Programdirekteur
Voorsitter van die Oos-Kaapse Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NJOA)
Die hele leierskap van NJOA
Verteenwoordigde jeugstrukture
Amptenare van die Distriksmunisipaliteit en alle sektordepartemente
Ons vriende van die media
Genooide gaste
Dames en here
Ek groet u almal.
Ons het gister een van ons stryd-staatmakers, mamma Nontsikelelo Albertina Sisulu, 'n dogter van die Oos-Kaap, ter ruste gelê. Haar afsterwe is inderdaad 'n aanduiding van die feit dat die son werklik gesak het vir die generasie aktiviste wat hul hele lewe aan die bevryding van alle Suid-Afrikaners gewy het. Soos ek u hier ter gedenking van Jeugdag toespreek, neem ek graag 'n bladsy uit haar lewe, soos in haar biografie weerspieël word, dat die feit dat sy in haar jeug wees gelaat is nie haar ambisies vernietig het nie.
Sy het skool voltooi, opleiding as verpleegster ontvang en haar lewe aan ons politieke stryd gewy terwyl sy haar sewe kinders grootgemaak
het. Dit het sy gedoen terwyl haar man saam met sy kollega, Nelson Mandela, en ander leiers van die African National Congress (ANC) 'n lewenslange vonnis uitgedien het. Ma Sisulu skryf haar lewensukses toe aan jeugdige selfverloëning, dissipline, volharding, en moed. Dit is die eienskappe wat julle, ons jeug, moet omhels.
Dames en here dit is vir my 'n eer om u toe te spreek onder die tema: "Jeugaksie vir Ekonomiese Vryheid in ons leeftyd". 'n Mens kan hierdie tema nie distansieer van Anton Lembede, die stigingspresident van die ANC Jeugliga wat die beroemde slagspreuk "Vryheid in ons leeftyd" geskryf het nie. In sy kort leeftyd (1914 - 1947) het hy, soos Mama Sisulu en andere soos Nelson Mandela, Oliver Tambo en Walter Sisulu Lembede, enige selfsugtige belange wat hy as beroepsman kon geniet, vir ons bevryding opgeoffer.
Soos ons 16 Junie, en inderdaad die rol wat die jeug in ons bevryding gespeel het, gedenk, is dit belangrik om te onthou dat die gebeure van 1976 'n ontploffing van 'n langgerekte weerstandstryd was.
Ons het geweldig as gevolg van kolonialisme, en later apartheid, gely. Ons weerstand is met oorweldigende geweld gegroet, maar dit het ons nie daarvan weerhou om maniere te vind om die Nasionale Party- regering te beëindig nie. Wydverspreide boikotte van wit sake- ondernemings, huurboikotte, arbeidstakings en aanstigting van internasionale sanksies was 'n paar van die taktieke wat gebruik is in 'n poging om die wrede apartheidsregime tot ondergang te bring en dit van sy ondersteuningsmiddele te skei.
Programdirekteur, vandag onthou ons dat dit op 16 Junie 1976 was dat skares Suid-Afrikaanse jeugdiges uit township skoolklaskamers verrys het om 'n wrede stelsel van rasse-onderdrukking wat universeel veroordeel is as “'n misdaad teen die mensdom", te konfronteer. Aangedryf deur die basiese menslike drang na vryheid, het jong mans en vroue die strate ingevaar om hul ontevredenheid aan te toon met die apartheidstelsel en sy wette, in die besonder die Afrikaansmedium Verordening van 1974, wat alle swart skole gedwing het om Afrikaans en Engels in 'n 50-50 verspreiding as onderrigtale te gebruik.
Die seskiedenis vertel vir ons dat die Streeksdirekteur van Bantoe-onderrig (Noord-Transvaalstreek), JG Erasmus, vir omgangsinspekteurs en skoolhoofde vertel het dat Afrikaans volgens die Afrikaansmedium Verordening vanaf 1 Januarie 1975 vir wiskunde, rekenkunde, en die sosiale studies vanaf standerd vyf (graad 7) gebruik moet word; Engels sou die onderrigtaal vir algemene wetenskap en praktiese vakke (huishoudkunde, naaldwerk, houtwerk, metaalwerk, kuns, landbou-wetenskap) wees. Inheemse tale sou vir godsdiensonderrig, musiek en 'n ander sinlose vak, genaamd fisiese kultuur, gebruik word. Hierdie besluit was bindend ten spyte van 'n 1972 peiling wat bevind het dat 98% van jong Sowetaners nie in Afrikaans onderrig wou word nie.
Soos ons 35 jaar later hier byeenkom en terugkyk op gebeure wat tot die 1976-onluste gelei het en die lewens van jong aktiviste wat hulself teen die verpletterende mag van apartheid gewerp het, vier, onthou ons dat hulle 'n golf van menslike energie wat ongeëwenaard is in die geskiedenis van ons land, ontsluit het.
In 'n rede by 'n soortgelyke geleentheid verlede jaar, het ek gesê dat die Junie 1976-generasie bekwaam reageer het op die imperatiewe van hul tyd, dat hulle hul lewensdoel vir hulself geïdentifiseer het en gestrewe het om dit te vervul. My betoog is dat die 2011-generasie nie anders moet wees nie.
Die ironie van hierdie jaar se Jeugdagvieringe is dat die laaste van diegene wat voor of op 16 Junie gebore is, amptelik uit die jeuggroep beweeg het, aangesien hulle nou ouer as 35 is. Met die aanneem van "volwasse status", wil ek 'n beroep doen op die ouer generasies van ons bevolking om te begin om die prosesse van gewelddadige betogings af te leer. Apartheid was wreed en op daardie tydstip was die aggressiewe weerstand wat daarteen georganiseer is, die enigste manier waarop ons maksimale impak kon registreer.
Dames en here, twee maande gelede het ons 17 jaar van ons duur verworwe demokrasie gevier. Die grondbeginsels daarvan is, in teenstelling met die voormalige regime, op grondwetlikheid gebaseer. Daarom is dit teleurstellend om waar te neem dat ons protesmiddele steeds in dieselfde trant is as wat tydens apartheid die geval was, terwyl die regering relevante platforms vir die uitspreek van ontevredenheid beskikbaar gestel het.
Verlede maand is ons stembusse toe vir plaaslike regeringsverkiesings, 'n basiese vorm van uitdrukking in 'n demokratiese bedeling. Die jeug en hul strukture beskik ook oor die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap wat gemaak is om oral in wisselwerking te tree met die strukture van die regering. Nasionale en provinsiale regeringsdepartemente, sowel as distriks- en plaaslike munisipaliteite, huisves jeugkantore wat veronderstel is om die belange van die jeug, veral ten opsigte van brandende kwessies wat met die gebrek aan dienslewering verband hou, aan te spreek.
Mense kan dus nie optree asof daar geen platforms is vir skakeling oor sake wat hul lewens raak nie. Vernietiging van regeringsfasiliteite waarvoor hulle nie geveg het om te bou nie, soos die brand van biblioteke, wat in die meeste gebiede, veral in die voormalige Transkei, nie voor 1994 daar was nie, kan nie as aanvaarbare protes beskou word nie.
As die Oos-Kaapse Provinsiale Regering (OKPR) veroordeel ons hierdie dade ten sterkste en doen ons 'n beroep op jongmense om ons duur verworwe winste te beskerm en waaksaam te wees teen agent provocateurs wat die ware stryd van ons mense wil kaap.
Ons jeug moet weet dat ons, deur middel van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en Spesiale Programme wat verlede jaar na ons hersamestelling van departemente vir beter doeltreffendheid tot stand gekom het, daarna strewe om aan hulle meer en beter gekoördineerde geleenthede te bied, natuurlik ter ondersteuning van die visie van die NJOA.
Nes die 1976-jeug bekwaam reageer het op die uitdagings van hul tyd, is dit ook belangrik dat die jong manne en vroue wat in 'n demokratiese staat groot geword het, tot die uitdagings van vandag styg. Die plaag van MIV en Vigs, dwelm- en alkoholmisbruik, tienerswangerskap, werkloosheid, gebrek aan ontwikkelingsgeleenthede vir die jeug is 'n paar van vandag se heersende uitdagings. Die vraag wat u uself moet afvra, is: Hoe oorkom ons hierdie uitdagings?
Hoe u hierop reageer, sal bepaal of ons land die volgende eeu binnegaan. Ons is vandag hier omdat die Sisulu's, Mandela, Tambo en Lembede, onder andere, op die uitdagings van hul tyd gereageer het. Ons geniet demokrasie omdat die 1976-generasie hul jeug en hul lewens opgeoffer het sodat ek en jy die vrugte van vryheid kan geniet. Ten einde ons land na die volgende eeu te neem, moet julle, vandag se jongmense, verlewendig wees om aan die bou van ons nasie deel te neem. Julle moet deel van die oplossing en nie meer deel van die probleem wees nie.
As die staat, doen ons ons deel. Voormalige ANC President, Oliver Reginald Tambo, het eenkeer gesê: "'n Land wat nie vir sy jeug sorg nie, verdien nie die toekoms nie." Ons doen ons deel en wil hê dat jy joune doen.
Ons het die jaar 2011 as die jaar van werkskepping verklaar. Ons doen ons bes om te verseker dat ons werkskeppingsveldtog, veral ten opsigte van die skep van geleenthede vir die jeug, suksesvol is. In samewerking met die Nywerheidsontwikkelingsones, Koega en Oos- Londen, kan ons met trots beklemtoon dat:
• Werkgeleenthede in die inbelsentrums geskep word vir jongmense met matriek wat vlot is in Engels;
• 'n Bestuursopleidingsprogram vir die jeug met tersiêre kwalifikasies wat nie bestuurslesse kan bekostig nie sodat hulle toegang kan hê tot verwante geleenthede;
• Mobilisering van beleggers om beurse in lyn met hul bedryf aan te bied;
• Die vier nuwe beleggers in die Koega NOS is, byvoorbeeld,
o Kgalagardi wat 'n mangaansmelter sal bou,
o GDF Suwez wat 'n kragstasie sal bou,
o Rainbow Nation Renewable Fuels en
o AGMES Steel wat op die jeug sal fokus;
• Suksesvolle leerlingskappe teiken die jeug in vennootskap met die
Oos-Londense NOS;
• Bekendstelling van die Program Meester Ambagsman Akademie wat jong ambagsmanne op hernubare energie-tegnologie teiken;
• Oprigting van die Tegnologie-parke wat met universiteite werk. Die Oos-Londen NOS het 'n afrigter laboratorium begin waar dit studente-ondernemings oor landbou-verwerking en motorvoertuigtegnologie, onder andere, onderrig.
In ander gebiede het ons die Wildekus Ontwikkelingsone wat die potensiaal het om ook 'n aantal geleenthede vir jong mense te skep deur middel van:
• Kommersialisering van wildreservate met afwaartse voordele van kulturele toerisme, staproetes, ens. waarby jongmense sal baat.
• Wildekus staptog en tolpad, wat tydens konstruksie werk sal skep en ook geleenthede vir sub-kontraktering sowel as ander geleenthede, sal bied.
• Kokstad / Mthatha spoorlyn wat onder bespreking is met Transnet het ook werkskeppingspotensiaal tydens die konstruksie en operasionele fases.
• Agro-verwerking in Mthatha en Butterworth; en
• Die verfraaiing van die dorpe Port St. Johns, Mt. Ayliff, Ntabankulu en Ngcobo, onder andere.
Die Nasionale Tesourie is ook besig om aanskaffingsregulasies
in ooreenstemming met die Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB) en plaaslike verkryging van goedere te finaliseer.
Noudat ek hierdie geleenthede uitgelig het, wil ek graag beklemtoon dat dit die meeste jongmense sal bly ontwyk indien onderwys, 'n prioriteit van ons regering, nie ernstig opgeneem word deur die jeug nie. Jong mense moet ook fokus op medium- en hoë-vlak vaardighede, insluitend die gebied van navorsing en ontwikkeling.
Lembede se boodskap aan die jeug van Suid-Afrika was:
"Ons is nie geroep tot vrede, gemak en genot nie, maar tot harde werk, stryd en sweet. Ons benodig jong manne en vroue van hoë morele stamina en integriteit; van moed en visie. Kortliks, ons benodig krygers. Dit beteken dat ons 'n nuwe tipe jeugdige van onverstoorbare dissipline moet ontwikkel wat opgelei is om lyding en moeilikhede te verduur. Dit is slegs hierdie jeugdige wat die nasionale bevryding van die mense van Afrika sal bereik".
Suid-Afrika is in 'n soeke na totale transformasie en rekonstruksie van veral die ekonomiese sektor. Hierdie worstelinge soos deur die Nasionale Demokratiese Revolusie omhels, is nog lank nie verby nie. Totale oorwinning sal behaal word wanneer die jeug van Suid-Afrika in hul geheel gereed en energiek is en hulself sien aan die voorpunt van die vooruitstrewendes in die stryd om die lewering van die veel gewenste beter lewe vir almal.
Terwyl ons luister na die die Staatspresident, mnr. Jacob Zuma, wat ons gedurende die hoofgeleentheid van 16 Junie by die Orlando-stadion in Gauteng sal toespreek, moet ons begin om ons eie rolle in die bevordering van die saak te definieer.
Ek dank u.
Bron: Oos-Kaapse Provinsiale Regering
Rede deur die Oos-Kaapse Premier, me Noxolo Kiviet by die Provinsiale Jeugdagvieringe
Province