Registreer as ’n professionele ingenieur

Registrasie as ’n professionele ingenieur by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) is ’n wetlike vereiste indien jy:

  • Konsulterende ingenieurswerk doen
  • Verantwoordelikheid aanvaar vir die uitvoer van ingenieurswerk
  • Funksies verrig soos uiteengesit in sekere wetgewing (bv. die Nasionale Bouregulasies)
  • Graag ’n volle lid van sekere erkende institute wil word.

Jy kan aansoek doen om registrasie as ’n studente-ingenieur wanneer jy ’n erkende of geakkrediteerde akademiese kwalifikasie soos ’n B.Sc (Eng), B.Eng, of ’n Nasionale Diploma in Ingenieurswese voltooi het. Indien jy ’n buitelandse kwalifikasie het, moet jy ’n afskrif van die kwalifikasiesertifikaat, sowel as ’n akademiese rekord wat al die vakke wat tydens die studiejare geneem en geslaag is, indien.

Nadat jy ’n kwalifikasie verwerf het en ’n minimum van drie jaar ervaring het, kan jy registreer as ’n ingeneurspraktisyn in die volgende professionele registrasiekategorieë:

  • Professionele Ingenieur (Pr Eng)
  • Professionele Tegnologiese Ingenieur (Pr Tech Eng)
  • Professionele Gesertifiseerde Ingenieur (Pr Cert Eng)
  • Professionele Ingenieurs-tegnici (Pr Eng Techni)

Aansoekvorms en meer inligting is beskikbaar by ESCA se kantore, op hul webwerf, www.ecsa.co.za, of op versoek deur ‘n e-pos te stuur aan: engineer@ecsa.co.za.

Share this page