Verklaring oor die Kabinets vergadering van 25 Junie 2014

1. Kabinet se posisie oor huidige kwessies

1.1. Die Kabinet waardeer die sewende Staatsrede deur President Jacob Zuma op Dinsdag, 17 Junie 2014. Die programme wat die President uitgelig het en deur die Nasionale Ontwikkelingsplan gelei sal word, sal in die komende weke deur die onderskeie ministeriële groeperings vrygestel word. In die gees van "Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe," doen die Kabinet 'n beroep op alle sektore van die samelewing om in samewerking met die Regering die nuwe program van aksie te implementeer, wat voortbou op die prestasies van die afgelope 20 jaar van vryheid. 

1.2  Die Kabinet verwelkom die einde van die vyf maande lange staking in die Platinumgordel. Die uitgerekte staking het ernstige negatiewe uitwerking op werkers, werkgewers en die land se ekonomie as geheel gehad. Hoewel die reg om te staak in die Grondwet en arbeidswette beskerm word, doen die Kabinet 'n beroep op werkgewers en die arbeidsbeweging om onderhandelinge vinnig op te los en sulke lang stakings te vermy. Die sukses van ons ontwikkelingsprogramme hang af van 'n stabiele en vooruitstrewende ekonomie. As Suid-Afrikaners het ons almal het 'n verantwoordelikheid om die land se ekonomie te laat groei.

1.3 Die Kabinet neem kennis van die afgradering van Suid-Afrika deur die graderingsagentskappe, Standard & Poor's en Fitch die afgelope week. Die Kabinet benadruk die feit dat die Regering gereed is om die groei-uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, die hoof te bied. Die Regering het 'n prioriteit gemaak van die versnelde implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan, met hervormings wat daarop gemik is om Suid-Afrika se groeipotensiaal te ontsluit.

Die Regering is verbind tot die verbetering van die regulerende omgewing, die vermindering van vaardigheidstekorte en versnelling van sy infrastruktuur-beleggingsprogram om die struikelblokke wat groei belemmer, uit die weg te ruim.

1.4  Die Kabinet verwelkom die bevindinge van die Algemene Huishoudelike Opname 2013 wat Statistieke Suid-Afrika onlangs vrygestel het. Hierdie bevindinge bevestig die goeie vordering wat die Regering se gesonde beleid en programme gemaak het om die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter.

Die opname bevestig dat toegang tot dienste soos water, vullisverwydering, behuising en gratis onderwys bestendige groei getoon het. Die persentasie Suid-Afrikaners met lopende water het tot 89,9% gestyg en die aantal huishoudings met elektrisiteit het in 2013 op 85% gestaan.

Die Regering se program vir maatskaplike toelae bied steeds 'n reddingsboei vir gesinne en gemeenskappe wat andersins deur armoede en werkloosheid vernietig sou wees.  

Die persentasie mense wat toegang tot maatskaplike toelae ontvang, het vanaf 13,7% in 2003 tot 45,5% in 2013 gestyg. Die persentasie huishoudings waar mense honger ly, het van 29,3% in 2002 tot 13,4% in 2013 gedaal. 

1.5 Die Kabinet neem kennis van die hoëvlak- Suid-Afrikaanse afvaardiging gelei deur President Jacob Zuma wat die 23ste Afrika-Unie-spitsberaad onder die tema: "Landbou en Voedselsekerheid in Afrika" bygewoon het. Die beraad het van 20 tot 27 Junie 2014 in Malabo in die Republiek van Ekwatoriaal-Guinee plaasgevind.

As deel van die vasteland, sal Suid-Afrika 'n bydrae maak tot die bespreking van die ontwikkelingsagenda vir Afrika en sal die spitsberaad bystaan om die ontwikkelingsprogramme vir die land te verbeter. 

1.6  Die Kabinet loof die Departement van Kuns en Kultuur en die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap vir hulle leiding in van Jeugmaand-aktiwiteite onder die tema "Jeug Beweeg Suid-Afrika Vorentoe".
Terwyl ons Jeugmaand vier, bevestig die Kabinet die Regering se program om saam met jongmense te werk om hul lewens te verander en die land te transformeer. Oor die afgelope vyf jaar alleen is R2,7 miljard opsygesit vir die finansiering van jeug-entrepreneurskap, het beurse verdubbel en het vroeëkinderontwikkelingsprogramme die grondslagfase van kinderontwikkeling verryk. Die Regering bly verbind tot sodanige ingrypings en nooi jongmense om ons te help om Suid-Afrika te lei.   

2. Sleutelkabinetsbesluite
2.1. Die Kabinet is ingelig oor die vordering van die ontwikkeling van die Nasionale Klimaatsveranderingsreaksieleid (NCCRP): Ontleding van die tempering van kweekhuisgasse. Die verslag ontleed Suid-Afrika se vertoning om die invloed van klimaatverandering doeltreffend te bestuur en maak aanbevelings aangaande die land se bydrae tot die wêreldwye poging om konsentrasies van kweekhuisgasse in die atmosfeer te verminder.

2.2. Die Kabinet het 'n konsep-verslag oor die Nasionale Kweekhuisgasinventaris vir Suid-Afrika vir die tydperk 2000 tot 2010 ontvang. Dit is in lyn met die Verenigde Nasionale Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering, wat Suid-Afrika in 1997 onderteken het. Ingevolge die konvensie moet lande hul vorderingsverslae elke twee jaar indien. Die huidige konsepverslag is vir publieke kommentaar vrygestel. Dit sal later vanjaar gereed wees vir voorlegging.

2.3. Die Kabinet verwelkom die goedkeuring van 'n nuwe buffersone vir die Mapungubwe-wêrelderfenisgebied deur die Wêrelderfeniskomitee van Unesco, wat van 15 tot 25 Junie 2014 sy 38ste Sessie in Doha, Katar, gehou het. Die nuwe buffersone is die gevolg van 'n lang konsultasieproses wat grondeienaars, gemeenskapsverteenwoordigers, nie-regeringsorganisasies, mynmaatskappye en verskeie regeringbelanghebbendes betrek het. Die goedkeuring van die nuwe buffersone is 'n welkome ontwikkeling vir Suid-Afrika se pogings om die bestuur en beskerming van sy wêrelderfenisterreine te verbeter en steeds vir verantwoordelike en volhoubare ontwikkeling voorsiening te maak.

3. Komende gebeure

3.1.  Suid-Afrika sal as mede-gasheer 'n vennootskapsforumvergadering met die Vennootskap vir Moeder-, Pasgebore en Kindergesondheid by die Sandton Konferensiesentrum in Gauteng, van 30 Junie tot 1 Julie 2014 aanbied. Die vennootskap is 'n wêreldwye organisasie waar die Wêreldgesondheidsorganisasie as gasheer optree.

Om as mede-gasheer op te tree bied die forum 'n geleentheid om te fokus op die belangrikheid van die bevordering van moeder-, baba- en kindergesondheid in Suid-Afrika en om alle sektore van die samelewing betrokke te kry om ’n bydrae tot hierdie program te maak.

Die vrystelling van die Wêreld-aftelling van hoe die wêreld besig is om sy Millennium-Ontwikkelingsdoelwitte 4 en 5 te bereik, sal deelnemers van gesondheids- en nie-gesondheidsektore help om vordering te ontleed en lesse daaruit te leer.

Dit sal groter aanspreeklikheid en verantwoordelikheid teenoor vroue, babas, kinders en tieners teweeg bring, sodat hulle hul reg tot die hoogste moontlike standaard van gesondheid vanaf 2015 en daarna kan bereik.

3.2 Suid-Afrika sal die gasheer wees van die Internasionale Wiskundeolimpiade (IWO). Die IWO is 'n jaarlikse probleemoplossingswedstryd vir hoërskoolleerders en word elke jaar in ’n ander land gehou. Dit is 'n geleentheid om ons land se vermoë om wêreldgeleenthede aan te bied en die land se voorste wiskundiges ten toon te stel. ’n Totaal van 109 lande het reeds vir hierdie IWO geregistreer.

4. Aanstellings
Die Kabinet het die volgende aanstellings gedoen:
4.1. Mnr GO Hollamby as adjunk-direkteur-generaal: Finansies en Voorsieningskettingbestuur in die Departement van Binnelandse Sake.

4.2.  Raad van die Openbarebeleggingskorporasie

a) Mnr Mcebisi Hubert Jonas, as nie-uitvoerende direkteur en voorsitter (tydens sy termyn as die Adjunk-Minister van Finansies); en
b) Mnr Roshan Morar as die Adjunkvoorsitter (vir 'n tydperk van drie jaar).

4.3. Spesialis Komitee oor Maatskappyreg (vir 'n tydperk van hoogstens vyf jaar)

a) Vervangingslid, Dr Johannes Erasmus; en
b) Een reserwe, Me Juanita Steenkamp.

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Skakel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore