Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 19 Maart 2014

1. Kabinet se besluite oor aktuele sake en gebeure

1.1. Die Kabinet verwelkom die vrystelling van die Twintig-Jaar-Oorsigverslag van Suid-Afrika 1994–2014 deur President Jacob Zuma, wat getuig van die vordering wat die Regering gemaak het om ’n beter lewe vir almal te skep.

Aangesien die publikasie aan voormalige President Nelson Mandela gewy word, doen die Uitvoerende Raad ’n beroep op alle sektore van die samelewing om hulle by die verslag te betrek, deel te neem aan vieringe van 20 jaar van vryheid en te help om die nasionale debat oor ons prestasies en uitdagings te lei.

Die Oorsig bevestig die vordering wat ons gemaak het in die bou van ’n nie-rassige, nie-seksistiese, vooruitstrewende en lewendige grondwetlike demokrasie, wat Suid-Afrika ’n beter land maak om in te woon.

1.2. Die Kabinet herinner alle sektore van die samelewing daaraan dat 2014 gewy word aan die veldtog van 20 jaar van vryheid.

April is Vryheidsmaand. Alle Suid-Afrikaners, internasionale vennote en belanghebbendes word genooi om aan Vryheidsmaandvieringe deel te neem deur hul verhale te deel van hoe ons deur samewerking die lewens van Suid-Afrikaners verbeter het.

Ons gaan op 7 Mei 2014 na die stembus. Laat ons weer eens bewys dat ons ’n lewendige, geesdriftige en vreedsame demokrasie is.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om aktief aan die verkiesingsproses deel te neem, maar dit vreedsaam en met verdraagsaamheid te doen en kiesers toe te laat om hul menings in die openbaar uit te spreek, maar hul kruisies in die privaatheid van die stemhokkie te trek.

Wetstoepassingsagentskappe sal gereed wees om die reg te beskerm en te verseker dat alle dele van die land aan die demokratiese proses deelneem – ’n produk van ons strewe na vryheid.

1.3. As deel van die nasionale infrastruktuurbekendstellingsplan van die Presidensiële Infrastruktuur-koördineringskommissie, wys die Kabinet die land op die volgende positiewe ontwikkelinge:

1.3.1. Bouwerk aan De Hoop-dam in Limpopo sal teen die einde van Maart 2014 ’n aanvang neem. Dit is die vierde grootste dam in ons post-demokratiese bestel. Die dam sal ekonomiese aktiwiteit stimuleer, werk skep, en dienslewering in die provinsie en omgewing verbeter.

Meer as 800 000 mense in die Sekhukhune-gebied sal by veilige en verbeterde huishoudelike watervoorsiening baat. Nuwe myn- en landbou-aktiwiteite sal ook by die watervoorsiening baat.

Munisipaliteite in die omgewing, gerugsteun deur die nasionale en provinsiale Regering, het ’n bykomende R3 miljard in infrastruktuur belê om water aan landelike en stedelike huishoudelike gebruikers te versprei.

1.3.2. Die Kabinet het sy tevredenheid uitgespreek oor die beplande bekendstelling van Fase 2 van die Lesotho Hoogland-waterprojek op 27 Maart 2014. Die projek is ’n uitstekende voorbeeld van wat bereik kan word wanneer buurlande saamwerk om ’n gemeenskaplike doel te bereik. Die ontwikkeling van wedersydse waterhulpbronne maak ’n reuse bydrae tot die vrede en voorspoed van die suider-Afrikaanse streek en die welsyn van sy mense.

1.3.3. Die Kabinet is in sy skik met die beplande vernuwing van Suid-Afrika se spoorwegstelsel, met die toekenning van ’n R50-miljard-kontrak deur Transnet vir die bou van 1 064 moderne en tegnologies gevorderde lokomotiewe.

Die rol van Transnet-ingenieurs in die ooreenkoms is om te verseker dat die afdeling met verloop van tyd omskep word in ’n vervaardiger van oorspronklike toerusting. Hierdie transaksie het dit ten doel om die Suid-Afrikaanse spoorweë te transformeer deur bestaande kleinsake te laat groei en nuwes te skep.

1.4. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die eerste MeerKat-antenne op 27 Maart 2014 deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie op die terrein van die vierkantkilometeropstelling (SKA) naby Carnarvon in die Noord-Kaap.

Die MeerKAT, wat hoofsaaklik plaaslik ontwerp en gebou is, bewys weer eens dat Suid-Afrika met die beste kan kers vashou wanneer dit by navorsing, ingenieurswese, wetenskap en tegnologie kom. Dit sal 25% van die SKA Fase 1 verteenwoordig.

1.5  Die Kabinet spreek sy meegevoel uit aan die familie en vriende van mense wat hul lewens in die onlangse swaar reën verloor het. Die Kabinet stel Suid-Afrikaners gerus dat die Nasionale Rampbestuursentrum – deur middel van die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (Natjoint) – met hul soek- en reddingspogings asook humanitêre verligting sal voortgaan. Die Kabinet loof die ingryping deur die veiligheidsmagte om met reddingspogings te help.

Alle Suid-Afrikaners, veral gemeenskappe wat in vloedgeteisterde gebiede woon, word aangeraai om ekstra voorsorgmaatreëls te tref tydens uiterste weersomstandighede. Ouers en voogde moet voorsorgmaatreëls tref om die veiligheid van kinders te verseker. Verder moet motoriste en voetgangers waaksaam bly wanneer hulle paaie in nat toestande gebruik.

1.6 Die Kabinet het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die publiek vir die wyse waarop hulle gehelp het om die druk op die nasionale kragnetwerk die afgelope maand te verlig.

Individuele verbruikers en maatskappye is aangeraai om elektrisiteit spaarsamig te gebruik veral gedurende die huidige weersomstandighede.

1.7  Suid-Afrika gaan op 2 en 3 April 2014 die Vierde EU-Afrika-spitsberaad in Brussel, België, bywoon. Die tema van die beraad is Belê in Mense, Voorspoed en Vrede.

Die beraad sal fokus op onderwys en opleiding, vroue en die jeug, asook wettige en onwettige immigrasie tussen die twee kontinente.

1.8  Die jaarlikse herdenking van Wêreld-TB-dag word op 24 Maart 2014 gevier. Die Kabinet wil graag Suid-Afrikaners aanspoor om met die Regering saam te werk om die siekte die hoof te bied.

Die epidemie het in Suid-Afrika maar ook in Afrika suid van die Sahara vererger. Die Regering se pogings om die grootste program vir die behandeling van MIV en vigs ter wêreld te implementeer, het egter nuwe TB-infeksies verminder.

Regeringsprogramme om TB die hoof te bied, sluit in die vind van gevalle en kontaksporing, asook die gebruik van GeneXpert-tegnologie om die diagnose van TB te versnel. Ons is trots op die feit dat Suid-Afrika ’n leier is in die invoering van GeneXpert-tegnologie in gesondheidsgeriewe.

Die Kabinet verwelkom die komende Ministeriële Simposium oor die Versoening van Streeksreaksie op TB in die mynbousektor in Suider-Afrika. Die simposium by die Sandton Konferensiesentrum op 25 Maart 2014 sal rolspelers in regerings van die streek, die mynbousektor in Suid-Afrika, georganiseerde arbeid, ontwikkelingsvennote en die burgery bymekaarbring.

1.9  Die Kabinet wens al die finaliste en wenners van die Tweede Jaarlikse Suid-Afrikaanse Premier BusinessAwards.

Die toekennings gee erkenning aan uitsonderlike prestasie deur sakeondernemings in verskeie kategorieë en is tydens ’n byeenkoms, bygewoon deur President Jacob Zuma, oorhandig.

Onder die ontvangers was Mnr. Sam Motsuenyane wat ’n Lewensprestasietoekenning ontvang het.

1.10 Die Kabinet neem kennis van die forensiese verslag, wat in opdrag van die Nasionale Tesourie op die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gedoen is. Dit volg op aanbevelings in die Openbare Beskermer se verslag. Dit het die Minister van Binnelandse Sake getaak om die saak op te volg en die Kabinet daaroor in te lig.

1.11 Die Kabinet veroordeel die voortslepende bendebedrywighede in die Wes-Kaap, wat gekenmerk word deur bose en wrede aanvalle op gemeenskappe en veral kinders. Dit kan nie geduld word nie; dit bedreig alles wat ons in ons demokrasie opgebou het. Die Kabinet gee erkenning aan die werk van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die bekamping van bendebedrywighede en doen ’n beroep op die betrokke gemeenskappe om met die polisie saam te werk om ons samelewing te beskerm.

1.12 Die Kabinet dra sy innige simpatie en meegevoel oor aan die familie en vriende van Mev. Martha Mahlangu, die moeder van die voormalige MK Solomon Mahlangu. Mev. Mahlangu sal op Saterdag 22 Maart 2014 begrawe word. Die Stad van Tshwane gaan Mev. Mahlangu ’n burgerlike begrafnis gee en vlae sal halfstok hang om aan haar hulde te bring.

2. Belangrike Kabinet-besprekings en -besluite

2.1. Die Kabinet het ’n verslag oor die Presidensiële Blitslyn van die afgelope vier jaar van die lyn se bestaan, ontvang. Saakoplossing en prestasie het op ’n jaargrondslag soos volg verbeter: 64,03% in jaar een; 77,79% in jaar twee; 87,46% in jaar drie and vanjaar 94,7%. Oor die vier jaar, het die kumulatiewe getal klagtes en navrae aangemeld van 75 873 in die eerste jaar tot 183 445 in die vierde jaar gestyg.

Die Kabinet doen ’n beroep op departemente en provinsies om voortdurend op die gehalte en tempo van klagteondersoeke te verbeter, aangesien ’n tevrede burgery noodsaaklik is vir die reputasie van die Presidensiële Blitslyn.

2.2. Die Kabinet het die sesde jaarlikse Iteratiewe Industriële Beleidsaksieplan (IPAP) 2014/15 tot 2016/17 vir implementering goedgekeur.

Die oorheersende doelwit van IPAP is om agteruitgang in die nywerheid te voorkom en groei en diversifikasie van Suid-Afrika se vervaardigingsektor ondersteun. Die Minister van Handel en Nywerheid sal die media toespreek wanneer IPAP volgende maand bekend gestel word.

2.3. Die Kabinet het die benadering tot die verstryking van permitte uitgereik kragtens die projek van Spesiale Bedeling vir Zimbabwiërs (DZP) goedgekeur. Permithouers sal voortaan in hul land van herkoms weer moet aansoek doen om hul permitte. Die Minister van Binnelandse Sake sal mettertyd meer duidelikheid oor die proses en die datum van die inwerkingtreding gee.

2.4. Die Kabinet het dit goedgekeur dat Artikel 100 (1) (b) ingrypings in Limpopo gehandhaaf word om voorsiening te maak vir ’n oorsig in Junie 2014 na die instelling van die nuwe administrasie. Dit sal kontinuïteit van ingrypings verseker om uitdagings aan te pak waaraan nog nie aandag geskenk is nie. Dit sal verseker dat die verbetering in die finansiële posisie van provinsies en dienslewering in maatskaplike dienste en ander sektore in stand gehou word.

2.5. Die Kabinet het die Oorsig van die Suid-Afrikaanse Weermag 2014 goedgekeur en gelas dat dit in die Parlement ter tafel gelê word. Die oorsig gee ’n beleid oor verdediging vir die langtermyn asook strategiese trajek vir verdediging wat die land oor die volgende vier Mediumtermyn- Strategiese Raamwerk periodes moet nastreef. Die dokument sal openbaar gemaak word aangesien die publiek die afgelope jaar landwyd in openbare gesprekke daaraan deelgeneem het.

2.6 Die Kabinet het ingestem dat die Verslag van die Ministeriële Komitee oor Artikulasie-beleid in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer word.

Die verslag ontleed die naskoolse onderwys-en-opleidingstelsel in ’n sosio-ekonomiese konteks. Dit bied aanbevelings aan die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding oor hoe om onnodige struikelblokke, wat studente se vordering belemmer, te verwyder.

Die artikulasiebeleid verwys na die sistematiese koördinering van opvoedkundige instellings, programme en kwalifikasies, sodat studente hul gekose leerbane doeltreffend kan nastreef.

2.7 Die Kabinet het gelas dat die Verslag van die Ministeriële Taakspan oor Grondslagprogramme vir Wiskunde en Wetenskap in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer word.

Die Ministeriële Taakspan is opdrag gegee om ’n program vir wiskunde en wetenskap in die grondslagfase te ontwikkel wat geskoei is op tegniese beroeps- en kollege-opleiding.

Dit sal help om die aantal studente aan universiteite wat wiskunde en wetenskap studeer, te verhoog en kapasiteit verbeter soos in die Nasionale Ontwikkelingsplan uitgelig.

Die program is gerig op studente wat tegniese beroepsonderwys en opleiding wil betree, die wat reeds in die tegniese beroepsgerigte onderwys en opleiding is en die wat hulself wil verbeter en aan universiteite wil studeer, asook graad 12 leerders wat by universiteite wil inskryf, maar nie aan die vereistes van wiskunde en wetenskap voldoen nie.

2.8 Die Kabinet het gelas dat die bevindinge van die 2012/13-verslag oor openbare befondsing vir wetenskaps- en tegnologieaktiwiteite gepubliseer word.

Nasionale departemente het ’n geraamde R29,4 miljard in wetenskaps- en tegnologie- aktiwiteite in 2012/13 gepubliseer, wat 3% van nasionale Regering se totale begroting verteenwoordig. Dit is ’n verbetering van die vier-jaar-gemiddeld van 2,9% tussen 2008/09 en 2011/12.

Dit is ook duidelik dat die Regering die meeste van die wetenskapsnavorsing in Suid-Afrika befonds, en dat die grootste deel van die implementering buite nasionale departemente geleë is, naamlik in die wetenskapsrade en instellings vir hoër onderwys.

2.9 Die Kabinet is ingelig oor die evaluering van die Departement van Prestasie Monitering en Evaluering oor Die impak van die Bekendstelling van Graad R op Leeruitkomste.
Vroeë belegging in die groei en ontwikkeling van kinders kan ongelykheid verminder en produktiwiteit te verhoog, veral onder benadeelde kinders.

Die Kabinet verwelkom die besondere prestasie in die reuse uitbreiding van Graad R, wat optimaal moet presteer om ’n wesentlike invloed op daaropvolgende skoolprestasie uit te oefen.

2.10 Die Kabinet is meegedeel oor die bevindinge van die Leidende Diensleweringsmoniteringsprogram vir 2013.

Die Kabinet loof en is bemoedig deur die verbetering van verantwoordelike nasionale departemente, wat betref strategiese bestuur en toesig oor prestasie op fasiliteitvlak.

Bevindinge vir die 186 fasiliteite in al die provinsies in 2013 (vir die eerste keer gemonitor) het getoon dat die burgery en moniteerders dat die gemiddelde prestasie wat betref waardige behandeling, ligging en toeganklikheid en die openings- en sluitingstye positief ervaar.

Prestasie-areas wat ingryping vereis, is klagtebestuur, sigbaarheid en tekens, bestuur van lang toue, wagtye en veiligheid.

Bevindinge van die 77 fasiliteite, wat hermonitor is om verbeterings te evalueer, het ook verbeterde graderings getoon. Dit dui op verbeterings in die bestuur van prestasie op fasiliteitsvlak as 'n strategiese prioriteit.

2.11 Kabinet het die aanbieding van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Buitengewone vergadering van Ministers verantwoordelik vir Inligtings-en-kommunikasietegnologie, Kommunikasie en Posdienste in Johannesburg vanaf 23 tot 25 Maart 2014 goedgekeur.

3. Aanstellings

Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur:

3.1. Me. Elaine Alexander in die pos van adjunk-direkteur-generaal: Ekonomiese Ontwikkeling, Handel en Bemarking by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
3.2. Me.Nkidi Dina Mohoboko in die pos van adjunk-direkteur-generaal: Leerakademie by die Departement van Binnelandse Sake.
3.3. Mnr. Sam Themba Mtshisa in die pos van adjunk-direkteur-generaal: Korporatiewe Dienste by die Departement van Openbare Werke.
3.4. Me. Malijeng Theresa Ngqaleni in die pos van adjunk-direkteur-generaal: Interregeringsverhoudings by die Nasionale Tesourie.
3.5. Mnr. Michael Sass in die pos van rekenmeester-generaal van die Nasionale Tesourie.
3.6. Mnr. Mlungisi Justice Mathonsi as hoofbedryfsbeampte van die Suid-Afrikaanse Poskantoor.
3.7. Nie-uitvoerende lede van die Oorgrenspadvervoeragentskap:
a) Me. Pam Edith Pokane (Voorsitter)
b) Mnr. Reuben Abel Dlamini
c) Mnr. Gordon Noah
d) Mnr. Moses Cyril Tiel Scott
e) Mnr. Wayne Smith
f) Me. Maleho Margaret Nkomo (heraanstelling as ondervoorsitter)
g) Me. Nala Mhlongo (heraanstelling).
3.8. Mnr. Mahesh Fakir as die uitvoerende hoof van die Hawe Reguleerder.
3.9. Nie-uitvoerende lede van die raad van direkteure van die Krygstuigkorporasie van Suid-Afrika, Beperk (Armscor):
a) Admiraal (afgt) Refiloe Johannes Mudimu (voorsitter)
b) Me. Thuthukile Skweyiya (adjunkvoorsitter)
c) Dr. Moses Khanyile
d) Mnr. Bethuel Motshwariseng Fantas Mobu
e) Adv. Sesi Baloyi
f) Me. Mpumi Zikalala
g) Mnr. M Ndumiso Tyibilika
h) Mnr. Raymond Mlungwana Vokwana
i) Adv. Virginia Lee Anne de la Hunt.

Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore