Verklaring van die Kabinetsvergadering van Woensdag 13 September 2023.

A. Kwessies in die omgewing

1. G20-beraad

1.1. Die Kabinet het Premier Modi en Indië gelukgewens met die aanbieding van 'n suksesvolle G20-beraad en die toelating van die Afrika-unie (AU) as 'n volle lid van die G20.
1.2. Suid-Afrika, onder leiding van Sy Eksellensie, President Cyril Ramaphosa, het voorspraak gemaak vir die toelating van die AU as 'n volle lid van die G20, ook tydens die 2022 G20-beraad in Bali, Indonesië.
1.3. Die AU se deelname as 'n volle lid sal die stem van die globale Suide oor die algemeen en Afrika in die besonder oor globale ekonomiese bestuur versterk.
1.4. Suid-Afrika het ook van die geleentheid gebruik gemaak om voorspraak te maak vir 'n verbeterde en uitgebreide globale vennootskap vir volhoubare ontwikkeling om verpligtinge rakende klimaatsverandering na te kom.
1.5. Die G20-leiers het hulle onder meer daartoe verbind om:

(a) sterk, volhoubare, gebalanseerde en inklusiewe groei te versnel;
(b) die volle en doeltreffende implementering van die 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling te versnel;
(c) lae vrystellings van kweekhuisgasse/koolstof en klimaatbestande en omgewingsvolhoubare ontwikkelingsweë na te streef deur 'n geïntegreerde en inklusiewe benadering voor te staan;
(d) toegang tot mediese teenmaatreëls te verbeter, en om meer voorrade en produksievermoëns in ontwikkelende lande te fasiliteer om hulle beter voor te berei vir toekomstige gesondheidsnoodgevalle;
(e) finansiering uit alle bronne te verhoog om vordering met volhoubareontwikkelingsdoelwitte te versnel;
(f) pogings te versnel en hulpbronne te verbeter om die Parys-ooreenkoms, waaronder ook die temperatuurdoelwit, te bereik;
(g) hervormings vir beter, groter en doeltreffender Multilaterale Ontwikkelingsbanke na te streef om globale uitdagings die hoof te bied en sodoende die impak van ontwikkeling te vergroot;
(h) die gaping tussen die geslagte te sluit en die volle, gelyke, doeltreffende en betekenisvolle deelname van vroue aan die ekonomie as besluitnemers te bevorder.
(i) die perspektiewe van ontwikkelende lande, waaronder dié van lande wat die minste ontwikkel is, dié wat deur land omring is en ontwikkelende kleineiland-lande, doeltreffender in toekomstige G20-agendas te integreer en die stem van ontwikkelende lande in globale besluite te versterk.

1.6. Op die kantlyn van die G20-beraad het Suid-Afrika deelgeneem aan die EU-Afrika-leiersvergadering, wat oor voedselsekerheid, graan- en kunsmisvoorsiening asook die hervorming van die globale finansiële argitektuur beraadslaag het.

2. Die Afrika-klimaatberaad

2.1. Die Kabinet het President Ruto van Kenia gelukgewens met die suksesvolle aanbieding van Afrika se eerste klimaatberaad ooit. Die beraad het Afrika se beduidende hernubare energiebronne en die geleenthede wat gebied word vir die vasteland se volhoubare groei en ontwikkeling ten toon gestel.
2.2. Die beraadsverklaring het ’n beroep gedoen vir die ontwikkeling van nuwe, volhoubare skuldlose finansiële bronne om Just Energy Transitions te finansier en klimaatsveerkragtigheid te bou op 'n manier wat werk skep en armoede beveg.
2.3. Op die kantlyn van die beraad het Suid-Afrika aan die African Green Hydrogen Alliance- (AGHA-) forum deelgeneem en die voorsitterskap van die Forum oorgeneem.

3. Elektrisiteit

3.1. Die Kabinet is op die hoogte gebring van die huidige beplande instandhoudingsprogram wat tans deur Eskom geïmplementeer word om die volhoubaarheid van Eskom se installasies te verseker. Die doelgerigte implementering van die beplande aanleginstandhoudingsprogram het die afgelope dae tot verhoogde stadiums van beurtkrag gelei.
3.2. Die implementering van fase 6-beurtkrag in die afgelope week was 'n regressie van die tendense wat in die vorige weke van laer stadiums van beurtkrag geheers het.
3.3. Die Kabinet is verseker dat die huidige implementering van verhoogde stadiums van beurtkrag 'n korttermynfase is, aangesien Eskom voorberei vir meer volgehoue en verminderde stadiums van beurtkrag in die nabye toekoms.
3.4. Die Minister in die Presidensie vir Elektrisiteit, dr Kgosientsho Ramokgopa, sal Suid-Afrikaners steeds op die hoogte hou van die vordering wat gemaak word om die huidige elektrisiteitsuitdagings die hoof te bied en van die stappe wat geneem word om uiteindelik beurtkrag te beëindig.

4. Ekonomie, beleggings en handel

4.1. Bruto Binnelandse Produk

4.1.1. Die Kabinet is tevrede met die veerkragtigheid van die Suid-Afrikaanse ekonomie soos blyk uit die data van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) vir die tweede kwartaal, wat deur StatsSA vrygestel is. Dit is ondanks die heersende moeilike wêreldwye ekonomiese toestande en die voortdurende  elektrisiteitsituasie in die land. StatsSA het 'n toename van 0,6% BBP in die tweede kwartaal van 2023 gerapporteer. Die vervaardigingsbedryf het in die tweede kwartaal met 2,2% toegeneem, wat 0,3 van 'n persentasiepunt tot BBP-groei bygedra het. Die volgehoue verbeterings in vervaardigingsdata dui op ’n toename in die produksiekapasiteit, wat op sy beurt bydra tot 'n toename in die totale vervaardigingsbenutting.
4.1.2. Die afdeling petroleum, chemiese produkte, rubber- en plastiekprodukte het die grootste bydrae tot die toename in die tweede kwartaal gelewer. Die afdeling basiese yster-en-staal-produkte, nie-ysterhoudende metaalprodukte, metaalprodukte en masjinerie het ook 'n beduidende bydrae tot die groei in hierdie bedryf gelewer. Die finansies-, eiendoms- en sakedienstebedryf het in die tweede kwartaal met 0,7% toegeneem, wat 0,2 van 'n persentasiepunt tot BBP-groei bygedra het. Die landbou-, bosbou- en visserybedryf het in die tweede kwartaal met 4,2% toegeneem, wat 0,1 van 'n persentasiepunt tot BBP-groei bygedra het. Die persoonlikedienstebedryf het in die tweede kwartaal met 0,7% toegeneem, wat 0,1 van 'n persentasiepunt tot BBP-groei bygedra het.

4.2. Implementering van die pluimveesektor se meesterplan

Die Kabinet het 750 poste verwelkom wat by die Rainbow Chickens-fasiliteit in Hammarsdale geskep is; dit dui op die sukses van die implementering van die Pluimveemeesterplan. Gedurende 2017 het Rainbow Chickens meer as 1 000 werkers afgelê en die bedrywighede gesluit. Ná die aanvaarding van die meesterplan het die regering 'n verskeidenheid maatreëls in plek gestel om die plaaslike pluimveebedryf te beskerm, waaronder die plasing van teenstortingsregte op pluimvee wat van produsente uit vyf lande ingevoer word. Dit, tesame met verhoogde belegging en maatreëls om die bedryf te transformeer en meer maatskappye in swart besit in die mark te bring, het daadwerklike suksesse behaal. Rainbow Chickens het sedertdien heropen en R220 miljoen belê. Daar is berig dat algehele indiensneming in die pluimveebedryf met 2 780 poste toegeneem het, en meer as R2 miljard se nuwe belegging geïmplementeer is.

4.3 R5 miljard se beleggingsbeloftes deur vervaardigers van motorkomponente

Die Kabinet verwelkom beleggingsbeloftes van ongeveer R5 miljard wat onlangs deur vervaardigers van motorkomponente by die NAACAM Skou gemaak is. Hierdie beloftes, deur maatskappye wat in Suid-Afrika bedrywig is, toon die vertroue van die bedryf in die Suid-Afrikaanse mark en die geleenthede om die produksie van komponente, wat aan motormonteerders 'n meer veerkragtige aanbodbasis bied, te lokaliseer. Kort ná die aankondiging het die Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging die Benteler-aanleguitbreiding in die Oos-Kaap amptelik geopen, wat komponente vir plaaslike motormonteerders vervaardig. Die uitbreiding van produksie sal na raming invoere ter waarde van R1 miljard vervang, en die arbeidsmag het tot 743 werkers gegroei.

5. Stellantis-belegging in Suid-Afrika

5.1. Die Kabinet verwelkom Stellantis se bevestiging van sy voorneme om 'n groenveld-vervaardigingsaanleg in Coega, Suid-Afrika, te ontwikkel. Die groenveld-vervaardigingsprojek sal na verwagting teen die einde van 2025 voltooi wees. Die eerste bekendstelling, wat vir vroeg in 2026 beplan word, is vir 'n 1 ton-bakkie met volumes wat na verwagting jaarliks tot 50 000 sal bereik, ook vir uitvoer, in ooreenstemming met die bedryf se meesterplan, bekend as die Automotive Production Development Programme (APDP).
5.2. Direkte indiensneming om die eerste kapasiteitsplan te ondersteun, sal na verwagting 1 000 poste insluit. Stellantis gaan ’n massiewe belegging in die vorm van meer as 500 000 uur se opleiding en vaardigheidsontwikkeling maak om die plaaslike spanne tot die vlak van globale standaarde te ontwikkel en te ondersteun. Die teiken is ’n lokaliseringskoers van meer as 30%.

6. Grootste sentrum vir slimvaardighede

6.1. Die Onderwys- en Opleidingsowerheid vir die Chemiese Nywerhede het 'n sentrum vir slimvaardighede in Babanango in KwaZulu-Natal geloods, wat tegnologiegeaktiveerde leerprogramme in die provinsie sal verskaf. Hierdie projek, wat deel is van die regering se planne om ’n omwenteling teweeg te bring in die ontwikkeling van digitale vaardighede, sal na alle provinsies uitgebrei word.
6.2. Hierbenewens het die Kabinet die bekendstelling van die Nasionale Plan vir Naskoolse Onderwys en Opleiding verwelkom, wat daarop gemik is om vaardigheidsontwikkeling met die eise van die werkplek te belyn en sodoende te help om Suid-Afrika se vaardigheidswanverhouding reg te stel.

7. Infrastruktuur

7.1. Water en Sanitasie: Artikel 63-ingryping in Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit

7.1.1. Die Kabinet het die jongste inligting oor vordering met die Artikel 63-ingryping in Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit ontvang.
7.1.2. Die Kabinet is ingelig oor die oorsake van afvalwaterprobleme in Emfuleni en die ingrypings wat geïmplementeer word om die probleme op die  kort, medium en lang termyn die hoof te bied.
7.1.3. Die Kabinet is ingelig oor die vordering wat Rand Water gemaak het om rioolstortings te hanteer deur ineengestorte of gebarste rioolpype te herstel en verstoppings in rioolpypleidings te verwyder.
7.1.4. Daarbenewens is die Kabinet ook ingelig oor die vordering met die opknapping en/of opgradering van rioolpompstasies en vervanging van groot pypleidings wat ineengestort het of waar pype gereeld bars. Dit het meganiese en elektriese herstelwerk aan die afvalwatersuiweringsaanlegte in die munisipaliteit ingesluit.
7.1.5. Op die lang termyn sal die werk die opgradering van kapasiteit van drie groot afvalwatersuiweringswerke behels, naamlik die Leeuwkuil-, Sebokeng- en Rietspruit-afvalwatersuiweringswerke.
7.1.6. GCIS sal in samewerking met die Departement van Water en Sanitasie en Rand Water 'n terreininspeksie by Emfuleni reël.

7.2. N4/Montrose/Schoemanskloof-wisselaar

7.2.1. Die Kabinet het die opening van die opgegradeerde N4/Montrose/Schoemanskloof-wisselaar in Mpumalanga, wat deel van die Maputo-korridorontwikkelingsinisiatief uitmaak, verwelkom. Die opknappings sal reistyd vir padvragvervoer verminder en die reis vir alle padgebruikers veiliger maak.
7.2.2. Hierdie projek het meer as 350 werksgeleenthede geskep en subkontrakteursgeleenthede vir verskeie plaaslike maatskappye gebied in ooreenstemming met ons verbintenis tot die opheffing en vaardigheidsontwikkeling van plaaslike gemeenskappe.

7.3. KwaMashu-Durban-passasierspoorkorridor

7.4. Die Kabinet het die heropening van die KwaMashu-Durbanstasie-passasierspoorkorridor verwelkom en het ook die nuwe, veilige en skoon blou treine op die korridor bekendgestel. 13 koöperatiewe maatskappye sal die treine en treinstasies skoonmaak en in stand hou. Die aantal passasiers is besig om merkwaardig toe te neem, aangesien treine steeds uiters bekostigbare vervoer bied.

8. Stryd teen misdaad en korrupsie

8.1. Operasie “Bring Back”

8.1.1. Die Kabinet loof die opgradering van Operasie “Bring Back” om die onwettige besetting van staatsgeboue te identifiseer en te herstel. As deel van hierdie inisiatief ondersteun die nasionale regering munisipaliteite om die toepassing van stadsverordeninge te verseker om kaping van geboue te stuit. Dit sal ook ondersteuning bied vir die doeltreffende bestuur en benutting van geboue en sal die vermoë om rekenskap te gee van die aanwending van die regering se vaste bates verseker.

8.2. Geïntegreerde stryd teen misdaad 

8.2.1. Die Kabinet het die onlangse suksesse deur die land se wetstoepassingsagentskappe in die stryd teen misdaad verwelkom.
8.2.2. In die eerste kwartaal van 2023 het die Valke 611 verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op verskeie items, waaronder edelmetale en diamante, bedreigde spesies, voertuie, kontant, vuurwapens, ammunisie, vervalste goedere, plofstof en elektroniese toestelle ter waarde van R6 112 768 985.
8.2.3. Daarbenewens het wetstoepassers nege Zama-Zama-leiers gearresteer en is bewaringsbevele teen hul bates toegestaan, wat luukse voertuie soos Lamborghini's ens., edelmetale en kontant ter waarde van R34 miljoen insluit.

8.2. Die Kabinet loof wetstoepassingsagentskappe vir hul stryd om misdaadsindikate aan die kaak te stel. Die suksesvolle optrede in die hantering van ʼn swaargewapende bende wat verband hou met 'n reeks kontant-in-transito-rooftogte in Limpopo is prysenswaardig. Die Kabinet herhaal dat wetstoepassing geen steen onaangeroer moet laat in die hantering van diegene wat poog om Suid-Afrika se nasionale veiligheid en die wette van die Republiek te ondermyn nie.

8.3. Die Kabinet het die inhegtenisname van nege amptenare van die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid vir PBT-korrupsie verwelkom. Die verdagtes word van bedrog, korrupsie, geldwassery en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla.

9. Die Regering se standpunt oor die Nasionale Gesondheidsversekering

9.1. Die Kabinet het gesamentlik sy vaste verbintenis tot die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) herhaal as ’n manier om te verseker dat alle Suid-Afrikaners toegang tot gehaltegesondheidsorg het. Die verbintenis tot die NGV is gegrond op die feit dat beide openbare en private gesondheidsektore nie volhoubaar is nie. Die huidige parallelle en gefragmenteerde stelsels moet in 'n nasionale stelsel geïntegreer word sodat alle hulpbronne vir alle mense toeganklik is. Die implementering van die NGV is gegrond op die implementering van 'n omvattende benadering om infrastruktuurverbetering in die openbare sektor te versnel. Dit is nie iets wat afsonderlik van die hervormings in die NGV-wetsontwerp oorweeg moet word nie.
9.2. Deur net op die beoogde hervormings van private finansiering van gesondheidsorg te fokus, het afbreuk gedoen aan die wetsontwerp se beoogde hervormings van openbare en private voorsiening van dienste. Dit is deur die hervorming van die diensplatform dat ruimte geskep sal word vir die ontstuwing van openbare fasiliteite. Wanneer die NGV-fonds dienste van beide openbare en private verskaffers kan koop, sal ons begin sien hoe die druk van openbare fasiliteite wat onder groot druk is, verlig word. Die opsetlike verdraaiing dat die aanvaarding van die wetsontwerp alles oornag sal hervorm, is bloot moedswillig. Die oorgangsbepalings stel dit duidelik dat die implementering tyd sal neem en dat die hervormings in fases geïmplementeer sal word.

10. Die Regering se standpunt oor die fiskale beperkings

10.1. Die Kabinet waardeer die huidige fiskale beperkings, wat nie uniek aan Suid-Afrika is nie, maar gelei het tot ’n midjaar-begrotingstekort. Die Kabinet het herhaal dat maatreëls om die begrotingstekort die hoof te bied nie 'n negatiewe uitwerking op dienslewering moet hê nie.
10.2. Die Minister van Finansies sal binnekort riglyne uitreik wat die onbedoelde misverstand sal uitklaar wat voortspruit uit die kostebeperkingsbrief van 31 Augustus 2023. Daarbenewens, as deel van die midjaar-prestasieoorsig oor vordering met die implementeringsprioriteite waartoe met ministers ooreengekom is, sal die President en Adjunkpresident met individuele ministers vergader om te verseker dat fiskale bestuur nie die ooreengekome prioriteite ontspoor nie.

B. Kabinetsbesluite

1. Beleid oor die voorkoming en behandeling van dwelmgebruikversteurings

1.1. Die Kabinet keur goed dat die Beleid oor Voorkoming en Behandeling van Dwelmgebruikversteurings in die Staatskoerant gepubliseer word. Die beleid is daarop gerig om die land se dwelmmisbruikvlakke die hoof te bied.
1.2. Die beleid sal ander middelmisbruik-ingrypings aanvul, soos die Nasionale Dwelmmeesterplan, wat die eerste keer tussen 2013 en 2017 geïmplementeer is. Dit sal handel met leemtes wat in die Wet op die Voorkoming van en Behandeling vir Middelmisbruik geïdentifiseer is.
1.3. Die beleid stel gemeenskapsgebaseerde voorkomingsprogramme voor, wat doeltreffend kan wees om te help om die groot uitdagings wat uit dwelmmisbruik voortspruit te hanteer.
1.4. Die beleid sal op die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se webwerf www. dsd.gov.za gepubliseer word.

2. Implementering van die Toerisme-aandelefonds

2.1. Die Kabinet is ingelig oor die skikking wat bereik is oor die implementering van die Toerisme-aandeelfonds (TEF) na aanleiding van die hofsaak wat deur Afriforum en Solidariteit aanhangig gemaak is.
2.2. Die Kabinet is ingelig oor die stappe wat geneem is om die skikkingsooreenkoms te implementeer, asook die veranderinge aan die TEF wat op grond van die skikkingsooreenkoms aangebring is.
2.3. Die TEF sal gevolglik geïmplementeer word in ooreenstemming met die bestaande Toerismesektorkode se teikens van ’n minimum 30% swart eienaarskap in plaas van die TEF-teikens van 51% wat oorspronklik voorgestel is.
2.4. Die Kabinet het die implementering van die TEF ondersteun.

C. Wetsontwerpe

1. Konsepwetsontwerp op die Staatsdienkommissie (SDK)

1.1. Die Kabinet het goedgekeur dat die Wetsontwerp op die Staatsdienskommissie, wat die SDK-wet, nr. 46 van 1997 wysig, aan die Parlement voorgelê word.
1.2. Die wysigings sal die SDK in staat stel om as 'n onafhanklike en onpartydige grondwetlike liggaam te funksioneer met die oog daarop om sy bevoegdheid en doeltreffendheid binne die Staatsdiens te verbeter.
1.3. Die Wetsontwerp brei ook die mandaat van die SDK uit na munisipaliteite en openbare entiteite en verskaf 'n wetgewende raamwerk vir die SDK se toesigrol in die implementering van die Nasionale Raamwerk vir die Professionalisering van die Openbare Sektor.

2. Konsepwetsontwerp op Akwakultuurontwikkeling

2.1. Die Kabinet het die publikasie van die Konsepwetsontwerp op Akwakultuurontwikkeling goedgekeur vir openbare kommentaar. Die doel van die Wetsontwerp is om:

  • die ontwikkeling van 'n verantwoordelike akwakultuursektor vir ’n betekenisvolle bydrae tot voedselsekerheid en ekonomiese ontwikkeling vir die land te bevorder,
  • die groter deelname van klein ondernemings, veral dié wat deur vroue en die jeug besit word, te ondersteun; en
  • die transformasie van die akwakultuursektor te bevorder.

3. Konsepwetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings

3.1 Die Kabinet het die publikasie van die konsepwetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings vir openbare kommentaar goedgekeur.

3.2. Die konsepwetsontwerp stel voor:

3.2.1. Die konsolidasie van die Staat se aandeelhouding in strategiese ondernemings in staatsbesit; en
3.2.2. Die vestiging van die Staat se Batebestuur SOC Bpk as 'n beheermaatskappy vir staatsaandeelhouding van strategiese ondernemings in staatsbesit, met die Staat as die enigste aandeelhouer.

4. Herroeping van die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Lugdiens

4.1. Die Kabinet het die publikasie van die Herroeping van die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Lugdiens vir openbare kommentaar goedgekeur.
4.2. Die Herroeping van die SAL-wet is daarop gemik om uitvoering te gee aan die veranderinge wat meebring dat die regering nie meer ʼn meerderheidsbelanghebbende van die SAL is nie.
4.3. Die herroeping van die SAL-wet verander nie die voortgesette korporatiewe bestaan van die maatskappy kragtens die Maatskappywet nie; en
4.4. Die regte verbonde aan staatsaandele in die SAL sal deur die aangewese aandeelhouerverteenwoordiger namens die Staat uitgeoefen word.

D. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

1. Aanstelling van raadslede vir die Vaal Sentrale Waterraad

1.1. Mnr Makhosini Solomon Msibi (Voorsitter);
1.2. Mnr Lungile Right Bomela (Ondervoorsitter);
1.3. Mnr Luvuyo Xola Ntoyi;
1.4. Me Elizabeth Cornelia Rockman;
1.5. Me Ntikila Sandlana
1.6. Mnr Andrew Modisaotsile Rantho;
1.7. Mnr Desmond Solomon Ezekiel Fransman;
1.8. Me Matshego Gail Mercy Jele;
1.9. Me Boipelo Felicity Nakedi;
1.10. Me Tshepiso Doreen Segoe-Backward; en
1.11. Mnr Thabo Moses Manyoni.

2. Aanstelling van raadslede vir Umngeni-Uthukela-Waterraad

2.1. Adv Vusi Khuzwayo (Voorsitter);
2.2. Me Nothando Nonkululeko Mkhize;
2.3. Me Senamile Masango;
2.4. Me Sylvia Thandazile Mhlongo;
2.5. Me Hlengiwe Mvubu;
2.6. Mnr Khanyisani Stanley Shandu;
2.7. Mnr Lavandran Nanda Gopaul;
2.8. Mnr Sibusiso Wycliff Mkhize;
2.9. Mnr Kwazikwenkosi Innocent Mshengu;
2.10. Me Diana Gloria Hoorzuk;
2.11. Mnr James Timothy Cornish; en
2.12. Mnr Sipho Maxwell Mtolo.

3. Aanstelling van raadslede vir die Overberg-Waterraad

3.1. Mnr Razeen Benjamin (heraanstelling en Voorsitter);
3.2. Me Siphiwe Doris Mayinga (heraanstelling en Ondervoorsitter);
3.3. Mnr David Lefutso (heraanstelling);
3.4. Dr Nandipha Daphne Siwahla-Madiba (heraanstelling);
3.5. Prof Gregory Jerome Davids (heraanstelling);
3.6. Me Monica Auphry Malunga;
3.7. Me Nalini Singh-Maharaj;
3.8. Dr Thavamoney Kelly;
3.9. Mnr Bongani Evidence Mnisi;
3.10. Mnr Louis Oudsthoorn; en
3.11. Mnr Dirk van Papendorp.

4. Aanstelling van nie-uitvoerende lede van die Raad van die Nasionale Instituut vir Meteorologie van Suid-Afrika vir ’n tydperk van vyf jaar

4.1. Dr Precious Gugulethu Motshwene;
4.2. Prof Andrew Cedric Buffler;
4.3. Prof Lorna Benita Holtman;
4.4. Me Senamile Masango;
4.5. Me Sarah Natalia Prins;
4.6. Dr James Tshilongo;
4.7. Dr Wynand Louw;
4.8. Dr Alufelwi Maxwell Tshavhungwe; en
4.9. Me Babalwa Songongo.

5. Aanstelling van raadslede vir die Patenteondersoekraad (PEB)

5.1 Me Thandiwe Khumalo (heraanstelling);
5.2 Mnr Paul Sibisi (heraanstelling);
5.3 Me Shanaaz Mohamed (heraanstelling);
5.4 Mnr Johnny Fiandeiro (heraanstelling);
5.5 Dr Magdalena Kleyn; en
5.6. Me C. Mathoto Masetla-Mafa.

6. Aanstelling van nie-uitvoerende direkteure van die Padongelukkefonds se Raad vir ’n tydperk van drie jaar

6.1 Me Lorrain Francois (heraanstelling en Voorsitter);
6.2 Dr Nomonde Buyiswa Mabuya-Moloete (heraanstelling en Ondervoorsitter);
6.3 Adv Nontuthuzelo Njeza;
6.4 Mnr Moses Nyama;
6.5 Mnr Thulani Samuel Tshabalala (heraanstelling);
6.6 Mnr Simphiwe Blose (heraanstelling);
6.7 Me Pamela Bongeka Mathebula;
6.8 Mnr Duke William Mathebula;
6.9 Me Tinyiko Mhlari;
6.10 Dr Pholile Dladla;
6.11 Mnr Kwena Cuthbert Komape; en 
6.12 Me Bongiwe B Khumalo.

E. Toekomstige gebeure

1. Erfenisdag

1.1 Vanjaar se hoofgeleentheid word op 24 September by die Prinses Magogo-stadium in Kwa-Mashu, KwaZulu-Natal, gehou en die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om dit by te woon en ons ryk erfenis saam te vier.

2.  Verenigde Nasies Algemene Vergadering 78

1.2 Suid-Afrika sal van 18 tot 26 September 2023 aan die 78e sessie van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering deelneem onder die tema: Herbou vertroue en laat globale solidariteit opvlam; Versnel aksie vir die 2030-Agenda en die volhoubareontwikkelingsdoelwitte vir vrede, voorspoed, vooruitgang en volhoubaarheid vir almal.”

3. UNESCO se 9e Afrika-Ingenieursweseweek en 9e Afrika- Ingenieurswesekonferensie

3.1 Suid-Afrika sal deur die Ingenieursraad van Suid-Afrika en die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur UNESCO se 9e Afrika-ingenieursweek en die 7e Afrika-ingenieurskonferensie van 25 tot 28 September 2023 in Pretoria aanbied.

4.Suid-Afrika se Skolesport-indaba

Die Departement van Kuns, Sport en Kultuur hou van 14 tot 15 September 2023 'n Nasionale Skolesport-indaba by die Birchwood-hotel in Johannesburg. Skolesport is 'n basis van sportontwikkeling en die indaba dien as 'n regeringsingryping om skolesport in Suid-Afrika te laat herleef.

5. Bekendstelling van die Grensbestuursowerheid

5.1 Die Grensbestuursowerheid 2023 het op 1 April 2023 in werking getree as 'n outonome skedule 3(A)- openbare entiteit, wat dien as die derde wetstoepassingsowerheid in Suid-Afrika. Dit word op 5 Oktober 2023 van stapel gestuur.

6. Die Wet op Afrika-groeigeleenthede (AGOA)

6.1  Suid-Afrika bied op 2 tot 4 November 2023 die AGOA-forum aan. Die forum sal handelsake tussen die Verenigde State van Amerika en die kwalifiserende Afrikalande bespreek.

F. Boodskappe

1. Gelukwense

Die Kabinet het sy gelukwense en goeie wense oorgedra aan:

1.1 Die Springbokke – omdat hulle die Suid-Afrikaanse vlag hoog laat wapper het en die land trots gemaak het deur hul openingswedstryd teen Skotland by die 2023-Rugbywêreldbeker te wen.

1.2 Tariq Moosa en die personeel by Chicano Customs, wat 'n pasgemaakte BMW E9 2800 CS genaamd Nkabi gebou het, wat meer as 6 000 van Europa se beste motors by die Slammed UK-skou in Birmingham geklop het.

1.3 Suid-Afrikaanse Vrouewetenskaplikes wat beloon is vir uitnemendheid by die 2023- Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekennings (SAWiSA), wat deur die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, dr Blade Nzimande, aangebied is. Die Kabinet wens die volgende wenners geluk:

Distinguished Women Researchers: Humanities & Social Sciences

  • Prof. Catherine Ward

Distinguished Young Women-Researchers: Humanities & Social Sciences

  • Prof. Anastacia Mamabolo

Distinguished Women Researchers: Natural & Engineering Sciences

  • Prof. Janine Barbara Adams
  • Distinguished Young Women Researchers: Natural & Engineering Sciences
  • Prof. Usisipho Feleni

Distinguished Young Women: Special Award

  • Dr Tiisetso Elizabeth Lephoto

Distinguished Women: Special Award

  • Dr Patience Thenjiwe Mthunzi-Kufa

DSI Ndoni Mchunu Fellowships: Master’s Awards

  • Me Nyeleti Precious Mabaso
  • Me Modjadji Rebecca Letsoalo
  • Me Gizelle Roque van Niekerk

DSI-Ndoni Mcunu: Doctoral Awards

  • Me Munira Hoosain
  • Me Aletta Susanna Elizabeth Nortje
  • Me Boitumelo Makgabutlane
  • Me Thendo Gertie Makhado
  • Me Bambesiwe Mbesi May
  • Me Carla Dodd
  • Me Ramakgahlela Betty Sebati
  • Me Lusani Mamushiane

2. Condolences

Die Kabinet het sy medelye oorgedra aan die naasbestaandes en vriende van:

  • Die koninkryk en mense van Marokko na die verwoestende aardbewing wat duisende lewens geëis het en talle meer beseer het.
  • Die regering en mense van Libië na die verwoestende oorstromings wat duisende lewens geëis het.
  • Visioenêre entrepreneur, filantroop en die stigter van PicknPay, Raymond Ackerman (92), wat in die visie van 'n beter Suid-Afrika geglo het en talle mense deur sy lewe gementor en geïnspireer het. Hy was ook 'n gewaardeerde lid van die Orde van die Kremetart.
  • Prins Mangosuthu Buthelezi (95), die stigter en Emerituspresident van die Inkatha Freedom Party en Suid-Afrika se eerste Minister van Binnelandse Sake.
  • Onvermoeide kampvegter vir menseregte en vryheid, me Amy Rietstein Thornton (91), wat 'n deurslaggewende rol gespeel het in die ondersteuning van die 1956-Verraadverhoor, as beskermdame van die UDF en in die terugkeer van bannelinge na Suid-Afrika.
  • Geërde vryheidsvegter, aktivis en voormalige ambassadeur mnr Zeph Makgetla (78), wat sy lewe daaraan gewy het om die mense van Suid-Afrika te dien.
  • Voormalige redakteur van Business Day, Jim Jones (81), wat 'n kritieke rol gespeel het in die vorming van openbare diskoers tydens die oorgang na demokrasie.

Navrae:
Me Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485

Share this page

Similar categories to explore