Nasionale ordes

Geskiedenis van die Nasionale Ordes

Die geboorte van ’n nuwe nie-rassige en nie-seksistiese demokrasie in Suid-Afrika het ’n kritiese hersiening van die stelsel van nasionale ordes nodig gemaak. Die vorige stelsel het uit een dekorasie en vier ordes bestaan, met ’n simboliese estetika wat verteenwoordigend van die verlede was.

In ’n poging om die verlede agter te laat, het die nuut-gestigte Presidensiële Adviesraad vir Nasionale Ordes in Mei 1998 die taak en verantwoordelikheid gekry om die stelsel van nasionale ordes en toekennings te hersien. Ten einde hierdie taak uit te voer, is ’n tegniese komitee in die lewe geroep. Hierdie komitee het ’n uitvoerige en inklusiewe navorsingsproses van stapel gestuur, met openbare samesprekings, onderhoude met insethouers op nasionale skaal, groepbesprekings wat op alternatiewe stelsels gefokus het, opdraggewing vir historiese navorsing, en juweliers- en medaljeontwerpers byeengebring het om nuwe medaljes aan die hand van ’n ontwerp-opdrag te ontwerp.

Die voormalige Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie het as deel van hierdie proses, in samewerking met die Regering se Kommunikasie- en
-inligtingstelsel (GCIS), dieper ondersoek ingestel na simbole en simboliek in ’n poging om die essensie van ’n nuwe estetika, wat die gees van die demokratiese land weerspieël vas te vang. ’n Paneel bestaande uit akademici en vakkundiges wat in inheemse simbole en simboliek onderlê is, is gevra om eg Suid-Afrikaanse sleutelfaktore en elemente te identifiseer wat die kollektiewe en inklusiewe geskiedenis en ervaring van die land weerspieël. Die gesamentlike resultaat van hierdie proses het tot opdraggewing vir, en uiteindelik die ontwerp van, die nuwe nasionale ordes gelei.

Konteks

Suid-Afrika het reeds beduidende vordering gemaak om weg te beweeg van uitsluiting en diskriminasie op grond van geslag, kleur en geloof. Die land beweeg reeds ’n geruime tyd bestendig voort op ’n pad wat na die herstel van ons mensheid lei. In hierdie opmars na humaniteit het ’n nuwe kultuur van menseregte en respek vir mense se waardigheid kenmerkend van Suid-Afrika geword.

Een van die simboliese oomblikke in die uittog uit die verlede, was die hys van Suid-Afrika se nuwe vlag in 1994. Hierdie oomblik het die trots en waardigheid van ’n land in wording en die viering van humaniteit op gepaste wyse bevestig. ’n Soortgelyke oomblik was die onthulling, op 27 April 2000, van die nuwe landswapen, waarin die kollektiewe historiese essensie van die inwoners van die land saamgevat is. Hierdeur het ’n nuwe estetika, wat Afrika en Afrika-simbole in berekening bring, deel geword van die nuwe kultuur wat kenmerkend van die Suid-Afrika se hergeboorte is.
Dit is in die gees van hierdie hergeboorte dat daar aan die nuwe nasionale ordes gestalte gegee is.

Share this page