lid).

8.2 Advokaat J.B. Skosana is aangestel as Adjunk-direkteur-generaal (ADG): Hofdienste in die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling

8.3 Me G.B. La Foy is aangestelas ADG: Grondwetlike Ontwikkeling in die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling.

Enquiries:
Ms Phumla Williams
(Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore