Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 20 Augustus 2014

1. Implementering van Deurslaggewende Regeringsprogramme

Die Kabinet verwelkom die bekendstelling deur Minister Michael Masutha, van nog ’n Hof vir Seksuele Misdrywe in Bethlehem in die Vrystaat. Dit vorm deel van die Regering se ingrypingsprogram in die stryd teen seksuele geweld teen vroue, kinders en kwesbare groepe.

Hierdie toegewyde howe is toegerus om gespesialiseerde slagoffer-ondersteuningsdienste te bied wat help om die hoeveelheid skuldigbevindings te verbeter. Die Regering bly vasbeslote om die kriminele regstelsel te versterk en sodoende die skending van vroue- en kinderregte met mening aan te pak.

Die Kabinet verwelkom die bekendstelling deur Minister Lindiwe Zulu, van die Enterprise Development Academy, wat op die Gordon Institute of Business Science gegrond is.

Die Akademie fokus op wetenskap-gebaseerde opleiding en ondersteuning aan mikro- en kleinsake-eienaars deur hulle te help om volhoubaar te groei sodat hulle op hul beurt op die lang termyn werk kan skep. Die Akademie is deel van die oplossing om werkloosheid onder die jeug die hoof te bied en ’n nasie van entrepreneurs te help bou. Dit het ten doel om praktiese en toepaslike sake-onderrig  en leierskapopleiding aan entrepreneurs te bied, gevolg deur ’n omvattende struktuur van ondersteuningsdienste. Dit sal verseker dat akademiese onderrig op die sake-omgewing toegepas word en die nodige impak daarop sal hê.

Suid-Afrika het ’n entrepreneur rewolusie nodig om ’n verskuiwing in die rigting van entrepreneurskap en klein- en medium-grootte ondernemings teweeg te bring wat die land se vooruitgang ’n hupstoot sal gee. Die Regering, groot ondernemings en akademiese instellings moet saamwerk om werkskepping te ondersteun deur die ontwikkeling van ondernemings. Om te kan floreer, het die skepping van sake-ondernemings ’n gunstige omgewing nodig waar entrepreneurs toegang tot finansiering, die beste-praktykhulpmiddels en die ontwikkeling van vaardighede het.

2. Deurslaggewende Kabinetsbesluite

Die Kabinet het die bekragtiging van die ondertekende Grand Inga-verdrag tussen die Republiek van Suid-Afrika en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) vir ter tafellegging in die Parlement goedgekeur.

Die verdrag bied die raamwerk vir die fasilitering van kragopwekking deur die Grand Inga-projek en sy lewering van krag aan die grens tussen die DRK en Zambië. Bekragtiging van die verdrag maak die ontwikkeling van Fase I van die projek, wat 2 500 Megawatt elektrisiteit aan Suid-Afrika sal voorsien, moontlik. Dit sal ook bydra tot streeksintegrasie, energie sekuriteit, toegang tot energie en ekonomiese groei op ’n omgewingsvriendelike volhoubare wyse.

Die projek het die potensiaal om skoon en bekostigbare ingevoerde hidro-elektriese krag te voorsien om aan die behoeftes van die DRK, Suid-Afrika en omliggende lande te voldoen. Dit behels die opwekking van ongeveer 40 000 Megawatt hidrokrag uit die Kongorivier oor sewe fases. Die projek het die potensiaal om die ontwikkeling van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) te versnel; energie-armoede te verlig; ekonomiese groei te stimuleer, en ontwikkeling van infrastruktuur te fasiliteer.

Die Grand Inga-projek sal poog om die kragpotensiaal van die Kongorivier – sub-Sahara-Afrika se grootste waterweg – in te span. Dit verteenwoordig een van die mees ambisieuse projekte wat tot nog toe op die vasteland van Afrika onderneem is, en wat lank ’n klinkende simbool van die opkoms van Afrika en sy mense sal wees.

Die Kabinet is ingelig oor die komende Internasionale Konferensie oor Gender, Water en Ontwikkeling. Die konferensie word deur die Departement van Water en Sanitasie, Waternavorsing en sy vennote in die sektor aangebied. Die konferensie sal van 3 tot 7 November in Oos-Londen gehou word met die tema “Die Onontginde Konneksie.”

Die konferensie volg op ’n aantal deurlopende gesprekke wat begin het na afloop van die Internasionale Konferensie oor Varswaterbestuur wat in November 2012 gehou is. Die konferensie sal ’n platform bied vir die smee van vennootskappe wat die uitdagings van die sektor sal aanpak. Dit sal ook aandag gee aan die inwerkingstelling van die Raad van Afrika-ministers oor Water Gender-strategie.

3. Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

Die Kabinet is deur die Minister van Gesondheid, mnr Aaron Motsoaledi, ingelig oor die ontwikkelings rondom ebola en ingrypings wat Suid-Afrika onderneem het. Die Kabinet beklemtoon dat niemand tot nog toe positief vir die siekte getoets is nie. Die land se gereedheid en reaksie op ebola vereis versterkte kapasiteit in die SAOG-streek en die res van die vasteland, wat Suid-Afrika wel bied. Suid-Afrika bly daartoe verbind om ondersteuning te bied deur middel van sifting, opleiding en laboratoriumdienste vir die SAOG-streek. Minister Motsoaledi sal vandag om 14:30 ’n volledige inligtingsessie oor hierdie kwessie hou.

Die Kabinet verwelkom die planne van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en ’n konsortium van beleggers uit die finansiële sektor om die African Bank Limited (ABL) te herstruktureer. Dit sal help om kleinhandel-kliënte wat geld deponeer toepaslik te beveilig en verliese vir beleggers in die ABL te verminder. Dit sal ook verseker dat die land se finansiële sektor sterk en gesond bly.

Die Kabinet het die belangrike rol van die finansiële-dienstesektor in ekonomiese groei beklemtoon, en uitgelig dat die Regering, deur die Nasionale Tesourie, sal voortgaan om die sektor en sy toesighouding te versterk, en om die regulerende koördinasie daarvan te verbeter.

Die Kabinet het met kommer kennis geneem van die verkeerde inligting oor die verskillende hervormings rakende aftreefondse (pensioen en voorsorgfondse). Daar is anekdotiese bewyse dat sommige mense uit hul werk bedank uit vrees dat die Regering hulle van volgende jaar af sal verhoed om hul aftreespaargeld te onttrek wanneer hulle van werk verander, en dat die Regering aftreefondse wil oorneem. Terwyl die Regering werkers aanmoedig om hul aftreespaargeld tot aftrede te bewaar, is daar geen wysiging van wette wat die onttrekking van fondse verhoed wanneer mense van werk verander nie.

Inteendeel, die verskillende aftree-hervormingsvoorstelle poog om:
a) mense aan te moedig om voldoende voorsiening te maak vir hule eie aftrede asook die behoefts van hul afhanklikes, en om voorsiening te maak vir aftreefondse as deel van die vergoedingsksontrak;
b) seker te maak dat reëlings ten opsigte van aftreefondse koste-doeltreffend is, versigtig bestuur word, deursigtig en regverdig is; en
c) die standaarde van fondsbestuur te verbeter, insluitend trustee-kennis en -gedrag, die beskerming van lede se belange, verantwoording en openbaarmaking van wesenlike inligting aan lede en bydraers.

Die Kabinet wil die publiek verseker dat mense se aftreefondse veilig sal bly. Daar is geen rede vir enige werkers (in die private sowel as openbare sektor) om uit hul werk te bedank om toegang tot hul aftreefondse te verkry nie. Mense moet ook kennis neem dat dié wat kontantuitbetalings van hul pensioengeld kry, nie net minder geld sal kry as wat hulle sou kry as hulle aangehou werk het nie, maar hulle kan ook belas word op vroeë onttrekkings en nie meer die belastingvoordele geniet nie.

4. Toekomstige gebeure

Minister Nathi Mthethwa sal Erfenismaand op 31 Augustus in Gauteng bekendstel onder die tema: “Vier 20 Jaar van Demokrasie: Vertel jou storie wat Suid-Afrika vooruit laat gaan.”

Onder die projekte wat geïdentifiseer is om die “Vertel jou storie”-veldtog te bevorder is die herbegrafnisse van Nat Nakasa en Moses Kotane. Repatriasie van onbesonge helde bied Suid-Afrikaners ’n geleentheid om meer oor hul persoonlike stryd om vryheid te leer, die omstandighede wat tot hulle ballingskap gelei het en die impak wat dit op die bevryding van ons land gehad het.

Ander gebeure sluit in: Nasionale Boekeweek van 1 tot 7 September onder die tema: “Besoek Plekke,” wat fokus op die mag van boeke en hoe hulle Suid-Afrikaners ‘figuurlik’ en ‘letterlik’ na verskillende plekke kan neem. Byeenkomste word in al die provinsies beplan en sluit onder meer in lees in inheemse tale, storievertelling en motiveringspraatjies, woord-marathons, poësie-sessies en boekdebatte.

Suid-Afrika gedenk ook op 3 September die 30ste herdenking van die Vaal-opstand waartydens die Vaaldriehoek-gemeenskap beswaar gemaak het teen die verhoging van huurgeld, swak dienslewering en ’n onwettige en ontbinde plaaslike regering. Die Vaal-opstand het ’n nuwe tydperk ingelei wat gekenmerk is deur volgehoue protes wat na groot dele van die land versprei het, en gelei het tot die verklaring van ’n noodtoestand deur die apartheidsregering.

Minister Derek Hanekom sal Toerismemaand op 26 Augustus in die Maboneng-gebied in Johannesburg, bekendstel onder die tema: “Toerisme Verander Lewens,” wat afgelei is van Wêreld Toerismedag (27 September) en sal op die sosiale, kulturele, politieke en ekonomiese waarde van toerisme vir die land fokus.

Suid-Afrikaners word aangemoedig om tydens Toerismemaand binne ons land te reis en om hulself te vergewis van die belangrikheid van toerisme vir die ekonomie.

Nasionale Boomplantweek sal van 1 tot 7 September gevier word onder die tema: “Woude en mense: Belê in ’n volhoubare toekoms.” Suid-Afrikaners word aangemoedig om die bome wat vir 2014 geïdentifiseer is te plant; dit sluit in die Vepris lanceolata (algemeen bekend as: Witysterhout/White Ironwood/Muruvula/Muhondwa/umZane/umOzana) of die Heteropyxis Natalensis Harvey (algemeen bekend as: Laventelboom/Lavender Tree/inkunzi).

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) sal in samewerking met die Instituut vir Omgewings- en Rekreasiebestuur en Total Suid-Afrika, die Nasionale Boomstad-kompetisie bestuur. Die doel is om plaaslike munisipaliteite aan te moedig om die gebiede wat deur hulle bestuur word te vergroen.

Nasionale Boomplantweek en die Nasionale Boomstad-toekenning word gedoen in ooreenstemming met die DLBV se vergroeningstrategie wat vergroening definieer as ’n geïntegreerde benadering tot die plant, versorging en bestuur van alle plantegroei in stedelike en landelike gebiede.

5. Aanstellings

Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur:
Mnr Themba Stanley Kojana as Adjunk-Direkteur-Generaal: Onderwysers, Menslikehulpbronbestuur en Institusionele Ontwikkeling in die Departement van Basiese Onderwys.

Mnr Clifford Abraham Appel as Finansiële Hoof van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.

Die Kabinet het saamgestem met die aanstelling van die volgende mense om as lede van die Nasionale Openbare Vervoerreguleerder te dien:
a) Mnr Lesedi Dinte
b) Me Divhani Edzisani Tshivhase
c) Prof Ntombizozuko Dyani-Mhango.

Die Kabinet het die aanstelling van Semira Mohammed as ’n nie-uitvoerende lid van die Direksie van die Oorgrens-padvervoeragentskap goedgekeur.

Die Kabinet het kennis geneem van die aanstelling van mnr Tshediso Matona as die Uitvoerende Hoof van Eskom SOC Ltd sowel as ex officio lid van die Eskom-direksie.

Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore