Verklaring oor die VirtueKabinetsvergadering wat op Woensdag 10 Junie 2020 gehou is

1.   Jongste nuus oor die Koronavirus (COVID-19)

1.1.  Tydens die Kabinet se virtuele vergadering, wat op Woensdag 10 Junie 2020 gehou is, het die Kabinet ’n bygewerkte verslag van die Nasionale Koronavirus-bevelsraad ontvang. Die bevelsraad het verskeie aanbevelings rakende die verhoogde risiko-aangepaste waarskuwingsvlak 3 van die nasionale inperking ter tafel gelê.
Die aanbevelings is gegrond op voorleggings deur verskillende sektore, sowel as beraadslagings deur die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur.  

1.2.  Die Kabinet het egter besluit om goedkeuring vir die aanbevelings uit te stel hangende 'n volledige gesondheidsevalueringsverslag deur die Ministeriële Raadgewende Komitee oor COVID-19. Die bevelsraad sal na verwagting die volledige voorlegging vroeg volgende week ontvang.

1.3.  Die Kabinet doen weereens 'n ernstige beroep op alle Suid-Afrikaners om die maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van COVID-19 te bekamp, vrywillig na te kom. Die maatreëls sluit in gereelde was van hande, sosiale afstand en die dra van maskers in die openbaar.  

2.   Nasionale Petroleummaatskappy

2.1.   Die Kabinet is ingelig oor die voortgesette werk om alle petroleum- (olie- en gas-) filiale van die staatsbeheerde gediversifiseerde energieonderneming, Central Energy Fund, te rasionaliseer.

2.2.   Die rasionalisering sal daartoe lei dat drie filiale (PetroSA, Strategic Fuel Fund en iGas) tot ’n enkele Nasionale Petroleummaatskappy saamsmelt. Dit gee uitvoering aan die aankondiging wat President Cyril Ramaphosa in sy staatsrede op 13 Februarie 2020 gemaak het, dat verskeie ondernemings in staatsbesit hervorm en gerasionaliseer sal word om groei en ontwikkeling te bevorder.

2.3.  Die Kabinet keur die voorgestelde aanstelling van 'n professionele herstruktureringsonderneming goed. Die onderneming, wat in samesmeltings spesialiseer, sal die lewensvatbaarste model vir hierdie enkele Nasionale Petroleummaatskappy ondersoek.

3.   Beleidsraamwerk oor Geslagsgebaseerde Geweld (GGG) in die Naskoolse onderwys- en opleidingstelsel

3.1.  Die Kabinet keur die GGG-beleidsraamwerk in die naskoolse onderwys- en opleidingstelsel goed. Die beleidsraamwerk is daarop gerig om op die toenemende aantal GGG-verwante insidente by hoëronderwysinstellings te reageer.

3.2.  Die beleidsraamwerk bied riglyne oor strukture, meganismes en prosesse wat instellings vir hoër onderwys moet instel om voorvalle van GGG op hul kampusse te voorkom. Benewens die voorsiening van toesigstrukture, dwing dit ook sulke instellings om bewustheid oor hul GGG-beleid te skep.

4.  Uitvoerbaarheidstudie se verslag oor die Museum vir die Weerstands- en Bevrydingsbeweging

4.1.  Die Kabinet keur die uitvoerbaarheidstudie se verslag oor die instelling van die museum vir die weerstands- en bevrydingsbeweging goed. Die museum sal tot die bewaring van Suid-Afrika se weerstands- en bevrydingsgeskiedenis bydra.

4.2.  Die studie, wat in 2015 deur die Kabinet goedgekeur is, sal binne die konteks van die projek vir die weerstands- en bevrydingserfenisroete uitgevoer word. Die roete dra by tot die ontwikkeling en transformasie van Suid-Afrika se erfenislandskap.

4.3.  Sodra die museum voltooi is, sal dit 'n reeks erfenis-items (tasbaar en ontasbaar) bewaar, en gemeenskaplike vertellings, herinneringe en ervarings met betrekking tot die bevrydingstryd in Suid-Afrika bied.

5.  Nasionale Khoi- en San-erfenisroete

5.1.  Die Kabinet keur die implementering van die Nasionale Khoi- en San-erfenisroete, wat 'n nasionale nalatenskapprojek is, goed. Die roete sal die Khoi, Nama, Griekwa, Khorana en San se erfenis identifiseer, uitlig, bewaar en bevorder. Hierdie projek dra by tot die erkenning van Suid-Afrika se voorheen verwaarloosde en gemarginaliseerde geskiedenis.

5.2.  Dit gee ook uitvoering aan die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap, 2019 (Wet 3 van 2019), wat wetgewing bied vir die erkenning van die Khoi- en San-tradisionele leiers.

6.  Ontwerpe vir die 2021 en 2022 gedenkmunte

6.1.  Die Kabinet keur die ontwerpe vir die 2021 en 2022 gedenksirkulasiemunte, wat deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) en die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy uitgereik word, goed.  

6.2.  Die R5-gedenksirkulasiemunt en die R5 sterlingsilwer, vergulde versamelmunt sal in 2021 uitgereik word, om die eeufeesviering van die SARB te gedenk. Suid-Afrika se vierde desimale muntreeks, wat in 2022 uitgereik sal word, sal uit 10-sent- 20-sent-, 50-sent-, R1- en R5-munte bestaan.

Wetsontwerpe

1.  Wysigingswetsontwerp op Wette in die Finansiële Sektor van 2020

1.1.  Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Wette in die Finansiële Sektor van 2020 aan die Parlement goed. Die wetsontwerp stel voor dat die SARB as die resolusie-owerheid aangewys word. Dit sal die SARB se reguleringsmiddele vir die uitvoer van sy statutêre mandaat om stabiliteit in die finansiële stelsel te verseker, versterk.

1.2.  Die wetsontwerp stel 'n nuwe raamwerk voor om finansiële instellings, veral banke, te herstruktureer wanneer hulle tydperke van finansiële nood beleef. Dit stel ook die eerste omvattende deposito-versekeringskema vir Suid-Afrika bekend, wat sal verseker dat deposante hul geld ontvang wanneer 'n bank misluk.

1.3.  So 'n skema sal kwesbare deposante beskerm en sal toesien dat die finansiële stelsel en die breër ekonomie minimaal ontwrig word wanneer sulke instellings in finansiële nood verkeer.

Aanstelling

  • Me Sekgothadi Kabelo as nie-uitvoerende direkteur op die direksie van die Hawereguleerder van Suid-Afrika.


Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore