Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 21 Junie 2023

A.  Kwessies in die omgewing

1.  Aanbevelings van die Geregtelike Kommissie van Ondersoek na Bewerings van Staatskaping, Korrupsie en Bedrog in die Openbare Sektor, waaronder Staatsorgane


1.1.  Vandag, 22 Junie 2023, is dit presies 'n jaar sedert Die Presidensie die finale verslag van die Regterlike Kommissie van Ondersoek na Bewerings van Staatskaping, Korrupsie en Bedrog in die Openbare Sektor, waaronder Staatsorgane, ontvang het.
1.2.  President Cyril Ramaphosa het in Oktober 2022 die regering se plan vir die implementering van die Kommissie se aanbevelings aan die Parlement voorgelê. Die Kabinet sal binnekort 'n vorderingsverslag oor die implementering van die Kommissie se aanbevelings ontvang. 

2.  Protokolooreenkoms met Frankryk om die kapasiteit van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) te vergroot

2.1.  Suid-Afrika, verteenwoordig deur die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, mnr Ronald Lamola, en Frankryk, verteenwoordig deur die land se Minister vir Europa en Buitelandse Sake, me Catherine Colonna, het 'n protokolooreenkoms vir samewerking onderteken wat die kapasiteit van die SOE sal vergroot.
2.2.  Hierdie samewerking bemagtig die SOE verder rakende kuberforensiese ondersoeke, finansiële misdade en analitiese vaardighede.
2.3.  Die vennootskap sal tot die stigting van 'n teenkorrupsie-akademie in Pretoria lei. Die akademie sal lede van die SOE, ander wetstoepassings- en teenkorrupsie-agentskappe binne lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Statebond en nie-Statebondlande bedien.
2.4.  Hierdie nuwe kapasiteit sal ook die land se vermoë verdiep om te reageer op aangeleenthede wat uit die Staatskapingskommissie voortspruit.

3.  Gesamentlike werksbesoek deur die eerste ministers van Nederland en Denemarke

3.1.  Die Kabinet het die verbintenisse tussen President Ramaphosa, Eerste Minister Mark Rutte van Nederland en Eerste Minister Mette Frederiksen van Denemarke tydens hul gesamentlike werksbesoek in Pretoria hierdie week verwelkom. Die gesamentlike werksbesoek was 'n eerste in sy soort in ons land.
3.2.  Die ekonomiese betrekkinge tussen die drie lande is 'n hedendaagse manifestasie van langdurige verhoudings tussen Suid-Afrika en twee Europese Unie-lande wat aansienlike steun aan Suid-Afrika se bevrydingsbewegings en die stryd teen apartheid gebied het.
3.3.  Tydens hierdie werksbesoek het Suid-Afrika Memorandums van Verstandhouding oor samewerking op die gebied van groen waterstof- en energie-vennootskappe met die twee lande onderteken.
3.4.  Maatskappye en instellings van die drie lande het aankondigings oor beleggings en vennootskappe gemaak, waaronder 'n verbintenis van een miljard Amerikaanse dollar vir die stigting van die SA-H2-fonds om groen waterstof-beleggings te mobiliseer.
3.5.  Die Openbare Infrastruktuurfonds vir Water en Energie: Bele Internasionaal beoog om 'n pakketfonds vir konsessiefinansiering van 300 miljoen euro en toekennings van 100 miljoen euro te stig, wat Suid-Afrika sal bystaan met die lewering van water- en energie-infrastruktuur.

4.  Afrika-vredesending

4.1.  Die Kabinet verwelkom 'n inligtingsessie deur president Ramaphosa oor die onlangse Afrika-vredesending na die Oekraïne en die Russiese Federasie waaraan die president saam met leiers en verteenwoordigers van die regerings van Senegal, die Comore, Zambië, Egipte, Kongo-Brazzaville en Uganda, deelgeneem het. Die Sending het Suid-Afrika se beginselposisie van onverbondenheid en die land se verbintenis tot die vreedsame oplossing van die konflik beklemtoon.
4.2.  Die Kabinet het kennis geneem dat President Volodymyr Zelensky van die Oekraïne en President Vladimir Poetin van die Russiese Federasie die Afrika-vredesinisiatief verwelkom het en hulle verbind het tot verdere betrekkinge met Afrika-leiers oor sake wat vir 'n vreedsame oplossing vir die konflik geopper is.
4.3.  Die Sending het beklemtoon dat 'n de-eskalasie van die konflik noodsaaklik is om toe te laat dat onderhandelinge met dringendheid begin kan word, sowel as die terugkeer van kinders wat uit die Oekraïne geneem is, die vrylating van krygsgevangenes en die skep van toegangsweë om groter humanitêre bystand te fasiliteer. 
4.4.  Die Kabinet verwelkom die waardering van wêreldleiers vir die waarde van die Afrika-leiers se vredesinisiatief om 'n vreedsame oplossing vir die konflik te vind, soos onder meer deur die eerste ministers van Denemarke en Nederland uitgespreek, sowel as deur Frankryk se Minister van Buitelandse Sake.
4.5.  Na afloop van die vredessending sal Suid-Afrika in Julie op die kantlyn aan die Afrika-Unie-Rusland-beraad in Moskou deelneem, vanwaar ons regering ook die geleentheid sal benut om Rusland verder te betrek oor sake wat die twee presidente onderneem het om te oorweeg. 
4.6.  President Ramaphosa se nasionale veiligheidsraadgewer, prof Fholisani Sydney Mufamadi, sal in Augustus 'n vredesberaad, wat deur President Zelenksy byeengeroep is, in Kopenhagen, Denemarke bywoon.
4.7.  Met betrekking tot Suid-Afrikaanse presidensiële veiligheidspersoneel en mediaverteenwoordigers se vlug na Pole op pad na die Oekraïne en Rusland het die Kabinet kennis geneem van die onaangename gebeure wat afgespeel het toe hierdie vlug in Warskou, Pole, geland het.
4.8.  Die Kabinet het kennis geneem dat die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking ’n bespreking oor hierdie aangeleentheid deur die toepaslike diplomatieke meganismes en kanale sal voer.

5.  Handelsake

5.1.  Die Kabinet het kennis geneem van die jongste handelsyfers soos voorgelê deur die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, wat aandui dat Suid-Afrika se uitvoere na China in 2022 VSA$33 miljard bereik het, meer as twee keer die vlak van ons naasgrootste handelsvennoot, Duitsland.
5.2.  Oor die algemeen het handel tussen Suid-Afrika en China met 30% toegeneem van VSA$44 miljard in 2018 tot VSA$57 miljard teen die einde van 2022. Van 2018 tot 2022 is gemiddelde jaarlikse groeikoerse van 10% (uitvoer) en 4,5% (invoere) aangeteken. Suid-Afrika het oor daardie vyf jaar 'n groot handelsoorskot gehandhaaf. 

6.  Energie

6.1.  Die Kabinet verwelkom die ooreenkoms dat Mosambiek binne die volgende drie maande met die ondertekening van die ooreenkoms om krag te koop 100 megawatt (MW) elektrisiteit aan Suid-Afrika sal voorsien. Gedurende die volgende drie tot 12 maande sal Suid-Afrika tot 1 000 MW elektrisiteit van Mosambiek af invoer.
6.2.  Die Kabinet verwelkom voorts voortdurende verbetering in Eskom se opwekkingskapasiteit wat verseker dat Eskom ’n Energiebeskikbaarheidsfaktor van meer as 60% registreer.
6.3.  Die Kabinet betuig sy waardering aan Suid-Afrikaners vir hul bydrae om die vraag na elektrisiteit te verlaag, wat daartoe bydra dat Eskom laer stadiums van beurtkrag kan handhaaf. Om elektrisiteit te bespaar is 'n gedeelde verantwoordelikheid en 'n aksie waarby ons almal baat vind.
6.4.  Die Kabinet het sy waardering uitgespreek teenoor die Volksrepubliek van China vir ’n skenking aan Suid-Afrika van nood- en kleinskaalse opwekkingstoerusting ter waarde van R167 miljoen. ’n Ontplooiingsplan word ontwikkel om te verseker dat dié toerusting geïnstalleer word in openbare fasiliteite, wat sodoende van beurtkrag geïsoleer sal wees. ’n Formele oorhandigingseremonie sal plaasvind sodra die goedere deur Suid-Afrikaanse doeaneowerhede uitgeklaar is.

7.  Water 

7.1.  Die Kabinet het 'n oorsig oor die Departement van Water en Sanitasie se reaksies oor die land se water- en sanitasie-uitdagings ontvang.
7.2.  Die oorsig beklemtoon die versnelling van projekte rakende oppervlakwaterhulpbronne, waaronder:
7.2.1. Konstruksie van die Lesotho-Hoogland-waterprojek se R40-miljard-Fase 2, wat Gauteng en omliggende provinsies sal bedien. Werk sal in 2027 voltooi wees.
7.2.2. Die Mokolo-Krokodil-wateruitbreidingsprojek se R4-miljard-Fase 2A in Noordwes en Limpopo. Fondse word ingesamel vir nog 'n fase waaraan bouwerk in Mei 2024 sal begin, en na verwagting in 2030 voltooi sal word.
7.2.3. In 'n vennootskap tussen die regering en die mynbousektor is konstruksiewerk van die R24-miljard-waterhulpbronontwikkelingsprojek by die Olifantsrivier in Limpopo aan die gang. Dit sal na verwagting in 2030 voltooi wees.
7.2.4. In ’n soortgelyke vennootskap met myne in die Noord-Kaap sal bouwerk later vanjaar aan die R10-miljard-Vaal Gamagara-projek begin, wat na verwagting ook omstreeks 2030 voltooi sal wees.
7.2.5. Bouwerk aan die R500-miljoen-Groot Letaba Wateraanvullingsprojek in Limpopo, het vandeesmaand, Junie 2023, begin. Die projek, wat die vergroting van die Tzaneendam behels, sal in 2025 voltooi wees.
7.2.6. In die Wes-Kaap sal bouwerk aan die R1,2 miljard-Voëlvlei-aanvullingskema in 2024 begin, en sal na verwagting in 2026 voltooi wees.
7.3.  Hierdie projekte verseker die voorsiening van water aan die nasie. Die projekte sal ook duisende mense in diens neem, besighede rondom die konstruksieterreine sal voordeel trek uit die werkers en kontrakteurs se verbruik en die verbeterde infrastruktuur sal verder ook tot voordeel van plaaslike ekonomieë wees.

8.  Bekendstelling van Suid-Afrikaanse Isotoopfasiliteit (SAIF)

8.1.  Die Kabinet het die vennootskap tussen die Departement van Wetenskap en Innovasie en IThemba LABS verwelkom. Dit het gelei tot die opening van die SAIF, 'n wêreldklasfasiliteit wat reageer op die toenemende uitdaging van kanker as een van die hoofoorsake van sterftes. Die fasiliteit sal gevorderde navorsing en opleiding doen, asook die produksiekapasiteit vir radio-isotope verhoog. Radio-isotoopterapie teiken kankerselle terwyl dit minimale skade aan omliggende gesonde selle aanrig.
8.2.  Tans vind ongeveer 5 000 Suid-Afrikaanse pasiënte per jaar baat by die beskikbaarheid van hierdie terapie, en na verwagting sal die toename in die SAIF se produksievermoë, sowel as die beskikbaarheid van 'n nuwe voorraad isotope, die getalle met 'n faktor van vyf tot sewe laat toeneem.

9.  Goedkeuring van die Wysigingswetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Posbank

9.1.  Die Kabinet het die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Posbank deur die Parlement (beide die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies) verwelkom, wat die weg baan vir die lisensiëring van die staatsbank.
9.2.  Die Wetsontwerp is gerig op die risiko's wat tans met die Posbank se huidige struktuur geassosieer word, deur die eienaarskap- en verslagdoeningstruktuur te wysig om 'n nuwe beheermaatskappy vir die bank te stig.
9.3.  Die Kabinet verwag dat die President die Wet sal onderteken, wat die registrasie van die bank as 'n bankbeheermaatskappy sal toelaat.

10.  Jeugbemagtiging

10.1.  Die Kabinet het alle Suid-Afrikaners bedank wat deelgeneem het aan die land se Jeugdagvieringe op 16 Junie 2023 onder die tema: “Versnelling van die jeug se ekonomiese bevryding vir ’n volhoubare toekoms”.
10.2.  Die Kabinet het die bekendstelling van die moderne Mobiele Openbare Indiensnemingsbus deur die departemente van Basiese Onderwys, Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, en Indiensneming en Arbeid, in samewerking met die Europese Unie se Education for Employability-program verwelkom. Hierdie geleentheidsbusse ry na afgeleë gebiede om leerders en werksoekers op hul pad na indiensneming te help deur individue se sterk punte en hul vermoëns by potensiële loopbane en werksgeleenthede te laat pas.
10.3.  Die Kabinet het verder die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se inisiatiewe verwelkom waardeur hulle die jeug ondersteun om by die landbousektor betrokke te raak in die herlewing van gemeenskaplike gebiede soos die Marapyane-Bakgatla primêre koöperasie. Hierdie koöperasie het meer as 100 werksgeleenthede in hul dorpe geskep en dié jongmense is hoofsaaklik graan- en sonneblomboere.

11.  Working on Fire-program

11.1.  Die Kabinet het die 400 Suid-Afrikaanse brandbestryders geloof wat na Kanada ontplooi is om te help om lewens, huise, besighede en plantegroei in die Kanadese provinsie Alberta te red.
11.2.  Die 2023-ontplooiing is in reaksie op 'n dringende versoek van die Kanadese Inter Agency Forest Fire Centre. Hierdie vyfde samewerking tussen Suid-Afrika en Kanada is bewys van die sterk verhoudings tussen ons twee lande en Suid-Afrika se bydrae tot die behoud van ons fisiese omgewing, ongeag watter deel van die wêreld deur omgewingsbedreigings geraak word. 

12.  Spesiale Olimpiese Wêreldsomerspele

12.1.  Span Suid-Afrika laat die vlag steeds hoog wapper by die 2023- Spesiale Olimpiese Wêreldsomerspele, wat van 17 tot 25 Junie in Berlyn, Duitsland plaasvind. Span SA bestaan uit 64 atlete en 21 afrigters, wat teen 7 000 atlete van oor 180 lande meeding. Hulle verteenwoordig die beste van ons nasie en is bewys van die krag van die menslike gees. 

B.  Kabinetsbesluite 

1.  Suid-Afrika se bekragtiging van die Luxemburgse Protokol by die Konvensie van Internasionale Belange in Mobiele Toerusting oor Sake Rakende Spoorvoertuie


1.1.  Die Kabinet het die voorlegging vir bekragtiging van die Luxemburgse Spoorprotokol aan die Parlement goedgekeur. Die Luxemburgse Spoorprotokol bevorder ekonomiese groei deur privaatsektorfinansiering in die spoorwegbedryf te versterk.
1.2.  Die Luxemburgse Spoorprotokol volg op die sukses van die Kaapstadse Konvensie oor Internasionale Belange in Mobiele Toerusting, wat in 2007 gehou is. Suid-Afrika het die protokol in 2022 onderteken as 'n aanduiding van hoe ernstig die land oor spoorweghervorming is. 

C.  Aanstellings 

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring. 

1.  Mnr Evert Potgieter as Hoof- Finansiële Beampte van die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns.
2.  Mnr Sandile Psychology Mkhize as Hoof- Uitvoerende Beampte van Magalies Water (verlenging van kontrak). 
3.  Lede van die Landbounavorsingsraad:
(a)  Me Joyene Isaacs (heraanstelling);
(b)  Dr Poncho Mokaila (heraanstelling);
(c)  Dr Jonty Tshipa;
(d)  Mnr Neo Harrison Masithela;
(e)  Me Clarinda Elizabeth Simpson;
(f)   Dr Hilke Maartens;
(g)  Mnr Goodman Gcaba (heraanstelling);
(h)  Dr Troy Govender; 
(i)   Dr Konanani Liphadzi (heraanstelling);
(j)   Dr Pieter Naude Malan (heraanstelling); en 
(k)  Dr Owen Horwood.

4.  Vul van vakatures in die Oorgrenspadvervoeragentskap:
(a)   Me Bukeka Mahlutshana; en
(b)   Mnr Leroy Nsibande. 

5.   Vul van vakatures in die Raad van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid:  
(a)   Adv Mpati Lebakeng; en 
(b)   Mnr Tshepo Peege. 

D.  Wetsontwerpe

1.  Konsepwetsontwerp op Huwelike van 2022


1.1.  Die Kabinet het die publikasie van die Konsepwetsontwerp op Huwelike van 2022 vir openbare kommentaar goedgekeur.
1.2.  Die Wetsontwerp gee uitvoering aan die Witskrif oor Huwelike in Suid-Afrika, wat in Maart 2022 deur die Kabinet goedgekeur is. Die Wetsontwerp bemagtig die Departement van Binnelandse Sake om 'n enkele Huwelikswet vir die land te ontwikkel.
1.3.  Die Konsepwetsontwerp poog om te verseker dat alle huwelike in ooreenstemming met die beginsels van gelykheid, niediskriminasie en menswaardigheid gesluit word, soos voorsien in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996.
1.4.  Die Konsepwetsontwerp laat Suid-Afrikaners en inwoners van die land van alle seksuele oriëntasies, sowel as godsdienstige en kulturele oortuigings, toe om wettige verbintenisse in ooreenstemming met die grondwetlike beginsels te sluit.
1.5.  Die wetsontwerp beskryf maatreëls om verbintenisse soos kinderhuwelike en dié wat in die afwesigheid van die ander party gedoen word te voorkom.

2.  Konsepwetsontwerp op die Nasionale Waterhulpbroninfrastruktuur-agentskap (NWHIA) van 2022

2.1.  Die Kabinet het die voorlegging van die NWHIA-konsepwetsontwerp aan die Parlement goedgekeur. Die Wetsontwerp stel die oprigting van 'n NWHIA voor om verantwoordelik te wees vir die beplanning, finansiering en ontwikkeling van die land se waterinfrastruktuur. Dit sal ook verantwoordelik wees vir die instandhouding van die huidige waterhulpbroninfrastruktuur.
2.2.  Die agentskap moet volhoubare, billike en betroubare watervoorsiening verseker in ooreenstemming met grondwetlike verpligtinge van toegang tot water en 'n veilige, gesonde omgewing. Dit sal opgestel word as 'n Openbare Entiteit kragtens Bylae 2 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet 1 van 1999). Die agentskap sal die funksies oorneem wat tans deur die Trans-Caledon-Tonnelowerheid verrig word.

3.  Wysigingswetsontwerp op Egskeiding van 2023

3.1.  Die Kabinet het die voorlegging van die Konsepwysigingswetsontwerp op Egskeiding van 2023 aan die Parlement goedgekeur.
3.2.  Die Wetsontwerp wysig die Wet op Egskeiding, 1979 (Wet 70 van 1979) om voorsiening te maak vir meganismes om die welsyn van minderjarige of afhanklike kinders wat uit Moslem-huwelike gebore is te beskerm. Die wysigings het ook ten doel om voorsiening te maak vir die herverdeling van bates by die ontbinding van 'n Moslem-huwelik, ten einde voorsiening te maak vir die verbeuring van vermoënsvoordele van 'n Moslem-huwelik.
3.3.  In Junie 2022 het die Konstitusionele Hof bevind dat die Wet op Egskeiding in sy huidige vorm teenstrydig is met die Grondwet aangesien dit Moslem-huwelike uitsluit. Die hof het bevind dat 'n gedeelte van die Wet op Egskeiding ongrondwetlik is deurdat dit onbillik diskrimineer teen kinders van getroude ouers en dié van ongetroude ouers.

4.  Wysigingswetsontwerp op die Afrika Renaissance en Internasionale Samewerkingsfonds (ARF)

4.1.  Die Kabinet het die voorlegging van die publikasie van die ARF-konsepwysigingswetsontwerp vir openbare kommentaar goedgekeur. Die doel van die Wetsontwerp is om die ARF-wet (Wet 51 van 2000) te wysig. Die wysigings sal ook beteken dat die ARF nou die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Ontwikkelingsvennootskappe genoem sal word. Die agentskap sal dien as 'n instrument om Suid-Afrika se uitgaande ontwikkelingsamewerking en bystand te bestuur, te ondersteun en te fasiliteer.
4.2.  Die ARF is van kritieke belang om Suid-Afrika se nasionale belange en waardes, die Afrika Renaissance en die skep van 'n beter wêreld vir almal te bevorder.
4.3.  Die ARF is ook belangrik vir Suid-Afrika aangesien dit samewerking tussen ons land en ander lande, veral Afrikalande, ondersteun deur die bevordering van demokrasie, goeie bestuur, die voorkoming en oplossing van konflik, sosio-ekonomiese ontwikkeling en integrasie, humanitêre bystand en  mensehulpbronontwikkeling. 

5.  Suid-Afrika se herverkiesing om as lid van die Raad van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie te dien

5.1.  Die Kabinet neem kennis van die herverkiesing van Suid-Afrika om as lid van die Raad van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie te dien. 

F.  Komende gebeure

1  Mandela-maand

1.1  Suid-Afrika en die wêreld sal Mandela-maand in Julie herdenk onder die tema "Klimaat, Voedsel en Solidariteit". Gedurende die maand vier Suid-Afrikaners oudpresident Nelson Mandela se lewe en sy nalatenskap; ons tree saam op om ons gemeenskappe te help om ten goede te verander en om pogings te integreer wat bydra tot die stryd teen armoede en ongelykheid.
1.2  Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om die maand te gebruik om iets te doen wat 'n verskil in hul gemeenskappe sal maak en te verseker dat ons die Suid-Afrika bou wat ons stigtersvader in die vooruitsig gestel het. 

2  Beraad vir 'n nuwe globale finansieringsverdrag

2.1  President Ramaphosa sal op 22 en 23 Junie 2023 aan die beraad vir 'n nuwe globale finansieringsverdrag in Frankryk deelneem.
2.2  Suid-Afrika sal sleutelkwessies bespreek soos die hervorming van multilaterale finansiële ontwikkelingsinstellings, die skuldkrisis, innoverende finansiering, internasionale belasting en spesiale onttrekkingsregte.

3  Verteenwoordigende Raad van Leerders- (VRL-) Konferensie

3.1  Die VRL-konferensie sal op 29 en 30 Junie 2023 by die Universiteit van Pretoria plaasvind met die doel om die rol van VRL'e in skole te bou en te versterk.
3.2  Vanjaar se konferensie fokus op die bemagtiging van leerders, die identifisering van leerders se behoeftes en die verbetering van VRL'e se funksionering. Dit word beskou as 'n belangrike platform vir die ontwikkeling van die land se toekomstige leierskap.

4  2023-Wêreldbeker-netbaltoernooi

4.1  Met net 36 dae oor tot die 2023-Wêreldbeker-netbaltoernooi van 28 Julie tot 6 Augustus 2023 by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaasvind, het die Kabinet alle Suid-Afrikaners bedank vir die warm Ubuntu-verwelkoming van die groep wat 'n landwye Wêreldbekertrofeetoer onderneem.
4.2  Die trofeetoer maak deel uit van die opbou tot die openingswedstryd. Die toer het in KwaZulu-Natal afgeskop en sal na Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, die Vrystaat, die Noord-Kaap en die Oos-Kaap reis. Die toer bereik sy hoogtepunt in die Wes-Kaap as die gasheerprovinsie, voor die toernooi op 28 Julie 2023 begin.

5   Banyana Banyana vertrek na FIFA-Vrouewêreldbeker

5.1  Namens die nasie dra die Kabinet sy beste wense oor aan die nasionale vrouesokkerspan, Banyana Banyana, wat op Vrydag 23 Junie vertrek na die FIFA Wêreldbeker vir vroue, wat in Julie in Australië en Nieu-Seeland aangebied word.
5.2  Die span se prestasies in verskeie toernooie het wêreldwyd die aandag gevestig op die ontwikkeling van vrouesokker in Suid-Afrika, as deel van die breër selfbemagtiging en maatskaplike bemagtiging van vroue in die land.

G.  Boodskappe

1.  Gelukwense


Die Kabinet dra wense van geluk en voorspoed oor aan: 

  • Suid-Afrikaanse rolstoeltennisspelers Donald Ramphadi en Kgothatso Montjane, wat as Grand Slam-kampioene in hul onderskeie afdelings by die gesogte Roland Garros-toernooi in Frankryk uit die stryd getree het.
  • Al die wenners van die 2023-Comrades Marathon, asook al die deelnemers aan dié ultramarathon vanaf Pietermaritzburg na Durban. Ons wens Tete Dijana en Gerda Steyn geluk met hul prestasies; hulle het nie net die mans- en vrouewedloop gewen nie, maar het onderskeidelik ook die af-wedlooprekords vir die mans- en vrouewedloop verbeter. 
  • Spesiale melding word ook gemaak van Ntate Johannes Mosehla van Limpopo, wat op die ouderdom van 81 die oudste persoon is wat die Comrades voltooi het. In Jeugmaand kan Suid-Afrikaners van alle ouderdomme die waarde en voordeel van 'n gesonde leefstyl by hierdie baie senior burger leer.
  • Die Kabinet bring ook hulde aan Nomhle Ngwenya, wat die jongste en eerste swart vrou is wat 'n doktorsgraad aan Wits-universiteit se Fakulteit Natuurwetenskap behaal het op die ouderdom van net 25.
  • Me P Khoza, wat verkies is as die president van die 42e ICAO-vergadering wat van 27 September tot 7 Oktober 2022 in Montreal, Kanada plaasgevind het


2.    Medelye 

Die Kabinet dra sy medelye oor aan die naasbestaandes en vriende van: 

  • Parlementslid, me Tina Joemat-Pettersson, wat die Voorsitter van die Nasionale Vergadering se Portefeuljekomitee oor Polisie was, en voorheen gedien het as Minister van Landbou, Bosbou en Visserye en as Minister van Energie. Sy het ook as LUR vir Onderwys in die Noord-Kaap gedien. Sy was 'n lid van die Nasionale Uitvoerende Komitee van die African National Congress (ANC) en die ANC-vroueliga, en ’n bevrydingstryd-aktivis as lid van die United Democratic Front.
  • Kgoshi Kgagudi Kenneth Sekhukhune, Kgoshi ya Marota Mohlaletse, Hlabirw’a a Bauba en langdienende voormalige heerser van die Bapedi-koninkryk. Die Kabinet se gedagtes en gebede is met die koninklike familie en die Bapedi-mense, terwyl finale voorbereidings getref word vir die afgestorwe heerser se begrafnis.
  • Legendariese voormalige Bafana-afrigter, Clive Barker, wat ons nasie tot 'n oorwinning gelei het in die geskiedkundige 1996-Afrikabeker, wat destyds vir die eerste keer op eie bodem gehou is.
     

Navrae: Mnr. Michael Currin – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 082 462 7896
 

Share this page

Similar categories to explore