Oorhandiging van sportsgronde aan Koekenaap-gemeenskap deur Sakkie Jenner, Provinsiale Minister van Kulturele Sake, Sport en Ontspanning

Goeiemiddag, Good afternoon, Molweni

Dit is vandag inderdaad vir my 'n voorreg om u hier toe te spreek. As 'n kind van die Weskus, wat in armoede en swaarkry grootgeword het, weet ek wat dit is om in 'n gebied op te groei waar daar baie min hulpbronne en geleenthede is.

Dames en here, dit is belangrik dat ons kinders in veral die plattelandse gebiede dieselfde geleenthede gegun word, as diè wat in stedelike gebiede woon. Ons moet toesien dat 'n ewewigtige balans tot stand gebring word.

As 'n provinsiale regering wil ons u verseker dat ons ons bes doen, om die agterstand van die landelike gemeenskappe in die Wes-Kaap te verminder.

Die opening van sportgronde soos hierdie hou baie voordele vir 'n gemeenskap in. Dit bring mense byeen terwyl sport bevorder word en dit verseker dat ons kinders iets beters gebied word as om op straathoeke te sit en sodoende deel te word van die probleme wat ons gemeenskappe op 'n daaglikse basis teister.

Al het ons kinders die natuurlike talent om in sport te presteer, wil ons seker maak dat hulle daartoe in staat sal wees om hierdie fasiliteite aan te wend om hulself verder te verryk. Onthou, dames en here, 'n gesonde ligaam baar 'n gesonde gees.

Ons verwag van u as gemeenskap van Koekenaap, dat u hierdie fasiliteit aan uself sal toeëien. Daarmee bedoel ek dat u dit goed in stand sal hou en gebruik, want hierdie fasiliteit is tot u eie voordeel. Telkens het ons, tydens ons terugkeer na sulke fasiliteite, gevind dat dit so verniel is dat dit nie meer gebruik kan word nie.

Oor die afgelope jaar het die Departement van Kultuursake en Sport R4 miljoen uit die provinsiale begroting en R43 miljoen uit die munisipale toelae vir infrastruktuur op soortgelyke sportfasiliteite in die provinsie bestee.

Ons wil seker maak dat u, een van die landelike gemeenskappe van hierdie provinsie, ook ten volle voordeel kan trek uit hierdie tipe fasiliteite.

Maar ek moet erken dat ons, as die Regering, dit nie alleen kan vermag nie.

Hierdie fasiliteit het 'n verbysterende R1,050 miljoen gekos om te laat ontwikkel. 'n Vennootskap tussen die Nasionale Lotery, die Departement van Kultuursake en Sport en die Matzikama Munisipaliteit het dit vir ons moontlik gemaak om hierdie projek 'n realiteit te maak, alhoewel dit vier jaar geduur het om te voltooi.

Ons kinders en die gemeenskap sal voortaan in staat wees om deel te neem aan talle verskillende buitensmuurse sportsoorte, onder andere netbal, sokker, rugby, atletiek en selfs skyball - ek het twee stelle skyball-nette vir julle saamgebring. Gebruik dit aseblief.

Ons weet dat die talent, potensiaal en vermoëns hier in Koekenaap bestaan, en ons wil 'n uitdaging tot u rig om die sportmanne en -vroue op te lewer wat Suid-Afrika met trots tot op internasionale vlak kan verteenwoordig.

Aan die skool en gemeenskap, gebruik asseblief die fasiliteit waarvoor dit bedoel is. Ons kan nie toelaat dat die sportsvelde onbenut bly in 'n gebied wat so 'n dringende behoefte daaraan getoon het nie.

Koekenaap, Matzikama, die Weskus, die Wes-Kaap en die nasionale sportfederasies maak staat op gemeenskappe soos u om die volgende Brian Habana, Breyton Paulse, Chester Williams en Robert Oosthuizen te lewer wat Suid Afrika met trots en onderskeiding, op internasionale vlak te verteenwoordig.

Ons verwag nou dat hierdie streek nie net goeie bokkoms sal oplewer nie, maar ook bekend sal word as 'n streek wat meer uitmuntende sportmanne en vroue sal oplewer.

Ek bedank u. Thank you. Enkosi kakhulu.

Source: Western Cape Provincial Government

Province

Share this page

Similar categories to explore