Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 18 September 2019

Die Kabinet het op Woensdag 18 September 2019 by Tuynhuys in Kaapstad vergader

A.   Kwessies in die omgewing

1.   Distriksgebaseerde ontwikkelingsmodel

1.1.  Die Kabinet verwelkom die amptelike bekendstelling deur President Cyril Ramaphosa van die nuwe distriksgebaseerde ontwikkelingsmodel in die OR Tambo-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap. Die model bring die drie regeringsfere bymekaar om deur samewerking hul werk te integreer en doelgerig die ontwikkelingsuitdagings in die distrik die hoof te bied met die klem op die bevordering van dienslewering, plaaslike verkryging en werkskepping. Die Kabinet, plaaslike regeringstrukture, tradisionele owerhede en die President se Koördineringsraad onderskryf hierdie model.

1.2.  Hoewel OR Tambo-distrik die eerste was om hierdie model amptelik in gebruik te neem, sal dit mettertyd in al 44 distrikte en agt metro's regoor die land bekendgestel word. Dit bring die regering nader aan die mense deur burgers en belanghebbendes te betrek by die ontwikkeling van een plan wat 'n magdom dienste sal lewer en ekonomiese geleenthede op 'n basiese distriksvlak sal skep.

1.3.  President Ramaphosa het die nasionale gesondheidsversekering (NGV) vir Lusikisiki se dorpskliniek amptelik bekendgestel. Die kliniek, wat universele gesondheidsorg sal bestuur, het onder meer moderne toerusting, nooddienste en 'n 24-uur kraamafdeling.

1.4.  President Ramaphosa het ook die OR Tambo-distrik se gemeenskap toegespreek oor geslagsgebaseerde geweld, die kritieke behoefte aan meer Thuthuzela-sorgsentrums in die gebied en die noodsaaklikheid van 'n DNA-laboratorium in die Oos-Kaap.

2.  Stryd teen geslagsgebaseerde geweld (GGG)

2.1.  Die Kabinet ondersteun President Cyril Ramaphosa se oproep aan alle Suid-Afrikaners om saam te werk om die geweld en moord op vroue en kinders te stuit. Die President het gister in 'n gesamentlike sitting van die Parlement noodmaatreëls ingedien om GGG te bekamp en om die implementering van die 2018-Presidensiële Spitsberaad oor GGG te versnel.

2.2.  Die noodmaatreëls wat deur die President aangekondig is en wat in die volgende ses maande in werking gestel sal word, sluit in dringende wetgewing om GGG te bekamp; noodsaaklike opleiding aan polisielede sowel as aan aanklaers en landdroste/regters wat GGG-verwante sake hanteer, dringende versterking van die regstelsel, dringende insluiting van GGG in die skoolkurrikulum, en die noodsaaklikheid van meer Thuthuzela-ondersteuningsentrums met meer personeel. Die ingryping fokus ook spesifiek op mans as die oortreders in misdade soos verkragting, mishandeling en moord op vroue en meisies.

2.3.  Die Geslagsgebaseerde Bestuurskomitee sal vir die hantering van hierdie noodmaatreëls verantwoordelik wees. Die komitee sal in die Presidensie gevestig wees en sal regerings- en nieregeringstrukture insluit om toesig te hou oor die implementering van die maatreëls.

2.4.  Die President het aangekondig dat hulpbronne deur middel van die hoofstroomproses binne departementele begrotings, implementering van die noodmaatreëls binne die volgende ses maande sal verseker.

2.5.  Die Kabinet doen 'n beroep op alle gemeenskappe om steeds 'n rol te speel in die mentorskap van jong seuns en hulle aan te moedig om empatie en respek teenoor vroue en meisies te betoon.

3.  Gewelddadige aanvalle op buitelanders en mede-Suid-Afrikaners

3.1.  Die Kabinet veroordeel weereens die openbare geweld en wetteloosheid wat met mense se werklike of verbeelde griewe gepaardgaan. Ons is steeds 'n grondwetlike demokrasie wat deur die oppergesag van die reg beheer word.

3.2.  Hoewel die Kabinet begrip het vir die sosio-ekonomiese uitdagings wat gemeenskappe in die gesig staar, is onverdraagsaamheid en geweld teenoor buitelandse burgers en ander Suid-Afrikaners nie ’n oplossing vir hierdie uitdagings nie.

3.3.  Ons verwelkom almal wat die land wettig binnekom en ons land se wette gehoorsaam. Ons is 'n land wat verenig is in ons diversiteit en waar enige vorm van vyandigheid wat op ons mede-broers en -susters gerig is, nie geduld sal word nie.

3.4.  Die Kabinet is vasbeslote om oplossings vir die onderliggende probleme wat tot die aanvalle op buitelandse burgers en sommige Suid-Afrikaner gelei het, te vind. Ons sal ook sonder enige vrees of voorkeur daadwerklik optree teen onwettige aktiwiteite soos dwelmhandel, onwettige handeldryf, plundering van winkels, vernietiging van eiendom en korrupsie, ongeag of dit deur Suid-Afrikaners of buitelanders gepleeg word. Die uitbuiting van buitelandse burgers deur sommige maatskappye word ook veroordeel. Die Kabinet doen 'n beroep op gemeenskappe om aktief met Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en die Suid-Afrikaanse Polisie (SAPD) saam te werk om misdaad en alle onwettige aktiwiteite die hoof te bied.

3.5.  Die Wetsontwerp op die Bestuur van Grense word by die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) afgehandel; dit sal die versterking van ons grensveiligheid versnel.

3.6.  Die President het ook 'n span spesiale gesante na verskillende Afrikalande gestuur om mede-Afrikane te verseker dat ons land verbind is tot die ideale van Pan-Afrika-eenheid en solidariteit, sowel as Suid-Afrika se verbintenis tot die oppergesag van die reg en die beskerming van die menseregte van almal binne ons grense.

3.7.  Die President het ook 'n span vooraanstaande mense, insluitend die voormalige president van Tanzanië, mnr. Jakaya Kikwete, en die voormalige president van Mosambiek, mnr. Joaquim Chissano in 'n feitekommissie aangestel. Hulle sal met verskillende groeperings in ons land gesprek voer om die feite agter die gewelddadige aanvalle op buitelandse burgers en inwoners in ons land – waarna sommige mense as vreemdelingehaat en afrofobie verwys – te identifiseer. Die kommissie sal sy bevindings met die Afrika-unie (AU) deel; dit sal ons help om hernieude gewelddadige aanvalle op sowel buitelandse burgers as ons eie burgers die hoof te bied.

4.  Aanval op raadslede se huise

4.1.  Die Kabinet veroordeel die afbrand van Matlosana-raadslede se huise in Khuma, Noordwes, ten sterkste. Sulke optrede hoort hoegenaamd nie in ons jong demokrasie tuis nie. Die Kabinet doen 'n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om te doen wat nodig is om die oortreders van hierdie wandade in hegtenis te neem. Wetsgehoorsame burgers van Khuma moet met wetstoepassingsagentskappe saamwerk om die oortreders vas te trek. Hulle kan help om inligting te verskaf deur die anonieme tolvrye nommer 0860 10111 te skakel.

4.2.  As Suid-Afrikaners moet ons standpunt inneem om wetteloosheid in ons onderskeie gemeenskappe te veroordeel. Ons demokrasie het 'n wetgewende stelsel waarvolgens enige openbare verteenwoordiger gekies of verwyder kan word sonder om geweld te gebruik. Ons moet dus saamstaan om ons swaarverdiende demokrasie daadwerklik te beskerm.

4.3.  Die Kabinet doen 'n beroep op die publiek om standpunt in te neem teen sodanige misdadigheid en om inligting te verskaf wat die wetstoepassingsowerhede sal help met hul ondersoeke. Suid-Afrika is 'n demokrasie en oortreders wat geweld pleeg, in watter vorm ook al, moet die gevolge van hul optrede deur die volle mag van die wet dra.

B.  Kabinetsbesluite

1.  25-jaar-oorsigverslag

1.1.  Die Kabinet keur die vrystelling van die 25-jaar-oorsigverslag 1994 – 2019 goed. Die verslag evalueer die vordering wat die regering (in vennootskap met sy maatskaplike vennote) gemaak het om 'n beter lewe vir alle Suid-Afrikaners te verseker.

1.2.  Die evaluering, wat deur die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering (DPME) gelei is, het konsultasies behels om perspektiewe en insigte van verskillende belanghebbendes te verkry. Dit het sakeondernemings, arbeid, akademici, nie-regeringsorganisasies en verskillende regeringsdepartemente ingesluit. Colloquiums, wat vooraanstaande mense van die vasteland ingesluit het, is ook in dié verband gehou.

1.3.  Die verslag beklemtoon vordering wat gemaak is, soos universele toegang tot basiese onderwys, uitbreiding van toegang tot hoër onderwys, toegang tot gratis gesondheidsdienste in die openbare sektor en die instelling van maatskaplike lone. Dit beklemtoon ook verskeie uitdagings wat ons doeltreffende reaksie op werkloosheid, armoedeverligting en ongelykheid belemmer. Die grootste uitdaging is ons onvermoë om die strukturele omvang van die land se ekonomie te hanteer.

1.4.  Die Kabinet keur goed dat die onderskeie nasionale departemente en provinsies ook hul gedetailleerde 25-jaar-oorsigte uitreik.

1.5.  President Cyril Ramaphosa sal die SA 25 Year Review 1994 – 2019 mettertyd amptelik bekendstel.

2.  Landverslag oor die 2019 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD)

2.1.  Die Kabinet keur Suid-Afrika se 2019-verslag vir Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte aan die Verenigde Nasies (VN) goed. Die verslag sal tydens die 74ste vergadering van die VN se Algemene Vergadering in September 2019 op die VOD-beraad voorgelê word.

2.2.  Die verslag is 'n produk van uitgebreide deelname deur sektordepartemente, Statistieke SA, akademici en organisasies uit die burgerlike samelewing. Dit doen verslag oor die land se vordering met die implementering van die VOD-doelwitte, wat met ons Nasionale Ontwikkelingsplan ooreenstem. Nadat die landverslag by die VN gedeponeer is, sal dit deur die VN se webwerf vir die publiek toeganklik wees.

2.3.  Suid-Afrika bly daartoe verbind om tot die globale 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling van die wêreld by te dra. Die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte bestaan uit 17 doelwitte en 169 teikens; dit sluit ’n wye verskeideneheid kwessies in wat wissel van onderwys en armoede tot omgewingsake, ekonomiese groei en geslagsverskille in die wêreld.  

3.  Cartagena-protokol oor Bioveiligheid

3.1.  Die Kabinet keur Suid-Afrika se Vierde Nasionale Verslag oor die Implementering van die Cartagena-protokol oor Bioveiligheid goed. Die verslag sal voor 1 Oktober 2019 by die Verdrag vir Biologiese Diversiteit se Sekretariaat ingedien word.

3.2.  Die Cartagena-protokol reguleer die beweging van lewende gewysigde organismes, ook bekend as geneties gemodifiseerde organismes (GGO's), binne die land en na ander lande.

3.3.  Suid-Afrika voldoen volledig aan die bepalings van die Cartagena-protokol. Die land se raamwerk vir bioveiligheidsregulering reguleer inkomende of uitgaande GGO-produkte. Suid-Afrika dra ook by tot die opleiding van alle gebruikers van GGO's in die land en buurlande.

4.   Raamwerk vir die Implementering van Sanitêre Waardigheid

4.1.  Die Kabinet keur die hersiene Raamwerk vir die Implementering van Sanitêre Waardigheid goed. Die implementering van hierdie raamwerk gee uitvoering aan die grondwetlike reg op waardigheid en 'n reg op lewe vir vroue en meisies uit behoeftige gesinne.

4.2.  Die raamwerk bied riglyne oor die aankoop van sanitêre produkte, die verspreidingsmeganisme van sanitêre dovekies, sanitêre afvalverwydering en die institusionele raamwerk om toesig te hou oor die verspreiding. Dit maak ook voorsiening vir opleiding en bestuur rakende die gesondheid van die begunstigdes van die sanitêre produkte.

4.3.  Fondse is deur die Nasionale Tesourie vir hierdie boekjaar en daaropvolgende jare toegewys. Die nulgradering van sanitêre produkte het op 1 April 2019 in werking getree.

5.   Handel

5.1.   Die Kabinet het 'n verslag ontvang oor die uitslag van die onderhandelinge met die Verenigde Koninkryk oor 'n ooreenkoms om handel te reguleer indien die Verenigde Koninkryk die Europese Unie (EU) verlaat, naamlik Brexit.

5.2.   Die Verenigde Koninkryk is Suid-Afrika se vierde grootste handelsvennoot, met bilaterale handel van R142 miljard in 2018.

5.3. Die Kabinet neem kennis dat die voorgestelde ooreenkoms die voorwaardes herhaal wat tans op bilaterale handel van toepassing is, soos uiteengesit in die Europese Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms met ses SAOG-lande. Dit is in die vorm van 'n nuwe ekonomiese vennootskapsooreenkoms tussen die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Lesotho, Eswatini en Mosambiek. Dit sal in werking tree indien die Verenigde Koninkryk die EU sonder 'n voldoende onttrekkingsooreenkoms verlaat.

5.4.  Na oorweging van die verslag het die Kabinet die nuwe ekonomiese vennootskapsooreenkoms goedgekeur. Die nuwe EPA sal die voorkeurtariefregime, kwotas, gesondheids- en veiligheidstandaarde, asook ander sleutelterme bewaar en verseker dat Suid-Afrika se handel met die Verenigde Koninkryk sonder ontwrigting voortgaan om Suid-Afrika se nasionale belang te beskerm.

5.5  Die Kabinet keur goed dat die voorgestelde ooreenkoms aan die Parlement vir bekragtiging voorgelê word, sodra al die partye die ooreenkoms onderteken het.

6.  Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy se muntontwerpe

6.1.  Die Kabinet keur die volgende muntontwerpe van die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy vir die 2020 gedenkmuntreeks goed – 2020 fynsilwer R2 (2 oz.) Krugerrand; en 2020 fynsilwer R25 (1 oz.) Natura. Die tema van hierdie muntreeks is “Rise of dinosaurs – Archosauria”. 'n Amptelike aankondiging wat uitvoering aan hierdie gedenkmuntstukke sal gee, sal gemaak word.

C.  Toekomstige gebeure

1.  Vervoermaand

1.1  Die Kabinet keur die Plan van Aksie en die 365-dae-veldtog vir vanjaar se Vervoermaand in Oktober goed. Die is tema "Laat ons saam die momentum van dienslewering aan die gang hou en die ekonomie laat groei". Die veiligheid op ons paaie verg 365 dae se gesprekvoering en deurlopende bewusmaking van alle padgebruikers – motoriste sowel as voetgangers.

1.2  Die veldtog sal ook die regering se ingryping om die land se vervoerstelsel te verbeter, die beplande infrastruktuurbeleggings en die publiek se verantwoordelikheid om openbare infrastruktuur te beskerm, beklemtoon.

D.  Boodskappe

1.  Meegevoel

Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die:
1.1.  Naasbestaandes van die Adjunkminister van Minerale Bronne, me Bavelile Hlongwa, wat in 'n motorongeluk gesterf het, sowel as aan die naasbestaandes van die vier mense wat op die ongelukstoneel dood is terwyl hulle probeer het om die passasiers wat by 'n ander voorval betrokke was, te help.

1.2.  Mense en die regering van die Republiek van Zimbabwe met die afsterwe van voormalige President Robert Gabriel Mugabe. Onder President Mugabe se leiding het Zimbabwe se volgehoue en dapper stryd teen kolonialisme ons eie stryd teen apartheid geïnspireer en ons hoop gegee dat Suid-Afrika ook vry sou wees.

1.3.  Familie en vriende van die voormalige Springbok-rugbyvleuel Chester Mornay Williams, wat nasionale en internasionale aansien verwerf het met sy bydrae tot Suid-Afrika se oorwinning in die historiese Rugbywêreldbeker van 1995. Sy prestasies op die rugbyveld het die strewe en drome van talle jong mense geïnspireer. President Cyril Ramaphosa het die rugbyheld vereer deur 'n spesiale provinsiale amptelike begrafnis (kategorie 2) vir hom te verklaar.

1.4.  Familie en vriende van die voormalige Robbeneiland-gevangene en Wes-Kaapse veteraan, Vincent Diba. President Ramaphosa het 'n spesiale provinsiale begrafnis (kategorie 2) vir hom verklaar, wat onder meer seremoniële elemente deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens insluit.

1.5.  Familie en vriende van die anti-apartheidsaktivis Adelaine Hain – moeder van die senior Britse politikus Lord Hain – wat in die ouderdom van 92 oorlede is. Adelaine Hain het 'n bydrae gelewer om apartheid te beveg en onderdrukte gemeenskappe te help – 'n verbintenis wat daartoe gelei het dat die apartheidsregering haar, en later haar man, Walter, verbied het en hulle gedwing het om in ballingskap in die Verenigde Koninkryk te woon.

2.  Gelukwense

2.1.  Die Kabinet wens saam met die land se mense en die res van Afrika die Ndlovu-jeugkoor geluk dat hulle tot die eindronde van America's Got Talent-kompetisie deurgedring het. Die koor het die hele land en vasteland regdeur die kompetisie trots gemaak.

2.2.  Oratilwe AJ Hlongwane, beter bekend as DJ Arch Jnr, wat South Africa's Got Talent in 2015 gewen het toe hy drie jaar oud was. Die Guinness World Records het hom in 2017 amptelik as die jongste DJ in die wêreld aangewys. Hy is genooi om in verskillende lande op te tree en hou die Suid-Afrikaanse vlag hoog met sy ongelooflike optrede in die TV-program Britain's Got Talent: The Champions. Ons wens hom alles van die beste toe.

Navrae: Me Phumla Williams – Waarnemede Direkteur-Generaal (GCIS)
Sel: 083 501 0139

 

Share this page

Similar categories to explore