Verklaring oor die Spesiale Kabinetsvergadering van 13 Januarie 2016

1.1. Die Die Kabinet het vergader om te beraadslaag oor die stand van die ekonomie en begrotingsaangeleenthede. Die Kabinet het kennis geneem van verskeie faktore wat 'n uitwerking op die land se ekonomie het.

Wêreldwye ekonomiese vooruitsigte het gedurende die afgelope paar maande verswak. Stadiger groei wêreldwyd weerspieël in die besonder swakker prestasie en hoër risiko's in verskeie belangrike ontwikkelende lande, insluitend China.

Die welkome herstel wat vir die VSA verwag word, sal heel moontlik tot stygende  rentekoerse wêreldwyd lei. Onderdukte handelsvolumes en onstuimigheid in internasionale kapitaalmarkte beklemtoon die noodsaaklikheid vir nasies om veerkragtigheid op te bou en om met omsigtigheid op te tree in die tydperk wat voorlê.

Die Kabinet het verder kennis geneem dat die lae prys van ru-olie 'n paar voordele inhou. As 'n belangrike uitvoerder van kommoditeite, is Suid-Afrika bekommerd oor die voortgesette lae kommoditeitspryse.

Die Regering bou steeds voort op die land se diverse ekonomiese struktuur, terwyl  die inkomste uit uitvoerprodukte steeds tot 'n groot mate afhanklik is van  metale en semi-verwerkte grondstowwe.

Dit is onwaarskynlik dat die daling in kommoditeitspryse vinnig sal omkeer. Dit sal volgehou gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie inhou, asook vir verskeie van ons vennote in Afrika.

Die verswakking van die Rand oor die laaste paar jaar bied baie beter vooruitsigte vir groei in uitvoere en, gekombineer met die laer internasionale olieprys, het dit gehelp om die druk op die lopende rekening te verlig. Swakker groei onder Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote beteken egter 'n daling in die vraag na Suid-Afrikaanse produkte in die buiteland.

Die internasionale omgewing word beskou as besonder uitdagend vir ontluikende markte, met die laer kommoditeitspryse en strenger monetêre beleid in die VSA wat druk plaas op kapitaalvloei en groeivooruitsigte. Dit het gelei tot beduidende wisselvalligheid in finansiële markte.

Die Suid-Afrikaanse Rand, wat onder die mees verhandelde geldeenhede in die opkomende mark is, is veral hard getref gedurende die afgelope weke.

In hierdie moeilike wêreldwye konteks, waar alle ekonomieë groot uitdagings in die gesig staar, bevestig die Kabinet die noodsaaklikhied vir die Regering om strategies en meer beslissend in te gryp om die momentum van ekonomiese groei te herstel.

1.2.  Die Nasionale Ontwikkelingsplan maak voorsiening vir hierdie ingrypings. Die Regering sal na maatskaplike vennote uitreik, veral in die sake- en georganiseerde arbeidsektore, om konsensus te bereik oor die kollektiewe vereiste om die ekonomie te stabiliseer, selfvertroue te bou, beleggingsvlakke te verhoog en Suid-Afrika te laat terugkeer na 'n pad van inklusiewe ekonomiese groei. Die Staatsrede op 11 Februarie sal hierdie werk in oënskou neem.

1.3. Die Kabinet onderskryf sterker maatreëls om 'n volhoubare fiskale pad te herstel,  met inagneming van die verswakte vooruitsigte vir die wêreldwye ekonomie en sy  binnelandse gevolge. Die Minister van Finansies, Pravin Gordhan sal dié maatreëls  onthul wanneer hy die nasionale begroting op 24 Februarie 2016 voorlê.

2.  Befondsing vir hoër onderwys

Die Kabinet keur die wysigings tot die nasionale begrotingstoekennings goed, naamlik dat hulpbronne verskuif sal word om universiteite te finansier sonder om die bestedingsgrense wat voorheen aangekondig is te oortree.

President Jacob Zuma en die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, het onlangs aangedui dat hierdie toekennings die nul-tarief verhoging wat vir die huidige akademiese jaar ooreengekom is, asook opgehoopte skuld deur studente aan die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) sal dek, en die opbou van sodanige skuld oor die medium termyn sal verhoed.

Hierdie ingrypingsmaatreëls is 'n reaksie op verskeie konsultasies wat in Oktober 2015 begin het en steeds voortduur.

Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding en sy bestuurspan het verskeie vergaderings met SASCO-leierskap gehou, asook met alle verteenwoordigende studenterade, die Suid-Afrikaaanse Universiteitsforum, Suid-Afrikaanse Unie van Studente, die hoof uitvoerende beamptes se SETA’s, die Hoër Onderwys Transformasienetwerk en die parlementêre komitee verantwoordelik vir hoër onderwys.

Die President het ook samesprekings met studenteleiers gehou en het aangekondig dat 'n kommissie saamgestel is om die kwessies wat in hoër onderwys na vore gekom het, te ondersoek. Hierdie samesprekings duur voort omdat die Regering daartoe verbind is om 'n volhoubare oplossing te vind. Die studente se eise strook met die doelwitte van die Regering se program vir onderwys.

2.1.1. As 'n onmiddellike maatreël, is R2,33 miljard toegewys om die tekort aan operasionele befondsing vir universiteite wat weens die ooreenkoms op 'n 0% fooi-inkrement vir 2016 ontstaan het, te dek.

2.1.2. Vir die 2016/17 finansiële jaar, het die Regering opnuut voorkeur verleen aan die toekenning van R2,543 miljard aan NSFAS vir lenings om 71 753 geïdentifiseerde studente by te staan wat vir NSFAS-befondsing gekwalifiseer het, maar wat óf gedeeltelik óf glad nie oor die afgelope drie akademiese jare befonds is nie. Dit beteken dat hierdie verdienstelike studente nie verhoed sal word om hul studies voort te sit omdat hulle die universiteite geld skuld nie.

2.1.3. 'n Verdere R2,039 miljard sal vir die 2016/17 finansiële jaar aan NSFAS toegeken word om onbefondsde of onder-befondsde studente wat in 2016 steeds deel van die universiteitstelsel is te help om hul kwalifikasies te voltooi.

Hierdie fondse is bykomend tot die R10 miljard wat gedurende die 2016 akademiese jaar deur NSFAS geadministreer sal word.

Die Regering is verbind tot gratis naskoolse onderwys, binne fiskale volhoubare perke, aan alle studente uit arm en werkersklasgesinne wat akademies verdienstelik is. Die Kabinet doen 'n beroep op studente, werkers, akademici en universiteitsadministrateurs om met die Regering saam te werk om hierdie doel te bereik. Enige aksies wat leer ontwrig of onredelike en prakties onuitvoerbare verwagtinge skep, is teenproduktief. Geweld en intimidasie is nie aanvaarbaar nie.

2.2. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om kennis te neem van die uitdagende omstandighede in die tydperk wat voorlê. Ekonomiese toestande het wêreldwyd verswak. Die uitwerking van laer kommoditeitspryse word reeds in Suid-Afrika gevoel. Binnelandse beperkings soos onvoldoende elektrisiteitsvoorsiening is nog steeds met ons. Die ernstige droogte veroorsaak verder dat mense in verskeie provinsies noustrop trek.

Die Kabinet vertrou dat Suid-Afrikaners steeds 'n veerkragtige nasie is wat bewus is van die waarde om in vrede en harmonie saam te werk. Die onlangse blootstelling van individue met rassistiese oortuigings, het ons gesamentlike verbintenis om 'n nie-rassige, nie-seksistiese en voorspoedige samelewing te bou, versterk.

3. Aanstellings

Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur:
3.1 Mnr Shonisani Mathews Munzhedzi as Adjunk-direkteur-generaal (ADG): Biodiversiteit en Bewaring, Departement van Omgewingsake.
3.2 Me Siphokazi Ndudane as ADG: Visseryebestuur, Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.

Navrae:
Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore