Statement on Cabinet meeting of 21 October 2015

1. Implementering van die belangrikste Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet ondersteun die inisiatiewe wat die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, in die Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring aangekondig het. Hierdie inisiatiewe sal die ekonomie deur tye van traer wêreldwye ekonomiese groei en wisselvalligheid lei.

Suid-Afrika het vordering gemaak op die gebied van maatskaplike en ekonomiese transformasie en om die struikelblokke wat ekonomiese groei kortwiek, die hoof te bied. Minister Nene het die bestedingsraamwerk van die land vir die volgende drie jaar voorgelê. Die bestedingsraamwerk sal verseker dat die Regering op koers bly met die uitvoering van sy programme soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan. Die sleutelprioriteite bly die kern van die mediumtermyn-bestedingsplanne.

Die Kabinet ondersteun die Regering se kostebesparingsmaatreëls wat sal verseker dat prioriteite geensins in gedrang kom nie.

Die Kabinet verwelkom die uitkomste van President Jacob Zuma se werkbesoek aan die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) van 16 tot 17 Oktober 2015. Oor die volgende dekade gaan die binasionale kommissie die inwerkingstelling van gesamentlike ekonomiese projekte verskerp, veral die Grand Inga-hidrokragprojek. Die projek sal bykomende energie aan die land en die Suider-Afrikaanse streek voorsien.

1.2. Die Kabinet verwelkom Adjunkpresident Cyril Ramaphosa se werkbesoek aan Stockholm, Swede, van 18 tot 20 Oktober 2015. Tydens sy besoek was hy medevoorsitter van die negende sessie van die binasionale kommissie tussen Suid-Afrika en Swede, waartydens ’n subkomitee vir die omgewing, energie en water gestig is.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet het sy steun toegesê aan die G20-lande se Hoëvlakbeginsels oor Voordelige Deursigtigheid van Eienaarskap.  Die beginsels stel maatreëls voor wat elke lidland moet tref om die misbruik van regspersone en regsaangeleenthede oor eienaarskap te voorkom.

Die Kabinet keur verder die oprigting van die interdepartementele komitee goed wat sal toesig hou oor die inwerkingstelling van en verslagdoening oor die land se aksieplan. Die Departement van Staatsdiens en Administrasie sal die komitee byeenroep. 

Hoëvlakbeginsels sal die deursigtigheid van regspersone verbeter en reëlings is belangrik om die integriteit en deursigtigheid van die wêreldwye finansiële stelsel te beskerm.

Voorkoming van die misbruik van hierdie entiteite vir onwettige bedrywighede soos korrupsie, belastingontduiking en geldwassery steun die G20-doelwitte om groei deur beleggings uit die privaat sektor te verhoog.

2.2. Die Kabinet keur Suid-Afrika se voorsitterskap van die Bestuurskomitee van die Oop Regeringsvennootskap (ORV) in 2015-2016 goed. Die Kabinet onderskryf ook Suid-Afrika se derde ORV Nasionale Konsepaksieplan.

Die ORV is ’n wêreldwye inisiatief bestaande uit ’n koalisie van die voorste regerings en burgerlike organisasies wat saamwerk om deursigtigheid en aanspreeklikheid in regering te bevorder. Die doelwitte van die inisiatief is om regerings se reaksie teenoor burgers te verbeter en sodoende korrupsie die stryd aan te sê, ekonomiese doeltreffendheid te bevorder, innovering te benut en die lewering van dienste te verbeter. Sedert die ontstaan van die ORV is Suid-Afrika ’n aktiewe lid van die reëlingskomitee, die hoogste besluitnemende liggaam.

2.3. Die Kabinet keur goed dat die Internasionale Konvensie oor die Siviele Aanspreeklikheid vir Skade weens Skeepsoliebesoedeling, 2001 aan die Parlement vir bekragtiging voorgelê word.

Die Skeepsoliekonvensie verseker dat alle deelnemers baat by die herstel van die skade wat weens 'n ongeluk veroorsaak is. Die konvensie geld net vir skeepsolieongelukke wat nie deur ander internasionale konvensies gedek word nie. 

Suid-Afrika is nie aanspreeklik vir ekonomiese verlies of opruimingskoste voortspruitend uit die storting van skeepsolie binne die waters van sy interne, territoriale en eksklusiewe ekonomiese sones nie. Die skeepseienaar of versekeraar is egter hiervoor aanspreeklik.

Die konvensie verseker ook dat voldoende, vinnige en doeltreffende vergoeding beskikbaar is vir mense wat skade ly weens oliestortings wanneer dit as brandstof op skepe vervoer word.

2.4. Die Kabinet keur die muntontwerpe van die Suid-Afrikaanse Munt vir die numismatiese herdenking en sirkulasiemuntstukke van 2015 en 2016 goed. Die temas weerspieël Suid-Afrika se erfenis (van die hede en die verlede), sy fauna en flora en sy maatskaplike prestasies, en is in pas met wêreldwye numismatiese tendense.
a) Die 2015 Herdenkingmuntreeks – 200-jaar-herdenking van die Naamgewing van Griekwastad
b) Die 2015-viering van ’n Suid-Afrikaanse munt – Die sekretarisvoël
c) Die 2016-protea-reeks – Lewe van 'n legende: NR Mandela
d) Die 2016-natura-reeks – Jagters van die Nag (die gevlekte hiëna)
e) Die 2016-reeks van Suid-Afrikaanse reptiele (die Kaapse dwergverkleurmannetjie)
f) Die 2016-Biosfeer-reservaatreeks (Kaapse Weskus-biosfeer)
g) Die 2016 silwer reeks – Suid-Afrika se beskermde marienegebiede.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet keur die Spesiale Begrotingswetsontwerp vir die Nuwe Ontwikkelingsbank vir tertafellegging in die Parlement goed. Daarvolgens sal Suid-Afrika sy eerste kapitaalpaaiement van R2 miljard aan die nuwe Brics-Ontwikkellingsbank in die finansiële jaar 2015/2016 oorbetaal.

Die Nuwe Ontwikkelingsbank is ’n multilaterale ontwikkelingsbank wat deur die Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) bedryf word om groter samewerking op finansiële en ontwikkelingsgebied tussen die vyf ontluikende markte te bevorder.

3.2. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens, 2015 in die Staatskoerant gepubliseer word vir openbare kommentaar. Die wysigings versterk die beheer en befondsingsmeganisme van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens om toegang tot gesondheidsorg te verbeter.

Die Wetsontwerp verseker verder dat dit die Nasionale Gesondheidslaboratorium se kernmandaat is om diagnostiese gesondheidslaboratoriumdienste aan die publiek te lewer.

3.3. Die Kabinet keur goed dat die Finansiële Wetsontwerp, 2015 by die Parlement ingedien word.

Die Wetsontwerp maak voorsiening vir die magtiging van ongemagtigde uitgawes deur die nasionale Regering as 'n direkte opdrag aan die Nasionale Inkomstefonds. Dit volg op artikel 34 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies, 1999, en gee uitvoering aan die aanbevelings van die Nasionale Vergadering se Komitee oor Openbare Rekeninge. Die Wetsontwerp verseker gesonde en volhoubare bestuur van die nasionale Regering se finansiële sake en dat alle uitgawes in ooreenstemming met die heersende wetgewende raamwerk gemagtig word.

4. Toekomstige gebeure

4.1. President Jacob Zuma sal die derde Spitsberaad van die Indië-Afrikaforum tussen 26 en 29 Oktober 2015 in Nieu-Delhi, Indië, bywoon. Die 2015-spitsberaad is uitgebrei om al 54 Afrika-lande in te sluit. Dit sal handel aanspoor en gemeenskaplike uitdagings die hoof bied.

4.2. President Jacob Zuma het Mosambiek se President, Filipe Nyusi, gister by die Uniegebou in Pretoria onthaal. Die twee lande deel sterk ekonomiese bande soos blyk uit die meer as 60 bilaterale ooreenkomste en memorandums van verstandhouding wat verskeie sektore dek.

4.3. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa se werkbesoek aan Havana, Kuba, van 22 tot 26 Oktober 2015, sal politieke en ekonomiese betrekkinge tussen die twee lande verder versterk.
 
4.4. Die Afrika-unie gaan vanaf 19 Oktober tot 7 November 2015 die AMANI AFRIKA (Vrede in Afrika) II Veldopleidingsoefening by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se vegopleidingsentrum te Lohatla in die Noord-Kaap hou. Nagenoeg 5 400 lede van die weermag, polisie en burgerlike komponente verteenwoordigend van vyf plaaslike ekonomiese gemeenskappe van die AU sal aan die oefening deelneem.
Die doel is om die strydvaardigheid van die Afrika-bystandsmag en sy vermoë vir vinnige ontplooiing te evalueer om vredesendings te onderneem ter bereiking van volle operasionele vermoë teen Desember 2015 .

4.5. Die Kabinet wens alle leerders, veral die matriekklas van 2015, sterkte toe met hul Nasionale Seniorsertifikaat- (NSS) eksamen, wat op 26 Oktober 2015 begin en tot 27 November 2015 duur. Vanjaar is 801 688 kandidate geregistreer om die eksamen te skryf waarvan 674 232 voltydse en 127 456 deeltydse leerders is. Nog ’n sukses is die groter getal leerders wat hul skoolopleiding voltooi het.
Alle ouers en voogde word aangemoedig om hul kinders met hul voorbereiding te ondersteun.

4.6. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gaan van 3 November tot 3 Desember 2015 Nasionale Maand vir Bewustheid van die Regte van Gestremdes vier, wat ook die Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede sal insluit. Die maand bied ’n platform vir die Regering, die burgerlike samelewing, sakelui en arbeid om na te dink oor die vordering wat gemaak is ter bevordering en beskerming van die regte van persone met gestremdhede. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om struikelblokke uit die weg te ruim wat mense met gestremdhede verhoed om voluit deel te neem aan die samelewing en die ekonomie.

4.7. Die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (SITA) hou vanjaar die 10de Staatstegnologiekonferensie (GovTech), wat op dienslewering binne die openbare Inligtingskommunikasietegnologie (IKT) fokus. GovTech 2015 vind plaas vanaf 25 tot 28 Oktober 2015 onder die tema Vennootskap vir Dienslewering, met die subtema Verbind Gemeenskappe vir Ontwikkeling en Groei.

Tydens die konferensie sal die IKT Openbare Dienslewering-toekennings ook bekend gestel word. Dit ondersteun ‘South Africa Connect’, soos aangekondig deur President Jacob Zuma in sy 2014-Staatsrede, deur ’n platform te bied om praktiese en progressiewe oplossings vir ’n ontwikkelende land te vind deur middel van IKT-hulpmiddels.

4.8. Die Kabinet keur goed da ’n Nasionale Imbizo-fokusweek van 30 November tot 6 Desember 2015 onder die tema Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe aangebied word. Hierdie tydperk van direkte kommunikasie sal aandui dat daar vordering is met die inwerkingstelling van inisiatiewe van die Negepuntplan om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat groei.

Dit bied ook ’n platform vir openbare deelname en betekenisvolle dialoog om die ekonomie ’n hupstoot te gee. Lede van die Uitvoerende Gesag word aangemoedig om te help om die omvang van die veldtog na gebiede regdeur land uit te brei. Die klem moet op die versterking van vennootskappe en verhale van begunstigdes geplaas word. Die GCIS is verantwoordelik vir die koördinering van die veldtog en sal omvattende hulpmiddels, insluitend belangrike boodskappe asook ’n mediaplan, versprei.

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Volgehoue hoë temperature oor groot dele van die land benadruk verantwoordelike watergebruik deur alle burgers van die land. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om water spaarsamig te gebruik en hierdie kosbare hulpbron te bewaar.

Inwoners in KwaZulu-Natal word aangemoedig om aan waterbeperkings te voldoen aangesien die provinsie tans die ergste droogte in baie jare ondervind. Suid-Afrikaners moet water bespaar deur motors met emmers te was, tuine saans nat te maak, watermeters vir ’n hoë verbruik te monitor en waterlekkasies te herstel.

5.2. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die familie en vriende van diegene wat gesterf het toe die steierwerk van die Great Walk-voetgangerbrug naby Graystonrylaan in Sandton ineengestort het.
Die Kabinet wens alle beseerdes ’n spoedige herstel toe. Die Kabinet loof alle nooddienste, die Stad Johannesburg en die Gautengse Provinsiale Regering vir hul vinnige reaksie asook vervoermaatskappye in Gauteng wat pendelaars te hulp gesnel het.

Die Kabinet spreek sy dank uit teenoor pendelaars vir hul geduld tydens die opruimingswerk. Die Kabinet doen ’n beroep dat die ondersoek na die gebeure deeglik en gou afgehandel sal word om die oorsaak van die voorval te bepaal en ’n herhaling daarvan te voorkom. Die Kabinet versoek die publiek om geduldig te wees terwyl die ondersoek aan die gang is.

5.3. Die Kabinet verwelkom die 2015/16-uitslae van die Wêreld Ekonomiese Forum se jaarlikse Wêreldmededingindheidsindeks, waarin Suid-Afrika met sewe plekke gestyg het, van 56ste tot 49ste uit 140 lande. Die grootste verbeteringe was op die gebiede van gesondheid en primêre onderwys (ses plekke hoër), doeltreffende arbeidsmark (ses plekke hoër), tegnologiese gereedheid (16 plekke hoër), en innovering (vyf plekke hoër). Dit dui aan dat as ons saamwerk ons meer kan doen. Die Kabinet doen 'n beroep op die sakesektor en burgerlike samelewing om steeds met die Regering saam te werk om ons ekonomie te verbeter.

5.4. Die Kabinet wens die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), wat vanjaar sy 75ste verjaardag vier, baie geluk. Die NOK is ’n nasionale hulpbron wat oor die afgelope 21 jaar van demokrasie, wesentlik tot verhoogde belegging, die voortsetting van industrialiseringsgeleenthede en die transformasie van die ekonomie bygedra het. Sedert 1994 het die NOK R150 miljard in Suid-Afrika en die res van Afrika belê. Hiervan is R60 miljard in maatskappye belê waarin swart Suid-Afrikaners ’n aandeel van minstens 25% het. R20 miljard is in dié tydperk in die res van Afrika belê ter verbetering van groei en ontwikkeling in Afrika asook om geleenthede vir die Suid-Afrikaanse ekonomie te skep. Oor die afgelope vyf jaar het dit ook ’n bykomende R103 miljard van beleggingsvennote uit die private sektor getrek, wat die organisasie se totale belegging op R163 miljard te staan bring.

In die huidige klimaat waartydens die ekonomie groot uitdagings in die gesig staar, moet die NOK sy bydrae tot die ekonomie en die effek daarvan op transformasie verdiep en op die bevordering van swart nyweraars en jeugbemagtiging fokus.

5.5. Die Kabinet wens die Springbokke geluk dat hulle vir die halfeindstryd van die Wêreldbeker-toernooi in Engeland gekwalifiseer het en doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om ons nasionale rugbyspan te ondersteun in hul poging om die Wêreldbeker vir die derde keer huis toe te bring.

Die Kabinet wens die Amajimbo’s sterkte toe terwyl hulle om die o.17-FIFA-wêreldbeker in Chili vanaf 17 Oktober tot 8 November 2015 meeding.

Die Kabinet wens Orlando Pirates geluk dat hulle die eindstryd van die 2015 Orange CAF Konfederasiebeker gehaal het en vir Banyana Banyana dat hulle vir die 2016 Olimpiese Spele gekwalifiseer het.

5.6  Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die familie en vriende van Mvuzo Mbebe,  die voormalige uitvoerende hoof van die 2013 Afrikabeker-toernooi en Afrika-nasieskampioenskap se plaaslike reëlingskomitee en SAUK uitvoerende hoof, wat Maandagnag oorlede is.

5.7  Die Kabinet is diep geroer deur die afsterwe van Mlungisi Sisulu, die tweede seun van Walter en Albertina Sisulu, en dra sy meegevoel aan die familie en vriende oor.
Mnr Sisulu het ’n aktiewe rol in die ANC se ondergrondse strukture in die 1980's gespeel deur skuiling aan Umkhonto weSizwe-eenhede in sy winkeltjie in Soweto, bekend as Shop 7, te bied teen groot risiko vir homself.

Die Kabinet dra saam met president Jacob Zuma sy meegevoel oor aan die familie en vriende van een van ons voorste akteurs, Sammy Moeti, wat Maandag, 13 Oktober 2015, ná ’n lang siekbed oorlede is.

5.8 Die Kabinet het die onlangse studenteprotes teen hoër onderriggeld by universiteite vir die 2016 akademiese jaar breedvoerig bespreek. Die Kabinet simpatiseer met studente wat voel dat die koste verbonde aan hoër onderwys te duur is en dat dit ontoeganklik vir veral arm gesinne is.

Onderwys is een van die kernelemente om die huidige uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid wat die land in die gesig staar te verminder. Ons Grondwet bepaal dat elkeen die reg het op basiese onderwys en verdere onderwys, wat die staat deur redelike maatreëls toeganklik moet maak. 

Die huidige Regering het sedert 1994 toegang tot onderwys ’n prioriteit gemaak. Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) wat behoeftige studente bystaan, het oor die jare van R300 miljoen tot R9,5 miljard gegroei. In die huidige akademiese jaar, ondersteun die Regering sowat 45 000 arm en akademies verdienstelike studente.

Die Minister van Hoër Onderwys en opleiding het die Kabinet ingelig oor beraadslaging met alle betrokkenes om ’n oplossing vir die kwessie oor studiegeld te vind. Die Kabinet is ook beoordeel op die werk wat gedoen is om die bestuur van NSFAS te verbeter. Die aanbevelings sal in die volgende siklus aan die Kabinet voorgelê word.

Die Kabinet het verder kennis geneem van die onlangs gestigte Presidensiële Taakspan met die mandaat om stygende universiteitsgeld te ondersoek. Die span bestaan uit verteenwoordigers van studente, universiteitsrade en die departement. Die span sal na verwagting binnekort sy werk afhandel waarna dit oor die bevindinge verslag sal doen.

Die Kabinet glo die pogings deur die President en die Minister van Hoër Onderwys het reeds en gaan nog baie doen om studente se kommer die hoof te bied.

Die erns waarmee die Regering studente se griewe hanteer, het die President genoop om die leierskap van studente en universiteite vandag byeen te roep om die erns van die kwessie te bepaal en ’n oplossing daarvoor te vind.

Die President sal die land later oor die kwessie toespreek aangesien dit ’n saak van nasionale belang is.

5.9 Die Kabinet is ingelig oor die vordering van die Interministeriële Komitee oor Immigrasieregulasies, wat deur die Adjunkpresident gelei is.

Die President het die Interministeriële Komitee in die lewe geroep om die onbedoelde gevolge vasn die regulasies soos deur belanghebbendes in die toerismebedryf geopper is, te ondersoek.

Nadat aspekte wat aangepas kan word om die veiligheidsoorwegings en die onbedoelde gevolge te hanteer, ondersoek en verken is, het die komitee die volgende aanbevelings gemaak:
Aansoek in persoon:

Toegewings wat binne die volgende drie maande van krag sal word

  • Die Departement van Binnelandse Sake (DBS) sal aansoeke deur die pos aanvaar van lande waar geen Suid-Afrikaanse missies is nie. 

Daarna sal biometrie en foto's van reisigers met hul aankoms by grensposte vasgelê word. Hierdie toegewing sal slegs op ’n besoekers-/mediese visum van toepassing wees. 

  • Die DBS sal biometrie (insluitend vingerafdrukke en foto's) by grensposte in werking stel. Die maatreëls sal eerstens by die OR Tambo-lughawe, die King Shaka-lughawe en die Kaapstadse Internasionale Lughawe in werking gestel word.
  • Die DBS sal ’n program vir ’n geakkrediteerde toerismemaatskappy (GTM) vir China, Indië en Rusland bekend stel met moontlike uitbreiding na ander lande van wie visums vereis word.
  • Die DBS sal steeds langtermynvisums vir veelvuldige binnekoms aan gereelde reisigers uitreik. Dit sal vir ’n tydperk van meer as drie maande, maar nie langer nie as drie jaar geldig wees.

Toegewings wat binne drie maande tot een jaar van krag sal wees

  • Die DBS sal visumfasiliteringsentrums in China, Indië, die Verenigde Koninkryk, Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Angola, Ghana, Kenia en Uganda uitbrei. Die DBS sal die opening van visumfasiliteringsentrums in Zimbabwe, die VAE en Botswana versnel.

Toegewings wat ná ’n jaar van krag sal word

  • Die DBS sal voorvluginspeksies (insluitend operasionele sentrums) by internasionale lughawens in werking stel.
  • Die DBS sal gevorderde stelsels vir die verwerking van passasiers opgradeer om ’n rekord van passasiersname te hou om risiko-assessering te verbeter.
  • Die DBS sal die outomatisering van die visum-en-toelatingstelsel finaliseer.

Vereistes vir kinderreisigers: Suid-Afrikaanse kinders

Wat betref Suid-Afrikaanse kinders (wat na die buiteland reis), het die komitee die inwerkingstelling van die huidige reisvereistes vir kinders aanvaar, insluitende ouers se toestemming deur middel van beëdigde verklarings om kinders te beskerm.

Toegewings wat binne die volgende drie maande van krag sal word

  • Skoolhoofde sal briewe uitreik wat sal bevestig dat kinders toestemming het om op skooltoere te reis. Hierdie magtiging sal ook uitgebrei word en geregistreerde sportliggame insluit.
  • Die geldigheid van ouers se beëdigde verklaring van toestemming sal uitgebrei word na ’n tydperk nie langer nie as ses maande.

Toegewings wat binne die volgende drie maande tot ’n jaar van krag sal word

  • Die term “onverkorte geboortesertifikaat” sal verander na “geboortesertifikaat met besonderhede van ouers”.
  • Besonderhede van die ouers sal in paspoorte gedruk word, sodat ouers wie se besonderhede gedruk is dus nie nodig sal hê om geboortesertifikate by hulle te hê nie. 

Vereistes vir kinderreisigers: buitelandse kinders

Wat betref inkomende reisigers, neem die komitee die standpunt in dat waar ’n visum vereis word, die voorsiening van oorspronklike geboortesertifikate of gesertifiseerde afskrifte van vereiste dokumente moet voortgaan tydens die visumaansoekproses, aangesien dit strookmet praktyke in verskeie ander lande.

Wat betref kinders van lande wat van visums vrygestel is, beveel die komitee aan dat:

  • Reisigers sterk aangeraai moet word om bewys te lewer van die verhouding en toestemming van die afwesige ouer/s of voog/de.

Alle ander administratiewe kwessies wat die betrokke departemente raak, sal deur middel van interdepartementele skakeling opgelos word.

Die Kabinet onderskryf hierdie aanbevelings en glo dit sal die onbedoelde gevolge van die regulasies hanteer sonder om die veiligheid van kinders op enige manier in gedrang te bring.

Die Kabinet onderskryf verder dat die DBS die wetlike instrument moet wees om die aanbevelings in werking te stel. Die Kabinet gee verder die mandaat aan alle betrokke departemente om betrokke te raak by hul belanghebbendes om hierdie goedgekeurde aanbevelings voor te lê.

Die Kabinet het die lewe van die Interministeriële Komitee verleng sodat dit kwessies kan bestuur wat mag ontstaan, terwyl die Kabinetsbesluit in werking gestel word.

Navrae:
Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Skakel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore