Staatsrede deur sy Eksellensie, Jacob G Zuma, President van die Republiek van Suid-Afrika, tydens die gesamentlike sitting van die Parlement, Kaapstad

13 Feb 2014

Agbare Speaker van die Nasionale Vergadering,
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies;
Adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering en Adjunkvoorsitter van die NRP;
Adjunkpresident van die Republiek, Agbare Kgalema Motlanthe;
Voormalige Adjunkpresident Baleka Mbethe,
Agbare Hoofregter van die Republiek, en alle agbare lede van die Regbank;
Agbare Ministers en Adjunkministers,
Agbare Premiers en Speakers van ons Provinsies;
Voorsitter van SALGA, en leierskap van die plaaslike regering;
Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers;
Hoofde van Hoofstuk 9-instellings;
Die Goewerneur van die Reserwebank,
Leiers van die sake-, sport-, tradisionele, en godsdienssektor, en alle ander sektore,
Lede van die diplomatieke korps, spesiale en eerbare gaste,
Agbare lede,
Mede-Suid-Afrikaners,

Good evening, sanibonani, molweni, dumelang, riperile, ndimadekwana, goeienaand.

Ek bedankl graag die Voorsittende Beamptes vir die geleentheid om met hierdie laaste Staatsrede van die vierde demokratiese administrasie, die mense van Suid-Afrika toe te spreek.

Ek betuig my innige medelye met die afsterwe van die agbare mnr Ben Skhosana, een van die langs-dienende en mees senior lede van dié vooraanstaande huis en ons voormalige Minister van Korrektiewe Dienste.

Ons is opreg jammer oor sy skielike afsterwe.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie asook met die leier van die IFP, Shenge, en al die lede van die IFP.

Agbare Speaker,

Agbare Voorsitter van die NRP,

Dit is die eerste Staatsrede wat in die afwesigheid van ons eerste President, Sy Eksellensie Nelson Rolihlahla Mandela gelewer word.

Sy afsterwe op die vooraand van die 20ste jaar van vryheid en demokrasie was vir Suid-Afrikaners, asook mense buite ons grense, besonder pynlik.

Ons vind troos in die wete dat Madiba vir ewig in ons harte sal voortleef en dat ons 'n plig het om sy nalatenskap voort te sit.

Agbare Lede,

Ons land het mans en vroue van aansien voortgebring, wat in moeilike tye leierskap gebied het.

Een so 'n leier was mnr Moses Kotane, voormalige tesourier-generaal van die ANC en die voormalige algemene sekretaris van die SAKP.

Dit is vir ons ’n eer om sy geliefde vrou, Mama Rebecca Kotane, vanaand as ’n spesiale gas hier te verwelkom.

Mama Kotane het gister 102 jaar oud geword, en ons wens haar alles van die beste toe.

Ons bring ook hulde aan die voormalige ANC President mnr Oliver Tambo, wat die vlam van vryheid gedurende die donkerste dae van ons stryd plaaslik sowel as in die buiteland laat aanhou brand het.

Sy seun Dali en skoondogter Rachel deel ook vanaand hierdie besondere geleentheid met ons.

Ons salueer Solomon Mahlangu, 'n dapper jongman wat in 1979 op die ouderdom van 23 met trots aan die galg gesterf het. Hy het gesê: “My bloed sal die boom voed wat die vrugte van vryheid gaan dra. Sê vir my mense ek is lief vir hulle. Hulle moet die stryd voortsit.’’

Ons het die eer om sy moeder, Mama Martha Mahlangu, en haar agterkleindogter Bathabile hier te verwelkom.

Die jaar 2014 is ook die 40ste herdenking  van die lafhartige moord in 1974 op die studenteleier Abram Onkgopotse Tiro met 'n pakketbom in Botswana.

Ons verwelkom sy broer, Mogomotsi Tiro, by hierdie geleentheid. Ons betuig graag ons dank vir sy broer se onbaatsugtige opoffering.

Ons onthou diegene wat in die 1980's en 1990's in die geweld wat deur die destydse regering in ons townships en dorpies aangehits is gesterf het.

Me Jabu Ndlovu, 'n voormalige vakbondverteenwoordiger van die Nasionale Unie van Mynwerkers van Suid-Afrika (NUMSA) is in 1988 in Pietermaritzburg saam met haar man Jabulani en hulle seun doodgeskiet.

Ons verwelkom haar dogter, Luhle, en seun, Sanele, en bring hulde aan alle families regoor die politieke spektrum wat geliefdes aan die dood afgestaan het.

Agbare Speaker,

Agbare Voorsitter van die NRP,

Ons het daarin geslaag om die pyn van die verlede te oorwin en 'n nuwe samelewing te bou.

Ons het sterk instellings van demokrasie gebou.

Ons het die ondemokratiese, nie-verteenwoordigende, onderdrukkende en korrupte staat wat 'n minderheid gedien het, begrawe.

Ons het 'n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese demokratiese staat gevestig, wat verantwoordbaar is teenoor en verteenwoordigend is van alle Suid-Afrikaners.

Ons het 'n florerende grondwetlike demokrasie geskep, met goed-funksionerende afdelings van die staat – die wetgewende, die uitvoerende en die regsprekende gesag.

Ons het Hoofstuk 9-instellings gevestig wat demokrasie ondersteun en die regte van alle burgers beskerm.Vryheid en demokrasie het ook geleenthede geskep vir 'n aktiewe burgerlike samelewing en 'n vrye pers.

Hierdie vryheid het ook vir die eerste keer ooit die belofte van geslagsgelykheid gebring. Die verteenwoordiging van vroue in openbare instellings het sedert die begin van demokrasie aansienlik toegeneem, terwyl die uitbreiding van basiese dienste ook tot voordeel van vroue strek.

Al hierdie kenmerke maak van Suid-Afrika 'n veel beter plek om in te leef as ooit vantevore.

Ons land worstel egter steeds daagliks met die drievoudige uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Die hantering van hierdie uitdagings het die sentrale fokus van alle demokratiese instellings geword.

Ons het gekies om op vyf prioriteite te fokus, naamlik onderwys, gesondheid, die stryd teen misdaad en korrupsie, landelike ontwikkeling en grondhervorming asook die skep van behoorlike werk.

Ons het die Staat geherorganiseer om ons prestasie te verbeter.

Om dit te bereik het ons het twee sleutelfunksies geskep, naamlik langtermynbeplanning  en monitering en evaluering.

Ons het die Nasionale Beplanningskommissie tot stand gebring, wat die landmerk Nasionale Ontwikkelingsplan ontwikkel het: die land se sosio-ekonomiese bloudruk en een van die belangrikste prestasies van die vierde administrasie.

Dié Plan bied 'n uiteensetting van wat ons behoort te doen om armoede teen 2030 uit te wis, meer werksgeleenthedete skep  en ongelykheid te verminder.

Ons monitering en evaluering dui daarop dat talle dienste steeds aan die verbeter is. Die verwerking van maatskaplike toelaes en identiteitsdokumente verloop byvoorbeeld reeds heelwat vinniger. Daar is egter op ander terreine nog baie werk te doen.

Ek doen vervolgens verslag oor die vyf prioriteite, en begin met die ekonomie.

Die ekonomie het van 1994 tot 2012 met gemiddeld 3,2 persent per jaar gegroei, ondanks die wêreldwye resessie wat 'n miljoen werksgeleenthede gekos het.

Danksy samewerking deur die Regering, die sakesektor, arbeid en die gemeenskap,  het ons die ekonomie op die herstelpad geplaas.

Die nasionale welvaart, gemeet in BBP, het tot meer as 3,5 triljoen rand gegroei.

Meer werksgeleenthede word nou weer geskep. Daar is tans 15 miljoen mense in die land wat werk het , die meeste ooit in ons geskiedenis, en volgens StatsSA is meer as 650 000werksgeleenthede verlede jaar geskep.

Maar dit is steeds nie goed genoeg nie. Die werkloosheidsyfer bly hoog. Werkloosheid onder Suid-Afrika se jeug bly ’n bron van kommer, net soos elders ter wêreld.

Ons skep 'n paar belangrike maatreëls om die situasie te verbeter, soos die Wet op die Aansporing van Indiensneming, wat werkgewers aanmoedig om jonger werkers in diens te neem.

Regulasies is ook in plek om te verseker dat dit nie ongesubsidieerde of ouer werkers negatief raak nie.

Verdere maatreëls is vervat in die Nasionale Jeugakkoord, wat verlede April in Soweto onderteken is.

Die Uitgebreide Openbarewerke-program en die Gemeenskapswerk-program bly steeds 'n effektiewe buffer vir behoeftige mense en die jeug.

Ons het die afgelope vyf jaar 3,7 miljoen werksgeleenthede geskep. Mense verdien 'n inkomste en leer nuwe vaardighede deur middel van die Openbarewerke-program, wat hulle dan help om formele werksgeleenthede te soek.

Die Kabinet het 'n doelwit van 6 miljoen werksgeleenthede van 2014 tot 2019 gestel, wat spesifiek op die jeug gemik is.

Ons maatskaplike bystandsprogram, wat nou ongeveer 16 miljoen mense bereik, voorsien  ‘n sekuriteitsnet aan miljoene mense, veral kwesbare kinders.

Talle huishoudings trek voordeel uit regeringstoelaes, waaronder kindertoelae, pensioene en ongeskiktheidstoelae.

Die Regering sal voortgaan om hierdie toelae te  voorsien, omdat  talle huishoudings daarvan afhanklik is gegewe die tekort aan werksgeleenthede in hierdie moeilike ekonomiese afswaaifase.

Deur hierdie geleentheid, wat deur die Regering moontlik gemaak word, kan ons met trots sê dat ons tans in 'n land leef wat veel beter is as die een waarin ons vóór 1994 geleef het.

Landgenote,

Ons staan steeds midde-in 'n moeilike tydperk.

Ontwikkelings in die  ekonomie van die Verenigde State het tot 'n snelle waardevermindering in die geldeenhede van opkomende markte, insluitende die rand, gelei. 

Met verloop van 2013 het die waarde van die rand met 17,6 persent teen die Amerikaanse dollar verminder. 

Die swakker wisselkoers hou 'n beduidende risiko vir inflasie in en sal ons infrastruktuurprogram  ook duurder maak.

Uitvoermaatskappye, veral in die vervaardigingsektor, behoort egter voordeel uit die swakker rand en die sterker wêreldwye herstel te trek.

Selfs te midde van bogenoemde probleme weet ons dat ons ook hierdie onbestendige tydperk kan oorleef.

Ons het dit immers reeds voorheen, gedurende die afgelope vyf jaar, gedoen.

Trouens, ons sal sterker uit hierdie stryd tree, mits ons die regte dinge doen.

Ons as die Regering-, sake- en arbeidsektor moet saamwerk om ons ekonomie te laat groei teen koerse hoër as 5 persent sodat ons die nodige werksgeleenthede te kan skep.

Gelukkig is hierdie samewerking reeds 'n werklikheid.

Dit vind plaas by NEDLAC, wat een van die sleutelinstellings in ons demokrasie is vir samewerking tussen die Regering-, die sake-, arbeid- en gemeenskapsektor.

Dit het ook plaasgevind tydens gesprekke wat ons met  die sakegemeenskap gehad het.

Ek het verlede jaar begin om met die sakesektor oorleg te pleeg oor spesifieke stappe wat die Regering kan doen om dit makliker te maak om in ons land sake te doen.

Voortspruitend uit daardie proses het ons nou die regulerende en lisensiëringsgoedkeurings vir omgewingsimpak-assesserings, waterlisensies en mynboulisensies vaartbelyn.

Die Parlement finaliseer tans wysigings aan die wet om hierdie uiters positiewe ontwikkeling te bewerkstellig, wat die tyd wat dit neem om 'n myn te open vanaf die datum van aansoek tot die finale goedkeuring, tot minder as 300 dae sal verkort.

Die Adjunkpresident van die Republiek gaan voort om gesprekke tussen die Regering, mynmaatskappye en die arbeidsektor te fasiliteer.

Die doel van hierdie oorlegplegings is om arbeidsverhoudinge in hierdie baie belangrike sektor van ons ekonomie te stabiliseer. Die proses het reeds positiewe  gevolge.

Stakings in die sektor was minder en korter as verlede jaar.

En – belangriker nog – arbeidsverhoudinge word in ooreenstemming met die wet beoefen.

Ons het tussenbeide getree in die mynbousektor omdat dit een van ons sleuteldryfkragte vir werkskepping is. Mynwese bied werksgeleenthede aan meer as 'n halfmiljoen mense.

Dit is die grootste verdiener van buitelandse valuta in ons land en dra ook regstreeks ongeveer 20 biljoen rand  tot die belastinginkomste by.

As 'n koper van goedere en dienste, en 'n verskaffer van insette, lewer mynbou 'n veel groter bydrae aan ander sektore van ons ekonomie, asook aan ander ekonomieë regoor die wêreld.

Ons ondersoek vennootskappe met belanghebbers om die vraagstuk van behuising in myndorpe te help oplos.

Ek herinner ook graag mynmaatskappye daaraan dat 2014 die sperdatum is om mynwerkers se behuising en lewensomstandighede te verbeter en om sekere teikens te bereik.

Die Regering monitor steeds maatskappye se maatskaplike en arbeidsplanne, asook die teikens van die Mynwese-handves en dwing nakoming van hierdie planne en teikens af.

Mede-Suid-Afrikaners,

Agbare lede,

Buiten mynbou, het ons in 2009 vyf ander dryfkragte vir werkskepping geïdentifiseer.

Hierdie dryfkragte is toerisme, landbou, die groen ekonomie, infrastruktuurontwikkeling en vervaardiging.

Die toerismebedryf het dramaties gegroei. In 1993 het Suid-Afrika 'n skamele 3 miljoen buitelandse besoekers ontvang. Teen 2012 het die aantal besoekers tot 13 miljoen gestyg.

Ons sal voortgaan om hierdie bedryf te ontwikkel, gegewe die potensiaal daarvan vir werkskepping.

In 2012 het ons die Nasionale Infrastruktuurplan deur die Presidensiële Infrastruktuur-koördineringskommissie onder leiding van die President bekendgestel.

Ons het sedertdien een triljoen rand in openbare infrastruktuur oor die afgelope vyf jaar belê.

Baie van die projekte is reeds voltooi of nader voltooiing.

Ek noem net 'n paar.

Die Rea Vaya-stelsel in Johannesburg word nou deur meer as 100 000 inwoners gebruik. Soortgelyke stelsels word in Kaapstad, Tshwane, Nelson Mandelabaai, Buffalo City, eThekwini en Rustenburg gebou.

Die land se hawens is verbeter.

Ons het 'n brandstofpyplyn van 700 kilometer vanaf Durban na Gauteng gebou om 4 biljoen kubieke liter petrol, diesel en straler-brandstof per jaar te vervoer.

Bykans 1 500 kilometer se nuwe paaie of bane is gebou.

Hierdie vordering ten opsigte van paaie herinner ons aan diegene wat voorheen in hierdie regering gedien het en wat die beste vir ons land wou hê, soos ons voormalige Minister van Vervoer, mnr Dullah Omar.

Sy geliefde eggenoot Farieda is vanaand een van ons gaste.

Daar is begin met die konstruksie van nuwe spoorlyne in Mpumalanga om die druk op die paaie te verlig.

Die Gautrein-projek is nou in volle gang en vervoer meer as 1,2 miljoen passasiers per maand.

Die Passasierspoor-agentskap van Suid-Afrika gaan oor die volgende 10 jaar meer as 120 biljoen rand uitgee om nuwe treine te koop.

Transnet stel tans sy massiewe 300 biljoen rand markvraagstrategie in werking, waardeur broodnodige vervoerinfrastruktuur gebou word.

Om die ekonomiese potensiaal van die Wes-Kaap en die Weskus te ontgin, het ons die Saldanha-nywerheidsontwikkelingsone geloods en twee nuwe fabrieke in Atlantis geopen.

Om watervoorsiening te verbeter is twee groot nuwe damme voltooi, naamlik De Hoop in Limpopo en Spring Grove in KwaZulu-Natal, terwyl fase twee van die Lesotho Hoogland Waterskema binnekort van stapel gestuur sal word.

Konstruksie gaan voort by die nuwe kragstasies, Medupi in Limpopo, Kusile in Mpumalanga en Ingula naby Ladysmith, wat werk aan meer as 30 000 mense verskaf.

Ons ondersoek deurentyd alternatiewe bronne van energie ooreenkomstig die Geïntegreerde Hulpbronplan vir Energie.

Die ontwikkeling van petroleum, veral skaliegas, sal die Karoo en die Suid-Afrikaanse ekonomie vir altyd verander.

Nadat al die risiko's en geleenthede oorweeg is, sal die finale regulasies binnekort bekendgestel word, gevolg deur die verwerking en toestaan van lisensies.

Ons verwag om deur hierdie proses 9 600 megawatt se kernkrag te verkry.

Biobrandstofvervaardigers is gekies en het reeds in produksie.

Agbare lede

Ons land is inderdaad 'n land aan die werk en is 'n veel beter plek om in te woon. Ons moet die momentum behou.

Agbare lede,

Al meer van ons welvaart word deur die internet of telekommunikasie geskep.

37 000 kilometer se vesel-optiese kabels is die afgelope vyf jaar deur die privaat- en openbare sektor gelê. Dit sal oor die volgende paar jaar aansienlik uitgebrei word.

Ons is trots op ons suksesse in wetenskap en tegnologie. Die oprigting van die eerste teleskoop van die 64-skottel-voorloper van die Vierkante Kilometer Reeks (SKA), die MeerKAT, sal in die eerste kwartaal van 2014 voltooi word.

Agbare lede,

Ons aansporingsmaatreëls om vervaardiging 'n hupstoot te gee, het goeie opbrengste gelewer.

Die Outomobiel Beleggingskema wat in 2009 van stapel gestuur is, het altesaam 3,8 biljoen rand se aansporingsmaatreëls vir ongeveer 160 beleggingsprojekte goedgekeur. Dit verskaf meer as  50 000 werksgeleenthede.

Die maatskappye sal sedanmotors, minibus-taxi's en busse vervaardig.

Ons het die klere-, tekstiel-, leer- en skoeiselsektor gestabiliseer, wat voorheen heelwat werksgeleenthede verloor het.

Verskeie nywerhede is vir plaaslike inhoud geoormerk. Dit sluit busse, ingemaakte groente, klere, tekstiel, leer en skoeisel, asook ander goedere in.

Ons het konkrete voorbeelde van die sukses van die lokaliseringsprogram.

In die afgelope twee jaar alleen is meer as 20 000 minibus-taxi's en 330 busse plaaslik gemonteer, wat belegging en ontwikkeling na ons stede lok.

Oor die volgende vyf jaar sal die staat minstens 75 persent van sy goedere en dienste van Suid-Afrikaanse produsente verkry.

Mede-Suid-Afrikaners,

Ons moet meer intensief werk om opkomende of swart nyweraars te ontwikkel.

Baie van die aspirant swart nyweraars kla oor die probleme wat hulle ervaar om toegang tot nywerheidsfinansiering, verskaffer- en kleinhandelmarkte en tegniese produksie-ondersteuning te verkry.

Die Nasionale Bemagtigingsfonds, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Kleinsake-finansieringsagentskap sal voortgaan om finansiering aan lewensvatbare sakeondernemings in swart besit te voorsien om industrialisering te bevorder.

Daarbenewens moedig ons gevestigde sakeondernemings aan om die ontwikkeling van swart nywerheidsondernemings te ondersteun.

Landbou is 'n sleutelwerkgewer en bied talle geleenthede vir entrepreneurskap.

Ons landbou-ondersteuningsprogram, Fetsa Tlala, lewer reeds splinternuwe uitvoerders op.

Die eerste 88 kleinhoewe-boere in hierdie program het 268 ton mielies en boontjies aan die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram verskaf wat verlede maand na Lesotho gestuur is. Ons verwag dat hierdie getal sal styg.

Ons sal voortgaan om ook ons visserye-sektor te bevorder, wat 'n geraamde 6 biljoen rand tot die ekonomie bydra en 27 000 werksgeleenthede skep.

Agbare lede,

Ons maak goeie vordering met die grondhervormingsprogram.

Sowat 5 000 plase, wat 4,2 miljoen hektaar beslaan, is sedert 1994 aan swart mense oorgedra, en meer as 200 000 families het hierby gebaat. Nagenoeg 80 000 grondeise, wat 3,4 miljoen hektaar beslaan, is geskik en 1,8 miljoen mense het hieruit voordeel getrek.

Die volgende administrasie sal 'n hele aantal beleids-, wetgewende en praktiese ingrypings moet voortsit om die vervreemding van ons mense van hul grond reg te stel.

Dit sluit in kwessies rakende die instelling van die Kantoor van die Waardeerder-Generaal om die grondeise-proses te heropen.

Agbare lede

Suid-Afrika is inderdaad 'n veel beter plek om te woon.

Laat my toe om nou verslag te doen oor ons maatskaplike-transformasieprogram.

Onderwys is vir miljoene mense ’n manier om uit armoede te ontsnap.

Ons is derhalwe dankbaar dat skoolinskrywings beduidend toeneem, van voorskools tot op tersiêre vlak.

Die aantal kinders wat Graad R bywoon, het tussen 2003 en 2011 meer as verdubbel, van ongeveer 300 000  tot meer as 700 000.

'n Konsepbeleidsraamwerk vir Universele Toegang tot Graad R is vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer, met die oog daarop om Graad R verpligtend te maak.

Landgenote,

Agt miljoen leerders woon gratis skole by, terwyl nege miljoen voedsame etes by die skool ontvang kry wat deur die Regering voorsien word om te verseker dat hulle nie honger ly nie en goed kan presteer.

Die matriek-slaagsyfer het gestyg van 61 persent in 2009, tot 78 persent verlede jaar, terwyl die baccalaureus-slaagsyfer elke jaar verbeter.

Deur middel van die Jaarlikse Nasionale Assesserings bly ons op die hoogte van verbeterings en enige ingrypings wat nodig is, veral in wiskunde en wetenskap.

Om inklusiwiteit en diversiteit te bevorder, sal die Suid-Afrikaanse gebaretaalkurrikulum van 2015 af in skole aangebied word.

Die aantal geletterde volwassenes is deur middel van die Kha Ri Gude program verhoog, van 2,2 miljoen in 2008 tot 3 miljoen mense tans.

Ons het ook in onderwysersopleiding belê en heropen verskeie onderwyseropleidingskolleges om in die vraag te voorsien.

In ons strewe om 'n behoorlike leeromgewing te voorsien, het ons 370 nuwe skole beskikbaar gestel om modderskole en ander ondoelmatige strukture regoor die land te vervang. Die program duur voort.

Landgenote

Ons het ook goeie nuus oor hoër onderwys.

Studente-inskrywings aan universiteite het met 12 persent gestyg, terwyl inskrywings aan Verdere Onderwys-en-Opleidingskolleges (VOO) met 90 persent toegeneem het.

Ons het die begrotings van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema tot 9 biljoen rand verhoog om in die toenemende vraag te voorsien.

Nog 'n belangrike prestasie wat in hierdie termyn behaal is, is die vestiging van twee splinternuwe universiteite, die Sol Plaatje Universiteit in die Noord-Kaap en die Universiteit van Mpumalanga.

Ons gaan ook 12 nuwe VOO-kolleges in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap bou.

Landgenote,

Die bekendstelling van die Nasionale Raamwerk vir Onderwyssamewerking verlede jaar was 'n belangrike ontwikkeling vir die land. Ons wens die span alles van die beste toe in die uitvoering van hul nasionale pligte.

Landgenote,

Ons het ook goeie nuus oor die verbetering van gesondheidsorg in die land.

Die afgelope vyf jaar is 300 nuwe gesondheidsorgfasiliteite gebou, wat 160 nuwe klinieke insluit.

Tien nuwe hospitale is onderskeidelik in Ladybrand, Germiston, Mamelodi, Natalspruit, eThekwini, Zola, Bojanala, Vryburg Distrik, Swartruggens, Khayelitsha en Mitchell’s Plain gebou of opgeknap.

Agbare Speaker

Agbare Voorsitter van die NRP

Die MIV- en VIGS-ommekeer is een van hierdie administrasie se grootste prestasies en ons word deur die Verenigde Nasies se Vigs-program (UNAIDS) as 'n model-land voorgehou.

Moeder-na-kind-oordrag van MIV het skerp afgeneem en die aantal mense wat anti-retrovirale behandeling ontvang het van een miljoen tot 2,4 miljoen in 2013 gedaal.

Meer as 20 miljoen Suid-Afrikaners het sedert die bekendstelling van die veldtog in 2011 die MIV-toets ondergaan, wat daarop dui dat mense vertroue in die gesondheidstelse het l.

Lewensverwagting toon nou 'n besliste opwaartse neiging. Suid-Afrikaners leef nou langer.

Die teiken vir die volgende administrasie is om te verseker dat minstens 4,6 miljoen mense by die anti-retrovirale program ingeskryf word.

In dié verband erken ons die bydrae en harde werk van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigs-raad .

Hoewel ons ons suksesse moet vier, moet ons nie selftevrede op ons louere rus nie. Voorkomingswerk moet steeds voortgaan sodat ons die mikpunt van geen MIV-infeksies vinniger kan bereik.

Op 'n breër vlak sal ons 'n nuwe fase in die implementering van die Nasionale Gesondheidsprogram betree, wat gehalte-gesondheidsorg na die armes sal uitbrei.

Agbare Voorsitter van die NRP,

Agbare Speaker

Die algehele misdaadsyfer het sedert 2002 met 21 persent gedaal en pogings om gemeenskappe veiliger te maak duur voort.

Een van die sleutelfokusareas is om geweld teen vroue en kinders die hoof te bied. Ons het verskeie maatreëls ingestel om hierdie uitdaging aan te pak.

Dit sluit die heropening van die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings, asook die Howe vir Seksuele Oortredings in.

Ons bedank die talle NRO's wat vroue en kinders se regte bevorder, en wat 'n positiewe bydrae tot hierdie belangrike saak lewer.

Ons land bly die teiken van renosterstropers.

Ons wetstoepassingsagentskappe werk hard om hierdie wrede misdaad te stuit. Ons het in dié verband samewerkingsooreenkomste met Sjina, Viëtnam en Kenia gesluit, asook met Mosambiek en ander SAOG-lande om te help om dit die hoof te bied.

Ons bedank die sakegemeenskap en alle Suid-Afrikaners wat aan die veldtog om renosters te red, deelneem.

Landgenote,

Die onafhanklikheid van die regbank is verder versterk deur die vestiging van die Kantoor van die Hoofregter as 'n afsonderlike instelling van die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling. Ons het verskeie wetgewing aanvaar om dié nuwe rol van die Kantoor van die Hoofregter te ondersteun.

Vordering word gemaak met die transformasie van die regbank om die land se rasse- en geslagsdemografie te weerspieël.

Die Hoofregter van die Republiek neem die leiding as kampvegter vir hierdie transformasie.

Swart regters (Afrikane, Indiërs en bruin mense) maak nou 61 persent van alle regters uit.

Die akute onderverteenwoordiging van vroue op die regbank bly egter rede tot kommer. Uit die totaal van 239 regters, is slegs 76 vroue.

Die uitdaging is om die regsberoep op 'n breë front te hervorm om die poel waaruit vroulike regters aangestel kan word, te voed.

Die finalisering van die Wetsontwerp op die Regspraktyk sal help om die poel waaruit potensiële regterlike amptenare gekies kan word, uit te brei.

Agbare Speaker en Voorsitter,

Suid-Afrikaners is verenig in hul strewe na 'n korrupsievrye samelewing. Die bestryding van korrupsie in die Staatsdiens werp reeds vrugte af.

Sedert die bekendstelling van die Nasionale Anti-korrupsie Blitslyn deur die Staatsdienskommissie is meer as 13 000 gevalle van korrupsie en wanadministrasie na staatsdepartemente verwys vir verdere hantering en ondersoek.

Die Regering het deur die Nasionale Anti-korrupsie Blitslyn meer as 320 miljoen rand van oortreders verhaal.

Sake wat suksesvol deur die Nasionale Anti-korrupsie Blitslyn hanteer is, sluit die volgende in:

  •  1 542 amptenare is uit die Staatsdiens ontslaan.
  •  140  amptenare is met drie maal hul maandelikse salaris beboet.
  •  20 amptenare is gedemoveer.
  •  355 amptenare het finale skriftelike waarskuwings ontvang.
  •  204 amptenare is vervolg.

In 'n poging om korrupsie in die voorsieningskettingstelsel te voorkom, het die Regering besluit om 'n sentrale tenderraad te vestig om tenders in alle regeringsfere te beoordeel.

Hierdie liggaam sal met die hoofverkrygingsbeampte saamwerk, wie se vernaamste funksie sal wees om prysing, nakoming van prosedures asook regverdigheid te kontroleer.

Die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek tans wanadministrasie of beweerde korrupsie in verskeie staatsdepartemente en staatsentiteite deur middel van 40 proklamasies wat gedurende hierdie administrasie deur die President geteken is. Ons sal die publiek op die hoogte hou van die uitslag van die ondersoeke.

In die eerste ses maande van verlede jaar het die Batebeslagleggingseenheid altesaam 149 miljoen rand in die Rekening vir Verhaling van Kriminele Bates en aan die slagoffers van misdaad oorbetaal.

Dit is 170 persent meer as die mikpunt van 55 miljoen rand en is hoër as wat dit ooit vantevore in 'n volle jaar was.

Verlede jaar het die mededingingsowerhede grootskaalse prysvasstelling in die konstruksiebedryf ondersoek, en skuldige maatskappye is boetes van 1,4 biljoen rand opgelê.

Verdere stappe teen die betrokkenes word tans gedoen.

Landgenote,

Ek wil nou graag kortliks verwys na die voorsiening van basiese dienste aan ons mense.

Die afgelope 20 jaar is goeie vordering gemaak met die lewering van dienste soos water, sanitasie en elektrisiteit.

Die Regering het met 'n intensiewe program begin om die emmerstelsel uit te skakel as deel van die herstel van ons mense se  waardigheid.

Fase een van die program sal die gebruik van emmers in geformaliseerde townships in die Vrystaat, die Oos-Kaap en die Noord-Kaap beëindig.

Tydens fase twee sal emmertoilette in informele nedersettings in alle provinsies uitgeskakel word.

Wat behuising betref, is sowat 3 miljoen behuisingseenhede en  meer as 855 000 gedienste terreine sedert 1994 gelewer.

Sowat 500 informele nedersettings is die afgelope vyf jaar deur gehaltebehuising met basiese dienste vervang.

Die volgende administrasie sal gemengde-inkomste-behuisingsprojekte wat beter geleë is, bevorder.

Landgenote,

Sommige gemeenskappe beskik steeds nie oor hierdie dienste nie, veral in informele nedersettings en landelike gebiede. Ons werk dus nóú saam met alle regeringsfere om die voorsiening van hierdie dienste te verseker, veral in die 23 munisipaliteite met die grootste agterstande.

Landgenote

In verlede jaar se Staatsrede het ek my kommer uitgespreek oor die voorkoms van geweld in sommige van die protesoptredes wat in ons land plaasvind.

Daar was die afgelope paar weke weer gewelddadige betogings in die land.

Dit is ook kommerwekkend dat die geweld skynbaar met voorbedagte rade plaasvind, aangesien petrolbomme en ander wapens tydens betogings gebruik word.

Die demokratiese Regering steun alle burgers se reg om hulself uit te druk.

Die reg om vreedsaam en ongewapen te betoog is in die Grondwet verskans.

Wanneer hierdie betogings egter lewens bedreig en eiendom en waardevolle infrastruktuur beskadig, ondermyn dit die einste demokrasie wat hierdie reg moet verseker.

Protesoptrede in Suid-Afrika word grootliks aan die beweerde mislukkings van die Regering toegeskryf.

Hierdie protesoptrede is egter nie bloot die gevolg van "mislukkings" van die Regering nie, maar ook van die sukses in die voorsiening van basiese dienste.

Wanneer 95 persent van huishoudings toegang tot water het, voel die 5 persent in wie se behoeftes nog voorsien moet word, dat hulle nie 'n oomblik langer kan wag nie.

Sukses is ook die teelaarde van groter verwagtings.

Laat ek ook byvoeg, Agbare Lede, dat enige lewensverlies veroorsaak deur die polisie in hul hantering van die protesoptrede nie ontsien of oorgesien kan word nie.

Lewensverlies is nie 'n onbenullige saak nie. Ons moet weet wat gebeur het, hoekom dit gebeur het. Daar moet streng opgetree word teen enige oortredings en regstellende stappe moet gedoen word. Die polisie moet te alle tye binne die bestek van die wet optree.

Dit is egter vir ons as 'n gemeenskap ook ‘n ernstige bron van kommer dat bykans 800 polisiebeamptes tussen 2005 en 2013 vermoor is.

Die polisie is beskermers en is die buffer tussen 'n demokratiese samelewing gegrond op die oppergesag van die reg, en anargie.. Terwyl ons die polisie aanspreeklik hou, moet ons ook daarop bedag wees dat ons hulle nie ont-wettig nie en sodoende anargie in ons samelewing verheerlik nie.

Hierdie kultuur van geweld is 'n nalatenskap van ons apartheidsverlede. Ons moet introspektief daarna kyk in ons pogings om daarvan ontslae te raak.

Ons as leiers uit alle lewensvlakke moet besin oor wat ons gedoen het of nie gedoen het nie sodat ons die geweld wat tydens die vroeë dae van ons demokrasie kop uitgesteek het, stelselmatig met wortel en tak kan uitroei.

Ons het 'n kollektiewe verantwoordelikheid om 'n samelewing te bou wat die oppergesag van die reg respekteer, mekaar respekteer en lewe en eiendom respekteer.

Ons moet saamwerk om ubuntu en 'n kultuur van verantwoordelikheid in ons samelewing te herbou.

Agbare Speaker,

Agbare Voorsitter van die NRP,

'n Besluit is geneem om die funksionering van plaaslike regerings te verbeter.

Die wysiging van die Wet op Munisipale Stelsels is daarop gemik om munisipaliteite se vermoë om dienste te lewer, te verbeter.

Gekwalifiseerde en ervare personeel moet in munisipaliteite ontplooi word.

Ons moet ook bestaande forums van mense se deelname versterk en ons mense in staat stel om 'n groter rol in ontwikkeling te speel.

Die stryd teen korrupsie moet ook verskerp word, veral in die lig van bewerings dat bepaalde dienste onderbreek of gestaak word sodat sekere mense daardie dienste teen 'n koste aan die staat kan voorsien.

Hierdie kwessies word as prioriteite vir die volgende administrasie beskou.

Agbare Speaker en Voorsitter

Demokratiese Suid-Afrika se buitelandse beleid is baie dekades gelede gevorm tydens die verbete internasionale veldtog om die apartheidstaat te isoleer.

ANC President Oliver Tambo het 'n sleutelrol in dié verband gespeel en is deur talle ander bygestaan, onder andere wyle Johnny Makatini, die voormalige hoof van internasionale aangeleenthede.

Sy vrou, mev Valerie Makatini, is vanaand een van ons geërde gaste.

Afrika bly die sentrale fokus van ons buitelandse beleid.

Ons het hard gewerk om steun vir die Afrika-Unie, SAOG en alle liggame op die vasteland wat vrede en sekuriteit nastreef, te versterk.

Ons het ook voorrang verleen aan die bevordering van streeks- ekonomiese integrasie, infrastruktuurontwikkeling, intra-Afrikahandel en volhoubare ontwikkeling op die vasteland.

Ons het ook vanjaar ons derde landverslag by die AU se Afrika Portuur-oorsigmeganisme ingedien, waar dit positief ontvang is.

Ons ondersteun steeds vredesamesprekinge en konflikoplossing.

Vordering word gemaak met die onderhandelinge tussen Soedan en Suid-Soedan oor uitstaande aangeleenthede ná die skeiding.

In reaksie op versoeke om vrede en versoening in Sri Lanka en Suid-Soedan te help bewerkstellig, is mnr Cyril Ramaphosa aangestel as Suid-Afrika se Spesiale Gesant na dié twee lande.

Sy kundigheid op die gebied van konflikoplossing en onderhandeling asook ons land se wye ervaring op dié terrein sal die twee lande baie help om hul probleme op te los.

Ons sal voortgaan om bande met Europa, Amerika, Latyns-Amerika, Asië en lande in die Suide te versterk.

Deelname aan internasionale multilaterale forums soos die G20 is tot groot voordeel vir Suid-Afrika.

En ons aansluiting by Brasilië, Rusland, Indië en Sjina (BRIC-groep) in Desember 2010 tel onder die vierde administrasie se grootste prestasies.

Dit was ook 'n groot eer om op 27 Maart 2013 die Vyfde BRICS-beraad in Durban aan te bied, waartydens Afrika-leiers ontwikkelingsamewerking met BRICS bespreek het.

Ons sal voortgaan om met ywer in die Verenigde Nasies te dien ter bevordering van kragtige en doelgerigte internasionale bestuur.

Ons sal ook voortgaan om die hervorming van die VN se Veiligheidsraad en wêreldwye finansiële instellings te bevorder.

Agbare lede

As President van die COP17/CMP7 Verenigde Nasies Beraad oor Klimaatsverandering, wat in 2011 in Durban aangebied is, het Suid-Afrika die wêreld suksesvol op 'n onomkeerbare pad geplaas deur die aanvaarding van die Durban Platform vir  Verskerpte Optrede.

Landgenote,

Ons was die afgelope 20 jaar gasheer vir verskeie internasionale sport- en kultuurbesoeke wat tot die bevordering van sosiale samehorigheid en eenheid bygedra het.

Gedurende die afgelope vyf jaar het Suid-Afrika die uiters suksesvolle 2010 FIFA Sokkerwêreldbeker en ander deurslaggewende sokker-, rugby- en kriekettoernooie aangebied, wat Suid-Afrikaners met 'n daadwerklike gevoel van trots en eenheid gelaat het.

Wanneer ons vanjaar 20 jaar van vryheid vier, doen ons dit met die wete dat ons suksesvol in ons strewe is om 'n nuwe nalatenskap vir ons land te bou.

'n Aantal nuwe museums en monumente is opgerig, insluitend die standbeeld van  oud-President Mandela, wat nou 'n landmerk by die Uniegebou is.

Meer as 2 000 geografiese name is verander om onvanpaste plekname reg te stel, en ook om aan gemeenskappe die geleentheid te bied om plekname in hul omgewings te kies.

Agbare lede

Vergun my die geleentheid om erkenning te verleen aan 'n paar van ons landgenote wat hul  stempel in die wêreld afdruk.

Ons wens Ladysmith Black Mambazo geluk met die vierde Grammy-toekenning wat hulle verlede maand gewen het. Ons verwelkom die groep se leier, mnr Joseph Shabalala, wat vanaand as een van ons gaste hier teenwoordig is.

Ons gee ook erkenning aan me Yvonne Chaka Chaka, wat ook vanaand een van ons gaste is.

Sy doen baie goeie werk as die Welwillendheidsambassadeur van die Verenigde Nasies se Kinderfonds vir Malaria in Afrika en ook die Verenigde Nasies se Millennium Ontwikkelingsdoelwitte Spesiale Gesant vir Afrika.

Me Chaka Chaka is ook deur die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos met die Kristaltoekenning vir haar humanitêre werk vereer.

Ons erken ook, in haar afwesigheid, ons Oscar-wenner Hollywoodster, me Charlize Theron.

Me Theron is ook die VN-boodskapper vir Vrede. Sy is ook 'n kampvegter vir die stryd teen VIGS, veral onder die jeug en jong vroue.

Hierbenewens is sy ook deur die Wêreld Ekonomiese Forum met 'n Kristaltoekenning vereer.

Landgenote

U sou opgemerk het dat ons in hierdie Staatsrede verslag gedoen het oor die afgelope vyf jaar spesifiek, en die vorige 20 jaar in die algemeen.

Dit is nie 'n geleentheid om die program van aksie vir hierdie finansiële jaar bekend te maak nie. Dié program sal deur die nuwe regering na afloop van die verkiesing voorgelê word.

Ter voorbereiding vir die eerste Staatsrede deur die inkomende administrasie later vanjaar, werk ons die afgelope jaar aan 'n Mediumtermyn Strategiese Raamwerk.

Die Raamwerk is ontwerp as die bousteen vir die eerste vyf jaar van die Nasionale Ontwikkelingsplan, van 2014 tot 2019.

Dit sluit ook sleuteldoelwitte vir die Industriële Beleidsaksieplan, die Nuwe Groeipad en die Infrastruktuurplan in.

Die bedoeling is om die nuwe konsepraamwerk ná die verkiesing by die eerste Kabinet Lekgotla ter tafel te lê.

Dit sal deur die nuwe administrasie in ooreenstemming met die verkiesingsmandaat verfyn word, sodat werk so gou moontlik ná die vorming van 'n nuwe regering kan begin.

Dit was vir my en my administrasie 'n eer om voort te bou op die grondslag wat deur die eerste drie demokratiese administrasies gelê is, om die mense van Suid-Afrika te dien.

As 'n land het ons op verskeie gebiede sukses behaal.

Suid-Afrika is vandag 'n veel beter plek om in te woon as vóór 1994.

Ons staar steeds uitdagings in die gesig. Maar ons lewens sal aanhou verbeter.

Nkosi Sikelel’ i Africa

God seën Afrika.

Ek dank u.

Issued by: The Presidency

Share this page

Similar categories to explore