Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 12 Mei 2021

A.    Kwessies in die omgewing

1.    Uitrol van koronavirus- (KOVID-19) inentings  

1.1.    Die Kabinet verwelkom die aanvang van Fase 2 van die inentingsuitrolprogram op Maandag, 17 Mei 2021. Hierdie fase sal begin met die inenting van persone van 60 jaar en ouer, en die nasionale en provinsiale departemente van gesondheid sal inligting oor die ligging van meer as 3 000 inentingspunte bekendstel.  
1.2.    Die aanvang van Fase 2 sal terselfdertyd plaasvind as die voortgesette inenting van gesondheidswerkers wie se inentings beïnvloed is deur die regulatiewe kwessies rondom die Johnson & Johnson-entstof in die Verenigde State van Amerika (VSA) en Europa. Die Sisonke-inentingsprogram, wat na 95 inentingspunte regoor die land uitgebrei is, het tot dusver 434 980 gesondheidswerkers ingeënt en eindig op 14 Mei 2021. Die Kabinet is tevrede daarmee dat die oorblywende gesondheidswerkers met die Pfizer-entstof ingeënt sal word tot verdere kennisgewing.
1.3.    Die Kabinet doen ’n beroep op mense van 60 en ouer om te registreer op die KOVID-19-inentingsdatastelsel by https://vaccine.enroll.health.gov.za. Diegene sonder toegang tot aanlyndienste of ’n slimfoon kan via SMS registreer deur *134*832*jou ID-nommer# te skakel. Indien jy nie ’n ID-nommer het nie, skakel *134*832#. Registrasie kan ook geskied deur middel van WhatsApp deur “REGISTER” te skakel na 0600 123 456. Landsburgers moet seker maak dat hulle hul korrekte selfoonnommer en woonadres verskaf om sodoende inligting oor die inentingsprogram te ontvang soos nodig. Diegene wat nie toegang tot tegnologie het nie, kan ook registreer by hul naaste inentingspunt of by die gesondheidswerkers wat verskeie gemeenskappe sal besoek.
1.4.    Hierdie registrasie is noodsaaklik vir mense om deel te vorm van die inentingsprogram en naspeurbaarheid te verseker vir die doeleindes van mediese opvolging indien nodig in die toekoms. 
1.5.    Geen data of lugtyd word benodig om die nulkoers SMS- en WhatsApp-registrasiedienste te gebruik nie. Indien enige probleme met registrasie ondervind word, skakel die KOVID-19-hulplyn by 0800 029 999.
1.6.    Die Kabinet is ingelig oor die huidige situasie met betrekking tot KOVID-19 in Indië en ondersteun die besluit om ventilators aan Indië te skenk as deel van Suid-Afrika se verbintenis dat die stryd teen KOVID-19’n gesamentlike poging regoor die wêreld vereis.
1.7.    Die Kabinet is ook bewus van die kommer onder Suid-Afrikaners oor die KOVID-19-situasie in Indië en stel graag Suid-Afrikaners gerus dat die departement van gesondheid en ons wetenskaplikes die stand van sake in Indië fyn dophou en dat die nodige en gepaste voorsorgmaatreëls en protokolle geïmplementeer is om Suid-Afrikaners te beskerm.
1.8.    Daarbenewens is die Kabinet ingelig oor die effense styging in KOVID-19-infeksies in die land en die nodige maatreëls om die verspreiding daarvan te bekamp is geaktiveer.
1.9.    Die Kabinet herinner alle Suid-Afrikaners daaraan om steeds nie-farmaseutiese gesondheidsmaatreëls te volg om die verspreiding van KOVID-19 te verhoed deur die dra van maskers in die publiek; deur ’n sosiale afstand van minstens 1.5 meter te handhaaf; gereeld hande te was met water en seep of ’n handsaniteerder wat minstens 70% alkohol-gebaseer is; en ook onnodige reis te vermy en tuis te bly.

2.    Kwytskelding van Handelverwante Aspekte van Intellektuele Eiendomsregte (IE) (oftewel TRIPS) op KOVID-19-entstowwe

2.1.    Die Kabinet verwelkom die ondersteuning van die VSA met betrekking tot die kwytskelding van TRIPS op KOVID-19-entstowwe deur die Wêreldhandelsorganisasie (World Trade Organization oftewel WTO). 
2.2.    Suid-Afrika en Indië het die inisiatief in WTO vir die kwytskelding van TRIPS gelei. Die kwytskelding van TRIPS sal toegang verleen tot tegnologieë wat die meer breedvoerige vervaardiging van KOVID-19-entstowwe stukrag sal gee. Hierdie beweging het daartoe gelei dat meer as 100 lande, insluitend Sjina, die pogings rakende die kwytskelding van dele van die WTO se TRIPS ondersteun.
2.3.    Swak toegang tot KOVID-19-entstowwe het die meerderheid van ontwikkelende lande, veral vanuit Afrika, verhoed om deurslaggewende vordering te maak in hul stryd teen KOVID-19. Die Kabinet is van mening dat dit moreel onverdedigbaar is om lande te verhoed om hul eie entstowwe te ontwikkel te midde van ’n hoë sterftesyfer weens die koronavirus. 
2.4.    In hierdie verband verwelkom die Kabinet die R3-miljard verbintenis tot die oordrag van die nuutste tegnologie vir die vervaardiging van entstowwe en biologiese behandelings aan Suid-Afrika, soos aangekondig deur dr Patrick Soon-Shiong, die Suid-Afrikaans-Amerikaanse biotegnologiese entrepreneur.
2.5.    Die Kabinet prys die aktiewe ondersteuning van dr Soon-Shiong en ander filantrope vir die billike verspreiding van KOVID-19-entstowwe, diagnostieke asook behandelings.
2.6.    Die Kabinet spreek ook hul waardering uit vir dr Soon-Shiong se erkenning aan Suid-Afrika se vooruitgang in die wetenskappe, menslike kapitaal, kapasiteit asook die begeerte om tweede-generasie entstowwe te vervaardig gemik op die variante van die koronavirus wat die huidige entstowwe moontlik minder doeltreffend kan maak. 

3.    Grondoorhandiging in die Covie-gemeenskap

3.1.    Die Kabinet verwelkom die oorhandiging van die titelaktes deur Adjunkpresident David Mabuza – in sy kapasiteit as die hoof van die interministeriële komitee (IMK) vir grondhervorming – aan die Covie-gemeenskap in die Wes-Kaap op Vrydag, 30 April 2021.  
3.2.    Die oorhandiging van die grond aan die Covie-gemeenskap vorm deel van die voortgesette werk van die IMK vir grondhervorming om die toegang tot grond te bespoedig as deel van die vergoedingsproses om die ongeregtighede van die apartheid-era aan te spreek.

4.    Werkersdag (1 Mei)

4.1.    Die Kabinet beklemtoon weereens dat werkers die ekonomiese ruggraat van die gemeenskap is en altyd sal wees, en dat werkers van sleutelbelang is tot die bou van ’n beter toekoms vir almal.
4.2.    Die Kabinet neem kennis van die negatiewe impak van die KOVID-19-pandemie op werkers, met die meerderheid van werkers wat werksverlies asook ’n afname in inkomste ervaar het met die herrangskikking van hulpbronne deur werkgewers om te probeer om werke te behou.
4.3.    Ten spyte van die ekonomiese swaarhede bly die Staat standvastig in hul verbintenis om te verseker dat Suid-Afrika steeds aanhou om werkers se regte te handhaaf en beskerm.
 
5.    Internasionale Verpleërdag (12 Mei)

5.1     Die Kabinet neem kennis dat hul vergadering plaasvind op die dag wat deur die wêreld aangewys is as Internasionale Verpleërdag en benadruk weereens hul boodskap van dankbaarheid aan alle verpleërs in Suid-Afrika, die kontinent van Afrika en die wêreld vir hul onbaatsugtigheid en toewyding ongeag die dodelike KOVID-19-pandemie.
5.2    Verpleërs, tesame met ander gesondheidswerkers, bly standvastig aan die frontlinie van die stryd teen KOVID-19 ten spyte van die wesenlike persoonlike risiko vir hul eie lewens en die risiko van blootstelling aan hul gesinne. Die Staat bly diep te danke aan die veerkragtigheid, opoffering en volhardingsvermoë van Suid-Afrika se verpleërs in die stryd teen KOVID-19.

6.    Bloedskenking

6.1.    Die Kabinet doen ’n beroep op gesonde Suid-Afrikaners om bloed te skenk aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS), wat tans ’n ernstige tekort aan bloed ervaar.
6.2.    Die SANBS het omvangryke voorsorgmaatreëls getref om die veiligheid van skenkers te verseker deur alle persone wat by skenkingspunte aanklop, deeglik te toets vir tekens van KOVID-19.
6.3.    Vir meer inligting kan potensiële skenkers die SANBS kontak op die tolvrye nommer: 0800 11 9031 van Maandag tot Vrydag (07:00 – 17:00).

7.    Palestina

7.1    Die Kabinet veroordeel die aanvalle op Palestynse protesteerders by die Al Aqsa-moskee en die Rotskoepel asook die onregmatige uitsetting van Palestyne vanuit hul huise in die Sheikh al Jarrah in die geannekseerde Oos-Jerusalem om die weg te baan vir Israeliese nedersettings. Israel se aksies is ’n skerp skending van internasionale reg en in direkte verontagsaming van die resolusies van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, insluitend resolusies 446 (1979) en 2334 (2016) wat uitdruklik ’n beroep doen op die beïndiging van Israeliese besetting en die voldoening aan die regte van die Palestynse volk, insluitend self-selfbeskikking en onafhanklikheid.
7.2    Die Kabinet doen ’n beroep op Israel om die barbaarse aanvalle teen Palestyne te staak en hulself te verbind aan die herlewing van die politieke proses wat kan lei tot die vestiging van ’n onderhoubare Palestynse staat wat sy-aan-sy in vrede kan leef met Israel binne internasionaal-erkende landsgrense en wat gebaseer is op die grense wat op 4 Junie 1967 bestaan het, met Oos-Jerusalem as die hoofstad van Palestina.

8.    Maatreëls geneem deur die Verenigde Koninkryk (VK) om die pogings van Suid-Afrika se wetstoepassingliggame te steun

8.1    Die Kabinet verwelkom die maatreëls geneem deur die VK om Suid-Afrika by te staan in die stryd teen korrupsie deur aksie te neem teen individue wat daarvan beskuldig word dat hulle bedrog en korrupsie in ons land gepleeg het.
8.2    In hierdie verband verwelkom die Kabinet die inhegtenisname van mnr Michael Lomas in die VK rakende die Suid-Afrikaanse Kusile-saak van bedrog en korrupsie en verwelkom die Kabinet die toepassing van streng borgvoorwaardes deur die Britse howe.
8.3    Daarby verwelkom die Kabinet die instelling van sanksies deur die VK teen die broers mnre Ajay, Atul en Rajesh Gupta, en hul vennoot mnr Salim Essa vir die rol wat hul gespeel het in “’n volgehoue patroon van korrupsie in Suid-Afrika wat beduidende skade aangerig het” aan die Suid-Afrikaanse ekonomie en die mense van die land. 

9.    Konflik in Mosambiek

9.1.    Die Kabinet is besorg oor die stand van sake in Mosambliek en monitor die gebeure deurlopend. Daarmee saam spreek die Kabinet sy volle steun uit aan die pogings van die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap om blywende vrede en sekuriteit in die streek te bring, asook versoening en ontwikkeling in Mosambiek.

10.    ACWA Power versekureer befondsing vir die Redstone Concentrated Solar Power Plant 

10.1    Die Kabinet verwelkom die aankondiging dat ACWA Power befondsing van R11.6 miljard vir die Redstone Concentrated Solar Power Plant in die Noord-Kaap versekureer het. Hierdie aanleg is een van Suid-Afrika se groot infrastruktuurprojekte en die grootste hernubare energiebelegging in ons land.
10.2    Die Redstone-aanleg is gereed om 100 Megawatt W hernubare energie op te wek wat teen die einde van 2023 verwag word en daar word verder beoog dat die aanleg ’n bestendige elektrisiteitsvloei aan meer as 200 000 huishoudings sal lewer.

B.    Kabinetsbesluite

1.    Nasionale Gedenkprogram vir die 25e Herdenking van die Konstitusie van die Republiek van Suid-Afrika van 1996

1.1.    Vanjaar is dit presies 25 jaar sedert Suid-Afrika sy Konstitusie aanvaar het op 8 Mei 1996; ’n Konstitusie wat steeds as een van die beste ter wêreld beskou word. 
1.2.    Met dit in oog keur die Kabinet die jaarlange Nasionale Gedenkprogram vir die 25e Herdenking van die Konstitusie van die Republiek van Suid-Afrika goed. Die implementering van hierdie program sal deur die departement van justisie en staatkundige ontwikkeling gelei word.  

2.    Die 5e Ministeriële Wêreldkonferensie vir die Uitwissing van Kinderarbeid 

2.1.    Die Kabinet spreek sy goedkeuring uit dat Suid-Afrika die 5e Ministeriële Wêreldkonferensie vir die Uitwissing van Kinderarbeid van 2 tot 4 Mei 2022. Die konferensie vind elke drie jaar plaas onder leiding van die Internasionale Arbeidsorganisasie. Na aanleiding van die KOVID-19-pandemie is die uitgestel, van 2021 na 2022. 
2.2.    Die konferensie sal beraadslaag oor die wêreldwye pogings om die probleem van kinderarbeid uit te wis. Lidstate sal die geleentheid kry om hul onderskeie ingrypings met betrekking tot to uitwissing van kinderarbeid in hul lande met mekaar te deel. Suid-Afrika het ’n kinderarbeidsprogram van aksie in plek wat dien as ’n plan van aksie om kinderarbeid te bekamp.

3.    Gemeenskapsfasiliteringsproses vir die implementering van infrastruktuurprojekte

3.1.    Die Kabinet het die voorgelegde gemeenskapfasiliteringsmetodologie, meganisme en prosesse vir die implementering van infrastruktuurprojekte, soos deur die departement van openbare werke en infrastruktuur voorgestel, goedgekeur. Die fasiliteringsproses sal bydra tot ’n reëlmatige proses van skakeling tussen gemeenskappe tydens die konstruksie van projekte in die gemeenskappe.
3.2.    Die metodologie verskaf standaardbestuursprosedures wat, wanneer dit geïmplementeer word, vennootskappe en vertroue tussen die Staat en gemeenskappe sal versterk. 

4.    Verlenging van die Nasionale Ramptoestand 

4.1.    Die Kabinet keur die verlenging van die Nasionale Ramptoestand weens KOVID-19 tot 15 Junie 2021 goed. Die verlenging is in terme van artikel 27(5)(c) van die Wet op Rampbestuur, 2002 (57 van 2002). Die verlenging neem in ag die bestaande wetgewing en gebeurlikheidsmaatreëls wat deur staatsorganisasies onderneem is om die impak van die ramp op lewens en lewensbestane te versag.   

5.    Lekwa Plaaslike Munisipaliteit – Ingryping 

5.1. Die Kabinet is ingelig oor ’n hofbevel wat opdrag gee aan die Nasionale Tesourie om in te gryp in die administrasie van die Lekwa plaaslike munisipaliteit in Mpumalanga in lyn met die bepalings van artikel 139(7) van die Konstitusie, wat voorsiening maak vir die gesamentlike ingryping deur die Staat om die pligsversuim in regerings- asook finansiële bestuurstelsels deur die munisipaliteit aan te spreek.
5.2. Die hofbevel, wat met die instemming van alle betrokke partye uitgereik is, gee opdrag aan die regering van die Republiek van Suid-Afrika om in te tree met betrekking tot die Lekwa plaaslike munisipaliteit in terme van artikel 139(5)(a) van die Konstitusie in oorleg met artikel 150(1)(5) van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, 2003 binne 14 dae van die datum waarop die hofbevel uitgereik is. 
5.3.  Die Kabinet het op hul vergadering op 12 Mei 2021 besluit dat ’n herstelplan in werking gestel moet word, dat die raad van die Lekwa plaaslike munisipaliteit ontbind moet word en dat ’n administrateur aangestel moet word in terme van artikel 139(5)(a) en (b) van die Konstitusie in oorleg met artikel 146(3)(a) van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, 2003.
5.4.  Die Kabinet steun ook die ontbinding van die munisipale raad van die Lekwa munisipaliteit. Die ministers van finansies en samewerkende regering
en tradisionele aangeleenthede sal ter geleëner tyd institusionele reëlings aankondig wat geïmplementeer sal word om die munisipaliteit te stabiliseer en die herstel van dienslewering te verseker. 

C.    Wetsontwerpe

1.    Gewysigde Wetsontwerp op Vuurwapens van 2021

1.1.    Die Kabinet keur die publikasie van die gewysigde wetsontwerp op vuurwapens van 2021 vir openbare kommentaar goed. Die wetsontwerp stel strenger beheermaatreëls en bestuur van vuurwapens voor, asook die skep van ’n nasionale vuurwapenregister. Die wysigings sal bydra tot ’n beperking van vuurwapens in privaatbesit en sodoende geweldmisdaad besnoei. Die wetsontwerp sal ook die prossessering en beheer van vuurwapens en die aansoekstelsel verbeter.

2.    Gewysigde Wetsontwerp vir die Beskerming van Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste en Verwante Aktiwiteite

2.1.    Die Kabinet keur die publikasie van die gewysigde Wetsontwerp vir die Beskerming van Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste en Verwante Aktiwiteite vir openbare kommentaar goed. Die wysiging is daarop gemik om Suid-Afrika se wetgewingsraamwerk te belyn met internasionale wetgewing om terrorisme te beveg.
2.2.    Die Verenigde Nasies se Sekuriteitsraad het verskeie bykomende resolusies aanvaar om die maatreëls teen wêreldwye terrorisme te versterk. Lidstate het ’n verpligting om hierdie maatreëls ook by hul onderskeie nasionale wetgewing in te sluit.  
2.3.    Die wysigings bring duidelikheid rakende sommige van die definisies in the Wet en voeg bykomende oortredings by, veral van toepassing op mense wat enige land verlaat, in transito is of ’n land binnekom met die doel om by terroristegroepe aan te sluit of terroristegroepe te ondersteun. Dit verbied publikasies met terrorismeverwante inhoud. Die wysigings spreek ook die gapings aan wat deur die VN se Teenterrorisme Uitvoerende Direktoraat uitgewys is.  

3.    Gewysigde Wetsontwerp op Landbouprodukstandaarde 

3.1.    Die Kabinet keur die voorlegging van die gewysigde Wetsontwerp op Landbouprodukstandaarde vir tertafellegging in die Parlement goed. Die Wet op Landbouprodukstandaarde, 1990 (Wet 119 van 1990) voorsien vir die beheer van verkope en uitvoere van sekere landbouprodukte en bevorder voedselveiligheid. 
3.2.    Die ingrypings het ten doel om verbruikers te beskerm. Die voorgestelde wysigings versterk die reguleringsraamwerk vir landbouproduksie, gesondheid en voedselveiligheid van sekere landbouprodukte. Die wetsontwerp verstewig onder meer die beheerstelsels wat die etiketeer van produkte te koop behels, en stel verskillende inspeksies en ouditeringsmetodes in plek. 
3.3.    Die wetsontwerp het breedvoerige openbare konsultasie ondergaan met alle toepaslike belanghebbendes en sal ook deur ’n streng parlementêre proses gaan voor dit as wetgewing bekragtig word. 

4.    Wetsontwerp op Plantgesondheid van 2020

4.1.    Die Kabinet keur die voorlegging van die Wetsontwerp op Plantgesondheid van 2020 aan die Parlement goed. Die wetsontwerp het ten doel om veiligheid betreffende die vervoer van plantprodukte vir invoere en uitvoere te beveilig. Dit wysig maatreëls wat die inbring van uitlandse kwarantynpeste en -plae voorkom en reguleer nie-kwarantynpeste. Hierdie wysigings is belyn met die internasionale instrumente wat Suid-Afrika onderteken het.   
4.2.     Suid-Afrika het die WTO se ooreenkoms op die toepassing van sanitêre en fitosanitêre maatreëls asook die internasionale plantbeskermingskonvensie onderteken.
4.3.    Hierdie wetsontwerp herroep die huidige Wet op Landbouplae, 1983 (Wet 36 van 1983), wat nie die WTO se ooreenkoms op die toepassing van sanitêre en fitosanitêre maatreëls en die internasionale plantbeskermingskonvensie in ag neem nie. Dit sal veilige uitvoere en invoere vir Suid-Afrika se landboubedryf bevorder.

5.    Gewysigde Wetsontwerp op die Nasionale Kernreguleerder 

5.1.    Die Kabinet keur die publikasie van die Gewysigde Wetsontwerp op die Nasionale Kernreguleerder vir openbare kommentaar goed. Die Wetsontwerp het ten doel om die bestaande gapings in die huidige Wet op die Nasionale Kernreguleerder, 1999 (Wet 47 van 1999) aan te spreek. Dit versterk die bepalings rakende die mate waartoe beamptes die wet kan toepas asook die bepalings rakende die blootstelling aan beroepsrisiko’s van die lugbemanning. Die wetsontwerp het ook ten doel om te belyn met die Internasionale Atoomenergie-agentskap en dié se beste praktyke. Suid-Afrika is ’n lid van die Internasionale Atoomenergie-agentskap.

6.    Konsepwetsontwerp op die Ontwikkeling van Bo-stroomse Petroleumhulpbronne
6.1.    Die Kabinet keur die voorlegging van die Konsepwetsontwerp op die Ontwikkeling van Bo-stroomse Petroleumhulpbronne aan die Parlement goed. Die wetsontwerp verskaf die wetlike en regulatoriese raamwerk om ’n gunstige omgewing vir belegging, groei en werkskepping te skep in die bo-stroomse petroleumhulpbronmark. Dit verskaf ook duidelikheid aan, onder meer, die stelsel vir aansoeke; die uitreiking van permitte en regte; die oordraagbaarheid van die regte; deelname van swart persone; deelname van die Staat; die oorgangsvereistes en die strategiese voorraadsvereistes vir eienaars van petroleumregte om ’n persentasie van petroleum teen die heersende markprys aan die Staat se petroleummaatskappy te verkoop.  

D.    Toekomstige gebeure

1.    Afrika-dag

1.1.    Suid-Afrika sal saam met die res van die kontinent Afrika-dag vier op Dinsdag, 25 Mei 2021. Die dag skep die geleentheid vir bevordering van eenheid in Afrika, die verdieping van streeksintegrasie en die herbevestiging van Afrika se toewyding tot ’n gemeenskaplike toekomsbestemming.
1.2.    Afrika-dag en Afrika-maand help ons om mekaar beter te verstaan as Afrikane, op die kontinent asook as deel van die diaspora. Ons vier Afrika-dag met die besef dat KOVID-19 steeds ’n bedreiging inhou vir al die nasies op die kontinent. Ons moet saamstaan in die stryd teen die virus om die veiligheid van al die mense op die kontinent te verseker.

2.    Wêreldgesondheidskonferensie

2.1    Op 21 Mei 2021 sal President Ramaphosa virtueel deelneem aan ’n wêreldwye gesondheidskonferensie wat aangebied word deur die Europese Komissie en Italië as voorsitter van die G20.
2.2    Die konferensie is ’n geleentheid vir G20 en die genooide leiers, hoofde van internasionale en streeksorganisasies asook verteenwoordigers van wêreldwye gesondheidsliggame om lesse te deel wat geleer is vanuit die KOVID-19-pandemie en ook om ’n “Rome-verklaring” van beginsels te ontwikkel.
2.3    Dit word verwag dat hierdie beginsels verdere multi-laterale samewerking en gesamentlike aksie sal aanspreek om toekomstige globale gesondheidskrisisse te vermy en ook as gesamentlike verbintenis sal dien om ’n gesonder, veiliger, skoner en meer volhoebare wêreld te skep.
3.    Presidensële werksbesoek aan Frankryk
3.1    President Cyril Ramaphosa sal ’n werksbesoek aflê aan Parys in Frankryk van 17 tot 19 Mei 2021, om deel te neem aan ’n konferensie oor die befondsing van Afrika-ekonomieë wat belê sal word deur President Emmanuel Macron van Frankryk op 18 Mei. 
3.2    Die konferensie is ’n uitvloeisel van die besef dat die KOVID-19-pandemie gelei het tot ’n ongehoorde wêreldwye ekonomiese en gesondheidskrisis. Dog is Afrika-ekonomieë, veral dié van lande besuide die Sahara, reeds hard getref deur ’n historiese resessie in 2020 na 25 jaar van volhoue groei, en die geprojekteerde herstel vir 2021 bly swak. Terselfdertyd het die kontinent wel verskeie kernsterkpunte en vooruitsigte vir groei.
3.3    Die konferensie bring Afrika- en ander leiers en die hoofde van internasionale finansiële instellings byeen met die mikpunt om gesamentlike aksies te bewerkstellig wat tot ’n sterk en insluitende herstel sal lei. Hierdie herstel sal geskoei wees op ’n dinamiese privaatsektor en die kweek en uitbreiding van entrepreneurskap. Die herstelplan sal ook ten doel hê om welvaart te kweek en die groen en digitale transformasie te belyn met die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte asook die Parys-ooreenkoms om klimaatsverandering. 

E.    Boodskappe

1.    Gelukwense

Die Kabinet dra hul gelukwense oor aan: 

  • Die Suid-Afrikaanse 4x100m aflosspan wat die goue medaljes verower het by die wêreldafloskampioenskappe in Silesia‚ Poland. 
  • Die vervaardigers van die Suid-Afrikaanse Netflix oorspronklike dokumentêre film, My Octopus Teacher, wat vanjaar se Oscar-toekenning ontvang het vir beste dokumentêre film.
  • Die Tshakhuma Tsha Madzivhandila Voetbalklub, wat geskiedenis gemaak het deur met 1-0 te seëvier teen Chippa United in die eindfinaal van die Nedbank-beker op Saterdag, 8 Mei 2021 te Vrystaatstadium in Bloemfontein, in hul eerste seisoen in die DStv-premierskap. Die span sal gevolglik Suid-Afrika verteenwoordig in die volgende seisoen van die CAF-konfederasiebeker.

2.    Medelye

Die Kabinet spreek hul medelye uit met die familie en vriende van: 

  • Mnr Abderrahmane Benkhalfa (72), die finansële deskundige en voormalige Algeriese minister van finansies. Tydens President Cyril Ramaphosa se jaarlange termyn as voorsitter van die Afrika-unie (AU) het hy mnr Benkhalfa aangestel as een van vyf AU KOVID-19 spesiale afgevaardiges om internasionale finansiële en ander ondersteuning te mobiliseer as steun vir Afrika se kontinentale pogings om die KOVID-19-pandemie te beveg.  
  • Me Nadia Goetham (46), ’n uitgewer wat haar loopbaan as drukpersjoernalis begin het en vandaar ’n uitsonderlike loopbaan in die uitgewersveld uitgekerf het, waar sy ’n monumentale impak gehad het. Sy was ’n kampvegter vir boeke en die vertelkuns, en was passievol oor die ontwikkeling van ander mense. 
  • Mnr Isaac Mogase (78), wat gedien het as Johannesburg se eerste demokraties-verkose burgemeester van 1995 tot 2000. Hy was ook ’n struggle-veteraan en ’n staatmaker van die burgerlike protesbeweging.
  • Haar Majesteit Koningin Queen Shiyiwe Mantfombi Dlamini Zulu (65), regent van die Zoeloe-volk. Sy is as regent van die Zoeloe-volk aangestel na die afsterwe van haar man, Koning Goodwill Zwelithini kaBhekuzulu (73) in Maart 2021. 

F.     Aanstellings
 

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1.    Raadslede vir die Nasionale Landboubemarkingsraad
(i)    Mnr Gerhard Schutte;
(ii)    Mnr Angelo Petersen;
(iii)    Prof Mzukisi Qobo;
(iv)    Mnr André Jooste;
(v)    Me Thandeka Ntshangase;
(vi)    Mnr Sifiso Julius Mhlaba;
(vii)    Me Nonie Mokose;
(viii)    Me Shandini Naidoo;
(ix)    Me Fezeka Mkile; and
(x)    Dr Sharon Thembi Xaba.

2.    Me Susan Clare Middleton as Adjunkdirekteur-Generaal (ADG): Visserybestuur by die departement van bosbou, visserye en die omgewing.
3.    Me Thembisa Futshane as ADG: Gemeenskapsopvoeding en -opleiding by die departement van hoër onderwys en opleiding.
4.    Mnr Khumbula Ndaba as ADG: Korporatiewe Ondersteuningsdienste by die departement van gemeenskapsontwikkeling.
5.    Me Sebolelo Mercedes Zwane as ADG: Institusionele Beplanning en Ondersteuning by die departement van wetenskap en innovasie.
6.    Dr Kgosientso David Ramokgopa as Hoof: Infrastruktuur Suid-Afrika by die departement van openbare werke en infrastruktuur. 

Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore