Die Mendi-dekorasie vir Dapperheid

Hierdie dekorasie word aan Suid-Afrikaners toegeken wat ’n daad van buitengewone dapperheid verrig het waardeur hulle hul lewens in groot gevaar gestel het, of hul lewens verloor het in ’n poging om iemand anders se lewe te red, of om eiendom te red binne of buite die Republiek van Suid-Afrika.

Organisasie

Hierdie orde word in drie kategorieë toegeken:

  • Kategorie 1 = Goud
  • Kategorie 2 = Silwer
  • Kategorie 3 = Brons.

Simboliek/ontwerpelemente

Kernmotief/simboliek

Die skild, wat van diervel, gewoonlik beesvel, gemaak is, is tot ’n ovaalvormige produk met ’n baie stywe oppervlak verwerk en geweef en met ’n houthandvatsel afgewerk. Die knopkierie en spies hoort by die skild, wat as ’n simboliese gebaar van welwillendheid aan mense gegee word wat van regoor die wêreld kom om ons land te besoek.

Elemente

Nekkenteken

Lapelroset

Miniatuur

Die skild

  1. Die SS Mendi – verteenwoordig die dapperheid van talle swart Suid-Afrikaanse soldate en hulle wit mede-offisiere wat aan boord die SS Mendi verdrink het. Die skip het gesink nadat dit op 21 Februarie 1917 in die ysige water van die Engelse kanaal naby die eiland Wight, die SS Darro getref het en byna middeldeur gesny is. Die soldate was tydens die Eerste Wêreldoorlog op pad na Frankryk om bystand aan die Britte te verleen.
  2. Die bloukraanvoël – die bloukraanvoël se vlug deur die lug bo die SS Mendi op see, simboliseer die siele van die dapper soldate wat verdrink het. Die bloukraanvoël se vere is in die koloniale oorloë tradisioneel as versiering deur soldate gebruik.
  3. Die groen smarag – die kern vanwaar die drie wysers voortkom, verteenwoordig die weg vorentoe deur hulpverlening aan hulpbehoewendes tydens natuurrampe en ander uiterste moeilike omstandighede, wat van tyd tot wêreldwyd voorkom.

Die houervorm

  1. Leeu – as simbool van skoonheid, krag en dapperheid, word die leeu deur sy spore om die rande van die houervorm verteenwoordig. Dit dui op grenspatrollies – binne en buite ons landsgrense – deur dapper en toegewyde Suid-Afrikaners. Die drie geografiese wysers word verteenwoordig deur die integrasie van die blomme van die bitteraalwyn, ’n inheemse Suid-Afrikaanse plant wat uithouvermoë, oorlewing en medisinale eienskappe simboliseer.
  2. Knopkierie en spies – simboliseer saam met die skild, die eienskappe van verdediging en eer.

Share this page