Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 24 Mei 2023

A.  Kwessies in die omgewing

1.  Krag
1.1.  Die Kabinet het kennis geneem van die vordering aangaande die implementering van die Energie-aksieplan, terwyl die beduidende beperkings wat steeds in die nasionale netwerk bestaan, erken word. 
1.2.  Die Kabinet het die finalisering van die kontrak vir 400 megawatt (MW) se bykomende kapasiteit deur die Standaardaanbodprogram wat voor die einde van Mei 2023 aanlyn sal wees verwelkom, namate die land winter betree. 
1.3.  Die Departement van Gesondheid het ook 213 hospitale vir beurtkraguitsluiting vasgestel, met 76 van dié wat reeds uitgesluit is en daar word daaraan gewerk om nog 46 hospitale op ʼn gevorderde stadium by te voeg. 
1.4.  Die Kabinet het ook die naderende bekendstelling van die eenstopwinkel vir energie op 31 Mei 2023 deur Invest SA verwelkom wat die reguleringsproses sal bespoedig om nuwe kragopwekkende maatskappye sal help om betrokke te raak. 
1.5.  Daar word van die vordering by die Kulisile-kragstasie kennis geneem om teen die einde van 2023 3 200 MW deur eenheid 1, 2, 3 en 5, in die nasionale netwerk terug te stoot.
1.6.  Die Kabinet is besorg oor die voortdurende sirkulasie van valse nuus, op sosiale media wat beweer dat daar ʼn naderende nasionale netwerkineenstorting sal wees wat tot ʼn totale verduistering sal lei. Eskom het die regering verseker van planne wat gereed is vir stelselvoorsorg om ʼn nasionale verduistering te voorkom.
1.7.  Die Kabinet herhaal beroepe op alle mense in Suid-Afrika om steeds elektrisiteit te bespaar. Die doelwit is om daagliks minstens 1 000 MW te bespaar, wat gelykstaande is aan een vlak van beurtkrag per dag.
1.8.  Die Minister van Elektrisiteit, Dr. Kgosientsho Ramokgopa, sal op Vrydag, 26 Mei 2023, deur ʼn media-inligtingsessie die land op hoogte hou oor die implementasie van die Energie-aksieplan. 

2.  Gesondheid
2.1.  Die regering het ʼn tegniese werkkomitee, gelei deur die Nasionale Departement van Gesondheid, van stapel gestuur aangaande die cholera-uitbraak in Hammanskraal in die Stad van Tshwane, wat reeds soos op 24 Mei 2023, 15 lewens geëis het.
2.2.  Breedvoerige werk is onderweg om alle moontlike bronne van die kontaminasie te toets, hetsy waterbronne, tenkwaens wat water aflewer, krane en die Rooiwal-rioolwerke (RR). Daar is tot op hede geen bewyse van cholerabakterieë in dié bronne opgespoor nie, wat dit baie waarskynlik maak dat die cholera-uitbraak vanuit ʼn eenmalige kontaminasie kon gewees het, met die huidige gevalle wat die gevolg van sekondêre en tersiêre kontaminasie is.
2.3.  Inwoners van Hammanskraal word, namate dié ingrypings plaasvind, aangemoedig om kraanwater te kook en ʼn knippie sout by te voeg voordat dit gedrink word. Enigiemand met ʼn loopmaag, naarheid of gastro-intestinale simptome moet ook onmiddellik ʼn dokter of plaaslike kliniek besoek.
2.4.  Die Minister van Water en Sanitasie, Mnr. Senzo Mchunu, sal op Vrydag, 26 Mei 2023 ʼn vergadering met die Stad van Tshwane se burgemeester, Raadslid Cilliers Brink, belê om ʼn gesamentlike plan vir die opknapping van die Rooiwal-rioolwerke, wat lankal moes plaasgevind het, te ontwikkel. 
2.5.  www.nicd.ac.za.<}0{>Skakel die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) se 24-uur blitslyn by 082 883 9920 vir meer inligting. Riglyne vir die behandeling van cholera is aanlyn by www.nicd.ac.za beskikbaar.

3.  Kwartaallikse arbeidsmagopname (KA)
3.1.  Die Kabinet voel bemoedig dat 2023 se eerste KA ʼn sesde agtereenvolgende kwartaallikse verhoging van die aantal werke aangedui het en dat die indiensname van 16,2 miljoen mense nader aan die 16,4 miljoen werkende mense voor die dae van koronavirus (KOVID-19) skuifel. Dit is ʼn duidelike aanduiding dat die Suid-Afrikaanse ekonomie sterk herstel van die impak van daardie pandemie. 
3.2.  Die eerste kwartaal se indiensname-getalle toon dat daar tydens die eerste kwartaal van die jaar 209 000 werke in die formele sektor en 107 000 werke in die informele sektor geskep is. recovering from the impact of that pandemic. 
3.3.  The first quarter employment figures show 209 000 jobs were created in the formal sector and 107 000 jobs in the informal sector during the first quarter of the year.

4.  Betrekkinge tussen Suid-Afrika en die Verenigde State (VS) 
4.1.  Die Kabinet het bevestig dat betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VS steeds hartlik, sterk en wedersyds voordelig is na ʼn vergadering tussen die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Dr. Naledi Pandor, en VS-ambassadeur vir Suid-Afrika, Mnr. Reuben E. Brigety, aangaande sy opmerkings wat beweer dat Suid-Afrika wapens aan Rusland verskaf het.
4.2.  Die Kabinet het herhaal dat gevestigde diplomatiese kanale aan alle nasies, waaronder die VS, beskikbaar is om kwessies oor die bestuur van die bilaterale betrekkinge, soos hulle na vore kom, te opper.
4.3.  Die Kabinet het die aankondiging deur President Cyril Ramaphosa aangaande die vestiging van ʼn onafhanklike ondersoek om die bewering van die verskaffing van wapens van Suid-Afrika aan Rusland, te ondersoek, verwelkom.  Besonderhede van die ondersoek sal gelegener tyd aangekondig word.

5.  Betrekkinge tussen Suid-Afrika en Singapoer
5.1.  President Ramaphosa het op Dinsdag, 16 Mei 2023 eerste minister Lee Hsien Loong van die Republiek van Singapoer ontvang.
5.2.  Singapoer is ʼn beduidende belegger in Suid-Afrika, met beleggings van meer as R5 miljard in sektore soos vervaardiging, finansiële dienste en eiendom. Ondertekende ooreenkomste tussen die twee lande poog om handel, belegging, onderrig en verdedigingsamewerking, te versterk. 

6.  Wes-Kaapse Presidensiële Imbizo vir die Distriksontwikkelingsmodel (DOM) 
6.1.  President Ramaphosa het op Vrydag, 19 Mei 2023 die sesde DOM Presidensiële Imbizo in die Wes-Kaap, Drakenstein plaaslike munisipaliteit, Kaapse Wynlanddistrik, onderneem.
6.2.  Die President het ʼn afvaardiging van al drie regeringsfere met die tema: “Laat niemand agter nie”, gelei. Die President het voor die Imbizo die nabygeleë Vlakkeland katalitiese menslike nedersettingsontwikkeling, wat tot op hede die grootse staatsbehuisingsontwikkeling in die Drakenstein plaaslike munisipaliteit is, besoek. Die ontwikkeling wat in 2017 van stapel gestuur is sal, wanneer dit voltooi is, 2 556 huise aan kwalifiserende begunstigdes verskaf.  
6.3.  Die bou van 942 huise in die eerste fase is onderweg, met 454 wat voltooi is en 301 wat steeds gebou word. Die belangrikheid van dié projek is dat dit aan die behoeftes van ʼn verskeidenheid behuisingsopsies voorsien, van diegene met ʼn inkomste van R0 tot R3 500 (onder Breek Nuwe Grond), tot finansieringsgekoppelde subsidieprogram vir diegene wat tussen R3 501 en R22 000 per jaar verdien. Beide maatskaplike behuisingsgeleenthede en geleenthede vir militêre veterane is in dié projek beskikbaar.

7.  Toesigbesoek aan eThekwini metropolitaanse munisipaliteit en uMgungundlovu distriksmunisipaliteit op 18 en 19 Mei 2023
7.1.  Adjunkpresident Paul Mashitile het belanghebbendes in onderrig en opleiding, landbou, handel en nywerheid tydens ʼn toesigbesoek aan die eThekwini metropolitaanse munisipaliteit en uMgungundlovu distriksmunisipaliteit, as deel van die DOM-toesigbesoeke, betrek.
7.2.  Een van die sleutelprojekte was die Ntshongweni katalitiese projekterrein waar ʼn slimstad tussen Durban en Pietermaritzburg gebou word.  Die projek sal nuwe lewe in ekonomiese aktiwiteit in die gebied blaas en oor die volgende 10 tot 15 jaar, ongeveer R15 miljard in belegging bydra.

8.  Waterinfrastruktuur
8.1.  President Ramaphosa het op Dinsdag, 23 Mei 2023, die Lesotho-Hoogland-waterprojek besoek waartydens hy aan die sooispitseremonie van fase 2 van die projek deelgeneem het.  Dié seremonie, wat ʼn paar jaar gelede onderteken is en vertragings in die gesig gestaar het, het die versnelling van dié kritieke binasionale inisiatief aangedui. Die Lesotho-Hoogland-waterprojek is van kardinale belang om die watertoevoersekerheid in Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga en die Noord-Kaap, te verseker.
8.2.  Die belegging in waterinfrastruktuur om die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter, duur voort met die toewysing van meer as R14 miljard aan munisipaliteite om waterinfrastruktuuragterstand, deur die infrastruktuurtoelaag vir streeksinfrastruktuur op grootmaat (RBIG in Engels) en die infrastruktuurtoelaag vir waterdienste (WSIG in Engels), aan te spreek. Die RBIG sal op 130 projekte bestee word en die WSIG sal toegewys word aan meer as 400 projekte landwyd.
8.3.  Die Kabinet is ook verheug dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) vordering toon in die stryd teen korrupsie, met nagenoeg R600 miljoen wat deur maatskappye wat voordeel getrek het uit tenders wat onreëlmatig toegeken is, terugbetaal is. Die Kabinet het ook kennis geneem van die voorkomende beheermaatreëls wat deur die departement ingestel is om onreëlmatige, nuttelose en verkwistende besteding uit die weg te ruim.

9.  Maatskaplike beveiligingstoekening
9.1.  Suid-Afrika het die toonaangewende Internasionale Maatskaplike Beveiligingsvereniging (ISSA in Engels) se toekenning vir goeie praktyk in maatskaplike veiligheid vir Afrika 2023 ontvang, wat die regering se belegging in die lewens van ons kinders, veral diegene vanaf arm en kwesbare huishoudings, erken.
9.2.  Suid-Afrika se inskrywing vir dié toonaangewende toekenning is getiteld: “geleidelike uitbreiding van maatskaplike veiligheidsdekking aan kwesbare kinders: die geval van die kinderondersteuningstoelaag, Suid-Afrika”. ʼn Totaal van 138 inskrywings is vanuit 48 lede-instansies in meer as 30 lande in Afrika, ontvang.
9.3.  Ons maatskaplike bystand is die kern van die regering se armoedeverligtingsprogram en kernbelangrik om die waardigheid van ons mense te herstel. Suid-Afrika se maatskaplike beskermingstelsel is onder die grootste ter wêreld, met meer as 18 miljoen begunstigdes. 

10.  Begrotingsposte
10.1.  Die Kabinet is verheug dat begrotingsposte deur regeringsdepartemente goed vorder. Die skedule van die komende begrotingsposte en ondersteunende media-inligtingsessies: 
10.1.1.  Die Minister van Samewerkende Regeerkunde en Tradisionele Sake (CoGTA), Me. Thembi Nkadimeng, sal op Vrydag, 26 Mei 2023 om 13:00 ʼn media-inligtingsessie oor CoGTA se begrotingspos, wat die maatreëls wat poog om die prestasie van munisipaliteite te versterk, uiteen sal sit, belê.  
10.1.2.  Die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Me. Lindiwe Zulu, en die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Mnr. Ronald Lamola, sal op Dinsdag, 30 Mei 2023 hul begrotingsposte hou en die besonderhede van hulle media-inligtingsessies sal ter gelegener tyd gedeel word.
10.1.3.  Die Presidensie se begrotingspos sal op Woensdag, 31 Mei 2023 ter tafel gelê word en die media-inligtingsessie oor vordering met strukturele hervormings en die indiensname-inisiatiewe wat deur Operasie Vulindlela gekoördineer is, sal op Dinsdag, 30 Mei 2023, gehou word.

11.  Afrika-dag en die Afrika-portuuroorsigmeganisme (APRM in Engels) 20-jaar herdenking

11.1.  Die Kabinet en alle Suid-Afrikaners sluit by die kontinent van Afrika en die wêreld aan om op Donderdag, 25 Mei 2023 Afrika-dag te vier. Dié jaar is veral belangrik omdat dit die 60ste herdenking van die stigtingsmanifes van die Organisasie vir Afrika-eenheid, die voorganger van die Afrika-unie, se ondertekening vier.  Die tema vir die 2023-vierings — “Bespoediging van die Afrika kontinentale vryhandelsgebied-implementering” — erken die vooruitgang aangaande die inwerkingtreding van een van die wêreld se grootste vryhandelsgebiede.
11.2.  Dié jaar se Afrika-maandviering gaan gepaard met die 20ste herdenking van die ARPM, wat poog om goeie regeerkunde op die kontinent deur sistematiese portuurleer en self-assessering, te bevorder. 

B. Kabinetsbesluite 

1.  Namakwa spesiale ekonomiese sone (SES)

1.1.  Die Kabinet het die aanwysing van die Namakwa SES in Aggeneys in die Noord-Kaap, goedgekeur. Die voorgestelde aanwysing is ingevolge die Wet op Spesiale Ekonomiese Sones, 2014 (Wetnr. 16 van 2014) gedoen en die voorgestelde SES is deel van die presidensiële beleggingsaksie.
1.2.  Die Namakwa SES sal mynbouveredeling, die vervaardiging van groen waterstof, infrastruktuurontwikkeling, hernubare energie en agroverwerking, beskikbaar maak. Dié sektore is kernbelangrik vir werkskepping en ekonomiese ontwikkeling van die Noord-Kaap en die land. 
1.3.  Meer as R29 miljard se beleggings is reeds vir fase 1 van die SES belowe. Dit sluit in beloftes van Vedanta Zinc (R16 miljard), Frontier Rare Earth (R13 miljard), Hive Energy (R200 miljoen) en RRS Trade and Investment (R100 miljoen). 

2.  Nasionale waterhulpbronstrategie, derde uitgawe (NWHS-3) 2023
2.1.  Die Kabinet het die NWHS-3 2023 vir implementering goedgekeur en die strategie is bindend op alle owerhede en instansies wat die Nasionale Waterwet, 1998 (Wetnr. 36 van 1998) implementeer.
2.2.  Daar word aan dié strategie gestalte gegee deur ʼn drie-jaar-hersiening van die NWHS-2, wat gebiede van welslae en gebiede wat steeds ʼn uitdaging bly, bepaal het. 
2.3.  Die NWHS-3 bestaan uit drie tematiese doelwitte, dat water en sanitasie ontwikkeling, die wegwerking van armoede en ongelykheid moet ondersteun, dat water moet bydra tot die ekonomie en werkskepping en dat water volhoubaar en regverdig beskerm, gebruik, ontwikkel, bestuur en beheer moet word.
2.4.  Dié strategie maak vatbare voorstelle vir die verhoging van watertoevoer, die vermindering van wateraanvraag, doeltreffende water- en sanitasiebestuur, die regulering van die water- en sanitasiesektor, die herverspreiding van water vir transformasie, die bevordering van internasionale samewerking en die bestuur van water en sanitasie in ʼn veranderende klimaat. 
2.5.  Die NWHS-3 is op die DWS se webwerf by www.dws.gov.za, gepubliseer.  
   

3.  Verslag oor maatreëls wat deur die Departement van Verdediging geïmplementeer is om die optrede en gedrag van lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat in vredesendings ontplooi is, aan te spreek. 
3.1.  Die Kabinet het ʼn verslag ontvang oor die vordering wat Suid-Afrika maak om die gedrag van sommige van die SANW-lede wat in vredehandhawingsendings regoor die kontinent ontplooi is, aan te spreek.
3.2.  Die SANW is ʼn bron van nasionale trots omdat hy aan vredehandhawingsendings op die kontinent deelneem om stabiliteit en vrede in oorloggeteisterde Afrika-nasies onder die beskerming van die Verenigde Nasies (VN) te bewerkstellig. 
3.3.  ʼn Ministeriële taakspan is in 2019 gestig om gevalle van seksuele uitbuiting en mishandeling (SUM) in die DoV te ondersoek, nadat bewerings van seksuele oortredings deur militêre vredebewaarders in 2015 aan die lig gekom het. 
3.4.  Die Kabinet is bly oor die stel maatreëls wat in plek gestel is om die gevalle van SUM in die SANW se vredehandhawingsendings aan te spreek. Die VN erken Suid-Afrika as beste praktyke en het die land geprys vir die vordering wat gemaak is om SUM in die SANW uit te wis.
3.5.  Die Kabinet het beklemtoon dat die praktyk van SUM nie die goeie rekord van die SANW op die kontinent mag bevlek nie. 

4.  2023 Jeugmaand 
4.1.  Die Kabinet het die 2023 jeugmaandprogram met die tema: “bespoedig ekonomiese emansipasie van die jeug vir ʼn volhoubare toekoms” goedgekeur.   
4.2.  Adjunkpresident Mashatile sal die nasionale dag toespreek wat dié jaar oor twee dae, van 16 tot 17 Junie, by die Mangaung opelugsportsentrum, Mangaung, Bloemfontein, in die Vrystaat, gevier sal word.  Daar sal tydens die twee dae ʼn geleentheid vir die jeug wees om aan gesprekke met ministers, adjunkministers en ander belanghebbendes deel te neem oor verskeie opleidings-, entrepreneurs- en ontwikkelingsgeleenthede wat by die regering en maatskaplike vennote beskikbaar is. 
4.3.  Jeugmaand sal op Donderdag, 1 Junie by die Hector Pieterson-gedenkteken en museum in Soweto deur die Minister in die Presidensie vir vroue, die jeug en mense met gestremdhede, Dr. Nkosazana Dlamini Zuma, geloods word. 
4.4.  Die Kabinet het ʼn oproep op die samelewing gedoen om pogings om te verseker dat jongmense toegang tot geleenthede het wat hulle toelaat om aktief aan die ekonomie deel te neem, te verskerp.
4.5.  Die regering, as die grootste werkgewer, het op die behoefte vir vaardigheidsontwikkeling en jeugindiensname gereageer deur werklose graduandi toe te laat om ervaring deur die internskap- en leerderskapprogram vir gegradueerdes in die staatsdiens, te verkry. Die regering implementeer ook die maatskaplike indiensnamefonds (MIF) en hernude nasionale jeugdiens (NJD) se werkskeppingsinisiatiewe wat duisende jeugdiges by die ekonomie betrek.  
4.6.  Die Presidensiële ingryping vir jeugindiensname het reeds toegang tot 1,5 miljoen tydelike lonende geleenthede, een miljoen werkgebaseerde plasings, 250 000 werksgeïntegreerde leergeleenthede, 250 000 betaalde diensgeleenthede en 500 000 jongmense wat by volhoubare lonende geleenthede betrokke is, met sukses ondersteun. Die regering herinner jongmense, namate ons jeugmaand betree, om op die SAYouth.mobi-platvorm te registreer soos wat vier miljoen van hul landgenote reeds gedoen het, waar daar toegang tot werksgeleenthede verkry kan word.

5.  Mede-aanbieding van die forum vir landbounavorsing in Afrika (FARA) se agtste landbou-ondernemings- en wetenskapweekkonferensie en sy negende algemene byeenkoms.
5.1.  Die Kabinet het die mede-aanbieding van FARA se agtste Afrika-landbou-ondernemings- en wetenskapweekkonferensie en sy negende algemene byeenkoms van 5 tot 9 Junie 2023 in Durban, goedgekeur.
5.2.  Die FARA is die top kontinentale organisasie wat verantwoordelik is vir die fasilitering en koördinasie van landbounavorsing en -innovasiebevordering op die kontinent.  
5.3.  Suid-Afrika sal, deur die geleentheid aan te bied voordeel trek uit medewerking en vennootskappe met kontinentale landbou- en navorsingsinstansies deur beste praktyke in landbouwetenskap en -navorsing te deel. Suid-Afrika stel landbounavorsing vir ontwikkeling hoog op prys, veral aan die hand van klimaatsverandering en ander faktore wat die land se vermoë om voedselsekerheid, ekonomiese ontwikkeling en indiensname te bereik, beïnvloed. Daar word verwag dat die konferensie 800 afgevaardigdes na KwaZulu-Natal en Gauteng sal lok en dit sal bydra tot ekonomiese aktiwiteit. 

6.  Handelsake
6.1.  Die Kabinet het ʼn verslag ontvang wat op verbeterings in die land se handels- en uitvoerprogram dui. Die verslag het aangedui dat Suid-Afrika tydens 2022 goedere ter waarde van R300 miljard aan 12 lande uitgevoer het en hierdeur ʼn beraamde 57 300 direkte werke gehandhaaf het. 

C. Aanstellings 
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1.  Meneer Bernard Scelo Duma as adjunkdirekteur-generaal: plaaslike regeringswerksaamhede en ondersteuning by die Departement van Samewerkende Regering. 

2.  Direkteursraad van die Raad vir Minerale Tegnologie
(a)  Me. Ntombifuthi Zikalala-Mvelase (Adjunkvoorsitter en heraanstelling); 
(b)  Me. Pontsho Maruping (heraanstelling);
(c)  Mnr. Rudolf Heydenrich (heraanstelling);
(d)  Dr. Siyabonga Simayi;
(e)  Dr. Takalani Madzivhandila;
(f)   Me. Azwinndini Mavis Thomani;
(g)  Mnr. Livhu Nengovhela; en
(h)  Me. Faith Ntokozo Ngcwabe (verteenwoordiger vir die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie). 

3.  Direkteursraad vir die Raad vir Geowetenskap 
(a)  Mnr. Kelepile Dintwe (Voorsitter);
(b)  Mnr. Xolisa Mvinjelwa (Adjunkvoorsitter);
(c)  Adv. Ntika Maake;
(d)  Dr. Mayshree Singh;
(e)  Dr. Siyanda Mngadi;
(f)   Dr. Ntombifuthi Nxumalo;
(g)  Me. Thobeka Njozela;
(h)  Mnr. Andries Moatshe;
(i)   Dr. Moloko Matlala;
(j)   Mnr. Mandla Malindisa; 
(k)  Dr. Mmboneni Muofhe; en
(l)   Mnr. Mosa Mabuza (HUB). 

D. Wetsontwerpe

1.  Konsepwysigingswetsontwerp op die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) van 2023 
1.1.  Die Kabinet het die OPOD-konsepwysigingswetsontwerp van 2023 vir voorlegging aan die Parlement, goedgekeur. 
1.2.  Die Wysigingswetsontwerp wysig die OPOD-wet, 2011 (Wetnr. 1 van 2011) en maak voorstelle wat ten doel het om die institusionele en bedryfsonafhanklikheid van die OPOD te verskans, wat uiting aan die “McBride-uitspraak” gee. 
1.3.  Die wysigings spreek ook die kwessies aan wat deur die Grondwetlike Hof geopper is en wat sekere voorskrifte van die OPOD-wet van 2011 as ongeldig verklaar het, wat die Minister toegelaat het om die Uitvoerende Direkteur te skors, om na skorsing dissiplinêre stappe teen die Uitvoerende Direkteur te neem, en om die Uitvoerende Direkteur uit die amp te verwyder.
1.4.  Die Wetsontwerp stel ʼn meer deursigtige en oop proses vir die aanstelling van die Uitvoerende Direkteur, asook ʼn gedetailleerde en deeglike proses vir integriteitstoetsing van OPOD-beamptes, voor. Die Wetsontwerp maak ook voorsiening vir die wysiging van ander voorskrifte van die Hoofwet, om sodoende te verseker dat die OPOD sy mandaat doeltreffend en doelmatig uitvoer. Die konsepwetsontwerp is by www.policesecretariat.gov.za beskikbaar.

2.  Algemene Konsepwysigingswetsontwerp op Intelligensiewette (GILAB) van 2023 
2.1.  Die Kabinet het die konsep-GILAB van 2023 vir voorlegging aan die Parlement, goedgekeur. Die GILAB stel wysigings voor aan die Wet op Nasionale Strategiese Intelligensie, 1994 (Wetnr. 39 van 1994). Die Wetsontwerp gee uitvoering aan die aanbevelings van die Presidensiële Hoëvlak-oorsigpaneel oor die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) asook die implementeringsplan van die Regterlike Kommissie van Ondersoek oor die bewerings van ʼn staatsgreep, korrupsie en bedrog in die staatsektor, waaronder staatsliggame.  
2.2.  Die Wetsontwerp beoog, onder andere, om: (a) die intelligensiedienste te herstruktureer om voorsiening te maak vir ʼn institusionele argitektuur wat doeltreffendheid en doelmatigheid in werking stel deur die binnelandse intelligensie-agentskap en die buitelandse intelligensie-agentskap te vestig; (b) die gebreke oor die funksionering van die seinintelligensiekapasiteit, soos deur die Grondwetlike Hof bevestig, te herstel; (c) die swakpunte wat deur die Finansiële Aksietaakspan-proses bepaal is, waaronder maatreëls om geldwassery en terrorisfinansiering te bestry deur die nasionale sekuriteitstrukture te bemagtig om ondersoek in te stel en ʼn sekuriteitsassessering uit te voer as ʼn persoon of instansie van nasionale belang is; (d) maatreëls te versterk om die private sekruiteitsbedryf te reguleer en te koördineer, as deel van ʼn breër nasionale benadering; en (e) maatreëls in te stel wat die gedrag van voormalige lede van die diens en ander met toegang tot intelligensie-inligting, reguleer.
2.3.  Die Wetsontwerp sal ook verseker dat die SVA se dienste nie vir die belange of agenda van sekere individue, misbruik word nie.  
2.4.  Die wysigings sal die toesig oor die intelligensie-agentskappe deur liggame soos die inspekteur-generaal van Intelligensie, die Gesamentlike staande komitee vir Intelligensie en die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika, versterk. Die Wetsontwerp is by www.gov.za beskikbaar. 

3.  Konsepwetsontwerp op die Openbare Dienstekommissie (ODK) van 2023 
3.1.  Die Kabinet het die publikasie van die Konsepwetsontwerp op ODK vir openbare kommentaar goedgekeur. Die Wetsontwerp herroep die ODK Wet (Wetnr. 46 van 1997) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. 
3.2.  Die Wetsontwerp maak voorsiening vir die stigting van ʼn onafhanklike sekretariaat vir die ODK om die organisasie se onafhanklikheid en onpartydigheid te versterk. Die mandaat van die ODK sal, wanneer die Wetsontwerp as wet uitgevaardig word, uitgebrei word na munisipaliteite en staatsentiteite. 
3.3.  Die wysiging sal aan die ODK ʼn meer gefokusde benadering verskaf om ʼn sinvolle bydrae tot die ontwikkeling van ʼn reagerende, etiese en waarde-aangedrewe staatsdiens, te gee. Die Wetsontwerp is by www.dpsa.gov.za beskikbaar. 

4.  Konsepwysigingswetsontwerp op die Nasionale Kernreguleerder van 2023
4.1.  Die Kabinet het die Konsepwysigingswetsontwerp op die Nasionale Kernreguleerder vir voorlegging aan die Parlement, goedgekeur. Die Wetsontwerp wysig die Wet op die Nasionale Kernreguleerder (NK), 1999 (Wetnr. 47 van 1999).  
4.2.  Die Wetsontwerp poog om die bestaande gapings in die huidige NK-wet van 1999 aan te spreek. Die Wet is tans nie in ooreenstemming met internasionale beste praktyk in die veld van kernveiligheidsregulasies nie, want hy spreek nie beroepsblootstelling van lugbemanning aan kosmiese bestraling aan nie. 
4.3.  Die Wetsontwerp is ook ontwerp om die NK-wet van 1999 in ooreenstemming met die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) se voorskrifte en beste praktyke, te bring. Suid-Afrika is ʼn lid van die IAEA.
E.     Komende gebeurtenisse

1.  Inhuldiging van die President van die Federale Republiek van Nigerië
1.1.  President Ramaphosa sal op Maandag, 29 Mei 2023 ʼn uitnodiging nakom om die inhuldiging van gekose president van die Federale Republiek van Nigerië, Mnr. Bola Ahmed Tinubu, by te woon.
1.2.  Die President se deelname sal deurlopendheid van die strategiese verhouding tussen Suid-Afrika en Nigerië, demonstreer.
1.3.  Nigerië is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot in Wes-Afrika. ʼn Breë reeks Suid-Afrikaanse firmas het in Nigerië belê en Nigeriese maatskappye druk ook hulle stempel op Suid-Afrika af.

2.  Kinderbeskermingsweek 
2.1  Suid-Afrika sal van 28 Mei tot 4 Junie 2023 kinderbeskermingsweek herdenk, met die tema: “kom ons beskerm kinders tydens KOVID-19 en verder”. Die veldtog mobiliseer alle sektore en gemeenskappe vir die ontwikkeling, sorg en beskerming van kinders.
2.2  Die veldtog sal dié jaar op RISIHA, ʼn gemeenskapsgebaseerde voorkomings- en ingrypingsprogram wat poog om kinders vanuit kwesbaarheid na lewenskragtigheid te beweeg, fokus.

3.  Oos-Kaap DOM-toesigbesoek
3.1  Adjunkpresident, Mnr. Paul Mashatile, sal op 26 en 27 Mei 2023 ʼn DOM-toesigbesoek aan OP Tambodistrik en Buffalo City Metro in die Oos-Kaap, aflê.
3.2  Die besoek is deel van die regering se inisiatief om te verseker dat die ontwikkeling van gemeenskappe op geïntegreerde wyse, soos deur die DOM-benadering onderstut, plaasvind.

4.  Sesde Parlement van die Pan-Afrika-parlement (PAP)
4.1  Leiers van regoor die kontinent het op Maandag, 15 Mei 2023, in Midrand, Suid-Afrika vir die Sesde Parlement van die PAP byeengekom.  Die sitting sal op 2 Junie 2023 eindig.
4.2  Die PAP poog om algemene uitdagings regoor die kontinent aan te spreek en word deur Afrika-leiers van regoor die kontinent, verteenwoordig.

5.  Tussenregering-seekundige kommissie (IOC in Engels)
5.1   Suid-Afrika sal aan die 56de sessie van die uitvoerende raad, wat van 16 tot 30 Junie in Parys, Frankryk gehou sal word, deelneem.
5.2   Die IOC van die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (IOC-UNESCO) is die VN-liggaam wat verantwoordelik is vir die ondersteuning van wêreldwye oseaanwetenskap en -dienste.
5.3  Suid-Afrika erken die belangrikheid van navorsing en die bestuur van sy oseane en kusomgewings vir volhoubare ontwikkeling. Oseaannavorsing help ook om vroeë waarskuwings oor oseaangebaseerde rampe te verskaf en help regerings om ingeligte besluite te neem.

6.  Suid-Afrika bied vername sportkampioenskap aan
6.1  Sportliefhebbers vanaf regoor die wêreld kan ʼn geesdriftige Ubuntu-verwelkoming en wêreldklas gasvryheid verwag wanneer hulle die Netbalwêreldbeker en Kimura Shukokai Internasionale (KSI) Karatewêreldkampioenskap in Suid-Afrika bywoon. Suid-Afrika het bewese prestasies van die verlede aangaande die aanbied van groot geleenthede.
6.2  Almal is opgewonde met net meer 60 dae oor voor die begin van die Netbalwêreldbeker op 28 Julie tot 6 Augustus 2023 in Kaapstad. Dit is die eerste keer dat dié toonaangewende toernooi in Afrika aangebied word.
6.3  Die Kabinet doen ʼn beroep op almal om die Netbal Vrydag se veldtog te ondersteun deur ondersteunersuitrustings of nasionale kleure te dra om die Suid-Afrikaanse nasionale netbalspan te ondersteun.
6.4  KSI Suid-Afrika bied ook van 10 tot 15 Julie 2023 die 20ste KSI Karate wêreldkampioenskap in Kaapstad aan en ons wens Span SA sterkte toe terwyl hulle vir dié toonaangewende wêreldwye geleentheid voorberei.
6.5  Suid-Afrika is trots daarop om die 2023 tafeltenniskampioenskap se eindronde by die Durban internasionale konvensiesentrum aan te bied. Ongeveer 600 spelers uit verskillende land rondom die wêreld speel tans en dié toernooi bied ons spelers die geleentheid om hul talent ten toon te stel. Die toernooi het op 20 Mei 2023 begin en sal tot 28 Mei 2023 duur.

F.   Boodskappe

1.  Gelukwense
Die Kabinet het sy gelukwense en welmenendheid gerig aan: 

  • die Minister van Finansies, Mnr. Enoch Godongwana, wat op 24 Mei 2023 in El Sheikh, Egipte, die invloedryke African Banker 2023 finansiesminister van die jaar-toekenning ontvang het vir sy pogings oor die afgelope jaar om die Suid-Afrikaanse ekonomie deur ʼn gekompliseerde globale en binnelandse omgewing te lei. Die toekenning het die Minister se gebruik van fiskale beleid om beleggings in die hernubare energiesektor te bespoedig, erken.
  • Hana Gammon, ʼn 20-jarige Suid-Afrikaanse skrywer wat die 2023 Statebond-kortverhaalprys, Afrikastreek gewen het en die jongste in die toekenning se geskiedenis geword het. 
  • die Stormers rugbyspan wat die eindstryd van die verenigde rugbykampioenskap bereik het. Die Stormers sal op Saterdag, 27 Mei 2023 op Kaapstad se stadion teen die Ierse Munsters kragte meet. 
  • Mnr. Zakes Mda, die Suid-Afrikaanse romanskrywer en Prof. Tshilidzi Marwala, die voormalige adjunkvisekanselier en hoof van die Universiteit van Johannesburg, wat beide vir die 2023 African Genius-toekennings genomineer is. Meneer Mda en Prof. Marwala is onder 19 ander Afrika-presteerders wat in ʼn verskeidenheid velde presteer het.
     

2.  Medelye 
Die Kabinet het sy medelye betuig aan die familie en vriende van: 

  • Ambassadeur vir die Republiek van Algerië, Mnr. Billy Masetlha, wat Suid-Afrika in verskeie hoedanighede, waaronder direkteur-generaal van die intelligensiedienste, bedien het. Hy was nou betrokke by die stryd vir Suid-Afrika se bevryding, onder meer as lid van Umkhonto we Sizwe. 
  • Murthi Naidoo, wat sy lewe gewy het aan die land se bevrydingstryd. Hy is van November 1965 tot April 1966, sonder aanklagtes deur die veiligheidspolisie gevangene gehou en het ʼn aktiewe rol tydens die spits van die noodtoestand in die 1980’s gespeel.
  • Barry Dwolatzky, wat ʼn pionier in die land se inligting- en kommunikasietegnologiesektor was. Hy was Professor (Emeritus) by die skool vir elektriese en inligtingsingenieurswese, by Wits Universiteit se Fakulteit Ingenieurswese en die Bou-omgewing.
  • Die 15 mense wat hulle lewens as gevolg van cholera-uitbraak in Hammanskraal, Stad van Tshwane, verloor het.

Navrae: Meneer. Michael Currin — Waarnemende regeringswoordvoerder
Selfoon: 082 462 7896
 

Share this page

Similar categories to explore