Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 18 Oktober 2017

Die Kabinet het op Woensdag, 18 Oktober 2017 by Tuynhuys in Kaapstad, vergader.

A. Belangrike kwessies in die omgewing

1. Mediavryheidsdag

1.1. Die Kabinet herdenk Mediavryheidsdag saam met alle Suid-Afrikaners op Donderdag, 19 Oktober 2017.
1.2. Die media het ’n sleutelrol in die stryd teen apartheid gespeel, asook om die gruweldade en geweld wat deur die apartheidsregime gepleeg is, bloot te lê. Dit is vanjaar 40 jaar sedert die apartheidsregime progressiewe koerante soos die World, die Weekend World en die Voice verban het.
1.3. Vandag is mediavryheid stewig in Suid-Afrika se Grondwet verskans en bly steeds ’n fundamentele kenmerk van ons ontwikkelende nasie.
1.4. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners verder aan om toegang tot inligting te bevorder en die reg op mediavryheid op ’n verantwoordelike manier te gebruik om te help om ’n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en welvarende Suid-Afrika vir almal te bou.

2. Oseane-ekonomie

2.1. Die Kabinet loof President Jacob Zuma vir die lewering van ’n vorderingsverslag aan belanghebbers oor die implementering van Operasie Phakisa vir die Oseane-ekonomie en doen ’n beroep op alle belanghebbers om steeds in vennootskap met die regering te bly werk om die ekonomiese potensiaal van ons oseane te ontsluit.
2.2. Die Oseane-ekonomie het reeds ongeveer 4,4% tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk bygedra en die President se verslag aan belanghebbers toon duidelik die daadwerklike poging en ondersteuning van al die regeringsvennote om hierdie geweldige potensiaal te ontgin.
2.3. Projekte met betrekking tot die Oseane-ekonomie het tot dusver altesaam R24,6 miljard in beleggings van die regering en privaat sektor ontsluit, en het meer as 6 500 werksgeleenthede geskep.
2.4. Die grootste belegging in die Oseane-ekonomie, wat deur regeringsinisiatiewe gefasiliteer is, is gerig op die ontwikkeling van infrastruktuur, hoofsaaklik hawens, vervaardiging, bootbou, akwakultuur en wetenskaplike opnames in die olie-en-gassektor.
2.5. Die regering beplan om die grootste enkele bootboufasiliteit in suidelike Afrika op die been te bring. Die KwaZulu-Natal Bootboupark in Durban se hawe sal die potensiaal uit nuwe beleggings, uitvoere en werkskepping ontgin.

3. Staatsbesoek aan Zambië

3.1. Die Kabinet verwelkom die resultate van President Zuma se staatsbesoek aan die Republiek van Zambië vanaf 12 tot 13 Oktober 2017.
3.2. Wisselwerking tussen President Zuma en sy Zambiese ampsgenoot Edgar Lungu het die bestaande goeie politieke, ekonomiese en kulturele betrekkinge tussen die twee lande verstewig. Dit is gegrond op sterk historiese bande wat teruggaan na die jare van die vryheidstryd.
3.3. Die twee staatshoofde het die OR Tambo Nasionale Erfenisterrein in Chelstone, Lusaka, amptelik geopen, ter ere van OR Tambo se bydrae tot suidelike Afrika se vryheidstryd.
3.4. Zambië bly een van Suid-Afrika se top handelsvennote in die streek en op die vasteland.  Ekonomiese samewerking tussen Suid-Afrika en Zambië groei steeds, met Suid-Afrikaanse uitvoere na Zambië wat in 2016 ongeveer R30 miljard bedra het. Die twee lande werk saam op verskeie terreine, insluitend handel en belegging, wetenskap en tegnologie, verdediging, landbou, die omgewing, energie en gesondheid.

4. Werksbesoek aan Nigerië

4.1. Die Kabinet wens President Zuma geluk dat hy vereer is deur ’n standbeeld  en ’n straat in Nigerië wat na hom vernoem is tydens ’n werksbesoek om sosio-ekonomiese betrekkinge en ander vorms van samewerking tussen die twee lande te verstewig.
4.2. Die Staatsgoewerneur van die staat Imo, Rochas Okorocha, het die Imo-merietetoekenning aan President Zuma oorhandig. Dit is die hoogste toekenning deur dié staat aan mense wat ’n verskil in die ontwikkeling van hul gemeenskappe gemaak het.

5. 17de Vergadering van die Indiese Oseaankom-vereniging (IORA) se Raad van Ministers

5.1. Suid-Afrika het die voorsitterskap van IORA tydens die 17de vergadering wat vanaf 14 tot 18 Oktober 2017 in Durban gehou is, aanvaar.
5.2. Die tema vir Suid-Afrika se ampstermyn is “Verenig die Volke van Afrika, Asië, Australasië en die Midde-Ooste deur Verbeterde Samewerking vir Vrede, Standvastigheid en Volhoubare Ontwikkeling”.
5.3. Die Kabinet het deur hierdie voorsitterskap sy verbintenis herbevestig om streeksamewerking te bevorder op terreine soos die blou ekonomie; bemagtiging van vroue; bevordering van klein, medium en mikro-ondernemings; jeugbemagtiging, en samewerking in die akademie, wetenskap en tegnologie.

6. Jaarvergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank

6.1. Die Kabinet is deur die Minister van Finansies, mnr Malusi Gigaba, toegespreek na afloop van Suid-Afrika se deelname aan die IMF en die Wêreldbank se 2017 jaarvergaderings, wat vanaf 13 tot 15 Oktober plaasgevind het.
6.2. Die vergaderings het die geleentheid gebied om internasionale vordering oor ontwikkelingskwessies te evalueer en Suid-Afrika se eie inisiatiewe vir sosio-ekonomiese ontwikkeling, inklusiewe groei, werkskepping en armoedeverligting toe te lig.
6.3. Die Kabinet is ook ingelig oor die vergadering wat Minister Gigaba met soewereine kredietagentskappe en beleggers gehou het om Suid-Afrika se huidige beleide oor en benadering tot fiskale dissipline te herbevestig.
6.4. Die Kabinet is tevrede met die versekering wat aan beleggers gegee is oor die regering se planne om die ekonomie te laat groei en die regering se verbintenis om beheerkwessies in Suid-Afrika se entiteite in staatsbesit aan te pak.
6.5. Die Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring sal op 25 Oktober in Kaapstad in die Parlement ter tafel gelê word en sal ’n uiteensetting gee van die regering se bestedingsplanne oor die volgende drie jaar.

7. Infrastruktuurontwikkeling

7.1. Die Kabinet prys die enorme hupstoot vir die regering se infrastruktuurontwikkeling met die amptelike oorhandiging van drie brûe deur President Zuma in Botlokwa, Limpopo op 17 Oktober 2017.
7.2. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap het die Botlokwa-brûe gebou; dit sluit een padbrug en twee voetgangerbrûe op die N1 tussen Polokwane en Makhado in.
7.3. Die Kabinet is positief dat hierdie projek reistoestande en veiligheid vir alle padgebruikers in die gebied aansienlik sal verbeter.

8. Klein en mediumondernemings

8.1. Die Kabinet prys die Departement van Kleinsakeontwikkeling vir sy rol as medegasheer van vanjaar se Sjina Internasionale Klein- en Mediumonderneming (KMO)-skou, wat sal bydra tot die ontsluiting van die Sjinese mark vir Suid-Afrika se klein sakeondernemings en koöperasies. Die KMO-skou vind vanaf 10 tot 27 Oktober 2017 in Guangzhou, Sjina plaas.
8.2. Klein sakeondernemings is die hartklop van ons gemeenskap en die dryfkrag vir ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika, en ons deelname aan die handelskou het marktoegang en geleenthede om ondernemings te ontwikkel, bevorder.
8.3. Die Kabinet is oortuig dat dit bewys lewer van die regering se verbintenis tot die doelwit om entrepreneurskap te bevorder en te handhaaf. Belegging in klein sakeondernemings sal ons land help om die heersende sosio-ekonomiese uitdagings aan te pak.

9. Toerisme

9.1. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Program vir Nasionale Toerismemonitors in Soweto, op Dinsdag 17 Oktober 2017, wat daarop gerig is om besoekerservarings te verryk en toeriste se veiligheid te verbeter.
9.2. Die Departement van Toerisme, in vennootskap met die Gauteng Toerisme-owerheid, het die program in Vilakazistraat bekendgestel. Dit is die enigste straat ter wêreld wat met twee Nobelpryswenners se wonings spog, naamlik dié van voormalige President Nelson Mandela en Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu.  
9.3. Hierdie program is met die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) belyn, naamlik om werksgeleenthede vir 200 jeugdiges te skep. Hierdie jongmense sal opleiding ontvang om vir ’n tydperk van 36-maande monitors by toerismebestemmings te word.
9.4. Die Kabinet moedig sake-eienaars en gemeenskappe in Gauteng aan om met die toerismemonitors saam te werk om toeriste se veiligheid te verbeter en die ekonomiese potensiaal van hierdie bedryf te ontgin.

10. Wetenskap en Tegnologie

10.1. Die Kabinet verwelkom en wens die wetenskaplikes geluk wat aan die Suid- Afrikaanse Sterrewag (SAAO) en die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT) se teleskoopontdekkingsproses deelgeneem het. Dit het gelei tot ongeëwenaarde internasionale samewerking om die oorsprong van die eerste bespeuring van gravitasiegolwe wat deur twee botsende neutronsterre voortgebring is, te ondersoek. Die botsing het ook ’n kilonova-ligontploffing veroorsaak. ’n Kilonova is ’n sterrekundige gebeurtenis wat in ’n binêre stelsel voorkom wanneer twee neutronsterre of ’n neutronster en ’n gravitasiekolk saamsmelt.
10.2. Die ontdekking lui ’n nuwe era in astrofisika in; dit is die eerste kosmiese gebeurtenis wat in sowel gravitasiegolwe as lig waargeneem is. SALT en ander SAAO-teleskope het sommige van die heel eerste data verskaf in wat een van die mees bestudeerde astrofisiese gebeurtenisse ooit blyk te wees.
10.3. SALT en SAAO is twee van die 70 land- en ruimtegebaseerde sterrewagte wat die kataklismiese ontploffing van twee botsende neutronsterre waargeneem het onmiddellik nadat hul gravitasieskokgolwe deur die VSA-gebaseerde Laser Interferometer Gravitational-Wave Observatory, en die Europees-gebaseerde Virgo-opspoorder bespeur is.

11. Wêreldfees van Jeug en Studente

11.1. Rusland bied vanaf 14 tot 22 Oktober 2017 die 2017 Wêreldfees van Jeug en Studente aan, wat deur meer as 20 000 jeugdiges vanuit 150 lande bygewoon word.
11.2. Die doel van die fees is om die jong mense van die wêreldgemeenskap byeen te bring rondom die idee van geregtigheid, die verstewiging van internasionale betrekkinge, en die ontwikkeling van inter-etniese en interkulturele verhoudings.

12. Kinderbeskerming

12.1. Die Kabinet spreek sy kommer uit oor die ontstellende berigte van misdrywe teen kinders, soos die mees onlangse verslag oor die beweerde seksuele aanranding van meer as 80 leerders by die AB Xuma Primêre Skool in Orlando, Soweto deur ’n skolierpatrolliebeampte. Die provinsiale departement word geloof vir die spoedige optrede om die skool se senior bestuurspan met onmiddellike effek te skors, maatskaplike werkers te ontplooi en ’n ondersoek deur ’n onafhanklike liggaam te gelas.
12.2. Die Kabinet doen ’n beroep op alle gemeenskappe in Suid-Afrika om saam te werk om  al ons kinders teen enige vorm van gevaar of mishandeling te beskerm en om in vennootskap met die plaaslike polisie te help om ons gemeenskappe veilig te hou.

13. Eksamens

13.1. Die Kabinet is vol vertroue dat die skole se eindeksamens sonder enige onderbrekings sal verloop, ná verlede week se massaprotesoptog onder leiding van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU).
13.2. SADOU het ’n memorandum oorhandig aan die Minister van Basiese Onderwys, me Angie Motshekga, wat onderneem het om die vraagstukke so spoedig moontlik op te los. Dit is belangrik dat alle belanghebbers saamwerk om ’n bevorderlike omgewing te skep waarin leerders in staat gestel word om op hul leerproses en eksamens te fokus.

14. Storms

14.1. Die Kabinet dra sy innige meegevoel oor aan die geliefdes van diegene wat tydens die onlangse storms in dele van die land gesterf het.
14.2. Die Kabinet bedank ook al die vrywilligers, burgerlikesamelewingsorganisasies, gemeenskappe, noodlenigingswerkers en rampbestuurspanne vir hul bystand aan almal wat deur die storms geraak is.
14.3. Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede, mnr Des van Rooyen, het in sy hoedanigheid as die hoof van die Nasionale Rampbestuursentrum in Suid-Afrika op 13 Oktober 2017 besoeke gebring aan gebiede in die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit in KwaZulu-Natal, wat deur die storms en swaar reën getref is. Op 16 Oktober 2017 het hy gebiede wat in die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit in Gauteng getref is, besoek.

Negentien mense het gesterf en meer as 20 mense is beseer weens die swaar reën en storms wat in groot dele van die land gewoed het.  Minister van Rooyen het ook die terreine in Philippi in die Wes-Kaap besoek waar ses familielede, insluitend drie kinders, gesterf het in ’n brand wat drie informele huise en ’n snoepwinkel vernietig het.

15. Life Esidimeni

15.1. Die Kabinet neem kennis van die aanvang van die Life Esidimeni alternatiewe geskiloplossingsproses as ’n moontlike eerste stap vir families van die pasiënte wat gesterf het om berusting te vind.
15.2. Die Kabinet het volle vertroue in die afgetrede adjunkhoofregter van die Konstitusionele Hof, Dikgang Moseneke, wat as voorsitter in die saak optree, en wens die familielede alle sterkte toe terwyl hulle hierdie tragedie gedurende die pynlike ondersoekproses moet herleef.
15.3. Die ondersoek behoort nie net berusting te bring vir families wat deur die tragedie geraak word nie, maar hou ook lesse in vir die regering in die algemeen. Die regering is verbind tot die voorsiening van gehaltedienste aan alle Suid-Afrikaners.

16. Voëlgriep

16.1. Die Kabinet het die versekering van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye dat dié departement deurlopende waarnemings op plase regoor die land doen in ’n poging om te voorkom dat voëlgriep (HPAI) H5N8 verder versprei.
16.2. Hierdie spesifieke tipe voëlgriep is in voëls bespeur. Die Kabinet doen ’n dringende beroep op die publiek om nie siek of dooie voëls te hanteer nie en nie wilde voëls te probeer voer nie, maar eerder voëls wat vermoedelik siek is by die plaaslike owerhede aan te meld.

17. Aanvalle op polisie

17.1. Die Kabinet veroordeel die aanval op ses lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Vanderbijlpark, Gauteng op 10 Oktober 2017 deur lede van die gemeenskap.
17.2. Die wetstoepassingsagentskappe het die mandaat om die samelewing teen enige misdadige optrede te beskerm. Geen mate van woede kan dus aanvalle op wetstoepassingsagentskappe regverdig nie.  
17.3. Die Kabinet doen ’n dringende beroep op lede van die gemeenskap om met die polisie saam te werk om misdadigers in hegtenis te neem en Suid-Afrika vir almal veiliger te maak.
 
B. Kabinetsbesluite

18. Maatskaplikebehuisingsprogram

18.1. Die Kabinet is ingelig oor van die bevindings en aanbevelings van die  Evaluering van die Uitwerkings en Implementering van die Maatskaplikebehuisingsprogram en die verbeteringsplan, met die doel om ruimtelike patrone uit die apartheidsera om te keer deur die ruimtelike plekbepalings en stedelike integrasie van behuisingsprojekte te verbeter.
18.2. Die program bied bekostigbare huurakkommodasie vir lae- en middelinkomstehuishoudings in woonbuurte waar marktoestande hulle andersins sou uitsluit of ontoereikende behuising aan hulle sou toewys.
18.3. Dit is die enigste program wat hefboomskuldfinansiering gebruik; projekte se finansiële volhoubaarheid op die lang termyn in ag neem; en ’n positiewe finansiële siklus skep met huurders wat huurgeld betaal en maatskaplikebehuisingsinstellings wat munisipale belasting, eiendomsbelasting en diensgelde aan munisipaliteite betaal.
18.4. Hierdie verslag help die betrokke departemente om hul onderskeie operasionele planne verder te verbeter. Die volledige verslag sal op die Departement van Prestasiemonitering en Evaluering se webblad (www.dpme.gov.za) gepubliseer word.

19.  Nasionale Jeugdiens (NJD)

19.1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die hersiene en verbeterde NJD Programraamwerk as deel van die ontwikkeling van jong mense as aktiewe landsburgers van Suid-Afrika.
19.2. Die NJD stel jong mense in Suid-Afrika in staat om aktiewe burgers van die land te word en ’n positiewe bydrae tot die land se ontwikkeling te lewer terwyl hul op persoonlike en professionele vlak ontwikkel word. Ingevolge die program sal jong mense deelneem aan aktiwiteite wat plaaslike gemeenskappe bevoordeel, terwyl hulle deur middel van dienslewering en leer hul vermoëns ontwikkel met die oog op geleenthede om arbeidsmarkte suksesvol te betree en entrepreneurs te word.

20. Derde Afrika Forum vir Landbouadviesdienste-voorligtingsweek

20.1. Die Kabinet verleen goedkeuring vir Suid-Afrika om as gasheer op te tree vir die Derde Afrika Forum vir Landbouadviesdienste-voorligtingsweek, wat vanaf 30 Oktober tot 3 November 2017 in KwaZulu-Natal gehou word.
20.2. Die geleentheid is in ooreenstemming met die NOP en identifiseer voedselsekerheid as ’n manier om die drieledige uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid die stryd aan te sê.
20.3. Die tema is: “Vehoog klimaatslim-landbou: integreer jeug, vroue en die digitale rewolusie” (Scaling up climate smart agriculture: integrating youth, women, and the digital revolution). Die geleentheid sal onder leierskap van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gehou word, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Landbouvoorligting en die Afrika-forum vir Landbouadviesdienste.
20.4. Hierdie kontinentale netwerk vir Landbouvoorligting- en Adviesdienste (AEAS) in Afrika bied ’n platform vir wedersydse leer en innovering onder AEAS-verskaffers regoor Afrika en die res van die wêreld.
20.5. Die NOP bepleit ook ’n verbetering in vaardigheidsontwikkeling en -opleiding in die landbousektor, met inbegrip van die opleiding van ’n nuwe kader van voorligtingspraktisyns wat doelmatig op die behoeftes van kleinboere sal reageer.

21. Wêreldwynhandelsgroep

21.1. As deel van pogings om handelsversperrings uit die weg te ruim, is die Kabinet ingelig oor Suid-Afrika se voorsitterskap van die Wêreldwynhandelsgroep vanaf April 2017 tot Mei 2018. Suid-Afrika sal in sy hoedanigheid as voorsitter vanaf 1 tot 3 November 2017 die jaarvergadering van die Wêreldwynhandelsgroep in Kaapstad aanbied.
21.2. Die groep het ten doel om internasionale handel in wyn te bevorder deur die uitruil van inligting, bespreking van reguleringskwessies in wynmarkte en gesamentlike optrede om handelsversperrings uit die weg te ruim. Opkomende produsente en uitvoerders in die Suid-Afrikaanse wynbedryf sal deur Suid-Afrika se deelname baat.
21.3. Dit dra ook by tot die Negepuntplan en die NOP, wat beoog om nuwe lewe in die landbou- en landbouverwerkingsketting te blaas. Die doelwitte in die wynsektor is om die gebied waar wyn geproduseer word uit te brei, kleinprodusente te ondersteun en op bepaalde markte vir uitvoergroei te fokus.

22. Vyfde Jaarvergadering van die  ID4AFRICA-beweging

22.1. Die Kabinet verleen goedkeuring dat Suid-Afrika as gasheer vir die Vyfde Jaarvergadering van die  ID4AFRICA-beweging in 2019 sal optree.
22.2. ID4Africa is ’n multi-belanghebberbeweging wat die deursigtige en verantwoordelike aanvaarding van digitale identiteit om sosio-ekonomiese ontwikkeling in Afrika te dryf, bevorder.
22.3. Besprekings sal daarop gerig wees om die manier waarop burgerlike registrasie- en bevolkingsdata ingewin, gekoördineer en ontleed word te verbeter, en daardeur beleidsmakers van betroubare inligting te voorsien.
22.4. Die aanbieding van hierdie konferensie sal Suid-Afrika help om sommige van die doelwitte van die NOP te bereik en bewustheid te skep van die strategiese waarde vir die Suid-Afrikaanse identiteitstelsels soos die vasleggingstelsel van bevolkingstatistiek vir paspoort- en slim identiteitsdokument (ID)-kaarte. Dit sal ook ander lande in die streek positief mobiliseer om die voordele van die slim ID-kaart in te sien.

23. Nasionale misdaadstatistiek

23.1. Die Kabinet is ingelig oor die nasionale misdaadstatistiek vir die tydperk 1 April 2016 tot 31 Maart 2017.
23.2. Die jaarlikse misdaadstatistiek stel die regering in staat om sleutelmisdaadbestrydingsmikpunte te monitor, wat in die Mediumtermyn-  Strategiese Raamwerk 2014-2019 uiteengesit word. Die misdaadstatistiek word as ’n vroeë waarskuwingstelsel gebruik om verskillende departemente se misdaadvoorkomingsoefeninge en -strategieë te versterk.
23.3. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die vrystelling van die verslag deur die Minister van Polisie, Fikile Mbalula.

C. Toekomstige gebeure

24.  OR Tambo Eeufeesviering

24.1. Die Kabinet is verheug dat voorbereidings vir die Eeufeesviering van die geboorte van OR Tambo in ’n gevorderde stadium is. Die Kabinet doen voorts ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hulle deurlopend te vergewis van die nalatenskap van ons vryheidstryd-ikoon, die rol wat hy in ons bevryding gespeel het en sy waardes wat ons vandag nog lei.
24.2. President Zuma het 2017 as die Jaar van OR Tambo verklaar, met die tema: “Die Lewe en Nalatenskap van OR Tambo”.  Hy sal op Donderdag, 19 Oktober 2017, ’n lewensgrootte standbeeld van OR Tambo by die OR Tambolughawe in Ekurhuleni, Gauteng  onthul.
24.3. Alle Suid-Afrikaners word aangemoedig om deel te neem aan die eeufeesvierings, wat op 27 Oktober ’n hoogtepunt bereik in Mbizana, in die Oos-Kaap, waar hierdie ikoon van die vryheidstryd 100 jaar gelede gebore is.
24.4. Die regering bou sedert 1994 onverpoos op OR Tambo se nalatenskap voort, en ons talle suksesse as Suid-Afrikaners moet gevier en verdedig word.
24.5. Die Interministeriële Komitee wat met die voorbereidings vir die eeufeesvierings belas is, onder die voorsitterskap van Minister Jeff Radebe, sal op Vrydag, 20 Oktober 2017 die media oor die gereedheidstoestand inlig.

D. Boodskappe

25. Somalië-aanval
25.1. Die Kabinet veroordeel die onlangse bomaanval buite ’n hotel in Mogadishu, Somalië ten sterkste. Minstens 300 mense het luidens berigte gesterf en honderde is beseer. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die geliefdes van diegene wat in die veragtelike aanval op onskuldige mense gesterf het.

26. Simpatiebetuiging aan die Lubisi-familie

26.1. Die Kabinet dra ook sy innige meegevoel oor aan die direkteur-generaal in die Presidensie, Dr Cassius Lubisi, met die heengaan van sy vrou, me Lumka Lubisi, vroeër vandeesmaand. Die Kabinet wens die familie sterkte toe tydens hierdie hartseer tydperk.

E. Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
(a) Adjunk-direkteur-generaal (ADG): Opleidingsbestuur en -lewering,  Nasionale Skool van die Regering, Mnr S Manana;
(b) Hoof Finansiële Beampte, Departement van Openbare Werke (DOW), Me R Sadiki;
(c)  Afdelingshoof: Konstruksiebestuur in die DOW, Mnr B Mokhothu;
(d) ADG: Openbare Finansies in die Departement van Nasionale Tesourie, Dr MP Modise;
(e) ADG: Hospitale, Tersiêre Gesondheidsdienste en Menslike-hulpbronontwikkeling, Departement van Gesondheid, Dr WW Chitha;
(f)  Uitvoerende Direkteur van die Sentrum vir Staatsdiensinnovering, Me TE Rabebe;
(g) Tussentydse Raad van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika:

  • Advokaat Tintswalo Annah Nana Makhubele (SC) – (Voorsitter);
  • Dr Natalie Skeepers;
  • Prof John Maluleke; en
  •  Me Magdelene Cheryl Reddy.

(h) Raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens:

  • Mnr JB Magwaza – (Voorsitter);
  • Me Nolitha Fakude – (Adjunkvoorsitter);
  • Mnr Geoff Rothschild;
  • Me Tinyiko Mhlari;
  • Mnr Ahmed Bassa; en
  • Mnr Martin Kingston.

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Direkteur-generaal (GCIS)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore