Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 20 Junie 2018

Die Kabinet het op Woensdag 20 Junie 2018 by die Uniegebou in Pretoria, vergader.

A. Kwessies in die omgewing
1. Verenigde Nasies se Sekuriteitsraad (UNSC)

1.1. Die Kabinet spreek sy waardering uit teenoor die lede van die Verenigde Nasies (VN) vir hul oorweldigende steun aan Suid-Afrika om as nie-permanente lid van die UNSC vir die termyn 2019 tot 2020 te dien.

1.2. Die verkiesing volg op ’n eenparige besluit om ’n Globale Vredesberaad te belê ter ere van voormalige President Nelson Rolihlahla Mandela in September 2018; die eeufeesjaar van Suid-Afrika se grondlegger. Ons lidmaatskap van die UNSC word daaraan gewy om Madiba se nalatenskap te eer.

1.3. Suid-Afrika sal sy lidmaatskap gebruik om die prioriteite van die Afrika-Unie se Agenda 2063 te bevorder. Dit bied ’n strategiese raamwerk vir die sosio-ekonomiese transformasie van die vasteland oor die volgende 50 jaar.

2. Eskom-loononderandelings

2.1. Die Kabinet verwelkom die ingryping deur die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, in die loononderhandelingsgeskil tussen Eskom se bestuur en die arbeidsmag. Elektrisiteitsvoorsiening is een van die kritieke hefbome vir die land se ekonomiese ontwikkeling en werkskepping.

2.2. Die Kabinet doen ’n beroep op alle partye om onverpoos daaraan te werk om die loongeskil suksesvol op te los ter wille van stabiliteit en ekonomiese vooruitgang in die land. 

3. Betogings op hoofpaaie

3.1. Die Kabinet veroordeel ten sterkste die onlangse versperring van verskeie hoofpaaie deur betogers in sommige dele van die land. Hoofpaaie is ’n kritieke deel van ons vervoerinfrastruktuur wat die vervoer van goedere en dienste van die verskillende ekonomiese sektore moontlik maak. Ons grondwetlike demokrasie maak voldoende voorsiening vir maniere waarop mense hul  griewe kan lug sonder om chaos te veroorsaak.

3.2. Aggressiewe misdade en ontwrigting sal nie geduld word nie en die Kabinet doen ’n beroep op regstoepassingsbeamptes om die nodige stappe te doen, binne die grense van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, om te verseker dat die oortreders vervolg word.

B. Kabinetsbesluite
4. Inligtingsweek oor die Program van Aksie

4.1. Die Kabinet is ingelig oor die tweejaarlikse prestasievorderingsverslae vir die tydperk 1 Oktober 2017 tot 30 Maart 2018. Die Kabinet waardeer die vordering wat met verskeie van die 14 prioriteitsdoelwitte gemaak is en keur ook die voorgestelde ingrypings op gebiede waar minder vordering gemaak is goed. Al die regeringsklusters sal media-inligtingsessies hou om die vordering te bespreek, sowel as die gebiede waar ingrypings nodig is. 

4.2. Die GCIS sal die klustermedia-inligtingsessies koördineer en die skedule weldra op www.gov.za publiseer.

5. Inligtingsessie oor samesprekings in die mynbousektor

5.1. Die Kabinet word deur die Minister van Minerale Hulpbronne, Gwede Mantashe, ingelig oor die twee-daglange vergadering wat in Maart 2018 gehou is met maatskaplike vennote wat die georganiseerde sake- en arbeidsektore verteenwoordig het. Al die maatskaplike vennote het saamgestem dat daar ’n behoefte bestaan om maatskaplike dialoog in die mynbousektor te laat herleef en kritieke ingrypings te identifiseer wat nodig is om te verseker dat die mynbousektor op ’n trajek van inklusiewe en volhoubare groei geplaas word.

5.2. Die maatskaplike vennote het verder besin oor die afname in mynbouproduksie gedurende die laaste kwartaal asook die breër tendense rakende belegging, produksie en indiensneming in die mynbousektor. Hulle het saamgestem dat daar oor die gedeelde visie vir die mynbousektor besin moet word, en het die aanvullende aspekte en onderlinge afhanklikhede tussen transformasie en mededingendheid herbekragtig. 

5.3. Die Kabinet is ook ingelig oor die twee multi-belanghebberspanne wat saamgestel is om die Mynbouhandves te finaliseer. Nadat al die oorlegplegingsprosesse afgehandel is, sal die handves vir finale aanvaarding aan die Kabinet voorgelê word.

6. Konsep- Nasionale Begrotingsraamwerk vir 2019 (mandaatdokument)

6.1. Die Kabinet keur die vrystelling van die prioritiseringsraamwerk vir Begroting 2019 goed, asook die bepaalde tydgrense waarbinne die prioritiseringsraamwerk vir Begroting 2020 voltooi moet word. 

6.2. Die raamwerk bevat voorstelle vir die prioriteitsprogramme vir Begroting 2019 wat die regering in staat sal stel om die drievoudige uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid met die beskikbare hulpbronne aan te pak. 

7. Energie 

7.1. Die Kabinet keur die ontbinding- en skoonmaakverpligtinge verbonde aan die vorige uitgediende strategiese kernkragfasiliteite (Stadium 1) en huidige bedryfsfasiliteite (Stadium 2) by die Pelindaba-terrein goed. Hierdie verpligtinge word tans in die boeke van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie weerspieël. Die Kabinet keur goed dat die proses in oorleg met die Nasionale Tesourie voortgesit word.

C. Toekomstige gebeure
8. Rondetafelgesprek van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF)

8.1. President Cyril Ramaphosa sal op 28 Junie 2018 as gasheer optree vir die WEF Rondetafelgesprek by die Park Hyatt Hotel in Rosebank met die tema: “Vorming van Suid-Afrika se Ekonomiese Hernuwing – die Rol van die Sakesektor.” Die geleentheid sal ongeveer 100 plaaslike en buitelandse sakelui en Suid-Afrikaanse amptenare byeenbring om oor beleggingsgeleenthede en vennootskappe gesprek te voer.

8.2. Die vergadering met die WEF-sakegemeenskap is ’n voorloper tot die regering se beleggingskonferensie wat vir later vanjaar beplan word, en wat daarop gerig is om belegging ter waarde van US$100 miljard oor vyf jaar te ontsluit.

9. Beraad van die Suider-Afrikaanse Doeane-Unie (SADU)

9.1. President Ramaphosa sal ’n afvaardiging na die SADU-beraad op 29 Junie 2018 in Botswana lei. Die President sal van die geleentheid gebruik maak om ook die Sekretariaat van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) te ontmoet en die inwerkingstelling van streeksprogramme te bespreek. 

9.2. As die huidige voorsitter van die SAOG, ondersteun Suid-Afrika deurlopend breër streeksintegrasie deur SADU en die SAOG, en tree as kampvegter op vir  streeks-industraliasie en -integrasie deur middel van verskillende potensiële groeipaaie.

10. Konferensie van die Waterinstituut van Suid-Afrika (WISA)

10.1. WISA 2018 se tweejaarlikse konferensie en uitstalling word van 24 tot 27 Junie in Kaapstad gehou. Die Suider Afrikaanse streek kom te staan voor toenemende onsekerheid en kwesbaarheid met betrekking tot watervoorsiening, wat saamval met die langdurige droogtetoestande waaronder verskeie dele van Suid-Afrika onlangs gebuk gegaan het.

10.2. Die konferensie sal na verwagting 2 000 afgevaardigdes lok, wat maniere sal bespreek om die VN se sesde volhoubare-ontwikkelingsdoelwit te bereik. Dit is daarop gerig om te verseker dat alle mense teen 2030 toegang tot skoon water en sanitasie sal hê

D. Boodskappe

11. Medelye

Die Kabinet dra sy innige meegevoel oor aan:

11.1. Die familie en vriende van die Agbare Sibusiso Radebe, ’n ANC-parlementslid van Mpumalanga, wat tydens ’n kapingspoging in Gauteng vermoor is. Agbare Radebe sal onthou word as ’n jeugaktivis wat hard gewerk het om Suid-Afrikaners se lewens te verbeter.

11.2. Die familie en vriende van me Joyce Mashamba, wat ten tye van haar afsterwe die LUR vir Landbou in Limpopo was. Die voormalige vryheidsvegter het sedert die aanbreek van demokrasie in verskillende provinsiale portefeuljes as LUR gedien.

11.3. Familie en vriende van mnr Billy Modise, Suid-Afrika se voormalige Hoof van Protokol en ontvanger van die Nasionale Orde van Luthuli. Hy is alombekend vir sy werk om gedurende die 1960's die anti-apartheidsbeweging in die Nordiese lande te bevorder. 

11.4. Die families van die drie mynwerkers wat by Sibanye-Stillwater se Kloof Ikamva-myn naby Westonaria in Gauteng gesterf het. Die Kabinet doen ’n beroep op alle belanghebbers in die sektor om veiligheid in ons myne te alle tye as ’n prioriteit te beskou.

11.5. Die Amampondo-gemeenskap met die afsterwe van die Koninginmoeder van Amampondo aseNyandeni, Koningin Fikelephi ‘Bongolethu’ Ndamase.

11.6. Die families en vriende van mnr Ismail Bassa en mnr Sayaad Hitig, wat tydens ’n aanval op die Malmesbury-moskee in die Wes-Kaap gesterf het.

12. Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die volgende mense:

12.1. Dr Robert Gess, ’n toonaangewende Suid-Afrikaanse navorser oor Devoniese marginale mariene ekostelsels en vroeë werweldiere of oervisse en vroeë vierpotiges. Hy het ’n fossiel ontdek wat vermoedelik 360 miljoen jaar oud is. Die twee nuwe spesies, genaamd Tutusius en Umzantsia, is Afrika se eerste bekende vierbeen-werweldiere, wat tot ’n allemintige 70 miljoen jaar terug dateer kan word. Hierdie ontdekking dra verder by om Suid-Afrika se reputasie as ’n wêreldleier in wetenskap en navorsing te verstewig.

12.2. Bongumusa Mthembu met sy derde oorwinning in die Comrades Marathon en Ann Ashworth met haar oorwinning in die vrouewedloop. Die Kabinet wens Xolani Luvuno, wat die marathon deur vasberadenheid en uithouvermoë met sy krukke voltooi het, ook geluk.

12.3. Dr Siyabonga Cwele, die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, met sy verkiesing as die voorsitter van die Internasionale Telekomkommunikasie-satellietorganisasie (ITSO). Suid-Afrika tree vir die eerste keer as voorsitter op en sal die posisie twee jaar lank beklee. Die land sal sy voorsitterskap gebruik om die belange van die Afrika-vasteland en ontwikkelende lande in multilaterale organisasies te bevorder.

Navrae: Me Phumla Williams – Waarnemede Kabinetswoordvoerder
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore