Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 17 September 2014

1. Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

1.1. Lesotho

Die Kabinet waardeer President Zuma en die SAOG se inisiatief om vrede in Lesotho te herstel. Die Kabinet ondersteun die onlangse beraad ingevolge waarvan die Adjunk-President van die Republiek van Suid-Afrika, die agbare Cyril Ramaphosa, ondersteun deur die sekretariaat en ’n span kundiges van Troika-lidstate, aangewys is om as SAOG-fasiliteerder in die Koninkryk van Lesotho op te tree. Die Adjunk-President, sekretariaat en kundiges het duidelike opdragte oor die herstel van die politieke stabiliteit en veiligheid in die Koninkryk van Lesotho oor die kort- en lang termyn. 

1.2. Tentoonstelling van Suid-Afrikaanse maatskappye in Rusland
Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die Suid-Afrikaanse maatskappye, wat as die beste tydens die Wêreldvoedselskou in Moskou bekroon is. Danksy die samewerking van die Departement van Handel en Nywerheid, het Russiese voedselinvoerders Suid-Afrikaanse voedselprodukte goed ontvang. Hierdie internasionale toekenning vind plaas teen die agtergrond van President Zuma se onlangse besoek aan die Russiese Republiek. Vanjaar het sowat 3 000 uitstallers hul produkte uitgestal. Danksy die skema vir die bemarking van uitvoere en hulp met beleggings (EMIA) kon 21 Suid-Afrikaanse maatskappye Suid-Afrika se landbouverwerkingsektor van daar ten toon stel.

1.3. Opstelkompetisie oor Nat Nakasa en prestasies in Vryheid en Demokrasie   

Die Kabinet wens die wenners van die eerste opstelkompetisie geluk. Hulle moes ’n opstel skryf oor die lewe van Nat Nakasa, ’n prominente joernalis wie se oorskot ná 50 jaar, op 19 Augustus 2014, na Suid-Afrika teruggebring is. Die inisiatief deur die Departement van Kuns en Kultuur herinner ons jeug aan die stryd vir vryheid en stel hulle bloot aan die geskiedenis van skryfwerk en joernalistiek in Suid-Afrika. Drie studente in joernalistiek, Sbongakonke Mbatha, Qiniso Mbili en Nkamogeleng Lebeloane het elk ’n internskap en ’n skootrekenaar gewen.

Daar was ook ’n kategorie waarin leerders debat moes voer oor die prestasies wat deur vryheid en demokrasie teweeg gebring is. Die kompetisie was daarop gemik om bewustheid te kweek oor die rol van joernaliste tydens die vryheidstryd in Suid-Afrika. Die wenners, Mfundo Radebe, Dumisa Nzama, Danielle Dallas, Olivia Habonimana, Faith Marthinussen en Cebisa Ncube, het elk ’n skootrekenaar gewen.

2. Sleutelbesluite deur die Kabinet

2.1. Oordrag van die Departement van Gesondheid se Biovac-aandele
Die Kabinet het die oordrag van die Departement van Gesondheid se aandele in die Instituut vir Biologie en Entstowwe van Suider-Afrika (Biovac) aan die Departement van Wetenskap en Tegnologie, goedgekeur.

Biovac is ’n openbare-private vennootskap tussen die Suid-Afrikaanse Regering en die Biovac-konsortium. Die Suid-Afrikaanse Regering se aandele bestaan uit 12,5% wat aan die Departement van Wetenskap en Tegnologie behoort en  35% wat aan die Departement van Gesondheid behoort.

Die oordrag van die aandele volg op die kommer wat uitgespreek is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) dat die Departement van Gesondheid in die huidige formaat in konflik kan wees aangesien dit as aandeelhouer en koper opgetree het. Die WGO vereis dat die regulerende owerheid (in hierdie geval die Medisynebeheerraad, wat deel uitmaak van die Departement van Gesondheid) en sy toesighoudende rol geskei word van dié van enige medisynevervaardiger – in dié geval, Biovac. Die oordrag van aandele van die Departement van Gesondheid na Wetenskap en Tegnologie, sal Biovac in staat stel om sy vervaardigde produkte na lande uit te voer wat by die WGO en Unicef se entstofprogramme baat.

Biovac verskaf veilige en doeltreffende entstowwe van ’n hoë gehalte aan die Staatsdiens, en is ’n toonaangewende verskaffer van pediatrie-entstowwe aan die Regering vir sy Uitgebreide Immuniseringsprogram (UIP). Deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie sal die Regering nou 47,5% van Biovac-aandele besit, terwyl die Biovac-konsortium 52,5% sal besit.

2.2. Eskom

Soos vroeër dié week aangekondig, het die Kabinet maatreëls goedgekeur om die volhoubaarheid van die elektrisiteitsektor te verseker, Eskom se finansies te verbeter, en die energiesekerheid van die land te handhaaf.
Die maatreëls sal op so ’n manier geïmplementeer moet word dat dit nie verdere druk op die land se finansies plaas nie. Die Regering wil terselfdertyd verseker dat arm huishoudings, so ver as fiskale hulpbronne dit toelaat, beskerm word teen die tariefverhoging.

Die Kabinetsbesluit is gegrond op aanbevelings van ’n inter-ministeriële komitee (IMK), wat verskeie opsies oorweeg het om energiesekerheid te verseker. Die IMK sal voortaan die bedryf fyn dophou.

Besonderhede van die maatreëls is op die Nasionale Tesourie se webwerf beskikbaar.

Ter opsomming, die maatreëls bestaan uit, onder meer, ’n inspuiting deur die Regering van bykomende aandele om Eskom te help om sy balansstaat te verbeter en sodoende meer van finansiële markte te kan leen. Om te verseker dat die Regering se finansies nie onder druk geplaas word nie, sal die aandele-inspuiting befonds word deur nie-strategiese regeringsbates te benut. Verdere besonderhede in hierdie verband sal bekend gemaak word sodra die Minister van Finansies die Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring (MTBBV) op 22 Oktober ter tafel lê.

Ander elemente van die maatreëls sluit in: ’n sterk verbetering in Eskom se operasionele doeltreffendheid wat koste sal bespaar; ’n R50 miljard-styging in skuld deur Eskom wat ondersteun sal word deur bestaande staatswaarborge; staatssteun vir Eskom se aansoek aan Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vir ’n aanpassing van die tarief, in lyn met die normale regulerende prosesse bestuur van aanvraag; afrondings aan energiebeleid en die uitbreiding van die onafhanklike kragprodusenteprogram.

Wat betref die beskerming van arm huishoudings, sal die Regering toesig oor die gratis basiese elektrisiteit verskerp. Dit sal verseker dat toekennings doeltreffend gebruik word en dat munisipaliteite die doeltreffendheid waarmee hulle hul netwerke verbeter en elektrisiteit aan verbruikers lewer, verbeter. Hierdie maatreëls is nodig om ekonomiese groei te verbeter om meer werk te skep, en armoede en ongelykheid te verminder.

2.3. Oordrag van administratiewe funksies aan die Kantoor van die Hoofregter
Die Kabinet is in kennis gestel oor die aanvang van die eerste fase van die oordrag van administratiewe funksies en personeel met betrekking tot die Hoër Hof van die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling aan die Kantoor van die Hoofregter. Dit gee uitvoering aan die 17de Wysigingswet op die Grondwet, 2012, en die Wet op Hoër Howe, Wet 10 van 2013.

Die Wet op Hoër Howe verbeter die administrasie van die landdroskantoor deur landdroste in elke afdeling van die Hooggeregshof onder toesig van die Regterpresident van die betrokke afdeling te plaas. Die wet ken magte en funksies toe aan die Kantoor van die Hoofregter, wat as afsonderlike staatsinstelling in 2010 gestig is gelykstaande aan ’n departement van ’n presidensiële proklamasie. Dit bevestig die Regering se verbintenis tot die onafhanklikheid van die regbank soos in die Grondwet vervat.

2.4. Vestiging van ’n projekbestuurkantoor vir die Presidensiële Infrastruktuur Kampvegter-inisiatief

Die Kabinet het die vestiging van die Projekbestuursburo vir die Presidensiële Infrastruktuur-ondersteuningsinisiatief van die Afrika-unie, gelei deur President Zuma, goedgekeur. Dit is ’n infrastruktuurprogram in Afrika met die doel om infrastruktuurprojekte oor landsgrense heen te ondersteun, wat die ekonomiese potensiaal vir die vasteland sal ontsluit en geleenthede vir gemeenskappe, stede en streke sal ontwikkel.

Die Kabinet het die vestiging van die Projekbestuursburo vir die Presidensiële Infrastruktuur-ondersteuningsinisiatief in samewerking met betrokke staatsdepartemente goedgekeur. Die Projekbestuursburo sal ondersteun word deur die vestiging van ’n inter-ministeriële komitee gegrond op die Afrika-unie Presidensiële Infrastruktuur-ondersteuningsinisiatief in Suid-Afrika. Die komitee sal onder voorsitterskap van die Minister in Die Presidensie vir Beplanning, Prestasiemonitering en Evaluering bestuur word.

2.5. Vestiging van ’n groep spesialiste in regte en arbeidsverhoudinge vir die Staatsdiens

Die Kabinet het die skep van ’n poel regsgeleerdes en arbeidsverhoudingespesialiste vir die Staatdiens goedgekeur om die agterstand in hangende gevalle van voorsorgskorsings in die Staatsdiens uit te wis. Die ingryping is daarop gemik om die Staatsdiens meer doeltreffend te maak deur die tydperk vir die voltooiing van dissiplinêre prosesse te verkort, veral waar personeel op volle betaling geskors is.

Die inisiatief verseker verder behoorlike bestuur van dissipline deur ’n maksimum tydperk van drie maande (90 dae) af te dwing om sake af te handel. Die poel spesialiste in regte en arbeidsverhoudinge sal bestaan kundiges in die Staatsdiens, insluitend ondersoekbeamptes, aanklaers en voorsittende beamptes, om ’n optimale waardeketting in arbeidsverhoudinge daar te stel.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet het die ter tafellegging van die Wysigingswetsontwerp op Rampbestuur, 2002 (Wet no. 57 van 2002) goedgekeur. Die Rampbestuurwet no. 57 van 2002 lê ’n geïntegreerde en gekoördineerde benadering tot rampbestuur en ramprisiko-vermindering neer op alle vlakke van regering en betrek alle belanghebbendes.

4. Aanstellings

4.1. Die Kabinet het die aanstelling van 15 lede en die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap se direksie goedgekeur.
a) Me. Joy-Marie Lawrence (Voorsitter)
b) Prof. Ramashwar Bharuthram
c) Mnr. Johan Prinsloo
d) Mnr. Willie van Biljon
e) Me. Mbaliyethu Mfeka
f) Mnr. Eugene Jansen
g) Mnr. Potlaki Maine
h) Me. Gaborekwe Khambule
i) Mnr. Lindelwa Simphiwe Hamilton
j) Mnr. Mmuso Riba
k) Mnr. Ashley Desmond Naidoo
l) Dr. Nozibele Mjoli
m) Me. Matsie Matooane
n) Mnr. Vincent Gore (heraanstelling)
o) Mnr. Marius Rezelman (heraanstelling)
p) Mnr. Omar Latiff

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Skakel: 083 501 0139

Issued by: Government Communications

Share this page

Similar categories to explore