Betrekking in die staatsdiens

Vakatures in die nasionale en provinsiale departemente word gevul deur die werwing van dienende werknemers of deur mense wat nie in die Staatsdiens werk nie te nooi om aansoek te doen. Vakatures in senior posisies, soos die senior bestuursdiens, moet nasionaal geadverteer word vir werwing van binne en van buite die Staatsdiens.

As 'n reël word vakante poste in 'n Staatsdiensvakature-omsendbrief geadverteer wat weekliks deur die Departement van Staatsdiens en Administrasie saamgestel en uitgereik word.

Die Staatsdiensvakature-omsendbrief stel staatsamptenare in kennis van vakatures in die Staatsdiens. Mense wat nie in die Staatsdiens werk nie, maar belangstel in die poste wat geadverteer word, moet vooraf by die betrokke departement uitvind of hulle kwalifiseer om aansoek te doen. Die kontakbesonderhede van die advertensiedepartemente word in die omsendbrief voorsien.

Sommige departemente, soos die Departement van Verdediging, kan jou vra om 'n mediese ondersoek te ondergaan voor hulle jou aansoek sal oorweeg.

Wat jy moet doen

  1. Laai die Z83-vorm (Aansoek om betrekking) van die internet af en voltooi dit. Die vorm is ook beskikbaar by enige nasionale of provinsiale departement.
  2. Heg jou curriculum vitae (CV) daarby aan. Die departement kan jou ook vra om gesertifiseerde afskrifte van jou kwalifikasies, identiteitsdokument en ander persoonlike dokumente aan te heg. Lees asseblief die advertensie noukeurig deur om seker te maak wat jy alles moet aanheg.
  3. Stuur jou voltooide Z83-vorm en al die nodige dokumente na die adres wat in die advertensie gegee word.
  4. Afhangend van die betrokke departement se benadering, kan jy 'n erkenningsbrief ontvang.

Hoe lank neem dit?

Die werwings- en keuringsproses wissel tussen departemente, maar die mikpunt is om die proses binne die kortste moontlike tyd af te handel.

 

Share this page