Verklaring oor die Virtuele Kabinetsvergadering Woensdag 31 Augustus 2022

A.    Kwessies in die Omgewing
1.    Ekonomie 


1.1.    Die kabinet het die effense afname in die land se werkloosheidsyfer verwelkom wat met 0,6% gedaal het vanaf 34,5% in die eerste kwartaal tot 33,9% in die tweede kwartaal van 2022. Die syfers wat in die kwartaallikse arbeidsmagverslag deur Statistieke Suid-Afrika gepubliseer is, toon dat die meeste werkskepping in gemeenskaps- en maatskaplike dienste (276 000), handel (169 000), finansies (128 000) en konstruksie (104 000) plaasgevind het. 
1.2.    Die totale aantal geëmplojeerde persone het op 15,6 miljoen gestaan in die tweede kwartaal van 2022, en die aantal werklose mense het met 132 000 toegeneem tot 8,0 miljoen in die tweede kwartaal van 2022 in vergelyking met die vorige kwartaal.
1.3.    Hierdie klein maar tog indrukwekkende toenames toon dat die gesamentlike pogings deur die regering en sy maatskaplike vennote wat die ekonomie help om te groei en broodnodige werk help skep, nou begin vrugte afwerp. 
1.4.    Dit getuig van die feit dat as ons almal saamwerk en ons kragte saamsnoer, ons die uitdagings wat ons ekonomie in die gesig staar, te bowe kan kom. 
1.5.    Die kabinet verstaan die frustrasies van Suid-Afrikaners wat swaarkry in hulle alledaagse lewe weens die hoë lewenskoste en werkloosheidsyfer. As ‘n regering wat omgee, bly ons vasberade en toegewyd om saam met ons maatskaplike vennote te werk om ‘n beter toekoms vir almal te bou. Die regering bly daartoe verbind om plaaslike besighede te ondersteun deur plaaslike goedere te koop en van plaaslike dienste gebruik te maak. 

2.    Openbare Infrastruktuur

2.1.    Die kabinet het die beskadiging van infrastruktuur deur inwoners van Tongaat in KwaZulu-Natal tydens ‘n protesaksie oor toegang tot water, veroordeel. Die kabinet het ‘n oproep tot kalmte en geduld gedoen terwyl die Tongaat-waterwerke herstel word. 
2.2.    Die kabinet verstaan die frustrasie van inwoners wat sedert die oorstromings vroeër vanjaar van watertenkwaens gebruik moes maak. Geweld en anargie is egter nie die oplossing nie en die beskadiging van openbare infrastruktuur maak net die plaaslike gemeenskap seer. 

3.    Wysigingswet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 2022

3.1.    Die kabinet het die ondertekening van die Wysigingswet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 2022 (Wet 3 van 2022) deur president Cyril Ramaphosa verwelkom. Die wet is daarop gemik om die kapasiteit en etiese standaarde van plaaslike regering te verbeter. Die wet maak deel uit van die regering se pogings om die Staatsdiens te professionaliseer en volhoubare diensverskaffing aan die mense te verseker, as ‘n basiese reg wat in die grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 verskans is. 
3.2.    Die wet spesifiseer die prosess wat gevolg moet word vir senior aanstellings. Dit verhoed nou dat senior staatsamptenare politieke ampte in politieke partye kan beklee. Weens hierdie wet word ook verwag dat vakante poste vir munisipale bestuurders landwyd geadverteer moet word om sodoende ‘n groot verskeidenheid geskikte kandidate te lok. 
3.3.    Die kabinet is vol vertroue dat hierdie veranderinge sal verseker dat diegene wat in hierdie posisies aangestel of verkies word, hulle beloftes sal nakom sodat ons almal ‘n beter lewe kan ly. 

4.    Misdaad

4.1.    Die kabinet het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se doene-amptenare geloof vir die beslaglegging op 785 kg metamfetamine met ‘n straatwaarde van R236 miljoen op die OR Tambo Internasionale Lughawe op Sondag 28 Augustus 2022. Die beslaglegging sal ‘n duidelike boodskap aan misdaadsindikate stuur dat ons inklarings- en uitklaringshawens goed beskerm word en dat ons amptenare hard werk om misdaad uit te hou. 

B.    Kabinetsbesluite

1.    Verslag van die Raad op Hoëronderwys (RHO) se Ondersoek na die Vergoeding van Vise-Kanseliers en Senior Uitvoerende Bestuurders van Universiteite in Suid-Afrika 

1.1.    Die kabinet is op hoogte gebring oor die uitslag van die RHO-ondersoek wat in 2020 deur die minister van hoëronderwys, wetenskap en innovasie, dr. Blade Nzimande, van stapel gestuur is, om die vergoedingsvlakke en tendense van uitvoerende beamptes aan universiteite te bepaal vir die 15-jaartydperk van 2005 tot 2019. 
1.2.    Die ondersoek is gedoen om die volhoubaarheid, lewensvatbaarheid en ontwikkeling van universiteite of die hoëronderwyssektor in die land te bepaal. Die verslag bied ‘n opsomming van die sleutelbevindinge sowel as voorgestelde remediërende aanbevelings aan. 
1.3.    Dit beveel onder andere aan dat daar ‘n versterkte en meer deursigtige vergoedingsproses moet wees. Die opstel van ‘n eksterne en onafhanklike oorsigstruktuur om oorsig te bied oor die besluitnemingsproses van vergoeding. Dit beveel ook die versterking van die prestasiebeoordelingstelsels binne die instellings aan. Die ondersoek het ook die grootte van die onderskeie instellings in aggeneem en het ook interne normtoetsing gedoen. 
1.4.    Daar word verwag dat die minister van hoëronderwys, wetenskap en innovasie die verslag met die universiteitsleierskap sal bespreek as ‘n maatreël om hierdie akademiese instellings te versterk. Die verslag sal daarna op die departement van hoëronderwys se webblad gepubliseer word: www.dhet.gov.za.

2.    Versnelde Transformasie van die Navorsings- en Onderrigkapasiteit in die Hoëronderwyssektor 

2.1.    Die kabinet ondersteun die aanbevelings van die twee studies wat opdrag gegee is om advies te gee oor die maatreëls wat in plek gestel moet word om die transformasie van navorsings- en onderrigkapasiteit by hoëronderwysinstellings te versnel. 
2.2.    Die eerste verslag is opgestel deur die ministeriële taakspan wat die blokkering van die werwing, behoud en vordering van swart Suid-Afrikaanse akademici ondersoek het. Die tweede verslag – in opdrag van die departement van wetenskap en innovasie en die Nasionale Navorsingstigting – is deur Universiteite Suid-Afrika opgestel, die sambreelliggaam wat die 26 openbare universiteite in die land verteenwoordig. 
2.3.    Albei hierdie verslae stel intervensiemaatreëls voor om transformasie in vyf breë areas te versnel, naamlik in die nagraadse pyplyn, personeeldeelname, institusionele kultuur en praktyk, beleid en strategie, en beperkte hulpbronne. 
 
3.    Internasionale Verdrag oor Plantgenetiese Hulpbronne vir Voedsel en Landbou (die verdrag)

3.1.    Die kabinet het die indiening van die verdrag by die parlement vir aanvaarding, goedgekeur. Dit sal Suid-Afrika in staat stel om deel te vorm van die partye van hierdie verdrag wat leiding aan lidlande gee oor die bewaring en versekering van die volhoubare gebruik van plantgenetiese hulpbronne vir voedsel en landbou.
3.2.    Inwilliging tot hierdie verdrag sal die land se verbintenis tot bewaring en die volhoubare gebruik van plantgenetiese hulpbronne, versterk, en ondersteuning aan landelike gemeenskappe bied. 

4.    Regverdige Oorgangsraamwerk (Just Transition Framework) vir Suid-Afrika

4.1.    Die kabinet het die regverdige oorgangsraamwerk goedgekeur vir implementering. Die raamwerk bied ‘n gedeelde visie vir ‘n billike, klimaat-veerkragtige Suid-Afrika. Dit definieer die beginsels en beleidsareas om dit te verkry. Die oorgangsraamwerk sal ‘n impak op almal in Suid-Afrika hê, en ‘n geleentheid bied om historiese ongelykhede uit die weg te ruim en ‘n ekonomie te skep wat tot almal se voordeel strek. 
4.2.    Die presidensiële klimaatskommissie het ‘n uitgebreide konsultasieproses saam met die maatskaplike vennote geloods en wye ondersteuning vir die raamwerk verkry. Die kabinet het bevestig dat die verskuiwing na ‘n net-sero koolstofekonomie teen 2050 die nasionale ontwikkelingsaspirasies moet ondersteun, insluitende behoorlike werk vir almal, sosiale insluiting en die uitwissing van armoede. 
4.3.    Die kabinet het ‘n beroep gedoen op alle maatskaplike vennote om hulle gewig agter hierdie raamwerk in te gooi en dit te ondersteun. Daar sal ‘n gedetailleerde implementeringsplan vir hierdie raaamwerk ontwikkel word en dit sal geïntegreer word by die regering se beplannings- en begrotingstelsel.

5.    Nuwe Suid-Afrikaanse Rybewyskaart 

5.1.    Die kabinet het die vervanging van die huidige rybewyskaart deur ‘n kaart met meer veilige ontwerpseienskappe, goedgekeur. 
5.2.    Die huidige stelsel is al sedert 1998 in gebruik. Die tegnologie het sedertdien verder ontwikkel en dit is te duur om die huidige infrastruktuur verder te onderhou. Die nuwe voorgestelde kaart sal die land se rybewys versoenbaar maak met die International Information Technology Personal Identification Compliant Driving Licence (ISO18013).

6.    Uitgebreide Openbarewerkeprogram-beleid (EPWP) 

6.1.    Die kabinet het die publisering van die konsepbeleid vir die uitgebreide openbarewerkeprogram in die Staatskoerant vir die publiek se insette, goedgekeur. Die EPWP is een van die regering se sleutelprogramme wat daarop gemik is om armoede- en inkomsteverligting te bring deur tydelike werksgeleenthede te skep, veral vir die jeug en vroue. 
6.2.    Die nuwe beleid sal die program versterk en duidelikheid verskaf oor aspekte soos lone, befondsingsmodel en maatskaplike beskerming, en ook die EPWP in ooreenstemming bring met moderne arbeidspraktyke. Dit sal vennootskappe tussen die regering en die private sektor bevorder en sodoende verseker dat die EPWP op grootskaal bydra tot die skepping van behoorlike werksgeleenthede en verligting van armoede. Die beleid sal ook innovering in die implementering van openbarewerkeprogramme regoor die land bevorder. 

7.    Wysiging aan die Vierde Desimale Muntreeks van Suid-Afrika

7.1.    Die kabinet het die dimensies, ontwerp en samestelling van die jaar 2023 vierde desimale muntreek van Suid-Afrika goedgekeur. Dit het die jaarlikse rotasiestelsel van die gebruik van die amptelike landstale op die vierde desimale muntreek goedgekeur. 
7.2.    Die woord “Suid-Afrika” sal op die een kant van die munte aangebring word en in al die amptelike landstale gedruk word. Daar sal drie tale op die R5-muntstuk gebruik word, twee tale op die R2-, 50c-, 20c- en 10c-muntstukke en die R1 sal net een taal hê. Al hierdie tale sal op ‘n jaarlikse rotasiebasis oor die volgende 10 jaar gebruik word. 

8.    Konsepwatergehaltebestuursbeleid (IWQM) van 2022

8.1.    Die kabinet het die publikasie van die Konsepwatergehaltebestuursbeleid vir publieke insette, in die staatskoerant goedgekeur. Die voorgestelde beleid sal die ou WQM-beleid van 1991 vervang asook sy strategie wat in 2006 in werking getree het. 
8.2.    Die beleid skets in breë trekke ‘n stel beginsels wat die basis sal vorm vir watergehaltebestuur. Dit verskaf riglyne om al die relevante waterverwante wetgewing en die land se globale verbintenisse in ooreenstemming te bring met die verskaffing en bewaring van water as ‘n skaars hulpbron. 

9.    Konsepbeleid vir Volgende-Generasie Radiofrekwensiespektrum 

9.1.    Die kabinet het die publikasie van die Konsepbeleid vir Volgende-Generasie Radiofrekwensiespektrum vir openbare insette, in die staatskoerant goedgekeur. Radiofrekwensiespektrum is ‘n beperkte natuurlike hulpbron wat noodsaaklik is vir die groei van Suid-Afrika se digitale ekonomie en kommunikasie-infratruktuur. 
9.2.    Die voorgestelde beleid het ten doel om die spektrumtoekenning en lisensiëring vir vaste mobiele netwerke, lugvaart, ruimte en seevaart, navorsing en ontwikkeling, gemeenskapstoegang, en ander relevante bedrywe te ondersteun. Die beleid poog ook om billikheid en regverdige toekenning te bevorder om sodoende by te dra tot die transformasie van die sektor sowel as toeganklikheid van digitale konnektiwiteit —selfs in die afgeleë dele van die land.

10.    Suid-Afrika se Kandidatuur vir die Internasionale Telekommunikasie-Unie (ITU) se Radioreguleringsraad 
10.1.    Die kabinet het die nominasie van Suid-Afrika se kandidaat, mnr. Mandla Samuel Mchunu, vir die ITU se Radioreguleringsraad (Streek D) goedgekeur. Mnr. Mchunu dien tans as direksielid. Hy is voorgestel vir herverkiesing tot die ITU-raad vir die termyn 2023 tot 2026. 
10.2.    Die verkiesing sal plaasvind tydens die ITU se gevolmagtigde kongres wat in Boekarest, Romenië gehou gaan word vanaf 26 September tot 14 Oktober 2022. Suid-Afrika bly verbind tot die doelwitte en teikens van die ITU om die digitale gaping te verklein en al die mense van die wêreld te verbind. 

C.    Toekomstige Gebeurtenis
1.    Erfenismaand 


1.1.    Erfenismaand in September sal hierdie jaar met die tema: “Viering van die nalatenskap van Solomon Linda en Suid-Afrika se inheemse musiek” gevier word. Die kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om Erfenismaand te gebruik om ons ryk kulturele erfenis en verskeidenheid, wat die mag het om ons as nasie te verenig, te vier. Ons moet ons almal daartoe verbind om saam te werk om die skeiding en ongeregtigheid van die verlede uit te wis en ‘n doelbewuste sin bevorder om trots Suid-Afrikaans te wees. 

D.    Boodskappe
1.    Gelukwensinge


Die kabinet dra sy gelukwense oor aan: 

  • Alle wenners, medaljewenners en deelnemers wat in die 95ste Comrades-marathon deelgeneem het wat alom bekend is as die “Ultimate Human Race”, op Saterdag 28 Augustus 2022. Die mansafdeling is gewen deur Tete Dijana (5 uur, 30 min, 38 sek.) van Mahikeng in Noordwes, terwyl die Russiese atleet, Alexandra Morozova, (6 uur, 17 min. 47 sek.) die vroue-afdeling gewen het. 
  • 1.    Medelye 
  • Die kabinet het sy medelye oorgedra aan die familie en vriende van: 
  • Mama Rita Alice Ndzanga (88), the Struggle-veteraan en pionier van die vakbondwese wat ook die ontvanger van die Nasionale Orde van Luthuli in 2004 was vir “haar lewenslange bydrae tot die stryd vir werkersregte en die realisering van ‘n nierassige, nieseksistiese, vry en demokratiese Suid-Afrika”.
  • Die vyf offisiere van die Suid-Afrikanse Polisie-diens (SAPD) wat passasiers aan boord van die SAPD-vliegtuig was wat by die Randse Lughawe in Germiston neergestort het op Dinsdag 30 Augustus 2022. Die kabinet wens die vlieënier wat in ‘n kritieke toestand is, ‘n spoedige herstel toe. 

E.    Aanstellings

1.    Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en relevante klaring. 
a.    Me. Gugulethu Abigail Thimane as Adjunk-direkteurgeneraal (ADG): Openbaresektormonitering en Kapasiteitsontwikkeling in die Departement van Beplanning, Moniteirng en Evaluasie. 
b.    Me. Kwena Komape as ADG: Ekonomiese Ontwikkeling, Handel en Bemarking in die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling. 
c.    Dr. Bongani Elias Sithole as ADG: Nasionale Rampbestuursentrum in die Department van Samewerkende Regering.

2.    Die kabinet gaan akoord met die volgende aanstellings:

a.    Mnr. Songezo  Booi as Hoof- Uitvoerende Beampte (CEO): Nasionale Huisbouersregistrasieraad.
b.    Direksie van African Exploration Mining and Finance Corporation:
(i)    Mnr. Zacharias Bernardus Swanepoel (Voorsitter)
(ii)    Mnr. Mzwandile Zwelinzima Themba Masondo
(iii)    Me. Phumzile Mthombeni (Uitvoerende Direkteur).

c.     Mnr. Patrick Dlamini as HUB (Verlenging van dienskontrak) van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika. 

Navrae: Me. Phumla Williams – Kabinetwoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore