C Dowry: Opening of computer centre at JJ Rhode Primary School
(Afrikaans)

Landbou bemagtig primêre skool in Elsenburg: toespraak deur
Cobus Dowry, Wes-Kaapse Minister van Landbou, by JJ Rhode Primêre Skool,
Elsenburg

21 September 2006

As Minister is ek verantwoordelik vir landbou in die Wes-Kaap en Minister
Dugmore is verantwoordelik vir onderwys, maar saam met die ander lede van die
Kabinet is ons verantwoordelik vir die skep van omstandighede waarin elke mens
wat in die Wes-Kaap werk en woon en skoolgaan en lewe altyd sal weet dat ons
wil hê dat u môre beter moet leef as gister. Met ander woorde ons wil hê dat u
hoop moet hê vir die toekoms.

Ek self het grootgeword in 'n baie arm gesin, waar my pa op die spoorweë
gewerk het en waar ek by 'n kerslig moes leer en op die ou einde al in standerd
sewe uit die skool uit is. Ek was gelukkig dat daar iemand was wat vir my
omgegee het en my aangemoedig het om te leer en vandag het ek twee grade agter
my naam en was die Here so goed vir my dat ek die Minister van Landbou in die
Wes-Kaap is.

Ek wonder wie van u het al gehoor van "Ikapa Elihlumayo" en "'n Tuiste Vir
Almal". Ek wil hê die leerders moet dit agter my aan herhaal en dit nie vergeet
nie. Sê saam met my " Ikapa Elihlumayo " en "'n Tuiste Vir Almal ". Hierdie is
twee begrippe wat die Wes-Kaapse Regering baie ernstig oor is en net soos wat
onderwyser en leerder en plaas en plaaswerker nie los van mekaar kan wees nie,
kan ons ook nie hierdie twee gedagtes losmaak van mekaar nie. Dit vorm 'n
eenheid met die visie van die regering om aan elkeen van u nuwe hoop op 'n
beter lewe te gee.

Ons sê die Wes-Kaap moet 'n ware wêreldklasprovinsie wees en ons wil ons
jeug bemagtig om wêreldwyd mee te ding. Ons wil hê julle as leerders moet goeie
slaagsyfers behaal in wiskunde, wetenskap en tegnologie sodat julle eendag die
leiers in die wêreld kan wees.

Aan die ouers en senior mense hier teenwoordig wil ek sê dat geen land kan
bekostig om agter te raak met die onderrig van sy kinders nie. Geen nasie kan
toelaat dat sy toekomstige geslagte grootword met enigiets behalwe die heel
beste geleenthede wat gebied kan word nie. Uitnemendheid in onderwys is nie 'n
luukse nie, maar 'n absolute noodsaaklikheid as ons die toekoms van ons
provinsie en van ons mense in die Wes-Kaap wil verseker.

In vergelyking met die meeste ander lande - en veral met ons
hoofhandelsvennote - is die standaard van wetenskap, wiskunde en tegnologie in
Suid-Afrikaanse skole maar bra power. Tog is dit juis hierdie vakke wat
ekonomiese groei, bemagtiging en ontwikkeling aandryf. Ons is laaste op die lys
van 39 deelnemende lande in wiskunde- en wetenskapgeletterdheid vir graad 8, en
die swak slaagsyfer in matriekwiskunde en -wetenskap op hoër graad veroorsaak
groot kommer. 'n Deel van die probleem is die wyse waarop hierdie kwessies in
die verlede aangepak is. Te dikwels moes onderwysdepartemente te veel vir te
veel leerders doen met te min hulpmiddele.

Die rol van ouers is al eeue terug gedefinieër toe George Herbert gesê het
"Een vader is meer werd as honderd skoolmeesters" en Napoleon Bonaparte het
gesê "Die kind se bestemming is altyd die ma se werk". Daar is selfs 'n ou
Chinese spreekwoord wat lui " Dit neem 'n hele dorp om 'n kind op te voed".

Wat is die rol van die ouer in die skep van 'n wêreldklasonderwysstelssel in
'n wëreldklasprovinsie? As ouer begin u verhouding met die skool op die dag wat
u kind geregistreer word by 'n spesifieke skool. Dan is dit nie die staat wat
die verantwoordelikheid opneem nie - u kind bly nog steeds u
verantwoordelikheid en is dit nog steeds u taak om u kultuur, familie- en
gesinswaardes, morele standaarde en beginsels na u kind en of kinders oor te
dra. Die staat het die verantwoordelikheid om 'n behoorlike onderwysgrondslag
vir u kind te lê. Ons as samelewing moet dus nie ons verantwoordelikhede
teenoor ons kinders ontduik nie. Soos wat GK Chesterton gesê het: "Opvoeding is
bloot die siel van 'n samelewing wat van een generasie na 'n ander oorgeplaas
word."

Die totstandkoming van hierdie wonderlike fasiliteit, waar leerders toegang
sal hê tot rekenaars en boeke, is 'n sprekende voorbeeld van die resultate wat
behaal kan word deur die proses van mede-eienaarskap. As dit nie was vir die
betrokkenheid en die bydrae van die Departement van Onderwys en die bydrae van
die Departement van Landbou onder leiding van Me Joyene Isaacs nie, sou ons nie
hierdie sentrum kon open nie. Baie dankie vir u toewyding aan hierdie projek en
die ruim bydrae wat u gelewer het om nuwe geleenthede aan die leerders van
hierdie skool te bied.

Mede-eienaarskap beteken ook mede verantwoordelikheid en daarom wil ek 'n
beroep doen op elke leerder, onderwyser en ouer om jaloers te waak oor die
instandhouding en versorging van elke apparaat in die sentrum. Hierdie sentrum
is een van die geleenthede wat geskep is waardeur ons die ongeregtighede van
die verlede kan aanspreek in ons poging om die speelveld gelyk te maak. Kom ons
herinner onsself aan die spreekwoord wat sê: "Die pen is magtiger as die
swaard". Kom ons rus onsself toe vir die toekoms deur die elektroniese pen op
te neem en rekenaarvaardig te word, en onsself te verryk deur die geskrewe
woord, wat ons gedagtes moet vul om skeppend en vernuwend te dink.

Weer eens, aan die hoof, personeel, beheerraad en leerders, mag julle baie
vreugde uit hierdie sentrum put, en aan die bydraers tot die projek wil ek
namens die regering baie dankie sê vir die hulp om die tuiste vir almal toe te
rus.

Foto's op aanvraag beskikbaar.

Navrae: Alie van Jaarsveld
Tel: (021) 483 4930
Faks: (021) 483 3890
E-pos: avjaarsv@pgwc.gov.za

Issued by: Ministry of Agriculture, Western Cape Provincial Government
21 September 2006
Source: Western Cape Provincial Government (http://www.capegateway.gov.za)

Share this page

Similar categories to explore