Staatsrede van die President van Suid-Afrika, Thabo Mbeki: Gesamentlike Sitting van die Parlement

9 Februarie 2007

Mevrou die Speaker van die Nasionale Vergadering;
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP);
Adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering en Adjunkvoorsitter van die NRP;
Adjunkpresident van die Republiek;
Agbare leiers van ons politieke partye en agbare lede van die Parlement;
Ministers en adjunkministers;
Ons hooggeagte Hoofregter en lede van die Regsbank;
Hoofde van ons veiligheidsdienste;
President van die Reserwebank;
President Nelson Mandela en Mevrou Graca Machel;
President FW de Klerk en Mevrou Elita de Klerk;
Hooggeplaaste premiers en speakers van ons provinsies;
Burgemeesters en leiers in ons stelsel van plaaslike regering;
Ons geëerde tradisionele leiers;
Hoofde van die staatsorgane wat ons konstitusionele demokrasie ondersteun;
Direkteurs-generaal en ander leiers van die Staatsdiens;
U eksellensies ambassadeurs en hoë kommissarisse;
Hooggeplaaste gaste, vriende en kamerade;
Mense van Suid-Afrika:

Ten tye van haar dood het ons geweet dat Mama Adelaide Tambo kort vantevore uit die hospitaal ontslaan is. Maar omdat ons ook geweet het dat sy die volharding van gees en die wilskrag het om die stryd saam met die lewendes voort te sit, was dit ons voorneme om haar en ander lede van haar gesin as ons gaste by hierdie deurlugtige geleentheid te verwelkom. Dit was ons helaas nie beskore nie.

Môre sal ons die laaste eer aan haar betoon wanneer ons haar oorskot ter aarde bestel. Sy sal dus slegs in die gees by ons wees wanneer ons in Oktober vanjaar die 90ste herdenking van die geboorte van Oliver Reginald Tambo - haar eggenoot, die vader van haar kinders, haar metgesel, haar kameraad, en 'n vooraanstaande seun uit die geledere van ons mense - vier. Ons betuig weereens ons meegevoel aan die Tambo-gesin.

Ek is egter besonder bly om vandag die agbare Albertina Luthuli in ons midde te verwelkom; dogter van ons eerste Nobel-vredespryswenner, Inkosi Albert Luthuli, wie se tragiese dood, 40 jaar gelede, ons vanjaar herdenk wanneer ons die tragiese dag in herinnering roep waarop aangekondig is dat hy in die suikervelde van KwaDukuza deur 'n voortsnellende trein vermorsel is. Sy dood was net so skokkend en geheimsinnig as wat sy lewe 'n leidster was wat vooruitgewys het na die vryheid wat ons vandag geniet.

Ek voel ontsaglik trots dat demokratiese Suid-Afrika verstanding en fyngevoelig genoeg was om erkenning te gee aan wat Albert Luthuli en Oliver Tambo vir ons volk beteken deur twee van ons nasionale ordes na hulle te vernoem: die Orde van Luthuli, en die Orde van die Metgeselle van OR Tambo. Ek dra ook kennis van die diepe trots wat ervaar is deur almal wat tot die geledere van die hoogaangeskrewe nasionale ordes toegelaat is.

Dit is ook vir my 'n genoeë om die aktiviste van die vroue-optog van 1956 en die Soweto-opstand van 1976 in die Parlement te verwelkom waar hulle in die Presidentslosie sit, asook die hooggeagte patriotte uit al ons provinsies, wat deur ons provinsiale speakers genooi is om hulle aan te sluit by die groep belangrike gaste wat vandag hier saam met ons vergader is.

Die Regering van die mense van Suid-Afrika, namens wie ek vandag hier praat, soos ek ook in voorafgaande jare bevoorreg was om te doen, is in 2004, na afloop van die algemene verkiesing van daardie jaar, tot stand gebring.

Verlede maand, tydens sy jaarlikse lekgotla of bosberaad in Januarie, het die nasionale Kabinet, wat aan die spits staan van die regeringstelsel wat ons die voorreg het om te bestuur, besin oor die feit dat daardie ontmoeting die halfpadmerk verteenwoordig het in die bestaan van die Regering wat tydens ons mees onlangse verkiesing, in 2004, in die lewe geroep is.

In die lig daarvan is dit vanselfsprekend dat ons onsself sou afvra watter vordering ons gemaak het in ons pogings om die doelwitte te bereik waartoe ons toegewy is, soos ons die nasie in alle eerlikheid verseker het, en wat daartoe gelei het dat ons mense op oorweldigende wyse aan ons die gesag verleen het om ons land van 2004 tot met die volgende verkiesing in 2009 te regeer!

Met u vergunning wil ek graag verder teruggaan, en in die herinnering roep wat ons, as verteenwoordigers van ons mense, in 2004 gesê het in die teenwoordigheid van ons vriende van die res van die wêreld, wat byeengekom by die regeringsetel by die Uniegebou in Pretoria, op Vryheidsdag, die 10de herdenking van ons bevryding, en in deelname aan die inhuldiging van die President van die Republiek, wat deur ons Parlement verkies is ooreenkomstig die wil wat ons mense op demokratiese wyse tydens die 2004-verkiesing uitgespreek het.
By daardie geleentheid het ons onder andere gesê:

"Ons land het te lank dit wat lelik en weersinwekkend in die menslike samelewing is, bevat en verteenwoordig."

"Dit was 'n plek waarin om swart gebore te word, gelykstaande was aan om 'n lewenslange vloek te erf. Dit was 'n plek waarin om wit gebore te word, gelykstaande was aan om 'n permanente las van vrees en verskuilde woede te dra ."

"Dit was 'n plek waarin smerigheid, die stank van armoede, die oop riole, die ontbindende verrotting, die malende skare van misrabele armsaliges, die nimmereindige beelde van 'n landskap gestrooi met agterlosig neergesmyte vullis 'n aansig aangeneem het wat noodsaaklik skyn te gewees het om die skoonheid van 'n ander wêreld vol netjiese strate, boomryke lane, en bloeisels teen die groen, singende gras en voëls en huise geskik vir konings en koninginne, en liriese musiek, en liefde te beklemtoon.

"Dit was 'n plek waar om in sommige plekke te woon 'n uitnodiging gebied het aan ander om op jou jag te maak, of om jouself te verdoem om op ander jag te maak, veral bure wat nie anders kon nie as om die prooi te word van alkohol- en dwelmverdowing wat die pyn van bestaan sou demp, wat geweet het dat hulle lewens nie normaal sou wees sonder moord in hulle midde nie, en verkragting en brutale persoonlike oorloë sonder oorsaak of rede.

"Dit was 'n plek waar om in ander woonbuurte te woon, beteken het dat jy veiligheid en sekuriteit geniet het, want om veilig te wees was om beskerm te wees deur hoë mure, geëlektrifiseerde heinings, waghonde, polisiepatrollies en militêre regimente wat gereed was om diegene te beskerm wat ons meesters was, met gewere en tenks en vliegtuie wat die dood sou laat neerreën op diegene wat die meesters se vrede versteur."

"Ons het vandag hier byeengekom, op Vryheidsdag, omdat daar 'n tyd gekom het toe ons mense, saam met biljoene ander mense vanoor die wêreld, mense wat ons medestryders is, en wat deur ons uitgelese gaste verteenwoordig word, besluit het om te sê: dit moet einde kry!."

"Ons is grootliks bemoedig deur die feit dat ons algemene verkiesing bevestig het dat al ons mense, ongeag van ras, kleur of etnisiteit, vasberade is om saam te werk om 'n Suid-Afrika te skep wat deur 'n gemeenskaplike droom gedefinieer word."

"Geeneen van die groot maatskaplike probleme wat ons moet oplos, kan buite die konteks van werkskepping en die verligting en uitwissing van armoede slaag nie. Dit het betrekking op alles, van die verbetering van die gesondheid van ons mense, tot die verlaging van die vlak van misdaad, die verhoging van die vlak van geletterdheid en gesyferdheid, en die oopgooi van die deure van leer en van kultuur vir almal." Ons belowe plegtig teenoor al die helde en heldinne wat offers gebring het ter wille van ons vryheid, asook teenoor." ons vriende uit die res van die wêreld, dat ons nooit die vertroue sal verraai wat julle in ons gestel het toe julle gehelp het om ons die kans te gee om Suid-Afrika in 'n demokratiese, vreedsame, nie-rassige, nie-seksistiese en vooruitstrewende land te verander nie, toegewy aan die edel visie van menslike solidariteit.

"Die werk om daardie Suid-Afrika tot stand te bring, het begin. Daardie werk sal tydens ons tweede dekade van vryheid voortgesit word.”

Vyftig jaar gelede, toe hulle besig was om voor te berei vir die sameroeping van die Volkskongres, wat die Vryheidsmanifes aanvaar het, het die patriotte van destyds gesê: "Laat ons saam praat, ons almal saam - Afrikaan en Europeaan, Indiër en Gekleurde." al die mense van Suid-Afrika." Laat ons saam oor vryheid praat. En oor die geluk wat mans en vroue te beurt kan val as hulle in 'n land woon wat vry is.”

Ons moet vandag ons belofte herbevestig om saam te praat oor vryheid, om in vennootskap op te tree om vir almal daardie geluk te skep wat gepaardgaan met vryheid, om saam te werk om 'n Suid-Afrika te skep wat gedefinieer word deur 'n gemeenskaplike droom, om saam, deur optrede, te sê: ons het genoeg gehad van alles wat veroorsaak het dat ons land dit wat lelik en weersinwekkend in die menslike samelewing is, bevat en verteenwoordig het!

Ons moet voortgaan om te reageer op die perspektief waaroor ons gepraat het toe die huidige Regering sy dienstermyn begin het, ten volle bewus van die feit dat "geeneen van die groot maatskaplike probleme wat ons moet oplos, buite die konteks van werkskepping en die verligting en uitwissing van armoede opgelos kan word nie” en dat "die stryd om armoede uit te wis 'n kernaspek van die nasionale poging om die nuwe Suid-Afrika tot stand te bring, was en steeds sal wees”.

In reaksie op die noodsaak om so vinnig moontlik voorwaarts te beweeg met die skep van die nuwe Suid-Afrika wat deur 'n gemeenskaplike droom gedefinieer word, het ons regering hom daartoe verbind om, in samewerking met alle Suid-Afrikaners, gedetailleerde programme te implementeer wat ten doel het om:
* die tempo van belegging in die Eerste Ekonomie te verhoog
* die koste om in ons land sake te doen, te verlaag
* die groei van die klein- en mediumsakesektor te bevorder
* die proses van vaardigheidsontwikkeling te versnel
* ons uitvoerprestasie te verbeter, met die fokus op dienste en vervaardigde goedere
* besteding aan wetenskaplike navorsing en wetenskapsontwikkeling te verhoog
* gedetailleerde programme in werking te stel om die uitdagings van die Tweede Ekonomie die hoof te bied
* programme gerig op die bevordering van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging in werking te stel
* programme gerig op die daarstelling van 'n maatskaplike sekerheidsnet om armoedeverligting te bewerkstellig, voort te sit
* toegang tot dienste soos water, elektrisiteit en sanitasie uit te brei
* die gesondheidsprofiel van die nasie in die geheel te verbeter
* die behuisingsprogram te versterk
* bykomende maatreëls wat die deure van onderrig en kultuur wyer open, in werking te stel
* die veiligheid en sekuriteit van alle burgers en gemeenskappe te verhoog
* te sorg dat die openbare sektor sy verantwoordelikhede as 'n kritieke rolspeler in die groei, heropbou en ontwikkeling van ons land nakom
* die proses vir die hernuwing van die Afrika-kontinent te versnel
* toenemend tot die oplossing van groot vraagstukke wat die wêreldbevolking in die gesig staar, by te dra.

Mevrou die Speaker en Voorsitter,
Dit verskaf my plesier om verslag te doen dat die Regering steeds hard bly werk om te sorg dat die doelstellings van die nasie bereik word.
Teen 'n gemiddeld van meer as 4,5% was die groeikoers van ons ekonomie oor die afgelope twee-en-'n-half jaar die hoogste sedert ons in 1994 'n demokrasie tot stand gebring het. Belegging in die ekonomie deur sowel die openbare as die privaatsektor het met ongeveer 11% toegeneem, en die algehele besteding aan openbare-sektor infrastruktuur teen 'n jaarlikse gemiddeld van 15,8%. Vandag is vaste belegging as persentasie van die bruto binnelandse produk - teen sowat 18,4% - op sy hoogste vlak sedert 1991.

Die getal werkende mense het oor die afgelope drie jaar met ongeveer 'n halfmiljoen per jaar toegeneem.

Daar was bestendige vooruitgang in swart mense se vordering binne die ekonomie. Hulle eienaarskap van die markkapitalisasie van die JSE het toegeneem van net meer as 3% in 2004 tot byna 5%; en die verhouding van swart mense in die topbestuur het van 24% van die totaal tot 27% toegeneem. Ten spyte hiervan moet ons steeds besorgd bly oor die feit dat hierdie getal steeds bitter laag is.

Die vooruitgang van die ekonomie het groot uitdagings vir ons almal meegebring. Die massiewe en volgehoue toename in verbruikersaanvraag weerspieël 'n gesonde groei in vlakke van voorspoed oor die breë spektrum van die bevolking; en die groot infrastruktuurprojekte wat ons nou aanpak, verg massiewe lewering van voorraad en masjinerie.

Maar ons internasionale handelsbalans toon dat ons nie daarin geslaag het om die kapasiteit te skep om die verbruikers- en kapitale goedere wat ons land nodig het, te lewer nie. Terwyl huishoudelike skuld breedweg teen dieselfde koers toegeneem het as die groei in inkomste, beteken die feit dat Suid-Afrikaners minder spaar dat ons op die spaargeld van ander nasies moet staatmaak. Die voortgesette onbestendigheid van ons geldeenheid het ook geen goed vir ons uitvoerindustrie voorspel nie.

Die ekonomie het oor die afgelope drie jaar ongeveer anderhalf miljoen werksgeleenthede geskep. Dit is bemoedigend dat 300 000 van die werksgeleenthede wat net in die jaar van Maart 2005 tot Maart 2006 geskep is, in die formele sektor, buite die landbousektor, val - dit verteenwoordig 'n groeikoers van sowat 4%.

'n Klein deeltjie hiervan is die permanente werksgeleenthede wat deur die Uitgebreide Program vir Openbare werke (EPWP) geskep is. Maar daar bestaan geen twyfel dat hierdie program in 'n beduidend hoër rat oorgeskakel kan en moet word nie. Daar is ook geen twyfel nie dat ons meer selfwerksaamheid kan skep deur middle van klein en mikro-ondernemings. En gegewe dat 'n groot meerderheid van die werkloses jongmense is, kan ons baie beter doen deur ingrypings soos die Nasionale Jeugdiens en die ontwikkeling van jong entrepreneurs.

Dit is vir ons iets om op trots te wees dat ons, ooreenkomstig ons belofte om 'n sorgsame gemeenskap te skep, sedert 2004 dienslewering en ander aspekte van die maatskaplike bestel verbeter het. Waar daar in 2004 omtrent agt miljoen begunstigdes van maatskaplike toelaes was, het 11 miljoen arm Suid-Afrikaners vandag toegang tot hierdie toelaes. Dit is bemoedigend dat die toename in die koers waarteen hierdie toelaes opgeneem word oor die afgelope tyd binne beheerbare perke geval het namate die programme volwassenheid bereik. Dit sal volhoubaarheid verseker, en die aanwending van meer regeringshulpbronne om ekonomiese dienste te verskaf om meer werk- en sakegeleenthede te skep.

In die behuisingsprogram is byna 300 000 nuwe subsidies oor die afgelope twee jaar toegestaan. Aangesien ons egter probeer het om die gehalte te verhoog en planne te ontwikkel vir diegene wat buite die huidige openbare- en privaatsektorplanne val, was die leweringstempo baie stadiger as wat ons verwag het. Deur ons optrede moet ons hierdie situasie verander.

Soos die agbare lede weet, het ons oor die afgelope paar jaar verskeie programme ter verbetering van passasiersvervoer ontwikkel en in werking begin stel. Dit sluit die taxi-herkapitaliseringsprogram en provinsiale inisiatiewe soos die Moloto-spoorkorridor in Mpumalanga, waaraan haalbaarheidswerk reeds begin het, die Klipfontein-korridor in Kaapstad en die Gautrein-projek met sy skakels met die res van die openbare vervoerstelsel in.

Hierdie en baie ander inisiatiewe is deel van 'n omvattende passasiersvervoerstrategie wat pad en spoor kombineer. Ons sal aan die dringende implementering van hierdie planne aandag gee om sodoende die lewensgehalte van veral werkende mense te verhoog.

Toegang tot elektrisiteit, water en sanitasie het verbeter. Teen 2005 het Suid-Afrika reeds die Millenniumontwikkelingsdoelwit met betrekking tot basiese watervoorsiening bereik deurdat toegang tot water van 59% in 1994 tot 83% in 2006 toegeneem het. Volgens die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsplan (UNDP) is Suid-Afrika een van die min lande wat minder aan sy militêre begroting as aan water en sanitasie bestee het. Volgens die UNDP se verslag oor menslike ontwikkeling van 2006:

"… [het] Suid-Afrika gedemonstreer hoe die mensereg tot water as 'n meganisme vir bemagtiging en 'n riglyn vir beleid kan dien." Waterhervorming wat op hierdie reg gebaseer is, het die land in staat gestel om toegang uit te brei en die erflating van rasseongelykheid, wat 'n apartheidsnalatenskap was, deels deur regsgebaseerde geregtigheid te oorkom”. (pp 62/63)

Ons moet hierdie groot prestasie inderdaad vier. Maar dit is 'n feit dat agt miljoen mense nog steeds sonder drinkbare water is. Nog baie meer is sonder elektrisiteit en sanitasie. Ons is trots daarop dat ons binne een jaar die agterstand in die totale afskaffing van die emmerstelsel in gevestigde nedersettings met byna die helfte verminder het. Ons is op koers om hierdie ontmenslikende stelsel in hierdie gebiede teen die einde van die jaar heeltemal tot 'n einde te bring.

Ons sal voortgaan om hierdie uitdagings die hoof te bied sodat ons dit wat lelik en weersinwekkend in ons land is kan uitwis sodat ons saam oor vryheid, en die geluk wat daarmee gepaardgaan kan praat.

'n Ondersoek na onderwys en vaardigheidsontwikkeling toon dat 'n groot verbetering teen 2004 ingetree het, ofskoon teen 'n stadige pas. Dit is van toepassing op geletterdheidsvlakke, bruto inskrywing aan skole, en die koers van deelname aan tersiêre onderrig. Die fluktuerende matriekslaagsyfer dui wel aan dat baie meer gedoen moet word om die stelsel te stabiliseer en bestendige verbetering te verseker. Terselfdertyd is die getal matriekleerlinge wat Wiskunde op hoër graad slaag net effens hoër as in 1995. Daar is ook nog steeds swakhede in die implementering van die programme vir basiese volwasse onderrig (ABET).

Ofskoon daar in die onlangse verlede meer sake ingevolge die grondhervormingsprogram afgehandel is, moet ons steeds 'n ernstige poging aanwend om die oorblywende sake, waarvan talle meer ingewikkeld is, af te handel. Aan die ander kant is weinig vordering met die herverdeling van grond gemaak. Ons sal die inhiberende faktore deeglik in oënskou neem sodat ons hierdie program as 'n saak van dringendheid kan bespoedig.

Al hierdie ekonomiese en maatskaplike programme vorm deel van ons strategie om die armoede waaronder baie van ons mense ly, te verminder en uit te wis. Die werk wat in die loop van verlede jaar gedoen is deurdat vroue via die Suid-Afrikaanse Vroue in Dialoog met verskeie regeringsdepartemente saamgewerk het, en wat 'n besoek ingesluit het aan lande soos Tunisië en Chile, waar groot vordering met die bekamping van armoede gemaak is, wys sekere tekortkominge in hierdie verband in ons stelsel uit. Die ondervinding wat hierdie afvaardiging opgedoen het, toon duidelik dat ons, onder andere:
* die matriks van armoede in ons land duidelik moet omskryf
* 'n behoorlike databasis van huishoudings wat in armoede leef, moet saamstel
* spesifieke intervensies wat op hierdie huishoudings betrekking het, moet identifiseer en implementeer
* hierdie huishoudings moet moniteer terwyl die programme begin om hulle uit hulle toestand van armoede te lig
* in hierdie konteks alle noodlydendheid en gebrek aan te spreek, veral onder die groot getal vroue wat hierdeur geraak word
* alle armoedebekampingsprogramme moet koördineer ten einde die grootste moontlike uitwerking en die minste vermorsing en duplisering te bewerkstellig
* die opleiding van gesinsmaatskaplike werkers op professionele en hulpvlak moet versnel om te sorg dat die huishoudings wat geïdentifiseer is behoorlik ondersteun en gemoniteer word.

Bogenoemde sal sorg dat mense wat maatskaplike bystand ontvang op sistematiese wyse met munisipale dienste en werksgeleenthede gekoppel word, en sal ons voortdurend gerig hou op ons taak om soveel moontlik van ons mense van hulle afhanklikheid van maatskaplike toelaes te speen en hulle tot die arbeidsmark te laat toetree. Intussen sal ons voortgaan om nuwe inisiatiewe te soek wat die maatskaplike loon progressief sal verbeter.

Die verskerping van gesamentlike pogings deur alle Suid-Afrikaners om maatskaplike binding te bewerkstellig, moet 'n kritieke been van hierdie maatskaplike ingrypings uitmaak.

In hierdie jaar, wat die 60ste herdenking verteenwoordig van die verdrag van dokters onder leiers van die Afrika- en Indiërgemeenskap (AB Xuma, GM Naicker en Yusuf Dadoo), die 30ste herdenking van die moord op Steve Biko en die 20ste herdenking van Afrikaner-intellektuele se besoek aan Dakar om met die ANC te praat, moet die kwessie van ons diversiteit aan identiteit en die oorkoepelende sin dat ons almal tot Suid-Afrika behoort beter na die hele samelewing uitgedra word op 'n manier wat ons eenheid as 'n nasie versterk. Meer nog: op die 30ste herdenking van die verbod op die publikasie van die koerante The World en The Weekend World is dit ons plig om die volgende vraag te stel: Het almal van ons ons verantwoordelikheid vir die skep van sosiale binding, die bevordering van 'n gemeenskaplike gevoel dat ons tot Suid-Afrika behoort, en die versterking van die gom wat ons nasie bymekaarhou ten volle aanvaar en ons eie gemaak?

Met ander woorde: die maatreëls wat nodig is om maatskaplike binding te bewerkstellig, kan nie slegs deur die Regering geneem word nie. As Suid-Afrikaners moet ons saam praat oor vryheid van gebrek en van morele verval, en saamwerk om die geluk te vind wat daarmee saamhang.

Mevrou die Speaker en Voorsitter
Ek is seker dat ons almal sal saamstem dat samewerking om die geluk te skep wat met vryheid gepaardgaan in dieselfde mate van toepassing is op die uitdaging om misdaad te bekamp. In die HOP-witskrif van 1994 het ons gesê:

"Ons moet alle mense by die bevordering van vrede en sekuriteit betrek. Dit moet gebaseer wees op die nasionale begeerte na vrede, dit moet hierdie begeerte versterk, en dit moet die endemiese geweld wat gemeenskappe in die gesig staar, beveg." met spesiale aandag aan die onderskeie vorme van geweld waaraan vroue onderwerp word."

"Vrede en politieke stabiliteit staan ook sentraal in die Regering se pogings om 'n omgewing te skep wat geleenthede sal bied en belegging sal aanmoedig." Daar sal beslissend opgetree word om wetteloosheid, dwelmhandel, wapensmokkelary, misdaad en, veral die misbruik van vroue en kinders uit te wis.”

Dit is ongetwyfeld onmoontlik om dit wat lelik en weersinwekkend is, uit te wis en die geluk wat met vryheid gepaardgaan op te eis solank gemeenskappe in vrees lewe: terwyl hulle ingekerker is tussen hoë mure en doringdraad, in hulle huise, op straat en op die pad in voortdurende angs verkeer, en nie in staat is om ons openbare ruimtes te geniet nie. Dit is vanselfsprekend dat ons die stryd teen misdaad moet voortsit en verskerp.

Ofskoon die Suid-Afrikaanse Polisiediens reeds die teiken-indiensnemingsgetal van 152 000 polisiebeamptes bereik en die opleidingsprogramme verbeter het, erken ons dat die uitwerking hiervan nog nie groot genoeg is om aan almal 'n sterker gevoel van veiligheid en sekuriteit te verleen nie. Ofskoon ons die voorkoms van die meeste vorme van kontakmisdaad verlaag het, is die jaarlikse koers van afname in misdaadkategorieë soos diefstal, aanranding en moord nog steeds laer as die 7 tot 10% wat ons ons ten doel gestel het. En die misbruik van vroue en kinders word teen 'n onaanvaarbaar hoë koers voortgesit.

Die toename in die voorkoms van spesifieke soorte misdaad tydens die veiligheidswagte se staking moes by almal van ons die besef tuisgebring het dat die veiligheidsindustrie nie maar net as 'n privaat aangeleentheid van die privaatsektor beskou en hanteer kan word nie. Dit is baie duidelik dat die reguleringstelsel wat ons in plek het, onvoldoende is. Dit is van toepassing op kwessies soos loonvlakke, die afdwing van riglyne op geldafleweringsvoertuie, en dergelike meer.

Ons sal hierdie kwessie in die loop van die jaar in oënskou neem sodat ons, afgesien van 'n verbetering in die werk van die polisie, ook saam met die privaat veiligheidsindustrie 'n omgewing kan skep waarin daar werklik aan die publiek se verwagtinge omtrent veiligheid, waaraan hulpbronne van reusagtige omvang bestee word, voldoen kan word.

Ons sal ook voortgaan om 'n groter poging aan te wend om ons howe beter te laat funksioneer en om die tempo waarteen agterstande in die verhoor van sake weggewerk word, te versnel. En ons sal sorg dat besluite om Korrektiewe Dienste se infrastruktuur uit te brei, die bestuur van grensbeheer te verbeter, en immigrasie- en dokumentasiedienste te verbeter, in werking gestel word.

Baie van die gebreke in die verbetering van dienste aan die bevolking het hulle oorsprong ten dele in onvoldoende kapasiteit en stelsels waarmee die inwerkingstelling gemoniteer kan word. As gevolg hiervan sal die kwessie van die organisasie en kapasiteit van die staat in die tydperk tot 2009 vir ons 'n saak van groot erns bly.

Wat onder andere 'n kritieke area vir strategiese ingryping blyk te gewees het, is die inhoud van die opleiding wat staatsamptenare in verskeie instellings ontvang en die rol van die Suid-Afrikaanse Bestuursontwikkelingsinstituut (Samdi), wat in werklikheid die grootste diensverskaffer behoort te wees, ook ten opsigte van die massa-inlywing van staatsamptenare.

Departemente se vlakke van voldoening met betrekking tot openbare diens en finansiële bestuur is betreklik gemeng. Dit kan vanselfsprekend nie verder geduld word nie, selfs as ons in aanmerking neem dat ouditvereistes op nasionale en provinsiale vlak strenger geword het. In hierdie opsig is die toepassing van die prestasieooreenkomsstelsel, veral op senior bestuursvlak, van kritieke belang.

Programme ter verbetering van ons stelsel van plaaslike regering word teen 'n vinnige pas voortgesit. Ná die plaaslike verkiesings van Maart 2006 is inlywingsprogramme dadelik aangebied, aangesien 62% van alle burgemeesters nuut was.

Wat egter kommerwekkend is, is dat daar in talle van hierdie munisipaliteite steeds vakatures in die senior bestuur en op professionele vlak is of ontstaan het. In September verlede jaar het 27% van alle munisipaliteite byvoorbeeld nie munisipale bestuurders gehad nie, was meer as 50% van die senior bestuursposte in die Noordwes vakant en het slegs 1% van alle senior bestuurders in Mpumalanga sleutelprestasieooreenkomste gesluit.

Ons gaan voort om hierdie uitdagings die hoof te bied en sal al die nodige take uitvoer wat in ons vyf-jaar strategiese plan vir plaaslike regering vervat is, met inbegrip van daadwerklike hulp deur nasionale en provinsiale strukture aan munisipaliteite, die ontplooiing van opgeleide personeel, wat professionele vrywilligers uit die publiek insluit, en die versterking van wykskomitees, waarvan 80% reeds oor die hele land in die lewe geroep is.

Daar word voortgegaan met die implementering van die program vir die belyning van beplanningsinstrumente regdeur alle regeringsfere (dit wil sê die nasionale ruimtelikeontwikkelingsperspektief, provinsiale groei- en ontwikkelingstrategieë en geïntegreerde ontwikkelingsprogramme). Loodsprogramme wat op volle belyning gerig is, is reeds in 13 distrikte en metros in werking gestel. Hierdie loodsprojekte behoort teen die einde van die jaar afgehandel te wees.

Ons is trots op ons goeie rekord dat meer as die helfte van alle distrikte en metros reeds hulle spitsberade vir groei en ontwikkeling gehou het, en dat die res van plan is om dit nie later nie as teen die einde van Februarie te hou. Dit sal die grondslag lê waarvolgens alle maatskaplike vennote plaaslike ekonomiese ontwikkeling kan bespoedig.

Geagte lede,
Ek wil by hierdie geleentheid my dank teenoor Adjunkpresident Phumzile Mlambo-Ngcuka betuig vir haar inspirerende leierskap in die inwerkingstelling van die Inisiatief vir Versnelde en Gedeelde Groei vir Suid-Afrika (AsgiSA), haar samewerking met ministers en premiers wat die taakspan verteenwoordig, en die konkrete wyse waarop sy baie spesifieke kwessies wat uitgevoer moes word om 'n hoër koers van belegging en indiensstelling te bewerkstellig, asook kwessies met betrekking tot vaardigheidsontwikkeling en die doeltreffendheid van die Staatsdiens, hanteer het. Ons het hoë waardering vir die bydrae wat alle lede van die uitvoerende gesag en ons staatsdiensbestuurders, oor al drie regeringsvlakke heen, gelewer het om leiding aan hierdie proses te gee en die regeringsprogram in sy geheel in werking te stel. Dit staan sentraal in ons pogings om alle lelike en weersinwekkende dinge in ons samelewing uit te wis sodat ons die vryheid en geluk wat bevryding meebring, kan ervaar.

In hierdie verband, en bykomend tot die meerjaarprogramme wat in die verlede aangekondig is, sal die Regering vanjaar die volgende doen om die AsgiSA nog vinniger in werking te stel:
* Die oorsig voltooi van die land se ervaring met die artikulasie van onder meer makro-ekonomiese aanduiders soos die wisselkoers, inflasie- en rentekoerse, om maatreëls in te stel vir die bevordering van die groei van nywerhede wat verhandelbare goedere vir sowel die binnelandse as die uitvoermark produseer en oor die potensiaal beskik om groot getalle halfgeskoolde werkers in diens te neem.
* Ingevolge die nasionale beleidsraamwerk vir die nywerheid, wat nou afgehandel is, sal ons:
- Die inwerkingstelling van pasgemaakte sektormaatreëls ter vergemakliking van belegging in die uitbesteding van besigheidsprosesse, toerisme, biobrandstowwe en chemikalieë versnel, en praktiese programme vir bosbou en papier, kleding en tekstiele, metale en ingenieurswese finaliseer.
- 'n Oorkoepelende strategie ontwikkel vir sleutelingrypings in die verwerking en veredeling van mynbou en minerale, die landbou en landbouverwerking, die sektor vir witgoedere, die skeppende nywerheid, gemeenskaps- en maatskaplike dienste en die farmaseutiese bedryf. Hierdie strategie moet onder andere doelgerigte dryfvere ter verhoging van ons nasionale vermoë om kapitaalgoedere te produseer, insluit. Ten opsigte van mineraalverwerking sal ons byvoorbeeld 'n staatsdiamanthandelaar op die been bring wat 10% van ons plaaslike diamantproduksie sal aankoop en hierdie diamante aan plaaslike slypers en produsente sal verkoop. Ons is bly dat De Beers ingestem het om ons vir drie jaar lank gratis met die bestuur, tegniese vaardighede en batevoorsiening te help.
- Programme ontwikkel wat belegging sal vergemaklik in sektore wat deel uitmaak van die voorsieningsketting vir ons infrastuktuur, met inbegrip van kapitaalgoedere, inligting en kommunikasie-tegnologie (ICT), vervoer en energie. Ten opsigte van energie sal ons ook die werk bespoedig wat ons in staat sal stel om in 'n groter mate op die opwekking van kernkrag, aardgas en verskeie vorme van hernubare energiebronne staat te maak. Wat kommunikasie betref, is ek bly om te kan aankondig dat die Departement van Kommunikasie besig is om, in samewerking met selfoonmaatskappye en Telkom, planne te finaliseer wat oproepbeëindigingskoste vanjaar tot voordeel van alle verbruikers moet aanspreek. Hierbenewens sal Telkom, as deel van die poging om die besigheidsproses-uitbestedingsektor (BPO-sektor) te vergroot, 'n spesiale lae tarief vir internasionale bandwydte hef aan 10 ontwikkelingsoproepsentra wat elk 1 000 werknemers in diens het. Hierdie sentra sal gevestig word in gebiede wat deur die Regering aangewys is. Die spesiale tarief sal regstreeks vergelykbaar wees met die tariewe wat in enige vergelykbare land vir dieselfde diens en kapasiteit gehef word.

* Ons sal ook verskeie stappe doen om die mededingendheid van die ekonomie te verhoog. Hierdie stappe sluit onder meer die volgende in: 'n verlaging van die koste om sake te doen en die bevordering van beleggings, die praktiese inwerkingstelling van die Regulatory Impact Assessment-stelsel (RIA-stelsel), die ontwikkeling van breëbandkapasiteit vir nasionale en internasionale gebruik, die finalisering van planne wat spoor- en haweoperateurs se kapasiteit sal verhoog, en die verbetering van ons mededingingsowerhede se doeltreffendheid.

Die vordering wat ons met die herkapitalisering van kolleges vir verdere opleiding en onderwys (VOO) gemaak het, stel ons in staat om die getal beskikbare ambagslui beduidend te verhoog. Hulpbronne sal van vanjaar af toegewys word om hulp te verleen aan behoeftige vakleerlinge wat by hierdie instansies opgelei word. Terselfdertyd sal ons dringend 'n oplossing vir die kwessie van die verantwoordelikhede van die nasionale en provinsiale sfere met betrekking tot bestuur van die VOO-stelsel vind. Ons hoop dat ons pogings om hierdie geleenthede te bied, sal help om aan veral ons jongmense die boodskap oor te dra dat ambagsvaardighede van net soveel kritiese belang vir ekonomiese groei is as ander soorte kwalifikasies.

Na indringende samesprekings tussen die Regering en universiteitsleiers is daar tot 'n vergelyk gekom en is besluite geneem oor die hulpbronne wat nodig is om te sorg dat die behoefte aan vaardighede waaraan daar 'n tekort is, vervul word.

In hierdie verband wil ons die Gesamentlike Onderneming vir die Verkryging van Prioriteitsvaardighede (JIPSA), wat die Regering, sakelui, die arbeidsektor, opleidingsinstansies en ander byeenbring, lof toeswaai vir die rol wat hulle gespeel het.

Soos die agbare lede weet, het ons die getal skole waar geen skoolgeld betaalbaar is nie, ook beduidend verhoog.

In die uitvoering van hierdie infrastruktuur- en ander planne word ons geïnspireer deur ons verbintenis om te sorg dat die FIFA-wêreldsokkerbeker van 2010 die beste ooit sal wees. In hierdie verband wil ons ons reëlingskomitee (OC) en ander vennote gelukwens met die uitmuntende werk wat hulle verrig.

Dit is baie duidelik dat, om te sorg dat alle Suid-Afrikaners die geluk smaak wat met 'n groeiende ekonomie gepaardgaan, hierdie en ander maatreëls vergesel moet word van 'n verskerpte program wat die uitdagings van die Tweede Ekonomie die hoof bied. Om hierdie rede sal ons in die loop van die jaar onder meer die volgende doen:
* verdere praktiese optrede onderneem om toegang tot mikrofinansiering, met inbegrip van die reikwydte van die Apex-fonds (Samaf) en die mikrokredietfonds vir die landbou (Mafisa), te verbeter
* sorg dat die Kleinsakeontwikkelingsagentskap (Seda) behoorlik funksioneer
* die Wetsontwerp op Maatskappye, wat verlede Woensdag deur die Kabinet aanvaar is vir openbare kommentaar, verwerk as deel van die stel maatreëls wat klein, medium- en mikro-ondernemings se beheerlas moet verminder en minderheidsaandeelhouers en werknemers moet bemagtig
* aangesien ons reeds ons selfopgelegde teiken van 10 000 oortref het, sal ons die getal jongmense wat by die Nasionale Jeugdiens betrokke is met minstens 20 000 verhoog deur bemiddeling met 18 van ons departemente wat reeds planne in hierdie verband ontwikkel het, 30 000 jong vrywilligers vir gemeenskapsontwikkelingsprojekte inskryf, en 5 000 jongmense in diens neem as deel van die EPWP, wat op die instandhouding van regeringsgeboue gerig is
* pogings verskerp om jeugontwikkeling by wyse van 'n jeugkoördineringsprogram by die hoofstroom van die Regering se werk te integreer, en ononderbroke pogings om werklose gegradueerdes met indiensnemingsgeleenthede in aanraking te bring - en in hierdie verband wil ons die talle maatskappye, openbaar en privaat, groot en klein, wat op skitterende en praktiese wyse op hierdie inisiatief gereageer het, hartlik daarvoor bedank
* die Communal Land Rights Act begin toepas om die ekonomiese gebruik van gemeenskaplike grond te verbeter, terwyl ons terselfdertyd hulp in die vorm van besproeiing, saad en implemente aan kleinboere en koöperatiewe boere verleen.

Geagte lede
Die ekonomiese programme waarna ons verwys het, vorm deel van die gesamentlike stukrag waarby alle Suid-Afrikaners hulle gewig moet ingooi sodat ons die vlak van armoede en ongelykheid in ons samelewing kan verlaag. Dit is vir ons nie maar net 'n cliche om te sê dat die sukses van ons demokrasie gemeet behoort te word, en gemeet sal word, aan die daadwerklike stappe wat ons neem om die lewensgehalte van die kwesbaarstes in ons samelewing te verhoog nie.

Ons wil die maatskaplike programme wat ons oor die jare heen in werking gestel het, verbeter. Met hierdie doel voor oë wil ons vanjaar ons stelsel van maatskaplike sekerheid so hervorm dat daar so gou moontlik begin kan word om dit in verskillende fases in werking te stel. Ons wil hierdie werk, waarmee daar reeds begin is, vanjaar afhandel. 'n Kritieke aspek van hierdie hervorming is die regstelling van 'n fout wat in die 2002-verslag van die kommissie van ondersoek na 'n omvattende stelsel van maatskaplike sekerheid in Suid-Afrika geïdentifiseer is. Hierdie fout behels dat ons maatskaplike sekerheidstelsel se pilaar van bydraende verdienste met betrekking tot groot getalle werkende mense ontbreek of onbetroubaar is. Die beginsel wat hierdie benadering rig, is dat ons, bo en behalwe die maatskaplike bystand wat deur die staatsbegroting verskaf word, ondersoek moet instel na die invoer van 'n maatskaplike sekerheidstelsel wat aan verdienste gekoppel is en op die beginsel van maatskaplike solidariteit berus.

Dit sal beteken dat alle Suid-Afrikaners lid van 'n gemeenskaplike, administratief doeltreffende stelsel van maatskaplike sekerheid sal wees, terwyl diegene wat hoër salarisse verdien steeds tot privaat aftree- en versekeringskemas kan bydra. In die bespreking wat tot dusver in regeringsgeledere gevoer is, is ons besig om konsensus te bereik oor die feit dat die elemente van so 'n stelsel die volgende sal moet insluit:
* voortsetting van die minimumvoordele wat in ons stelsel van maatskaplike toelaes vervat is, met voordele wat by wyse van 'n moderne administratiewe stelsel uitbetaal word
* 'n loonsubsidie vir werknemers wat lae lone verdien, moontlik gerig op werkers wat die arbeidersmark vir die eerste keer betree het, en veral op jongmense
* 'n maatskaplikesekerheidsbelasting waaruit basiese aftreevoordele en voordele in die geval van dood, ongeskiktheid en werkloosheid bekostig kan word.

Die Minister van Finansies sal in sy begrotingstoespraak verder hierop uitbrei. Wat ons egter moet beklemtoon, is dat die Regering, in sy finalisering van die nuwe bedeling vir maatskaplike sekerheid, uitgebreid met alle maatskaplike vennote oorleg sal pleeg: sowel individueel as deur Nedlac.

Ons het hierbenewens ook begin ondersoek instel na maatreëls waarmee ons kwesbare kinders wat ouer as 14 jaar is, kan bereik.

Vir vanjaar sluit ons program in die maatskaplike sektor ook die volgende in:
* Bespoediging van die bou van lae-kostebehuising, wat die dringende vestiging van 'n spesiale medium vir die hantering van finansies, noodsaak; die loodsing van die Wetsontwerp op die Bestuur van Grondgebruik; en om toe te sien dat die oorblywende elemente van die lank-uitgestelde ooreenkoms met die privaatsektor oor lae-kostebehuising gefinaliseer word.
* Die bespoediging van die taxi-herkapitaliseringsprojek, die inwerkingstelling van gedetailleerde planne vir passasiersvervoer per spoor en per pad, met inbegrip van die blitsbusvervoerstelsel in the metros en die herkapitalisering van Metrorail. In hierdie verband wil ek van die geleentheid gebruik maak om te beklemtoon dat die Regering en ons vennote by Santaco hulle nie sal laat boelie om die taxi-herkapitaliseringsprojek te laat vaar nie. Geen pogings om die openbare orde ter wille van selfsugtige eiebelang omver te werp, sal geduld word nie.
* Die uitbreiding van toegang tot vroeë kinderontwikkeling, as onderdeel van sowel die program ter verbetering van die algemene stelsel van onderwys as die EPWP.
* Uitbreiding van die opleiding en indiensneming van verpleegsters en maatskaplike werkers en helpers; uitbreiding van die getal opleidingsinstansies, met opleiding van hoër gehalte; en die inwerkingstelling van 'n beursstelsel.
* Voortsetting van die implementering van die vergoedingsbedeling vir professionele mediese werkers, en voorsiening van bykomende hulpbronne om die salarisse van onderwysers verder te verhoog.
* Om toe te sien dat maatreëls ter verlaging van die koste van medisyne onmiddellik in werking gestel word.
* Voortsetting van die werk wat gerig is op die vind van oplossings vir veral die onderskeie onnatuurlike oorsake van dood in ons samelewing, asook vir leefstylsiektes, malaria, die onderskeie soorte tuberkulose, padongelukke en geweldsmisdaad.

In hierdie verband verbind die Regering hom tot die verskerping van die veldtog teen MIV en vigs en tot die inwerkingstelling van alle elemente van die omvattende benadering, soos voorkoming, tuissorg en behandeling. Ons sal sorg dat die vennootskappe wat oor die jare heen opgebou is, verstewig word, en dat ons verbeterde nasionale omvattende strategie teen vigs en seksueel oordraagbare siektes so gou moontlik gefinaliseer word.

Vanjaar sal ons die konkrete planne vir die implementering van die finale stadiums van ons programme wat gerig is op die verskaffing van universele toegang tot water in 2008, sanitasie in 2010 en elektrisiteit in 2012 afhandel. Ons sal ook die strategie en programme vir kwessies rakende maatskaplike binding, met inbegrip van die omvattende en geïntegreerde armoedebekampingstrategie wat ons reeds genoem het, afhandel; en ons sal aandag skenk aan sake wat op nasionale eenheid, waardestelsels en identiteit betrekking het.

Al hierdie pogings, Mevrou die Speaker en Voorsitter, moet gepaardgaan met 'n volgehoue gedrewenheid om gemeenskapsveiligheid en -sekuriteit te verbeter. In hierdie verband sal die Regering sorg dat besluite wat reeds oor die verskerping van ons stryd teen misdaad geneem is, doeltreffend geïmplementeer word. Die uitdaging wat ons in die vind van oplossings vir hierdie kwessie in die gesig staar, het min met beleid te make.

Wat eerder nodig is, is dat die groot gros beamptes wat vir wetstoepassing, intelligensie en korrektiewe dienste verantwoordelik is, en ampsbekleërs in die regstelsel, doeltreffend georganiseer en gemobiliseer moet word en doeltreffende leiding moet ontvang. Die oorgrote meerderheid van hierdie staatsamptenare het in die praktyk oor en oor bewys dat hulle bereid is om hulle lewens op die spel te plaas en selfs die klein bietjie gehaltetyd wat hulle saam met hulle gesinne kan deurbring, ter wille van die beskerming van ons vryheid en sekuriteit op te offer.

Benewens die talle lopende programme wat ons in werking gestel het, sal die Regering vanjaar:

  • Voortgaan om die polisie se salarisse en werksomstandighede te verbeter; die proses vir die verdere uitbreiding van die personeel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan die gang sit, wat die personeeltal binne drie jaar op meer as 180 000 te staan sal bring; en sorg dat die elektroniese monitering- en evalueringstelsel wat so pas in werking gestel is, optimaal gebruik word.
  • Die forensiese laboratoriums, wat met die heel nuutste tegnologie toegerus is, tot hulle volle kapasiteit uitbou; en sorg dat die databasis met vingerafdrukke optimaal gebruik word - 'n groot deel van die onlangse sukses met die oplos van ernstige misdaadsake is inderdaad deur hierdie stelsels moontlik gemaak.
  • Die werking van die Departement van Binnelandse Sake tot sy volle kapasiteit uitbou deur vakante poste te vul, stelsels te verbeter en ander aanbevelings deur die taakspan wat met die minister saamgewerk het om die werk van hierdie onmisbare instansie te verbeter, implementer.
  • Die Khampepe kommissie se aanbevelings oor die mandaat en werksaamhede van die Direktoraat Spesiale Operasies (die Skerpioene) implementer.
  • Die proses gerig op die modernisering van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se stelsels, veral met betrekking tot grensbeheer, van stapel stuur; en die interdepartementele koördineringstrukture se werk in hierdie verband verbeter.
  • Die intelligensiewerk wat op georganiseerde misdaad betrekking het, te verskerp; en voort te bou op die suksesse wat oor die afgelope tyd behaal is met sake wat op transitorooftogte, dwelmhandel en wild- en perlemoenstropery betrekking het.
  • Die nuwe tegnologie wat aan die regstelsel verskaf is, optimaal gebruik, en die bestuur van die howe en vervolgingsgesag oor die algemeen so verbeter dat dit 'n massiewe vermindering in die agterstand met die verhoor van sake teweeg sal bring.
  • Die oorblywende elemente in die maatreëls vir die hervoming van die regbank finaliseer en sy werking, in oorleg met hierdie gesiene instelling van ons demokrasie, verbeter.
  • Die programme waarop daar besluit is vir die bou van meer korrektiewe fasiliteite implementeer en die doelwitte van die Witskrif oor Korrektiewe Dienste verwesenlik.
  • Voortgaan met die proses om ons intelligensieagentskappe verder te bemagtig, en sorg dat hulle werksaamhede te alle tye binne die raamwerk van ons Grondwet en landwette val.
  • Ons ontleding van misdaadtendense verbeter sodat ons ons prestasie met betrekking tot sowel misdaadvoorkoming as misdaadbekamping kan verbeter. In hierdie verband moet ons reageer op die koue feite dat, soos in ander lande, die oorweldigende meerderheid van geweldsmisdaad teen mense in die sosio-ekonomies verwaarloosde dele van ons land gepleeg word en dat kragtige en volgehoue gemeenskapsingrypings wat op misdaadvoorkoming gerig is, nodig is om die probleem die hoof te bied.

Soos reeds genoem is, sal hierdie en ander maatreëls slegs slaag indien ons 'n durende vennootskap, in die praktyk, binne gemeenskappe en tussen gemeenskappe en die polisie tot stand bring om die lewe vir misdadigers al hoe moeiliker te maak.

In hierdie verband is ons bemoedig deur leiers in die sake- en godsdienstige gemeenskappe se vasbeslotenheid om sodanige vennootskappe op voetsoolvlak te verstewig, en om van hulle tyd en hulpbronne af te staan om meer slaankrag aan die geveg teen misdaad te verleen. Die Regering sal sy deel doen om te sorg dat hierdie vennootskappe inderdaad werk, en dat ons almal saam sal optree in die nakoming van die verantwoordelikheid om ons burgers te beskerm.

Ek moet in hierdie verband noem dat die Ministerie van Veiligheid en Sekuriteit en die Polisiediens aan voorstelle vir die verdere verbetering van die werking en die doeltreffendheid van die uiters belangrike gemeenskapspolisiëringsforums werk.

Mevrou die Speaker en Voorsitter
Om sy dienslewering aan die publiek verder te verbeter, moet die Regering sy kapasiteit en organisatoriese doeltreffendheid optimaliseer. Ter bereiking van hierdie doelwitte sal ons vanjaar, in die loop van die jaar:

  • die moniterings- en evalueringsvermoë oor alle sfere heen uitbou en, onder andere, opleiding verskaf aan bestuurders wat hierdie stelsel in werking moet stel
  • binne die eersvolgende 18 maande wetgewing oor een enkele staatsdiens en tersaaklike norme en standaarde, vergoedingsbeleid en sake rakende mediese fondse en pensioene publiseer
  • die bewustheid van kwessies rakende nasionale ruimtelike ontwikkeling verskerp, en terselfdertyd die getal munisipaliteite wat by die harmonisering van beplanningsinstrumente oor die drie sfere heen betrokke is, verhoog;
  • provinsiale departemente wat vir plaaslike regering verantwoordelik is en premierskantore se kapasiteit assesseer en ingrypings in werking stel terwyl ons terselfdertyd voortgaan om ons nasionale departemente se kapasiteit te verhoog
  • die teenkorrupsieveldtog in die Staatsdiens en die nasionale teenkorrupsieveldtog verskerp, en teen die einde van die jaar die proses vir verhoogde doeltreffendheid van ons teenkorrupsiestrategieë in alle regeringsfere afhandel
  • die Batho Pele-veldtog op plaaslike regeringsvlak in werking stel, uitreikaktiwiteite soos imbizos verskerp, en meer veeldoelige gemeenskapsentrums oprig as die 90 wat tans in werking is
  • tradisionele leierskap as instelling meer bemagtig en sterker ondersteun.

Die verbetering van staatsbestuur behels ook dat ons 'n betroubare databasis oor die sosiale dinamiek binne ons nasie moet hê. Met hierdie doel voor oë sal twee groot opnames in 2007 gemaak word. Twee dae gelede het 6 000 veldwerkers van Statistiek Suid-Afrika oor die hele land uitgegaan om inligting in te samel oor 280 000 huishoudings wat gekies is om aan 'n gemeenskapsopname deel te neem wat die Regering so 'n getrou moontlike beeld van die lewensomstandighede van burgers in elke uithoek van die land sal gee.

In Oktober sal nog 30 000 individue in 8 000 huishoudings gekies word om aan Suid-Afrika se eerste nasionale paneelondersoek, die Nasionale Inkomstedinamiekstudie, deel te neem. Die doen en late van hierdie 30 000 individue sal oor 'n lang tydperk gevolg word om ons begrip van sake soos migrasie, skuiwe in die arbeidsmark, mobiliteit tussen generasies onderling en huishoudelike inligting en ontbinding te verhoog. Ek wil by hierdie geleentheid 'n beroep doen op diegene wat vir deelname aan hierdie belangrike ondernemings gekies is om hulle volle samewerking aan hierdie belangrike onderneming te verleen.

Mevrou die Speaker en Voorsitter
Die herstel van vrede, oor die afgelope twee-en-'n-half jaar, in die Groot Mere-gebied is een van die belangrikste prestasies van die mense van Afrika. As Suid-Afrikaners is ons trots op die rol wat ons mense gespeel het om dit te help bewerkstellig - van die jong manne en vroue in ons nasionale weermag tot die werknemers van openbare en privaat instansies wat tyd afgestaan het om te sorg dat die Afrika-droom in Patrice Lumumba se tuisland bewaarheid word.

Ons sal steeds met die mense van die Demokratiese Republiek van Kongo, asook Burundi, die Comoro-eilande en Soedan in die besonder, saamwerk om te sorg dat die vrede en stabiliteit wat tot dusver bereik is onmiddellik gevolg word deur doelgerigte pogings tot ekonomiese heropbou en maatskaplike ontwikkeling.

Maar ofskoon ons ten volle daarop geregtig is om Afrika se prestasies in die bewerkstelliging van vrede en stabiliteit te vier, mag ons die uitdagings wat ons die hoof moet bied in ons pogings tot die bylê van konflik in die oorblywende gebiede, veral die algemene vredesproses in die Soedan, en die situasie in Darfoer, die Ivoorkus en Somalië, nie geringskat nie.

Ons regering sal op gepaste wyse, en in die mate waartoe ons kapasiteit ons in staat stel, op die Afrika-Unie se oproep om hulp aan die mense en die Regering van Somalië reageer. Van kritiese belang in hierdie verband is die inisiatief wat tans ontwikkel word om te sorg dat die hoofrolspelers in Somalië met mekaar in gesprek tree sodat daar 'n oplossing gevind kan word wat inklusief en prakties uitvoerbaar is, en gebaseer is op die noodsaak om nasionale versoening te bewerkstellig.

Vanjaar sal die Afrika Forum vir Portuuroorsig sy ondersoek na ons land afhandel. Ek wil hierdie geleentheid benut om ons wetgewers, ministers en staatsdepartemente, staatsdiensorganisasies, en die gemeenskap in die breë te bedank vir hulle bydrae tot 'n oefening wat ewe uitdagend as uniek binne ons jong demokrasie was. Ons sal die nodige stappe doen om die aksieprogram wat uit die proses van die postuuroorsig sal voortvloei, in werking te stel.

Ons sal insgelyks met die res van ons kontinent en ons ontwikkelingsvennote bly saamwerk om die inwerkingstelling van die NEPAD-programme te bespoedig.

'n Bietjie meer as 'n maand gelede het Suid-Afrika se dienstermyn as nie-permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad 'n aanvang geneem. Ons wil hiermee namens die mense van Suid-Afrika onderneem dat ons in hierdie mees hooggeëerde multilaterale liggaam alles sal doen wat nodig is om verder tot internasionale vrede en sekuriteit by te dra.

In hierdie verband sal ons ook voortgaan om met die leiers van die mense van Palestina, Israel, Irak, Iran en ander lande in die Midde-Ooste en die Persiese Golf gesprek te voer.

Ons sal ook ons verhouding met ander lande op hierdie kontinent, en met ons vennote in Indië, Brasilië en die Volksrepubliek van China, ander lande in die Suide, asook Japan, Europa en Noord-Amerika, verder verstewig.

Een van die mees kritieke vraagstukke waaraan ons in hierdie verband aandag sal gee, is om onderhandelings oor die Wêreldhandelsorganisasie se Doha-ontwikkelingsrondte so spoedig moontlik te hervat. Ons is daarvan oortuig dat daar oplossings vir die huidige impasse gevind kan word, en dat dit op die lange duur in sowel ontwikkelde as ontwikkelende lande se belang is dat hierdie samesprekings vrug moet dra.

Mevrou die Speaker, Voorsitter en geagte lede
Sedert die nasie ons in 2004 'n mandaat daartoe verleen het, het ons welkome vordering gemaak in ons pogings om Suid-Afrika ten goede te verander. Ons mag, en sal, egter nie die talle probleme wat ons steeds in die gesig staar, onderskat nie.

Maar die boodskap wat ons gemeenskaplike ervaring aan almal van ons oordra, is dat ons die gemeenskaplike doel wat ons as 'n nasie aan onsself gestel het, kan bereik deur saam te werk - die doel om 'n beter lewe vir almal te skep in 'n land wat nie meer veel van dit wat lelik en weersinwekkend in die menslike samelewing is, bevat en verteenwoordig nie.

Vandag moet ons, met selfs groter selfvertroue, oor vryheid praat. Ons moet dit waag om gesamentlik op te tree in navolging van die "geluk wat mans en vroue te beurt kan val as hulle in 'n land woon wat vry is.

Ons het dit nog nie ten volle bereik nie. Maar niemand behalwe onsself kan sorg dat hierdie droom verwesenlik word nie. Laat ons dus ons moue oprol en aan die werk spring met die volle besef dat die bou van die Suid-Afrika waarna ons streef, 'n taak en 'n gesamentlike verantwoordelikheid is wat ons met mekaar deel.

Ek dank u.

Uitgereik deur: Die Presidensie
9 Februarie 2007

Share this page

Similar categories to explore