Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 27 Maart 2019

Verklaring oor die Kabinetsvergadering wat op Woensdag 27 Maart 2019 by die Uniegebou in Pretoria gehou is

A. Kwessies in die omgewing
1. Belegging

1.1. Die Kabinet verwelkom die tweedefase-uitbreiding van die Dube-handelshawe Spesiale Ekonomiese Sone (SEZ) in KwaZulu-Natal. Die belegging van R18 miljard voeg ’n bykomende 45 hektaar nywerheidsruimte tot die SEZ toe. Dit sal as die grondslag dien om ’n beraamde R20 miljard in beleggings oor die volgende vyf jaar te lok.    
1.2. Die Kabinet verwelkom ook die Chinese elektronika-vervaardiger, Hisense, se belegging van R72-miljoen in sy verkoeling- en televisieproduksielyne by sy Atlantis-fabriek in die Wes-Kaap, wat 150 werksgeleenthede in die vervaardigingsektor geskep het. Hierdie belegging bring Hisense se totale belegging in hierdie Atlantis-aanleg op R440 miljoen te staan. 
 
2. Grondrestitusie 

2.1. President Cyril Ramaphosa het die eerste grondrestitusie ooit aan afstammelinge van die Griekwa-gemeenskap (Ebenhaeser-gemeenskap) in Vredendal in die Wes-Kaap oorhandig. Hierdie oorhandiging is ’n voortsetting van die Grondhervormingsprogram om die lewensomstandighede van voorheen benadeelde gemeenskappe te verbeter.  
2.2. Die Kabinet verwelkom die ondersteuning van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming na afloop van die skikking in die vorm van verskeie trekkers vir gebruik deur boere in die omgewing. Dit sal help om te verseker dat die grond behou en bewerk word vir huidige en toekomstige geslagte.

3. Kwartaallikse arbeidsopname

3.1. Die Kabinet verwelkom die vrystelling vandeesweek van die nuutste indiensnamedata deur Statistiek Suid-Afrika (StatsSA), wat die groei in totale indiensname gedurende 2018 bevestig. Die Kwartaallikse Indiensname-opname, een van twee opnames wat deur StatsSA gedoen word, toon aan dat indiensname in die formele sektor gedurende die 12 maande van 2018 met 158 000 toegeneem het. Gedurende die laaste drie maande van 2018 het indiensname met 87 000 gegroei. Die opname sluit nie data oor landbou en die informele ekonomie in nie. 
3.2. Hierdie welkome tendens volg op die vrystelling verlede maand van die meer omvattende Kwartaallikse Arbeidsmagopname (QLFS), wat alle sektore van die ekonomie, formeel sowel as informeel, dek en wat ook beduidende groei in indiensname in 2018 getoon het. 
3.3. Hierdie toename in werksgeleenthede weerspieël deels die toenemende beleggervertroue en die styging in buitelandse direkte belegging in die ekonomie, wat dui op die sukses van die President se pogings om Suid-Afrika as ’n beleggingsbestemming te bevorder. Die Presidensiële Beleggingskonferensie wat in Oktober verlede jaar gehou is, het beleggingsbeloftes van R300 miljard gelok. Oor die volgende vier jaar sal die regering met beleggers, plaaslike gemeenskappe en georganiseerde arbeid saamwerk om die beloofde beleggings ’n werklikheid te maak, en om bykomende werks- en ekonomiese geleenthede te skep.
3.4. Die QLFS toon dat totale indiensneming sedert die oorname deur die huidige administrasie tot 16,5 miljoen gestyg het danksy 1,5 miljoen nuwe werksgeleenthede wat in die vyfjaartydperk geskep is. 

4. Verwoesting deur Sikloon Idai 

4.1. Die Kabinet betuig sy medelye met die naasbestaandes van die slagoffers van Sikloon Idai, wat dele van Mosambiek, Malawi en Zimbabwe getref het. Die sikloon het ’n spoor van verwoesting gesaai, honderde duisende mense dakloos gelaat, groot gebiede vernietig, kommunikasienetwerke afgesny en paaie onbegaanbaar gemaak.  
4.2. In die gees van Ubuntu het President Ramaphosa op ons bure se oproep om hulp gereageer deur die goedkeuring van verskeie tussenkomste, insluitend soek-en-reddingsbystand.
4.3. Die Kabinet waardeer die werk wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Departement van Gesondheid gedoen is. SANW-helikopters het gehelp om mense wat deur die oorstromings vasgekeer is te red, en die SAPD het ook spesiaal opgeleide honde met hul hanteerders as deel van die soek-en-reddingsending ontplooi. Die Kabinet bedank ook nie-regeringsorganisasies en die Gift of the Givers vir die lewering van voortgesette humanitêre en rampverligtingsbystand.

5. Eskom 

5.1. Adjunkpresident David Mabuza het aan die Kabinet verslag gedoen oor ontwikkelings rakende Eskom en elektrisiteitsbeperkings. Goeie vordering is sedertdien gemaak met die verkryging van voldoende steenkool- en dieselvoorraad, en met waterreserwes by pompopgaartasies by hidro-elektrisiteitsaanlegte.
5.2. Die Tegniese Hersieningspaneel wat op 4 Maart 2019 deur die Minister van Openbare Ondernemings, Minister Pravin Gordhan en die Eskom-direksie aangestel is, sal sommige van die werk teen vroeg volgende week afhandel en die voorlopige resultate van sy hersiening van Eskom-kragstasies kry. Dit sal Eskom en die regering help om ’n strawwer program van kragaanleg-instandhouding oor die volgende paar weke en maande in werking te stel.  
5.3. Die Kabinet het ook Eskom se finansiële situasie bespreek. Verdere opsies word oorweeg om die kragvoorsiener te ondersteun. Elektrisiteitsopwekking was vandeesweek stabiel, met ’n lae risiko van beurtkrag. Daar is egter steeds ’n groot aantal onbeplande onderbrekings wat ’n ontwrigtende uitwerking op die algehele stelsel het.
5.4. Die Kabinet prys Eskom se bestuur en personeel vir hul pogings om onder moeilike omstandighede stabiele, konsekwente en betroubare energievoorsiening aan ons ekonomie en ons landsburgers te lewer.
5.5. Die Kabinet beklemtoon dat alle Suid-Afrikaners moet saamwerk en met nuwe idees vorendag moet kom – asook energiebesparende praktyke wat in die verlede toegepas is – om die vraag na elektrisiteit te verminder. Dit sluit in om geisers, swembadpompe en ligte wat nie gebruik word nie, af te skakel. Soos die Minister van Openbare Ondernemings vroeër aangedui het, sal verdere vordering oor Eskom en elektrisiteitsopwekking binne die volgende week bekend gemaak word.

6. Afsterwe van Prinses Irene Thandekile Buthelezi

6.1. Die Kabinet betuig sy innige medelye met die familie en vriende van Prinses Irene Thandekile Buthelezi, die eggenoot van Prins Mangosuthu Buthelezi. Prinses Irene was 67 jaar lank met die leier van die Inkatha Vryheidsparty getroud. 
Die Prinses was Prins Buthelezi se steunpilaar en het hom tydens al die jare as ’n Suid-Afrikaanse politikus bygestaan. Prinses Irene word ook oorleef deur hulle kinders Prins Ntuthukoyezwe Zuzifa, Prinses Phumzile Nokuphiwa en Prinses Sibuyiselwe Angela, en hul kleinkinders.

7. Nasionale Finansiële Studentehulpskema (NSFAS)

7.1. Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Naledi Pandor het die toewysing van ’n bykomende R967 miljoen aan NSFAS aangekondig. Die geld sal gebruik word om die historiese skuld aan universiteite deur 52 514 NSFAS-befondse studente wat steeds met hul studie besig is, te vereffen. Hierdie toewysing sluit nie studente in wat reeds ten volle befonds word op grond van die hersiene drempel vir hul ouers se gesamentlike minimum inkomste  nie. 
7.2. Die Kabinet ondersteun alle pogings wat aangewend word om onderwys toeganklik te maak, veral vir studente uit behoeftige families. Die regering sal aanhou om pogings te ondersteun wat daarop gemik is om die gaping van ongelykheid in ons samelewing te oorbrug. Die Kabinet doen ’n beroep op studente om steeds met die departement saam te werk om oplossings vir uitstaande kwessies te vind.

8. Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SABC)

8.1. Die Kabinet neem kennis van en verwelkom die werk wat gedoen word om die SABC te help om R3,2 miljard as tussentydse befondsing van handelsbanke te verkry. Dit sal verseker dat die uitsaaier sy befondsingsvereistes tussen nou en September 2019 kan dek. 
8.2. Die Kabinet bly daartoe verbind om die SABC te ondersteun. Dit volg op vroeëre aankondigings deur die Minister van Finansies, Tito Mboweni, in sy begrotingsrede in Februarie 2019, om ondernemings in staatsbesit wat in finansiële nood is, insluitend die SABC, te ondersteun deur befondsing wat tans in die gebeurlikheidsreserwe toegewys is.  

9. Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Solidariteitskonferensie

9.1. Die Kabinet is verheug dat Suid-Afrika vroeër vandeesmaand die SAOG-Solidariteitskonferensie saam met die Sahrawi Arabiese Demokratiese Republiek suksesvol kon aanbied.  
9.2. Wes-Sahara is die enigste land in Afrika wat steeds onder koloniale heerskappy staan. Die doel van die SAOG-Solidariteitskonferensie met Wes-Sahara was onder meer, om die mense van Wes-Sahara se reg op selfbeskikking te herbevestig. Dit is in ooreenstemming met die beginsels van die Handves van die Verenigde Nasies (VN) asook die eertydse Organisasie vir Afrika-eenheid en die Afrika-Unie (AU).   

B. Kabinetsbesluite

10. Nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) 

10.1. Die Kabinet verwelkom die aanstelling van mnr Edward Christian Kieswetter as die nuwe Kommissaris van die SAID met ingang 1 Mei 2019.
10.2. Mnr Kieswetter het onder meer sy Honneursgraad in Onderwys in 1988, ’n Meestersgraad in Wetenskaponderwys in 1996 en ’n Meestersgraad in Besigheidsadministrasie  in 2001 verwerf. Hy bring ’n magdom bestuurservaring wat hy in sowel die privaat as openbare sektor opgedoen het, na die SAID. Die afhandeling van hierdie aanstelling gee gevolg aan die aanbeveling deur die Kommissie van Ondersoek na Belastingadministrasie en Beheer deur die SAID, onder voorsitterskap van afgetrede Regter Robert Nugent. 

11. Kommissie van Ondersoek na Belastingadministrasie en Beheer by SAID (Nugent-verslag)

11.1. Die Kabinet is ingelig oor die uitkoms van die werk deur die Kommissie van Ondersoek na Belastingadministrasie en Beheer by SAID. President Ramaphosa het die Kommissie op 24 Mei 2018 aangestel om SAID onder meer te stabiliseer, sy geloofwaardigheid te herstel en sy kapasiteit om inkomstemikpunte te bereik, te versterk. Die kommissie se tussentydse verslag is op 27  September 2018 vrygestel, en die finale verslag op 11 Desember 2018.  
11.2. Die Kabinet neem kennis van die kommissie se bevinding dat die meeste gebreke by die SAID voortgespruit het uit ’n “massiewe mislukking van beheer en integriteit” onder die vorige Kommissaris. Die kommissie het 27 spesifieke regstellende aanbevelings gemaak om vorige skadelike besluite reg te stel, wat verskeie kwessies insluit, insluitend verkryging, organisatoriese ontwerp en versterking van die organisatoriese leierskap. Een van die sleutelbevindings was die dringende aanstelling van die SAID-Kommissaris. 
11.3. Die Kabinet verleen sy algemene steun aan die aanbevelings wat deur die Kommissie gemaak is. Die Minister van Finansies sal oor die implementering van sy aanbevelings toesig hou. Dit behels onder meer om leiding te verskaf vir ’n oorlegplegingsproses om die SAID-wet te wysig om beheer en aanspreeklikheid te verbeter, en die potensiële rol van ’n Inspekteur-Generaal, vergeleke met ’n Direksie.
11.4. Die Kabinet bedank Regter Nugent, die paneellede en die Kommissie se ondersteuningspan, vir die hoë gehalte van sy verslag, en die spoed en doeltreffendheid waarmee dit gelewer is. Die verslag is sedert sy vrystelling openbaar gemaak en is beskikbaar op Die Presidensie se webtuiste: www.thepresidency.gov.za 

12.  Evaluering van die Nasionale Dwelmmeesterplan (NDMP) 2013-2018

12.1. Die Kabinet keur die evalueringsverslag van die NDMP 2013-2018 goed, as ’n bewys van die regering se voortgesette verbintenis tot die stryd teen die gebruik en gevolge van  dwelms in gemeenskappe regoor die land. 
12.2. Die evaluering bepaal dat, ofskoon die NDMP ’n rigtinggewende raamwerk vir die sektor verskaf, die implementering daarvan verswak is deur gebrekkige belyning van die onderskeie departemente se strategieë.  
12.3. Dit doen ’n aantal tussenkomste aan die hand, soos die harmonisering van die departemente se strategieë, en beveel ook ’n meer onafhanklike ten volle befondse struktuur aan om die bekamping en voorkoming van dwelmmisbruik in ons gemeenskappe te dryf, veral onder die jeug. 
12.4. Die Kabinet is bewus van die uitdagings van dwelmverslawing waarvoor ons gemeenskappe te staan kom. Die aanbevelings wat deur hierdie evaluering gedoen word, sal ’n groot bydrae lewer om hierdie vraagstuk doelgerig te help oplos. Die Kabinet keur ook die instelling van ’n Raad teen Dwelmmisbruik goed, wat op soortgelyke beginsels as die Suid-Afrikaanse Nasionale VIGS-raad gestruktureer is, om die stryd teen dwelmverslawing te dryf. Die hersiene meesterplan sal voortaan as die Meesterplan teen Dwelmmisbruik bekendstaan. 

13. Raamwerk vir Geslagsreponsiewe Beplanning, -begroting, -monitering, -evaluering en -oudit

13.1. Die Kabinet keur die Raamwerk vir Geslagsresponsiewe Beplanning, -begroting, -monitering, -evaluering en -oudit goed. Hierdie raamwerk plaas geslaghoofstroming as ’n kernpunt van openbare beleid deur die instel van ’n strategie en implementeringsplan vir geslagsresponsiwiteit rakende bestaande  beplanning, begroting, monitering- evaluering- en ouditstelsels.
13.2. Die grondwetlike mandaat om geslagsdiskriminasie te beëindig en die regte van vroue en meisies te verwesenlik, vereis ’n beslissende en doeltreffende paradigmaskuif oor die hele staatsbestel heen. 

14. Evalueringsverslae

14.1. Die Kabinet keur ook verskeie ander evalueringsverslae goed wat in opdrag van die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering (DPME) uitgevoer is, insluitend die volgende: 

  • Die Evaluering van die Raamwerk vir Strategiese en Jaarlikse Prestasieplanne (FSAPP), wat bepaal of die FSAPP departemente in hul dienslewering doeltreffend lei, veral in hul reaksie op die regering se prioriteitsuitkomste, en om departemente vir hul prestasie aanspreeklik te hou. Die hersiening bevestig die toepaslikheid van hierdie benadering; dit dui egter ook op enkele leemtes in die ontwerp en dat die benadering nie heeltemal met al die tersaaklike beleide en wetgewing belyn, gekoördineerd en konsekwent is nie. Die verslag doen ’n aantal tussenkomste aan die hand om hierdie benadering te versterk.
  • Die Evaluering van die Ontwerpkonsepbeleid oor Gemeenskapskolleges, wat kyk na die ontwerp van die konsepbeleid om die gebrek aan onderwys-en-opleidingsgeleenthede vir volwassenes en naskoolse jeugdiges te hanteer, asook die mislukking van hierdie beleide om in die behoeftes van volwassenes en die jeug te voorsien sodat hulle toegang tot die arbeidsmark en bestaansvaardighede kan verkry. Die evalueringsverslag beklemtoon die afwesigheid van voldoende hulpbronne om hierdie program in staat te stel om die verwagte uitkomste te bereik.  
  • Evaluering van die Regering se Sake-aansporings, wat ’n waardeberaming bied van hoe die stelsel in sy geheel werk om die sakesektor te ondersteun tot voordeel van die samelewing. Die regering gebruik ’n wye verskeidenheid aansporingsmaatreëls om firmas aan te moedig om by spesifieke aktiwiteite betrokke te raak of tot bepaalde maatskaplike of ekonomiese uitkomste by te dra. Die verslag identifiseer oorvleuelings en aanvullende elemente in verskeie ondernemingsaansporings. Dit beveel onder meer aan dat ’n Interregeringskomitee vir Aansporing en Koördinering ingetsel word. 
  • Die Evaluering van die Geïntegreerde Strategie oor die Bevordering van Entrepreneurskap en Klein Sakeondernemings, wat die doeltreffendheid beoordeel het van die implementering van hierdie strategie, wat in 2005 goedgekeur is om hom toe lê op kritieke areas soos werkskepping, billikheid en toegang tot markte. Hierdie ondernemings speel ’n sleutelrol in werkskepping, innovering en groei. Die voorgestelde verbeteringsplan behels verbetering, koördinasie en rasionalisasie oor alle regeringsfere heen, en versterk institusionele beheer en toesig.
     

14.2. Die evaluerings iis daarop gerig om die Staatsdiens en staatsbestuur te versterk. Die evaluerings is deur onafhanklike diensverskaffers aangevra en sal op die DPME se webtuiste: www.dpme.gov.za gepubliseer word. 

15. Nasionale koördineringsmeganisme vir die VN, AU en die SAOG

15.1. In ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat daarop gerig is om volhoubare ontwikkeling te bevorder deur streeks-, kontinentale en internasionale uitdagings aan te pak, het die Kabinet die instelling van ’n nasionale koördineringsmeganisme goedgekeur om die volhoubare ontwikkelingsagendas van die VN, AU en die SAOG  te koördineer.
15.2. Hierdie nasionale koördineringsmeganisme sal as ’n multidissiplinêre en multibelanghebberproses dien om oorlegpleging en koördinering te fasiliteer binne en buite die regering rakende Suid-Afrika se verbintenisse ten opsigte van internasionale volhoubare ontwikkeling. 
15.3. ’n Interministeriële Komitee (IMK), wat vanuit die kern van die regering gedryf word, sal die toesighoudende rol vervul en verseker dat die ontwikkelingsagendas (VN se 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling, die AU se Agenda 2063 en die SAOG se Regionale Aanwysende Strategiese Ontwikkelingsplan) ten volle in die land se nasionale planne weerspieël word. Die kommissie sal ook oorkoepelende leiding bied oor voldoening aan monitering- en verslagdoeningsvereistes. 

16. IMK oor die Vierde Industriële Rewolusie (4IR)

16.1. Na aanleiding van President Ramaphosa se aankondiging in sy 2019-Staatsrede, keur die Kabinet die instelling van ’n IMK oor die 4IR goed. 
16.2. Die kommissie se taak is om te adviseer oor strategieë en beleide in reaksie op nuwe tegnologiese ontwikkelings wat uit digitalisering en die 4IR voorspruit. Die IMK se vernaamste verantwoordelikheid is om die beplanning en implementering van die 4IR-tussenkomste te koördineer, insluitend stappe ter aanvulling van die Presidensiële Kommissie se werk oor 4IR. 

17. Einde van termyn

17.1. Die Kabinet sluit sy program van die vyfde administrasie af en bedank al sy maatskaplike vennote en landsburgers. Dit doen ’n beroep op Suid-Afrika om vasberade te bly in die bou van ’n welvarende land. 
17.2. Die Kabinet spreek sy waardering uit teenoor die Parlement en die Geregtelike Gesag vir die handhawing van grondwetlike waardes en omdat hulle die Uitvoerende Gesag aanspreeklik hou in belang van ’n beter lewe vir Suid-Afrikaners.
17.3. Die Kabinet spreek ook sy waardering uit teenoor Suid-Afrika se vennote in die SAOG; AU;  Brasilië, Rusland, Indië, Sjina en Suid-Afrika; en die Groep van 20 (G20), sowel as die VN en ander strukture, vir hul ondersteuning en bystand aan Suid-Afrika om omstandighede in die land te verbeter en om met Suid-Afrika saam te werk in die strewe na ’n beter Suid-Afrika, ’n beter Afrika en ’n beter wêreld.
17.4. Die Kabinet bring hulde aan die lede van die Nasionale Uitvoerende Gesag wat gedurende hierdie vyfde administrasie gesterf het, Minister Collins Chabane en Minister Edna Molewa, asook leiers in ander regeringsfere wat die land met onderskeiding gedien het en die belange van Suid-Afrika, nasionaal sowel as internasionaal bevorder het.

C. Toekomstige Gebeure

18. Geslagsgebaseerde Geweld (GGG) en Vrouemoord

18.1. Nog ’n mylpaal in die stryd teen GGG sal op Donderdag, 28 Maart 2019 bereik word, met die opening van die Booysens Landdroshof in Johannesburg. Die ultra-moderne Booysens Landdroshof bied ’n verskeidenheid dienste en is ten volle toegerus om slagoffers van GGG en vrouemoord by te staan. 
18.2. Met die opening van die hof sal President Ramaphosa, saam met verskeie burgerlike organisasies, ook gasheer wees vir die Presidensiële bekendstelling van die Verklaring oor GGG en Vrouemoord. Dit is ’n verbintenis om die besluite van die Nasionale Beraad oor GGG en Vrouemoord, wat in November 2018 gehou is, te begin implementeer.
18.3. Die volgende howe, wat  howe vir seksuele misdrywe insluit, sal binne die volgende drie maande oorhandig word:

  • Plettenbergbaai se Landdroshof in die Wes-Kaap sal ongeveer nege hofsale  hê, waarvan een ’n hof vir seksuele misdrywe sal wees.  
  • Dimbaza en Bitji se Landdroshowe in die Oos-Kaap.
  • Mpumalanga se Hoë Hof in Mbombela en die ou Middelburg Landdroshof, wat met behulp van gevangenes se arbeid gedeeltelik opgeknap is om as die plaaslike setel van die Hoë Hof te dien.

18.4. Teen die einde van die vyfde administrasie sal altesaam 59 nuwe howe sedert 1994 gebou wees, wat die regering se mikpunt om minstens twee howe per jaar te bou, oorskry.  

19. Tweede “Youth Walk into Economic Opportunities” Ekspo
19.1. Die Ministerie van Kommunikasie, Telekommunikasie en Posdienste – in samewerking met ander regeringsdepartemente, ondernemings in staatsbesit en belanghebbers – sal die Tweede Jaarlikse “Youth Walk into Economic Opportunities”  Ekspo op 13 April 2019 in die Ntabankulu Plaaslike Munisipaliteit in die Alfred Nzo Distrik van die Oos-Kaap aanbied. 
19.2. Die “freedom youth walk”, ter herdenking van 25 jaar van vryheid, is daarop gerig om die jeug, werklose mense en entrepreneurs aan ’n verskeidenheid akademiese, loopbaan- en sakegeleenthede wat in die openbare en privaat sektor beskikbaar is, bloot te stel. 

20. 2019 Nasionale Algemene Verkiesing

20.1. Terwyl die land sy sesde demokratiese verkiesing nader, doen die Kabinet ’n beroep op alle stemgeregtigde kiesers om hul grondwetlike reg uit te oefen om op 8 Mei te gaan stem. Kiesers se deelname is deurslaggewend om ’n goed funksionerende demokrasie te verseker; deur gereelde verkiesings kan landsburgers hul verteenwoordigers verkies en hulle aanspreeklik hou. 
20.2. Die Kabinet doen ’n beroep op die Onafhanklike Verkiesingskommissie, openbare verteenwoordigers en die publiek om op verkiesingsdag só op te tree dat dit ’n vry en regverdige verkiesing verseker. Wetstoepassingsagentskappe sal streng optree teen enigiemand wat tydens die verkiesing ander kiesers intimideer, geweld stook of hulle aan gewelddadige optrede skuldig maak.

D. Boodskappe

21. Medelye

Die Kabinet betuig sy medelye met :
21.1. die familie en vriende van die African National Congress se Hoofsweep, mnr Jackson Mthembu, wie se dogter Khwezi op 25-jarige ouderdom gesterf het.
21.2. die regering en mense van Nieu-Seeland wat geliefdes aan die dood afgestaan het tydens die dodelike terroriste-aanval in Christchurch.
21.3. die regering en mense van die Republiek van Indonesië ná die kitsoorstromings in dié land. Suid-Afrika en Indonesië is die enigste lande in onderskeidelik Afrika en Suidoos-Asië wat lede van die G20 is, en albei lande tree as medevoorsitter van die Nuwe Afrika-Asië Strategiese Vennootskap op.

22. Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan: 
22.1. Professor Ncoza Dlova, ’n internasionaal befaamde dermatoloog van die Universiteit van KwaZulu-Natal, wat gehelp het om ’n nuwe geen te ontdek wat ’n belangrike oorsaak van permanente haarverlies onder vroue van Afrika-afkoms is. Professor Dlova se passie vir onderwys het gelei tot die samestelling van ’n plaaslike handboek oor algemene veltoestande, wat op alle mediese studente in die land gerig is, asook opvoedkundige pamflette en videomateriaal om pasiënte oor hul veltoestande in te lig.
22.2. die nasionale sokkerspan, Bafana Bafana, wat vir die 2019 Afrika-Nasiebeker gekwalifiseer het. Die span sluit hom aan by vier ander Suid-Afrikaanse spanne – Banyana Banyana; Krieket, Rugby en Amajita, wat ook in hul onderskeie kwalifiserende wedstryde gekwalifiseer het. Die Kabinet doen ook ’n beroep op Suid-Afrikaners om die nasionale span in die komende toernooi te ondersteun. Dit loof ook die VN vir sy ondersteuning in die Caster Semenya-saak by die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies.

E. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
1. Dr Fiona Tregenna – Heraanstelling as deeltydse lid van die Mededingingstribunaal. 
2. Mnr Cecil Khosa – Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Suid-Afrikaanse Diamant- en Edelmetalereguleerder.
3. Mnr Themba Cyril Dlamini as HUB van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir die Veiligheid- en Sekuriteitsektor.
4. Mnr Mduduzi Eric Zakwe as HUB van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Media-, Inligting- en Kommunikasietegnologie. 
5. Nie-uitvoerende lede van die Direksie van die Kleinsake-ontwikkelingsagentskap vir drie jaar:
5.1. Mnr Mbulelo Sogoni (voorgestelde voorsitter);
5.2. Me Suzan Nyakale;
5.3. Me Matshediso Ndlovu;
5.4. Me Nomsa Kana;
5.5. Adv Derick Block;
5.6. Mnr Jim Matsho;
5.7. Me Beatrice Nkambule (Prinses Tsakani);
5.8. Mnr Charl de Kock;
5.9. Adv Mthokozisi Xulu; en
5.10. Mnr Mduduzi Sibeko.
 
6. Me Thutukile Skweyiya as voorsitter van die Krygstuigkorporasie van Suid-Afrika (Krygkor) tot 30 April 2020.
7. Mnr Malusi Stanley Motimele as nie-uitvoerende direksielid en Adjunkvoorsitter van Krygkor vir drie jaar. 
8. Mnr Sipho Abednego Mosai – HUB van Rand Water vir vyf jaar
9. Direksie van die Inkomati Usuthu Opvanggebied-bestuursagentskap:
a. Me Tokozani Patience Nyakane-Maluka (Voorsitter);
b. Me Mandlakayise Sam Mthembu (Adjunkvoorsitter);
c. Me Shivon Desiree Wiggins;
d. Adv Muzikayise Bernard Shabangu;
e. Dr Thavamoney M Kelly;
f.  Me Lungile Linda Carol Zulu;
g. Me Lungile Miranda Sikhakhane;
h. Mnr Mashudu Gangazhe; en
i.  Mnr Pillay Absalom Tshabangu. 

Navrae:
Me Phumla Williams
Waarnemende Direkteurgeneraal (GCIS) 
Selfoon: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore