Staatsrede deur President Cyril Ramaphosa

Staatsrede deur President Cyril Ramaphosa, Kaapstadse Stadsaal
 

Speaker van die Nasionale Vergadering, Me Nosiviwe Mapisa-Nqakula,

Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Mnr Amos Masondo,

Adjunkpresident van die Republiek van Suid-Afrika, Mnr Paul Mashatile, en Mev Mashatile,

Voormalige President Thabo Mbeki,

Voormalige Adjunkpresident Phumzile Mlambo-Ngcuka,

Voormalige Speaker van die Nasionale Vergadering Me Baleka Mbete,

Hoofregter Raymond Zondo,

Adjunkhoofregter Me Mandisa Maya,

Verskeie regters hier teenwoordig,

Burgemeester van Kaapstad, Raadslid Geordin Hill-Lewis,

Dekaan van die Diplomatieke Korps en Streeksdekane,

Hoofde van instansies wat ons demokrasie ondersteun,

Hooggeëerdes wat ons nege provinsies verteenwoordig,

Parlementslede, en

Mede-Suid-Afrikaners,

 

Tydens ons voorbereidings vir hierdie Staatsrede het ons met diep hartseer verneem van die tragiese heengaan van dr Hage Geingob, die president van die Republiek van Namibië.

President Geingob was ʼn dierbare vriend van my en van Suid-Afrika se mense en ʼn wapengenoot in die stryd vir ons vryheid. Hy was ʼn kampvegter vir vrede, eenheid, vooruitgang en ontwikkeling in Afrika.

Mag ek vra dat ons ʼn oomblik van stilte handhaaf ter ere van hom.

Mede-Suid-Afrikaners,

hierdie staatsrede vind plaas in die 30ste jaar van ons demokrasie.

Op 27 April 1994 het miljoene Suid-Afrikaners hul kruisies in ʼn demokratiese verkiesing getrek, baie van hulle vir die eerste keer in hul lewe.

Daardie belangrike dag was die hoogtepunt van ʼn eeuelange stryd, die stryd om ons mense te bevry van lyding en onderdrukking, van onteiening en uitbuiting, van armoede en ongelykheid.

Terwyl ons in die lang, kronkelende toue gestaan het om te stem, het ons na mekaar toe gedraai en gepraat oor hoe verheug ons was, sommige met trane wat oor hulle wange loop.

Ons het vriend en vreemdeling omhels, aangespoor deur ʼn sin van ʼn gemeenskaplike toekoms wat ons met ons stemme vir ons land sou bepaal.

Ons het nie net ʼn stem in daardie stembusse geplaas nie, maar ʼn droom van die land wat ons wou bou.

Dit was die droom van ʼn Suid-Afrika wat in elke sin van die woord aan almal behoort wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.

Die wêreld het toegekyk hoe Nelson Mandela, die vader van ons nasie, sy stem uitbring in Inanda in KwaZulu-Natal: die land van uShaka, ʼn held wie se naam deur die eeue weerklink; die geboorteplek van John Langalibalele Dube, die ANC se eerste president, wat die Afrika-volk verenig het; en die tuiste van Hoofman Albert Luthuli, die eerste Nobelpryswenner vir Vrede afkomstig uit Afrika.

Dit was in baie opsigte simbolies dat hy in Inanda gaan stem het, daar waar John Langalibalele Dube begrawe is, want deur sy stem daar uit te bring, het hy aan die eerste president van die ANC gaan verslag doen oor watter vordering met die stryd gemaak is.

Nadat hy gestem het, het Madiba gesê:

“Dit is die begin van ʼn nuwe era. Ons het aanbeweeg vanaf ʼn era van pessimisme, verdeeldheid, beperkte geleenthede, onrus en konflik. Ons begin ʼn nuwe era van hoop, versoening en nasiebou.”

Dit is hierdie droom van ʼn vry en verenigde volk wat in ons demokratiese Grondwet vervleg is.

Dit is hierdie Grondwet wat oor die afgelope drie dekades rigting gegee het aan ons gesamentlike pogings  om ons land fundamenteel ten goede te verander, en dit moet die kern vorm van die werk wat ons nou doen om ʼn beter lewe vir almal te bou.

Ons was die afgelope drie dekades op reis na die gesamentlike verwerkliking van ʼn nuwe samelewing — ʼn nasionale demokratiese samelewing.

Ons het die tirannie van apartheid afgegooi en ʼn demokratiese staat gebou wat op die mense se wil gegrond is.

Ons het sterk instellings gevestig om alle mense se fundamentele vryhede en menseregte te beskerm.

Ons het die lewens van miljoene Suid-Afrikaners getransformeer deur in hul lewensbehoeftes te voorsien en vir hulle geleenthede te skep wat nooit tevore bestaan het nie.

Ons het ʼn diverse ekonomie moontlik gemaak waarvan die minerale, landbouprodukte en vervaardigde goedere elke uithoek van die wêreld bereik, terwyl werk in Suid-Afrika geskep word.

As ʼn land het ons teruggekeer na die gemeenskap van nasies en ʼn hand van vrede en vriendskap na alle lande en alle mense uitgesteek.

Dog, net soos ons nie die vordering kan miskyk wat Suid-Afrikaners oor die afgelope 30 jaar gemaak het nie, so kan ons ook nie die ernstige uitdagings geringskat wat ons steeds in die gesig staar nie.

Ons het moeilike tye verduur waartydens die vasteid van ons grondwetlike demokrasie swaar beproef  is.

Daar was tye wat gebeure buite ons landsgrense ons vordering aan bande gelê het.

Die wêreldwye finansiële krisis van 2007 en 2008 het die einde beteken van ʼn dekade van sterk groei en versnelde werkskepping.

Meer onlangs het die konflik tussen Rusland en die Oekraïne tot stygings in die prys van brandstof, voedsel en ander goedere regoor die wêreld bygedra – en gevolglik die lewe vir alle Suid-Afrikaners moeiliker gemaak.

Daar was ook tye wat gebeure in ons land self ons grondwetlike demokrasie se fondamente geskud het.

Die grootste skade is waarskynlik deur die era van staatskaping aangerig.

Vir ʼn dekade lank het staatslui op die hoogste vlakke met private individue saamgesweer om staatsbeheerde maatskappye, wetstoepassingagentskappe en ander openbare instellings oor te neem en vir hul eie doeleindes aan te wend.

In sommige gevalle is hierdie aktiwiteite deur plaaslike en multinasionale maatskappye moontlik gemaak.

Miljarde rande wat in die behoeftes van gewone Suid-Afrikaners moes voorsien, is gesteel.

Vertroue in ons land is ernstig geknou. Openbare instellings is erg verswak.

Die uitwerking van staatskaping word steeds oor die hele samelewing heen gevoel, van die tekort aan vraglokomotiewe tot verbrokkelende openbare dienste; van die swak prestasie van ons kragstasies tot mislukte ontwikkelingsprojekte.

Maar Suid-Afrikaners, insluitend talle eerlike en toegewyde staatsamptenare, het teruggeveg en saamgewerk om staatskaping uit te roei.

Selfs toe het pogings om die land se herstel te stuit, voortgeduur.

Ons onthou met groot angs die gebeure van Julie 2021, toe individue wat hul eie belange voorop gestel het, probeer het om ʼn burgerlike opstand te ontlok, wat tot tragiese lewensverlies en wydverspreide vernietiging gelei het.

Weereens was hulle onsuksesvol.

Hierdie pogings om die swaar verworwe voordele van ons vryheid ongedaan te maak, het misluk omdat die mense van Suid-Afrika vasgestaan het, soos een mens, om ons Grondwet en sy belofte van ʼn beter lewe vir almal te verdedig.

Dit was dieselfde vasberadenheid wat die land in staat gestel het om die verwoesting te trotseer wat veroorsaak is deur COVID-19, die ergste wêreldwye pandemie in meer as ʼn eeu.

Meer as 100 000 Suid-Afrikaners het hul lewens weens die siekte verloor, en twee miljoen mense het hul werk verloor.

Tog sou dit veel erger gewees het as ons nie saam opgetree het om die verspreiding van die virus te keer, ons gesondheidswerkers te ondersteun, die mees kwesbares onder ons te beskerm en ʼn inentingprogram van ongekende afmetings van stapel te stuur nie.

Ons het daarin geslaag om gemeenskappe te verenig rondom ʼn gemeenskaplike poging om lewens te red en mense se voortbestaan te verseker.

Ek wil hulde bring aan die talle duisende Suid-Afrikaners wat finansiële bydraes tot die Solidariteitfonds gemaak het, aan die werkers wat mediese voorrade vervaardig het, en aan die verpleegsters, dokters en ander gesondheidswerkers wat hul lewens in gevaar gestel het om die siekes te versorg.

Nog ʼn groot uitdaging waaraan ons aandag moes gee , is geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV), wat ons as die tweede pandemie geïdentifiseer het.

As regering het ons wette uitgevaardig en meer hulpbronne toegewys om oortreders te vervolg, beter ondersteuning aan oorlewendes te bied en vroue se ekonomiese bemagtiging te bevorder.

As ʼn samelewing moet ons ons kollektiewe pogings verskerp om GGGV te beëindig.

In onlangse jare moes die land ook die gevolge van klimaatsverandering die hoof bied.

Ons het verwoestende veldbrande in die Wes-Kaap gehad, vernietigende vloede in KwaZulu-Natal, ondraaglike hittegolwe in die Noord-Kaap, aanhoudende droogte in die Oos-Kaap, en intense storms in Gauteng.

ʼn Groot deel van hierdie administrasie se taak was om ons land deur hierdie groot uitdagings te kry en daaraan te werk om weer op die regte pad te kom.

Hierdie gebeurtenisse het almal hul merk gelaat, maar tog het ons land elke storm deurstaan.

Ja, ons het nie ongedeerd daarvan afgekom nie. Maar Suid-Afrikaners was een en almal deurgaans onverskrokke.

Ons het nie net volhard nie, ons het sterker en meer vasberade aan die ander kant uitgekom.

Al hierdie ywer het gedemonstreer hoe Suid-Afrikaners die vryheid waardeer wat hulle na dekades van stryd verower het.

Die verhaal van die eerste 30 jaar van ons demokrasie kan die beste vertel word aan die hand van die lewe van ʼn kind genaamd Tintswalo, wat met die aanbreek van vryheid in 1994 gebore is.

Tintswalo – demokrasie se kind – het grootgeword in ʼn samelewing wat wêrelde verwyder was van die Suid-Afrika van haar ouers, grootouers en oorgrootouers.

Sy het grootgeword in ʼn samelewing met ’n grondwet waarin gelykheid, die oppergesag van die reg en die bevestiging van elke burger se inherente waardigheid gevestig is.

Tintswalo, en talle ander kinders wat dieselfde tyd as sy gebore is, het die voordele geniet van die demokratiese staat se eerste beleide om gratis gesondheidsorg aan swanger vroue en kinders onder die ouderdom van ses te verskaf.

Tintswalo se vormingsjare is deurgebring in ʼn huis wat deur die staat verskaf is, een van miljoene huise wat gebou is om skuiling aan die armes te bied.

Tintswalo het grootgeword in ʼn huishouding wat van basiese water en elektrisiteit voorsien is, in ʼn huis waar haar ouers voor 1994 waarskynlik sonder elektrisiteit sou gewoon het.

Tintswalo het ʼn skool bygewoon waar haar ouers nie skoolgeld hoef te betaal het nie, en sy het elke skooldag ʼn voedsame maaltyd ontvang as deel van ʼn program wat vandag nege miljoen leerders uit arm gesinne ondersteun.

Die demokratiese staat het ʼn kinderondersteuningstoelae verskaf om in haar basiese behoeftes te voorsien. Hierdie toelae, tesame met ander vorme van maatskaplike bystand, is steeds elke maand ʼn reddingsboei vir meer as 26 miljoen Suid-Afrikaners.

Met hierdie ondersteuning was Tintswalo – demokrasie se kind – in staat om hoërskool te voltooi.

Deur middel van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente kon Tintswalo een van ons Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleiding (TVET) kolleges bywoon en ʼn kwalifikasie verwerf.

Toe Tintswalo die wêreld van werk betree het, kon sy vorder en floreer met die ondersteuning van die Staat se diensbillikheid- en swart ekonomiese bemagtigingsbeleid.

Met die inkomste wat sy verdien het, kon sy spaar, ʼn gesin begin, in ʼn beter huis intrek en ʼn beter lewe lei.

Dit is die verhaal van miljoene mense wat sedert die begin van ons demokrasie gebore is. Maar dit is net deel van die storie.

Want ondanks die merkwaardige prestasies van die afgelope 30 jaar staar baie van die demokrasie se kinders steeds groot uitdagings in die gesig.

Miljoene jongmense in die ouderdomsgroep van 15 tot 24 het tans nie werk nie en ondergaan nie geen onderwys of opleiding nie.

Daar is talle met matriek, ʼn diploma of ʼn graad wat werkloos is of nie toegerus is om ʼn besigheid te begin nie.

Hoewel ekonomiese groei noodsaaklik is om werkloosheid te verminder, kan ons nie wag met die verskaffing van die werk wat so baie van die demokrasie se kinders benodig nie.

As regering het ons stappe gedoen om die uitdaging van werkloosheid onder die jeug aan te pak

Drie jaar gelede het ons voortgebou op die sukses van die Program vir Uitgebreide Openbare Werke deur die Presidensiële Werkverskaffingstimulus van stapel te stuur.

Deur hierdie program het ons meer as 1,7 miljoen werk- en bestaansgeleenthede geskep.

Deur die stimulus het ons meer as een miljoen skoolassistente in 23 000 skole geplaas, wat waardevolle werkservaring aan deelnemers bied terwyl leeruitkomste verbeter word.

Deur die Presidensiële Ingryping vir Werkverskaffing aan die Jeug het ons SAYouth.mobi gestig as ʼngrondvlakplatform waardeur werklose jongmense toegang kan verkry tot geleenthede om te leer en geld te verdien.

Meer as 4,3 miljoen jongmense is tans by die netwerk betrokke en 1,6 miljoen kon tot dusver geleenthede benut.

Ons het ʼn aantal inisiatiewe saam met die Nasionale Jeugontwikkelingagentskap (NJOA) geloods om geleenthede aan jongmense te bied, insluitend die Nasionale Jeugdiens en die Jeugwerkgeleentheiddiens.

Hierdie programme maak saak, want werk maak saak vir mense. Die NJOA het ʼn sleutelrol gespeel in bystand aan ʼn aantal jongmense om hul eie besighede te begin.

Om ʼn werk te hê, verskaf nie net ʼn inkomste nie – dit is grondliggend aan mense se gevoel van eiewaarde, waardigheid, hoop, doelgerigtheid en insluiting.

Ons het meer as 30 jaar lank vanuit die dieptes van ontbering en ongelykheid daaraan gewerk om te verseker dat alle Suid-Afrikaners ʼn gelyke kans het om vooruit te gaan.

Dit is nie genoeg om net die ongeregtighede van die verlede te erken nie; ons moet dit regstel.

Ons het wette en programme ingestel om swart Suid-Afrikaners en vroue in staat te stel om by die werkplek te vorder, om eienaars en bestuurders te word, om grond te bekom en om bates op te bou.

Die persentasie poste in uitvoerende bestuur wat deur swart mense beklee word, het tussen 1996 en 2016 byna vyfvoudig toegeneem.

Een van die oorheersende uitdagings waarmee hierdie administrasie te kampe gehad het toe hy aan bewind gekom het, was staatskaping en korrupsie.

Ons eerste prioriteit was om ʼn besliste einde aan staatskaping te maak, om die kriminele netwerke in die staat af te takel en om te verseker dat oortreders vervolg word.

Ons moes dit doen sodat ons ons instellings kon herstel en ons ekonomie kon herbou.

Ons het bekwame mense met integriteit aangestel om ons wetstoepassingagentskappe, staatsdepartemente, veiligheidsdienste en staatsmaatskappye aan te voer, dikwels deur middel van ʼn onafhanklike en deursigtige proses.

Die geloofwaardigheid en doeltreffendheid van ʼn aantal instellings soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is herstel en hul prestasie het verbeter.

Ons het die Ondersoekdirektoraat as ʼn gespesialiseerde en multidissiplinêre eenheid binne die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) op die been gebring om korrupsie en ander ernstige misdade te ondersoek.

Groot vordering is gemaak om diegene wat vir staatskaping verantwoordelik was voor die gereg te bring.

Meer as 200 beskuldigdes word tans vervolg. Ander word ondersoek.

Gesteelde fondse word teruggeneem.

Bevriesingsbevele van R14 miljard is aan die NVG se Batebeslagleggingseenheid toegestaan vir sake wat met staatskaping verband hou, en sowat R8,6 miljard se korrupte opbrengste is aan die staat terugbesorg.

ʼn Herstelde en opgekikkerde SAID het R4,8 miljard se onbetaalde belasting ingevorder as gevolg van bewyse wat aan die Kommissie voorgelê is, terwyl die Spesiale Ondersoekeenheid siviele litigasie ter waarde van R64 miljard ingestel het.

Ons het stappe gedoen, insluitend deur nuwe wetgewing, om ons vermoë te versterk om geldwassery en bedrog te voorkom en te sorg dat ons van die Taakspan vir Finansiële Aksie se “grys lys” verwyder word.

Met die hulp van sakeondernemings het ons ʼn digitale forensiese afdeling geskep om die NVG se Ondersoekdirektoraat te ondersteun, wat mettertyd uitgebrei sal word om wyer ondersteuning ten opsigte van wetstoepassing te lewer.

Daar dien tans wetgewing voor die Parlement om die Ondersoekdirektoraat as ʼn permanente entiteit met volle ondersoekbevoegdhede te vestig.

Maar daar moet nog baie werk gedoen word om korrupsie heeltemal uit te roei.

Op grond van die aanbevelings van die Nasionale Teenkorrupsie-adviesraad is ons vasbeslote om verdere maatreëls in te stel om ons teenkorrupsie-agentskappe te versterk, fluitjieblasers te beskerm, steunwerwing te reguleer en onbehoorlike invloed op openbare verkrygingsverteenwoordigers te voorkom.

Ons sal nie ophou voordat elke persoon wat vir korrupsie verantwoordelik is tot verantwoording geroep is nie.

Ons sal nie stop voordat alle gesteelde geld teruggevind is nie.

Ons sal nie bes gee totdat korrupsie iets van die verlede is nie.

Die werklike tragedie van staatskaping was dat dit die aandag en hulpbronne weggelei het van dit wat die regering na regte moes doen, naamlik om ons ekonomie te laat groei en werk te skep.

Ons het die afgelope vyf jaar daaraan gewerk om ons ekonomie te laat herleef na ʼn dekade van stagnasie en dit teen plaaslike sowel as wêreldwye skokke te beskerm.

Ons het vordering gemaak.

Ons ekonomie is vandag drie keer groter as wat dit 30 jaar gelede was.

Die aantal Suid-Afrikaners met werk het toegeneem van agt miljoen in 1994 tot meer as 16,7 miljoen op die oomblik.

Oor die afgelope twee jaar het die aantal werkgeleenthede wat geskep word elke kwartaal toegeneem, en meer mense het nou werk as voor die pandemie.

Tog is ons werkloosheidsyfer die hoogste wat dit nog ooit was.

Hoewel indiensnemingsyfers styg, betree meer mense elke jaar die arbeidsmark as wat werk geskep word.

Ons het ʼn grondslag vir groei gelê deur verreikende ekonomiese hervormings, ʼn ambisieuse beleggingwerwinginisiatief en ʼn infrastruktuurprogram wat resultate begin oplewer.

Maatskappye gaan voort om te belê, duisende hektaar landbougrond word beplant, nuwe fabrieke word geopen en produksie word uitgebrei.

Ons is op koers om die belangrikste beperkings op ekonomiese groei op te los deur ons energievoorsiening te stabiliseer en ons logistieke stelsels te herstel.

Namate hierdie struikelblokke verwyder word, word die ware potensiaal van ons ekonomie ontketen.

Ons het ʼn duidelike plan uiteengesit om beurtkrag te beëindig, wat met ʼn doelgerigte fokus deur die Nasionale Energiekrisiskomitee geïmplementeer word.

Ons het ons woord gehou om aansienlike nuwe kragbronne deur private investering na die netwerk toe te bring, wat reeds help om beurtkrag te verminder.

Verlede jaar het ons ʼn groot skuldverligtingpakket geïmplementeer wat Eskom in staat sal stel om in onderhoud- en transmissie-infrastruktuur te belê en sy toekomstige volhoubaarheid te verseker.

Sedert ons vyf jaar gelede nuwe lewe in ons hernubare-energieprogram geblaas het, het ons meer as 2 500 MW se son- en windkrag aan die netwerk gekoppel,en ons is reeds besig met die verkryging of oprigting van drie keer hierdie hoeveelheid.

Deur belastingaansporings en finansiële ondersteuning het ons net die afgelope jaar die hoeveelheid daksonkragkapasiteit wat oor die land heen geïnstalleer is, meer as verdubbel.

Ons het ingrypende regulatoriese hervormings geïmplementeer om private investering in elektrisiteitopwekking moontlik te maak, en meer as 120 nuwe private energieprojekte word tans ontwikkel.

Dit is fenomenale ontwikkelings wat die herstrukturering van ons elektrisiteitsektor aandryf in ooreenstemming met wat talle ander ekonomieë al gedoen het om mededingendheid te verhoog en pryse te verlaag.

Ons is vol vertroue dat al hierdie aksies sal verseker dat die ergste agter die rug is en dat die einde van beurtkrag uiteindelik in sig is.

Maar ons gaan nie daar stop nie.

Om seker te maak dat ons nooit weer ʼn soortgelyke krisis in die gesig staar nie, is ons besig om ons energiestelsel te hervorm sodat dit in die toekoms meer mededingend, volhoubaar en betroubaar sal wees.

Ons gaan oor die komende jare meer as 14 000 km se nuwe transmissielyne bou om hernubare energie te akkommodeer.

Om hierdie proses te bespoedig, sal ons private investering in transmissie-infrastruktuur moontlik maak deur ʼn verskeidenheid innoverende beleggingsmodelle.

Verlede jaar het ons die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitregulering ter tafel gelê om die herstrukturering van Eskom te ondersteun en ʼn mededingende elektrisiteitmark te vestig.

Terwyl ons hierdie hervormings onderneem, posisioneer ons ons ekonomie vir toekomstige groei in ʼn wêreld wat deur klimaatsverandering en ʼn omwenteling in groen tegnologievervorm word.

In die afgelope drie jaar het ons land ʼn toename in uiterste weersomstandighede ervaar, dikwels met rampspoedige gevolge.

Dit is hoekom ons ʼn billike energie-oorgang implementeer wat nie net koolstofvrystellings verminder en klimaatverandering teenwerk nie, maar ook groei en werk vir ons eie mense skep.

Ons sal hierdie oorgang onderneem teen ʼn tempo, skaal en koste wat ons land kan bekostig en op ʼn wyse wat energiesekerheid verseker.

Met ons oorvloed sonkrag, wind en minerale hulpbronne gaan ons duisende werksgeleenthede skep in hernubare energie, groen waterstof, groen staal, elektriese voertuie en ander groen produkte.

Die Noord-Kaap, met sy optimale sontoestande, het reeds miljarde rande se beleggings gelok.

Ons gaan ʼn spesiale ekonomiese sone in die Boegoebaai-hawe oprig om belegging in groen energie aan te dryf. Daar is groot belangstelling deur die private sektor om deel te neem aan die opbloei wat deur groen waterstofenergieprojekte gegenereer sal word.

Ons het besluit om die vervaardiging van elektriese voertuie in Suid-Afrika te ondersteun om ons motorsektor te laat groei, wat goeie werk aan duisende werkers verskaf.

Ons het besluit om ons spesiaal op streke soos Mpumalanga toe te spits om die skep van nuwe nywerhede, nuwe ekonomiese geleenthede en volhoubare werkgeleenthede moontlik te maak.

En die afgelope jaar het ons die finansieringverbintenisse vir ons JustEnergy-oorgangbeleggingsplan van sowat R170 miljard tot byna R240 miljard verhoog.

Om die hardnekkige gevolge van aardverwarming, wat deur aanhoudende vloede, brande en droogtes manifesteer, te bestry het ons besluit om ʼn Klimaatveranderingreaksiefonds te stig.

Dit sal alle sfere van die regering en die private sektor byeenbring in ʼn gesamentlike poging om ons veerkragtigheid uit te bou en die impak van klimaatverandering teen te werk.

Wat ernstige tekortkomings in ons vraglogistieke stelsels betref, is ons besig om stappe te doen om ons hawens en spoornetwerk te verbeter en hulle weer op wêreldklasstandaard te bring.

Ons het ʼn duidelike padkaart uiteengesit om Transnet se werkverrigting te stabiliseer en ons logistieke stelsel te hervorm.

In noue samewerking met besigheid en arbeid het ons toegewyde spanne bymekaargesit om ʼn ommekeer te bewerkstellig in vyf strategiese gange wat goedere vir uitvoerdoeleindes vervoer.

Die aantal skepe wat wag om by die Durbanse hawe aan te lê – wat die afgelope maande erge opeenhoping ervaar het – het van meer as 60 skepe middel November tot net 12 skepe aan die einde van Januarie verminder.

Transnet het ʼn internasionale terminaaloperateur aangestel om te help om sy grootste terminaal by die Durbanse hawe uit te brei en te verbeter.

En ons hersien tans die vragspoorstelsel deur private spooroperateurs van toegang tot die spoornetwerk te voorsien.

Met die huidige konflik in die Midde-Ooste wat skeepsverkeer deur die Suez-kanaal beïnvloed, is Suid-Afrika goed geposisioneer om bunkerdienste aan te bied vir skepe wat om ons kus herlei word.

Ons het na meer as ʼn dekade van oponthoude daarin geslaag om die breëbandspektrum op te veil, wat gelei het tot nuwe investering, laer datakoste en verbeterde netwerkreikwydtes en -gehalte.

Hierdie hervormings maak ʼn diepgaande impak op ʼn samelewing waarin toegang tot die internet die afgelope dekade dramaties gestyg het.

Minder as die helfte van alle huishoudings het in 2011 toegang tot die internet gehad, vergeleke met 79% van huishoudings in 2022.

Ons het vandeesweek nuwe regulasies gepubliseer om ons visumstelsel te hervorm, wat dit makliker sal maak om die vaardighede te lok wat ons ekonomie benodig en ʼn dinamiese ekosisteem vir innovasie en entrepreneurskap sal skep.

Ons het R1,5 triljoen se nuwe beleggingverbintenisse ingepalm deur vyf Suid-Afrikaanse Beleggingkonferensies, waarvan meer as R500 miljard reeds in die ekonomie ingevloei het.

Om groei in die mynbousektor te ondersteun, gaan ons voort met die modernisering van ons mynreglisensiëringstelsel en is ons besig om ʼn eksplorasiefonds van stapel te stuur om opkomende mynwerkers te ondersteun en nuwe mineraalafsettings te ontgin.

Hierdeur sal mynbou, wat die grondslag was waarop die Suid-Afrikaanse ekonomie gebou is, weer ʼn bloeiende bedryf word.

Deelname deur voorheen benadeelde swart mense neem toe.

Swart eienaarskap staan op ongeveer 39% in vergelyking met 2% in 2004.

Belegging in infrastruktuur is besig om momentum te kry.

Nuwe en innoverende befondsingmeganismes sal gebruik word om die oprigting van infrastruktuur aan te wakker.

Die Departement van Water en Sanitasie beoog om waterhulpbronbestuur te verbeter deur infrastruktuurprojekte te begin om watervoorsiening te verseker en waterbronne te diversifiseer om afhanklikheid van oppervlakwater te verminder.

Grootmaat waterprojekte is regoor die land in aanbou om watervoorsiening aan miljoene inwoners in dorpe en stede te verbeter.

Die volgende waterinfrastruktuurprojekte is onderweg of reeds voltooi:

Lesotho Hoogland Waterprojek, Umzimvubu, Hazelmere-dam, uMkhomazi Waterprojek, Clanwilliamdam, Tzaneendam, Loskop, Mandlakazi, pypleiding vanaf Jozinidam, Giyani, pypleiding vanaf Nandoni-dam na Nsami-dam, Pilanesberg Water, Vaal Gamagara en pypleiding vanaf die Vaalrivier na Hothazel.

In die Oos-Kaap begin die Msikaba- en Mtentu-brug verrys, wat van die hoogste in Afrika sal wees wanneer hulle voltooi is.

Die staal wat vir ʼn deel van die projek gebruik word, word in Mpumalanga vervaardig, en die ystererts is van die Noord-Kaap afkomstig.

In die afgelope vyf jaar het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk, wat nagenoeg 25 000 km se paaie bestuur, meer as 1 200 projekte ter waarde van R120 miljard toegeken.

In November verlede jaar het die Kabinet ʼn raamwerk vir ʼn hoëspoedspoor goedgekeur wat aanvanklik op die Johannesburg-Durban-korridor toegespits sal wees.

Namate ons die ekonomie laat groei, maak ons dit meer inklusief.

Deur herverdeling is ongeveer 25% van die landbougrond in ons land nou in besit van swart Suid-Afrikaners, wat ons nader daaraan bring om ons teiken van 30% teen 2030 te bereik.

In die afgelope vyf jaar het ons sowat 1 000 swart nyweraars met befondsing en ander vorme van bystand ondersteun. Hierdie firmas in swart besit het meer as 90 000 werkers in diens en dra miljarde rande tot ons ekonomie by.

Terselfdertyd het ʼn verdere sowat 200 000 werkers eienaarskap verkry van aandele in die maatskappye waar hulle werks, wat die totale werkereienaarskap van maatskappye in die Suid-Afrikaanse ekonomie op ver meer as ʼn halfmiljoen werkers te staan bring.

Hierdie tendens bly toeneem namate meer en meer maatskappye besef dat dit voordelig vir hul bedrywighede is as hul werkers ʼn aandeel het in die besighede waarvoor hulle werk.

Die hervormings wat ons aangevoor het en die werk wat onderweg is, sal ons in staat stel om beurtkrag te beëindig, ons logistieke stelsel te verbeter, watersekerheid te bereik en uiteindelik werk te skep.

Hoewel ons uitdagings nog nooit groter was nie, sal ons reaksie op hierdie uitdagings tot groter welvaart lei as wat ons nog ooit geken het.

Een van die ergste ongeregtighede van apartheid was die wyse waarop onderwys as ʼn instrument gebruik is om ongelykheid mee te handhaaf.

Oor die afgelope 30 jaar het ons daarna gestreef om onderwys as ʼn instrument te gebruik om gelykheid teweeg te bring.

Ons basiese onderwysuitkomste verbeter algaande, gemeet aan ʼn reeks maatstawwe.

Die jongste matriekslaagsyfer van 82,9% is die hoogste ooit.

En elke jaar behaal meer en meer leerders uit skole wat kwytgestel is van skoolgeld ʼn BA-graad.

Terselfdertyd sak minder leerders uit die skoolstelsel uit.

Ons het die afgelope vyf jaar aansienlik meer befondsing vir arm en werkersklas-studente aan universiteite en TVET-kolleges beskikbaar gestel.

Deur die loop van die volgende vyf jaar gaan ons ons aandag vestig op die uitbreiding van toegang tot vroeë kinderontwikkeling en die verbetering van vroeëgraad-leesvermoë, waar ons reeds vordering begin sien.

Die verskuiwing van vroeë kinderontwikkeling na die Departement van Basiese Onderwys (DBO) was een van die belangrikste besluite. Ons kan nou meer hulpbronne aan vroeë kinderontwikkeling toewy en verseker dat verskeie regeringdepartemente saamwerk en by vroeë kinderontwikkeling betrokke raak, aangevul deur die DBO.

Ons beleide en programme het oor die afgelope 30 jaar miljoene mense uit nypende armoede verlos.

Vandag ly minder Suid-Afrikaners honger en leef minder in armoede.

In 1993 het Suid-Afrika aansienlike armoede in die gesig gestaar, met 71,1% van sy bevolking wat in armoede geleef het.

Onder die demokratiese regering was daar egter ʼn konsekwente afname in hierdie getalle.

Teen 2010 het die armoedekoers tot 60,9% gedaal, en dit het aanhou daal totdat dit in 2020 volgens die Wêreldbank 55,5% bereik het.

Hierdie vordering is moontlik gemaak deur uitgebreide ondersteuning aan diegene in die samelewing wat dit die nodigste het.

Vyf jaar gelede het ons ʼn verdere maatreël getref om armoede die hoof te bied deur die nasionale minimumloon in te stel wat in die Vryheidsmanifes in die vooruitsig gestel is.

Die besluit deur sleutelrolspelers, synde besigheid, arbeid en gemeenskappe, om die minimum loon in te stel, het onmiddellik die lone van meer as ses miljoen werkers laat verhoog.

Te midde van die COVID-pandemie het ons ʼn spesiale toelae vir maatskaplike noodverligting ingestel, wat tans elke maand sowat nege miljoen werklose mense bereik. Ons het gesien watter voordele hierdie toelae inhou en sal dit uitbrei en verbeter as die volgende stap om inkomstesteun aan werkloses te bied.

Hierdie toelaes en subsidies doen veel meer as om net vir mense te gee wat hulle nodig het om te oorleef.

Dit is ʼn belegging in die toekoms.

Daar is bewys dat maatskaplike bystand toetrede tot en bywoning van skool verhoog, die uitsaksyfers verlaag en die slaagsyfer verbeter.

Suid-Afrikaners leef langer as ooit tevore.

Mense se lewensverwagting het van 54 jaar in 2003 tot 65 jaar in 2023 toegeneem.

Moeder- en babasterftes het dramaties afgeneem.

Ons het meer hospitale en klinieke gebou, veral in arm gebiede, wat beter kwaliteit sorg aan meer Suid-Afrikaners verskaf.

Vandag weet 95% van persone wat met MIV gediagnoseer wat hul status is, 79% van hulle ontvang antiretrovirale behandeling, en 93% se siekte is viraal onderdruk.

Nuwe MIV-infeksies onder jongmense het aansienlik afgeneem.

Hoewel ons gesondheidstelsel reeds ʼn groot impak op mense se lewens gehad het, werk ons nietemin daaraan om beide die kwaliteit van gesondheidsorg en gelykheid van toegang te verbeter.

Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal gratis gesondheidsorg by versorgingspunte aan alle Suid-Afrikaners verskaf, hetsy in openbare of private gesondheidsfasiliteite.

Ons beplan om die NGV inkrementeel te implementeer, wat die hantering van kwessies soos die finansiering van die gesondheidstelsel, die gesondheidsorgwerkmag, mediese produkte, entstowwe en tegnologieë, en gesondheidinligtingstelsels insluit.

Een van die mees sigbare, impakvolle en betekenisvolle prestasies in die eerste drie dekades van vryheid was om huise aan mense te verskaf.

Vandag woon byna nege uit elke 10 huishoudings in ʼn formele woning.

Waar daar eens hutte en modderhuise was, is daar nou huise van baksteen en beton.

Dit is huise met water om te drink en mee te was, huise met elektrisiteit vir beligting en kosmaak.

Aan die einde van apartheid het slegs ses uit 10 mense toegang tot skoon drinkwater gehad. Vandag het dié syfer tot byna nege uit 10 Suid-Afrikaners toegeneem.

Ons werk daaraan om te verseker dat gesubsidieerde behuising naby werkgeleenthede, onderwysinstansies en dienste geleë is.

Maar voordat dienste gelewer kan word, moet plaaslike owerhede werk.

Te veel munisipaliteite kom nie die mas op wanneer dit by bestuurs-, finansiële en diensleweringmaatreëls kom nie.

Hierdie tekortkominge beïnvloed elke aspek van mense se daaglikse lewens.

Ons het begin met die implementering van ʼn aantal maatreëls om hierdie probleem aan te pak deur ondersteuning aan plaaslike owerhede te bied, insluitend die professionalisering van die staatsdiens, en om te verseker dat mense met die regte vaardighede in sleutelposte aangestel word.

Die Presidensie, die Nasionale Tesourie en die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede werk saam om tegniese kapasiteit in plaaslike owerhede te verskerp en beplanning, koördinasie en fiskale toesig te verbeter.

Deur die Presidensiële izimbizo wat regoor die land gehou is, het ons gesien hoe die Distrikontwikkelingsmodel (DOM) alle sfere van die regering en sleutelbelanghebbendes bymekaargebring het om die diensleweringuitdagings in gemeenskappe die hoof te bied.

Die DOM het geblyk ʼn doeltreffende instrument te wees om koöperatiewe bestuur en samewerking te verbeter. Ons sal voortgaan om hierdie proses uit te brei en te verdiep.

Die aanpak van misdaad en gebrek aan sekuriteit is ʼn sleutelprioriteit.

Suid-Afrikaners verdien om veilig te wees en veilig te voel, om vrylik en onbeangs in hul woonbuurte en openbare plekke te kan rondloop.

Tydens hierdie administrasie het ons daarop gefokus om ons wetstoepassingagentskappe, wat stelselmatig verswak het, toe te rus om hul werk doeltreffend te doen.

Ons het die polisiegeledere versterk deur die werwing van 20 000 polisiebeamptes oor die afgelope twee jaar en nog 10 000 in die jaar wat voorlê.

ʼn Ekstra 5 000 polisiebeamptes is vir openbareorde-polisiëring ontplooi.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Operasie Shanela van stapel gestuur as ʼn nuwe benadering om misdaadbrandpunte te teiken. Dit het sedert Mei verlede jaar tot meer as 285 000 arrestasies gelei.

Die ekonomiese infrastruktuur-taakspanne wat in alle provinsies operasioneel is, het belangrike suksesse behaal in die bekamping van kabeldiefstal, skade aan kritieke infrastruktuur en onwettige mynboubedrywighede.

Deur noue samewerking met die private sektor het ons ʼn afname in sekuriteitsinsidente op die spoornetwerk gesien.

Ons het verlede jaar die nuwe Grensbestuurowerheid geloods om ons grense beter te beveilig, en het reeds meer as 100 000 mense gekeer wat probeer het om ons land onwettig binne te kom.

Ons het met die burgerlike samelewing hande gevat om die Nasionale Strategiese Plan vir GGGV te ontwikkel as ʼn gemeenskapswye reaksie op hierdie pandemie.

Sowat R21 miljard is oor die medium termyn aan die implementering van die plan se ses pilare toegewy, insluitend die ekonomiese bemagtiging van vroue.

Nuwe wette is ingestel om die strafregstelsel se reaksie op GGG te versterk en beter ondersteuning  aan oorlewendes van hierdie tipe geweld te bied.

Ons einddoel is om GGG totaal uit te wis deur die samelewing in sy geheel te mobiliseer. As deel hiervan ondersteun ons die beroep wat gedoen word op mans in Suid-Afrika om ʼn belofte af te lê om hul persoonlike toewyding aan die beëindiging van hierdie plaag te demonstreer.

Vroue is ook besig om hul eie belofte te ontwikkel.

Ons het nog ʼn lang pad om te loop om veiliger gemeenskappe te bou, geweldmisdaad te voorkom en ons infrastruktuur te beskerm.

Maar dit ly geen twyfel nie dat ʼn professionele, goed opgeleide en behoorlik toegerusde polisiemag, wat nou saamwerk met gemeenskappe, van ons land ʼn veiliger plek sal maak.

Vandag kan elke Suid-Afrikaner hul kop hoog hou in die wete dat ons ons regmatige plek op die wêreldverhoog ingeneem het.

Ons bly daartoe verbind om ʼn konstruktiewe rol op ons vasteland en regoor die wêreld te speel vir die verwesenliking van ʼn beter Afrika en ʼn beter wêreld.

Ons sal voortgaan om ʼn belangrike rol daarin te speel om die klank van gewere oor ons hele kontinent tot swye te bring.

Ons skakeling met partye in die Rusland-Oekraïne-konflik onder die vaandel van die Afrika-vredesinisiatief vorder. Ons neem deel aan hierdie vredespogings omdat ons glo dat selfs die mees hardnekkige konflikte deur onderhandeling tot ʼn einde gebring kan word.

Aangespoor deur die fundamentele beginsel van menseregte en vryheid het ons die Palestynse saak aangepak om verdere sterftes en vernietiging in Gasa te voorkom.

Ons het die uitspraak van die Internasionale Geregshof verwelkom dat Israel alle maatreëls binne sy vermoë moet tref om dade van volksmoord teen Palestyne te voorkom.

Ons veroordeel die moord op burgerlikes aan alle kante en doen ʼn beroep op alle partye wat by die konflik betrokke is om hulle tot ʼn vredesproses te verbind wat ʼn tweestaat-oplossing sal oplewer.

Ons sal ons buitelandse beleid gebruik om ons ontwikkelingsdoelwitte na te streef. Tydens ons leierskap van Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (BRICS) verlede jaar het ons ʼn nuwe hoofstuk vir die BRICS-familie van lande betree.

Die uitbreiding van die groep vanaf vyf tot tien lede bied geleenthede vir handel en die verstewiging van politieke en diplomatieke bande tussen lande in die globale suide.

Ons sal voortbou op die vordering wat ons gemaak het met die vestiging van die Afrika Kontinentale Vryhandelgebied (AfKVHG), wat Suid-Afrika se ekonomie en dié van die vasteland sal transformeer deur nuwe werksgeleenthede te skep en ekonomiese deelname te verhoog.

En ons sal Afrika se ontwikkeling boaan die agenda plaas wanneer ons in 2025 die G20 aanbied.

Die prestasies oor die afgelope drie dekades is ʼn bewys van die mag van samewerking en vennootskap om ons mees dringende uitdagings die hoof te bied.

Ons land spog met ʼn op en wakker burgerlike samelewing, ʼn magtige vakbondbeweging en ʼn betrokke private sektor.

Oor die afgelope vyf jaar het ons hande gevat met hierdie maatskaplike vennote om uitdagings te trotseer soos om mense tydens die COVID-19-pandemie veilig te hou en entstowwe te versprei, en om ʼn gemeenskapswye reaksie op GGG te mobiliseer.

Die afgelope jaar het ons met maatskaplike vennote saamgewerk om beurtkrag te beëindig, die uitdagings in die logistieke sektor aan te spreek, misdaad en korrupsie aan te pak en werkskepping te versnel.

Dit is die Suid-Afrikaanse manier om ʼn sosiale verdrag te bou vir samewerking oor tasbare kwessies, en dit is die sleutel tot die bou van ʼn nuwe samelewing in die komende jare.

Mede-Suid-Afrikaners,

Dit is die laaste staatsrede van die sesde demokratiese administrasie.

Die afgelope vyf jaar was ʼn tyd van herstel, herbou en vernuwing.

Ons moes ons ekonomie laat herleef ná meer as ʼn dekade van swak ekonomiese prestasie.

Ons moes ons openbare instellings herbou ná die era van staatskaping.

Ons moes herstel van ʼn verwoestende wêreldwye pandemie wat groot ellende en swaarkry veroorsaak het, wat besighede laat sluit het en werksgeleenthede gekos het.

En ons moes ʼn uitmergelende elektrisiteitskrisis konfronteer en oorkom wat, ondanks aansienlike verbetering die afgelope maande, steeds ons ekonomie terughou.

Ons het die afgelope vyf jaar ver gevorder. Ons het voortgebou op die prestasies van die afgelope drie dekades en ons het beslissende maatreëls getref om die onmiddellike uitdagings wat Suid-Afrikaners in die gesig staar die hoof te bied.

Ons het die onafhanklikheid en vermoëns van ons wetstoepassingagentskappe herstel om korrupsie en misdaad aan te pak.

Ons het daaraan gewerk om persone met gestremdhede se regte te bevorder. Ons is trots daarop dat Suid-Afrikaanse Gebaretaal ons land se 12de amptelike taal geword het.

Ons het die basiese regte in ons Grondwet, soos vryheid van spraak, assosiasie en geloof, beskerm en bevorder. Ons het mediavryheid en die onafhanklikheid van die regbank verdedig.

Ons het die regte van lede van die lesbiese, gay, biseksuele, transgender-, queer/vraende en interseksgemeenskap beskerm en bevorder, en bekamp deurgaans alle vorme van vooroordeel en onverdraagsaamheid.

Ons het aansienlike vordering gemaak met maatreëls om die ekonomie te laat groei, werk te skep en armoede te verminder.

Hoewel ons die proses van vernuwing en hervorming aan die gang gesit het, is daar nog werk wat gedoen moet word om hierdie hervormings tot die einde toe deur te sien.

Ons sal die werk wat ons tans saam met ons vennote doen, deursien om beurtkrag te beëindig en ons hawens en spoornetwerk weer op dreef te bring.

Ons sal voortgaan om ons wetstoepassinginstellings te versterk, GGG aan te pak en korrupsie te beveg om van Suid-Afrika ʼn veilige plek vir almal te maak.

Ons sal voortgaan om plaaslike owerhede te versterk, die Staatsdiens te professionaliseer en te verseker dat staatsamptenare verantwoordelik gehou word vir hul optrede.

Ons sal voortgaan om ons ekonomie te posisioneer om in ʼn vinnig veranderende wêreld te groei en mee te ding, om klein besighede te ondersteun, om vir jongmense ekonomiese geleenthede te skep en om maatskaplike beskerming aan die kwesbares te bied.

Ons sal voortgaan met die werk om die land se fiskale posisie te verbeter en op koers te bly op ʼn gesonde makro-ekonomiese trajek.

Ons sal die geleenthede gebruik wat die AfKVHG bied om ons handel te versterk en ons nywerhede uit te brei.

Ons sal voortgaan om ʼn inklusiewe ekonomie te bou met die fokus op die bemagtiging van swart en vroulike Suid-Afrikaners, die bevordering van werkers se regte, die intensivering van grondhervorming en die nastreef van ʼn billike energie-oorgang wat niemand agterlaat nie.

Mede-Suid-Afrikaners,

terwyl ons 30 jaar van vryheid vier, moet ons standvastig bly in ons verbintenis tot ons grondwetlike demokrasie en die belofte wat dit inhou van ʼn beter lewe.

Ons moenie toegee aan diegene wat hulle verset teen die verantwoordelikheid wat die Grondwet op ons almal plaas om die ongeregtighede van die verlede reg te stel en ons ekonomie en samelewing fundamenteel te transformeer nie.

Ons moet hierdie mense herinner aan die verpligting wat die Grondwet op die Staat plaas om almal se reg op behuising, gesondheidsorg, voedsel, water, maatskaplike sekuriteit, veiligheid en onderwys in toenemende mate te verwesenlik.

Terselfdertyd moet ons niemand toelaat om kardinale demokratiese instellings af te takel, die regbank te verguis of die grondwetlike gesag van hierdie Parlement uit te daag nie.

Ons moenie toegee aan diegene wat poog om ons nasie te verdeel, geweld aan te blaas en ons demokrasie te ondermyn nie.

Soos in die verlede moet Suid-Afrika se mense in die toekoms saamstaan teen enige poging om dit wat ons demokrasie bereik het, ongedaan te maak.

As Voorsitter van die Grondwetlike Vergadering het ek saam met talle groot leiers van ons land gewerk om ʼn Grondwet saam te stel wat ʼn ware weerspieëling van die wil van Suid-Afrika se mense is.

As President ag ek dit as my primêre plig om ons Grondwet te verdedig en elke dag daaraan te werk om die belofte te verwesenlik wat dit inhou.

Namate ons aanbeweeg, moet ons onthou dat dit in ons hande is – niemand anders sʼn nie – om Suid-Afrika se toekoms te bepaal.

Ons is nie passiewe waarnemers van ons geskiedenis nie.

Ons is die outeurs daarvan.

Ons is die bouers van hierdie land wat ons ons tuiste noem.

Terwyl ons na die volgende 30 jaar van vryheid kyk, moet ons die soort land kies, en inderdaad die soort wêreld, wat ons vir onsself en vir ons kinders wil skep.

Ons is verbind tot ʼn Suid-Afrika waarin ons gemeenskaplike identiteit gesetel is in ons erkenning van mekaar se menslikheid.

Ons wil ʼn land hê waarin elke persoon vry is om presies te wees wie hulle is, ongeag hul ras, gender, seksuele oriëntasie, etnisiteit of geloof.

Ons wil ʼn land hê waarin dieselfde geleenthede vir elke kind beskikbaar is, of hulle nou in Sandton, in Mdantsane, in Sekhukhune, in Mitchell's Plein of in Phoenix gebore is.

Ons wil ʼn land hê waarin die oppergesag van die reg vir almal geld, ongeag hoe ryk hulle is of watter posisie hulle beklee nie.

Terwyl ons die reis saam voortsit om van hierdie visie ʼn werklikheid te maak, word ons geïnspireer deur die demokrasie se kinders, deur hul energie, deur hul kreatiwiteit en deur hul entoesiasme.

Ons is geïnspireer deur die jongmense wat ons hoop na die wêreldverhoog gedra het, van die Springbokke tot Banyana Banyana, van die heldhaftige Bafana Bafana tot Grammy-toekenningwenners soos Tyla.

Met ons viering van die 30ste herdenking van vryheid word ons herinner aan die woorde van President Nelson Mandela, wat gesê het dat nadat jy ʼn hoë heuwel geklim het, jy net sal vind dat daar nog talle heuwels is om te klim.

Hy het gesê:

“Ek het ʼn oomblik geneem om hier te rus, om die wonderskone uitsig te geniet wat my omring, om terug te kyk na hoe ver ek gekom het.

"Maar ek kan net ʼn oomblik lank rus, want met vryheid kom verantwoordelikhede, en ek durf nie talm nie, want my lang pad is nog nie op ʼn einde nie."

Ons het ver gekom, maar ons het nog ʼn lang pad om te stap.

Soos Madiba moet ons aanhou beweeg, altyd vorentoe, altyd vorentoe, na die land van ons drome. Altyd glo dat ons verseker is van oorwinning.

Ek dank u.

Issued by
More from

Share this page

Similar categories to explore