Wes-Kaap, Bergrivier Plaaswerker van die Jaar
14 September 2006
Op 'n meer ernstiger noot wil ek namens die Departement van Landbou weer
eens beklemtoon hoe belangrik hierdie kompetisie vir ons as departement is.
Hierdie kompetisie is 'n bewys dat produsente en privaat instansies ook aan u
as plaaswerkers erkenning wil gee vir die bydrae wat u lewer om landbou in
stand te hou en so ook 'n groot bydrae lewer tot die ekonomie van die
provinsie. Ek glo ook dit dra aan u as plaaswerkers 'n boodskap oor dat u 'n
integrale deel is van landbou en dat die bydrae wat u lewer, nie ongesiens
verbygaan nie.
Dit is egter nie net omdat u 'n belangrike bydrae lewer tot die ekonomie van
die Wes-Kaap, dat ons na u wil omsien nie, maar ook omdat ons glo dat u
volwaardige burgers van hierdie provinsie en die land is dat u geregtig is
daarop om ook as gelykes behandel te word.
Die Wes-Kaap lewer 'n bydrae van meer as 20% tot die totale landbouproduksie
in Suid-Afrika. Die Wes-Kaap produseer tussen 55% en 60% van Suid-Afrika se
totale landbou-uitvoere, en daarom is landbou een van die sleutelareas wat 'n
bydrae moet lewer tot groei en ontwikkeling in die Wes-Kaap. U as werkers het
'n baie groot aandeel in hierdie proses
As ons wil hê dat die ekonomie moet sterker raak, dan beteken dit dat daar
'n paar goed is wat ons moet doen om dit te bewerkstellig. Ons moet onder
andere sorg dat ons meer en beter produkte lewer wat kan meeding op die markte
oorsee. Ons moet sorg dat ons water oordeelkundig gebruik. Ons moet sorg dat
ons voldoen aan die vereistes ten opsigte van chemiese standaarde. Ons moet
toesien dat ons administrasie van hoogstaande gehalte is en ons moet die beste
bestuurspraktyke op elke vlak op die plaas, toepas.
Die terugvoer wat ek gekry het van die beoordelingspaneel is dat die 122
deelnemers aan die kompetisie baie bewus is van die aspekte wat ek nou genoem
het.
Ek glo dat die feit dat daar verlede jaar 44 inskrywings vir die kompetisie
was en vanjaar 122, is 'n bewys dat u ernstig is oor u eie prestasie en bydrae
tot u plaas se sukses.
Die groot vraag is egter, hoeveel van die 202 949 permanente werknemers op
Wes-Kaapse plase is bewus van die belangrikheid wat hierdie afdelings in die
sukses van die boerdery-aktiwiteite speel en dus ook in die sukses van u plaas
en watter rol dit in die provinsie se ekonomie speel.
Dit is nie net die Regering se plig om na u om te sien nie, maar ons het
elke produsent en elke besigheid wat 'n voordeel uit landbou en sy werkers
trek, se samewerking nodig om na u en u 1,5 miljoen afhanklikes se totale
welstand om te sien.Daarom wil ek ook dan sommer nou vir Sanlam wat die
hoofborg van ons kompetisie vir plaaswerkers is, baie dankie sê. So ook vir
Paarlberg BMW en Kaap-Agri, Pakmateriaal, vir u bydrae. Die produsente wat aan
hulle werkers die geleentheid gebied het om deel te neem, is 'n voorbeeld vir
hulle ander kollegas. Ek glo hulle doen dit nie om net te spog met hulle plase
nie, maar hulle doen dit omdat hulle daartoe verbind is om aan u ook die
geleentheid te bied om u magic aan ander ten toon te stel.
Baie van u weet dat plaaswerkeraangeleenthede een van die hoofprioriteite
van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap is. Dit is juis onder die
subprogram, plaaswerkerontwikkeling dat ons ook 'n bydrae lewer tot die
kompetisie. Die doel van die spesifieke program in die Departement is egter
baie meer as net kompetisies. Ons het hierdie afdeling ingestel met die
spesifieke doel om dienste, veral sosio-ekonomies dienste, wat aan die
plaaswerkergemeenskap verskaf moet word, effektief te koördineer.
Toe ek verlede jaar hier by u was, was ons nog besig om 'n strategiese plan
vir plaaswerkers op te stel. Daardie program is in Desember deur die Wes-Kaapse
Kabinet goedgekeur. Die program bevat prakties uitvoerbare prosesse wat werklik
die kwaliteit van lewe van plaasweker sal verbeter. Seker die mees belangrikste
element van die plan is dat ons gesê het dat u as plaaswerkers van die begin af
ten volle deel daarvan moet wees. Ons wil hê dat u mede-eienaarskap van u eie
toekoms moet opneem. Ons wil hê dat u saam met ons moet hoop hê vir die
toekoms. Die President het vroeër die jaar tydens die opening van die parlement
daarna verwys toe hy gesê het dat ons nou na die eerste tien jaar van die nuwe
Suid-Afrika 'n nuwe seisoen van hoop binnegaan.
Wat ons in landbou in die Wes-Kaap doen, skakel in by die doelwitte van die
groter Suid-Afrikaanse strewe wat al sover terug as die opstel van die
Vryheidsmanifes kom, en verder vervat is in die Grondwet van die Land.
Ons wil ook hê dat elke werker wat by landbou betrokke is, elke moontlike
kans moet kry om hom of haar te bekwaam om die beste werker te wees. 'n Goed
toegeruste werker kan 'n positiewe bydrae lewer tot die aktiwiteite op die
plaas.
As Minister is ek nie net baie ernstig oor die welstand van alle
plaaswerkers en die bevordering van u lewensomstandighede nie. Ek en die
Regering wil hê dat u ook beter toegerus moet wees deur middel van
opleidingsprogramme wat ons by die Departement aanbied. Ek kan u ook die
versekering gee dat die produsente van hierdie streek net soos ons wil hê dat u
beter opgelei moet word. U weet dat hulle sê kennis is mag. Wanneer jy toegerus
is met kennis kan jy soveel meer bydra tot die sukses van die boerdery waarby
jy betrokke is. Meer nog, jy kan jouself beter laat geld in die werkplek en jy
kan vir jouself 'n beter toekoms uitkap. Ook hier is dit verblydend om te
verneem dat daar baie van u is wat aan die kompetisie deelgeneem het, wat graag
meer wil bereik as net die huidige posisie waarin u op die plaas is. Daar is
reeds van u wat van verlede jaar af tot nou toe, groot vordering in u werk
gemaak het.
Ek weet daar is baie produsente wat gebruik maak van die fasiliteite en
opleidingsprogramme wat op Elsenburg aangebied word. Hier is selfs 'n paar van
u aan wie ek verlede jaar sertifikate oorhandig het na die voltooiing van die
modulêre kursus in wingerdbou.
Ons wil hê dat u gebruik moet maak van die wye verskeidenheid van
opleidingsprogramme wat ons op Elsenburg aanbied. Hierdie kursusse wissel vanaf
kort vaardigheidskursusse tot 'n Sertifikaatkursus in Landbou (NKR vlak 1), ân
Diploma in Landbou en die graad B.Agric. Areas van spesialisasie in hierdie
programme strek vanaf Diereproduksie, Plantproduksie, Landboubesigheidsbestuur,
Huishoudkunde, Keldertegnologie, Gemeenskap- en Landbouvoorligting tot
Hulpbronbenutting. In hierdie verband wil ek dit onomwonde stel dat Elsenburg
'n toonaangewende landbou-onderwys- en opleidingsinstituut in die land is.
Aan die deelnemers wil ek sê baie dankie dat julle deelgeneem het. Ek glo
dat die kompetisie vir julle elkeen van besondere waarde was en dat julle
elkeen 'n rol te speel het op die plase waar julle werk en in die gemeenskappe
waar julle woon, ook om 'n positiewe beeld van landbou onder ons mense te
kweek.
Aan die wenners wil ek sê, julle het nou gewys wat in julle steek. Dit is
julle verantwoordelikheid om julle mede werkers aan te spoor om ook na die
beste te strewe, om wenners te word.
Baie dankie aan al die borge en persone wie 'n bydrae gelewer het om van die
kompetisie 'n sukses te maak. Nogmaals baie geluk aan die wenners. Mag dit die
begin wees van nog groter dinge vir julle binne die tuiste vir almal.
Ek hoor terloops daar was 'n vraag waar u moes sê wat u aan Cobus Dowry sou
sê indien u die geleentheid kry. So die van u wat dalk gewag het vir daardie
geleentheid kan dit gerus maar kom doen terwyl ek nou vanaand hier is.
Navrae: Alie van Jaarsveld
Cell: 084 604 6701
Alie van Jaarsveld
Spokesperson
Ministry of Agriculture: Western Cape
Tel: (021) 483 4930
Fax: (021) 483 3890
Cell: 084 604 6701
E-mail: avjaarsv@pgwc.gov.za
Issued by: Department of Agriculture, Western Cape Provincial
Government
14 September 2006