Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 18 Maart 2015

1. Afsterwe van Minister Ohm Collins Chabane

1.1. Die Kabinet betreur die ontydige afsterwe van Minister Chabane en sy lyfwagte, Sersante Lesiba Samuel Sekele en Mareme Lawrence Lentsoane, wat op Sondag 15 Maart 2015 in ’n tragiese motorongeluk gesterf het. Die Regering en die mense van Suid-Afrika sal die bydrae van hierdie dienaar van die mense, wat hom tot sy dood aan die bou van ’n beter Suid-Afrika verbind het,  ten seerste mis.

As 'n lid van die uitvoerende komitee, kry die afgestorwe Minister van die Staatsdiens en Administrasie, 'n kategorie 1 amptelike begrafnis. Die begrafnisdiens vind plaas op Saterdag 21 Maart 2015 by Xikundu in Malamulele, Limpopo. Die Kabinet dra sy innige meegevoel aan die familie en vriende van die Minister en sy twee lyfwagte oor.

2. Implementering van belangrike regeringsprogramme

2.1. President Jacob Zuma sal die 50ste herdenking van Suid-Afrika se kernkrag-navorsingsreaktor SAFARI-1, wat deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) by Pelindaba naby Pretoria bedryf word, lei. Sedert sy ingebruikneming op 18 Maart 1965, het die reaktor, wat 'n belangrike vervaardiger van mediese en industriële isotope vir beide plaaslike en internasionale verbruik is, talle toekennings en internasionale akkreditasies ontvang. Dié reaktor het ook 'n deurslaggewende rol gespeel in kernnavorsing,
-ontwikkeling en -opvoeding, en het Suid-Afrika op die voorpunt van wetenskaplike vooruitgang geplaas.

2.2. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om voor die sluitingsdatum van 10 April 2015 geskikte individue te nomineer om in die Nasionale Beplanningskommissie te dien. Die nuwe kommissie sal daarop fokus om die Regering van raad te bedien oor die beste manier om die Nasionale Ontwikkelingsplan te implementeer. Daarbenewens sal dit ook help met die ontwikkeling van gedetailleerde planne in sekere sektore wat toegewyde aandag verg, om ekonomiese groei, radikale ekonomiese transformasie en volhoubare ontwikkeling te dryf. Meer inligting oor die nominasieproses is beskikbaar by: www.thepresidency.gov.za

3. Belangrike kabinetsbesluite

3.1. Die Kabinet keur die voorlegging van die wysigings tot die Roomse Statuut insake die Internasionale Strafregetlike Hof aan die Parlement vir bekragtiging goed. Die wysigings sluit die definisie van misdade van aggressie en bykomende dade in, wat die oorlogsmisdade in die Roomse Statuut behels, soos goedgekeur deur die Byeenkoms van Staatspartye (in Kampala, Uganda op 11 Junie 2010).

Suid-Afrika se bekragtiging van hierdie wysigings tot die Roomse Statuut, is ’n aanduiding van die Regering se verbintenis om ernstige misdade teen die mensdom en misdade van aggressie, hetsy of dit binne of buite ons landsgrense gepleeg word, te beveg.

4. Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

4.1. Die Kabinet neem kennis van die reaksie op die jongste voorgestelde afbakenings en erken dat kragtige  debat 'n integrale deel van ons demokrasie is. Aangesien daar 'n paar munisipaliteite is wat sukkel om dienste te lewer en onvolhoubaar bly weens onvoldoende inkomste en gebrekkige bestuur, word munisipale grense voortdurend hersien.

Die voorgestelde veranderings word eers onder die loep geneem deur die Munisipale Afbakeningsraad (MAR), wat verantwoordelik is vir die bepaling van munisipale grense ooreenkomstig die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Afbakening, 1998 (Wet 27 van 1998) en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996.

As 'n onafhanklike liggaam, is die MAR se prosesse deursigtig en raadplegend. Die Kabinet moedig gemeenskappe aan om aktief aan hierdie prosesse deel te neem. Die Kabinet veroordeel die gebruik van geweldadige protesoptogte as 'n middel om afbakeningsgeskille op te los. Die werk van die MAR is 'n integrale deel van die Regering se benadering om “terug te keer na basiese waardes” om die lewering van beter dienste aan gemeenskappe te verseker.

4.2. Die Kabinet wens die Basotho-volk geluk met die gladde oorskakeling na ’n nuwe regering en moedig hulle aan om steeds saam te werk om blywende vrede en ekonomiese ontwikkeling te verseker. Die Kabinet het ook die nuwe Eerste Minister van die Koninkryk van Lesotho, die Agbare Pakalitha Mosisili gelukgewens met sy verkiesing en suksesvolle inhuldiging op Dinsdag 17 Maart 2015, wat deur Sy Eksellensie President Jacob Zuma en Adjunk-president Cyril Ramaphosa bygewoon is.

Die Kabinet het die Adjunk-president gelukgewens met die rol wat hy gespeel het in die suksesvolle verloop van die verkiesing in die Koninkryk van Lesotho. Die Kabinet het verder ook sy waardering uitgespreek vir die rol van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in die fasilitering van 'n padkaart vir vrede en die verkiesing van die nuwe regering. Die Kabinet het Suid-Afrika se verbintenis tot voortgesette samewerking met die Koninkryk van Lesotho beklemtoon, om die bestaande verhoudings verder te verbeter deur te fokus op die bevordering van ekonomiese en sosiale samewerking, wat tot die verbetering van mense se lewens sal lei.

5. Toekomstige gebeure

5.1. Adjunk-president Ramaphosa sal die Republiek van Namibië se 25ste onafhanklikheidsvierings, insluitend die inhuldiging van President Hage Geingob in Windhoek, op 21 Maart 2015 bywoon. Die Kabinet wens Namibië geluk met die viering van die land se silwerjubileum en President Geingob as die land se derde Staatshoof.

5.2. President Zuma sal Zimbabwe se President Robert Mugabe van 8 tot 9 April 2015 in Pretoria ontvang. Die besoek sal lei tot die Suid-Afrika-Zimbabwe Sakeforum wat vir 9 April 2015 geskeduleer is en daarop gemik is om bilaterale handel en belegging ’n hupstoot te gee.

5.3. President Zuma sal op 19 Maart 2015, 95 lokomotiewe wat as deel van Transnet se R300-miljard kapitaalbeleggingsprogram gebou is om die land se vrag-infrastruktuur te vernuwe, bekendstel. Vir die duur van die beleggingsprogram sal 'n aantal nuwe werkgeleenthede geskep word, terwyl die plaaslike sakeondernemings voordeel sal trek uit die lokalisering, die ontwikkeling van vaardighede en die oordrag van tegnologie.

Die nuwe treine sal help om die agterstand ten opsigte van die land se spoorstelsel uit te wis, en sal help om die produktiwiteit en doeltreffendheid van ons spoornetwerk te verbeter. Die bekendstelling is ook 'n aanduiding van Transnet Engineering se transformasie tot 'n volwaardige oorspronklike vervaardiger van toerusting aangesien 85 van die treine op sy aanleg by Koedoespoort naby Pretoria vervaardig is.                                                                                                      
5.4. President Zuma sal die Swart Nyweraars-indaba, wat van 25 tot 26 Maart 2015 by die Gallagher Konvensiesentrum in Midrand open, as deel van die Regering se verbintenis om swart nyweraars in die land te ontwikkel. Die indaba sal samesprrekings tussen die openbare en private sektor aanmoedig om swart nyweraars te bevorder, en om die ekonomie radikaal te verander en te herstruktureer om inklusiewe groei te bewerkstellig.

5.5. President Zuma sal die Lede van die Nasionale Vergadering van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering, wat van 24 tot 26 Maart 2015 by die Gallagher Konvensiesentrum in Midrand plaasvind, toespreek. Die Lede van die Nasionale Vergadering sal besin oor die stand van plaaslike regering na 15 jaar en strategieë bespreek om doeltreffend te handel met dienslewering, kapasiteitbou, korrupsie en kwessies rondom die afbakening van munisipaliteite. Die vergadering word gehou onder die tema: 15 Jaar van demokratiese plaaslike regering – konsolideer en verdiep lewendige, ontwikkelings- en mensgesentreerde plaaslike demokrasie.

5.6. Suid-Afrikaners sal nasionale Menseregtedag op 21 Maart 2015 in Uitenhage in die Oos-Kaap vier onder die tema: Vier die Vryheidsmanifes, geniet gelyke menseregte vir almal. Hierdie geleentheid sal 'n platform vir alle Suid-Afrikaners bied om die opofferings wat met die stryd om demokrasie gepaard gegaan het, asook ons verbintenis tot die bevordering van menseregte soos in die Grondwet verskans, te herdenk.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hierdie belangrike dag te vier deur verbeterde sosiale samehorigheid en nasiebou te bevorder. As deel van Menseregtemaand, sal gemeenskapsgesprekke in al die provinsies plaasvind om interaksie tussen gemeenskappe van verskillende agtergronde te bevorder. Dit sal lei tot die Spitsberaad vir Verslagdoening oor en Monitering van Nasionale Maatskaplike Samehorigheid, wat op 30 Maart 2015 in Port Elizabeth gehou word.

5.7. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sal gasheer wees vir die Nasionale Maatskaplike Werk-indaba wat van 24 tot 26 Maart 2015 by die Internasionale Konferensiesentrum in Durban gehou word onder die tema: Vernuwe maatskaplike werk-praktyk in Suid-Afrika.

Die Indaba sal voorstelle maak en tussenkomste skep om sake te bespreek wat 'n impak op die praktyk van maatskaplike werk het en om die ontwikkelingsmandaat van die beroep in lyn te bring om die Regering se radikale sosio-ekonomiese transformasie te ondersteun. Om dit te bereik het die Departement 'n beursprogram geskep om studente wat maatskaplike werk by universiteite studeer te befonds.

5.8. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sal ook die 2de Konferensie Teen Bedrog en Korrupsie van 30 tot 31 Maart 2015 by die St George's Hotel, Centurion aanbied onder die tema: Verseker menseregte vir almal deur 'n bodrogvrye stelsel vir maatskaplike toelaes. Die konferensie sal die huidige maatreëls om korrupsie binne die maatskaplike toelaestelsel uit te roei, evalueer.

5.9. Die Kabinet verwelkom die aanbieding van die eerste Vier Nasies Basketbal-uitdaging wat by die Wembley-stadion in Johannesburg van 19 tot 22 Maart 2015 plaasvind. Dit bring die senior manspanne van Suid-Afrika, Nigerië, Mosambiek en Kenia byeen in wat na verwagting 'n jaarlikse instelling sal word.

5.10. Die Kabinet wens ons krieketspan geluk, wat tot die halfeindrondte van die Wêreldbeker deurgedring het met ’n nege-paaltjieoorwinning in hul wedstryd teen Sri Lanka. Ons wens die span en die afrigter sterkte toe met die res van die toernooi.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die nodige klarings.

6.1. Watertribunaal
a. Adv Tintswalo Annah Nana Makhubele (Voorsitter);
b. Me Lindelwa Mbanjwa (Adjunk-voorsitter);
c. Mnr Pumezo Malik Mpumelelo Jonas;
d. Me Maleho Margaret Nkomo;
e. Prof Tumai Murombo, en
f. Mnr Ferdinand Zondagh.

6.2. Reguleringsowerheid vir Maatskaplike Behuising
a. Ahmed Essop Vawda (Voorsitter en heraanstelling);
b. Shadrack Kabelo Ganda;
c. Itumeleng William Kotsoane;
d. Kelikile Elva Kwinana;
e. Maphuti Justine Lamola (heraanstelling);
f. Nontutuzelo Nomtandazo Mbiza (heraanstelling);
g. Mandla Mdludlu;
h. Rose Sessie Molokoane;
i. Manye Richard Moroka;
j. Zolile Thando Ngcakani;
k. Zikiswa Zandile Ntlangula, en
l. Phakamile Worrel Weekes Ximiya.

6.3. Nasionale Elektroniese Media-instituut van Suid-Afrika (NEMISA)
Heraanstelling van nie-uitvoerende direkteure tot die Raad van NEMISA:
a. Mnr Thami ka Plaatjie
b. Dr Molatelo Maloka.

6.4. Advieskomitee vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens
a. Regter Frank Kroon (Voorsitter);
b. Adv Selby Mfanelo Mbenenge (Adjunk-voorsitter);
c. Adv Roedolf Mastenbroek;
d. Mnr Lazarus Docter Mokoena, en
e. Me Mmakgolo Meta Maponya.

6.5. Die Regering se Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid
Me Gugu Dlamini as Hoof Uitvoerende Beampte.

6.6. Nasionale Elektroniese Media-instituut van Suid-Afrika (NEMISA)
Dr Ndivhoniswani Aaron Tshidzumba as Hoof Uitvoerende Beampte

6.7. Die Regering se Inligtingstegnologie-agentskap (SITA)
Dr Setumo Mohapi as Hoof Uitvoerende Beampte.

6.8. Departement van Wetenskap en Tegnologie
Me Mohlago Flora Mokgohloa as Adjunk-direkteur-generaal: Institusionele Beplanning en Ondersteuning.

6.9. Nasionale Forum vir die Regspraktyk
a) Mnr Max Boqwana;
b) Mnr Krish Govender;
c) Mnr Jan Maree;
d) Me Martha Mbhele;
e) Me Janine Myburgh;
f) Mnr Richard Scott;
g) Mnr Lutendo Sigogo;
h) Mnr Jan Stemmett;
i) Adv Willem van der Linde SA;
j) Adv Ismail Jamie SA;
k) Adv Greg Harpur SA;
l) Adv Thami Ncongwane SA;
m) Adv Dali Mpofu SA;
n) Prof Managay Reddi;
o) Adv M A Hawyes;
p) Adv Samuel Mgiba;
q) Adv D Ntsebeza SA;
r) Adv Kgomotso Ditsebe Moroka
s) Me Namhla Thina Siwendu
t) Adv Brian Nair, en
u) Mnr Uys Mathebula.

Navrae:
Phumla Williams, Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore