President Jacob Zuma: Staatsrede 2016

Staatsrede deur Jacob G Zuma, President van die Republiek van Suid-Afrika by geleentheid van die Gesamentlike Sitting van die Parlement Kaapstad

Die Speaker van die Nasionale Vergadering,
Die Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies;
Adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering en Adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP),
Adjunk-president Cyril Ramaphosa,
Voormalige President Thabo Mbeki,
Hoofregter Mogoeng Mogoeng en al die gewaardeerde lede van die regbank,
Die President van die Pan-Afrikaanse Parlement, mnr Roger Nkodo Dang,
Ministers en adjunkministers,
Premiers en speakers van provinsiale wetgewers
Voorsitter van SALGA en alle Uitvoerende Burgemeesters teenwoordig,
Die hoofde van Hoofstuk 9-instellings,
Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers,
Leiers van geloofsgebaseerde organisasies,
Die voormalige Speaker van die Nasionale Vergadering, dr Frene Ginwala,
Genooide gaste,
Veterane van die vryheidstryd,
Lede van die diplomatieke korps,
Mede-Suid-Afrikaners,

Goeienaand, sanibonani, molweni, dumelang, good evening, lotjhani, riperile, ndimadekwana,

Dankie vir die geleentheid om die Parlement en die land toe te spreek.

Vandag is die 26ste herdenking van President Nelson Mandela se vrylating uit die gevangenis; een van die merkwaardigste gebeurtenisse in ons land se geskiedenis.

Dit is ook die 50ste herdenking van die Nasionale Party-regering se verklaring van Distrik Ses tot 'n gebied waar slegs witmense mag woon, wat tot die gedwonge verskuiwing van meer as 60 000 inwoners gelei het.

Die jaar 2016 is ook die 20ste herdenking van die Grondwet van die Republiek, wat  op 10 Desember 1996 in Sharpeville deur Madiba as wet onderteken is.

Ons is trots op ons demokrasie en wat ons in 'n kort tydjie bereik het. Ons demokrasie is funksioneel, solied en stabiel.

Landgenote,

Die Grondwet, met die Vryheidsmanifes as grondslag, verkondig dat Suid-Afrika aan almal wat daarin woon behoort. Heelwat is gedoen om insluiting en 'n nie-rassige samelewing te bevorder.

Maar die reis na 'n nie-rassige samelewing is nog nie voltooi is.

Die nasie is verlede maand geruk toe die euwel van rassisme op sosiale en elektroniese media sy kop uitgesteek het en ongekende pyn en woede veroorsaak het.

Daar is 'n behoefte om die demoon van rassisme te konfronteer. Menseregtedag op 21 Maart sal vanjaar as die nasionale dag teen rassisme gevier word. Dit sal gebruik word om die grondslag van 'n langtermynprogram vir die bou van 'n nie-rassige samelewing te lê.

Landgenote, ek wil julle herinner aan 'n paar ander belangrike herdenkings.

Die jaar 2016 herdenk ook 60 jaar sedert die vroue-optog na die Uniegebou om te eis dat die paswette opgehef word. Ons is verheug dat me Sophie de Bruyn, wat onder die heldhaftige leiers van daardie historiese optog was, vandag in ons midde kan wees.

Ons gee ook erekenning aan die voormalige president van die Black Sash, mev Mary Burton en aan die organisasie se rekord in die stryd vir menseregte, geregtigheid en gelykheid.

Vanjaar herdenk ons ook 40 jaar sedert die bekende studente-opstand in Soweto op 16 Junie.

Ons verwelkom die fotograaf,  Mnr Sam Nzima, wat die beroemde foto van Hector Pieterson geneem het, wat deur Mbuyisa Makhubu gedra word met sy suster Antoinette langs hom.

Ons gee ook erkenning aan die klas van 1976 vir hul dapperheid in die opstand ​​teen die wrede apartheidsregering. Ons erken die teenwoordigheid van een van die aktiviste van daardie era, die Adjunk-sekretaris van die Parlement, Me Baby Tyawa, in ons midde.

Vanjaar herdenk ons ook 30 jaar sedert die hinderlaag en wrede moord op die Gugulethu Sewe deur die apartheidspolisie in Maart 1986.

Die Universiteit van Fort Hare vier sy eeufees, wat 'n deurslaggewende mylpaal in die bevrydingsgeskiedenis van nie net ons land nie, maar die vasteland is. Die nasionale vieringe vind op 20 Mei plaas.

Ek gee graag erkenning aan die leier van die IVP, Prins Mangosuthu Buthelezi, wat 'n oudstudent van die Universiteit is.

Die jaar 2016 is ook die eeufees van die Slag van Deville Wood in Frankryk tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Tientalle swart soldate het in dié oorlog geveg, maar is sleg behandel weens hul velkleur.

'n Gedenkteken wat hul menswaardigheid sal herstel, word in Julie vanjaar in Frankryk onthul.

Landgenote, ek gee ook graag erkenning aan drie spesiale gaste wat vandag in ons midde is.

  • Die Voorsitter van die Nasionale Kerkleiersforum en Aartsbiskop van Kaapstad, Aartsbiskop Thabo Makgoba.

 

  • Aartsbiskop Daniel Matebesi, President van die Nasionale Intergeloofsraad van Suid-Afrika, en

 

  • Biskop Zipho Siwa, Voorsittende Biskop van die Metodiste Kerk van Suider-Afrika en die President van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke.

Mevrou die Speaker en Mevrou die Voorsitter,

'n Sterk en vinnig groeiende ekonomie is die middelpunt van ons radikale ekonomiese transformasie-agenda en ons Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP).

Wanneer die ekonomie vinnig groei, word werkgeleenthede geskep. Werkers verdien lone en besighede wins maak wins.

Die belastingbasis brei uit en stel die Regering in staat om die maatskaplike loon te verhoog en om onderwys, gesondheid, maatskaplike toelaes, behuising en gratis basiese dienste te verbeter - vinniger en op 'n meer volhoubare manier.

Ons ekonomie het sedert die finansiële krisis in 2008 verskeie uitdagings in die gesig gestaar. Ons het 'n aggressiewe infrastruktuurontwikkelingsprogram van stapel gestuur om groei te stimuleer.

Ons realiteit is tans dat wêredlwye groei steeds gedemp is. Finansiële markte het wisselvallig geword. Geldeenhede van ontluikende markte het verswak en fluktueer baie.

Die pryse van goud, platinum, steenkool en ander minerale wat ons aan die res van die wêreld verkoop, het aansienlik gedaal en bly steeds laag.

Die ekonomieë van twee van ons BRICS-vennote, naamlik Brasilië en Rusland, sal na verwagting vanjaar krimp. Die derde, China, sal nie die sterk groei waarvoor dit bekend is, toon nie.

Omdat ons ekonomie betreklik klein en oop is, word dit deur al hierdie verwikkelings geraak.

Ons ekonomie word ook beïnvloed deur plaaslike faktore soos die elektrisiteitsbeperkings en nywerheidsverhoudinge wat soms onstabiel is.

Die IMF en die Wêreldbank voorspel dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar met minder as een persent sal groei. Die laer ekonomiese groei-uitkomste en
-vooruitsigte dui daarop dat die invordering van belasting laer is as wat voorheen verwag is.

Wat kommerwekkend is, is dat dit lyk of ons ​​land die risiko loop om sy beleggingstatus van graderingsagentskappe te verloor. As dit gebeur, sal dit duurder word vir die land om geld van die buiteland te leen om ons programme te finansier vir die bou van 'n beter lewe vir almal, veral die armes.

Die situasie vereis dat ons 'n doeltreffende regrukplan in werking moet stel.

Dit beteken dat ons dinge anders moet doen en sal moet reageer op dinge waarop ons nie voorheen vinnig genoeg gereageer het nie.

Ek noem 'n paar punte wat ons glo 'n verskil sal maak.

Eerstens, bly ons land steeds 'n aantreklike beleggingsbestemming. Ons staar uitdagings in die gesig, maar die positiewe eienskappe weeg veel swaarder as dié uitdagings.

Ons moet voortgaan om die land as 'n voorkeurbestemming vir beleggers te bemark. Dit vereis 'n gesamentlike poging van almal in die sake- en arbeidsektor, asook die Regering.

Wanneer daar enige verskille of probleme tussen ons ontstaan, moet ons dit oplos voordat dit eskaleer. Dit is wat nodig is vir die algemene welsyn van ons land.

Ons het hierdie week Dinsdag, vrugbare vergaderings met besighede, insluitende ’n hoëvlakvergadering met uitvoerende hoofde, gehad.

Ons het kennis geneem van voorstelle deur die sakegemeenskap oor hoe ons die situasie kan omkeer en die ekonomie weer kan laat groei.

Ons het kennis geneem van die noodsaaklikheid om die korrekte ondersteuningsinfrastruktuur vir beleggings te skep.

Die Regering ontwikkel tans die Eenstop-belê-SA-inisiatief om die boodskap uit te stuur dat Suid-Afrika werklik oop is vir besigheid. Ons sal die implementering van hierdie diens in vennootskap met die private sektor versnel.

So 'n inisiatief vereis dat die Regering die rompslomp verwyder en enige wetgewende en regulerende blokkasies hersien.

Ons het 'n inter-ministeriële komitee vir die bevordering van beleggings saamgestel om die sukses van die inisiatiewe vir beleggingsbevordering te verseker.

Landgenote, ons het kennis geneem van mense se besorgdheid oor die prestasie van ondernemings en maatskappye in staatsbesit.

Baie van hierdie maatskappye presteer goed.

Sanral het van die beste paaie in Gauteng en in verskeie ander dele van die land gebou, waarvoor ons in baie dele van die wêreld beny word.

Die Trans-Caledon Tonnelowerheid het damme met wisselende kapasateit gebou, wat toegang tot veilige drinkwater verseker.

Transnet het spoorinfrastruktuur gebou wat ons land se myne in staat stel om massiewe hoeveelhede kommoditeite in grootmaat deur ons hawens na markte regoor die wêreld te vervoer.

Ondanks die uitdagings, slaag Eskom steeds daarin slaag om die ekonomie aan die gang te hou, teen alle verwagtinge in.

Ons ontwikkelingsfinansieringsinstellings soos die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) of die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en ander, verskaf deurlopend finansiering vir infrastruktuur, verskeie nywerhede en landbou-ondernemings, selfs in die nadraai van die wêreldwye finansiële krisis.

Vir die maatskappye in staatsbesit om tot die suksesvolle implementering van die NDP te kan bydra, moet hulle finansieel gesond wees.

Hulle moet behoorlik beheer en bestuur word. Ons sal verseker dat die aanbevelings van die Presidensiële Hersieningskommissie op Ondernemings in Staatsbesit, wat 'n uiteensetting gee van hoe die instellings bestuur moet word, geïmplementeer word.

Die Adjunk-president is die voorsitter van die interministeriële komitee wat verantwoordelik is om te verseker dat hierdie aanbevelings geïmplementeer word.

Ons moet die mandate van die maatskappye meer vaartbelyn maak en opskerp, en ons moet verseker dat waar daar oorvleueling in die mandate is onmiddellike rasionalisering plaasvind.

Die maatskappye wat nie meer van toepasing op ons ontwikkelingsagenda is nie, sal uitgefaseer word.

Die staatsdepartemente aan wie hulle verantwoording doen sal die agenda uiteensit en die belangrikste projekte wat deur die staatsbeheerde maatskappye oor 'n bepaalde tydperk uitgevoer moet word, identifiseer. Behoorlike monitering en evaluering sal gedoen word.

Hierdie ingrypings is noodsaaklik vir groei, asook om die nasionale skuldvlakke te verminder.

Landgenote,

Ons moet gebruik maak van die wisselkoers, asook die onlangse veranderinge in die visumregulasies, om inkomende toerisme te bevorder.

SA Toerisme sal R100 miljoen per jaar belê om binnelandse toerisme te bevorder en Suid-Afrikaners aan te moedig om hul eie land te verken.

Ons het kennis geneem van maatskappye se kommer oor vertragings in die verkryging van visums vir opgeleide personeel uit die buiteland. Hoewel ons verkies dat werkgewers voorkeur gee aan plaaslike werkers, moet ons migrasiebeleid dit ook moontlik maak om skaars vaardighede in te voer.

Die konsepmigrasiebeleid sal deur die loop van 2016 aan die Kabinet voorgelê word.

Ons het kennis geneem van die beroep vir beleidsekerheid in die mynbousektor, veral met betrekking tot die Wetsontwerp vir die Onwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne.

Die Wetsontwerp is verlede jaar na die Parlement terugverwys. Ons wag vir die Parlement om die verwerking daarvan af te handel, wat na verwagting spoedig gedoen sal word.

Landgenote,

Ons moet klein, medium- en mikro-ondernemings (KMMO's) bemagtig om vinniger te kan groei. Toegang tot hoë-gehalte, innoverende sake-ondersteuning kan die suksessyfer van nuwe ondernemings dramaties verbeter.

Die Departement van Kleinsake-ontwikkeling is gestig om sulke geteikende steun aan klein besigheid te voorsien

Ekonomiese transformasie en swart bemagtiging bly 'n belangrike deel van al die Regering se ekonomiese programme. Een van ons nuwe ingrypings is die Skema vir Swart Industrialiste wat van stapel gestuur is om die deelname van swart entrepreneurs in die vervaardigingsektor te bevorder.

Ons doen 'n beroep 'n groot ondernemings om vennootskappe aan te gaan met die nuwe vervaardigers, insluitende besighede wat deur vroue en die jeug besit word, as deel van die uitbreiding van eienaarskap en beheer van die ekonomie.

Landgenote,

Ons is trots op ons Top 10-posisie met betrekking tot finansiële dienste in die Wêreld Ekonomiese Forum se mededingendheidsverslag.

Behoud en verbetering van ons posisie is belangrik vir die land se mededingendheid.

Dit is ook deurslaggewend in ons strewe om 'n finansiële sentrum vir Afrika geword.

Die banke, deur die Suid-Afrikaanse Vereniging van Bankwese (Banking Association of South Africa), gaan 'n projek van stapel stuur wat daarop gemik is om 'n sentrum van uitnemendheid vir finansiële dienste en leierskapopleiding te vestig.

Dit sal verseker dat ons die beste talent in finansiële dienste na ons land en ons vasteland kan lok, koester, ontwikkel en behou.

Hulle sal saam met die Minister van Finansies en die Nasionale Tesourie werk om dit te bewerkstellig. Ons glo dat dit met verloop van tyd sal verseker dat ons die poel van finansiële vaardighede kan uitbrei en meer werkgeleenthede vir meer jong mense kan skep.

Hierdie strategiese projek deur die banksektor is 'n positiewe en bemoedigende resultaat van ons gesprekvoering met die sakesektor die afgelope week.

Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe!

Landgenote,

Ons het onderneem om openbare fondse oordeelkundig te bestee en om verkwistende uitgawes te besnoei, maar sonder om die Regering se kernbesigheid en die verskaffing van dienste aan ons mense te kompromitteer.

In 2013 het die Minister van Finansies verskeie besparingsmaatreëls aangekondig.

Oormatige en verkwistende uitgawes is verminder, maar daar sal nog meer gedoen moet word om vermorsing te besnoei.

Ek wil graag vanaand 'n paar maatreëls aankondig.

Oorsese reise sal ingekort word en diegene wat toestemming versoek, sal dit sterk moet motiveer en bewys kan lewer van die voordele wat dit vir die land inhou.

Die groottes van afvaardigings sal aansienlik verminder en gestandaardiseer word.

Verdere beperkings op konferensies, spyseniering, vermaak en sosiale funksies sal ingestel word.

Die dinees vir belanghebbendes wat deur staatsdepartemente in die Parlement aangebied word ná lewering van begrotingsredes sal nie meer plaasvind nie.

Die Minister van Finansies sal tydens die begrotingsrede op 24 Februarie meer maatreëls en verdere besonderhede in dié verband aankondig.

Die uitvoerende bestuur en direksies van openbare agentskappe en maatskappye in staatsbesit moet soortgelyke maatreëls onderneem.

Ek nooi premiers van al nege provinsies, asook burgemeesters om by ons aan te sluit in die uitskakeling van verkwistende besteding deur die Regering.

Ek vertrou dat die Parlement en die regbank ook oortuig sal word om die implementering van soortgelyke maatreëls te oorweeg.

Landgenote

'n Groot uitgawe, wat ons die Parlement graag wil oortuig om te heroorweeg, is die instandhouding van twee hoofstede, Pretoria as die administratiewe hoofstad en Kaapstad as die wetgewende hoofstad.

Ons glo dat die Parlement binekort aandag aan hierdie saak sal skenk.

Landgenote

Ons het almal 'n belangrike bydrae om te lewer om die ekonomie reg te ruk en om vermorsing te besnoei. Ons sal vir ‘n rukkie deur 'n moeilike tyd gaan, maar wanneer die ekonomie herstel, sal ons met reg trots kan wees dat ons die regte ding gedoen het.

Landgenote,

Ek wil nou graag terugvoer gee oor die ondernemings wat verlede jaar gemaak is.

Gedurende die Staatsrede in Februarie 2015, het ek die Negepunt-plan aangekondig om op trae groei te reageer.

 Die Negepunt-plan bestaan ​​uit:

  1. Hernuwing van die landbou en landbouverwerkings-waardeketting;
  2. Die bevordering van veredeling en waardetoevoeging tot ons minerale rykdom;
  3. Meer doeltreffende implementering van 'n hoër-impak akskieplan vir ons nywerheidsbeleid;
  4. Ontsluiting van die potensiaal van KMMO’s, koöperatiewe ondernemings, township- en landelike ondernemings;
  5. Die oplossing van die energie-uitdaging;
  6. Stabilisering van die arbeidsmark;
  7. Opgradering van privaatsektorbelegging;
  8. Ontwikkeling van die Oseaan-ekonomie;
  9. Oorlveueling van gebiede om die ekonomie te hervorm, aan te vuur en te diversifiseer:
    1. Wetenskap, tegnologie en innovasie
    2. Water en sanitasie
    3. Vervoerinfrastruktuur
    4. Aktivering van breëband
    5. Maatskappye in staatsbesit.

Ons het beduidende vordering gemaak met die implementering van die plan.

Vordering is gemaak om die elektrisiteitstoevoer te stabiliseer. Sedert Augustus verlede jaar was daar geen beurtkrag nie, wat verligting gebring het vir huishoudings sowel as nywerhede.

Die Regering het R83 miljard in Eskom belê wat dié nutsmaatskappy in staat gestel het om voort te gaan om in Medupi en Kusile te belê, terwyl hulle 'n ywerige instandhoudingsprogram vootgesit het.

Bykomende eenhede van Ingula-kragstasie sal in 2017 gekoppel word, hoewel sommige van hulle reeds vanjaar met sinchronisasie sal begin.

Die veelvuldige bodvensters van die Hernubare Onafhanklike Kragprodusente-program het 'n belegging van R194 miljard gelok.

Hierdie inisiatief is 'n konkrete voorbeeld van hoe die Regering in vennootskap met die private sektor praktiese oplossings kan bied aan 'n onmiddellike uitdaging wat ons land in die gesig staar.

In 2016, sal die Regering die voorkeurbieërs vir die onafhanklike steenkoolkragprodusent kies.

’n Versoek om voorstelle sal ook uitgereik word vir die eerste vensters van gas aan kragbieërs.

Die kernkraguitbreidingsprogram bly deel van die toekomstige energiemengsel.

Ons beplan om 9 600 megawatt se kernkrag in die volgende dekade in te bring, bykomend tot die bedryf van die Koeberg-kernkragsentrale.

Ons sal die mark toets om vas te sttel wat die werklike koste van die bou van moderne kernkragsentrales is.

Ek wil graag beklemtoon dat ons kernkrag slegs op 'n skaal en tempo sal vervaardig wat ons land kan bekostig.

Landgenote,

Die Regering, deur middel van die Departement van Handel en Nywerheid, het in die afgelope paar jaar verskeie aansporingsprogramme bekendgerstel om beleggings in die vervaardigingsektore, veral tekstiele, leer en die motorsektor, te verbeter.

Vordering is in hierdie sektore gemaak.

Die aansporings vir die motorbedryf het oor die afgelope vyf jaar tot beleggings van meer as R25 miljard gelei. Ons verwelkom sleutelbeleggings van Mercedes, General Motors, Ford, Beijing Auto Werke, die Metair Groep, BMW, Goodyear en VW.

Die klere- en tekstielbedryf is ook suksesvol gestabiliseer ná 'n moeilike paar jaar.

Multinasionale maatskappye soos Nestlé, Unilever, Samsung en Hisense het ook bevestig dat Suid-Afrika 'n plaaslike vervaardigingsentrum is.

Hulle het hul beleggings in nuwe aanlegte behou en uitgebrei.

Die vordering wat in die vervaardigingsektor gemaak is, het inderdaad bewys dat die aansporingsprogramme doeltreffend en aantreklik vir beleggers is.

Landgenote,

Ek het verlede jaar programme vir die herlewing van die landbou aangekondig. Ons het die Agriparkeprogram bekendgestel, wat daarop gemik is om die deelname van kleinboere in landbou-aktiwiteite te verhoog.

Konstruksiewerk is reeds op dreef in minstes vyf agriparke, naamlik Westrand in Gauteng, Springbokpan in Noordwes, Witzenberg in die Wes-Kaap, Ncora in die Oos-Kaap en Enkangala in Mpumalanga.

Die landbou-programme moet vroueboere ook bemagtig. Ek stel julle graag voor aan die wenner van die Vroulike Entrepreneur van die Jaar 2015, me Julia Shungube van Nkomazi-munisipaliteit in Mpumalanga.

Agbare Speaker en Voorsitter,

Grondhervorming bly 'n belangrike faktor in ons strewe na transformasie.

Ek het verlede jaar oor die 50/50-beleidsraamwerk, wat relatiewe regte voorstel  vir mense wat op plase werk en woon.

Sewe en twintig voorstelle is van kommersiële boere ontvang, waarvan vier in die Oos-Kaap en die Vrystaat geïmplementeer word.

Ek het ook die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit aangekondig, wat 'n plafon op grondbesit op 'n maksimum van 12 000 hektaar sal plaas en buitelandse burgers sal verbied om grond te besit. Hulle sal in aanmerking kom vir langtermyn-huurkontrakte. Die konsepwetsontwerp sal in die eerste semester van die jaar aan die Kabinet voorgelê word.

Ons het ook die heropening van grondeise vir mense wat die sperdatum 1998 gemis het, aangekondig. Die aantal nuwe grondeise wat ingedien is, staan ​​op byna 120 000 vanaf Desember verlede jaar.

Landgenote,

Soos ons weet, word vyf provinsies ernstig deur die droogte geraak, naamlik Noord-Wes, KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga.

Die Regering bied verligting aan gemeenskappe wat hierdeur geraak word. Die droogte wat tans heers in die meeste van ons provinsies is werklik verwoestend. Vee sterf en as gevolg daarvan is die landbousektor onder druk. Dit is inderdaad moeilike tye.

Die Regering sal voortgaan om bystand aan boere te verleen ​​asook om watertenkwaens aan gemeenskappe te lewer.

Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om eervolle vermelding te maak van die burgerlike samelewing-inisiatief, Operasie Hidreer en ander, wat verligting bring deur water aan verskeie gemeenskappe in nood te voorsien.

Die bou van waterinfrastruktuur bly steeds krities om verbeterde toegang tot water vir ons mense en nywerhede te verseker.

Die eerste fase van die Mokolo- en Krokodilrivier-wateraanvullingsgsprojek in die Lephalale-gebied van Limpopo is ten volle operasioneel. Dit sal 30 miljoen kubieke meter water per jaar voorsien.

Die opbou van die Clan Williamdam se wal in die Wes-Kaap behels dat die bestaande damvlak met 13 meter moet styg om bykomende water te voorsien.

Om die watervermorsing te bekamp, het die Departement van Water en Sanitasie met sy program om 15 000 jongmense as vakmanne op te lei, begin.

Mevrou die Speaker,

Mevrou die Voorsitter,

Wat die verbetering van arbeidsverhoudinge betref, verwelkom ons die ooreenkoms deur maatskaplike vennote by Nedlac oor die beginsel van 'n nasionale minimum loon.

Beraadslagings oor die vlak waar die minimum loon geplaas moet word, duur voort.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die nasionale minimum loon op 'n wyse geïmplementeer moet word wat nie werkskepping, die sukses van klein besighede of volgehoue ​​ekonomiese groei, sal ondermyn nie.

Ons is ook bemoedig deur verslae van Nedlac dat 'n raamwerk om die arbeidsmark te stabiliseer deur die duur van stakings te verminder en geweld tydens stakings uit te skakel, tans gefinaliseer word.

Ons het kennis geneem van die arbeidsektor se kommer oor die Wysigingswet op Belasting wat ek in Desember onderteken het, nadat dit deur die Parlement aangeneem is.

Die Regering is in gesprek met Cosatu oor die saak en 'n oplossing word gesoek.

Besprekings in die Regering om die omvattende maatskaplike sekerheidsbeleid te finaliseer duur ook voort onder leiding van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die Nasionale Tesourie.

Landgenote,

Net 'n paar jaar gelede, was ons mynbousektor  in 'n warboel, veral in die platinumgordel.

Die situasie het verbeter en ons spreek ons waardering uit teenoor die sake- en arbeidsektor vir die vordering wat gemaak is.

Nog 'n positiewe ontwikkeling in die mynbousektor was die verklaring van leiers om werkgeleenthede te behou, wat in Augustus 2015 deur belanghebbendes in die mynbedryf onderteken is.

Ons doen 'n ernstige  beroep op die partye om die ooreenkoms te implementeer en om voort te gaan om maniere te kry om werkgeleenthede te behou.

Ons doen weer eens  'n beroep op die sakesektor om in ag te neem dat afleggings nie die eerste toevlug moet wees wanneer hulle probleme ervaar nie.

Landgenote,

In 2014 het ons die gewilde Operasie Phakisa Big Fast resultate-metodologie van stapel gestuur en dit in die oseaan-ekonomie, gesondheid, onderwys en mynbou geïmplementeer.

R7 miljard is aan nuwe hawefasiliteite toegewys, na aanleiding van die goedkeuring van 'n openabare-private-vennootskapmodel vir die ontwikkeling van hawe-infrastruktuur deur Transnet se Nasionale Hawe-owerheid.

Landgenote, ons was bekommerd dat Suid-Afrika nie sy eie skepe besit het nie terwyl die land deur ’n kuslyn van omtrent 3 000 kilometer omring word.

Deur die oseaan-ekonomiegedeelte van Operasie Phakisa, poog ons om hierdie uitdaging te oorbrug.

Ek is ingenome dat twee massavragskepe in Port Elizabeth en 'n derde brandstofskip in Kaapstad onder die Suid-Afrikaanse vlag geregistreer is.

Nog 'n positiewe Operasie Phakisa-ontwikkeling is die bekendstelling van 'n brandstofopslagplek hier in Kaapstad, wat 'n belegging van R660 miljoen inbring.

Akwakultuur blyk 'n belangrike groeigebied binne die oseaan-ekonomiegedeelte van Operasie Phakisa te wees.

’n Belegging van nagenoeg R350 000 van die private sektor is tot dusver aan die Akwakultuursektor toegewys. Nege akwakultuurplase is reeds in produksie. Hierdie plase is in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en die Noord-Kaap geleë.

Ons gaan voort om innovasie binne die Negepunt-planprogram te bevorder.

Die Departement van Wetenskap en Tegnologie sal die Sovereign Innovation-fonds, 'n openbare-private befondsingsvennootskap wat gemik is op die kommersialisering van innovasies wat voortspruit uit idees van die openbare en private sektor, te finaliseer.

Die Regering sal die implementering van die eerste fase van breëband versnel om meer as 5 000 regeringsfasiliteite in agt distriksmunisipaliteite oor 'n tydperk van drie jaar te verbind.

Befondsing vir 'n bedrag van R740 miljoen oor 'n tydperk van drie jaar is hiervoor toegeken.

Landgenote,

Heelwat is ook gedurende die afgelope jaar in die sosiale sektor verrig.

Die Regering het op die finansiële tekort gereageer wat voortgespruit het uit die nul-persent universiteitsfooiverhoging, soos verlede jaar tussen studente en visekanseliers ooreengekom is.

Die Minister van Finansies sal meer besonderhede oor die befondsingstekort vir onderwys in die begrotingsrede gee.

Ek het 'n regterlike kommissie van ondersoek aangestel om hoër onderwys te ondersoek. Ons doen ’n beroep op alle belanghebbendes om saam met die kommissie te werk en te help om die sukses daarvan te verseker.

Op die gesondheidsfront,  het Suid-Afrikaners se lewensverwagting vir beide mans en vroue aansienlik verbeter en is tans 62 jaar vir albei geslagte, wat 'n toename van 8,5 jaar sedert 2005 is.

Die MIV-beleidsommekeer in 2009 het gelei tot 'n massiewe aktivering van MIV-toetsing en -behandeling vir 3,2 miljoen mense wat met die virus leef.

Dit het geweldig daartoe bygedra dat mense wat die virus het gesonder en langer lewe.

Ons gee erkenning aan die bydrae van vennote in die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad onder voorsitterskap van die Adjunk-president.

Ons volgende stap is om voorkomingsveldtogte te laat herleef, veral onder die jeug. Die Minister van Gesondheid sal binnekort 'n belangrike veldtog in dié verband aankondig.

Ek kondig ook graag aan dat die staatsbeheerde farmaseutiese maatskappy, Ketlaphela, gestig is. Die maatskappy sal betrokke wees by die verskaffing van anti-retrovirale middels aan die Departement van Gesondheid vanaf die 2016/17 finansiële jaar.

Intussen is die Witskrif oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in Desember vrygestel. Dit is gemik op die verbetering van gesondheidsorg vir almal in Suid-Afrika.

Landgenote,

Plaaslike verkiesings sal binne drie maande ná 18 Mei, die datum van die laaste verkiesing, gehou word.

Ons moedig alle burgers wat ouer as 18 jaar is om tydens die eerste registrasienaweek, op 5 en 6 Maart 2016, te registreer om te stem.

Ons doen 'n beroep op die jeug, en in die besonder op dié wat vanjaar 18 jaar oud word, om vir hierdie eerste geleentheid om hul stemme uit te bring, te registreer.

Ons plaaslike regeringopknappingsprogram, terugkeer na die basiese beginsels  is in September 2014 van stapel gestuur en 2015 was die jaar van intensiewe implementering.

In hierdie tweede fase van implementering, sal die nasionale regering betrokke raak by meer aktiewe monitering en aanspreeklikheidsmaatreëls.

Dit sluit onaangekondigde munisipale besoeke, steekproewe van voorsieningskettingprosesse, die implementering van aanbevelings van forensiese verslae, terreinbesoeke van projekte wat met munisipale infrastruktuurtoelaes befonds is, en ’n toename in ingrypings om sukkelende munisipaliteite by te staan.

A 10-puntplan van terugkeer na die basiese beginsels se voorkeuroptredes is ontwikkel om hierdie volgende fase te lei.

Die plan sluit die bevordering van gemeenskapsbetrokkenheid in, wat absoluut noodsaaklik is om gemeenskappe in staat te stel om terugvoer te gee oor hul ervaring van plaaslike regering.

Ek het reeds Maandag by taxi- en busstaanplekke in Marabastad, Pretoria rondgestap om met informele handelaars en pendelaars te praat.

Die meerderheid van die klagtes en kwessies wat geopper is, hou verband met munisipale dienste. Hulle wil hê die Tshwane-munisipaliteit moet die gebied skoonmaak en ook stukkende rioolpype herstel. Handelaars het gesê as dit nodig is, sal hulle bereid wees om daarvoor te betaal.

Hulle het my daarop gewys dat baie mense in Elandspoort HOP-huise ontvang, maar in plaas van om self daarin te woon, verkoop of verhuur hulle dit uit aan ander mense.

Mev Baloyi, wat 'n stalletjie het, het gekla oor Nyaope-dwelmverslaafdes wat goedere by handelaars steel.

Ander pendelaars het gesê ek moet Kwaggafontein in die voormalige KwaNdebele besoek om eerstehnads kennis te neem van die gebrek aan dienslewering daar. Ek sal die gebied binnekort besoek.

Ek het ook met buitelandse burgers gepraat wat gesê het dat hulle daagliks toustaan om aansoek te doen vir dokumentasie van die Departement van Binnelandse Sake. Ons sal voortgaan om gemeenskappe te besoek en na hul bekommernisse en voorstelle luister. Kwessies wat tydens die besoeke na vore kom, sal deur die onderskeie departemente opgevolg word.

Landgenote,

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondergaan 'n ommekeer en het die benadering van terugkeer na die basiese beginsels aangeneem om die diens te herbou en om die werkverrigting by alle polisiestasies wat onderpresteer te verbeter.

Ons neem met leedwese kennis dat 57 polisiebeamptes tot dusver gedurende die 2015/16 finansiële jaar vermoor is. Ons veroordeel hierdie kriminele dade ten sterkste.

Ons doen 'n beroep op die polisie om hulself binne die grense van die wet te verdedig wanneer hulle aangeval word.

Landgenote,

Die vasteland van  Afrika bly die kern van ons buitelandse beleidsgesprekvoering.

Suid-Afrika het voortgegaan om vrede en veiligheid, asook plaaslike ekonomiese integrasie te ondersteun deur deelname aan die Afrika-Unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se inisiatiewe.

Ons het voortgegaan om susterlande te help met die oplossing van hul probleme byvoorbeeld in Lesotho en Suid-Soedan.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het die land dapper en besonder goed in vredesendings op die vasteland verteenwoordig. Ons is werklik trots op ons soldate. Hulle sal hul vermoëns vanaf 13 tot 21 Februarie in Port Elizabeth te toon stel ter viering van Gewapende Magte Dag (Armed Forces Day).

Die ooreenkoms deur die BRICS-lande oor die nuwe BRICS Ontwikkelingsbank het in werking getree en die bank sal na verwagting sy eerste projekte in April vanjaar goedkeur.

Ons het aan die Top Indië-Afrikaspitsberaad, sowel as die Forum vir Samewerking tussen Afrika en China deelgeneem om hierdie belangrike vennootskappe te versterk.

China het beleggings van US$50 miljard aangekondig, waarvan Suid-Afrika  US$10 miljard vir infrastruktuur, industrialisering en vaardigheidsontwikkeling sal ontvang.

Met betrekking tot Noord-Suid-samewerking, het ons onderhandel as ‘n blok met die Europese Unie (EU), wat ons grootste handelsvennoot en buitelandse belegger is, voortgesit.

Meer as 2 000 EU-maatskappye word binne Suid-Afrika bedryf, wat meer as 350 000 werkgeleenthede skep.

Suid-Afrika se verhouding met die VSA en Kanada het steeds versterk, veral op die gebiede van ekonomie, gesondheid, onderwys, energie, water, veiligheid en sekuriteit, kapasiteitsbou en die bemagtiging van vroue.

Die vernuwing en uitbreiding van die Die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (African Growth and Opportunity Act [Agoa]) bied 'n platform vir die bevordering van industrialisering en streeksintegrasie. Daar word tans aandag gegee aan alle uitstaande kwessies rondom Agoa.

Landgenote,

Ons wens al ons atlete wat gekwalifiseer het om later vanjaar aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro deel te neem, sterkte toe.

Ons moedig die publiek aan om aan verskeie programme deel te neem wat op die bevordering van 'n gesonde lewenstyl en nasiebou gerig is.

Dit sluit in Nasionale Ontspanningsdag, Nelson Mandela Sport- en Kultuurdag; die Wêreldbeweging vir Gesondheidsdag, die Goue Spele en die Andrew Mlangeni Gholfontwikkelingsdag.

Landgenote,

'n Komitee is gestig om ons uitvoerendekunste-legendes se deelname aan nasiebou-aktiwiteite in die land te koördineer.

Die Lewende Legendes komitee staan ​​onder voorsitterskap van dramaturg Mnr Welcome Msomi, in samewerking met die musiek-ikoon, me Letta Mbulu, as ondervoorsitter.

Ons is ook verheug dat musikante en akteurs onder andere gehoor gegee het aan ons oproep om te verenig en die Federasie van Kreatiewe Bedrywe van Suid-Afrika (Creative Industries Federation of South Africa) gevorm het. Die Presidensie het die Presidensiële Taakspan vir Kreatiewe Bedrywe gestig om ons kunstenaars te ondersteun.

Landgenote,

Om ons doelwitte te bereik soos om werk te skep, ongelykheid te verminder en die grense van armoede terug te skuif, verg vinniger groei.

In die Nasioanle Ontwikkleingsprogram, het ons ’n teikengroei van vyf persent per jaar gestel, wat ons gehoop het om teen 2019 te bereik.

Gegewe die ekonomiese toestande wat ek vroeër uitgestippel het, is dit duidelik dat ons nie hierdie groeiteiken teen die geprojekteerde tyd sal bereik nie.

Die moeilike internasionale en plaaslike omstandighede behoort ons aan te spoor om ons pogings met die samewerking van alle sektore te verdubbel. In hierdie verband is dit belangrik om beslissend op te tree om binnelandse beperkings tot groei uit die weg te ruim.

Ons kan nie die wêreldwye ekonomiese toestande verander nie, maar ons kan heelwat doen om plaaslike toestande te verbeter.  

Laat ons saamwerk om die situasie om te keer. Dit kan gedoen word.

Ek bedank julle.

Share this page

Similar categories to explore