Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 9 Mei 2018

Die Kabinet het op Woensdag 9 Mei 2018 by Tuynhuis, Kaapstad vergader.

A. Kwessies in die omgewing

1. Geslagsgebaseerde geweld (GGG)

1.1. Die Kabinet herbeklemtoon sy veroordeling van geweld teen vroue en kinders en doen ’n beroep op almal in ons onderskeie strukture om standpunt in te neem teen geweld teen vroue, kinders en die lesbiese, gay-, biseksuele en transgender (LGBT)-gemeenskap.  

1.2. Dit is elke Suid-Afrikaner se plig om ander in te lig oor die regte van vroue en kinders en oor die onderskeie regsmeganismes wat beskikbaar is om slagoffers van geweld te help.

1.3. Die Kabinet verwelkom die besluit deur die Suid-Gauteng Hoë Hof om die veroordeelde moordenaar Sandile Mantsoe tot 32 jaar tronkstraf te vonnis vir die moord op sy voormalige vriendin Karabo Mokoena. Ander gevalle soos die ontdekking van die liggaam van die 10-jarige Katlego Joja in Mamelodi-Wes, oos van Pretoria en die moord op Zolile Khumalo deur ’n medestudent by die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie in Durban, lewer bewys van die voortdurende uitdagings waarvoor ons as ’n nasie te staan kom. Die Kabinet betuig sy innige medelye met die Joja- en Khumalo-families.

1.4. Hoewel geregtelike en wetstoepassingsagentskappe die spesifieke taak opgelê is om te verseker dat die oortreders nie ongestraf bly nie, moet elkeen van ons as deel van die breër samelewing ’n rol speel om hierdie misdade te beëindig. Suid-Afrikaners word aangemoedig om aktief betrokke te raak by programme vir voorspraak en om bewustheid te bevorder in hul onderskeie gemeenskappe en sektore.

1.5. Die Kabinet moedig ook die slagoffers van hierdie gruwelike misdade aan om dit aan te meld by wetstoepassingsagentskappe, wat alle bewerings van GGG moet ondersoek en streng binne die grense van die wet moet optree om te verseker dat geregtigheid geskied.
1.6. ’n Afsonderlike, maar verwante kwessie, is dat die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering 13 Junie tot Internasionale Dag vir Albinismebewustheid verklaar het. Die veldtog is daarop gerig om bewustheid te versterk oor mense met albinisme; hulle word ten volle deur die  Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 beskerm. Dit is alle Suid-Afrikaners se plig om hulself en ander in hul gemeenskappe oor albinisme in te lig ten einde die mites en wanbegrippe oor die toestand uit die weg te ruim. Dit sal die trauma wat deur mense met albinisme en hul families ervaar word, aansienlik verlig.

2. Besluit van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF)

2.1 Die Kabinet spreek sy kommer uit oor die ontwikkelings rakende die nuwe regulasies van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF).

2.2 Die Kabinet verwelkom die werk wat deur die Departement van Sport en Ontspanning Suid-Afrika (SRSA) gedoen word, en die feit dat ’n hoëvlakpaneel van deskundiges op die verwante mediese en regsterreine deur SRSA byeengebring is. Hierdie paneel sal die regulasies noukeurig bestudeer en die wetenskaplike bewyse waarop die IAAF gesteun het, krities ondersoek. Dit sal alle beskikbare navorsing en wetenskaplike bewyse asook verwante etiese kwessies evalueer en die bevindings gebruik om hierdie regulasies in die toepaslike forums te betwis.

2.3  Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om alle atlete wat deur hierdie regulasies geraak mag word te ondersteun, op eie bodem sowel as in die res van die wêreld.

3. Situasie in Noordwes

3.1. Die Kabinet het die verslag deur die Interministeriële Taakspan (IMTS) oor Noordwes ontvang. Die verslag bevat besonderhede oor die voorlopige werk wat die afgelope twee weke gedoen is. Die Kabinet is tevrede met die vordering wat deur die IMTS gemaak is om die provinsie te probeer stabiliseer.

3.2. Die IMTS, onder leiding van die Minister in die Presidensie, dr Nkosazana Dlamini Zuma, sal met die vraagstukke in Noordwes belas bly. ’n Breedvoerige media-inligtingsessie oor die resultate van die IMTS se werk sal volgende week in Noordwes gehou word.
 
4. Japan-Afrika Openbare-Privaat Ekonomiese Forum

4.1. President Cyril Ramaphosa het die hoofrede tydens die eerste Japan-Afrika Openbare-Privaat Ekonomiese Forum gelewer. Die Forum is van 3 tot 4 Mei 2018 by die Sandton Konvensiesentrum deur Suid-Afrika aangebied in samewerking met die Japannese regering en Japan se Eksterne Handelsorganisasie.

Die Kabinet verwelkom die volgehoue verbintenis wat in 2016 gemaak is tydens die Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika-ontwikkeling in Nairobi, Kenia, waartydens Japan beleggings van US$30 miljard in Afrika tussen 2016 en 2019 beloof het. Meer as 100 Japannese maatskappye is in Afrika teenwoordig.

5. Verenigde State (VSA) se Staal- en Aluminiumtariefverhoging

5.1. Die Kabinet spreek sy teleurstelling uit oor die besluit van die VSA om Suid-Afrika nie vry te stel van die heffing van doeaneregte op staal en aluminium nie.

5.2. Die Suid-Afrikaanse regering sal steeds met Amerikaanse owerhede gesprek voer om ’n wedersyds aanvaarbare ooreenkoms te bereik. Die Kabinet moedig ook binnelandse uitvoerders aan om Amerikaanse kopers te beïnvloed om vir produkvrystellings aansoek te doen, aangesien Suid-Afrikaanse maatskappye nisprodukte en semi-verwerkte produkte vir verdere verwerking na die VSA uitvoer.

6.  Herlewing van nywerheidsparke

6.1. Die Kabinet verwelkom die eerste fase van die herlewing van diePhuthaditjhaba Nywerheidspark in die Vrystaat as ’n belangrike mylpaal in die implementering van die Program vir die Herlewing van Nywerheidsparke.

6.2. Die opknappings ter waarde van R50 miljoen sal meer plaaslike entrepreneurs lok om hul ondernemings hier te vestig danksy die verbeterde infrastruktuur en sekuriteit.

7.  Belegging

7.1. Die Kabinet wens die Departement van Handel en Nywerheid (die dti) en Aspen Pharmacare geluk met hul vennootskap, wat gelei het die aankondiging van ’n R1-miljardbelegging in ’n aanleg vir farmaseutiese middels in Port Elizabeth in die Oos-Kaap. Die farmaseutiese maatskappy het voordeel getrek uit die dti se 12I-Belastingaansporing, met ’n belastingkrediet van ongeveer R209 miljoen.

7.2. Die fasiliteit sal 500 nuwe werksgeleenthede skep. Dit is ’n beduidende belegging wat Suid-Afrika se vervaardigingsruimte tot ’n nuwe vlak ophef en broodnodige werksgeleenthede vir die land skep.

8.  Laer datakoste

8.1. Die Kabinet verwelkom die nuwe reëls wat deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika voorgestel is om regulasies betreffende data-, SMS- en stemdienste te reguleer.

8.2. Die veranderinge behels stappe om regverdige sakepraktyke in dataprysbepaling te verseker en om te voorkom dat verbruikers ongebruikte data verloor. Die markondersoek wat deur die Mededingingskommissie gedoen word, sal op bykomende maatreëls fokus om te verseker dat  Suid-Afrikaanse datapryse breër digitale toegang ondersteun en ons voorberei vir die geleenthede wat  die Vierde Nywerheidsrewolusie bied.

9. Mynbousektor

9.1. Die Kabinet betreur saam met President Ramaphosa die sterftes van mynwerkers by die Sibanye-Stillwater Driefonteinmyn naby Carletonville aan die Wes-Rand en betuig sy meegevoel met die families en vriende van die oorledenes. Die Minister van Minerale Hulpbronne, Mnr Gwede Mantashe, sal die regering na verwagtings by ’n gededenkdiens wat hierdie week gehou word, verteenwoordig.

9.2. Die Kabinet doen ’n dringende beroep op die mynbousektor om hul navorsing te bespoedig wat sal help om seismiese aktiwiteite in die myne vroegtydig te bespeur en lewens te red.

10. VN se Kinderfonds (UNICEF)

10.1. Die Kabinet spreek saam met President Ramaphosa sy waardering uit vir UNICEF se steun en samewerking in die bemagtiging van Suid-Afrika se jeug.

10.2. Die Uitvoerende Direkteur van UNICEF, me Henrietta Fore, het op Maandag 7 Mei 2018 ’n welwillendheidsbesoek aanPresident Ramaphosa  gebring. Sy het ’n uiteensetting gegee van UNICEF se verslag oor Suid-Afrika se inisiatiewe op die terreine van onderwys, die ontwikkeling van werksvaardighede en ekonomiese geleenthede vir jongmense, veral vir diegene tussen 10 en 18 jaar oud. UNICEF het Suid-Afrika se pogings om geleenthede vir jongmense te skep om op ’n betekenisvolle manier aan die ekonomie deel te neem geprys, en hul bereid verklaar om ons land se skole met water en sanitasie te help.

10.3. UNICEF het Suid-Afrika genooi om sy sukses op die terrein van jeugbemagtiging te deel in sy wêreldwye veldtog om geleenthede vir die jeug te bevorder – ’n duidelike teken van die verstewiging van ons land se betrekkinge met die VN.

B. Kabinetsbesluite

1.  Die Kabinet keur die Nywerheidsbeleidsaksieplan (IPAP) 2018/19–2020/21 goed. Dit is die 10de herhaling van 'n aaneenlopende jaarlikse aksieplan wat met opeenvolgende driejaarsiklusse van die Mediumtermyn-bestedingsraamwerk belyn is.

Die hersiene IPAP bied ’n opsomming van die prestasies van die nywerheidsbeleid oor die afgelope nege jaar. Dit verskaf ’n ekonomiese ontleding van die internasionale en binnelandse ekonomie wat vir die nywerheidsbeleid ter sake is, gee ’n opsomming van die uitdagings en beperkings wat die optimale implementering van die nywerheidsbeleid in die gesig staar, asook ’n verskeidenheid dwarslopende en sektorspesifieke tydsgebonde sleutelaksieplanne wat aan die onderskeie departemente toegewys is.

2. Die Kabinet keur goed dat die Ooreenkoms oor die Driesydige Vryhandelsgebied (TFTA) in die Parlement ter tafel gelê word vir bekragtiging. Die ooreenkoms vestig die Gemeenskaplike Mark vir Oos- en Suider Afrika, die Oos-Afrikaanse Gemeenskap en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap.

Hierdie TFTA is ’n sleutelprojek onder Afrika-leiding wat ’n deurslaggewende stap verteenwoordig om die vasteland se koloniale nalatenskap van klein gefragmenteerde markte te oorkom deur die bevordering van intra-Afrikabeleggings en deur meer buitelandse belegging na die vryhandelsgebied te lok.

Danksy streeksintegrasiepogings en bestendige ekonomieë was daar reeds sterk groei in intra-Afrikabeleggings.

3. Die Kabinet keur goed dat Suid-Afrika se Derde Nasionale Kommunikasieverslag aan die VN se Konvensie oor Klimaatsverandering (UNFCCC) voorgelê word.

Die primêre doelwit van die UNFCCC is om die kweekhuisgaskonsentrasies in die atmosfeer te stabiliseer tot ’n vlak wat sal voorkom dat gevaarlike antropogeniese aktiwiteite met die klimaatstelsel inmeng.

Suid-Afrika se verslag bevat ’n ontleding van vordering wat gemaak is sedert die aanvanklike Nasionale Kommunikasieverslag tot die Tweede Nasionale Kommunikasieverslag en later die Derde Kommunikasieverslag, soos deur die internasionale gemeenskap en binnelandse belanghebbers hersien.
 
C. Wetsontwerpe

1. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Akwakultuur van 2018 aan die Parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp, wat die produk is van omvattende oorlegpleging met al die tersaaklike belanghebbers in die landbousektor, is daarop gerig om akwakultuurontwikkeling in die oseane-ekonomie te bevorder. Dit voorsien onder meer die bepalings van die sektor se institusionele reëlings en ’n uiteensetting van die lisensiëring- en permitvereistes vir akwakultuur, en maak voorsiening vir die vestiging van akwakultuurontwikkelingsones.

2. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op Beroepsgesondheid en-veiligheid van 2018 aan die parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp wysig die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, 1993 (Wet 85 van 1993). Wanneer die Wetsontwerp aanvaar is, sal dit beter beskerming vir werkers bied ten opsigte van beserings en siektes in die werkplek bied.

Die Wetsontwerp vestig ’n duidelik omskrewe Gesondheid-en-veiligheidsbestuurstelsel    in ooreenstemming met internasionale beste praktyk. Dit maak ook voorsiening vir verpligte risikobepaling deur die werkgewer en die ontwikkeling en implementering van ’n werkplekspesifieke risikobestuursplan om die blootstelling van werknemers aan risiko tot ’n minimum te beperk.

D. Boodskappe
1. Gelukwense

1.1. Die Kabinet wens President Ramaphosa geluk dat hy deur die Internasionale Arbeidskonferensie (ILO) se Beheerliggaam uitgenooi is om as medevoorsitter van die Globale Kommissie oor die Toekoms van Werk op te tree.  

1.2. Die President is ook genooi om die konferensie, wat sy eeufees vier, toe te spreek. Terwyl hy daar is, sal hy ook eer betoon aan en die Eeufeesviering van voormalige President Nelson Mandela gedenk. Die Kabinet bedank die Afrika-groep in die ILO-bestuursliggaam vir sy leiding in die gesprekvoering in Genève en waardeer die samesprekings wat deur die land se regerende party in hul plaaslike kiesafdelings gehou is.

2. Medelye

2.1. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die familie en vriende van wyle mnr Derek Keys, die voormalige Minister van Finansies, wat die eerste was om hierdie pos in ’n demokratiese Suid-Afrika te beklee. Hy het ’n beduidende rol gespeel in die moeitelose oorhandiging van die Nasionale Tesourie aan ’n demokraties verkose regering in 1994.  

3. Ramadan

3.1. Die Kabinet wens die Moslemgemeenskap sterkte toe aan die begin van hul vastydperk vir die heilige maand van Ramadan volgende week. Gedurende Ramadan vas Moslems vanaf sonsopkoms tot sonsondergang met die doel om hul spiritualiteit te verdiep.

E. Toekomstige gebeure

1. President Ramaphosa sal vandag, 10 Mei 2018, die Departement van Verdediging en die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) besoek as deel van sy pogings om met senior leierskap gesprek te voer om te verseker dat die regering se werk doeltreffend belyn word. Hierdie besoeke is deel van die verbintenis wat die President in sy eerste Staatsrede in Februarie 2018 aangekondig het, naamlik om elke nasionale departement in hierdie verband te besoek.

2. Adjunkpresident David Mabuza sal vandag, 10 Mei 2018, die Derde Beraad van die Suid-Afrikaanse Raad vir Menslike Hulpbronontwikkeling by Emperors Palace in Johannesburg toespreek onder die tema: ‘Vennootskappe vir die herlewing van werk en leer’. Die tweedaagse beraad sal sleutelnywerheidsleiers, arbeidskenners en akademici byeenbring om oor verskeie kwessies te beraadslaag, insluitend voorstelle vir die hantering van werkloosheid onder die jeug, en om bemagtiging en die Vierde Nywerheidsrewolusie te bevorder.

3. Die Kabinet herhaal ook die uitnodiging aan Suid-Afrikaners om betrokke te raak by die jaarlange Eeufeesvierings van Tata Nelson Mandela en Mama Albertina Sisulu,  wat gehelp het om die grondslag van die Suid-Afrikaanse demokrasie wat ons vandag geniet, te bou. Die Interministeriële Komitee vir die Nelson Mandela- en Albertina Sisulu- eeufeesvirings, het die nasionale program vandeesweek van stapel gestuur. Besonderhede oor die feesvierings, asook oor ander geskeduleerde regeringsinligtingsessies/aktiwiteite is op die regering se webwerf (www.gov.za) beskikbaar.

F. Aanstellings
Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Ms Lerato Mataboge as die dti se verteenwoordiger op die direksie van die Uitvoerkredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika SOC Beperk.

2. Me RS Mogaladi as adjunkdirekteur-generaal: Institusionele Ondersteuning en Samewerking, CoGTA.

Navrae: Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore