C Dowry: Farm Worker of the Year Awards event (Afrikaans)

Toespraak deur Cobus Dowry, Provinsiale Minister van Landbou in
die Wes-Kaap by die Bergrivier Plaaswerker van die Jaar funksie,
Bergrivier,Wes-Kaap

27 October 2007

Geagte Voorsitter, deelnemers aan die kompetisie, dames en here,

Baie dankie weer eens vir die uitnodiging om vanaand hier saam met u te kan
wees by 'n geleentheid wat nie net vir u nie, maar ook vir my, elke keer 'n
besondere groot hoogtepunt is.

Ek wil aan die begin vir almal wat betrokke was om van hierdie jaar se
kompetisie en vanaand so 'n groot sukses te maak, baie dankie sê en veral vir
Cerina Kruger wat 'n groot aandeel het aan beide die reël van die kompetisie en
die pragtige funksie vanaand.

Ek weet dat u as plaaswerkers baie ernstig oor die kompetisie is en dat u
wat deelneem, trots is daarop om u spesifieke plaas te verteenwoordig. Ek weet
ook dat die kompetisie elke jaar strawwer en strawwer word en dat baie van u
wat deelneem, nie net hier opdaag nie, maar dat u uself deeglik voorberei met
kennis van die afdeling waarin u op die plaas werk. Die beoordelaars verseker
my dat u daarin geslaag het om hulle te beïndruk, nie net met u praktiese
kennis van u werk nie, maar dat u ook 'n grondige kennis het van die teorie en
die wetlike vereistes wat van toepassing is op u vakgebied.

Ek glo dat die produsente wat hulle werkers inskryf vir die kompetisie net
soveel waarde heg aan die kompetisie as u wat daaraan deelneem. Daarom wil ek
seker maak dat u as werkers diep bewus sal wees van die waardering wat die
produsente het vir die bydrae wat u maak om van landbou in die Wes-Kaap 'n
vertoonvenster vir ander provinsies te maak. Hierdie kompetisie is nie net 'n
manier om erkenning te verleen aan die werk wat u doen nie, maar dit is ook
deel van die bewustheid van die produsente dat u as werkers bemagtig moet word
met kennis en vaardighede om u te slyp tot trotse deelnemers aan die ekonomie
van die land. Ek wil vir u en die produsente wat hulle werkers aan die
kompetisie laat deelneem dankie sê.

Die sukses van die kompetisie word weerspieël in die groei oor die afgelope
klompie jare daarvan na die verskillende streekskompetisies wat uitloop op die
provinsiale kompetisie waar die mededinging baie straf is.

Baie dankie ook aan Sanlam wat die hoofborg van die kompetisie is en
daardeur wys dat u werklik glo aan die ontwikkeling van menslike kapitaal binne
landbou.
Vir ons bly die ontwikkeling van menslike kapitaal een van die
sleuteluitdagings in die ontwikkelingsprogram, nie net van die Departement van
Landbou in die Wes-Kaap nie, maar vir die landbousektor in sy geheel. Die
geleerde mense sê die onwikkeling van menslike kapitaal onderskryf die beginsel
dat hoe meer opleiding en vaardigheid die mens ontvang, hoe meer produktief
raak hy en word hy in staat gestel om makliker en vinniger aan te pas by
veranderende omstandighede en tegnologiese-ontwikkeling. Dit staan in skrille
kontras teenoor diegene wat geen opleiding ontvang of verborge talente
ontwikkel nie en gevolglik nie die nodige aanpassings en vordering kan maak
nie. Dit is dan ook om hierdie rede dat ons as regering in die wes-kaap glo dat
die ontwikkeling van ons menslike kapitaal 'n beduidende bydrae kan lewer tot
die doelwitte van die IKapa Elihlumayo strategie.

Ek wil vanaand sonder vrees vir enige teenspraak sê dat daar die afgelope
paar jaar geweldig baie gedoen is om die lewe en werksomstandighede van u as
plaaswerkers te verander. Wanneer 'n mens oor verandering praat, glo ek moet 'n
mens by jouself begin en die vraag vra wat is my eie ingesteldheid om my eie
omstandighede te verander en tweedens wat is daar in my ingesteldheid om
verandering rondom my te weeg te bring.

Soos wat ek van die beoordelaars verstaan is daar baie van u wat aan die
kompetisie deelgeneem het wat beslis 'n behoefte het om u kennis te verbreed en
u vaardighede uit te brei. Ons is daar om u te help deur middel van die groot
verskeidenheid programme wat ons by die Departement se opleidingsentrums
aanbied.

Dit is egter nie genoeg nie. Ons wil hê dat u u kinders moet lief maak vir
landbou, sodat hulle hulleself kan bekwaam vir die landbou deur formele
opleiding. Daarvoor maak ons beurse beskikbaar sodat plaaskinders hulle op
Elsenburg kan kom toerus om hulle plek vol te staan binne landbou.

Daar word so maklik gedink dat as jy in 'n landbourigting studeer of werk
dat jy die een gaan wees wat net die vrugte moet pluk of die persoon wat die
trekker moet ry. Dit is belangrik en nodig dat daar persone is wat daardie
werke kan doen. Dit is ook nodig dat daar persone is wat die verskillende
kultivars van vrugte kan verduidelik, navorsing kan doen, die grond kan ontleed
en sê hoe dit verwerk moet word, die vrugte kan bemark en so kan ek aangaan.
Dus, is dit uiters belangrik dat ons jeug besef dat beroepe in landbou, net
soos in baie ander industrieë, sekere vaardighede benodig. Baie beroepe in
landbou is 'n wetenskap en dit gaan verder as net op die plaas werk. Daar moet
veeartse, landbouingenieurs en voorligters wees om die landbousektor en sy
werknemers te kan ondersteun. Vir baie van u is dit nog nie te laat om gebruik
te maak van die opleidingsgeleenthede wat deur die departement aangebied word
nie.

Ek praat baie oor vennootskappe en die krag wat vennootskappe het om
verandering te bring en omstandighede te verbeter. Ek wil weer vanaand by u as
plaaswerkers 'n pleidooi lewer dat u met u werkgewer in 'n vennootskap sal gaan
om as 'n span u omstandighede te verander en ook die belange van landbou en die
land op hierdie manier te dien.

Ek wil vanaand 'n ernstige pleidooi lewer en vir u vra om 'n oomblik stil te
sit en 'n kwaliteitsbesluit te neem om deel te word van 'n span saam met die
regering en die produsente en daardie organisasies wat u lewensomstandighede
wil verbeter. U moet ons help om oplossings te soek vir alkoholmisbruik,
familiegeweld, dwelmmisbruik, tienerswangerskap en vele ander relevante
aangeleenthede wat u lewe of die van u familie raak.

Ek wil afsluit deur aan wenners te sê: Baie geluk. U moet weet dat die druk
nou groot is en dat die uitdagings nou voorlê. U moet waardige wenners wees.
Daar is mense wat voor u hierdie kompetisie gewen het en vandag reeds
voorlopers is en as voorbeelde kan dien van wat vermag kan word as jy elke dag
aan jou drome en ideale werk om dit 'n werklikheid te maak. Sterkte ook vir u
wat nou aan die provinsiale kompetisie gaan deelneem. Ons gaan u dophou om te
sien hoeveel van die Bergrivier se mense is ook Provinsiale kampioene.

Uitgereik deur: Wes-Kaapse Provinsiale Regering
27 Oktober 2007
M<EOD>

Share this page

Similar categories to explore