Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 8 Junie 2022

A.    Kwessies in die Omgewing

1.1.    Ekonomie 

1.1.    Die Kabinet het die onlangse positiewe ontwikkelinge in die land se ingrypings wat daarop gemik is om ekonomiese ontwikkeling te stimuleer, verwelkom. Werkloosheid het, volgens Statistiek Suid-Afrika se onlangse werkloosheidsyfers, afgeneem van 35.3% in die vierde kwartaal van 2021 na 34.5% in die eerste kwartaal van 2022. Die uitgebreide werkloosheidskoers het vir ʼn tweede agtereenvolgende kwartaal afgeneem. Die grootste werkstoename is in die gemeenskaplike en gemeenskapsdienste, vervaardiging en handel. 
1.2.    Die bruto binnelandse produk het in die eerste kwartaal van 2022 met 1.9% toegeneem, ʼn terugkeer na die ekonomie se vlakke voor die pandemie. Die vervaardigingsektor was tydens dié kwartaal die ekonomie se sleutelpresteerder, met ʼn toename in die vervaardiging van petroleum en chemikalieë, voedsel en drank en metale en masjinerie. 
1.3.    Dié matige vordering dui aan dat ons ekonomie steeds sterk is en dat ingrypings soos die ekonomiese herbou- en herstelplan vaart kry. Die Kabinet doen ʼn beroep op almal om plaaslike ondernemings en nywerhede te ondersteun deur plaaslike produkte en dienste te koop. 
1.4.    Die Kabinet het ook die graderingsagentskap S&P Global se besluit om Suid-Afrika se bepaling van kredietwaardigheid te hersien – van stabiel na positief – verwelkom. Die graderingsagentskap het ook die langtermyn buitelandse en plaaslike geldeenheidskuldgradering teen BB-minus en BB, onderskeidelik, bevestig. 

2.    Lewenskoste 

2.1.    Die koronaviruspandemie (KOVID-19-pandemie) en die voortdurende globale konflik het wêreldwyd ʼn ernstige impak op lewenskoste gehad. Suid-Afrikaners is ook gefrustreerd deur die stygende prys van brandstof, voedsel en lewensnoodsaaklikhede. 
2.2.    Ons moet almal in dié moeilike tyd saamstaan, mekaar help en ons hulpbronne spaar. Die regering doen ook alles in sy vermoë om verligting vir almal, veral mense wat onder armoede gebuk staan, te verskaf.
2.3.    Ons Suid-Afrikaanse Reserwebank – wat doeltreffend funksioneer en sterk en onafhanklik is – help om die samelewing te beskerm teen die verwoesting van inflasie deur dit binne ʼn noue teikenreeks te hou; veel laer wat baie ander lande tans ervaar.
2.4.    Die Kabinet verwelkom die Nasionale Tesourie se besluit om uitstel te verleen aan die vermindering van die algemene brandstofheffing. Die algemene brandstofheffing is met R1.50 per liter vir April en Mei gesny en sal verder van 1 Junie tot 6 Julie 2022 verleng word. 
2.5.    Die Kabinet het ook die mededingingskommissie se besluit verwelkom om die pryse van noodsaaklike voedselitems noukeurig te kontroleer, veral die bepaling dat ondernemings hul prysverhogings moet regverdig.

3.    Japan-Suid-Afrika-besigheidsforum 

3.1.    Die Kabinet het die uitkomste van die onlangse Japan-Suid-Afrika-besigheidsforum verwelkom, wat ingestem het tot ʼn ambisieuse werksprogram wat samewerking oor groen industrialisasie, elektriese vervoertegnologieë en groen waterstof behels. 
3.2.    Die forum het ook ingestem tot ʼn virtuele “veldtog” om Suid-Afrikaanse geleenthede vir meer Japanese ondernemings, vaardigheidsontwikkeling in die plaaslike voertuignywerheid, werkstrome oor vervaardigingsgeleenthede en die uitruil van tegniese ervarings, te beklemtoon.
3.3.    Japan is een van ons belangrikste handelsvennote en ʼn vername belegger in ʼn aantal Suid-Afrikaanse sektore, van motorvoertuie tot gevorderde mynmasjinerie en van landbou-ondernemings tot finansiële dienste.
3.4.    Die Kabinet het ook die stigting van die swart uitvoerdersnetwerk deur die departement van handel, nywerheid en mededinging (DHNM) verwelkom wat die firmas in swart besit wat tans plaaslik vervaardigde goedere na ander dele van die wêreld uitvoer, byeenbring. Die netwerk sal die deel van inligting, ervaring en kundigheid bewerkstellig en dit bou voort op die sukses van die swart nyweraarsprogram. 

4.    Krag 

4.1.    Ons langtermynkragsekerheid het ʼn massiewe hupstoot gekry na die kommersiële oordrag van eenheid 4 by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga. Dié oordrag dui op nog ʼn mylpaal in Eskom se pogings om die kragstelsel te stabiliseer en sal 800 megawatt (MW) tot die kragnetwerk voeg. 
4.2.    Die Kabinet neem kennis dat die konstruksie van vier uit die ses opwekkingseenhede by die Kusile-kragstasieprojek voltooi is. 
4.3.    Die Kabinet het ook die byvoeging van nuwe opwekkingskapasiteit in die netwerk verwelkom, wat moontlik gemaak is deur die besluit om onafhanklike kragopwekkers toe te laat om elektrisiteit op te wek. Die regering het onlangs ʼn ooreenkoms onderteken om 150MW se kapasiteit by ʼn hernubare kragopwekker, Scatec ASA, te koop.

5.    Adviesraad oor breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) 

5.1.    Die Kabinet het die aanstelling deur President Cyril Ramaphosa van die land se nuwe BGSEB-adviesraad verwelkom.
5.2.    Die raad bestaan uit ʼn diverse groep mense vanuit die sakelui, vakbonde, gemeenskapsgebaseerde organisasies en die akademie. Hulle sal verantwoordelik daarvoor wees om die regering oor die transformasie van die ekonomie te lei. 
5.3.    Meer werk moet steeds gedoen word om swart bestuursbeheer, opgradering van vaardigheidsontwikkeling en die verbreding van voorraadverkryging om aan swart vrouens en die jeug geleenthede te gun, te verhoog. Daar is egter reeds beduidende vordering gemaak om apartheid se verdraaiing van die ekonomie om te keer.

6.    Vloede 

6.1.    Die voortdurende regeringsverligtingspogings in die provinsies wat deur die onlangse verwoestende vloede geraak is, maak ʼn beduidende verskil. Die regering het die verskaffing van voedsel, water en skuiling vir ontworteldes en die herstel van beskadigde infrastruktuur geprioritiseer. Daar is omvattende werk onderweg om basiese dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie en afvalverwydering te herstel.
6.2.    Ongeveer R189 217 miljoen word gebruik vir die program vir die opgradering van informele nedersettings, wat poog om die lewenshehalte van informele nedersettingsbewoners te verbeter. 
6.3.    ʼn Bykomende R733 086 miljoen is deur die menslike nedersettingsontwikkelingstoelaag toegewys om hulp te verleen met die skep van volhoubare en geïntegreerde menslike nedersettings. 
6.4.    Die Kabinet het die Staat van Katar se humanitêre hulp in die vorm van voedsel, klere, kragopwekkers, watersuiweraars, ventilators, tente en mediese voorraad, verwelkom. Die donasie sal meer as 4 000 burgers wat tydelik in gemeenskapsorgsentrums gehuisves word, bevoordeel. Die Kabinet het ook die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) se humanitêre hulp in die vorm van voedsel en water om slagoffers van die onlangse vloede te help, verwelkom.

7.    Loods van die maatskaplike ontwikkelingsfonds

7.1    Die Kabinet het die bekendstelling van die maatskaplike indiensnamefonds deur die industriële ontwikkelingskorporasie (IOK), in vennootskap met die Presidensie en die DHNM, verwelkom. Die steun sal oorbruggingswerksgeleenthede vir tot en met 50 000 jongmense in maatskaplik werk wat in plaaslike gemeenskappe tot die nut van die samelewing uitgevoer word, verskaf. 
7.2    Die ondersteuning sal gesondheid- en gemeenskapsorg, voedsel- en voedingsteun soos sopkombuise, die bevordering van geletterdheid, vergroening en klimaatsveranderingsmatigingsprogramme en jeugondersteuningsinisiatiewe behels. Die fonds sal 26 gemeenskaps- en niewinsgewende ondernemings ondersteun.

8.    Bedrog en korrupsie 

8.1.    Die Kabinet het die inhegtenisname van verskeie individue in verband met bedrog, geldwassery en korrupsie verwelkom. Dit sluit voormalige hooggeplaasde staats- en semistaatsinstellingswerknemers in, waarvan sommiges aanklagtes in die gesig staar wat verband hou met die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wetnr. 1 van 1999). Die arrestasies – insluitend ʼn binnelandse sakewerknemer by die Desmond Tutu-vlugtelingontvangssentrum in Pretoria wat na bewering omkoopgeld van ʼn buitelander aanvaar het – getuig van die feit dat niemand bo die gereg verhewe is nie en dat daar geen plek vir oneerlike werknemers in die staatsektor is nie. 
8.2.    Die Kabinet het ook die vordering aangaande die uitlewering van die Guptabroers, Rajesh en Atul, na Suid-Afrika toe verwelkom. Dit volg na hul onlangse inhegtenisname in Dubai in die VAE, nadat die internasionale kriminele polisie-organisasie (Interpol) rooi kennisgewings uitgereik het. Die broers word in Suid-Afrika deur die polisie gesoek in verband met hul beweerde rol in staatskaping, waaronder bedrog en geldwassery. Daar is besprekings tussen wetstoepassingsagentskappe in die VAE en Suid-Afrika onderweg oor hul uitlewering. Hul arrestasie demonstreer die regering se vasberadenheid om misdaad en korrupsie sonder vrees of partydigheid, te bestry. 
8.3.    Dié arrestasies demonstreer dat prosesse en meganismes doeltreffend werk om oortreders verantwoordbaar te hou vir hul gruwelike optrede en om te verseker dat niemand bo die gereg verhewe is nie. 
8.4.    Die Kabinet verwerp die blatante poging om ons ekonomie en land te ondermyn na die kwaadwillige skade aan ʼn kabel by Eenheid 1 van Eskom se Matla kragstasie in Mpumalanga. Dit was die vierde geval van vermoedelike sabotasie by ʼn kragstasie nadat soortgelyke gevalle in die afgelope paar weke by drie ander kragstasies gerapporteer is.
8.5.    Die onlangse misdaadstatistieke is ʼn weerspieëling daarvan dat ons meer as ʼn samelewing moet doen om ons gemeenskappe veiliger te maak. Dié harde werklikheid herinner ons dat die vermindering van misdaad die hele samelewing se verantwoordelikheid is en dat ons almal – waaronder die polisie, politieke leiers, gemeenskappe, gesinne, sakelui, werkers en die burgerlike samelewing – ons deel behoort te doen om misdaad te bestry. 
8.6.    Die Kabinet is vol vertroue dat die bykomende fondse wat deur die ministerie van polisie vir polisiestasies met ʼn hoë aantal moorde, verkragtings en ander gewelddadige misdaad geprioritiseer is, sal help om die deurslag te gee en veiliger gemeenskappe vir almal te skep.

9.    Jongste nuus oor KOVID-19

9.1.    Die Kabinet het almal daaraan herinner dat KOVID-19 nie uitgewis is nie en dat die risiko’s van nuwe infeksies tydens die winterseisoen sal verhoog. Ons moet steeds al die nodige voorsorgmaatreëls tref om onsself en ander te beskerm. Dit behels die gereelde was en ontsmetting van hande, dra van ʼn masker binnenshuis, handhaaf van ʼn veilige sosiale afstand, die oopmaak van vensters vir lugvloei asook inenting.

10.    Afrika-unie- (AU) spitsberaad

10.1.    Die Kabinet het die verklaring, waarborge en verbintenisse by die AU se buitengewone spitsberaad oor terrorisme en ongrondwetlike veranderings in Afrika wat op 28 Mei 2022 in Malabo, Republiek van Ekwatoriaal-Guinee gehou is, verwelkom.
10.2.    Afrikaleiers het die aanhoudende bedreigings geassesseer, die huidige reaksiemeganismes geëvalueer en hulself daartoe verbind om die gesamentlike sekerheid van ledestate wat terrorisme en gewelddadige ekstremisme in die gesig staar, te versterk.

11.    Aappokkesiekte

11.1.    Die Kabinet het Suid-Afrikaners verseker dat ons gesondheidsowerhede op hoë gereedheidsgrondslag is om aappokkesiekte te kontroleer en te voorkom, na aanleiding van die uitbraak in verskeie nie-endemiese lande. Gesondheidsowerhede in die land kontroleer steeds die situasie noukeurig, alhoewel geen gevalle tot dusver in Suid-Afrika opgespoor of gerapporteer is nie.

B.    Kabinetsbesluite

1.    Openbare konsultasies oor maatreëls om die onwettige handel van skroot te hanteer 

1.1.    Die Kabinet het dit goedgekeur dat openbare konsultasies onderneem word oor voorstelle om die handel van skroot en verwerkte metale wat onwettig bekom is, te beperk. Die diefstal van skroot en koperkabels van openbare infrastruktuur verhinder die werking van die ekonomie deur enorme koste op te lê.
1.2.    Sommige van die onderbrekings behels die verskaffing van krag en spoordienste as gevolg van vernielde spoorbane. Dit hef bykomende vervoerkostes op pendelaars as gevolg van onderbroke pendelaarvervoer. Vernielde en onbeveiligde elektrisiteitskabels hou ʼn veiligheidsrisiko vir gemeenskappe, veral kinders, in. 
1.3.    Die Kabinet het opdrag gegee dat die DHNM die konsultasies binne ʼn beperkte tydperk moet lei en dat hulle insae van die publiek en toepaslike sektore moet versoek oor doeltreffende maatreëls wat die regering kan implementeer om die skending van kritieke ekonomiese infrastruktuur te verhoed. Die Kabinet sal daarna uitsluitsel oor die goedgekeurde maatreëls gee. 

C.    Komende Gebeurtenisse

1.    Verenigde Nasies (VN) se simposium van die internasionale vennootskap vir tegnologie in vredesbewaring (PTPS in Engels) 

1.1.    Suid-Afrika sal op Vrydag, 24 Junie, 2022, die sesde PTPS by die wetenskaplike en nywerheidsnavorsingsraad in Pretoria aanbied. Daar word verwag dat dit deur 300 afgevaardigdes van 50 ledestate bygewoon sal word.
1.2.    Die simposium bring alle belanghebbende weermagte, polisie en burgers vanaf 
die VN-ledestate byeen om saam te werk oor die gebruik van moderne, gevorderde tegnologieë en konsepte in die veldsendings wat deur die VN gelei word. Die simposium sal gebruik word as ʼn platform vir VN-ledestate wat betrokke is by vredesbewaringsinisiatiewe om inligting te deel en ʼn dinkskrum uit te voer oor die gebruik van die nuutste tegnologieë in vredesbewaringsendings. 

2.    Vierde WorldSkills South Africa (WSZA) tweejaarlikse nasionale kompetisie 

2.1.    Die vierde WSZA tweejaarlikse nasionale kompetisie word van 7 tot 10 Junie 2022 by die Inkosi Albert Luthuli internasionale konferensiesentrum in KwaZulu-Natal gehou, met die tema: “Verhoog die vervaardiging van 21ste eeu-ambagsmanne”. 
2.2.    Die geleentheid word gebruik om ambagsvaardighede as ʼn haalbare beroepskeuse te bevorder en ook om moontlike vennootskappe in die nywerheid oop te stel. Dit word ook gebruik om die vlakke van ons vakleerlingskappe en vakmanontwikkeling te assesseer, bykomend tot die bevordering van vakmanberoepe as beroepe wat eerste deur ons studente gekies word. 

D.    Boodskappe

1.    Medelye 
Die Kabinet sluit by President Ramaphosa aan om sy medelye te betuig teenoor die koninklike familie en nasie van die amaMpondo-koninkryk na die afsterwe van Sy Majesteit Koning Zanozuko Tyelovuyo Sigcau (Ah Zanozuko!). 

E.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1.    Mnr. Jacob Ganny Mbele as Direkteur-Generaal (DG) by die departement van minerale hulpbronne en energie. 
2.    Me. Pumeza Nwabisa Nodada as Adjunk-DG: Bosboubestuur by die departement van omgewing, bosbou en visserye.
3.    Me. Susan Mafanedza Masapu as hoofstaatsregsadviseur by die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling. 
4.    Me. Doris Tshepe as Kommissaris van die Mededingingskommissie. 
5.    Dr. Alex Mahapa as voltydse spesiale raadgewer vir die waarnemende minister van staatsdiens en administrasie. 
6.    Adv. Rams Ramashia as deeltydse spesiale raadgewer van die waarnemende minister van staatsdiens en administrasie. 

Navrae: Me. Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore