Verklaring van die Kabinetsvergadering van 30 April 2013

1. Die Kabinet se standpunt oor belangrike sake in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet herinner alle Suid-Afrikaners daaraan dat ons Grondwet die reg waarborg om te staak en protes aan te teken binne die bepalings van die wet. Die Kabinet neem met kommer kennis van die talle gewelddadige en onbeskermde stakings wat moontlik ’n bedreiging vir ons demokrasie kan inhou. Die beledigings tydens die onlangse Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) wat gemik was op die Minister van Onderwys en die vertoon van vroueonderklere tydens die protesaksie dui op volkome minagting vir vroue, en dit is ongemagtig. Suid-Afrikaners het lank en hard baklei vir ons demokrasie en ons moet onsself dus distansieer van laakbare maatskaplike optrede wat grens aan anargie.

Suid-Afrika gaan binnekort begin met salarisonderhandelinge en die Kabinet wil graag alle gemeenskappe, werkers en vakbonde aanmoedig om nie enige aksies te neem wat ons demokrasie ondermyn nie. Die Kabinet beklemtoon weereens dat ons stryd om vryheid en demokrasie verseker het dat ons land se wette voorsiening maak vir beskermde, vreedsame stakings. Die Kabinet benadruk die beroep op werkers om bestaande, gereguleerde kanale te gebruik om griewe en salarisonderhandelinge te hanteer in die gees van ons hardverdiende demokrasie.

1.2. Die Kabinet prys die sukses van beleide en programme wat poog om Suid-Afrika se status as ’n belangrike bestemming vir internasionale toerisme- en sakegeleenthede te verstewig. Dit is beaam deur die Jaarlikse Toerisme-statistieke wat deur president Jacob Zuma bekendgestel is. Die statistieke toon dat altesaam 9,2 miljoen toeriste Suid-Afrika in 2012 besoek het, meer as die 8,3 miljoen in 2011. Toerisme-syfers na Suid-Afrika het in 2012 met 10,2% toegeneem – meer as dubbeld die wêreldgemiddeld van 4%.

Hierdie merkwaardige groei in toerisme is ’n konkrete bewys dat Suid-Afrikaners ’n warm en verwelkomende aard het en van die verskeidenheid toerisme-ervarings wat hierdie land bied. Die 2013 Toerisme-indaba wat vanaf 11 tot 14 Mei in Durban gehou word, bied weereens ’n geleentheid om Suid-Afrika en sy mense ten toon te stel. 

1.3. Suid-Afrika het ’n verdere hupstoot as ’n beleggingsbestemming gekry deur die Europese Uitkontrakteringsassosiasie (EUA) se Buitelandse Bestemming van die Jaar-toekenning vir 2013 in te palm. Dit is moontlik gemaak deur die volgehoue belegging van wêreldwye operateurs. Die toekenning erken bestemmings en operateurs wat daarin geslaag het om goeie diens aan die Europese uitkontrakteringsmark te lewer. Die toekenning hou die belofte van ’n toeloop van nuwe beleggings in 2013 en daarna in.

1.4. Die Kabinet prys graag die sukses van die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Kragvoorsiener-verkrygingsprogram vir Hernubare Energie (REIPPP) wat erkenning ontvang het deur die Groen Projek Infrastruktuur van die Jaar-toekenning by die Wêreldwye Infrastruktuur Leierskapforum te wen.

1.5. Die Kabinet waardeer die rol wat alle Suid-Afrikaners gespeel het om die land te help om sedert 2005, 3 586 megawatt (mW) energie te spaar, gelykstaande aan die uitset van ’n enkele kragsentrale.

In hierdie gees doen die Kabinet ’n beroep op almal in die land om hierdie winter verdere pogings aan te wend om elektrisiteit te bespaar aangesien die energievoorraad weereens onder seisoenale druk sal verkeer. Kom ons almal spaar krag deur nie-noodsaaklike toestelle af te skakel. Alle Suid-Afrikaners het die mag om die ligte aangeskakel te hou.

Die Kabinet maak graag bekend dat daar tans geen planne vir beurtkrag is nie. Suid-Afrikaners sal betyds in kennis gestel word indien die behoefte vir sodanige maatreël ontstaan, sodat almal voldoende reëlings kan tref.

Die Kabinet benadruk dat die onseker kragsituasie te wyte is aan beide noodsaaklike onderhoud, sowel as onvoorsiene tegniese kwessies, insluitend kabeldiefstal.

Die Kabinet verseker Suid-Afrikaners dat verskeie programme in plek is om seker te maak dat die elektrisiteitsaanvraag bevredig word en dat die integriteit van die kragstelsel te alle tye in stand gehou word. Die infrastruktuur-bouprogram poog om te verseker dat die ekonomie in die toekoms deur die vereiste infrastruktuur ondersteun word.

1.6. Die Kabinet wens alle ontvangers van Nasionale Ordes geluk en spreek hul dankbaarheid uit vir die wenners se bydraes tot die bevordering van ons demokrasie en om die lewe van Suid-Afrikaners te verbeter.

1.7. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaanse ouers en voogde om die gesondheid van hul kinders tussen nege maande en vyf jaar oud te beskerm deur betrokke te raak by die landswye polio-en-masels-inentingsveldtog vir kinders.

Die Departement van Gesondheid het op 29 April 2013 met hierdie inentingsveldtog begin en bied ’n versterker-dosis aan alle kinders wat in aanmerking kom, bykomend tot die roetine-immunisasie.

1.8. Die Kabinet ondersteun die Verenigde Nasies (VN) se Padveiligheidsweek ten volle. Dit vind plaas vanaf 6 tot 12 Mei 2013 onder die tema “Voetganger-veiligheid”.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners, veral motoriste en voetgangers, om meer verantwoordelik, waaksaam en versigtig op ons paaie te wees. Die Kabinet benadruk dat voetgangers ’n aansienlike aantal padsterftes in Suid-Afrika verteenwoordig.

Die Kabinet doen ook ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om waaksaam te wees tydens hierdie tydperk en al die padreëls te gehoorsaam.

1.9. Na die suksesvolle werksbesoek van president Jacob Zuma aan die Federale Republiek van Nigerië in middel-April 2013, sal die Nigeriese president, Goodluck Jonathan, op 6 en 7 Mei 2013 ’n staatsbesoek aan Suid-Afrika bring. Tydens die besoek sal bilaterale verhoudinge onder leiding van die Suid-Afrika-Nigerië-binasionale-kommissie versterk en bespreek word.

Die Kabinet beaam weereens die Suid-Afrikaanse Regering se verbintenis tot sterker bande met Nigerië om bilaterale handel en samewerking te verstewig vir ’n beter Afrika.

1.10. Die Kabinet het amptelik die verskoning van die eerste minister van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, mnr. Nicholas Tiangaye, aanvaar vir die rampspoedige gebeure wat gelei het tot die dood van lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

Die Kabinet bevestig hul verbintenis tot ’n vreedsame, voorspoedige en stabiele Afrika deur verskeie ingrypings en programme, insluitend vredesendings.

1.11. Namens die Regering en die mense van Suid-Afrika betuig die Kabinet hul innige simpatie met die Volksrepubliek van China ná die noodlottige aardbewing in die land se Sichuan-provinsie op 20 April 2013. Die Kabinet het ook simpatie betuig met die mense van Bangladesj wat geraak is deur die fabriek-ongeluk.

1.12. Die Kabinet verwelkom die besoek deur die regerende party aan oud-president Nelson Mandela. Die besoek het gestrook met die aanvaarde norme van ubuntu en hoe ons die ouer mense in ons gemeenskap behandel. Die ampsdraers wat betrokke was, het die land se belangstelling in die voormalige president se toestand weerspieël en gebruik gemaak van die geleentheid om die nasie, die vasteland en die wêreld in te lig oor die toestand van ons geliefde oud-staatshoof.

2. Sleutelbesprekings en -besluite van die Kabinet

2.1. Die Kabinet is geprys vir Suid-Afrika se deelname aan en prioritisering van die Wêreldekonomie-forum (WEF) Afrika 2013 wat van 8 tot 10 Mei 2013 in Kaapstad gehou sal word. Die tema is: “Die nakoming van Afrika se belofte”.

WEF-Afrika is ’n ekonomiese forum wat fokus op streeksverband en die geleentheid bied vir plaaslike en streek-sake-ondernemings en beleggers wat belang stel om vennootskappe in die streek met regerings te ondersoek.

Deur hierdie geleentheid aan te bied, gee aan Suid-Afrika die bykomende geleentheid om aktief betrokke te wees by Afrika-leiers en internasionale en streek-sake-ondernemings rakende moontlike ingrypings en om groei in Suid-Afrika en die streek te integreer en te verstewig.

2.2. Die Kabinet het die bekendmaking van die sesde uitgawe van die Ontwikkeling-aanwysers (2012) goedgekeur. Die Ontwikkeling-aanwysers is ’n jaarlikse publikasie en die 2012-uitgawe bied ’n opsomming van data oor tendense, hoofsaaklik vir die tydperk tot en met die helfte van 2012. Die aanwysers help mense om die impak van verskeie regeringsbeleide en diensleweringsinisiatiewe te verstaan.

Die analise van neigings wat by elke aanwyser ingesluit is, bevestig ons begrip van vordering in menslike ontwikkeling wat ons as ’n nasie op sleutel-beleidsgebiede maak en wys ook verder gebiede aan waar meer werk nodig is. ’n Spesiale mediakonferensie sal gereël word om die verslag bekend te stel.

2.3. Die Kabinet het verklaar dat 31 Augustus 2013 die afsnydatum is vir Angolese vlugtelinge wat in die Republiek van Suid-Afrika geraak word. Dit stem ooreen met die afsnydatum wat in Oktober 2009 deur die Verenigde Nasies se Hoofkommissaris vir Vlugtelinge verklaar is en gee uitvoering aan die pogings om streeksintegrasie te bevorder.

Fundamentele veranderinge het plaasgevind sedert die einde van die burgeroorlog in Angola. Daar word voorsien dat Angolese vlugtelinge in staat sal wees om burgerskap in hul land van oorsprong te herwin, aangesien die omstandighede wat mense as vlugtelinge erken het nie meer bestaan nie.

Die Suid-Afrikaanse Regering sal seker maak dat elke Angolese burger in Suid-Afrika bewus is van die afsnydatum vir gemeenskappe wat geraak word, en Angolese wat geraak word sal aangemoedig word om hulself vrywillig vir repatriasie beskikbaar te stel.

2.4. Die Kabinet neem kennis dat die Uniegebou in Desember sy 100ste herdenking sal vier. Goedkeuring is ook verleen dat die eeufeesviering gepaard gaan met verskeie projekte soos die vieringe op Versoeningsdag, 16 Desember 2013, met ’n tema wat maatskaplike samehorigheid, nasionale eenheid, inklusiwiteit en versoening bevorder.

2.5. Die Kabinet het goedgekeur dat die verslag oor die prestasie van Sektor-Onderwys-en-Opleidingsowerhede (SETA’s) voortspruitend uit die Ministeriële Taakspan vir SETA’s vir openbare kommentaar bekendgestel word. Die verslag bied aanbevelings oor hoe SETA’s se prestasies verbeter kan word deur ’n gekonsentreerde analise van verskeie sleutelgebiede, soos beplanning en lewering, voldoening en regering, en befondsing en finansiële bestuur.

2.6. Die Kabinet beskou die Padkaart vir Navorsing, Ontwikkeling en Innovasie (NOI) in Inligtingskommunikasietegnologie (IKT) as ’n langtermyn beleggings- en implementeringsplan vir IKT NOI in Suid-Afrika om sosio-ekonomiese ontwikkeling te ondersteun.

NOI in die IKT-sektor is belangrik om die mededingendheid van ekonomieë te versterk. Soos aangedui in die 2012 Nasionale Ontwikkelingsplan, het Suid-Afrika sy status verloor as leier op die vasteland op die gebied van Internet- en breëband-verbindings.

Hierdie padkaart is ’n gepaste strategiese implementering-hulpmiddel, bestaande uit verskeie aksieplanne en implementering-raamwerke, om Suid-Afrika se belegging in IKT NOI oor die volgende 10 jaar te lei en te bestuur.

Die IKT NOI-strategie het reeds beduidende tasbare prestasies opgelewer, soos die draadlose netwerk-tegnologie-demonstreerder-projek, wat die kostedoeltreffende lewering van breëband-verbindings vir meer as 200 landelike skole in Mpumalanga en Limpopo ondersteun.

2.7. Die Kabinet neem kennis van die aanbieding van die 2014 Internasionale Unie van Argitekte (IUA) se Wêreldkongres in Durban deur die Suid-Afrikaanse Instituut van Argitekte (SAIA).

SAIA het die bod gewen by die 2008 UIA-wêreldkongres, wat in Turin, Italië, gehou is. Die 2014-kongres sal ’n beduidende bydrae lewer om argitektuur op die vasteland te bevorder en ook om die wêreld se argitektuur-gemeenskap bloot te stel aan ons dinamiese en uiteenlopende argitektoniese omgewing.

3. Aanstellings

3.1. Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur:
a) Mnr. Coceko Bambihlelo Johan Pakade in die posisie van Direkteur-Generaal by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
b) Mnr. Fhumulani Peter Netshipale in die posisie van Adjunk-Direkteur-Generaal: Geïntegreerde Ontwikkeling by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
c) Mnr. Harold Maloka in die posisie van Adjunk-Hoof- Uitvoerende Beampte: Inhoud-verwerking en -Verspreiding by die Regering-k
d) Kommunikasie-en-inligtingstelsel.
e) Me. Mogogodi Doris Dioka in die posisie van Algemene Bestuurder (Adjunk-Direkteur-Generaal) by die Staatsdrukkery.
f) Me. Constance Glerah Nxumalo in die posisie van Adjunk-Direkteur-Generaal: Welsynsdienste by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.

3.2. Die Kabinet neem kennis van die aanstelling van mnr. Asogan Moodley in die posisie van Hoof-Uitvoerende Beampte by die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRCS) met ingang van 1 Junie 2013 vir die oorblywende ampstermyn wat op 31 Desember 2014 verstryk.

3.3. Die Kabinet neem kennis van die aanstelling van die volgende lede om te dien in die Raad van die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRCS) met ingang van 1 Junie 2013 vir die oorblywende ampstermyn wat op 23 Maart 2014 verstryk.
a) Mnr. Jeff Molobela (Voorsitter)
b) Mnr. Paul Kabelo Kgothatso Serote

3.4. Die Kabinet beaam die aanstelling van ’n nuwe Sedibeng-waterraad, vir ’n tydperk van vier jaar, met ingang van 30 April 2013.
a) Adv. Shami Kholong
b) Derick Mboweni
c) Maemili J Ramataboe (Voorsitter)
d) Goitse Griessel Ramakarane
e) Eric Atlholang Gaborone
f) Kgalalelo Gloria Sereko
g) Pulane Elsie Molokwane
h) Moses Mphahlele Mthombeni
i) Matshedisho David Dikoko (Adjunk-voorsitter)
j) Deon Daniel Madyo

3.5. Die Kabinet neem kennis dat die Afrika-ontwikkelingsbank op 31 Mei 2013 tydens die 2013 Jaarvergadering in Marrakesj, Marokko, ’n algemene verkiesing sal hou vir Uitvoerende Bestuurders.
a) Die Kabinet ondersteun die benoeming van mnr. Shahid Khan om vir ’n tweede termyn as Uitvoerende Direkteur verteenwoordigend van Suid-Afrika, Lesotho en Swaziland te dien.

3.6. Die Kabinet beaam die aanstelling van die nuwe Raad vir die Tegnologie-Innovasie-Agentskap vir ’n tydperk vir vier jaar, met ingang van 1 Mei 2013.
a) Me. Khungeka Njobe (Voorsitter)
b) Me. Rosetta Xaba
c) Dr. Bonakele Mehlomakulu
d) Me. Khungeka Njobe
e) Mnr. Mohamed Moolla
f) Me. Helen Brown (heraangestel)
g) Prof. David Ellis Kaplan
h) Adv. Motlatjo Josephine Ralefatane
i) Dr. Petro Terblanche
j) Mnr. Fadl Hendricks
k) Dr. Steve Lennon

3.7. Die Kabinet beaam die aanstelling van die volgende lede vir die oorblywende termyn van die huidige Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap se Raad, wat op 31 Mei 2014 eindig.
a) Me. Esther Khambule
b) Mnr. Marius Rezelman
c) Prof. ADM Walker
d) Dr. Daphney Mayindi
e) Dr. Jonas Mphepya

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Selnommer: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore