Verklaring van die Kabinetsvergadering van 20 November 2013

21 Nov 2013

1. Die Kabinet se standpunt oor belangrike sake in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet verwelkom die hoë aantal stemgeregtigde kiesers wat gehoor gegee het aan die oproep om registrasie gedurende die aanvanklike registrasietydperk van 9 en 10 November 2013. Stemgeregtigde kiesers wat nog nie geregistreer het nie, word daaraan herinner sodat die registrasietydperk voortduur totdat die datum vir die volgende nasionale verkiesing aangekondig word.

Die Kabinet prys die werk van die Onafhanklike Verkiesingskommissie en doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hul demokratiese reg om te stem – wat deur ons stryd om vryheid en demokrasie verkry is – uit te oefen.

1.2. Die 16 Dae Aktivisme Veldtog van Geen Geweld teen Vroue en Kinders sal vanaf 25 November tot 10 Desember 2013 plaasvind met die tema: “VIKELA MZANSI – Kwanele: Communities united in preventing violence against women and children.”

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hierdie tydperk te benut om ons verbintenis tot die beëindiging van wrede en ontmenslikende gedrag deur sommige in ons samelewing en om ons land opnuut te verbind tot die onvervreembare regte van vroue en kinders.

1.3. Adjunk-president Kgalema Motlanthe sal op 1 Desember 2013 die Wêreld-VIGS-dagherdenking in Mkhondo, Gert Sibande Distrik, Mpumalanga, on 1 Desember 2013 lei, met die tema: “Get wise. Get tested. Get circumcised.”
Die platform sal gebruik word om die nasie vertroud te maak met die regering se pogings om die epidemie te beveg, bewustheid te verhoog en pogings te verskerp om die epidemie hok te slaan. Dit is in ooreenstemming met die Nasionale Strategiese Plan vir MIV en VIGS 2012-2016.

Hierdie Wêreld-VIGS-dag sal ook gebruik word om nuwe lewe in die MIV-Berading-en-toestingveldtog te plaas en die Veldtog vir Mediese Manlike Besnydenis te loods.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om veilige seks te beoefen; om hulle minstens eenmaal per jaar vir MIV te laat toets sodat hulle ingeligte besluite kan neem oor voorkomende maatreëls, behandeling, sorg en ondersteuning; en vir mans en seuns om van mediese dienste vir manlike besnydenis gebruik te maak.

Suid-Afrikaners moet hul deel doen en die ABC-strategie (Abstinence, be faithful, use a condom) as 'n lewenswyse aankweek.

1.4. Die Kabinet beklemtoon die streng afdwinging van verkeersoortredings as deel van die Feeseisoen-veldtog  ̶  Arrive Alive – met die tema ‘Together We Can Save Millions of Lives’, en doen 'n beroep op alle padgebruikers om 'n meer verantwoordelike houding in te neem deur te besef dat voertuigbotsings lewens vernietig.

1.5. Die Kabinet prys die vordering wat gemaak is deur die multi-agentskapsbenadering wat aanvaar is in reaksie op die Presidensiële intervensie in Eldoradopark in Mei 2013, naamlik om dwelm- en bendegeweld en verwante sosio-ekonomiese uitdagings die stryd aan te sê.

Dit het reeds gelei tot die arrestasie van 1 431 mense, waarvan 1 098 verhoorafwagtend is; 1 095 op borgtog vrygelaat is, drie steeds in aanhouding is en 289 op kriminele aanklagte skuldig bevind is.

Die Kabinet doen 'n beroep op gemeenskappe om hulle te weerhou van die gebruik om misdade self te straf of geregtigheid buite die regstelsel te soek, aangesien dit onwettig is en tot misdadige gedrag bydra. Die Kabinet moedig gemeenskappe aan om met die polisie saam te werk om die dwelmbase en –handelaars wat kriminele aktiwiteite aanblaas, uit te roei.

1.6. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die familie en vriende van diegene wat gesterf het as gevolg van die ineenstorting van die konstruksieterrein in Tongaat, KwaZulu-Natal; en wens die beseerdes spoedige herstel toe.

Die Kabinet beklemtoon dat daar arbeidswette bestaan wat die regte van werkers beskerm en het diegene wat vir die ramp verantwoordelik is, veroordeel. Die Kabinet dring daarop aan dat die saak spoedig en indringend opgevolg word.

1.7. Die Kabinet verwelkom die opening van die Nelson Mandela Centre of Memory. Die sentrum huisves sommige van die belangrikste erfenishulpbronne wat 'n opgawe bied van die lewe van Tata Nelson Rolihlahla Mandela.

Hierdie hulpbronne is 'n sleutelelement van ons nasie se erfenis, in die besonder ons bevrydingsnalatenskap. Dit is ons nasie se skatte en moet bewaar word.

Die regering sal voortgaan om Nelson Mandela en sy generasie leiers te vereer vir die ontsaglike bydrae wat hulle tot ons bevryding gelewer het.

1.8. Die Kabinet loof die volgehoue ontplooiing van die multimiljoenrand openbare-infrastruktuurprogram deur die Presidensiële Komitee vir die Koördinering van Infrastruktuur onder leiding van president Jacob Zuma.

Die opening van Spring Grove Dam deur die president is gerig op die uitbreiding van die watertoevoer aan ses munisipaliteite, naamlik eThekwini Metropolitaaanse, uMgungundlovu Distriks-, Msunduzi Plaaslike, Ugu Plaaslike, en Sisonke en iLembe Plaaslike Munisipaliteite.

Die regering het meer as R1 miljard in die projek belê, wat ook werkskepping ten doel het. Gedurende die konstruksie van die dam is altesaam 960 mense in diens geneem.

1.9. President Jacob Zuma sal op 22 November 2013 Koning Sabatha Dalindyebo Munisipaliteit in die Oos-Kaapprovinsie besoek as deel van die Siyahlola Presidensiële Moniteringsprogram.

Dit sal 'n besoek aan Mthatha insluit om die lughaweverbeterings te beoordeel, asook ander presidensiële infrastruktuurprojekte in die omgewing. Mthatha is in 2009 as 'n Rapid High Impact Presidential Intervention Node verklaar en die intervensies is daarop gerig om infrastruktuur-agterstande en diensleweringsuitdagings die hoof te bied, sodat Mthatha ten volle kan herleef.

Die president sal ook die vordering met die regering se infrastruktuurprogramme met betrekking tot die voorsiening van water, elektrisiteit en paaie in die area eerstehands evalueer.

Die aanskakeling van die Thornhill-substasie deur president Jacob Zuma sal netwerk-kapasiteit verskaf wat genoeg is om die agterstand van ongeveer 25 000 huishoudings uit te wis.

1.10. President Jacob Zuma sal vanaf 26 tot 27 November 2013 'n staatsbesoek aan Accra, Ghana, bring. Hierdie besoek sal ons bestaande sterk bilaterale verhouding met Sjina verdiep en intra-handel op die kontinent bevorder.

1.11. President Jacob Zuma is geskeduleer om op 21 November 2013 as voorsitter van die Suid-Afrika ̶ Botswana Bi-Nasionale Kommissie (BNC) op te tree. Dit sal bilaterale betrekkings en samewerking tussen die twee buurlande versterk. Hierdie jaarlikse BNC op staatshoofvlak is verlede jaar ingestel om die status van die Gesamentlike Permanente Kommissie vir samewerking en die Gesamentlike Permanente Kommissie vir Samewerking oor Verdediging en Sekuriteit te verhoog.

1.12. Die Kabinet verwelkom Suid-Afrika se verkiesing tot die Verenigde Nasies se Raad op Menseregte (op 12 November 2013). Ons termyn begin op 1 Januarie 2014, wat saamval met die land se viering van 20 jaar van Vryheid. Dit herbevestig ons verbintenis tot die versekering van die menseregte van al ons landsburgers, die burgers van die Afrika-kontinent en burgers van regoor die  wêreld.

1.13. Die Kabinet sluit hom by die internasionale gemeenskap aan en spreek sy opregte waardering uit teenoor daardie nieregeringsorganisasies wat tot die internasionale hulpverlening aan slagoffers van die orkaan Haiyan in die Filippyne bygedra het.

Die gees van Ubuntu sal voortgaan om die smart van die Filippynse mense gedurende hierdie moeilike tyd te verlig.

1.14. Die Kabinet verwelkom die aankondiging van nog 'n mylpaal in die lewe van die Gauteng-hoofweg-verbeteringsplan, wanneer die tolstelsel vanaf 3 Desember 2013 op aangewese gedeeltes van Gauteng se hoofpaaie geïmplementeer word.

Motoriste wat nog nie vir e-tol geregistreer het nie, word aangemoedig om dit binnekort te doen om te verseker dat hulle vir die afslagtariewe kwalifiseer.
1.15. Die Kabinet loof die Departemente van Wetenskap en tegnologie en Hoër Onderwys en Opleiding asook die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie vir die geskiedkundige bekendstelling van die land se eerste CubeSat in Rusland vandag, 21 November 2013.

Die satelliet, wat waardevolle ruimte-weerdata sal verskaf, demonstreer Suid-Afrika se bekwaamheid op die terrein van ruimtewetenskap en -tegnologie.

1.16. Die Kabinet verwelkom die verkiesing van die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, as Voorsitter van die Suider- en Oos-Afrika Konsortium vir die Monitering van Onderwysgehalte (SACMEQ) tydens die 37ste UNESCO Algemene Konferensie; dit versterk vertroue in ons onderwysstelsel en  -instellings.

Die doelwit van SACMEQ is om geïntegreerde navorsings- en opleidingsaktiwiteite te onderneem, wat groter geleenthede bied vir onderwysbeplanners en -navorsers om opleiding in die vereiste tegniese vaardighede te ontvang ten einde algemene skoolomstandighede  en die gehalte van basiese onderwys te monitor, evalueer en vergelyk.

1.17. Die Kabinet verleen erkenning aan die  Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, vir sy leidende rol in 'n BRICS vergadering van Onderwysministers, waar verreikende besluite geneem is. Die vergadering is gelyklopend met die 37ste Sitting van UNESCO se Algemene Konferensie gereël. Die vraagstukke wat bespreek is, sluit in: die versterking van samewerking tussen BRICS-universiteite, vennootskappe en die uitruiling van kennis.

Die Ministers het saamgestem dat dit nodig is om 'n meganisme op die hoogste politieke en tegniese vlak in te stel ten einde die geïdentifiseerde samewerkingsterreine te koördineer en implementeer, en dat Suid-Afrika as die huidige voorsitter van BRICS hierdie meganisme sal koördineer. Daar was ook eenstemmigheid onder al vyf lidlande oor die belangrikheid van samewerking tussen BRICS en UNESCO op die terrein van onderwys.

1.18. Die Kabinet neem ken nis van Suid-Afrika se landverslag aan UNESCO, naamlik dat 3,3 miljoen volwasse Suid-Afrikaners van die Kha Ri Gude Mass Literacy Campaign gegradueer het. Dit bring Suid-Afrika nader aan sy verbintenis ingevolge die Verenigde Nasies se "Onderwys vir Almal"-veldtog, naamlik om die land se geletterdheidskoers teen 2015 te halveer. Die veldtog is in Februarie 2008 van stapel laat loop, met die oogmerk om 4,7 miljoen volwassenes bo die ouderdom van 15 jaar te help om in een van die 11 amptelike landstale geletterd en gesyferd te raak.

1.19. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die wenners van die Nasionale Batho Pele Toekennings vir Uitnemendheid, wat daarna streef om professionaliteit te vestig en uitnemendheid in die Staatsdiens te erken, beloon en aan te moedig ten einde groter hoogtes te bereik.

1.20. Die Kabinet prys die onlangse uitmuntende vertonings deur Bafana Bafana, die Proteas en die Springbokke en wens ook Itumeleng Khune geluk, wat as die  Suid-Afrikaanse Sportster vir 2013 aangewys is. Die Kabinet benadruk dat Suid-Afrika 'n wen-nasie is en wys spesifiek daarop dat Suid-Afrika Woensdag-oggend met 'n lied in die hart wakker geword het ná Bafana Bafana se oorwinning van 1-0 oor Spanje. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hul agter ons nasionale spanne te skaar.

1.21. Die Kabinet word deur die Kluster vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit, (JCPS) ingelig oor die verslag van die Openbare Beskermer oor sekuriteitsmaatreëls by president Jacob Zuma se huis in Nkandla. Die Kabinet is meegedeel dat die regering se interaksie met die Openbare Beskermer oor hierdie saak gegrond is op die beginsel van die sekuriteit van die Staatshoof.

Die Kabinet is ook meegedeel dat 'n verslag van 'n regeringstaakspan oor sekuriteitsopgraderings by Nkandla na die Gesamentlike Staande Komitee oor Intelligensie verwys is, wat daarna sy eie Spesiale Verslag oor hierdie aangeleentheid gepubliseer het. Die regeringstaakspan het aan die Gesamentlike Staande Komitee op Intelligensie  gerapporteer dat daar geen bewyse was dat die Departement van Openbare Werke vir die oprigting van huise vir die president betaal het nie. Ministers van die JCPS-kluster is na hierdie Kabinet-inligtingsessie uitgenooi en is beskikbaar om vrae oor hierdie aangeleentheid te beantwoord.

2. Sleutelbesprekings en -besluite van die Kabinet

2.1. Die Kabinet het die Konsepwitskrif oor Naskoolse Onderwys en Opleiding: “Building an Expanded, Effective and Integrated Post-School Education and Training System”, goedgekeur.

Die Konsepwitskrif sit strategieë uiteen oor die huidige voorsiening van onderwys en opleiding in Suid-Afrika. Dit is gerig op die verbetering van gehalte, die integrasie van die onderskeie losstaande elemente van die naskoolse stelsel, en sit ook modaliteite uiteen vir maniere waarop werkgewers in sowel privaat en openbare sektore 'n belangrike rol in die skepping van 'n geskoolde arbeidsmag kan speel.

Die Witskrif benadruk inklusiewe groei en indiensneming, wat noodsaaklike elemente van die Nasionale Ontwikkelingsplan is.

Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding sal verdere inligting verskaf.
2.2. Die Kabinet is ingelig oor die Ministeriële Komitee se verslag oor die Oorsig van die Befondsing van Universiteite en verleen goedkeuring dat die verslag vrygestel word vir openbare kommentaar deur universiteite.

Die befondsing van universiteite verskil geensins van die breër uitdagings waarmee die land te kampe het nie, en sluit in die verligting van die lot van benadeelde instellings, terwyl daar verseker word dat veranderinge in hulpbrontoewysing nie die vermoë van die bevoordeelde instellings om internasionaal erken en mededingend te bly, belemmer nie.

2.3. Die Kabinet het die Bio-ekonomiese Strategie vir Suid-Afrika goedgekeur.
Die Bio-ekonomiese Strategie is 'n wetenskaplik-gefundeerde strategie vir die posisionering van bio-innovering as 'n sleuteldoelwit van verskeie lyndepartemente. Dit vereis ook 'n hegte verhouding met die nywerheidsektor om te verseker dat bio-tegnologie en bio-innoverings meer mark-relevant is en dat dit makliker toepassing in Suid-Afrika vind.

Suid-Afrika se Bio-ekonomiese Strategie verskaf 'n ekonomiese enjin vir die nuwe ekonomie, wat weer op sy beurt 'n basis vir toekomstige groei sal bied.

2.4. Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die implementering van die Uitgebreide program vir Openbare Werke (EPWP) se Hoëvlakvoorstel vir Fase 3 (2014-2019). Die oorkoepelende mikpunt van 7.5 miljoen werksgeleenthede oor die vyfjaartydperk (2014/2015 – 2018/2019) is gegrond op die mikpunte van die Openbare Indiensnemingsprogramme, wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan geartikuleer word.

Die Kabinet het die instelling van die Presidensiële Kommissie vir die Koördinering van Openbare Indiensneming goedgekeur om openbare indiensnemingsprogramme te koördineer en daaroor verslag te doen. Dit sal belyn wees met die werk van die Presidensiële Kommissie vir die Koördinering van Infrastruktuur.

Die EPWP streef daarna om steeds 'n groter bydrae te lewer tot die uitwissing van die drievoudige uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid. Die huidige ekonomiese afswaaifase het 'n negatiewe impak op indiensneming in die land gehad en het die belangrikheid van die EPWP as 'n sleutel-regeringsinisiatief om tot ontwikkeling by te dra en  werkloosheid te verminder, selfs verder verhoog.

2.5. Die Kabinet het die tertafellegging van die Instrument vir die Wysiging van die Grondwet van die Internasionale Arbeidsorganisasie, 1986, in die Parlement  vir bekragtiging goedgekeur.

Die hoofdoel van die voorgestelde Wysiging is om lidmaatskap van die beheerliggaam van die Internasionale Arbeidsorganisasie meer verteenwoordigend te maak deur die instelling van 'n aanstellingsmetode wat die onderskeie geografiese, ekonomiese en maatskaplike belange van sy samestellende groepe in ag neem.

Wat betref die bevordering van die Afrika-agenda en, indien die 1986 Grondwetlike Wysiging van krag sou word, sal Suid-Afrika bevoordeel word ten aansien van die spesiale kenmerke wat volgens die instrument vereis word om tot 'n permanente setel verkies te kan word.

2.6. Die Kabinet neem kennis van die aanvaarding van die "Recommendations on the Social Protection Floor" deur die Internasionale Arbeidsorganisasie en keur die tertafellegging daarvan in die Parlement vir bekragtiging goed.

Die "Social Protection Floor"-benadering is 'n geïntegreerde stel maatskaplike beleide wat ontwerp is om inkomstesekerheid te waarborg en toegang tot noodsaaklike maatskaplike dienste vir almal te waarborg, met 'n besondere fokus op kwesbare mense en die beskerming en bemagtiging van mense oor die hele lewensiklus heen.

2.7. Die Kabinet verleen goedkeuring dat Suid-Afrika as gasheer optree vir die 4de Internasionale Mededingingskonferensie in 2015.

Die Konferensie bied 'n forum vir die uitruiling van sienings tussen mededingingsagentskappe en nieregeringsadviseurs van BRICS-lande. Dit versterk die institusionele bande wat tot beter internasionale samewerking tussen  hierdie lede lei. Dit vind elke twee jaar plaas en word deur BRICS-lidlande se Mededingingsowerhede aangebied.

2.8. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die tertafellegging van die Beleid oor die Aanstelling van Insolvensiepraktisyns deur die Meester van die Hoë Hof in die Parlement en die publikasie daarvan in die Staatskoerant.

Die fokus van die beleid is om konsekwentheid, regverdigheid en deursigtigheid te bevorder en gelykheid te bereik vir persone wat voorheen deur onbillike diskriminasie benadeel is.

Die Meesters van die Hoë Hof in die onderskeie meesterskantore het voorheen outonomie gehad om ooreenkomstig hulle uitleg van die wet te besluit oor die praktyk en prosedure wat in hul kantore gevolg word.

2.9. Die Kabinet keur die formalisering van 3 November tot 3 Desember as die Nasionale Maand vir die Bewustheid van Regte van Persone met Gestremdhede goed en verklaar amptelik 3 Desember as die Nasionale Dag van Persone met Gestremdhede.

Die Nasionale Maand vir die Bewustheid van Regte van Gestremdes, wat 'n hoogtepunt bereik in die nasionale dag van persone met gestremdhede, bied 'n tydperk waarin die land kan fokus op die vordering wat gemaak is om mense met gestremdhede van onder andere gelyke toegang tot onderwys, behoorlike werk, gesondheid, landelike ontwikkeling en 'n veilige en beskermde omgewing te voorsien, dit ten toon kan stel en kan vier.

2.10. Die Kabinet keur die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy se muntontwerp vir die 2013 numismatiese herdenkings- and R2 sirkulasiemuntstuk goed
a) R2 Sirkulasiemunt: “100-jaar herdenking van die Uniegebou”
b) R2 Herdenkingskroon-silwermunt: “100-jaar herdenking van die Uniegebou”
c) Die 2013 Protea-muntreeks: “die Lewe van 'n legende: NR Mandela” (kinderjare)

2.11. Die Kabinet keur ook die ontwerpe vir die 2014 numismatiese herdenkings- en sirkulasiemuntstukke goed:
a) Die Protea-muntreeks: “die Lewe van 'n Legende: NR Mandela” (onderwys)
b) Die Natura-muntreeks: “Nagroofdiere”
c) R1 Gouemuntreeks: “Suid-Afrikaanse Bestuiwers”
d) R2 Gouemuntreeks: “Ontdekking van Goud in Suid-Afrika”
e) Kroon en Tiekie Silwermuntreeks: “Treine van Suid-Afrika”
f) Die Sterlingsilwer-muntreeks: “Mariene Beskermde Areas van Suid-Afrika”
g) R200 Goue Herdenkingsmunt: “20 Jaar van Demokrasie”
h) R2 Sterlingsilwer-herdenkingskroonmunt: “20 Jaar van Demokrasie”
i) R5 Sirkulasiemunt: “20 Jaar van Demokrasie”.

Die muntontwerpe, saam met hul Proklamasies, sal in die Staatskoerant gedruk word. Daarna sal die munte vervaardig en deur die normale kanale verkoop word.

3. Aanstellings

3.1. Die Kabinet keur die aanstelling goed van me Gugulethu Brightness Nokukhanya Khoza as Direkteur van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid.

3.2. Die Kabinet keur die volgende aanstellings tot die Direksie van die Openbare Beleggingskorporasie (PIC) goed:
a) Mnr Roshan Morar (heraanstelling)
b) Mnr Sebenzile Patrick Mngconkola (heraanstelling)
c) Me Dudu Hlatshwayo
d) Me Sibusisiwe Nkosinomusa Ngubane
e) Mnr Trueman Tandabantu Goba
3.3. Die Kabinet neem kennis van die volgende aanstellings tot die Raad van die Uitvoerkredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika Beperk:
a) Mnr Motshoanedi Johannes Lesejane (Voorsitter en heraanstelling)
b) Me Vuyelwa Viola Matsiliza (Nie-uitvoerende direkteur)
c) Me Fagmeedah Petersen (Nie-uitvoerende direkteur)
d) Me Siobhain O’Mahony (Nie-uitvoerende direkteur).

Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Issued by: Government Communications

Share this page

Similar categories to explore