Die Orde van die Baobab

Hierdie Orde word vir voortreflike diens aan Suid-Afrikaanse burgers toegeken. Die diens waarvoor die toekenning gemaak word val ver buite die grense van gewone plig. Dit is ’n toekenning vir buitengewone en voortreflike bydraes in die volgende kategorieë:

  • Die sakewêreld en die ekonomie
  • Wetenskap, medisyne en tegnologiese innovering
  • Gemeenskapsdiens.

Organisasie

Hierdie Orde word in drie klasse toegeken:

  • Klas 1 = Opperorde van die Baobab (Goud)
  • Klas 2 = Grootorde van die Baobab (Silwer)
  • Klas 3 = Orde van die Baobab (Brons).

Simboliek/ontwerpelemente

Kernmotief/simboliek

Hierdie Orde is geïnspireer deur die Baobab (kremetartboom), ’n tropiese boom in Afrika. Die oorsprong van die woord Baobab is verweef met die talle ryk legendes en geheimenisse van Afrika. Hierdie boom is waarskynlik meer dikwels as enige ander boom in Afrika beskryf, onder meer weens sy lewenskrag en die magiese en simboliese waarde wat hy vir die inheemse bevolking inhou. Die weerstandsvermoë en verdraagsaamheid waaroor die boom in sy oudwordproses beskik, simboliseer die volgehoue en voortreflike diens aan Suid-Afrika wat deur hierdie Orde bekroon word. So ook word die volgehoue en groeiende statuur van Suid-Afrika deur die diens wat gelewer word, in stand gehou.

Die Baobab is ’n belangrike element in talle agrobosboustelsels in Afrika. Die boom voorsien bas vir die maak van kledingstof en tou; dit bied ook beskutting, skadu teen die son en vrugte vir kos en brandstof, sowel as verskeie ander nuttige produkte. Die bekende, breë wortelstelsel wat duidelik bo die grond uitsteek ondersteun ’n massiewe boom wat in tradisionele Afrika-gemeenskappe algemeen bekend is as ’n plek waar baie belangrike vergaderings gehou word.

Elemente


Nekkenteken

Miniature

Lapelroset
  1. Baobab (kremetart of Adonsonia Digitata) – bekend vir sy wortels en lang lewensduur. Voorsien nie net skadu en vergaderplek nie, maar speel ook ’n kernrol in die onderhoud van die gemeenskappe waar hy groei.
  2. Negehoekige fatsoen – ’n negesydige veelhoek in die agtergrond simboliseer die talle verskillende gebiede waarop ’n bydrae en diens gelewer kan word vir die skep van ’n voorspoedige en vooruitstrewende nasie. Dit simboliseer ook die nege provinsies van ons land.
  3. Buitenste organiese houervorm – die afwerking het die tekstuur van ’n kremetart se bas, wat algemeen gebruik word vir die maak van matte en hoede.

Share this page