Verklaring oor die virtuele Kabinetsvergadering van Woensdag, 10 Maart 2021

A. Kwessies in die Omgewing

1. Aanvalle en moorde op polisiebeamptes veroordeel

1.1. Die Kabinet verdoem die voortgesette aanvalle en moorde op polisiebeamptes as nie net barbaars nie, maar ook 'n bedreiging vir nasionale sekuriteit. Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander wetstoepassingsagentskappe, insluitend privaat sekuriteitsmaatskappye, waag daagliks hul lewens om ons veilig te hou; en hulle verdien ook ons ondersteuning en beskerming.
1.2. Die Kabinet verwelkom die vinnige polisieondersoek wat gelei het tot die arrestasie van 'n verdagte in verband met die moord op twee Wes-Kaapse polisiebeamptes op Sondag, 28 Februarie 2021, wat ook van hul vuurwapens beroof is. Alle misdadige handelinge, insluitende moord, sal nie geduld word nie, en oortreders sal vasgetrek en voor die hof gedaag word.  
1.3. Die Kabinet loof ook die SAPD se suksesvolle beslaglegging op kokaïen met 'n straatwaarde van  meer as R500 miljoen uit 'n vissersvaartuig aan die Saldanha-kus. Die operasie is gelei deur speurders verbonde aan die Georganiseerde Misdaad Narkotika-eenheid, in samewerking met ander SAPD-eenhede.
1.4. Die SAPD word ook geloof vir die beslaglegging op 400 buisies, gelykstaande aan ongeveer 2 400 dosisse, nagemaakte Koronavirus (COVID-19) -entstof by 'n pakhuis in Germiston, Gauteng. Beamptes het ook nagemaakte gesigsmaskers gevind en drie individue gearresteer.
1.5. Die Kabinet maan die publiek om nie nagemaakte entstof by gewetenlose smouse te koop, wat die lewens van niksvermoedende landsburgers in gevaar stel nie. Die regering het deur die Departement van Gesondheid met die implementering van 'n gratis inentingsprogram begin, wat alle Suid-Afrikaners wat hulle vrywillig vir inenting beskikbaar stel sal bereik. Tot op hede het Fase 1 van die inentingsprogram by aangewese inentingsterreine regdeur die land al meer as 100 000 mense bereik.

2. Betreurenswaardige dood van 'n man in Braamfontein, Johannesburg

2.1. Die Kabinet betreur die tragiese dood van 'n man wat op Woensdag, 10 Maart 2021 tydens die Wits Universiteitsprotesoptrede in Braamfontein, Johannesburg doodgeskiet is, en betuig sy medelye teenoor die familie en vriende van die oorledene.
2.2. Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat het reeds 'n ondersoek geloods na die omstandighede wat tot sy dood aanleiding gegee het.
2.3. Die Kabinet maan die polisie dringend om selfbeheersing aan die dag te lê wanneer hulle tydens protesoptrede openbare orde verseker, en om nooit lewende ammunisie te gebruik nie.

3. Afrika-varkgriep

3.1. 'n Uitbraak van ASF is aangemeld op twee plase in Mfuleni in die Wes-Kaap. Die Wes-Kaapse  Departement van Landbou het 'n verbod geplaas op die verkoop en verskuiwing van lewendige varke vanaf Mfuleni, ten einde die verspreiding van die siekte te beperk.
3.2. Afika-varkgriep is 'n aansteeklike siekte wat mak en wilde varke beïnvloed, maar nie mense nie. Die Kabinet maan egter dat  uiterste sorg aan die dag gelê word om die verspreiding van die siekte na ander dele van die land te voorkom.
3.3. Boere word aangeraai om enige varkkos vooraf vir minstens een uur lank gaar te maak voordat dit vir varke gevoer word, ten einde die deaktivering van die Afrika-varkgriepvirus en ander kommerwekkende siektes te verseker.

4. Bruto Binnelandse Produk (BBP)-syfers vir die vierde kwartaal van 2020

4.1. Die Kabinet neem kennis van die BBP-syfers vir die vierde kwartaal van 2020 wat op Dinsdag, 9 Maart 2021 deur Statistiek Suid-Afrika vrygestel is. Reële BBP het met 6.3% gegroei, grootliks as gevolg van die verdere verslapping van COVID-19-inperkingsmaatreëls. Dié uitkoms weerspieël die sterk groei in huishoudelike finale verbruik en vervaardigingsproduksie. Reële BBP het vir die volle jaar van 2020 met 7.0% ingekrimp – 'n beter resultaat as wat verwag is.
4.2. Die vervaardigingsektor het in die vierde kwartaal van 2020 met 21.1% gegroei. Nege van die 10 subsektore het stygings aangeteken (gelei deur voedsel en drank, motorvoertuie en -onderdele, en metaal- en staalprodukte), terwyl handelsgroei (9.8%) gelei is deur kleinhandel, motorhandel, spyseniering en akkommodasie. Landbou het sy hoogste jaarlikse groei aangeteken (13.1% vir 2020) as gevolg van gunstige weerstoestande en beter prestasie in die graan-, tuinbou- en lewendehawe-subsektore.
4.3. Op 'n bestedingsbasis het huishoudelike finale verbruiksbesteding teen 'n koers van 7.5% gestyg, gelei deur restaurante en hotelle; voedsel en nie-alkoholiese drankies; en ontspanning- en kultuur-subsektore. Bruto vaste kapitaalvorming het met 12.1% gesyg, gelei deur groter investering in vervoertoerusting en konstruksiewerke, namate pad-, passasiers- en vragvervoeraktiwiteite verbeter  het en siviele-ingenieurswerke hervat is.
4.4. Die Kabinet bly steeds vol vertroue dat die ekonomie sal herstel deur die geprioritiseerde gesondheidsingrypings asook die voortgesette koöperatiewe pogings van die rekening, die sakesektor, werkers en gemeenskappe in die implementering van ons Ekonomiese Heropbou-en-Herstelplan.

5. Trots Suid-Afrikaans se "Koop Plaaslik" Beraad & Ekspo

5.1. President Cyril Ramaphosa het op Dinsdag, 9 Maart 2021 die virtuele Hoofrede gelewer by die 9de jaarlikse Trots Suid-Afrikaans se "Koop Plaaslik" Beraad & Ekspo, wat gehou is onder die tema: “Lokalisering as 'n dryfkrag van Ekonomiese Groei”. Trots Suid-Afrikaans is 'n agentskap van die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging.
5.2. Die beraad is direk uitgesaai oor verskeie aanlyn- en sosialemediaplatforms om  wyer deelname aan die besprekings moontlik te maak. 'n Virtuele ekspo het maatskappye in staat gestel om hul produkte en dienste bekend te stel in 'n kort video, wat 'n aanlyn vergaderingskern verskaf het vir diegene wat wil handel dryf.
5.3. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners en sakeondernemings om ons plaaslik vervaardigde produkte en dienste te ondersteun, veral gedurende hierdie tydperk van ekonomiese herstel, ten einde ekonomiese groei en werkskepping te bevorder.

6. Besoek aan die Biovac-bergingsfasiliteit

6.1. Adjunkpresident David Mabuza het op Dinsdag, 2 Maart 2021 die Biovac-bergingsfasiliteit in Midrand, Gauteng besoek as deel van die werk van die Interministeriële Komitee oor COVID-19-entstowwe, wat oor die suksesvolle uitrol van die inentingsprogram toesig hou.
6.2. Die Biovac Instituut, 'n Kaapstadgebaseerde bio-farmaseutiese maatskappy, word gesamentlik deur die regering en die privaat sektor besit. Dit is in 2003 gestig met die oog op plaaslike entstofontwikkeling vir Suid-Afrika se inentingsprogramme, asook die logistiek verbonde aan die berging van en verspreiding van entstowwe na verskeie inentingsterreine.
6.3. Biovac het oor die jare heen voldoende kapasiteit ontwikkel om entstowwe te berg en versprei. Die Kabinet is tevrede met sy bydrae tot die uitrol van die inentingsprogram en die werk wat saam met ander farmaseutiese maatskappye gedoen word om COVID-19-entstowwe te produseer.
6.4. Die kabinet doen 'n beroep op almal om waaksaam te bly en steeds die gesondheidsprotokols na te kom, naamlik om 'n masker in openbare ruimtes te dra, hande met seep en water of 'n 70%-alkoholgebaseerde handsaniteerder te was, sosiale afstand van minstens 1,5 meter te handhaaf en groot byeenkomste te vermy. Die voorkoming van die moontlike derde golf is uitsluitlik in ons eie hande.

B. Kabinetsbesluite

1. Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente  (NSFAS)

1.1. Die Kabinet is deur die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Dr Blade Nzimande, ingelig oor die huidige uitdagings met die befondsingstekorte wat deur NSFAS in die gesig gestaar word. Hierdie uitdagings het die finalisering van die registrasie van eerstejaar-universiteitstudente vertraag.
1.2. Die COVID-19-pandemie het die uitdagings van die skema vererger. Dit sluit in die verlenging van die akademiese jaar en 'n aantal studente wat nou ook vir die fonds kwalifiseer omdat hul ouers hul werk verloor het. Ten einde hierdie uitdagings die hoof te bied, keur die Kabinet addisionele befondsing goed asook die besonderhede wat Minister Nzimande onmiddellik na afloop van hierdie inligtingsessie sal bekendmaak.
1.3. Die Kabinet besluit dat nog werk gedoen moet word om 'n meer volhoubare benadering te vind om studente vir hul tersiêre onderwys te befonds. Die Kabinet bly steeds daartoe verbind om te verseker dat alle verdienstelike studente nie weens gebek aan befondsing uitgesluit word nie. 

2. Konsep-situasieskrif vir Grondadministrasie en Grondbesithervorming in Kommunale Areas

3. Die Kabinet keur die Konsep-situasieskrif vir Grondadministrasie en Grondbesithervorming in Kommunale Areas goed vir verdere oorlegpleging met tersaaklike belanghebbers. Die voorgestelde hervormings verskaf 'n regsraamwerk vir die inisiëring van die proses om kommunale grond oor te dra aan persone of gemeenskappe wie se grondbesit regtens onseker is.

3.1. Hierdie hervormings sal ook die kommunale batebasis uitbrei om gemeenskappe te bemagtig om aan kultuur, sosiale en ekonomiese aktiwiteite van hul keuse deel te neem. Hierdie oorlegplegings sal uitloop op die sameroeping van die beplande Nasionale Grondberaad.

4. Verkryging van entstowwe

4.1. Die Kabinet word deur die Minister van Gesondheid, Zwelini Mkhize en die Minister van Finansies, Tito Mboweni ingelig oor kontrakonderhandelings met verskeie farmaseutiese maatskappye vir entstofverkryging. Die Kabinet oorweeg enkele van die problematiese bepalings van die kontrakte wat nie in ooreenstemming met die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet 1 van 1999) is nie en erken die afwykings wat reeds deur Nasionale Tesourie toegestaan is in die belang van die lewens van Suid-Afrikaners.
4.2. Hierdie afwykings sluit in bepalings vir voorafbetalings om te verseker dat Suid-Afrikaners so gou moontlik toegang tot entstowwe verkry. Die Kabinet steun die pogings van die Nasionale Tesourie en die Nasionale Departement van Gesondheid om met die onderhandelinge voort te gaan en snelle toegang tot entstowwe vir almal te verseker.

5. Nasionale Ramptoestand

5.1. Die Kabinet keur die verlenging van die Nasionale Ramptoestand tot 15 April 2021 goed. Dit word gedoen ingevolge Artikel 27(5) (C) van die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 2002). Die publiek word aangespoor om steeds alle COVID-19-gesondheidsmaatreëls en -beperkings na te kom ten einde die verspreiding van die virus te voorkom.

C. Wetsontwerpe

1. Wetsontwerp op Beroepsgesondheid en Veiligheid (OHS) van 2020

1.1. Die Kabinet keur die publikasie van die OHS-wetsontwerp 2020 vir oorlegpleging goed. Die Kabinet het ten doel om die OHS-wet (Wet 85 van 1993) te wysig en dit in ooreenstemming met internasionale tendense te bring. Dit beoog ook om die veiligheidsmaatreëls van werkers in hul onderskeie werkplekke te versterk.
1.2. Die Wetsontwerp voer bepalings in wat werknemers bemagtig om hul arbeid te weerhou indien hulle voel dat die omgewing gevaarlik en onveilig is, sonder dat hulle deur hul werkgewers geviktimiseer word.

2. Die Wetsontwerp op Verbruikersbeskerming vir Behuising

2.1. Die Kabinet keur die indiening van die Wetsontwerp op Verbruikersbeskerming vir Behuising goed vir tertafellegging in die Parlement. Die Wetsontwerp herroep die Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers, 1998 (Wet 95 van 1998). Die voorgestelde wysigings sluit in die uitbreiding van die beskerming wat aan behuisingsverbruikers gebied word – met inbegrip van herstelwerk, opknappings, veranderings en aanbouings aan 'n bestaande huis. Die Wetsontwerp doen ook transformasieprogramme in die huisboubedyf aan die hand.
2.2. 'n Aantal insette is sedertdien deur openbare oorlegpleging van belanghebbers in die bedryf ontvang. Die Wetsontwerp sal deur verdere oorlegplegings met die parlementêre proses gaan voordat dit wet word. 

D. Toekomstige Gebeure

1. Wêreldwaterdag

1.1. Suid-Afrika sal hulle by die internasionale gemeenskap aansluit om Wêreldwaterdag op Maandag, 22 Maart 2021 te gedenk. Dié dag verhoog bewustheid van die internasionale waterkrisis en fokus op die bereiking van Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 6: Skoon Water en Sanitasie vir almal teen 2030.
1.2. Die Departement van Water en Sanitasie het die #SaveWater-veldtog geloods om alle Suid-Afrikaners daaraan te herinner dat elke druppel tel. Ondanks die goeie reënval, is ons waterskaars land steeds kwesbaar vir langdurige droogtes, wat deur klimaatsverandering vererger word.
1.3. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om water spaarsamig te gebruik, omdat ons verkwistende optrede vandag 'n uitwerking op toekomstige geslagte sal hê. Laat ons die verantwoordelike generasie wees wat gesamentlik verantwoordelikheid vir ons toekoms aanvaar deur die kraan van waterverkwisting toe te draai.

E. Boodskappe

1. Gelukwensings

Die Kabinet spreek sy gelukwense uit teenoor:

Me Tshepho Faith Koopa, 'n plaaslike mediese wetenskaplike van Pathology LabOne, wat 'n COVID-19-toetsing-antigeen ontdek het. Die antigeen vorm deel van die COVID-19-toetsstelle wat deur LabOne-laboratoriums in Khayelitsha, Wes-Kaap en Midstream, Gauteng versprei word.

Pathology LabOne het die toetsstelle aangekoop in vennootskap met Prins Amon Moagi van die Bakgatla-stam in Noordwes, Africapacity Investment Group en Brawne Capital.

2. Medelye

  • Die Kabinet betuig sy medelye met die familie en vriende van:
  • Me Karima Brown (54), 'n uitsonderlike veteraanjoernalis en aktivis.  
  • Mnr Peter Matlare (61), 'n entrepreneur en adjunk-HUB van ABSA, wat verskeie uitvoerende posisies by 'n aantal vooraanstaande Suid-Afrikaanse sakeondernemings en die SABC beklee het.
  • Mnr Azwifarwi Dick Ralushi (71), vryheidstrydveteraan.  Ralushi was 'n lid van die Black Peoples Convention (BPC ) en het as die organisasie se publisiteitsekretaris gedien. Hy was 'n lid van die Northern Transvaal Action Committee, 'n geaffilieerde van die UDF, en 'n ondergrondse aktivis van die African National Congress se militêre vleuel Umkhonto WeSizwe onder die Northern Transvaal Rural Machinery.

F. Aanstelling

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Me Mamogala Jennifer Musekene – Adjunk-direkteur-generaal: Chemikalieë- en Afvalbestuur, Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye.

Navrae:
Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore