Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 1 September 2021

A.    Kwessies in die Omgewing

1.    Koronavirussiekte (KOVID-19) -inentingsuitrolprogram

1.1.    Die Kabinet is deur die departement an gesondheid op hoogte gebring rakende die vordering van die inentingsuitrolprogram, insluitend epidemiologie (die mediese veld gemoeid met die voorkoms, omvang, verspreiding en moontlike beheer en voorkoming van siektes en ander gesondheidsverwante kwessies) en waarneming. Die Kabinet neem kennis van die afname in nuwe infeksies, hospitaalopnames en sterftegevalle wat aangemeld is. 
1.2.    Die Kabinet neem egter ook kennis van die toename in die infeksie-reproduksiekoers. Die departement van gesondheid het die Kabinet daarvan verseker dat daar hard daaraan gewerk word om agter die kap van die byl te kom betreffende die vermelde groep-uitbrekings onder skole, veral in die Oos-Kaap, en dit te bekamp.  
1.3.    Intussen doen die Kabinet ʼn beroep op ouers, leerders en skole se bestuursliggame om te verseker dat daar streng gehoor gegee word aan die verpligte dra van maskers, ventilasie, sosiale distansiëring en handewas-higiëne. Die nie-farmaseutiese gesondheidsmaatreëls bly steeds die mees doeltreffende verdediging teen die verspreiding van die virus. 
1.4.    Teen 31 Augustus 2021 is meer as 12 568 525 dosisse KOVID-19-inentings landswyd toegedien. Die toenemende inentingspunte, inentingsdae wat verleng is en die provinsies se verskaffing van gratis vervoer sal lei tot ʼn merkbare toename in die aantal mense wat ten volle ingeënt is. 
1.5.    Die Kabinet moedig mense wat nog nie ingeënt is nie, veral volwassenes en diegene wat die risiko dra om hewig siek te word, aan om so gou moontlik ingeënt te word. 
1.6.    Inentings hou groot voordeel in vir ons gesondheid, aangesien dit erge ongesteldheid, hospitalisasie en sterfte verhoed. Kom ons veg saam teen die virus deur slegs akkurate en korrekte inligting oor die inentings te versprei, soos verskaf deur die departement van gesondheid en die Wêreldgesondheidsorganisasie.

2.    Kwartaalikse Arbeidsmagopname (KAMO)

2.1.    Die onlangse KAMO-uitslae vir die tweede kwartaal van 2021 wat deur Statistieke SA vrygestel is, toon dat die werkloosheidskoers met 1.8 persentasiepunte gestyg het, van die 32.6% wat in die eerste kwartaal opgeteken is tot 34.4% in die tweede kwartaal.  
2.2.    Hierdie swak uitslae beklemtoon weereens die dringendheid vir alle sektore wat saam met die Staat werk om die implementering van die ekonomiese herbou-en herstelplan (EHHP) te bespoedig om die verwoestende nagevolge van KOVID-19 teë te werk. Die EHHP is sentraal tot die Staat se pogings om die ekonomie te herbou en transformeer om werksgeleenthede te skep, veral vir jongmense. 
2.3.    Die Kabinet is bemoedig deur sommige van die sektore, soos konstruksie, handel en vervoer, wat werksgeleenthede geskep het tydens die oorsigtydperk. ʼn Maatskaplike ooreenkoms om ons ekonomie te herbou en te transformeer as deel van ʼn gedeelde verantwoordelikheid sal verseker dat ons vinnig as land herstel.

3.    Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (GGGV)

3.1.    Die Kabinet spreek sy diepste medelye uit teenoor die families en vriende van die vroue wat onlangs grusaam vermoor is. Hierdie vroue sluit in me. Nosicelo Mtebeni; me. Palesa Maruping, me. Pheliswa “Dolly” Sawutana en vele ander onskuldige vroue wat nie in die media vermeld is nie. 
3.2.    Hierdie afskuwelike misdade is gepleeg tydens die viering van Vrouemaand in Augustus; die maand waarin ons die goeie vordering wat ons gemaak het om geslagsongelykheid in ons samelewing te oorbrug. 
3.3.    Hierdie misdade herinner ons dat GGGV steeds een van die grootste uitdagings is wat ons land in die oë staar. Almal van ons moet harder daaraan werk om die veiligheid van vroue te verbeter. 
3.4.    Die Kabinet doen ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe om geregtigheid vir hierdie vroue en hul families te laat geskied. 
3.5.    Die Staat het minstens R21 miljard geallokeer om die implementasie van die nasionale strategiese plan vir GGGV aan te dryf. Hierdie plan is daarop gemik om dié misdaadplaag tot ʼn einde te bring. ʼn Aantal ingrypings is in plek gestel om ons regstelsel te versterk. Dit sluit in meer streekshowe wat gefokus is op seksuele oortredings, die versterking van wette gemik op seksuele oortredings asook om ons polisiebeamptes te bekwaam met die nodige vaardighede om sulke oortredings te hanteer. ʼn Aantal staatseiendomme is omskep in skuilings vir vroue in gevaar. 
3.6.    Die Kabinet doen ʼn beroep op almal saam te werk en ʼn veilige omgewing vir vroue in ons land te skep. Vir ondersteuning en berading in GGGV-verwante sake, kontak die GGG-bevelsentrum by 0800 428 428 (0800 GBV GBV). Mense kan ook ʼn maatskaplike werker by die bevelsentrum te versoek om hulle te kontak deur *120*7867# (gratis) van enige selfoon te skakel.

4.    Teenkorrupsieveldtog

4.1.    Die Kabinet verwelkom die inhegtenisname van sewe verdagtes in verband met die onlangse moord op me. Babita Deokaran, die waarnemende hoofdirekteuur van finansiële rekeningkunde by die Gautengse departement van gesondheid. Me. Deokaran was ʼn toegewyde staatsamptenaar en ʼn sleutelgetuie in ʼn ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU) na die bedrieglike aankoop van persoonlike beskermingstoerusting en ander onwettige aktiwiteite in die departement. 
4.2.    Die Kabinet beklemtoon weereens dat fluitjieblasers belangrike bewakers van ons demokrasie en eerlike staatsbestuur is, en spoor mense aan om aan te hou om korrupsie en ampsoortreding sonder aansiens des persoons te vermeld en te ontbloot. 

B.    Kabinetsbesluite

1.    Finansiële Aksietaakmag (FATF) Assesseringsverslag 

1.1.    Die Kabinet is ingelig oor die bevindinge van die assessering van Suid-Afrika met betrekking tot die maatreëls wat die land in plek gestel het rakende geldwassery en die finansiering van terrorisme. 
1.2.    Die assessering is uitgevoer deur die FATF, ʼn interregeringsorganisasie vir internasionale strukture wat gevestig is om geldwassery en die finansiering van terrorisme te bekamp. Suid-Afrika is sedert 2003 ʼn lid van die FATF.
1.3.    Die volledige verslag sal op die FATF se webwerf (www.fatf-gafi.org) vrygestel word, en ʼn breedvoerige verklaring wat die Staat se antwoord uiteensit op areas van verbetering soos uitgelig in die verslag asook maatreëls om hierdie te versterk, sal uitgereik word. Die Kabinet spreek sy waardering vir hierdie verslag uit. 

2.    Ontbinding van die Raad van die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (NHBRC) 

2.1.    Die Kabinet spreek sy genoeë uit met die besluit van die minister van menslike nedersettings, Mmamoloko Kubayi, om die bestaande raad van die NHBRC te ontbind terwyl die departement van menslike nedersettings die proses om ʼn nuwe raad wat ten volle konstitueer is, finaliseer. Die termyn van die bestaande raad het op 31 Julie 2021 verval en is op 1 Augustus 2021 verleng tot die aanstelling van die nuwe raad.
2.2.    Die Kabinet spreek ook hul genoeë uit met die aanstelling van mnr Mphedziseni Alfred Radzilani as die administrateur van die NHBRC. 

3.    Verlenging van die Nasionale Ramptoestand

3.1    Die Kabinet keur die verlenging van die nasionale ramptoestand tot 15 Oktober 2021 goed, in terme van Artikel 27(5) (c) van die Wet op Rampbestuur, 2002 (Wet 57 van 2002). 

C.    Komende Gebeurtenisse

1. Toerismemaand

1.1.    Die land vier Toerismemaand in September en Wêreldtoerismedag op Maandag, 27 September 2021 onder die tema: “Toerisme vir Inklusiewe Groei – KOVID-19-herstel – Herbou en Verbeter (Build Back Better).” 
1.2.    Tydens vanjaar se Toerismemaand word Suid-Afrikaners aangemoedig om hul deel te bring om te help verseker dat werkers in die toerismebedryf hul werk behou deur plaaslik te reis en die herstel van toerisme te ondersteun, belyn met die toerisme-sektorherstelplan wat die ingrypings om die sektor se herstel te steun, uiteensit.
1.3.    Die Kabinet moedig ook alle Suid-Afrikaners aan om ingeënt te word en ons beeldskone land te verken terwyl daar steeds aan alle gesondheidsmaatreëls voldoen word, insluitend die dra van ʼn gesigmasker in die openbaar, gereelde handewas en die handhaaf van sosiale distansiëring. 

D.    Boodskappe

1.    Gelukwense

Die Kabinet het sy gelukwense en welmenendheid oorgedra aan: 

  • Die Suid-Afrikaanse onder-20 atletiekspan, vir hul prestasie by die Onder-20 Wêreldatletiekkampioenskappe in Nairobi, Kenia van 17 tot 22 Augustus 2021. Die SA-span het nege medaljes verower asook ʼn nuwe wêreldrekord opgestel vir die mans onder-20 4×100m-aflos.
  • Die SA-span vir hul prestasie by die Tokio Paralimpiese Spele. Ntando Mahlangu het goud verower in die mans-verspring en ʼn nuwe wêreldrekord opgestel met ʼn sprong van 7.17 meter. Anrune Weyers het goud verower in die vroue 400-meter. Para-fietsryer Pieter du Preez het ook goud gewen. Louzanne Coetzee (tesame met gids Erasmus Badenhorst) het ʼn silwermedalje in die vroue 1 500-meter.
  • Aktrise Thuso Mbedu, wat die toekenning vir die uitbreker-ster ontvang het vir haar rol in The Underground Railroad by die 2021 Hollywood Critics Association TV-toekennings.
  • Die pas-aangestelde president van die Republiek van Zambië, mnr Hakainde Hichilema. Die sukses van die onlangse presidensiële verkiesing verskaf ʼn basis vir volhoue stabiliteit en ontwikkeling in Zambië asook in suider-Afrika.
     

2.    Medelye

     Die Kabinet het sy diepste medelye betuig met die familie en vriende van:

  • Mnr Kebby Maphatsoe (59), die voormalige adjunkminister van verdediging en militêre veterane en huidige parlementslid. Hy was die nasionale voorsitter van die uMkhonto we Sizwe (MK) Militêre Veterane-vereniging. Hy het sy lewe gewy aan die ontwikkeling van ons land. 
  • Sanger en oorspronklike lid van The Mahotella Queens, Nobesuthu Mbadu. Die veteraansanger is oorlede by die Thelle Mogoerane-streekshospitaal in Vosloorus, Gauteng. Sy was 76 jaar oud. 

E.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en toepaslike klaring.
1.    Me Andiswa Oyama Jass as hoof finansiële beampte by die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DBVO). 
2.    Adv Dinkie Portia Dube as direkteur-generaal (DG) by die Kantoor van die Staatsdienskommissie. 
3.    Me Devinagie Bendeman as adjunk-DG vir die nakoming van regulering en sektormonitering by die DBVO. 

Navrae: Me Phumla Williams – Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore