Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 9 Maart 2022

A.Kwessies in die Omgewing

1. Konflik tussen Rusland en die Oekraine

1.1. Die Kabinet bly diep gekwel deur die voortgesette konflik tussen Rusland en die Oekraine. Die sosio-ekonomiese koste van die konflik is verwoestend en die impak daarvan sal wêreldwyd gevoel word.

1.2. Die Kabinet bepleit ʼn ooreengekome diplomatiese oplossing en het ʼn beroep gedoen op alle partye om menseregte te handhaaf en beskerm, en hul verpligtinge in terme van internasionale wetgewing en internasionale humanitêre wetgewing na te kom.

1.3. Die Staat help steeds Suid-Afrikaanse burgers om die Oekraine te verlaat en ʼn aantal mense het sedertdien teruggekeer huistoe. Ons het ook ons kommer uitgespreek oor die swak behandeling van Afrikane wat in hierdie tye internasionale grense probeer oorsteek het.

1.4. Ons glo dat ontwikkelende lande ʼn groter stem en invloed moet hê in wêreldregeringsinstellings. Suid-Afrika staan dus ʼn meer billike internasionale stelsel voor, asook die hervorming van multi-laterale instansies om groter gelykheid te bevorder.

2. Suid-Afrika Beleggingskonferensie (SABK)

2.1. Suid-Afrika sal op Donderdag, 24 Maart 2022 die 4e SABK aanbied by die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg. Die konferensie is deel van die Staat se beleggingsveldtog om R1.2 triljoen oor ʼn tydperk van vyf jaar na die land te lok en bring afgevaardigdes vanoor Suid-Afrika en die wêreld byeen om beleggingsgeleenthede te bespreek.

2.2. Sedert die eerste beleggingskonferensie in 2018 het Suid-Afrika verbintenisse van R774 miljard regoor verskeie ekonomiese sektore gelok. Hierdie nuwe beleggings sal ons help om die ekonomie te groei, broodnodige werke te skep en die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter.

3. Nuutste oor die koronavirussiekte (KOVID-19)

3.1. Die Kabinet bedank die land se ywer in die stryd teen KOVID-19, maar waarsku ook dat die stryd nog nie gewonne is nie en doen ʼn beroep op alle mense in Suid-Afrika om waaksaam te bly en hulself steeds te beskerm teen die verspreiding van die dodelike virus.

3.2. Die Kabinet is ingenome daarmee dat naastenby 32 miljoen dosisse KOVID-19-entstof tot dusver toegedien is en dat meer as 42 persent van ons volwasse bevolking ten volle ingeënt is.

3.3. Oningeënte mense is egter steeds weerloos teen KOVID-19 en bly ʼn gesondheidsrisiko vir hulself en die mense om hulle. Inenting bly die beste verweer teen KOVID-19 en die Kabinet doen ʼn beroep op almal bo die ouderdom van 12 jaar om sonder enige verdere uitstel ingeënt te word.

3.4. Aanspoor-inentings is nou vryelik beskikbaar aan meeste mense en die Kabinet doen ʼn beroep op diegene wat in aanmerking kom vir hierdie inentings om so gou as moontlik daarmee toegedien te word. Ons moet ook steeds maskers dra wat die mond en neus bedek, ons hande gereeld was of saniteer, te alle tye ʼn veilige sosiale afstand handhaaf en genoegsame lugvloei verseker deur vensters oop te hou.

4. Afrika Energie-Indaba

4.1. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle afloop van die hibridiese Afrika Energie-Indaba wat vanaf 1 tot 3 Maart 2022 in Kaapstad plaasgevind het onder die tema “Die Besigheidsbyeenkoms by Voorkeur vir die Afrika Energie-sektor”. Die byeenkoms het invloedryke globale en plaaslike rolspelers in die energiesektor byeengebring om te beraadslaag oor hoe die Afrika-kontinent energie as katalis kan gebruik om die ekonomie te groei en die lewens van mense te verbeter.

4.2. Suid-Afrika bly daartoe verbind om ʼn energieverhouding te bereik ooreenkomstig met die land se ontwikkelings- en klimaatsveranderingsteikens, wat terselfdertyd steeds genoegsame energievoorrade verseker.

5. Aanstellings in die sekuriteitsgroepering

5.1. Die Kabinet verwelkom die onlangse hoë-vlak aanstellings in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Staatsekuriteitsagentskap (SSA). President Ramaphosa het adv. Andrea Johnson aangestel as die hoof van die NVG se ondersoekdirektoraat en ambassadeur Thembisile Majola as die nuwe direkteur-generaal (DG) van die SSA.

5.2.  Die President het ook adv. Navilla Somaru aangestel as die direkteur van openbare vervolging (DOV) in die Vrystaat; adv. Matodzi Rachel Makhari-Sekhaolelo as DOV in die Noordwes en adv. Nicolette Bell as DOV in die Wes-Kaap.

5.3.  Hierdie aanstellings sal ons kapasiteit versterk om ondersoek in te stel na alle voorvalle van misdaad en korrupsie, en dit te vervolg.

6. Besoek ter oorsig oor dienslewering

6.1. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle oorsigbesoek deur die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, me. Patricia de Lille en die Minister in die Presidensie, mnr. Mondli Gungubele, aan die N2 nodale projek in die Nelson Mandela Bay-munisipaliteit in die Oos-Kaap op Dinsdag, 8 Maart 2022.

6.2. Die besoek vorm deel van die Staat se inisiatief wat gemik is op ʼn meer gereelde assessering van die vordering wat gemaak word in die implementering van die infrastruktuurbeleggingsplan om die ekonomie weer op die been te bring en werke te skep.

6.3. Hierdie spesifieke projek behels 12 100 nuwe behuisingsgeleenthede en meer as 500 000m² kleinhandel-, kommersiële, kantoor en nywerheidsfasiliteite, asook die volle spektrum van gemeenskaps- en sosiale fasiliteite.

7. Internasionale Vrouedag

7.1. Suid-Afrika het op Dinsdag, 8 Maart 2022 Internasionale Vrouedag saam met die res van die wêreld gevier. Hierdie dag is ʼn geleentheid om te besin oor die vooruitgang wat gemaak is in die bevordering van geslagsgelykheid en wat ons verder te doen staan om ʼn meer geslagsgelyke nasie te word.

7.2. Die Kabinet is ingenome met die vele suksesse wat behaal is sedert die koms van demokrasie. Suid-Afrika het vooruitgang gemaak in die bevordering van die gelykheid van vroue in verskeie velde insluitend die Staat, burgerlike samelewing, die regsbedeling, sport en kultuur. Dog benadruk die Kabinet dat daar nog baie gedoen moet word om volle en gelyke deelname deur vroue in Suid-Afrika se ekonomie te verseker.

7.3. Die Kabinet verwelkom ook die aanstelling van Suid-Afrika tot die voorsitterskap van die 66e sitting van die Verenigde Nasies se kommissie op die status van vroue wat sal plaasvind vanaf Maandag, 14 Maart 2022 tot Vrydag, 25 Maart 2022.

8. Staatsveiligheid

8.1. Die Kabinet neem kennis van die Amerikaanse Tesourie se inhegtenisname van individue wat na bewering in geldwassery betrokke is. Ons sal voortgaan om in noue samewerking met ons internasionale vennote te veg om ʼn einde te bring aan die vloei van onwettige fondse.

8.2. Ons sekuriteitsmagte bly op hul hoede en is voordurend in kontak met buitelandse intelligensiedienste, beide in Suid-Afrika en in die buiteland. Hul werk behels onder meer die uitruil van inligting oor die bedreigings wat geweldadige ekstremisme en terrorisme bied.

9. Openbare geweld

9.1. Die Kabinet veroordeel die onlangse voorvalle van geweld en openbare gevegte in Alexandra naby Sandton. Geen vlakke van misnoeë kan die skending van mense se regte in ons land regverdig nie.

9.2. Die Kabinet verwelkom die spoedige ingryping deur wetstoepassingsagentskappe wat gelei het tot die herstel van vreedsaamheid in die area en die inhegtenisname van verskeie persone wat na bewering hul aan openbare geweld skuldig gemaak het. 

9.3. Daar word ʼn beroep gedoen op gemeenskappe om van vreedsame metodes gebruik te maak om geskille op te los en om alle onwettige aktiwiteite by wetstoepassingsagentskappe aan te meld.

10. Ekonomie

10.1. Die Kabinet neem kennis van die bruto binnelandse produk- (BBP) syfers wat onlangs deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is en toon dat Suid-Afrika se BBP met 1.2 persent gegroei het in die vierde kwartaal van 2021, nadat dit in die derde kwartaal van 2021 met 1.7 persent gekrimp het. Dit bring Suid-Afrika se jaarlikse groeikoers vir 2021 tot 4.9 persent. Die grootste bydraes tot hierdie groei is gemeet in landbou, vervaardiging, dienste en vervoer.

10.3 Die Kabinet bly vasbeslote om saam met ons maatskaplike vennote te werk om ons doelwit van inklusiewe ekonomiese groei te bereik en ʼn omgewing te bewerkstellig waarin ons in staat sal wees om die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykhede aan te spreek.

11. Opveiling van die hoë-aanvraag radio-frekwensiespektrum

11.1. Die Kabinet wens die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika geluk met die aanvang van die opveiling van die hoë-aanvraag radio-frekwensiespektrum, ten spyte van die voortgesette regsgedinge. 

11.2. Die wens ook die bieërs geluk wat op Dinsdag, 8 Maart 2022 en Donderdag, 10 Maart 2022 aan die veiling deelgeneem het, wat dui op die voorneme van die telekommunikasiebedryf om voort te gaan om in Suid-Afrika se digitale infrastruktuur te belê.

11.3. Die Staat bly daartoe verbind om ʼn bemagtigende omgewing te skep vir die radiospektrum om optimal gebruik te word, nie slegs deur die telekommunikasiebedryf nie maar ook tot voordeel van die ekonomie en die samelewing.

11.4. Die lisensiëring van hoë-aanvraag radiospektrum sal mobiele telekommunikasie-operateurs verder in staat stel om sterk telekommunikasie met groot deurdringendheid en reikwydte te bou.

11.5. Die grootste voordele van hierdie langverwagte proses sluit in die vermindering van die kostes van data en stem-kommunikasie.

11.6. Die spektrum word ook verwag om by te dra tot ekonomiese transformasie in die onderskeie sektore en die opbrengste van die veiling sal meer as R8 miljard tot die nasionale fiskus bydra.

12. Ondersoeke na die Nasionale Loterykommissie (NLK)

12.1.     Die Kabinet neem kennis van die vordering wat gemaak is deur die Spesiale Ondersoekeenheid in hul intensiewe ondersoek na wanadministrasie en korrupsie in die NLK, en het ander wetstoepassingsagentskappe wat deel vorm van die ondersoek aangespoor om hul pligte so gou as moontlik te af te handel. Dit sal verseker dat die nodige stappe geneem kan word om mense of organisasies verwikkel in die onwettige wanbesteding van fondse geoormerk om behoeftiges te bevoordeel, verantwoordbaar te hou.

B. Kabinetsbesluite

1. Nasionale Infrastruktuurplan (NIP) 2050

1.1. Die Kabinet het die NIP 2050 vir implementering goedgekeur. Die NIP verskaf katalitiese projekte ten doel om by te dra tot die land se langtermyn ekonomiese en maatskaplike ontwikkelingsteikens.

1.2. Die plan het geskrewe kommentaar ontvang nadat dit in Augustus 2021 vir openbare kommentaar publiseer is. Terugvoer is ook ontvang na aanleiding van openbare konsultasie met verskeie belanghebbendes in die infrastruktuursektor. Die konsultasie het ook streeks- en kontinentale liggame soos die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Afrika-unie se kommissie vir infrastruktuur ingesluit.

1.3. Die NIP bewerkstellig die ontwikkeling van die land se infrastruktuurnetwerke wat belyn is met die Nasionale Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk en die Distriksontwikkelingsmodel (DDM). Dit fokus ook op die konstruksie van infrastruktuur gemik op sosio-ekonomiese ontwikkeling en die skep van werk en geleenthede vir breëbasis swart ekonomiese bemagtiging.

2. Vloeibare Petroleumgas- (VPG) Uitrolstrategie van 2022

2.1. Die Kabinet het die publikasie van die VPG-uitrolstrategie van 2022 in die Staatskoerant vir publieke kommentaar goedgekeur. Die strategie het ten doel om by te dra tot die aanspreek van die uitdagings waarvoor die land te staan kom ten opsigte van energievoorraad.

2.2. Die strategie spreek onder meer die volgende aan: die strukturele eienskappe van die huidige VPG-mark, bestaande infrastruktuur, die prysstruktuur en die huidige plaaslike vervaardigingskapasiteit van die LPG-silinders. Die strategie spreek ook tot die veiligheid- en bewusmakingsveldtog om die profiel van plaaslike gas as omgewingsvriendelike brandstof te bevorder.

3. Eksplorasiestrategie van die Suid-Afrikaanse mynbedryf

3.1. Die Kabinet het die eksplorasiestrategie van die Suid-Afrikaanse mynbedryf goedgekeur. Die strategie sal onder meer in sy implementeringsplan onmiddelike ingrypings verskaf om omvattende geo-wetenskaplike kartografie te onderneem om die land se geo-wetenskaplike data te verbeter.

3.2. Die strategie stel ook ʼn samewerkingsooreenkoms tussen die departement van minerale hulpbronne en energie en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie voor om te verseker dat eksplorasie verskaffing maak vir die insluiting van opkomende  eksplorasiemaatskappye. Dit bekragtig ook die navorsingsingsrol van navorsingsinstellings soos MINTEK en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad asook die vaardigheidsontwikkelingsprogram.

3.3. Die strategie is die slotsom van breër oorlegpleging tussen die Staat, nywerheid en ander maatskaplike vennote. Die mynbedryf bly steeds die noodsaaklike lewensbloed van die land se ekonomiese ekostelsel.

4. Inwerkingstelling van die Batho Pele-vernuwingstrategie van 2021

4.1. Die Kabinet het die inwerkingstelling van die Batho Pele-vernuwingstrategie van 2021

goedgekeur. Die strategie is die slotsom van ʼn aantal navorsingsprojekte oor die doeltreffendheid van die die 1997 Batho Pele-beleid deur beide die Staat en nie-staatsinstansies.

4.2. Die strategie verskaf die vyf pilare wat die minimumstandaarde voorskryf waaraan alle staatsdepartemente moet voldoen. Die voorgestelde ingrypings sal ʼn burger-gesentreerde diensleweringsprogram vir die Staatsdiens bewerkstellig.

4.3. Hierdie strategie bewerkstellig die bekragtiging van ʼn bekwame, etiese en ontwikkelingstaat, wat ʼn kritiese ingryping bly in die bediening van Suid-Afrikaanse burgers. Dit bekragtig ook die implementering van die agt beginsels van Batho Pele. Uiteindelik het dit die bevordering van gedragsverandering in die Staatsdiens ten doel.

5. Wysiging van die beleid op hoë-aanvraag spektrum en die beleidsaanwysiging vir die lisensiëring van ʼn draadlose ope-toegang netwerk (DOTN)

5.1. Die Kabinet het die wysiging van die beleid op hoë-aanvraag spektrum en die beleidsaanwysing vir die lisensiëring van ʼn DOTN goedgekeur om gepubliseer te word vir publieke kommentaar. Die voorgestelde wysigings verwyder die vereistes vir ʼn lisensie vir die DOTN.

5.2. Die Kabinet het hierdie beleid op hoë-aanvraag spektrum en die beleidsaanwysing vir die lisensiëring van ʼn DOTN in 2019 goedgekeur om die Wet op Elektroniese Kommunikasie, 2005 (Wet 36 van 2005) in werking te stel. Die lisensiëring van hoë-aanvraag spektrum bly krities tot die land se ekonomiese herstel.

6. Taxiverligtingsfonds om die impak van KOVID-19 te verlig

6.1. Die Kabinet het die verlenging van die afsnydatum vir aansoeke vir die KOVID-19-verligtingsfonds vir die taxi-bedryf vanaf 31 Maart 2022 tot 31 Maart 2023 goedgekeur. Die fonds, met ʼn begroting van ongeveer R1,135 miljard, se fondse word toegeken as ʼn eenmalige betaling om die negatiewe finansiële impak van KOVID-19 op die taxi-bedryf te verlig.

6.2. Die Nasionale Bemagtigingsfonds is verantwoordelik vir die uitbetaling van die vergoeding aan alle wettige taxi-operateurs met geldige bedryfslisensies, insluitend minibus-taxi’s, gemeterde taxi’s en e-taxi-dienste.

C. Wetsontwerpe

1. Wysigingswetsontwerp vir die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPK) van 2021

1.1. Die Kabinet het die publikasie van die Wysigingswetsontwerp vir die SAPK vir publieke kommentaar goedgekeur. Die Wetsontwerp het ten doel om die Wet op die SAPK, 2011 (Wet 22 van 2011) te wysig.

1.2. Die voorgestelde wysigings het ten doel om die SAPK in staat te stel om die tegnologiese ontwikkelinge in sy veld te benut. Dit sal in staat wees om pligte te hersien en sy mandaat uit te brei. Dit sal ʼn diensverskaffer kan word van ʼn universele posdiens en koerier, geïntegreerde logistieke, e-handel en ook ʼn digitale spilpunt vir besighede en gemeenskappe. Die voorgestelde wysigings, wat belyn is met die Witskrif oor die Nasionale Geïntegreerde IKT Beleid van 2016, sal ook verbeteringe aanbring aan die bestuursbepalings van die SAPK.

2. Wysigingswetsontwerp vir die Suid-Afrikaanse Posbank van 2021

2.1. Die Kabinet het die inhandiging aan die Parlement van die Wysigingswetsontwerp vir die Suid-Afrikaanse Posbank van 2021 goedgekeur. Die Wetsontwerp wysig die Wet op die Posbank, 2010 (Wet 9 van 2010) om dit te belyn met die Bankwet, 1990 (Wet 94 van 1990). Dit maak voorsiening vir die totstandkoming van die South African Postbank Holding Company in terme van die Bankwet van 1990.

2.2. Die Wetsontwerp het publieke konsultasie ondergaan om dit te versterk. Sodra dit as Wet aanvaar word, sal die Posbank in staat wees om as ʼn aparte entiteit met ʼn reëlingsraamwerk buite die SAPK bedryf te word. 

3. Wetsontwerp vir die Fonds vir Radioaktiewe-Afvalbestuur

3.1. Die Kabinet het die publikasie van die Wetsontwerp vir die Fonds vir Radioaktiewe-Afvalbestuur vir publieke kommentaar goedgekeur. Die Wetsontwerp maak voorsiening die die skep van die fonds soos gelas deur die beleid vir radioaktiewe-afvalbestuur.

3.2. Die fonds sal gebruik word vir die bestuur van radioaktiewe afval. Dit sal die konstruksie van infrastruktuur bemoontlik vir die hantering, storing en oorsig van die permanente wegdoening van radioaktiewe afval. Die fonds sal bestuur word deur die Nasionale Instituut vir die Wegdoening van Radioaktiewe Afval.

3.3. Suid-Afrika trek voordeel uit die skoon energie wat deur die Koeberg-kernkragstasie opgewek word. Daarbenewens bly Suid-Afrika een van die wêreld se grootste vervaardigers van die radio-farmaseutiese produkte waarmee kanker gediagnoseer en behandel word.

D. Toekomstige Gebeure

1. Ampsbesoek deur die President van Mosambiek

1.1. President Cyril Ramaphosa sal gasheer speel vir sy Mosambiekse eweknie, Sy Eksellensie President Filipe Nyusi, op Vrydag, 11 Maart 2022.

1.2. Die besoek sal wederkerige, streeks- en kontinentale samewerking tussen die twee nasies verder bekragtig. Dit versterk ook bilaterale verhoudinge en samewerking tussen Suid-Afrika en Mosambiek, beide polities en ekonomies.

2. Presidensiële Imbizo in die Noordwes

1.1. Op Saterdag, 12 Maart 2022, sal President Ramaphosa ʼn delegasie na die Noordwes lei om deel te neem aan ʼn presidensiële imbizo. Tydens die geleentheid sal die President en leiers vanuit al drie regeringsfere skakel met gemeenskappe in die Noordwes.

1.2. Die aanvangs-imbizo vir 2022 bied ʼn geleentheid vir die President om met gemeenskappe in gesprek te tree oor die daaglikse gang van hul lewens asook die regering se dienslewering. Inwoners kan ook direk hul voorstelle gee oor hoe ons saam Suid-Afrika kan groei sonder om iemand agter te laat.

1.3. Voortbouend op die DDM, wat nouer samewerking tussen burgers en publieke verteenwoordigers voorstaan, moedig die Kabinet gemeenskappe in die Noordwes aan om van hierdie geleentheid gebruik te maak om direk met die President te skakel en hul kwellinge en voorstelle te deel.

2. Menseregtedag

2.1. Die Kabinet verwelkom die reeks dialoë en aangeleenthede onder die tema: “Die Jaar van Eenheid en Hernuwing: Beskerm en Bewaar ons Gewonne Menseregte” wat plaasvind as deel van die gedenking van vanjaar se Menseregtedag op Maandag, 21 Maart 2022. Hierdie dra ook by tot die assessering van die vordering wat gemaak is in die nasie se konstitusionele demokrasie-projek.

2.2. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om Menseregtemaand as geleentheid te gebruik om groter maatskaplike samehorigheid, nasiebou en ʼn gedeelde nasionale identiteit te koester. Dit is ons plig as nasie om te streef na inklusiewe sosio-ekonomiese ontwikkeling terwyl ons seker maak dat ons rassisme, rassediskriminasie en alle verwante onverdraagsaamheid bestry.

3. Nasionale Waterweek

3.1. Die Nasionale Waterweek-veldtog vind plaas vanaf Sondag 20 Maart 2022 tot Saterdag, 26 Maart 2022, met die fokus op die behoefte om ons waterhulpbronne te beskerm en bewaar.

3.2. Ten spyte van ʼn aansienlik hoër reënval in baie dele van ons land in die afgelope paar maande bly Suid-Afrika steeds ʼn waterskaarse land. Dit is een van die 30 droogste lande ter wêreld en meeste van die land se water is afkomstig van reënval.

3.3.  Die Kabinet stel burgers gerus daarvan dat ons kraanwater veilige is vir menslike gebruik, soos bevestig deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, en beklemtoon dat berigte oor onveilige drinkwater wat verbind word met buiktifus oftewel ingewandskoors, vals is. Die Staat prioritiseer tans waterretikulasie in gemeenskappe.

D. Boodskappe

3. Gelukwensings

Die Kabinet het sy gelukwense en welmenendheid oorgedra aan:

Die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan, wat Suid-Afrika se naam hoog hou by die IKR se Vrouewêreldbeker in Nieu-Zeeland.

Die atleet Stephen Mokoka, wat die mans-50km wêreldrekord gebreek het met ʼn wentyd van twee uur, 40 minute en 13 sekondes, tydens die Nedbank Runified Breaking Barrriers-resies in Gqeberha, Oos-Kaap op Sondag, 6 Maart 2022.

2. Medelye

Die Kabinet deel hul medelye met die familie en vriende van:

Mnr. Mandla Ka-Mabuza (47), ʼn kunstenaar, spreker en voormalige president van die Suid-Afrikaanse Studentekongres. Hy was ook ʼn voormalige staatsamptenaar by die departement van openbare werke en infrastruktuur.

E. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1. Mnr. Zane-Udien Dangor as DG by die Departement Van Internasionale Betrekkinge En Samewerking.

2. Me. Phindile Patronella Mkwanazi as Adjunk-DG: Leer en Professionele Ontwikkeling by die Nasionale Regeringskool.

3. Mnr. David Mamphitha as hoof uitvoerende beampte van die myngesondheid- en veiligheidsraad. 

4. Persone wat op die Internasionale Lugdiensteraad gaan dien:

(a) Me. Nomveliso Ntanjana (Voorsitter);

(b) Mnr. Nare Thupana (Adjunkvoorsitter);

(c) Mnr. Grant Reagon Son;

(d) Mnr. Tumelo Chipfupa; en

(e) Me. Pfumelani Dorcas Mbulayeni.

5. Persone wat op die Lugdienste Lisensiëringsraad gaan dien:

(a) Mnr. Leroy Musa Nsibande (Voorsitter);

(b) Me. Raesibe Sharon Kekana (Adjunkvoorsitter);

(c) Mnr. Rickie Rodger Rennie;

(d) Me. Zonica Leanda Mtshali; en

(e) Mnr. Ramovha Emmanuel Mbuwe.

Navrae: Me. Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder

Sel: 083 501 0139

 

Share this page

Similar categories to explore