Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 18 November 2015

1. Implementering van die belangrikste Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet prys die Departement van Menslike Nedersettings vir die toekenning van huise in die Savanna City-projek vir Geïntegreerde Menslike Nedersettings aan behoeftiges in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit. Vooraanstaande Suid-Afrikaners het belanghebbers in die bedryf, insluitend burgemeesters en beamptes van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, het gehelp om tydens die bekendstelling die voltooide huise te verf en tuin te maak.

Sowat 18 000 huise is gebou waarby veral bejaardes, mense met gestremdhede en gesinne waarvan kinders en vroue aan die hoof staan, baat. Die Kabinet verwelkom verder die aankondiging dat die departement volgende jaar ’n projek gaan bekend stel waarvolgens 60 000 huise gebou sal word.

1.2. Die Kabinet verwelkom die vordering wat gemaak is met die Tshepo "hoop" 10 000-projek, wat sal help om werkloosheid in die Stad Tshwane onder die jeug uit te wis. Die stad se multimiljoenrand-projek, in samewerking met die Universiteit van Pretoria, beoog om 10 000 werklose jeugdiges op te lei deur hulle met vaardighede en kundigheid toe te rus wat nodig is om vir projekte te tender.

Ná voltooiing sal die jeugdiges suksesvolle koöperasies kan stig en bestuur. Tot dusver het meer as 190 koöperasies werksgeleenthede aan talle jongmense verskaf. Daarbenewens, neem die stad se departemente ook van die jeugdiges wat deur die program opgelei is, in diens.

1.3. Die Kabinet verwelkom die opgradering van die R25-(P6-1)-pad, ’n Pad van 42 km wat Gauteng en Limpopo verbind. Die projek, wat tussen Bapsfontein en Bronkhorstspruit strek, verskaf werk aan meer as 200 mense. Die landbou- en mynbousektore in die gebied sal ook by die projek baat aangesien vragmotors goedere en dienste nou vinniger na die gebied vervoer kan word.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1. Die Departement van Wetenskap en Tegnologie het die Kabinet ingelig dat die departement ’n groot openbare wetenskapweek gaan hou, getiteld: Wetenskapforum Suid-Afrika 2015 onder die tema: “Ontketen gesprekke oor wetenskap”.  Dit sal van 8 tot 9 Desember 2015 in Pretoria plaasvind.

Hierdie forum bied ’n platform aan belanghebbendes van Suid-Afrika, die kontinent en internasionale vennote vir debatvoering en die leer van beleid oor die wisselwerking tussen wetenskap en die samelewing.

2.2. Die Kabinet keur goed dat die Internasionale Maritieme Organisasie (IMO) se Wêreld Maritieme Dag Parallelle Geleentheid in 2020 in Suid-Afrika aangebied word. Die Ministerie van Vervoer sal dus hierdie kabinetsbesluit aan die IMO-raadsvergadering, wat vanaf 23 November tot 4 Desember 2015 plaasvind, oordra.

3. Komende gebeure

3.1. President Jacob Zuma sal sy Chinese eweknie, Xi Jinping, van 2 tot 3 Desember vir ’n staatsbesoek van twee dae ontvang. Die besoek is daarop gemik om die 5-10-jaarraamwerk oor samewerking tussen China en Suid-Afrika te finaliseer en die inwerkingstelling van ooreenkomste sedert die sluiting van die Beijing-verklaring in 2010 verder te voer. Daarbenewens sal dit die Omvattende Strategiese Vennootskap wat die twee lande deel, verbreed en verdiep.

Suid-Afrika se betrekkinge met China staan sentraal in sy doel om sy ontwikkelingsagenda deur buitelandse beleid te verwesenlik. Dit sal Suid-Afrika help om die Nasionale Ontwikkelingsplan in werking te stel, in samewerking met die landbou, omgewingsake, handel en nywerheid, en finansies om die land vorentoe te neem. Dit bied ook ’n geleentheid om vordering op bestaande gebiede van handel en samewerking tussen die twee lande te hersien en om nuwe geleenthede vir samewerking te bespoedig en te finaliseer.

3.2. President Zuma sal ’n afvaardiging na die 21ste sitting van die Konferensie van die Partye by die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (VNRKKV) lei. Dit sluit ook die 11de sitting van die Konferensie van Partye in, wat dien as die Vergadering van Partye tot die Kyoto-protokol (CMP11) wat van 30 November tot 11 Desember 2015 in Parys, Frankryk gehou sal word.

Die internasionale onderhandelinge vir ’n nuwe wetlike ooreenkoms sal ’n raamwerk bied om op klimaatsverandering te reageer, wat vanaf 2020 in werking sal tree. In lyn met Suid-Afrika se nasionale belang as ontwikkelende land in Afrika, wat ná 2020 bystand sal benodig, sal die land voortgaan om die VNRKKV se kernbeginsels van gelykheid en differensiasie te verdedig.

Suid-Afrika sal tydens die byeenkoms van die Groep van 77+ China, poog om die eenheid onder ontwikkelende lande te versterk en te handhaaf om ’n Parys-ooreenkoms te sluit wat regverdig en ambisieus is, en op wetenskap berus, asook ontwikkelingsruimte bied vir ontwikkelende lande.

3.3. President Zuma sal die 16 Dae van Aktivisme-veldtog vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders op 25 November 2015 in Naauwpoort, Mahikeng, bekend stel onder die tema: “Sluit my in: Saam beweeg ons 'n nie-gewelddadige Suid-Afrika vorentoe”. Hierdie veldtog word gewy aan die 365 Dae van Aktivisme, ’n deurlopende veldtog wat bewustheid oor geweld teen vroue en kinders skep, en mense inspireer om aan die jaar lange aktivisme deel te neem. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hierdie veldtog te ondersteun en om dié tyd te gebruik om gemeenskappe te inspireer en in vennootskap met die Regering geweld teen vroue en kinders te beëindig – #Count my In.

3.4. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal op 21 November 2015 ’n Regeringsafvaardiging lei tydens sy gereelde skakeling met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum as deel van die Regering se verbintenis en deurlopende program om verhoudings met die media te versterk. Die Regering gaan redakteurs oor belangrike kwessies en toekomsplanne inlig en redakteurs ’n geleentheid gee om sake van belang met die Regering op te neem.

3.5. Suid-Afrika gaan Wêreldvigsdag vier onder die tema "Vir 'n MIV-vrye generasie: STAAN OP. TREE OP. BESKERM. ZERO – dit is 'n beroep op gemeenskappe om daadwerklik op te tree”. Vanjaar se tema val saam met die Verenigde Nasies se Wêreldvigsdagtema vir 2011 tot 2015: “Kom by Zero uit”.  Wêreldvigsdag 2015 sal dialoog rondom stigma en diskriminasie voer, en gemeenskappe inspireer om te reageer op toegang tot voorkoming, behandeling en ondersteuningsdienste, asook om daarop uit te brei.

Die hoofgeleentheid ter viering van  Wêreldvigsdag gaan in KwaZulu-Natal gehou word. Dit gaan die toon aangee vir Suid-Afrika se aanbieding van die 21ste Internasionale Vigskonferensie by die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban van 17 tot 22 Julie 2016. Suid-Afrika maak steeds vordering in die stryd teen MIV en vigs, en die land se MIV-behandelingsprogram het uitgebrei sodat meer as drie miljoen mense nou antiretrovirale behandeling ontvang en sodoende die oordrag van moeder na kind verder stuit, en die infeksiekoers van tuberkulose verminder.

3.6. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om deel te neem aan die Izimbizo’s wat vanaf 30 November tot 6 Desember 2015 tydens die nasionale Imbizo-fokusweek oor die hele land gehou word. Deur middel van die imbizo’s kan landsburgers regstreeks met lede van die uitvoerende gesag gesprek voer.

Die Nasionale Imbizo-fokusweek vind plaas onder die tema: “Saam neem ons Suid-Afrika vorentoe”. Dit sal gemeenskappe oor die inwerkingstelling van die Negepuntplan ter bevordering van ekonomiese groei en werkskepping inlig, soos uiteengesit deur President Zuma tydens sy Staatsrede in Februarie 2015. Lede van die uitvoerende gesag sal gemeenskapsdeelname stimuleer om verskeie maatskaplike euwels te pak, insluitend sake met betrekking tot geweld teen vroue en kinders. 

3.7. Desember is Versoeningsmaand en Suid-Afrika vier Versoeningsdag op 16 Desember in Port Elizabeth, Oos-Kaap, onder die tema: "Oorbrug die gaping: Bou ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse nasieskap vir ’n nasionale ontwikkelingstaat”. Die maand het ’n spesiale betekenis vir die nasie aangesien dit versoening, vrede en maatskaplike samehorigheid bevorder, dinge waarop die nuwe demokratiese bedeling gegrond is.

Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om dié maand te gebruik om na mekaar uit te reik terwyl almal saamwerk om ’n verenigde en voorspoedige nasie te bou.

3.8. Die Kabinet herinner belastingbetalers wat nog nie hul belastingopgawes vir die 2014/15-belastingjaar ingedien het nie, daaraan dat die sperdatum vir indiening 27 November 2015 is. Die Kabinet bedank alle belastingbetalers dat hulle die Regering help om broodnodige dienste te verskaf wat sal help om die lewens van duisende gemeenskappe oor die hele land te verbeter.

3.9. Die Kabinet wens die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se Beheersentrum vir Geslagsgebaseerde Geweld (BSVGG) geluk met hul toekenning vir die Wêreld se Beste Kontaksentrum. Die toekenning is op Donderdag 5 November 2015 in Las Vegas, VSA, aan hulle oorhandig. Die BSVGG is ’n 24-uur-inbelsentrum wat ondersteuning en berading aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld bied. Dit is nog ’n suksesverhaal wat bewys dat die Regering omgee en daartoe verbind is om geslagsgebaseerde geweld te stop.

3.10. Die Kabinet wens Eskom geluk dat hy 100 dae lank in bedryf was sonder om beurtkrag toe te pas. Eskom het op Dinsdag 17 November 2015 die mylpaal van 100 dae sonder beurtkrag bereik. Dit beteken egter nie ons moet oorgerus wees nie. Trouens, die Kabinet doen ’n beroep op gemeenskappe om steeds krag te bespaar.

3.11. Die Kabinet wens genomineerdes van die 2015 SA Sporttoekennings geluk wat op 22 November 2015 in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein in die Vrystaat oorhandig sal word. Die toekennings, onder die tema: “Uitnemendheid is nie om jou beste te wees nie; dit is om jou bes te doen”, vier die afgelope 10 jaar van erkenning en verering van mense en spanne wat op en buite die veld presteer het. Suid-Afrikaners word aangemoedig om die geleentheid te ondersteun deur vir die 2015 Sportsterre van die Jaar te stem.

4. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

4.1. Die Kabinet het by president Zuma en die internasionale gemeenskap aangesluit en die onlangse terreuraanvalle in Beiroet (Libanon), Bagdad (Irak), Yola (Nigerië) en Parys (Frankryk), wat tot die verlies van onskuldige lewens en die vernietiging van eiendom gelei het, veroordeel. Suid-Afrika veroordeel ten sterkste alle aanvalle op onskuldige burgerlikes en beklemtoon sy standpunt dat terrorisme, ongeag die vorm of streek, onaanvaarbaar is.

4.2. Die Kabinet ondersteun die maatreëls van die Ministerskomitee op Waterskaarste en Droogte om die gevolge van die droogte te versag en doen ’n beroep op gemeenskappe om water spaarsamig te gebruik sodat daar in die toekoms genoeg sal wees. 

Die Regering het ’n bykomende R96,6 miljoen by die aanvanklike R352,6 miljoen vir droogtehulp opsygesit. Dit sluit in die aankoop van 45 watertenkwaens vir die verspreiding van water aan droogtegeteisterde gebiede, die boor van boorgate en rehabilitering, waterbewaring en aanvraagbestuur, asook uitbreiding van waterbronne.

Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gaan help om vee in die ergste geteisterde gebiede te hervestig na staatsgrond waar beter weiding is. Daarbenewens het die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, in samewerking met burgemeesters, verskeie maatreëls vir waterbesparings in werking gestel onder toesig van die Departement van Water en Sanitasie.

Dit sluit in die instelling van waterbeperkings, monitering van nakoming van waterbeperkings, die toepassing van strawwe waar nodig, prioritisering van die herstel van waterlekkasies, die bevordering van waterdoeltreffende tegnologie soos toiletspoelbakke wat minder water gebruik, die opvang van reënwater en die gebruik van grys water vir besproeiing.

4.3. President Jacob Zuma het die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die G20-leiersberaad in Antalya, Turkye, van 15 tot 16 November 2015, gelei. Die tema van die beraad was “inklusiwiteit, belegging en implementering”. Suid-Afrika tel onder 51 lande wat die Ooreenkoms oor die Outomatiese Uitruil van Belastinginligting in Berlyn, Duitsland, in Oktober 2015, onderteken het. Hiervolgens gaan lande vanaf 2017 begin om inligting uit te ruil, wat deur wetgewing wat tans voor die Parlement dien, onderskraag sal word. President Zuma verwelkom die finalisering van die 15 aksiepunte van die G20/Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling se projek vir Basis-erosie en die Verskuiwing van Wins, wat noodsaaklik is om regverdigheid en die beveiliging van die inkomstebasis in sub-Sahara-Afrika te verseker.

4.4. Lede van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) se Ministersraad het op 11 November 2015 in Windhoek, Namibië vergader, op die vooraand van die inhuldiging van die SADU-hoofkwartier en informele bespreking deur die SADU-staatshoofde en die Regering. Die raad het die geleentheid gebruik om oor die vordering op die Sespuntplan sedert hul laaste vergadering te besin en hul verbintenis tot SADU herbenadruk. Die raad het ooreengekom dat SADU meer op ’n ontwikkelingsinisiatief moet fokus wat integrasie in die streek sal bevorder. Lede het ook riglyne en ’n werkplan aanvaar vir die beraad wat in Junie 2016 gehou sal word.

4.5. Die Kabinet verwelkom die 2014-15 Oudituitkomste van die nasionale en provinsiale regerings. Die verslag toon konsekwente verbetering in byna alle aspekte van die oudituitkomste van die nasionale en provinsiale regerings. Dit dui op ’n bestendige neiging tot goeie regeringsbestuur en gesonde finansiële bestuur; dit versterk goeie regeringsbestuur, aangesien meer departemente skoon oudits ontvang het. Die verbetering toon verder dat die Regering hard werk om aanspreeklikheid op alle gebiede te verseker.

Ondanks hierdie verbetering het die Regering besluit om steeds departemente met negatiewe bevindings by te staan om te verseker dat die Regering in sy geheel optimaal funksioneer.

4.6. Die Kabinet verwelkom president Zuma se aanstelling van Regter Mandisa Muriel Maya as die Adjunkpresident van die Appèlhof kragtens artikel 174 (4) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 en Regter Nonkosi Zoliswa Mhlantla as ’n regter van die Konstitusionele Hof kragtens artikel 174 (3) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, onderskeidelik.

Die aanstellings versterk Suid-Afrika se verbintenis tot geslagsgelykheid op die hoogste vlak en bevorder transformasie in die regbank. Die Kabinet wens albei regters geluk en alles van die beste in die uitvoering van hierdie kritieke verantwoordelikheid in die Suid-Afrikaanse regbank.

4.7. Die Kabinet wens dr. S’thembile Ngidi geluk met haar besondere prestasie. Sy het geskiedenis gemaak toe sy aan die Kollege vir Geneeskunde van Suid-Afrika as KwaZulu-Natal se eerste swart vroulike onkoloog gegradueer het en daarmee slegs die tweede swart, vroulike onkoloog in die land geword het.

4.8. Die Kabinet loof die Suid-Afrikaanse filmmaker, Reina-Marie Loader, wie se dokumentêre rolprent Horn talle toekennings ingepalm het, insluitend ’n nominasie vir die Renosterbewaringstoekennings 2015 in Julie in die kategorie Beste Bewusmaking, Opvoeding en Befondsing en die toekenning vir die Beste Bewaringsrolprent by die 2015 Internasionale Filmfees in New York, VSA.

4.9. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die familie en vriende van die Adjunkminister van Water en Sanitasie, me. Pamela Tshwete, ná die heengaan van haar moeder, Mama Ruth Nomzi Zondeki.

4.10. Die Kabinet betuig ook sy meegevoel met die Regering van Nieu-Seeland, asook familie, vriende en die Nieu-Seelandse Rugby-unie ná die verlies van die rugbysuperster, Jonah Lomu Tali, wat ’n groot invloed op die spel gehad het.

5. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en uitklarings.
5.1. Uitbreiding van die kontrak vir vyf jaar van mnr. Maswahle Diphofa – Direkteur-generaal (DG): Departement van Staatsdiens en Administrasie.

5.2. Uitbreiding van die kontrak vir twaalf maande van me Nonkululeko Sindane – DG: Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling.

5.3. Mnr. Livhuwani Tommy Makhode as Adjunk-DG: Institusionele Beplanning en Ondersteuning in die Departement van Wetenskap en Tegnologie.

5.4. Mnr. Rory Gallocher as die Uitvoerende Hoof van die Reguleringsowerheid vir Maatskaplike Behuising.

5.5. Dr. Pradish Rampersadh as die nuwe Uitvoerende Direkteur vir die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurwetenskaplike Beroepe.

5.6. Mnr. Mark Barnes as die Groep Uitvoerende Hoof van die Suid-Afrikaanse Poskantoor.

5.7. Die Raad van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika:

i. Mnr. Jabulani Philip Moleketi - (heraanstelling en Voorsitter);
ii. Mnr. Msokoli Frans Baleni - (heraanstelling en Adjunkvoorsitter);
iii. Me. Martie Janse van Rensburg - (Nie-Uitvoerende Direkteur);
iv. Me. Malijeng Theresa Ngqaleni - (Nie-Uitvoerende Direkteur); en
v. Me. Kameshni Naidoo - (heraanstelling as Uitvoerende Direkteur).

5.8. Direksie van die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsvereniging:
i. Me. Margaret Octavia Ndlovu - (heraanstelling en Nie-Uitvoerende Direkteur); en
ii. Me. Bulelwa Mnkangisa - (heraanstelling en Nie-Uitvoerende Direkteur).

Navrae: Me. Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Skakel: 083 501 0139

 

Share this page

Similar categories to explore