Die geboorte van ’n nuwe nierassige en nieseksistiese demokrasie in Suid-Afrika het ’n kritiese hersiening van die stelsel van nasionale ordes nodig gemaak. Die vorige stelsel het uit een dekorasie en vier ordes bestaan, met ’n simboliese estetika wat verteenwoordigend van die verlede was.
In ’n poging om van die verlede weg te beweeg, het die nuut gestigte Presidentsadviesraad op Nasionale Ordes in Mei 1998 die taak en verantwoordelikheid gekry om die stelsel van nasionale ordes en toekennings te hersien. Ten einde hierdie taak uit te voer, is ’n tegniese komitee in die lewe geroep. Hierdie komitee het ’n uitvoerige en inklusiewe navorsingsproses aan die gang gesit, met openbare samesprekings, onderhoude met insethouers op nasionale skaal, groepbesprekings wat op alternatiewe stelsels gefokus het, opdraggewing vir historiese navorsing, en juweliers- en medaljeontwerpers byeengebring het om nuwe medaljes aan die hand van ’n ontwerp-opdrag te ontwerp.
Die voormalige Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie het, as deel van hierdie proses, in samewerking met die Regeringskommunikasie- en -inligtingstelsel (GCIS), dieper na simbole en simboliek ondersoek ingestel in ’n poging om die essensie vas te vang van ’n nuwe estetika wat die gees van die nuwe land weerspieël. ’n Paneel bestaande uit akademici en vakkundiges wat in inheemse simbole en simboliek onderlê is, is gevra om sleutelfaktore en -elemente te identifiseer wat die kollektiewe en inklusiewe geskiedenis en ervaring van Suid-Afrika, met Suid-Afrika as die belangrikste verwysingspunt, aandui. Die gesamentlike resultaat van hierdie proses het tot opdraggewing vir, en uiteindelik die ontwerp van, die nuwe nasionale ordes gelei.
Konteks
Suid-Afrika het reeds beduidende vordering in die wegbeweeg van sy verlede van uitsluiting en diskriminasie op grond van seks, kleur en geloof gemaak. Die land is al geruime tyd lank bestendig aan die voortbeweeg op ’n pad wat na die herstel van ons mensheid lei. In hierdie opmars na humanisme het ’n nuwe kultuur van menseregte en respek vir die waardigheid van die menslike gees tiperend van Suid-Afrika geword.
Een van die simboliese momente in die uittog uit die verlede was die hys van die nuwe vlag in 1994. Hierdie oomblik het die trots en waardigheid van ’n land in wording en ’n viering van humanisme op gepaste wyse bevestig. ’n Soortgelyke moment was die onthulling, op 27 April 2000, van die nuwe landswapen, waarin die kollektiewe historiese essensie van die inwoners van die land saamgevat is. Hierdeur het ’n nuwe estetika, wat Afrika en Afrika-simbole in berekening bring, deel geword van die nuwe kultuur wat tekenend van die Suid-Afrikaanse hergeboorte is.
Dit is in die gees van daardie hergeboorte dat daar aan die nuwe nasionale ordes gestalte gegee is.