Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 19 September 2018

Die Kabinet het op Woensdag 19 September 2018 by die Uniegebou in Pretoria vergader.

A. Kwessies in die omgewing
1. Ekonomie

1.1 Die Kabinet verwelkom die aanbod deur die sakesektor om professionele mense uit die privaat sektor aan die regering te sekondeer. Dit volg op ’n voorbereidende vergadering van President Cyril Ramaphosa met sakeleiers, spesiale beleggingsverteenwoordigers en die HUB-inisiatief, wat die opkomende Werkgeleenthedeberaad en Beleggingskonferensie voorafgaan.
  
1.2 Die vergadering is dit eens dat daar ’n dringende behoefte bestaan om Suid-Afrika se ekonomie te verbeter deur die implementering van die stimuluspakket en die beloofde groeiversterkingshervormings. Voorstelle vir die vestiging van ’n infrastruktuur-ontwikkelingsinisiatief, wat privaatsektorbefondsing en kundigheid oor die lewering van dienste insluit, is ook bespreek.

2. Beleggingsveldtog
2.1 Die Kabinet verwelkom ook die beleggingsinisiatief-besoek aan Japan, wat deur die Departement van Handel en Nywerheid gelei is. Die inisiatief is daarop gerig om beleggings ter waarde van US$100 biljoen oor die volgende vyf jaar na die Suid-Afrikaanse ekonomie te lok.

2.2 Japan is al ’n geruime tyd een van Suid-Afrika se langtermyn top-10-beleggingsvennote. Met meer as 140 van sy maatskappye wat hier sake doen, word Suid-Afrika as ’n vervaardigingspilpunt vir toegang tot Afrika beskou. Die Kabinet moedig maatskappye aan om nie net in Suid-Afrika te belê nie, maar om ook hul beleggings uit brei.

3. Opleidingsprogramme
3.1 Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die R22-miljoen opleidingsprojek deur die Minister van Arbeid, Mildred Oliphant, wat werk sal skep op die gebiede van lugvaart, maritieme kommersiële duik en landbou. Die projek word onderneem in vennootskap met die Dr John Langalibalele Dube Instituut en die Werkloosheidsversekeringsfonds (WWF), wat ’n entiteit van die Departement van Arbreid is.  Die projek fokus op vorige WWF-bydraers, wat hul werk verloor het.

3.2 Die eerste groep begunstigdes sluit 50 WWF-bydraers van Durban se Virginia-lughawe in asook 50 bydraers van die maritieme kommersiële duikprojek in Scottsburg, KwaZulu-Natal. 100 landelike vroue van Emadungeni sal ook opgelei word om koöperatiewe ondernemings te begin vir die kweek van organiese vrugte, groente en katoen. Die opleiding sal ook waardekettingprosessering insluit. Hierdie koöperatiewe ondernemings het ’n ooreenkoms met Pick n Pay onderteken om groente te verskaf, en met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vir die verkryging van materiaal om skoolklere te vervaardig.

4. Binnelandse Sake
4.1 Die Kabinet verwelkom die amptelike opening deur President Ramaphosa van nuwe kantore vir die Departement van Binnelandse Sake by Hluhluwe in KwaZulu-Natal.

4.2 Die uitgebreide voorsiening van siviele dienste aan gemarginaliseerde gemeenskappe speel ’n deurslaggewende rol in die bevordering van demokrasie en maatskaplike geregtigheid. Dit maak deel uit van die regering se onderneming om dienste nader aan gemeenskappe te neem.

5. Uitsaai- en digitale migrasieprogram
5.1 Die Kabinet is tevrede met die vordering wat gemaak word met die migrasieproses van analoog na digitaal. As deel van die aftelling na Desember 2018 vir die Vrystaat se analoogafskakeling, word die eerste sender op 20 September 2018 in Senekal in die Vrystaat aangeskakel. Dit is in lyn met die ooreenkoms wat gemaak is met die Internasionale Telekommunikasie-unie.

5.2 ’n Kommunikasieveldtog is aan die gang om te verseker dat al die betrokke huishoudings gereed is vir die afskakeling. Huishoudings wat ’n analoë TV-stel het en beplan om ’n nuwe een te koop, word aangeraai om een te koop met ’n geïntegreerde digitale skakelaar. Huishoudings met ’n inkomste van meer as R3 200 per maand, het die opsie om ’n nuwe geïntegreerde digitale TV-stel met ’n ingeboude digitale terrestriële TV-dekodeerder te koop, wat by al die vernaamste kleinhandel afsetgebiede beskikbaar is.

6. Afleggings
6.1 Ooreenkomstig President Ramaphosa se versoek vir ’n moratorium op die besnoeiing van poste weens die land se ekonomiese klimaat, beklemtoon die Kabinet sy beroep op werkgewers om afleggings as ’n laaste uitweg te beskou, en om eers ander beskikbare en innoverende maniere om koste te bespaar deeglik te ondersoek om poste te behou.

7. Misdaadstatistieke
7.1 Die Kabinet onderskryf die regering se groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit se dringende ingryping om ’n strategie saam te stel vir die hantering van verskeie kwessies wat deur die onlangse misdaadstatistieke na vore gekom het.
 
7.2 Dit sluit die onlangse Nasionale Beraad oor die Voorkoming van Misdaad en Geweld in, met die tema “Bou veiliger gemeenskappe deur ’n geïntegreerde, ontwikkelende benadering tot die voorkoming van misdaad en geweld”. Dit het ’n gesamentlike visie oor veiligheid as ’n kollektiewe verantwoordelikheid ontwikkel en ’n platform geskep vir die vernaamste belanghebbbers en kundiges om die doeltreffende implementering van die 2016 Witskrif oor Veiligheid en Sekuriteit oor alle sektore heen te bespreek.

8. Voorvalle van geweld
8.1 Die Kabinet is diep bekommerd oor die vlakke van geweld in ons samelewing en doen ’n dringende beroep op alle sektore, gemeenskappe en wetstoepassingsagentskappe om saam te werk om te verseker dat skole en openbare plekke veilig is.

8.2 Die voorvalle van geweld wat op verskeie plekke in die land uitgebreek het, is onaanvaarbaar en druis teen die Grondwet in. Die Kabinet prys die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir hul spoedige reaksie om diegene wat vermoedelik by voorvalle van openbare geweld betrokke was en in besit van vermeende gesteelde goedere was, in hegtenis te neem.

9. Uitbreek van klebsiella
9.1 Die Kabinet betuig sy meegevoel met die naasbestaandes van die ses babas wat dood is weens die uitbreek van klebsiella pneumoniae by die Thelle Mogoerane-hospitaal in Vosloorus.

9.2 Die uitbraak is tans onder beheer. Die Minister van Gesondheid, Dr Aaron Motsoaledi, het intussen die oorplasing van babas en hul moeders na die Nelson Mandela-kinderhospitaal en Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal respektiewelik aangekondig.

9.3 Dit gee die provinsiale Departement van Gesondheid ’n geleentheid om die omgewing skoon te skrop en te ontsmet, asook om sonder enige steurings aandag te gee aan strukturele kwessies.

B. Besluite
10. Stimulus-pakket

Die Kabinet het die voorgestelde stimulus-pakket bespreek en goedgekeur. Dit stel maatreëls voor om ons ekonomie uit verskeie verwante portefeuljes aan te vuur.  ’n Media-inligtingsessie onder leiding van President Ramaphosa word op Vrydag 21 September gehou om die pakket bekend te stel.  

11. Visum-verwante hervormings
Die Kabinet het ook ’n gesamentlik verslag van die ministers van Binnelandse Sake en van Toerisme respektiewelik, ontvang. Dit het betrekking op verskeie visum-verwante hervormings, wat dit makliker sal maak vir toeriste, sakelui en akademici om Suid-Afrika te besoek.Die hervormings sluit wysigings tot die regulasies in wat betrekking het op buitelandse minderjariges wat na Suid-Afrika reis; dit sal in Oktober in die Staatskoerant gepubliseer word. Samesprekings oor visum-kwytskelding en verslapping van visum-regulasies vir sekere lande, word ook gefinaliseer.  Meer besonderhede sal hierdie week aangekondig word.  

C. Wetsontwerpe
12. Die Kabinet keur die volgende wetsontwerpe vir openbare kommentaar goed:
12.1 Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid van 2017. Die wysigings is daarop gerig om die voldoeningsmeganismes te versterk en maak voorsiening vir die opstel van sektorspesifieke numeriese teikens rakende diensbillikheid.  Die Minister van Arbeid, in oorlegpleging met die sektor se belanghebbers, sal sektorspesifieke numeriese teikens rakende diensbillikheid opstel.

12.2 Wysigingswetsontwerp op Finansiëlesektorwetgewing van 2018: Die wysigings is daarop gerig om die voorwaardes vir kuratorskap van banke, insluitend onderlinge en koöperatiewe banke, asook sekere nie-banke, te wysig.  Die wysigings sal verseker dat indien hierdie finansiële instellings probleme ervaar, hulle bygestaan kan word op ’n manier wat kwesbare deponeerders beskerm met minimale ontwrigting vir die finansiële stelsel en die breër ekonomie.

D. Toekomstige gebeure
13. Erfenisdag
13.1 Die 2018 Nasionale Erfenisdagvierings vind by die Riverview-stadion in Kokstad, KwaZulu-Natal plaas onder die tema: “Die Jaar van Nelson Mandela: Vooruitgang van Suid-Afrika se erfenislandskap”. Dit is deel van ’n maandlange program van aktiwiteite wat gerig is op die transformasie, bevordering en bewaring van Suid-Afrika se ryk en diverse erfenis, nasionale identiteit, nasiebou en maatskaplike samehorigheid.

13.2 Die Erfenisdagvierings bring hulde aan Adam Kok en die Griekwa-gemeenskap vir hul moed, vasberadenheid en standvastigheid om weerstand te bied teen koloniale besetting.

13.3 Die Kabinet doen ’n beroep op die publiek om hul eenheid in verskeidenheid te vier, en dat elkeen sy deel bydra tot die bou van ’n land waar almal vir mekaar omgee en mekaar respekteer.

14. Verenigde Nasies se Algemene Vergadering (UNGA)
14.1 As deel van UNGA se bydrae tot voormalige President Nelson Mandela se eeufeesjaar, hou die organisasie op 24 September 2018 ’n hoëvlak voltallige vergadering oor globale vrede, wat bekend staan as die Nelson Mandela Vredesberaad, ter ere van Nelson Mandela se eeufeesjaar.

14.2 Die voltallige vergadering sal na verwagting ’n politieke verklaring aanvaar wat deur die UNGA-lidlande beding is. Dit volg op oorlegpleging deur Suid-Afrika en Ierland se permanente verteenwoordigers as medefasiliteerders, met regerings oor die inhoud van die verklaring. President Ramaphosa neem op 26 September 2018 ook deel aan die VN se hoëvlakvergadering oor TB. TB kom baie wyd in Afrika voor en lande met die hoogste TB-syfers ter wêreld is op dié vasteland.

15. Boodskappe
15.1 Medelye

Die Kabinet betuig sy meegevoel met die gesinne wie se geliefdes in ’n busongeluk op die N1-25 naby Tobias in die Waterberg Munisipale Distrik in Limpopo, gesterf het. Die Kabinet wens ook diegene wat beseer is ’n spoedige herstel toe.

16. Gelukwense
Die Kabinet wens die Minister van Kleinsakeontwikkeling, Me Lindiwe Zulu, geluk met haar toelating tot die hoogste vlak van die Orde van Rio Branco (Ordem de Rio Branco), en die Grootkruis van die Brasiliaanse regering.

Dit is aan Minister Zulu toegeken ter herkenning van haar voortgesette pogings om bilaterale betrekkinge tussen Brasilië en Suid-Afrika te verbeter. Hierdie Brasiliaanse orde vereer voortreflike diens en burgerlike deugde. Minister Zulu was die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Brasilië tussen 2004 and 2008.

F. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die nodige klaring.
17. Direksie van Rand Water:
a. Adv Faith Matshidiso Hashatse (Voorsitter);
b. Me Massacha Khulekelwe Glynnis Mbonambi (Adjunkvoorsitter);
c. Mnr LL Makibinyane;
d. Phindile Sweetness Mbanjwa;
e. Mnr Ahmed Mohammed Pandor;
f. Me Mahlatse Martha Kabi;
g. Me Mankone Ntsaba;
h. Me Nomsa Georgina Mbileni;
i. Mnr Protas Thamsanqa Phili;
j. Me Sophie Fende Molokoane;
k. Me Savannah Nonhlanhla Maziya; en
l. Mnr Ramateu Johannes Monyokolo.
18. Mnr Percival Sechemane as Hoof Uitvoerende Beampte van die Trans-Caledon Tonnelowerheid.

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder
Selfoon: 083 501 1039

Share this page

Similar categories to explore