Staatsrede deur sy Eksellensie, Jacob G Zuma, President van die Republiek van Suid-Afrika, tydens die gesamentlike sitting van die Parlement, Kaapstad

14 Feb 2013

Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP),
Adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering en Adjunkvoorsitter van die NRP,
Adjunkpresident van die Republiek, Agbare Kgalema Motlanthe,
Voormalige President Thabo Mbeki en mev. Mbeki,
Voormalige President FW de Klerk en mev. De Klerk,
Voormalige Adjunkpresidente me. Phumzile Mlambo-Ngcuka en Baleka Mbete,
Agbare Hoofregter van die Republiek van Suid-Afrika en alle agbare lede van die Regbank,
Agbare Peeroo, Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Parlementêre Forum,
Eerbare ministers en adjunkministers,
Agbare premiers en speakers van ons provinsies,
Voorsitter van die Suid-Afrikaanse plaaslike-regeringsvereniging (Salga) en alle leiers van ons plaaslike regeringstelsel,
Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers,
Hoofde van Hoofstuk 9-instellings,
Die President van die Reserwebank, me. Gill Marcus,
Die Adjunkvoorsitter van die Nasionale Beplanningskommissie en die Adjunkpresident van die ANC, mnr. Cyril Ramaphosa en alle ANC amptenare,
Leiers uit die sake-, sport- en tradisionele sektore en geestelike leiers,
Lede van die diplomatieke korps,
Spesiale en eerbare gaste,
Mede-Suid-Afrikaners,

Goeienaand, sanibonaninonke, molweni, dumelang aan almal.

Ek wil graag die Voorsittende Beamptes bedank vir hierdie geleentheid om ons 2013-aksieprogram met die gesamentlike sitting van die Parlement te deel.

Ons verwelkom almal wat hierdie uitsending by hul huise kyk of by die GCIS-uitsaaisentrums oor die land, insluitend dié in Khayelitsha, Nyanga en Gugulethu hier in Kaapstad.

Gun my ook die geleentheid om my dankbaarheid uit te spreek teenoor almal wat bygedra het tot die voorbereiding van hierdie Staatsrede. Ek het verskeie boodskappe via e-pos, Twitter en Facebook ontvang.

Ek het ook tyd saam met graad 12-leerders deurgebring, en hulle het hul sienings gedeel oor wat in die toespraak ingesluit behoort te word. Ek het hul insette baie insiggewend en waardevol gevind.

Agbare lede,
Landgenote en vriende,

Op 15 Augustus verlede jaar het die Nasionale Beplanningskommissie in hierdie gebou aan my die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) – die visie vir die land vir die volgende 20 jaar – oorhandig.

Die NOP bevat voorstelle om die probleme van armoede, ongelykheid en werkloosheid aan te pak. Dit is ’n padkaart na ’n Suid-Afrika waar alle mense toegang sal hê tot water, elektrisiteit, riolering, werk, behuising, openbare vervoer, genoegsame kos, onderwys, maatskaplike beskerming, gehalte-gesondheidsorg, ontspanningsgeriewe en ’n skoon omgewing.

Die bereiking van hierdie doelwitte blyk in die onmiddellike verlede moeilik haalbaar te wees weens die wêreldwye ekonomiese resessie.

Die krisis in die eurosone raak ons ekonomie, aangesien die eurosone ons belangrikste handelsvennoot is en verantwoordelik is vir omtrent 21% van ons uitvoere.

Ons groei in bruto binnelandse produk (BBP) sal na verwagting 2,5% wees, teenoor 3,1% die vorige jaar. Ons het groeikoerse van meer as 5% nodig om meer werke te skep.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan sit ingrypings uiteen wat die ekonomie kan versterk. Die teiken met betrekking tot werkskepping is 11 miljoen teen 2030, en die ekonomie sal drievoudig moet groei om die verlangde werksgeleenthede te skep.

In my vorige vergadering met die sakegemeenskap het dié sektor aangedui dat ons sekere struikelblokke uit die weg sal moet ruim vir die ekonomie om drievoudig te groei.

Ons sal met sake-, arbeids- en ander vennote saamwerk om oplossings te vind. Die doelwitte wat ons vir onsself gestel het, kan nie deur een enkele poging bereik word nie.

Agbare lede,

Ek gee graag terugvoer oor vordering wat gemaak is sedert die laaste Staatsrede en ek bespreek ook graag ons aksieprogram vir 2013.

Ek sal kyk na die vyf prioriteite – onderwys, gesondheid, die stryd teen misdaad, die skepping van behoorlike werk, sowel as landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Verlede jaar het ek die land toegespreek oor die regering se infrastruktuurplanne. 

Teen die einde van Maart vanjaar sou die Regering sedert 2009 al bykans R860 miljard aan infrastruktuur spandeer het. Verskeie projekte word oor die hele land geïmplementeer. Ek sal net ’n paar hiervan bespreek.

Die konstruksie van die eerste fase van die Mokolo- en Krokodilrivier-watervermeerderingskema het begin wat ’n gedeelte van die water voorsien wat vir die Matimba- en die Medupi-kragstasie vereis word.

Bouwerk het in Oktober 2012 aan die grootmaat-waterverspreidingstelsel vir die De Hoop-dam begin, wat water aan die Sekhukhune-, Waterberg- en Capricorn-distriksmunisipaliteite sal voorsien.

Ons moet steenkool eerder per spoor as per pad in Mpumalanga vervoer om die provinsie se paaie te beskerm. Daarom sal bouwerk aan die Majuba-spoor-steenkoollyn binnekort begin.

Ons het ons ook daartoe verbind om die beweging van goedere te verbeter en tot ekonomiese integrasie deur ’n Durban-Vrystaat-Gauteng- logistieke en nywerheidskorridor.

In hierdie opsig is werk al ver gevorder om die City Deep- binnelandse terminaal in Gauteng te ontwikkel.

Werk aan die uitbreiding van Dok 2 by die Durbanse hawe het ook begin.

Derdens is grond gekoop vir die ontwikkeling van ’n nuwe inkeephawe by die ou Durbanse lughawe.

Ek het amptelik die hawe by Ngqura in die Oos-Kaap geopen en bouwerk het begin om ’n groot nuwe transskeep-spilpunt daar te ontwikkel.

Die Umzimvubu-dam is noodsaaklik vir landelike mense se bestaan. Voorbereidingswerk het reeds begin vir bouwerk om volgende jaar te begin.

Die opgradering van Mthatha Lughawe se aanloopbaan en terminaalgebou, en die bou van die Nkosi Dalibhunga Mandela-erfenispad en -brug is aan die gang.

Ek het gevra dat werk in Noordwes oor die volgende twee jaar sal versnel, gegewe die reuse-agterstande in daardie provinsie, veral met betrekking tot elektrisiteit, skole, klinieke, paaie en water.

Om die vervoer van ystererts te verbeter en die Weskus van die land toeganklik te maak, het ons die spoorkapasiteit verbeter deur die lewering van 11 lokomotiewe. Die eerste fase van die uitbreiding – om die hawekapasiteit vir ystererts by Saldanha uit te brei tot 60 miljoen ton per jaar – is in September verlede jaar amptelik voltooi.

Bouwerk vind in vyf stede – Kaapstad, Nelson Mandelabaai, Rustenburg, eThekwini en Tshwane – plaas om die verskillende vervoermiddels, naamlik bus, taxi en trein, te integreer.

In die energiesektor het ons nou elektrisiteit-transmissielyne van 675 km gelê om vinnig groeiende ekonomiese sentra te verbind en ook om krag aan landelike gebiede te voorsien.

Die regering het boonop kontrakte ter waarde van R47 miljard geteken met betrekking tot die hernubare-energie-program. Dit behels 28 projekte in wind-, sonkrag- en klein hidrotegnologie wat in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat ontwikkel sal word.

Ons het verlede jaar ’n R800 miljoen se groenfonds gestig. Tot dusver is meer as R400 miljoen se beleggings in groenekonomieprojekte reeds goedgekeur vir munisipaliteite, ander staatsinstansies, gemeenskapsorganisasies en die privaat sektor in alle provinsies.

Ons het ook sedert Januarie vanjaar reeds 315 000 sonkragwatergeysers geïnstalleer, waarvan die meeste aan arm huishoudings oorhandig is wat voorheen nie eens lopende warm water in hul huise gehad het nie.

Basiese dienste is ook suksesvol uitgebrei deur die infrastruktuurprogram. Nagenoeg 200 000 huishoudings is in 2012 aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk gekoppel.

Julle sal ook onthou dat Sensus 2011 suksesse met betrekking tot die uitbreiding van basiese dienste uitgelig het. Die verslag het aangedui dat die aantal huishoudings met toegang tot elektrisiteit nou 12,1 miljoen is, wat neerkom op 85%. Nege uit 10 huishoudings het toegang tot water. 

Om vir die gevorderde ekonomie wat ons wil skep voor te berei, moet ons die breëbandnetwerk uitbrei. Verlede jaar het die privaat en openbare sektor ongeveer 7 000 km se nuwe optieseveselkabels gelê. Die plan is om teen 2020 100% breëband-internetdekking te hê.

Met betrekking tot maatskaplike infrastruktuur is altesaam 98 nuwe skole teen die einde van Maart gebou, waarvan meer as 40 in die Oos-Kaap gebou is om kleiskole te vervang.

Daar word beplan om in September met bouwerk te begin by die persele van twee nuwe universiteite in die Noord-Kaap en Mpumalanga.

Ons het verlede week die Konsepwet op Infrastruktuurontwikkeling vir openbare kommentaar gepubliseer. Ons gaan korrupsie, tenderbedrog en prysvasstelling in die infrastruktuurprogram hokslaan.

Die staat het ’n lywige dossier met inligting oor onbehoorlike optrede deur groot konstruksiemaatskappye. Dit is nou die onderwerp van formele prosesse van die kompetisiekommissie en ander wetstoepassingowerhede.

Die infrastruktuurontwikkelingsprogram was ’n waardevolle leerskool vir die Regering. In die jaar wat voorlê sal ons baie van die projekte wat deur die Koördineringskommissie vir Presidensiële Infrastruktuur aangekondig is, versnel.

Die lesse wat geleer is, is dat ons op implementering moet konsentreer, en dit moet koördineer en integreer.

Agbare lede,

Die afgelope twee jaar het bewys dat indien die staat kragdadig en konsekwent ingryp, kan kernnywerhede gehelp word wat deur eksterne of interne faktore bedreig word, soos die geval van die vervaardigingsektor.

Ons het ’n herlewing in die vervaardiging van treine en busse in Suid-Afrika beleef, grootliks danksy verhoogde plaaslike verkryging. 

PRASA en Transnet het honderde miljarde rand bewillig om die pendel- en vragtreinnetwerk te verbeter.

Die klere-, tekstiel- en skoenbedryf het ná 15 jaar se dalende werkgeleenthede gestabiliseer. ’n Klere-ondersteuningskema bied breë finansiële ondersteuning wat ’n aantal fabrieke en werksgeleenthede gered het.

Rakende breë ekonomiese transformasie word die hersiene Wet op Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging en kodes gefinaliseer. Die ontwikkeling van ondernemings in swart besit en swart nyweraars sal ’n prioriteit wees.

Die regering het verskeie ondersteuningsprogramme vir kleinsake-ondernemings. ’n Sleutelprojek vir die Presidensie tans is om Regeringsdepartemente sover te kry om klein, mikro- en medium ondernemings binne 30 dae te betaal.

Daar word van departemente vereis om maandelikse verslae in te dien sodat ons vordering in hierdie opsig kan meet. Ons het besluit dat rekenkundige beamptes wat versuim om hierdie opdrag uit te voer, die gevolge daarvan sal moet dra.

In die 2010-staatsrede het ek die Werkskeppingsfonds aangekondig. R3 miljard is reeds vir projekte wat werkgeleenthede sal skep bewillig.

Agbare lede,

Net meer as ’n derde van die bevolking is jonger as 15. Ons land, soos vele ander, staar ’n krisis in die gesig met betrekking tot werkloosheid onder jong mense.

Verlede Mei het ek afgevaardigdes by NEDLAC gevra om jeugwerkloosheid-aansporings te bespreek. Dit is vir my aangenaam om te sê dat die samesprekings afgehandel is en dat ’n ooreenkoms ten opsigte van kernbeginsels bereik is. Die partye sal later vandeesmaand die Akkoord onderteken.

Die aansporings sal bydra tot die Regering se huidige pogings om die jeug te bemagtig.

Staatsbeheerde maatskappye bied vak- en leerderskappe aan en ons wil dit graag uitbrei. Ons doen ’n beroep op die privaat sektor om 11 000 gegradueerdes van verdere-onderwys-en-opleidingsinstansies, wat wag op aanstellings, in te neem.

Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming bestuur die Nasionale Landelike Jeugdienskorps, wat 11 740 jongmense in verskeie opleidingsprogramme ingeskryf het.

Die Departement beplan ook om nege landelike-jeug-spilpunte per provinsie te skep, insluitend in die 23 armste distrikte in die land.

Ons sal ook die Uitgebreide Openbare Werke-program en die Gemeenskapswerk-program gebruik om jongmense te help. Deur saam te werk sal ons ’n oplossing vir jeugwerkloosheid vind.

Agbare lede,

Ons het toerisme uitgewys as een van ons hoofwerkskeppers. Toeriste wat die land binnekom, het met ’n indrukwekkende 10,7% gegroei tussen Januarie en September 2012, wat meer is as die wêreldwye gemiddeld van 4% vir verlede jaar.

Ironies genoeg het die baie suksesvolle nasionale natuurbewaringspoging, wat daartoe gelei het dat meer as 73% van die wêreld se renosterbevolking hier bewaar word, ook daartoe gelei dat ons land geteiken word deur internasionale stropingsindikate.

Ons werk saam met ontvanger- en transito-lande soos Vietnam, Thailand en China en verskerp ons pogings om hierdie groeiende probleem die hoof te bied.

Agbare Speaker,
Agbare Voorsitter,

Die mynboubedryf, wat histories die ruggraat van die ekonomie is, is die afgelope tyd deur probleme geteister. Verlede jaar is die sektor deur onwettige stakings en die Marikana-tragedie, waarin meer as 44 mense dood is, getref.

Ons het ’n interministeriële komitee gestig, bestaande uit senior kabinetsministers, wat families bygestaan het in die moeilike tyd. Die Geregtelike Kommissie van Ondersoek, onder leiding van regter Ian Farlam, gaan met hul werk voort.

Deur saam te werk, kon ons maatskaplike stabiliteit in die gebied herstel.

Die Regering, arbeidsmag verteenwoordig deur COSATU, NACTU en FEDUSA, Besigheidseenheid SA, die Swart Besigheidsraad en die gemeenskapsektor het in Oktober vergader en ’n ooreenkoms aangegaan wat die grondslag gelê het vir myners in die bedryf om terug te gaan werk toe.

In besonder het ons ooreengekom om saam te werk om kollektiewe bedinging te verstewig; om behuisingsprobleme in myndorpe te verbeter; om die Nasionale Infrastruktuurplan te ondersteun; om werkloosheid onder die jeug te verminder; en om maatreëls te identifiseer wat ongelykhede sal verminder.

Die span is reeds besig, en sal eersdaags verslag doen oor spesifieke planne vir Rustenburg, Lephalale, Emalahleni, die Wes-Rand, Welkom, Klerksdorp, Burgersfort/Steelpoort, Carletonville en Madibeng.

Ek het twee weke gelede ’n vergadering in Pretoria met sir John Parker, voorsitter van Anglo-American plc, gehou om die beplande herstrukturering en aflegging van 14 000 werkers by Anglo-American Platinum te bespreek.

Landgenote,
Agbare lede,

Ons glo dat ons op beleidsvlak daarin geslaag het om sekerheid in die mynbedryf te verseker. Die nasionaliseringsdebat is in Desember tydens die regerende party se nasionale kongres uitgeklaar.

Om te verseker dat die openbare diens wat ons vandag aan ons mense lewer in die toekoms steeds aan ons mense gelewer word, vereis dat ons toepaslike belastingbeleide het om genoegsame inkomste te genereer om vir die dienste te betaal.

Ons vra van tyd tot tyd navorsing aan rakende ons belastingbeleid, om te bepaal tot watter mate hulle aan die vereistes van die fiskus voldoen. Later vanjaar sal die Minister van Finansies ’n studie oor ons huidige belastingbeleid aangevra om te verseker dat ons ’n gepaste inkomstebasis het om openbare besteding te ondersteun. Hierdie studie sal deels die huidige myntantieme-beleid evalueer rakende die vermoë daarvan om ons mense behoorlik te dien.

Agbare lede,
Vername gaste,

In verlede jaar se Staatsrede het ons die kwessie van die gapingsmark bespreek: dit is mense wat te veel verdien om vir ’n HOP-huis te kwalifiseer en te min om ’n bank-huislening te bekom.

Vanaf April 2012 tot Desember 2012 het provinsiale departemente ’n begroting van R126 miljoen van die toelae vir die ontwikkeling van menslike nedersettings vir hierdie program bewillig. Dit staan bekend as die Finansieringsgekoppelde Individuele Subsidie-program.

Die geld word deur die Nasionale Behuisingsfinansiering-korporasie gebruik, wat aangestel is om huise in 12 geregistreerde projekte te lewer aan mense wat binne die gapingsmark val.

Altesaam R70 miljoen van hierdie bedrag is tot op hede gebruik. Projekte sluit in die Walmer-skakel in die Oos-Kaap, Lady Selbourne, Nelmapius, Bohlabela Borwa, Cosmo City en Fleurhof in Gauteng, Intabazwe-korridor-behuising in die Vrystaat en Seraleng in Noordwes. Die implementering van hierdie agt gaping-behuisingsprojekte is tans aan die gang.

Landgenote en vriende,
Agbare lede,

Wat onderwys betref, is ons bly dat die graad 12-slaagsyfer uiteindelik ’n opwaartse neiging toon. Ons wens die matrieks van 2012, hul onderwysers, ouers en gemeenskappe geluk met die volgehoue verbetering.

Ons wens ook die topprovinsie vir 2012, Gauteng, en die top-graad 12-leerder, me. Madikgetho Komane van Sekhukhune-distrik in Limpopo, ons spesiale gas, geluk.

Agbare lede,

Die jaarlikse nasionale assesserings (JNA) in ons skole het ’n kragtige manier geword om die gesondheid van ons onderwysstelsel te meet. Ons verwelkom die jaarlikse verbetering van die JNA-uitslae, maar meer moet gedoen word om wiskunde, wetenskap en tegnologie te verbeter.

Die Departement van Basiese Onderwys sal ’n nasionale taakspan aanstel om die implementering van die Strategie vir Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie te versterk. Ons versoek die privaat sektor om die regering te help deur Wiskunde- en Wetenskap-akademies of Saterdagskole te stig, te bedryf of te borg.

Landgenote,

Ons is tevrede met die groei van ons vroeëkinderjare-opleidingsprogramme, insluitend Graad O.

Ons is ook tevrede met ons volwasse-opleidingsprogram, KhariGude, wat meer as 2,2 miljoen mense tussen 2008 en 2011 bereik het. 

Ons sal ook voortgaan om mense uit alle vlakke van die samelewing aan te moedig om nooit op te hou leer nie. Baie mense is geïnspireer deur die bekende musikant en my spesiale gas, mnr. Sipho Hotstix Mabuse, wat verlede jaar in die ouderdom van 60 jaar sy matriek geslaag het.

Agbare lede,

Ons het onderwys in 2009 as ’n kernprioriteit verklaar. Ons wil hê almal in die land moet besef dat onderwys ’n noodsaaklike diens vir ons nasie is. Deur te sê dat onderwys ’n noodsaaklike diens is, ontneem ons nie onderwysers van hul grondwetlike regte as werkers, soos die reg om te staak, nie.

Dit beteken bloot dat ons wil hê die onderwyssektor en gemeenskap moet onderwys meer ernstiger opneem as wat tans die geval is.

Alle suksesvolle gemeenskappe het een ding gemeen – hulle belê in onderwys. Behoorlike salarisse en diensvoorwaardes sal ’n sleutelrol speel om vaardige onderwysers te lok, te motiveer en te behou. In hierdie opsig sal ons die Presidensiële Vergoedingskommissie stig, wat gepaste vergoeding en diensvoorwaardes wat die staat aan al sy werknemers bied, sal ondersoek.

Ek het aangedui die eerste prioriteit behoort onderwysers te wees.

Die kommissie sal ook die opbrengs op belegging bepaal. Deur onderwys te verhef tot sy regmatige plek hoop ons om die gehalte van leer en onderrig en die bestuur van skole te verbeter. Ons hoop om gesindhede, houdings en uitkomste te verbeter.

Deur saam met onderwysers, ouers, gemeenskappe en verskeie belanghebbers te werk, sal ons in staat wees om ons skole in sentrums van uitnemendheid te omskep.

Agbare lede,

Die lewensverwagting van Suid-Afrikaners was vyf jaar gelede so laag dat kenners verwag het ons lewensverwagting sou teen 2015 tot op die vlak daal waar dit in 1955 was.

Ons het dus rede gehad om bly te wees oor die navorsing van die Mediese Navorsingsraad, die Lancet mediese joernaal en andere wat laat verlede jaar berig het oor ’n dramatiese verbetering in die lewensverwagting, vanaf ’n gemiddeld van 56 jaar in 2009 tot 60 jaar in 2011. Hierdie berigte het ook beduidende afnames in baba-sterftes en in dié van kinders onder vyf jaar getoon.

Verhoogde lewensverwagting is noodsaaklik vir die land se ontwikkeling. Mense kan langer werk, en hulle is ekonomies en maatskaplik aktief. Die familiestruktuur is meer stabiel en ouers leef langer en kan dus na hul kinders omsien.

Ons moet egter nie selfvoldaan oor hierdie statistieke raak nie.

Gegewe die hoë wedersydse infeksiekoers tussen MIV en TB het ons hierdie dienste saamgevoeg.

Werk gaan ook voort op die navorsingsfront. Suid-Afrika het ’n moontlike middel ontdek om malaria te behandel.

Navorsers by die Sentrum vir die konsortium van die Vigs-program van Navorsing in Suid-Afrika het ook breë neutraliserende teenliggame teen MIV ontdek.

Adjunkpresident Motlanthe het nuwe lede tot die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad-trust aangestel. Ons wens die span, onder leiding van afgetrede regter Zac Yacoob as voorsitter, geluk.

Leefstylsiektes neem teen ’n kommerwekkende pas toe. Ons moet die siektes verwant aan rook, alkohol, swak eetgewoontes en vetsug bekamp.

Agbare lede,

In 2014 sal ons die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds implementeer. Die Departement van Gesondheid sal vordering in die proefdistrikte bespoedig en uitbrei. 

In hierdie opsig sal die eerste groep van ongeveer 600 privaat mediese praktisyns vanaf April vanjaar gekontrakteer word om mediese dienste by 533 klinieke in dorpe en townships te voorsien in 10 van die proefdistrikte. 

Landgenote en vriende,

In Junie vier ons die honderdjarige herdenking van die 1913 Wet op Naturellegrond, wat swart mense as rondlopers, arbeiders en uitgeworpenes verklaar het in hul eie land.

Voormalige ANC-president, Sefako Makgatho, het dit benadruk in sy kongrestoespraak in 1919. Hy het gesê: “Die Wet op Naturellegrond word steeds ongenaakbaar toegepas in verskillende gebiede van die Unie en as gevolg hiervan werk baie inheemse families steeds slegs vir hul kos by wit boere.”

Ons is ook geëerd, in hierdie herdenkingsjaar van die 1913 Wet op Naturellegrond, om mev. Nomhlangano Beauty Mkhize in ons midde te hê. Sy is een van die veterane, saam met haar man, Saul Mkhize, in die stryd teen gedwonge uitsettings in Driefontein en Daggaskraal in die huidige Mpumalanga.

Die grondkwessie is ’n uiters emosionele saak.

Ons moet dit vreedsaam binne die raamwerk van die Grondwet en ander wetgewing oplos. Ek het op Facebook ’n boodskap van Thulani Zondi ontvang, wat sy kommer uitspreek oor die stadige pas van grondhervorming. Hy sê: “Mnr. Die President, terwyl ons die 100-jarige herdenking van die Wet op Naturellegrond van 1913 vier, wat ingestel is om die swart meerderheid van grond te ontneem, maan ek u om herverdeling van grond aan die swart mense wat nie grond besit nie te bespoedig.” Wanneer ons grond herverdeel, moet ons voedselsekerheid in ag neem. Opleiding en mentorskap van opkomende swart kommersiële boere is ook belangrik.

Sedert 1994 behandel ons die grondkwessie met restitusie, herverdeling en hervorming van eiendomsreg. Soos reeds genoem sal ons nie ons herverdeling-teikens kan nakom nie.

Die regering se middeltermynoorsig verlede jaar het ’n aantal tekortkominge in ons grondhervorming-implementeringsprogram uitgelig. Ons sal daardie lesse gebruik om die implementering te verbeter.

Eerstens moet ons die tydperk verminder wat dit neem om ’n eis af te handel. In hierdie opsig sal die regering nou die beginsel van regverdigheid en billikheid gebruik vir vergoeding, soos uiteengesit in die Grondwet, in plaas van die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper, wat die staat dwing om meer te betaal vir die grond as wat dit werklik werd is.

Tweedens is voorstelle vir wysigings van die Wet op die Herstel van Grondregte, 1994, gemaak om voorsiening te maak vir mense wat die sluitingsdatum van 31 Desember 1998 misgeloop het, die geleentheid te gee om weer grondeise in te dien.

Nog ’n opsie wat oorweeg word, is uitsonderings tot die Junie 1913-afsnydatum om eise van afstammelinge van die Khoi en San te akkommodeer, sowel as eise op erfenisgebiede en geskiedkundige landmerke.

Nog ’n belangrike les is om genoegsame ondersteuning aan nuwe grondeienaars te bied nadat grond aan hulle toegestaan word sodat die grond steeds produktief kan bly.

Ons moet ook beter aansporings bied vir kommersiële boere wat gewillig en in staat is om kleinboere te mentor.

Nog ’n uitdaging wat ons in die verlede gehad het, is die voorkeur van sommige eisers vir geld bo grond, wat ook nie help om die patrone van grondeienaarskap te verander nie.

As deel van die Presidensie se program van belanghebber-betrokkenheid voor die Staatsrede, het adjunkpresident Motlanthe Dinsdag ’n vergadering met boere en plaaswerkers in die Paarl gehou.

Belanghebbers het saamgestem dat vrede en stabiliteit in die landbousektor moet heers en dat die lewens- en werkomstandighede van plaaswerkers dringend verbeter moet word.

Dit is verblydend dat selfs boere gevra het dat die grondhervorming en ondersteuning van opkomende boere bespoedig moet word.

Ons sal aanhou om boere en plaaswerkers by die gesprekke te betrek.

Landgenote en vriende,

Ons moet ook ag slaan op die vinnige pas van verstedeliking. Die Sensus-statistieke het getoon dat 63% van die bevolking in stedelike gebiede woon. Dit sal na verwagting tot meer as 70% teen 2030 verhoog.

Apartheid se ruimtelike patrone is steeds merkbaar in ons dorpe en stede. Munisipaliteite kan nie alleen die uitdagings die hoof bied nie. Ons het ’n nasionale benadering nodig.

Hoewel landelike ontwikkeling steeds ’n prioriteit vir die Regering bly, is dit noodsaaklik dat ons ook ’n nasionale geïntegreerde stedelike ontwikkelingsraamwerk ontwerp om munisipaliteite te help om groeiende verstedeliking doeltreffend te bestuur.

As deel van die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan moet al drie regeringsfere die nuwe vlaag van verstedeliking op so ’n wyse bestuur dat dit ook bydra tot landelike ontwikkeling. 

Agbare lede,

Een van hierdie Regering se belangrikste prioriteite is om die status van vroue te verbeter. Die Wet op Geslagsgelykheid en Bemagtiging van Vroue is deur die Kabinet goedgekeur vir openbare kommentaar. Hierdie wet sal enige praktyke wat ’n nadelige uitwerking op vroue en meisies het, onwettig maak.

Dit wettig ook die 50/50-beleid met betrekking tot die verteenwoordiging van vroue in besluitnemingstrukture.

Agbare lede,

Die onlangse afskuwelike groepverkragting en moord op Anene Booysen en ander vroue en meisies het die aandag gevestig op die noodsaaklikheid van gesamentlike aksie om hierdie euwel uit te roei.

Die wreedheid en barbaarsheid waaraan magtelose vroue blootgestel word, is onaanvaarbaar en het geen plek in ons land nie. Verlede jaar is die Nasionale Raad vir Geslagsgebaseerde Geweld gestig. 

Dit bestaan uit lede van die regering, nieregeringsorganisasies, gemeenskapsorganisasies, geloofsorganisasies, die akademie, navorsingsinstellings, mannegroepe en verteenwoordigers uit die geledere van vroue, kinders en persone met gebreke.

Ons vra die koördinerende struktuur om die veldtog om geweld teen vroue te bekamp, ’n alledaagse veldtog te maak.

Ons prys alle sektore vir die veldtogte wat reeds van stapel gestuur is, en sodoende bewys het dat sodanige optrede nie geduld sal word nie.

Ek het wetstoepassing-agentskappe beveel om hierdie sake met die nodige dringendheid en belangrikheid te hanteer. Die Eenhede vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings, wat in 2010 gestig is, se personeelgetalle is vermeerder.

Gedurende die vorige finansiële jaar het hierdie eenhede verseker dat meer as 363 lewenslange vonnisse uitgedeel is, met ’n veroordelingskoers van 73% vir misdade teen vroue ouer as 18 jaar en 70% vir misdade teen kinders jonger as 18 jaar. 

Kom ons haal ons hande uit ons sakke en werk saam om die probleem te takel van mense wat vroue, kinders en selfs oumas verkrag. Dit is ’n skandelike en vreesaanjaende kriminele daad. Die skuldiges moet by die polisie verkla word en in hegtenis geneem word.

Die Regering het nog ’n meganisme ingestel om vroue te beskerm, naamlik die Wetsontwerp op die Beskerming teen Teistering. Hoewel die Wet op Huishoudelike Geweld ook beskerming bied, is dit slegs van toepassing op persone wat in ’n huishoudelike verhouding is.

Die Wetsontwerp op die Beskerming teen Teistering dek ook teistering deur persone wat hul slagoffers teister deur middel van elektroniese media. 

Die Wetsontwerp op die Bestryding van Handel in Mense is boonop verlede jaar deur die Nasionale Vergadering aangeneem en is nou by die Nasionale Raad van Provinsies. Sodra dit geïmplementeer is, sal dié wet vroue en kinders, wat dikwels slagoffers van sodanige verskriklike misdade is, beskerm.

Landgenote en vriende,

Daar is toenemende sigbaarheid van die polisie, wat bydra tot laer vlakke van ernstige misdaad.

Die bedrywighede fokus op onwettige vuurwapens, gesteelde voertuie en goedere uit voertuie, en drank en dwelms, wat beskou word as die hoofredes vir misdaad. Hierdie bedrywighede het gelei tot laer misdaadvlakke.

Landgenote en vriende,

Die regering gaan voort met die stryd teen korrupsie. Die kapasiteit van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het vanaf 70 personeellede tot meer as 600 tans gegroei .

Sedert 2009 het ek 34 proklamasies onderteken wat die SOE aansê om bewerings van korrupsie, bedrog of wanadministrasie in verskeie regeringsdepartemente en staatsinstellings te ondersoek.

Kriminele ondersoeke is ingestel teen 203 persone wat aangekla is van 67 prioriteitsake wat teen die einde van September 2012 ondersoek is.

Daar is met voorverhoor-verrigtinge teen altesaam 191 persone begin. Altesaam 66 mense wat ondersoek word, het na bewering R5 miljoen of meer deur korrupsie bekom. Bevriesingsbevele is teen 46 persone verkry.

Ander suksesse in die afgelope finansiële jaar sluit in dat 107 amptenare wat in die strafregstelsel werk, skuldig bevind is. 

Die Batebeslagleggingseenheid het beslag gelê op bates ter waarde van meer as R541 miljoen. Altesaam R61 miljoen van hierdie bates is reeds aan die staat bemaak. Dié bates word weer aangewend in die stryd teen misdaad en korrupsie deur die kriminelebateverhalingsrekening.

Verlede jaar is ’n bykomende  R150 miljoen uit die kriminelebateverhalingsrekening vir die werk van die Teenkorrupsie-taakspan bewillig, wat bestaan uit die Valke, die SOE en die Nasionale Vervolgingsgesag. 

Hierdie hulpbronne word aangewend om die kapasiteit van die wetstoepassing-agentskappe te verbeter om korrupsie te bekamp. Ons moedig die privaat sektor aan om ook die stryd teen korrupsie aan te sê sodat ons dit van alle kante af kan beveg.

Om die stryd teen korrupsie verder te verhoog, sal ons alle vakante poste in die hoër vlakke van die strafregstelsel vul.

Landgenote en vriende,
Agbare lede,

Daar is lesse uit Marikana en ander voorvalle te leer en ons kan nie toelaat dat dit weer in ons land gebeur nie.

Ons Grondwet is een van ons grootste nasionale prestasies. Alles wat ons as Regering doen, word deur ons Grondwet en die visie van die gemeenskap wat ons wil bou, gelei.

Ons doen ’n beroep op alle burgers om ons Grondwet te vier, te bevorder en te beskerm. Ons Handves van Regte waarborg dat elkeen die reg het “om vreedsaam en ongewapen te vergader, te betoog, ’n betooglinie te vorm en petisies voor te lê”. Ons vra dus ons mense om hierdie regte uit te oefen en om op ’n vreedsame en ordelike wyse te betoog.

Dit is onaanvaarbaar wanneer mense se regte geskend word deur voorstanders van gewelddadige dade, soos dade wat lei tot die besering en dood van mense, skade aan eiendom en die vernietiging van waardevolle openbare infrastruktuur.

Ons is verplig om die Grondwet as die hoogste wet van die Republiek te handhaaf, te verdedig en te respekteer. Ons sal geen moeite ontsien om dit te verseker nie. Daarom het ek die Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit-groepering beveel om onmiddellike maatreëls in te stel wat sal verseker dat enige voorvalle van gewelddadige betoging ondersoek word en die skuldiges vervolg word.

Howe sal toegewys word om sodanige sake op ’n prioriteitsbasis te hanteer Die reg moet afgedwing word en daar moet toegesien word dat dit afgedwing word – regverdig, doeltreffend en vinnig.

Die burgers van ons land het die reg om te verwag dat hul demokratiese staat sy plig sal nakom ter verdediging van die Grondwet waarvoor so baie mense so lank en hard baklei het. Ons kan nie uitsonderings maak nie.

Die Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit-groepering het dus maatreëls in plek gestel op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak om sodanige voorvalle doeltreffend te hanteer.

Ek wil terselfdertyd byvoeg dat regeringsdepartemente op alle vlakke nou met gemeenskappe moet saamwerk om te verseker dat besware aandag geniet voordat dit te ver vorder. Dit bly ons verantwoordelikheid. Ons is immers ’n Regering wat omgee.

Agbare lede,

Vanjaar vier ons die 50ste herdenking van die ontstaan van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE), wat opgevolg is deur die Afrika-unie (AU).

Ons bring hulde aan die OAE wat onverpoos geveg het vir die dekolonialisering van ons kontinent, insluitend hul bydrae tot ons eie vryheid.

Ons sal die werk voortsit in ons strewe na ’n doeltreffender organisasie vir ons Unie. Die Nepad-program, sowel as die Afrika-portuuroorsigmeganisme het pas hul tiende bestaansjaar gevier.

As die organiseerder van die Nepad- Presidensiële Infrastruktuur-kampvegter-inisiatief bou Suid-Afrika voort op die werk van ander kampvegters om hoë-impak-infrastruktuurprojekte op die kontinent te vestig.

Wat vrede en sekuriteit aanbetref, ondersteun ons die mense van Mali in hul poging om die territoriale integriteit van hul land te vestig en te behou.

Ons doen ’n beroep op die leiers in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Guinee-Bissau en Somalië om voort te gaan met hul stryd vir blywende vrede om hul mense se ontwil. Ons sal aanhou om standpunt in te neem teen die ongrondwetlike omverwerping van regerings. 

Ons is bemoedig deur die ontwikkelings tussen die Soedan en Suid-Soedan. Ons loof ons voormalige president, Thabo Mbeki, en ander lede van die AU se hoëvlak-paneel, vir die toegewyde wyse waarop hulle saam met hierdie twee partye gewerk het. 

Ons deel in die Demokratiese Republiek van die Kongo se stryd teen die bedreiging van hul sekuriteit.

Suid-Afrika sal voortgaan om Afrika se vredespogings te ondersteun, insluitend deur bemiddeling, ontplooiing van troepe vir vredesendings en deur materiële en finansiële bystand.

In hierdie opsig sien ons uit na die beëindiging van politieke gesprekke in Zimbabwe en Madagaskar. 

Ons visie van ’n beter Afrika in ’n beter wêreld sal nuwe stukrag kry wanneer ons gasheer speel vir die 5de BRICS-beraad volgende maand in Durban.

Ons is geïnspireer deur die beduidende groei van bilaterale verhoudings – diplomaties en ekonomies – tussen Suid-Afrika en die ander BRICS-lande.

Die versterking van Noord-Suid-verhoudinge bly ’n sentrale fokus van ons buitelandse beleid. Ons hervestig ons vennootskap met lande in die noorde, veral die VSA, Europa en Japan.

Die Verenigde Nasies (VN) se 70ste herdenking bied ’n geleentheid om die transformasie van die VN-sekuriteitsraad verder te voer.

Ons sal voortgaan om die G20 te gebruik om die wense van die Afrika-mense te verwoord en streef na die transformasie van Bretton Woods-instansies.

Suid-Afrika se internasionalisme behels ’n groot mate van solidariteit. Ons skaar ons by die mense van Palestina wat daarna streef om ’n nuwe blaadjie om te slaan in hul stryd om die reg tot selfbeskikking; dus steun ons hul bod om ’n staat te word.

Die uitbreiding van Israelitiese nedersettings in Palestynse gebiede is ’n ernstige struikelblok tot die oplossing van die konflik.

Die reg tot selfbeskikking vir die mense van Wes-Sahara moet bewaarheid word. Ons staan sterk in ons pleidooi vir die opheffing van die ekonomiese verbod teen Kuba. Deur samewerking kan ons meer doen om ’n beter Afrika en ’n beter wêreld te skep.

Landgenote,

In 2012 het ons daarop gefokus om ons land se kulturele erfenis te bewaar en te beskerm, met spesifieke klem op ons bevrydingserfenis.

Ons het ook ’n geskiedkundige, nasionale beraad oor maatskaplike samehorigheid aangebied, wat gefokus het op ’n maatskaplik inklusiewe, sorgsame en trotse nasie.

Tydens die implementering van ons program sal ons saam met die voorstanders van maatskaplik samehorigheid werk – vooraanstaande Suid-Afrikaners uit verskeie sektore van ons gemeenskap.

Ons is trots om vanaand twee van ons voorste twee regsgeleerdes in maatskaplike samehorigheid hier teenwoordig te hê, naamlik regter Yvonne Mokgoro en advokaat George Bizos.

Landgenote,

Vanjaar is die 50ste herdenking van die inval op Liliesleaf-plaas, die ontsnapping uit Marshall-plein sowel as die begin van die Rivonia-verhoor. ’n Reeks vieringe word deur die jaar beplan om hierdie drie gebeure te herdenk, met ’n nasionale herdenking op 11 Julie as hoogtepunt.

Agbare lede,

Ons het pas ’n hoogs suksesvolle Afrika-nasiebeker aangebied. Ons wens die Afrika-kampioene, die Federale Republiek van Nigerië, hartlik geluk, asook al die spanne wat deelgeneem het vir hul bydrae om die standaard van Afrika-sokker ten toon te stel.

Ons bedank ook ons mense vir hul uitstekende gasvryheid en ondersteuning.

Ek het die geleentheid gehad om persoonlik die CAF-president, Issa Hayatou, te bedank vir die eer wat ons toegeken is om die Afrika-nasiebeker aan te bied.

Landgenote en vriende,

Soos wat ek vroeër gesê het, sal hierdie aksieprogram anders geïmplementeer word, aangesien die aktiwiteite van departemente belyn moet wees met die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Landgenote,

Voordat ek afsluit, gun my die geleentheid om ons opregte simpatie oor te dra aan die familie van vryheidsvegter en vername menseregte-prokureur, kameraad Phyllis Naidoo, wat vandag oorlede is.

Ons het ook onlangs kameraad Amina Cachalia verloor.

Ons is werklik hartseer oor die verlies.

Agbare lede,
Landgenote,

As Suid-Afrikaners moet ons aanhou om een primêre doel voor oë te hê – om ons land ’n waarlik sterk en voorspoedige nasie te maak.

Gelukke Valentynsdag aan almal!

Ek bedank u.

Issued by: The Presidency

Related Information

 

Share this page

Similar categories to explore