Staatsrede van die President van Suid-Afrika, Kgalema Motlanthe, aan die gesamentlike sitting van die Parlement, Kaapstad

6 Februarie 2009

Mevrou die Speaker van die Nasionale Vergadering;
Meneer die Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies;
Mevrou Adjunk-President;
Adjunkspeaker en Adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies;
Hoofregter Langa;
Voormalige Adjunk-president van die Republiek van Suid-Afrika en die President van die ANC;
Premiers van die provinsies;
Kabinetslede en Speaker van Provinsiale Wetgewers;
Voormalige Hoofregter en Voormalige Voorsittende Beamptes van die Parlement;
U Eksellensies, Ambassadeurs en Hoë Kommissarisse en besoekende hoogwaardigheidsbekleërs;
Agbare leiers van politieke partye en parlementslede, tradisionele leiers;
U Edelagbare, die Burgemeester van die Stad Kaapstad;
Godsdienstige leiers en verteenwoordigers van die burgerlike gemeenskap;
Comrades en vriende;
Gewaardeerde gaste:

Dit is my voorreg om die Gesamentlike Sitting van die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika toe te spreek met die aanvang van hierdie laaste sessie van ons Derde Demokratiese Parlement.

Ek staan met ootmoed voor die mense van Suid-Afrika vir die geleentheid wat ek gegun is om die hoogste amp in die land te beklee as gevolg van die unieke omstandighede wat ontstaan het na die besluit van die heersende regerende party om die voormalige president te herroep.

My verantwoordelikheid, binne ’n kwessie van enkele maande, was om die Nasionale Uitvoerende Raad te lei in die uitvoer van die mandaat wat in die 2004-verkiesing aan die African National Congres toegeken is, en om die grondslag te lê vir die na-verkiesing-administrasie om dadelik aan die werk te spring.

Dat ons in staat was om vyf maande gelede ’n gladde oorgang te hê en kontinuïteit in die regeringstelsels kon verseker is te danke aan die volwassenheid van ons grondwetlike stelsel, wat deels deur die samewerking van die lede van die Uitvoerende Raad – oud en nuut – en die vaste hand van ons openbaresektor-bestuurders weerspieël word.

As ons terugkyk oor die afgelope 15 jaar wil ek graag erkenning gee aan President Nelson Mandela en President Thabo Mbeki se verbintenis en harde werk, asook die talle vroue en mans wat ’n rol gespeel het om die demokratiese staatstuig te stuur: in die Uitvoerende Raad en die Administrasie, die wetgewers op die drie regeringsvlakke en die Regsbank; gedryf deur die begeerte om die lewenskwaliteit van alle Suid-Afrikaners te verbeter.

Bowenal staan ek voor u met trots en met die vertroue dat die Suid-Afrika wat ons vandag kan vier – ver verwyder van die verdeeldheid, konflik en uitsluiting van slegs 15 jaar gelede – die produk is van die harde werk en geswoeg van Suid-Afrikaanse vroue en mans uit alle vlakke van die samelewing.

Hierdie Suid-Afrikaners verteenwoordig die hoop en deursettingsvermoë wat ons nasie kenmerk.

Binne die uitnemende versameling van uitsonderlike Suid-Afrikaners is die lede van ons demokratiese Parlement wat ons ongelukkig sedert laas Februarie finaal vaarwel moes roep. Hulle sluit Brian Bunting, Billy Nair, Ncumisa Kondlo, John Gomomo, Joe Nhlanhla, Cas Saloojee, John Schippers en Jan van Eck in.

In dieselfde asem wil ek ook graag Me Helen Suzman noem, ’n waarlik voortreflike Suid-Afrikaner wat die waardes van ons nuwe Parlement reeds in die ou een se kamers verteenwoordig het.

Dit is hierdie en ander patriotte wat die grootste deel van die akkolade verdien as ons nou verklaar – nieteenstaande die ekonomiese storms wat aan ons deur hamer, ongeag die politieke onsekerhede wat ons gemeenskaplike bewussyn binnedring in die tyd van oorgang – dat dit goed gaan met ons nasie.

Ons moet egter nie die uitdagings onderskat wat ons in die gesig staar nie. Die wêreldwye ekonomiese ineenstorting hou ernstige gevare vir ons ekonomie in wat werksverliese en die lewenskwaliteit van ons mense aanbetref.

Vanselfsprekend kan die onsekerhede oor die politieke oorgang meer vrae meebring as wat daar tans antwoorde is.

Gevolglik kan party van ons dalk gehipnotiseer word deur die kortstondige onweer en ons skouers krom trek teen die stormwinde van ekonomiese onstuimigheid en politieke beroering.

Maar ons reis is een van hoop en volharding.

Ons kan selfs sê, danksy ’n vreemde wending van die noodlot, dat baie aspekte van ons grondwetlike orde onlangs getoets is, en elkeen het die toets geslaag om ’n demokrasie te openbaar wat uitsonderlik veerkragtig is.

Ons demokrasie is gesond. Dit word stadig maar seker sterker, en dit word ondersteun deur ’n Grondwet wat nêrens ter wêreld geëwenaar kan word nie.

Die krag van ons politieke verbintenis tydens hierdie tyd van die verkiesingstryd – wat ons almal saamstem waardig en vredevol moet afloop – is inderdaad die beste waarborg van die volgehoue oorlewing en verdieping van ons demokrasie.

Dit is Suid-Afrika se mense wat die land se vooruitgang verseker; en dit is hulle wat ons demokrasie sal verseker in die jare wat voorlê.

Vergun my, Mevrou die Speaker en Voorsitter, om op hierdie noot alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners aan te spoor om te registreer en te stem in die komende nasionale en plaaslike verkiesings sodat ons self die toekoms kan bepaal.

Dit kan elke werksdag by die munisipale kantore gedoen word tot tyd en wyl die kieserslys afgesluit word. Maar ons moet ook gebruik maak van die spesiale registrasie-naweek wat deur die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (die OVK) gereël is, naamlik môre en Sondag, onderskeidelik die 7de en 8ste Februarie.

Ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om te sê dat ek oor die volgende paar dae samesprekings met die Verkiesingskommissie en die provinsiale premiers sal hê en die datum van die verkiesing sal aankondig.

Agbare lede;

Ons is ons status as demokrasie te danke aan die mense van Suid-Afrika wat op 27 April 1994 vir die eerste keer gesamentlik hul toekoms in hul eie hande geneem het.

Met daardie eenvoudige dog verreikende aksie om ’n kruisie te trek vir ’n regering vir al die mense van ons land, het ons die rug gekeer op ’n verlede wat almal ontmens het.

Daarom is dit gepas om by hierdie geleentheid die 20ste herdenking te vier van die Verklaring van die OAE se ad hoc-komitee vir Suidelike Afrika ten opsigte van die vraag oor Suid-Afrika – algemeen bekend as die Harare Deklarasie.

Daardie inisiatief het die grondslag gelê vir wêreldwye konsensus deur die Verenigde Nasies oor die benadering tot onderhandelinge in Suid-Afrika.

In Suid-Afrika het dit ook die inhoud van die 1989 Konferensie vir ’n Demokratiese Toekoms bepaal – wat patriotte vanuit byna alle vlakke van die samelewing verenig het.

Al hierdie dinge het gelei tot die onderhandelingsproses wat uitgeloop het op ons eerste demokratiese verkiesing in 1994.

In hierdie opsig moet ons die oorlede president van die African National Congress, Oliver Reginald Tambo, salueer vir dit wat hy deur vastelands- en wêreldliggame geïnisieer en bekendgestel het en wat later ’n kompas vir die vreedsame oplossing van die konflik in ons land sou word.

Die moedige stap om ’n raamwerk te ontwerp wat vrede en rekonsiliasie nagestreef het, in plaas van oorlog en konflik, het eens en vir altyd die skyndaeraad van ’n 100 jaar tevore herroep, naamlik die sluiting in 1909 van die Nasionale Konvensie, wat die vorming van die Unie van Suid-Afrika voorspel het.

Alhoewel daardie konvensie die territoriale integriteit van Suid-Afrika soos ons dit vandag ken gedefinieer het, was dit gebaseer op rasse-onderdrukking en
-uitsluiting.

En nou, 15 jaar na die aanvang van ons demokrasie, kan ons bevestig dat die vrees, onsekerheid en weersin wat 100 jaar gelede ’n eksklusiewe en bedrieglike vrede onder koloniale meesters geskep het, nie net ongegrond was nie, maar ook waarlik misplaas was.

Daardie vrese en onsekerhede het gelei tot dekades van verset. In hierdie opsig salueer ons daardie dapper seun van ons mense, Solomon Kalushi Mahlangu, wat 30 jaar gelede ter dood veroordeel is met sy kop omhoog, in die trotse wete dat sy bloed die boom van vryheid sou voed.

Vergun my om aan Lucas Mahlangu, broer van Kalushi, wat die Mahlangu-familie verteenwoordig, erkenning te gee. 

Solomon Mahlangu het die tradisie van vergange krygsmanne voortgesit, onder meer diegene wat onder Koning Cetshwayo geveg het en wat in 1879 die Britse weermag in Isandlwana oorwin het ter verdediging van die vryheid van die inheemse mense van ons land en die soewereiniteit van hul grond.

’n 130 jaar later staan ons verwonder oor die hoop en deursettingsvermoë wat daardie onversetlike harte besiel het.

In opleidingsentrums het daardie selfde deursettingsvermoë massaverset aangevuur gedurende daardie koue winter ná die verbanning van die vryheidstryd en die inhegtenisneming van meeste van die senior leiers daarvan.

’n Groep moedige soldate het 40 jaar gelede weggebreek van NUSAS om die Suid-Afrikaanse Studente-organisasie (Saso) te stig.

Deel van hierdie generasie was die vroeë leiers van Saso, wat die volgende persone ingesluit het: Strini Moodley, Professor Barney Pityana, Steve Biko, Onkgopotse Tiro, Harry Nengwekhulu, Themba Sono, Mapetla Mohapi, Mosioua Lekota, Johnny Issel en Mthuli ka Shezi. Ons salueer hulle vir die hoop wat hulle gebring het in ’n tyd van wanhoop. In hierdie opsig gee ons erkenning aan Onkgopotse Tiro se neef, Pat Tlhagwana.

In dieselfde asem moet ons ook erkenning gee aan die oorlede Ephraim Mogale, die stigterspresident van die Kongres van Suid-Afrikaanse Studente (Cosas) en andere 30 jaar gelede. 

In herinnering aan hierdie studente van vervloë dae is daar ’n blywende boodskap, en die dors na vryheid en kennis is nou selfs sterker ingeboesem by ons jeug.

Die boodskap van hul heldedade geld vandag nog net so duidelik as soveel jaar gelede, naamlik dat ons saam die grense van geleenthede moet verken; dat ons inderdaad, soos die Vryheidsmanifes dit stel, die “deure van geleerdheid en van kultuur” nog wyer moet oopmaak!

Ons onthou hierdie organisasies en leiers om die gees van hoop en uithouvermoë te beklemtoon wat die demokratiese stryd geïnspireer het, selfs toe alles treurig gelyk het; om die verantwoordelikheid te benadruk wat op ons skouers rus, naamlik om die ideale waarvoor daar soveel opgeoffer is, te bevorder; om te weier om te swig voor terugslae en ontberinge.

En dus, Mevrou die Speaker en Agbare Voorsitter, moet ons onsself afvra: hoe het ons dade die afgelope 15 jaar, sedert die geboorte van ons demokrasie, die weg gebaan vir die Suid-Afrikaanse samelewing se evolusie, en hoe het ons die saak van menslike ontwikkeling en menswaardigheid sedert die 2004 demokratiese mandaat bevorder!

Vandag het ons ’n doeltreffende demokratiese stelsel, gebaseer op die beginsels van deursigtigheid en openheid, met verskeie platforms vir openbare deelname en onafhanklike instansies wat deur die Grondwet gelas is om demokrasie te ondersteun.

Deur die jare het ons voortdurend die regeringstrukture verbeter. Ons het ’n stelsel van gesonde interregeringsverhoudings tussen alle sfere opgebou, en integrasie binne en tussen hulle verbeter.

Die Regering kan met reg trots wees daarop dat ons die demografiese samestelling van die Staatsdiens verander het, wat feitlik in alle opsigte die karakter van ons samelewing weerspieël.

Maar hoewel vroue omtrent 34% van alle senior poste in die Staatsdiens beklee, is dit minder as die teiken vir gelykheid wat ons vir onsself gestel het.

In die nasionale en provinsiale wetgewers is daar aanduidings dat ons nasie hierdie jaar die 32%-vlak van vroulike verteenwoordiging sal oortref wat in 2004 bereik is, en hopelik selfs die 40% wat in die 2006 plaaslike verkiesings bereik is.

Ons hoop dat al die politieke partye, terwyl hulle hul verkiesingslyste finaliseer, ’n bydrae sal maak tot hierdie edele strewe!

Alhoewel sekere vooruitgang gemaak is (naamlik 0,2%), is die situasie minder indrukwekkend met betrekking tot mense met gebreke wat vir die Regering werk, gemeet teen die 2%-teiken wat ons vir onsself gestel het.

In albei gevalle is die privaatsektor ver agter.

Verskeie maatreëls is in plek gestel om die doeltreffendheid van die Staatsdiens te verbeter, insluitend finansiële bestuur, Thusong-dienssentrums en ander diensleweringsinisiatiewe, izimbizo en, soos tans in die Departement van Binnelandse Sake, ferm leierskap.

Daar moet egter nog baie meer gedoen word om die dienskultuur en diensgerigtheid van sommige staatsdiensamptenare te verbeter, veral diegene wat direk met die publiek werk.

Soos die agbare lede weet, het ons regering die geveg teen misdaad een van ons hoof-fokusareas gemaak.

Dit word onder meer weerspieël deur wetgewing, reëls en regulasies vir sowel staatsamptenare as politieke ampsbekleërs, vennootskappe met die burgerlike gemeenskap en teenkorrupsie-blitslyne.

Dit mag wees dat die stelsels vir die voorkoming en straf van korrupsie steeds onvoldoende is, maar uit ’n regeringstelsel-oogpunt kan ons troos vind in die feit dat meer as 70% van korrupsiesake waaroor in die media berig word, openbaar gemaak word omdat die Regering die oortreding opgetel het en inderwaarheid daarteen optree.

Die privaatsektor het met dieselfde uitdagings te kampe. Op die ou einde het die uitdagings net soveel met regulering te doen as wat dit met konsekwente toepassing te doen het.

Agbare lede;

Ek is seker ons almal stem saam dat die welstand van ons samelewing grootliks afhang van die vordering wat ons maak om die nasie se welvaart uit te bou en te verseker dat die voordele van ekonomiese groei deur alle mense gedeel word.

Dit is algemene kennis dat Suid-Afrika, ná die ekonomiese stagnasie van die laat-1980s en vroeë-1990s, die langste tydperk van volgehoue ekonomiese groei beleef het sedert statistieke daaroor in 1940 vir die eerste keer aangeteken is.

In die Eerste Dekade van Vryheid het die ekonomie jaarliks gemiddeld met 3% gegroei, en dit het verhoog tot 5% gemiddeld per jaar tussen 2004 tot 2007.

Terwyl die verbruikersbloeitydperk, aangevuur deur meer werksgeleenthede, stygende inkomste en laer inflasie- en rentekoerse, in hierdie verband ’n rol gespeel het, word ons bemoedig deur die breë spektrum geleenthede vir verdere ontwikkeling in die toekoms.

Dit sluit eerstens hoër beleggingskoerse in, beide deur die openbare en privaatsektor. Wat dit betref, omtrent vyf jaar gelede het ons gedraai by 16% van bruto vastekapitaalformasie as ’n persentasie van Bruto Binnelandse Produk (BBP). Die groei in beleggings was so groot dat hierdie syfer vandag 22% is, nader aan die 25% wat ons beoog het om eers in 2014 te verkry.

Dit is deels die gevolg van doelbewuste programme deur die Regering om openbare infrastruktuur uit te brei.

Dit is ook ’n gevolg van beleide om die klimaat vir privaatsektor-beleggings te verbeter; en om fiskale en monetêre beleid so te bestuur dat dit toegang tot dienste verbeter en die inflasielas verminder, en terselfdertyd makro-ekonomiese stabiliteit en volhoubaarheid verseker.

Die fokus op mikro-ekonomiese hervorming gedurende die afgelope dekade, en veral die pogings sedert 2004 om stelselmatig die magdom versperrings in die pad van groei uit die weg te ruim, het ’n positiewe impak gehad.

Dit is in hierdie konteks dat die Inisiatief vir Versnelde en Gedeelde Groei (AsgiSA) geïmplementeer word, om te verseker dat alle deurslaggewende blokkasies soos infrastruktuur-bottelnekke, geïntegreerde nywerheidsbeleid en
-programme, die vaardigheidstekort, gereguleerde opeenhopings en ondoeltreffendheid van regeringsdienste op ’n gefokusde en stelselmatige wyse aangespreek word.

Ons ekonomie het meer toeganklik geword, en sedert 1994 het dit gelyktydig meer geïntegreerd geraak in die globale stelsel. Ons finansiële instellings is ’n kragtige voorbeeld wat ons ietwat beskut het teen die wêreldwye ekonomiese storms.

Tog is hul reikwydte in ons samelewing ver onder verwagting. Ons ekonomie bly grotendeels afhanklik van mynbou en landbou vir uitvoere. Buiten die privaatsektor is daar nog nie genoeg uitbreiding van kritieke sektore nie, veral wat vervaardiging betref.

Daarom is die groeikoers van uitvoere nie so hoog soos in vergelykbare lande nie. Dit is presies hierdie swakheid wat verantwoordelik is vir die groot negatiewe saldo van die Lopende Rekening, veral in die tye toe ons hoër groei beleef het.

En omdat ons nie genoeg gespaar het nie, moes ons op korttermyn-kapitaalvloei staatmaak om die tekort sowel as ons beleggingsprogramme te finansier.

Dit is die uitdagings wat ons land vir seker sal moet aanspreek op die pad vorentoe.

Van deurslaggewende belang is die vraag: waaroor behoort ekonomiese groei eintlik te gaan? Welvaart word geskep om mense se lewenskwaliteit te verbeter.

Dus behoort die vraag of groei regverdig verdeel word ’n sentrale aspek van alle ekonomiese oorwegings te wees.

Wat belangrik is, is dat die voordele van groei werkskepping moet insluit en moet verseker dat daar behoorlike werk is.

Ons kan inderdaad met trots meld dat die ekonomie tussen 1995 en 2003 ongeveer 1,5 miljoen netto nuwe werksgeleenthede geskep het en selfs meer merkwaardig, omtrent 500 000 werksgeleenthede tussen 2004 en 2007.

In die laasgenoemde tydperk is daar vir die eerste keer sedert die aanbreek van demokrasie meer werk geskep as die aantal mense wat die arbeidsmark betree het, wat die werkloosheidskoers van 31% in 2003 tot 23% in 2007 laat daal het.

Natuurlik moet dit ons nie laat afsien van ons verpligting om die kwessie van die kwaliteit van hierdie werke te bevraagteken nie, insluitend die regte en voordele wat werkers geniet.   

Om die voordele van groei te deel sluit ook versnelde implementering van regstellende aksie in, insluitend breë swart ekonomiese bemagtiging.

Dit is nie ’n strewe na ’n sogenaamde rassistiese agenda nie. In werklikheid sal ’n land wat nie die betrokkenheid van sy hele bevolking op alle vlakke van ekonomiese aktiwiteit verseker nie, definitief ver onder sy ware potensiaal presteer.

Die feit dat die privaatsektor nie genoeg doen om die demografie van bestuurs- en vaardigheidsberoepe in ondernemingsontwikkeling en so meer te verander nie, maak van ons land deels ’n agtergeblewene in hoëgroei-aandele.

Om in die voordele van groei te deel beteken ook dat die Staat belastinggeld doeltreffend en billik moet aanwend as ’n instrument om die las van voorsiening van openbare goedere te herverdeel én te deel.

Agbare lede sal bekend wees met meeste van die data oor kwessies rakende maatskaplike dienste. Ek sal egter ’n paar voorbeelde opnoem om weereens die aard van die vooruitgang wat ons al gemaak het en die uitdagings wat ons nog in die gesig staar, uit te lig.

Die Regering is pynlik bewus daarvan dat volslae armoede nog steeds te wydverspreid in ons samelewing voorkom, en die vlak van ongelykheid is te hoog.

Ons het in die afgelope 15 jaar ons bes gedoen om hierdie euwel deur maatskaplike dienste uit te roei. Om die werk van ’n span akademici by die Universiteit van Stellenbosch, gelei deur Professor Servaas van der Berg aan te haal:

Eerstens het geld-metrieke armoede aansienlik afgeneem sedert die eeuwisseling. Hierdie afname is grootliks te danke aan ’n dramatiese uitbreiding van besteding op maatskaplike toelae sedert 2002. Hierdie verbetering word weerspieël deur toegang tot basiese dienste – ’n vinnige afname in bate-armoede het die afname in geld-metrieke armoede voorafgegaan, Tweedens, alhoewel die afname in armoede wesenlik was, het algehele ongelykheid gedurende die 1990s vermeerder. Derdens, die dinamika onderliggend aan armoede- en ongelykheidsneigings bepaal die breë beleidsuitkyk … Armoede het afgeneem sedert die oorgang, maar ongelykheid het nie verbeter nie.
(Poverty since the Transition: What we Know, p. 8, Van der Berg et al, Augustus 2007)

Oor een belangrike saak neem die navorsers soos volg waar:
 
In huishoudings met kinders (gedefinieer as diegene 17 jaar en jonger), het die aantal huishoudings wat gemeld het dat ’n kind honger ly, tussen 2002 en 2006 dramaties verminder (van net oor 31% tot 16%). Dit gee te kenne dat die armoede-situasie opmerklik verbeter het, veral onder mense wat die hoogste graad van welsynsontneming ervaar. Die voorkoms van honger kinders het in vier jaar byna halveer.
(Poverty since the Transition: What we Know, p. 25, Van der Berg et al, Augustus 2007)

Hierdie waarnemings word inderdaad bevestig deur ons eie navorsing, wat wys dat inkomste-armoede veral in swart- en kleurling-gemeenskappe afgeneem het, deels as gevolg van laer vlakke van werkloosheid en beter toegang tot maatskaplike toelaes. Terwyl die aantal toelae-begunstigdes in 1999 2,5 miljoen was, het dit teen 2008 vermeerder tot 12,4 miljoen.

Dit is grootliks te danke aan grootskaalse verbetering in toegang tot die Kindersorg-toelae, wat vermeerder het van 34 000 begunstigdes in 1999 tot 8,1 miljoen in 2008.

As gedeeltelike bydraer tot die inkomste van die armes, is die teiken van een miljoen werksgeleenthede deur die Uitgebreide Openbare Werke-Program in 2008 bereik, ’n jaar vroeër as beoog in die 2004-verkiesingsmandaat. Dit het die moontlikheid om die program uit te brei en die kwaliteit daarvan te verhoog, aansienlik verbeter.

Wat huishoudelike toegang tot basiese dienste aanbetref, spreek die syfers vanself. Byvoorbeeld, toegang tot drinkwater het van 62% in 1996 tot 88% in 2008 verbeter; asook tot elektrisiteit (58% tot 72%); en sanitasie (52% tot 73%).

Bewyse van maatskaplike dienste kan ook gesien word in die reuse verbetering in toegang tot primêregesondheidsorggeriewe. Altesaam 95% van Suid-Afrikaners leef nou nader as vyf kilometer aan ’n gesondheidsfasiliteit, en ons is ingelig dat alle klinieke nou toegang tot drinkwater het. Immunisasiedekking vir kinders het gelykmatig verbeter tot omtrent 85%; en malaria-gevalle het dramaties afgeneem.

Ons is ook bemoedig dat navorsing oor die voorkoms van MIV stabilisasie ‘n effense afname in die tempo van infeksie toon.

Ons antiretrovirale behandelingsprogramme is nie net die grootste ter wêreld nie, maar dit brei ook voortdurend uit, met meer as 690 000 pasiënte wat al met antiretrovirale behandeling begin het sedert die aanvang van die program.

Tog het baie gesondheidsgeriewe nie altyd die nodige medisyne, geskikte aantal personeellede en ’n bestendige voorsiening van basiese dienste soos skoon lopende water en elektrisiteit nie. In sommige van hierdie geriewe is die bestuur swak en die gesindheid van personeel moet verbeter.

In onderwys was daar ’n daling in die onderwyser-leerder-verhouding; amper universele toegang met betrekking tot inskrywings op laerskoolvlak, en ’n verbetering in die aantal leerlinge wat Wiskunde slaag, om ’n paar voorbeelde te noem.

Terselfdertyd is baie moeite gedoen om infrastruktuur in arm gebiede te verbeter.

Natuurlik weet ons dat die uitsakkoers, veral op sekondêre en tersiêre vlak, onaanvaarbaar hoog is, en dat die onderwysstelsel nog die nodige vaardighede moet voorsien wat deur die samelewing vereis word.

Om aan te sluit hierby, dui neigings in prestasie, beide vir onderwys en leer, ’n kommerwekkende ooreenstemming met die sosiale verdeeldheid van die verlede.

Ironies genoeg is die infrastruktuur en administratiewe en onderwyservermoëns juis die minste indrukwekkend waar onderwys die nodigste is om die siklus van armoede te verlig.

Die Regering se maatskaplike programme het die batebasis van arm mense verbeter, in die vorm van behuising – met 2,6 miljoen gesubsidieerde huise wat voorsien is.

Natuurlik moet ons ook toegee dat die grondherverdelingsprogram en die na-vestiging-ondersteuning vinniger en beter hanteer kon word.

Oor die algemeen is ons trots op die vordering van ons maatskaplike programme. Maar ons kan nie tevrede wees met slegs kwantitatiewe verandering nie.

Hetsy in onderwys, gesondheid, behuising, water of sanitasie, die sentrale vraag waarmee ons elke dag gekonfronteer word, is hoe om die kwaliteit van hierdie dienste te verbeter! Ons het nog baie werk wat dit aanbetref.

Agbare lede;

Die euwel van misdaad bly ’n hoofbron van onsekerheid vir Suid-Afrikaners. Daar is daagliks, beide in arm en ryk buurte, vrees vir die moontlikheid van ’n gewelddadig aanval.

In openbare en privaatinstansies is die moontlikheid van misdadige skemas wat hulpbronne uitwis deur korrupsie altyd ’n bron van groot kommer.

Die feit is dat die algehele misdaadkoers, nadat dit in 2002 ’n hoogtepunt bereik het, bestendig gedaal het. Allerhande statistieke kan aangehaal word om dit te bevestig.

Maar ons weet dat die afname nie vinnig genoeg gebeur nie, nie eens teen die koers van 7% tot 10% wat ons vir onsself in verskeie kontakmisdaadkategorieë gestel het nie. Die feit dat voorvalle van gewelddadige inbrake in huise en besighede toegeneem het, en dat misdaad teen vroue en kinders nie beduidend afgeneem het nie, is rede tot groot kommer.

Dit dui op swakhede in ons buurte, veral om bande van gemeenskaplike solidariteit te bou wat ons sal help om misdaad te voorkom en te bekamp. Dit dui op swakhede in die doeltreffendheid van die hofstelsel, beide met betrekking tot tegniese en ander infrastruktuur en bestuur.

Hierdie is die kwessies wat nou aangespreek word deur omvattende veranderinge in die kriminele regstelsel. 

Tog, as ons heeltemal eerlik wil wees, moet ons nie die feit uit die oog verloor dat ons ’n stelsel beoordeel wat by verre meer legitimiteit geniet as wat ons ooit tevore in ons land gehad het nie.

Dit is te danke aan die transformasie wat hierdie instansies ondergaan het betreffende hul doktrines, gebaseer op ’n kultuur van menseregte, hul demografiese samestelling en hul stelsels vir aanspreeklikheid.

Maar ons moet onsself nie flous nie: soos op alle maatskaplike gebiede, is sulke transformasie steeds in wording. Ons het nog ’n ver pad om te gaan.

Ek is seker dat die agbare lede sal saamstem dat die menslikheid van ons demokratiese bedeling uitdrukking behoort te vind in die mate waartoe ons aandag skenk aan die weerbaarste lede van ons samelewing.

In hierdie opsig het ons, deur wetgewing, internasionale konvensies, regulasies en veldtogte, verseker dat daadwerklike pogings gemaak word om die toestande van kinders, vroue, mense met gebreke en bejaardes te verbeter.

Deur bewusmakingsveldtogte en inderdaad as gevolg van die vennootskappe wat ons gesluit het met organisasies wat hierdie kwesbare groepe verteenwoordig, het ons bewustheid rondom die kwessies wat hulle beïnvloed verbeter; en toenemend die belangrikheid van hierdie sake aangemoedig.

Ons kan byvoorbeeld met trots getuig dat huishoudings waar vroue aan die hoof staan ’n groter as gemiddelde deel van die maatskaplike toelaes ontvang het, insluitend behuising en gesondheidsorg; en dat van die suksesvolste programme dié rondom kinderimmunisasie en -voeding was.

Tog is toegang tot werksgeleenthede ’n swaar las op plattelandse vroue, jeugdiges en mense met gebreke. MIV het die grootste impak op jong vroue. Geweld teen vroue en kinders is ook heeltemal te hoog.

Al hierdie dinge verg aandag in die tyd wat kom.

Mevrou die Speaker en Agbare Voorsitter;

Dit is dan sommige van die vooruitgang wat die demokrasie meegebring het, en die vordering wat die Regering gemaak het om aan die verkiesingsmandaat te voldoen.

Dit kan geensins ontken word dat die vooruitgang sedert 1994 gemeet aan enige maatstaf indrukwekkend is nie. Maar daar is ook geen twyfel dat daar nog baie uitdagings is nie.

Daarom is dit gepas om onsself te herinner aan daardie insiggewende waarneming van hoop en veerkragtigheid, van kontinuïteit en verandering, deur voormalige President Nelson Mandela in sy biografie Long Walk to Freedom:

Ek het die lang pad na vryheid geloop. Ek het probeer om nie struikel nie; ek het ’n paar misstappe langs die pad gegee. Maar ek het die geheim ontdek dat, nadat jy ’n groot heuwel oorkom het, vind jy daar is nog soveel ander heuwels om te klim. Ek het ’n oomblik geneem om te rus, om vlugtig na die roemryke vista rondom my te kyk, om terug te kyk oor die afstand wat ek al afgelê het. Maar ek kan net vir ’n oomblik rus, want saam met vryheid kom verantwoordelikhede, en ek durf nie talm nie, want my lang pad is nog nie verby nie.

Oor ’n paar maande van nou af sal die mense van ons land besluit wie se leierskap hulle verkies om die edel werk van hierdie groot vryheidsvegter en ander stigters van ons demokrasie voort te sit.

Terwyl ons benaderings mag verskil, is die doelwitte waarvoor ons moet mik duidelik en ondubbelsinnig uiteengesit in ons Grondwet: om ’n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en vooruitstrewende samelewing te skep wat ’n positiewe bydrae lewer tot die skep van ’n beter wêreld.

Ses jaar gelede het die leiers van die mense bymekaargekom vir die Wêreldberaad oor Groei en Ontwikkeling en ooreengekom oor die take wat ons moet uitvoer om die lewenskwaliteit van Suid-Afrikaners te verbeter, spesifiek om werkloosheid en armoede teen 2014 te halveer. Hierdie take sluit in:

* die skep van meer werk, beter werk en behoorlike werk vir almal deur hoër vlakke van belegging, openbarewerke-programme, sektor-vennootskappe en -strategieë, plaaslike verkryging, die bevordering van klein ondernemings en ondersteuning vir koöperasies

* die aanspreek van beleggingsuitdagings deur spaarfondse te verbeter, en om hulpbronne met betrekking tot pensioen- en voorsorgfondse, behuising, bydraes van die finansiële sektor en swart ekonomiese bemagtiging toepaslik aan te wend

* die bevordering van gelykheid, die ontwikkeling van vaardighede, die skep van ekonomiese geleenthede en die uitbreiding van dienste,
* plaaslike aksie en implementering vir ontwikkeling, insluitend die voorsiening van infrastruktuur en toegang tot basiese dienste.

Ek is oortuig daarvan dat Suid-Afrikaners sal saamstem dat daar as deel hiervan en bykomend tot hierdie doelwitte ’n behoefte is om die onderwysstelsel te verbeter; om doeltreffende, behoorlike en billike gesondheidsorg te bied; om ons plattelandse gebiede te ontwikkel en voedselsekuriteit te verseker; en om die geveg teen misdaad en korrupsie te verskerp.

Ek noem nie hierdie kwessies omdat hulle omvattend is of omdat ons alle probleme in ons samelewing sal oplos as ons hulle identifiseer nie. Die rede hoekom ek hulle noem is om die punt te beklemtoon dat Suid-Afrika nie ’n gebrek aan ideale het nie. Ons uitdaging is om hierdie ideale om te skakel in programme en projekte wat doeltreffend geïmplementeer kan word.

Hierdie ideale word deur die hele mensdom gedeel, soos dit weerspieël word in die Verenigde Nasies se millennium ontwikkelingsdoelwitte.

En tog word die mensdom vandag gekonfronteer met die gevaar dat die bereiking van hierdie doelwitte nog vir baie jare, indien nie dekades nie, uitgestel kan word weens die ekonomiese krisis wat die wêreld oorval het.

Wat oppervlakkig as ’n finansiële krisis tussen ’n paar krediteure ontstaan het, het ontplof in ’n wêreldwye kredietnood, met erge gevolge vir werklike produksie en handel.

Ons kan die gulsigheid, kortsigtigheid en sorgeloosheid van bestuurders van groot korporasies, wat die krisis bespoedig het, blameer. Ons kan regeringsbeleide verdoem wat nie behoedsaam was nie en toegelaat het dat die hebsug van ongereguleerde markte verwoesting saai onder finansiële stelsels. Ons kan al hierdie dinge doen, en ons sal heeltemal korrek wees.

Maar tog is ons belangrikste en noodsaaklikste taak om die algehele gevolge van hierdie verwikkelinge op ons eie ekonomie en ons streek behoorlik te verstaan, en om antwoorde te vind wat die impak daarvan sal beperk, veral op die kwesbaarste sektore van ons samelewing.

Wat ons wel weet, is dat ons land se regulerende omgewing en die teensikliese begrotingsbeleide wat ons aanvaar het, gehelp het om die ergste impak van die krisis te vermy.

Maar ons is tog ten volle bewus dat die aanvraag na ons uitvoere verminder omdat ons sterk in die wêreldekonomie geïntegreer is; dat toegang tot finansies en kapitale invloei versleg het; dat laer aanvraag tot ’n afskaal in produksie gelei het; dat die skep van werk negatief beïnvloed is en dat personeelvermindering in sommige sektore ’n realiteit geword het.

Hierdie probleme het saamgeval met ’n tydperk waarin inflasie en rentekoerse steeds te hoog was.

Tesame voorspel hierdie dinge niks goed vir die inkomste wat ons nodig het om die voorsiening van dienste uit te brei en om ons infrastruktuur-projekte te implementeer nie. Daarom is ons gedwing om ons vooruitsigte met betrekking tot groei en werkskepping af te skaal.

Ons weet ook dat Suid-Afrika veel minder geraak word as baie ander lande. Inderwaarheid kan Suid-Afrika en die res van die kontinent steeds groei verwag, al is dit teen ’n stadiger koers, in ’n tyd wanneer ander lande resessies ervaar of voorspel.

In hierdie opsig, agbare lede, is ek bly om te berig dat ons tydens die interaksie tussen Die Kantoor van die President en leiers van verskeie maatskaplike vennote gesamentlik saamgestem het om bemiddelings daar te stel wat die impak van die krisis op ons samelewing sal beperk. Die taakmag wat hierdie sake hanteer is reeds volstoom aan die werk en die volgende breë kategorieë word bespreek:

Eerstens sal die Regering aanhou met openbare beleggingsprojekte, waarvan die waarde vermeerder is na R690 biljoen oor die volgende drie jaar. In hierdie opsig sal ons, waar nodig, kreatiewe maniere vind om fondse in te samel.

Dit sal ondersteuning van ons ontwikkelingsfinansieringsinstansies en leningsfinansiering van internasionale agentskappe insluit, sowel as ’n vennootskap met die privaatsektor en die aanwending van hulpbronne wat deur werkers beheer word, soos pensioenfondse.

Tweedens, sal ons openbaresektor-werkskeppingsprogramme uitbrei. Aan die een kant sal planne voortgaan om werksgeleenthede uit te brei in sektore soos gesondheid, maatskaplike werk, onderwys en wetstoepassingsagentskappe. Aan die ander kant sal ons die bekendstelling van die volgende fase van die Program vir Uitgebreide Openbare Werke bespoedig.

Derdens, sal versagtende aksies binne die privaatsektor gedoen word om die buitensporige afname in belegging en onnodige sluiting van produksielyne of
-aanlegte teen te werk.

Die Regering sal van sy kant af nywerheidsfinansiering en aansporings aanpas om die uitdagings in verskeie sektore beter te hanteer, en ook ontwikkelingsfinansieringsinstansies aanmoedig om firmas te help wat onder die krisis gebuk gaan.

Alternatiewe tot afleggings sal ondersoek word, insluitend langer vakansies, langer opleidingstye, korttyd en posdeling. Dit sal gekombineer word met die bevordering van die Trots Suid-Afrikaanse-veldtog en fermer optrede teen onwettige invoere.

Vierdens, sal die Regering maatskaplike besteding handhaaf en uitbrei, insluitend om toenemend die Kindersorgtoelae na kinders tot en met 18 jaar uit te brei en die ouderdom waarop mans geregtig is om ouderdomspensioen te ontvang na 60 jaar verminder.

Boonop sal ons die Maatskaplike Noodverligting-toelae en voedselsekuriteit-maatreëls meer gereeld aanwend, spesifiek om ook diegene te teiken wat nie deur die Werkloosheidsversekeringsfonds gedek word nie of wie se voordele uitgeput is.

Ons sal ook aanhou om spesiale aandag te skenk aan die uitdaging van anti-kompeterende gedrag deur sommige van ons korporasies. In hierdie opsig prys ons die Kompetisiekommissie vir die ferm hand waarmee hulle verseker dat oortreders aan die pen ry.

Ons hoop egter dat die burgerlike gemeenskap hul eie vlak van aktivisme sal verskerp om onder andere te verseker dat die voordeel deur die samelewing gevoel sal word soos wat insetkoste afneem.

Hierdie onmiddellike maatreëls sal gelei word deur die beginsel van ’n teensikliese fiskale beleid. Ons sal nogtans verseker dat die leningsvlakke van die Regering versigtig en volhoubaar is. Dit impliseer ook ’n vinnige afname in regeringskuldvlakke wanneer toestande weer ’n gunstige wending neem.

Ons pogings sal ook ingelig word deur die wete dat die maatreëls om die omgewing te beskerm en om die impak van klimaatsverandering af te weer ook kan bydra tot werkskepping.

In beide die G20-vergaderings en ander interaksies met multilaterale instansies het ons regering redes aangevoer vir toepaslike en dringende ingrypings, veral ten opsigte van ontwikkelde lande waar die krisis ontstaan het en waar dit die ergste gevoel word. Ons glo dat die tyd nou aangebreek het om binnelandse regulasies en oorsigte oor die finansiële stelsel te verstewig, maar ook dat strenger toesig oor en optrede op ’n wêreldwye skaal onvermydelik en noodsaaklik geword het.

Uiters belangrik is dat ons ook die integriteit van die wêreldhandelstelsel moet beskerm, die huidige samesprekings van die Doha-rondte moet voltooi en verseker dat ontwikkelingshulp nie afgeskaal word nie.

Die grootste les om uit hierdie ervaring te leer is dat ons sterker vennootskappe tussen plaaslike en globale ekonomiese rolspelers nodig het, nie net om die impak van die krisis te stuit nie, maar ook om maatreëls in plek te stel wat ’n herhaling daarvan sal voorkom.

In ons eie land sal ons al hierdie dinge doen as deel van die proses om ons samelewing op ’n pad van hoër groei en ontwikkeling te plaas. Dit gaan beteken dat dit effens langer gaan neem om ’n hoër trajek te bereik. Maar ons twyfel nie dat dit wel een of ander tyd sal aanbreek nie.

In hierdie opsig sal dit uiters belangrik wees hoe ons die land posisioneer om voordeel te trek uit die unieke geleenthede wat oor ons pad gekom het. Ek verwys hier spesifiek na die FIFA-Wêreldbeker in 2010, sowel as die Konfederasiebeker ’n paar maande van nou af. Byna al die projekte en planne is voltooi of naby aan klaar – van stadions, vervoerinfrastruktuur, veiligheidsmaatreëls, kwessies rondom akkommodasie, tot gesondheid- en immigrasieplanne – wat die vertroue bevestig van die globale sokkerwêreld dat hierdie ’n waarlik suksesvolle toernooi sal wees.

En ons glo, ná vyf agtereenvolgende oorwinnings, dat die nasionale sokkerspan nou met meer selfvertroue voorberei om bo verwagting te presteer!

Maar meer as dit, die ware erfenis van hierdie skouspel sal ons vermoë wees om Suid-Afrikaanse en Afrika-gasvryheid en medemenslikheid ten toon te stel – om eens en vir altyd die persepsies oor ons land en ons kontinent in die oë van die wêreld te verander. Dit gaan van ons afhang, en daar kan nie ’n prys daaraan geheg word nie!

Ons wil ook graag in hierdie opsig al ons sportspanne gelukwens wat Suid-Afrika se strewe na uitnemendheid gedurende die afgelope jaar bevestig het. ’n Spesiale woord van lof aan ons krieketspan wat die kruin van die wêreldranglys bereik het.

Ons is natuurlik ook die rugby-wêreldkampioene; Giniel de Villiers en sy span het die Dakar-wedren gewen; ons paralimpiese atlete gee ons voortdurend ’n rede om trots te voel; en ons onder-20-sokkerspan het heel goed gevaar in ’n uiters kompeterende omgewing.

Mevrou die Speaker en Agbare Voorsitter; 

Slegs twee weke gelede het Suid-Afrika saam met Mali ’n deel van die argiewe voltooi om die antieke manuskripte van Timboektoe te bewaar.

Hierdie ryk erfenis dui op Afrika as die baken van wetenskap en letterkunde, filosofie en handel, wat verbreek is deur die slawehandel en ’n gejaag na Afrika se rykdom.

Hierdie inisiatief kan ons aanspoor om saam te werk met ander lande op ons vasteland en verder weg om die toestande van mense te verbeter.

Ons het inderdaad gedurende die afgelope 15 jaar nie ’n kans laat verbygaan om te verseker dat Afrika die hernuwing beleef in wat eintlik die Afrika-eeu moes wees nie. Stadig maar seker vorder ons vasteland na renaissance, met die belange van ons mense wat bo-aan ons leiers se agenda is. Ons vasteland wys die wêreld hoe hoop en deursettingsvermoë lyk.

En dit is om hierdie rede, en slegs om hierdie rede, dat ons aanhou om die mense van Zimbabwe te probeer help om ’n blywende oplossing vir die krisis in daardie land te vind. Ons wil graag in hierdie verband al die partye in Zimbabwe gelukwens met die onderhandelinge wat hulle aangegaan het, met die uiteindelike prys wat nog altyd die wens van die mense van daardie land en die subkontinent as ’n geheel was, naamlik ’n stabiele en wettige regering wat die uitdagings wat deur die mense in die gesig gestaar word, wil aanspreek. Ons is opreg bemoedig dat die Zimbabwiese Parlement gister Wysiging 19 van die Grondwet aanvaar het, wat die basis vorm vir die implementering van ’n inklusiewe regering. 

Spesiale vermelding moet in hierdie opsig gemaak word van die SAOG-fasiliteerder, voormalige President Thabo Mbeki, en die span wat onvermoeid en geduldig gehelp het om die proses suksesvol te voltooi.

Nou kan die heropbouwerk in erns begin, en Suid-Afrika is gereed om te help waar ons kan. In hierdie opsig is daar ’n dringende behoefte om die menseregte-krisis in daardie land te help aanspreek. Ons is vol vertroue dat die internasionale gemeenskap, omdat hulle omgee, saam met die mense van Zimbabwe sal werk om ’n nuwe pad vorentoe oop te maak.

Ongeag die stampe en stote wat klaarblyklik die vordering van die mense van die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) op hul pad na stabiliteit en vooruitgang karakteriseer, is dit ook bemoedigend dat vooruitgang daar gemaak word.

Die vennootskap wat die afgelope tyd ontstaan het tussen die leierskorps van die DRK en Ruanda beloof vooruitgang in die toekoms rakende sake soos veiligheid en die hantering van die menseregte-krisis; maar hopelik ook ten opsigte van politieke dialoog. Op dieselfde wyse sal ons aanhou om saam met ander lande en die Afrika-Unie te werk om hierdie doelwitte in Burundi, Soedan, Westelike Sahara, die Ivoorkus, Somalia en elders na te streef.

Soos verskeie verwikkelinge tydens die afgelope paar maande bewys het, sal Suid-Afrika die voorreg as voorsitter van die SAOG gebruik om hierdie noodsaaklike streeksinstansie te versterk, met spesifieke klem op die implementering van beraadsbesluite en die versterking van strategiese streeksamehang.

Terselfdertyd wil ons ook SAOG se interaksie met die Gemeenskapsmark vir Oos- en Suider-Afrika (COMESA) en die Oos-Afrika Gemeenskap (OAG) verbeter. Hierdie inisiatiewe sal onderneem word ten einde die diepgrondige verhoudings wat ons binne die Suider Afrikaanse Doeane-Unie geniet. te versterk eerder as te verswak.

Ons wil graag van die geleentheid gebruik maak om die mense en leierskorps van Zambië, Ghana en die Verenigde State van Amerika geluk te wens met verkiesings wat simbolies die nougesette grense van hul lande oorgesteek het.

Ons sal altyd poog om samewerking met hierdie en ander lande te versterk ten einde die mensdom tot voordeel te strek.

Ons is bevoorreg om hierdie jaar die einde van die eerste dekade van ons diplomatiese verhouding met China te vier. Deur die jare het dit duideliker as ooit geraak dat hierdie vennootskap baie wedersydse voordele inhou.

Ons wil ook graag weereens ons verbintenis bevestig aan die noue bande wat ons met Brazil en Indië gevorm het deur die IBSA; en ook die versterking van bande wat ons land gesmee het met Rusland en lande in Asië, die Midde-Ooste, sowel as Latyn- en Noord-Amerika.

Ons het al op vele geleenthede ons kommer uitgespreek oor die volharding van konflik in die Midde-Ooste oor die algemeen, en spesifiek in Israel en Palestina. Ons afgryse met die onlangse eskalasie van die konflik en massiewe lewensverlies van veral burgerlikes – insluitend kinders, vroue en bejaardes – kan nie in woorde uitgedruk word nie.

Daar is geen regverdiging vir sodanige dade van moedswillige vernietiging en wreedheid nie. En ons hoop hierdie keer dat hernude pogings deur die internasionale gemeenskap om blywende oplossings vir hierdie konflik te vind, vrugte sal afwerp sodat die Israeliete en die Palestyne as bure vrede en sekuriteit kan geniet binne hul soewereine gebiede. 

Ons spesiale gelukwensing gaan aan die Regering en mense van Kuba met die 50ste herdenking van hul soewereiniteit en, daarmee saam, die vryheid om hul eie ontwikkelingspad te kies.

Ons was gedurende die afgelope jaar in staat om verdere onderhandelinge met die Europese Unie te voer oor ons strategiese vennootskap; en ons hoop dat die goeie gees waarin die gebeure plaasgevind het, sal voortduur soos ons die multilaterale onderhandelinge oor die ekonomiese vennootskapooreenkomste met lande in ons streek finaliseer.

Ons sien ook uit daarna om hierdie vennootskap te versterk wanneer ons later hierdie jaar die Suid-Afrika-EU-beraad aanbied.

Saam met ander suidelike lande sal ons aanhou om die saak van die herstrukturering van die Verenigde Nasies, die Internasionale Monitêre Fonds en ander multilaterale instansies na te streef, sodat hulle die veranderde en veranderende globale werklikheid weerspieël en op ’n demokratiese, gelyke en openlike wyse bedryf word.

Ons verbind onsself ook daartoe om te voldoen aan die oogmerke van internasionale ooreenkomste, insluitend die Kyoto Protokol en die opvolgers daarvan, tot voordeel van toekomstige generasies van ons eie mense en mense regoor die wêreld.

Mevrou die Speaker en Agbare Voorsitter;

Daar is twee basiese beginsels wat ons lei in ons strewe: die noodsaaklikheid om die mandaat uit te voer wat in 2004 aan hierdie regering gegee is; en om seker te maak dat die Regering wat ons opvolg na die verkiesing ’n platform kry wat gereed is vir die implementering van programme sonder onnodige oponthoud.

In die volgende paar maande wat die nasionale en provinsiale verkiesings voorafgaan, sal ons poog om ons algemene mandaat uit te voer. As deel van die baie gedetailleerde projekte wat vervat is in die Regering se Program van Aksie, sal ons spesifieke aandag skenk aan:

* die daarstelling van die nodige kapasiteit vir verbeterde dienslewering en beter integrasie met en tussen die regeringsfere, insluitend nasionale strategiese beplanning

* ’n voortsetting van die Stryd teen Armoede-veldtog en finalisering van die konsep omvattende anti-armoede-strategie by wyse van die openbare konsultasie wat tans plaasvind

* die implementering van die omvattende program wat ons daargestel het om die voorkoms van cholera in verskeie dele van die land te elimineer

* volgehoue navorsing en konsultasie oor die Omvattende Maatskaplikesekerheidstelsel, insluitend die kwessie van nasionale mediese versekering

* ’n versterking van veldtogte om energie te spaar, derhalwe die huidige probleme te beheer en ons eie gedrag te verander, terwyl projekte terselfdertyd bespoedig word wat nuwe kapasiteit vestig en alternatiewe energiebronne benut – in die besef, buiten die gevolge van klimaatsverandering, dat hulpbronne soos fossielbrandstof en water afneem in gelyke mate as wat die vraag daarvoor toeneem

* die integrasie van navorsingsbevindinge oor tweede ekonomie-ingrypings soos gemeenskapswerkskeppingsprogramme, ondersteuning vir klein en mikro-ondernemings en landelike ontwikkelingsinisiatiewe in die werk van die tersaaklike groepe

* verskerpte pogings om die kriminele regstelsel te verbeter, insluitend beter forensiese kapasiteit, ’n vinnige vermeerdering van die aantal speurders, optimale benutting van inligtings- en-kommunikasietegnologie, en beter bestuur van die howe

* fasilitering van prosesse wat gemik is op die verbetering van meganismes vir kwessies soos geslagsgelykheid, byvoorbeeld 50/50-verteenwoordiging in besluitnemingstrukture, jeugontwikkeling, die regte van mense met gebreke en kinderregte – insluiting die finalisering van samesprekings oor die Nasionale Jeugbeleid, gereedmaking vir die implementering van die Afrika-Jeughandves sodra dit deur die Parlement goedgekeur is, en die daarstel van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap, die voorlegging aan die Parlement van die SAOG-Protokol oor geslag en ontwikkeling, beter bewusmaking oor die regte van mense met gebreke; en die uitbreiding van die aantal munisipaliteite wat ’n Kinderregte-fokuspunt het bo en behalwe die huidige 60%.

Hierdie en ander programme, insluitend die Apex-Prioriteite wat in verlede Februarie se Staatsrede geïdentifiseer is, vorm die basis van ons pogings om aan ons mandaat te voldoen en die grondwerk vir die toekoms te doen.

Ons sal ons pogings verskerp, geïnspireer deur die entoesiasme, hoop en veerkragtigheid van die Suid-Afrikaanse mense in ’n strewe na dit wat die beste is vir ons almal. Dit, hoofsaaklik, is die bron van ons vertroue wanneer ons sê dat dit goed gaan met ons nasie. Ons demokrasie is gesond. Dit word toenemend sterker. 

En dus, in die woorde van voormalige President Mandela, “durf ons nie talm nie, want ons lang pad is nog nie verby nie”.

Ek dank u.

Issued by: The Presidency
6 February 2009

Share this page

Similar categories to explore