Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 24 Junie 2015

1. Implementering van belangrike regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die besluite wat by die 25ste Spitsberaad van die Afrika-unie (AU) geneem is, wat Afrika op 'n nuwe pad van ontwikkeling en groei plaas, en die vasteland in staat sal stel om sy regmatige plek in wêreldsake in te neem.

Onder die besluite wat geneem is, is die vestiging van 'n verenigde en funksionerende enkele militêre mag teen die einde van die jaar. Leiers het onderneem om die inwerkingstelling van die Afrika-bystandsmag (ABM) te versnel.

Die Kabinet prys die inisiatief van die AU om groter streekintegrasie en handel te bevorder, deur onderhandelings vir die vestiging van 'n kontinentale vryhandelgebied wat sterker bande tussen Afrika se ekonomieë sal bewerkstellig.

1.2 Die Kabinet verwelkom die byeenkoms van AU-ministers verantwoordelik vir Gender- en Vrouesake, wat op 12 Junie 2015 vergader het, na afloop van die tweede AU-hoëvlakpaneel oor Geslagsgelykheid en Vrouebemagtiging  van 10 tot 12 Junie 2015 aangrensend tot die 25ste gewone sessie van die AU-vergadering, onder die tema: "Laat dit gebeur deur die finansiële insluiting van vroue in die agribesigheidsektor".

Die uitkoms van die twee vergaderings was 'n verklaring en 'n oproep tot aksie om finansiële insluiting van vroue in agribesighede. Die oproep tot aksie doen ’n beroep op lidstate om onder meer die volgende te doen:

  • Implementeer vroue se reg tot toegang, beheer, eienaarskap en voordeel met betrekking tot finansiële hulpbronne, insluitend toegang tot prosesse van openbare verkryging in onderwys, inligting en vaardigheidsontwikkeling, asook innoverende tegnologieë en praktyke, om kapasiteit te bou en vroue se ekonomiese bemagtiging in agribesigheid te ontwikkel.
  • Versterk inisiatiewe om 'n bevorderlike omgewing vir vroue te skep sodat hulle agri-ondernemings kan bedryf en deel kan word van die landbou-waardeketting, deurdat konflik op die vasteland voorkom word en daarop gereageer word; die uitwerking van klimaatsverandering hanteer word, aangepas en verminder word; en die impak van epidemiese en natuurlike rampe verminder word.
  • Fasiliteer die ontwikkeling van agribesigheid en landbou-waardekettings deur meganisasie, tegnologiese innovering en vaardigheidsontwikkeling vir vroue.

1.3. Oor ’n paar maande sal matriekleerlinge met hul finale eksamens begin. Die Kabinet doen ’n beroep op die Klas van 2015 om vroegtydig aansoek te doen vir toelating tot tersiêre instansies as deel van die Doen nou Aansoek/ Khetha-loopbaan-voorligtingsveldtog (Apply Now / Khetha Career Guidance Campaign) wat jaarliks deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding  aangebied word.

Ons doen ’n beroep op leerders om ook Wiskunde en Wetenskap as studierigtings wat ons ekonomie na hoër hoogtes kan neem, te oorweeg.  Kreatiwiteit en innovering is die belangrikste ekonomiese aandrywers in 'n land. Jeugdiges moet benewens universiteite ook geleenthede by kolleges vir tegniese onderwys en beroepsopleiding wat regoor die land beskikbaar is, verken; insluitend die nuutgestigte Sol T Plaatje Universiteit in die Noord-Kaap en die Universiteit van Mpumalanga.

2. Belangrike kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet bekragtig die besluit om die Maluti-A-Phofung Nywerheidsonwikkelingsone (MAP-NOS) by Tshiame (Industriqwa-1A), aan Harrismith in die Vrystaat toe te wys. Die verlening van die bedryfspermit vir hierdie sone aan die Vrystaat Ontwikkelingkorporasie is ook goedgekeur.

Die MAP-NOS-toewysing sal ’n logistiek-georiënteerde platform (logistieke spilpunt) 10 kilometer buite Harrismith (die ou Industriqwa-terrein) vestig, om veral die motor-, ligte vervaardiging-, landbouverwerking- en verspreiding-/ logistieke sektore te bedien.

2.2. Die Kabinet keur goed dat Suid-Afrika by die Asiatiese Infrastruktuur-beleggingsbank aansluit. Die bank fokus op die Asiatiese en Oseanië-streek in sy ondersteuning van infrastruktuurbeleggings.

Suid-Afrika se deelname sal sy groeiende sakeverhoudings met die streek versterk en sal sodoende ook sy solidariteit met die ontwikkelingsaspirasies van die streek demonstreer.

2.3 Die Kabinet het die toewysing van die ministers van Justisie en Korrektiewe Dienste en van Polisie goedgekeur as verantwoordelik vir die nakoming van die Staat se verpligting ten opsigte van artikel 9(2) van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Marteling, 2013.

Albei Ministers sal verantwoordelik wees vir die ontwikkeling van programme wat daarop gemik is om die martel van mense te voorkom en te bestry, wat mense se fundamentele reg tot vryheid en sekerheid, ingevolge artikel 12 van die Grondwet, verseker.

2.4. Die Kabinet keur die voorlegging aan die Parlement goed van die Aanvullend Protokol tot die Handels-, Ontwikkelings- en Samewerkingsooreenkoms tussen die Europese Gemeenskap en sy Staatspartye.

Die aanvullende protokol neem die toetrede van die Republiek van Kroasië na die Europese Unie (EU), wat later by die protokol sal aansluit, in ag.

Die uitbreiding van die EU sal Suid-Afrika se toegang tot EU-markte verbeter, wat tot werkskeppingsgeleenthede, sterker ekonomiese groei en ’n wyer verskeidenheid van verbruikerskeuses sal lei. Dit strook met die Nasionale Ontwikkelingsplan se visie vir werkskepping, ekonomiese groei en die bevordering van uitvoere.

2.5 Die Kabinet keur goed dat die toepaslike internasionale standaarde en ander wetenskaplike maatreëls geïmplementeer word met die doel om te verseker dat voldoende risikobestuur toegepas word wanneer beeste en beesprodukte ingevoer word. Hierdie belyning van Suid-Afrika se invoervereistes met internasionale wetenskaplike riglyne, sal die land se posisie in internasionale handel versterk. Dit sal deur middel van strategiese aankope wyer toegang tot voldoende, veilige en voedsame kos vir mense en diere bied, en sal werkskepping verbeter deur die invoer van beesvleisprodukte vir verdere verwerking in Suid-Afrika.

3. Wysigingswette

3.1. Die Kabinet keur die bekendstelling van die Kriminele Aangeleenthede Wysigingswetsontwerp, 2015 in die Parlement goed.

Die wysigings maak voorsiening vir veranderinge aan die wette met betrekking tot infrastruktuur-verwante oortredings soos kabeldiefstal van telefoonlyne. Strenger bepalings word voorsien vir die toestaan van borgtog en vonnisoplegging van oortreders, asook vir die skep van 'n nuwe misdryf, wat skade kriminaliseer wat deur kriminele aktiwiteite aan noodsaaklike infrastruktuur aangerig word deur peuter of inmeng met die funksionering van basiese dienste.

Wanneer die wetsontwerp goedgekeur is, sal dit verseker dat meganismes in plek gestel word om die infrastruktuur waarin broodnodige openbare belegging geplaas is,  te beveilig en te verseker dat die land sy ekonomiese groei- en werkskeppingsteikens bereik.

3.2 Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp vir die Bevordering en Beskerming van Beleggings, 2015 aan die Parlement voorgelê word.

Die wetsontwerp herbevestig dat Suid-Afrika oop bly vir buitelandse beleggings, voldoende sekuriteit en beskerming aan alle beleggers bied, en die soewereine reg van die Suid-Afrikaanse Regering bewaar om openbare beleidsdoelwitte wat ontwikkeling en transformasie bevorder, na te streef.

Dit is ter ondersteuning van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se doelwit om beleggings- en uitvoergroei te bevorder om volhoubare groei en ontwikkeling in Suid-Afrika te stimuleer.

3.3 Die Kabinet keur die publikasie van die Wysigingswet op Outeursreg, 2015 in die Staatskoerant vir wyer konsultasie goed.

Die Wysigingswet verander die Wet op Outeursreg, No 98 van 1978 en die Wet op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars, No 11 van 1967. Hierdie wette is verouderd, aangesien hulle nie ontwikkelings op multilaterale vlak in ag neem nie, en nie bepalings het wat digitale kwessies hanteer nie.

Die wetsontwerp hanteer die lisensiëring van kopieregmateriaal met betrekking tot opdragwerk om kommersiële uitbuiting te voorkom. Dit sal die Regering help om die lot van musikante en kunstenaars te verbeter deur te verseker dat tantieme betyds deur die opnamemaatskappye en uitsaaiers aan hulle betaal word, aangesien baie van hulle as armlastiges sterf.

3.4 Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op die Staatsdienskommissie, 2015 aan die Parlement voorgelê word. Dit wysig die Wet op die Staatsdienskommissie,  46 van 1997.

Die wysigingswetsontwerp handel oor die hernuwing van 'n kommissaris se termyn en maak ook voorsiening vir die voorsitter om een van die kommissarisse aan te wys om as die voorsitter op te tree tydens die afwesigheid van beide die voorsitter en die ondervoorsitter.

4. Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

4.1. Die Kabinet verwelkom die Kubaanse Vyf, wat in 1998 in die VSA in hegtenis geneem is en skuldig bevind is aan misdade wat wissel van spioenasie tot moord. Die vyf is na die VSA gestuur as deel van 'n netwerk genaamd La Red Avispa om die aktiwiteite van die militante Kubaanse ballingskapgroepe te ondersoek wat saamgesweer het om Fidel Castro se regime omver te werp.

4.2 Die Kabinet bedank die Regering van Malawi, verteenwoordig deur die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris me Cassandra Mbuyane-Mokone, vir die repatriasie van die twee Suid-Afrikaanse kinders (14) en (20), wat in Julie 2014 uit die sorg van hul ouma in Mpumalanga verwyder is en na Malawi geneem is deur 'n vrou wat haar as 'n voormalige onderwyser voorgedoen het.  Die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, ontvang die kinders vandag.

5. Toekomstige gebeure

5.1. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om deel te neem aan die viering van Nelson Mandela-maand in Julie onder die tema: "Maak elke dag ’n Mandela-dag: Ons gee 67 minute van ons tyd om mense in nood te help". Elke Suid-Afrikaner het die potensiaal om voort te bou op die nalatenskap van Oudpresident Nelson Mandela deur 'n verskil in die lewens van ander te maak.

Laat ons in die gees van Madiba se nalatenskap ook Sosiale Samehorigheidsmaand in Julie vier en saamwerk om 'n samehangende gemeenskap te ontwikkel deur die ideale van nie-rassigheid, nie-seksisme, geregtigheid en gelykheid vir almal te bevorder ooreenkomstig die visie van ons Grondwet.

5.2 As deel van die viering van en waardering vir die uitstaande bydraes wat gemaak is ten opsigte van die wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en innovasie, sal die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor, 'n gala-dinee op 9 Julie 2015 by Emperors Palace in Kemptonpark hou om die wenners van die 2014/15 Nasionale Forum vir Wetenskap en Tegnologie se BHP Billiton-toekennings aan te kondig onder die tema "Lig".

Hierdie toekennings is in 1988 van stapel gestuur. Ter viering van vanjaar se UNESCO-tema "Die Internasionale Jaar van lig en-liggebaseerde tegnologieë", sal 'n spesiale toekenning aan Fotonika-verwante navorsing oorhandig word.

5.3. In die gees van Afrika Staatsdiens-week, wat hierdie week (van 22 tot 26 Junie 2015) plaasvind, bedank die Kabinet alle staatsamptenare vir hul toewyding en harde werk in die lewering van diens aan ons mense. Ons doen ’n beroep op alle staatsamptenare om hulself opnuut daartoe te verbind om aan die behoeftes van alle Suid-Afrikaners te voldoen.

6. Suid-Afrika se standpunt oor die Internasionale Strafhof-kwessie

Die Kabinet het weens verskeie redes besluit om Suid-Afrika se deelname aan die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof (ICC) te hersien.

Suid-Afrika was nog altyd 'n stoere ondersteuner van die stigting van die Internasionale Strafhof en een van die eerste ondertekenaars van die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof. Die Regering bly verbind tot 'n stelsel van internasionale reg "om te verseker dat die mees ernstige en kommerwekkende misdade vir die internasionale gemeenskap as 'n geheel nie ongestraf moet bly nie, en dat die doeltreffende vervolging van sulke misdade verseker moet word deur die neem van maatreëls op nasionale vlak en deur die verbetering van internasionale samewerking."

Suid-Afrika sal voortgaan om plaaslike en internasionale inisiatiewe wat sulke misdade  hanteer, te bevorder en aan te moedig.

Suid-Afrika is 'n lid van die Byeenkoms van Staatspartye wat deur artikel 112(1) van die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof gestig is.

Suid-Afrika is ook 'n lid van die Verenigde Nasies (VN), die Afrika-unie (AU) en ander internasionale liggame. Die land neem sy internasionale verantwoordelikhede en verpligtinge baie ernstig op.

Suid-Afrika speel 'n belangrike rol op die vasteland van Afrika en in verskillende organisasies op die vasteland. Dit huisves ook die Pan-Afrikaanse Parlement. Suid-Afrika se voormalige Minister van Binnelandse Sake is die voorsitter van die AU-Kommissie.

Suid-Afrika is betrokke by vredesmissies in baie Afrika-lande soos die Demokratiese Republiek van die Kongo. Suid-Afrika is ook aktief betrokke om te verseker dat die brose vredesproses wat in Soedan en Suid-Soedan aan die gang is op dreef bly, in belang van die mense van daardie soewereine state, in ander soewereine state en in Afrika.

Suid-Afrika word internasionaal beskou as 'n eerlike en betroubare vredesmakelaar met sowat 3 000 Suid-Afrikaanse troepe betrokke in vredesmissies onder die vaandel van die AU en die VN.

Suid-Afrika bevorder samewerking tussen Suid-Afrika en ander lande, asook geïntegreerde ontwikkeling op die vasteland. Suid-Afrika gebruik die Afrika Renaissance en Internasionale Samewerkingsfonds vir, onder meer, die bevordering van demokrasie, goeie regering en die voorkoming en oplossing van konflik.

Suid-Afrika belê 'n groot deel van sy finansiële, militêre, tegniese en menslike hulpbronne in die bereiking van vrede, veiligheid en voorspoed op die vasteland van Afrika. Die voordele van hierdie beleggings dring weldra deur tot die lande waar Suid-Afrika aktief is. Hierdie lande sluit Soedan en Suid-Soedan in.

Ondanks die feit dat Suid-Afrika 'n lid van die Byeenkoms van Staatspartye van die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof is, moet die land sy verpligtinge teenoor die hof balanseer met sy verpligtinge teenoor die AU en sy verpligtinge teenoor individuele state, insluitend dié in Afrika, ooreenkomstig die internasionale verdrae wat die land gesluit het.

Suid-Afrika merk op dat selfs permanente lede van die Veiligheidsraad  wat nie ondertekenaars van die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof is nie, volwaardig mag deelneem aan besprekings oor die ICC en verwysings deur die Veiligheidsraad van toestande in 'n land na die ICC.

Daardie lande het stappe gedoen om te verseker dat hul amptenare en militêre personeel nie onderwerp word aan die jurisdiksie van die ICC nie.

Suid-Afrika merk ook dat daar teenstrydighede in verskeie artikels in die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof oor  vrywaring vir hoofde van state is.

Artikel 27 bepaal soos volg:

Irrelevante amptelike hoedanigheid

1. Hierdie statuut is van gelyke toepassing op alle persone sonder enige onderskeid gegrond op amptelike hoedanigheid. In die besonder, sal ‘n persoon se amptelike hoedanigheid as hoof van 'n  staat of regering, lid van 'n regering of 'n parlement, verkose verteenwoordiger of regeringsamptenaar hom in geen geval van kriminele verantwoordelikheid ingevolge hierdie statuut  vrystel nie, en sal ook op sigself nie gronde wees vir die vermindering van vonnis nie.

2. Immuniteite of spesiale prosedure-reëls wat aan die amptelike hoedanigheid van 'n persoon gekoppel mag wees, hetsy ingevolge nasionale of internasionale wet, sal die Hof se uitoefening van sy jurisdiksie oor so 'n persoon nie verhoed nie.

Met die eerste oogopslag, verleen hierdie artikel jurisdiksie aan die ICC oor enige persoon, ongeag van daardie persoon se amptelike status.

Maar,  artikel 98 bepaal as volg:

Samewerking met betrekking tot opheffing van immuniteit en toestemming tot oorgawe.

1. Die Strafhof mag nie voortgaan met 'n versoek om uitlewering of bystand wat van die versoekte staat sal vereis om onkonsekwent op te tree rakende sy verpligtinge onder internasionale reg ten opsigte van die land of diplomatieke immuniteit van 'n persoon of eiendom van 'n derde land nie, tensy die strafhof eers die samewerking van daardie derde land vir die opheffing van die immuniteit verkry.

2. Die strafhof mag nie voortgaan met 'n versoek om uitlewering wat sou vereis dat die versoekte staat teenstrydig optree met sy verpligtinge ingevolge internasionale ooreenkomste op grond waarvan die toestemming van 'n stuurstaat nodig is om 'n persoon van daardie staat aan die strafhof uit te lewer nie, tensy die strafhof eers die samewerking van die stuurstaat kry om toestemming tot uitlewering te verleen.

Artikel 98(2) is betekenisvol en ondubbelsinnig. Dit stel duidelik dat die ICC nie die uitlewering van 'n persoon deur die versoekte staat mag versoek as dit daartoe sal lei dat daardie staat sy internasionale verpligtinge sal skend nie, tensy die ICC self eers die samewerking van die stuurstaat kan kry. Met ander woorde, artikel 98(2) plaas 'n verpligting op die ICC om lande te help om lasbriewe vir inhegetnisname uit te reik.

Dit is baie duidelik dat die ICC bewus was dat Suid-Afrika probleme met die uitreiking van ’n lasbrief vir die  inhegtenisname van President Al-Basjir kon ervaar weens sy internasionale verpligtinge.

Die ICC het Suid-Afrika reeds op 28 Mei 2015 genooi om hom te raadpleeg oor die uitreik van ’n lasbrief in ooreenstemming met artikel 97, wat in duidelike en ondubbelsinnige terme bepaal dat waar 'n staatparty 'n versoek ontvang waarvolgens probleme geïdentifiseer word wat die uitvoering van die versoek kan verhoed of belemmer, daardie staat sonder versuim die strafhof kan raadpleeg om die saak op te los.

Sulke probleme kan die feit insluit dat die uitvoering van die versoek in sy huidige vorm, van die versoekstaat sal vereis om 'n bestaande  verdragsverpligting met betrekking tot 'n ander staat te verbreek.

Die ICC moes bewus gewees het dat Suid-Afrika in die uitreiking van die lasbrief, sy bestaande verdragsverpligtinge teenoor die AU sou verbreek het. Dit moes die enigste geloofwaardige rede gewees het waarom die ICC Suid-Afrika genooi het om hom te raadpleeg.

Nadat 'n uitnodiging aan Suid-Afrika gerig is om hom te raadpleeg, was dit die ICC se plig om in goeder trou met Suid-Afrika oorleg te pleeg en om die land te help om sy verpligtinge teenoor die ICC en die AU na te kom.

Suid-Afrika het die ICC se uitnodiging om hom ingevolge artikel 97 te raadpleeg, aanvaar. Trouens, Suid-Afrika het verskeie kwessies geïdentifiseer rakende die geldigheid en die uitreiking van die lasbriewe vir inhegtenisname, asook ten opsigte van Suid-Afrika se  internasionale verpligtinge wat uit sy lidmaatskap van die AU voortspruit.

Suid-Afrika is verplig om uitvoering te gee aan 'n besluit wat op 3 Julie 2009 deur die AU by Sirte in Libië geneem is. Hiervolgens moet sy lede nie met die ICC saamwerk op grond van die bepalings van artikel 98 van die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof nie, tensy die Veiligheidsraad die versoek van die AU oorweeg het. Die AU het die Veiligheidsraad versoek om sy besluit uit stel om die toestand in Darfoer na die ICC te verwys vir ondersoek.

Daar is nog nie op daardie versoek gereageer nie. Die AU het die versoek ingevolge artikel 16 van die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof gemaak, aangesien die AU glo dat die betrokkenheid van die ICC 'n bedreiging vir vrede en veiligheid in Afrika sal inhou.

Suid-Afrika het 'n besondere belangstelling in die AU se besluit weens die land se betrokkenheid by die vredesproses in Soedan en Suid-Soedan. Albei lande het verskeie ondernemings met betrekking tot die vredesproses gemaak. As die vredesproses misluk, sal daar rampspoedige gevolge vir die mense van daardie lande en die vasteland van Afrika wees.

Suid-Afrika voer gereeld gesprekke met beide Soedan en Suid-Soedan en het gerusstellings oor die vredesproses van albei partye ontvang.

Suid-Afrika het die uitnodiging van die ICC om hulle ingevolge artikel 97 te raadpleeg in goeder trou aanvaar en het gehoop dat dit 'n konstruktiewe, vrugbare en betekenisvolle gesprek sou wees oor die probleme wat Suid-Afrika met die uitreiking van die lasbrief vir inhegetnisname ervaar.

'n Aanvanklike vergadering is op 12 Junie 2015 met die ICC gehou. Die vergadering is deur die Suid-Afrikaanse ambassadeur en die ambassasdeur se regsverteenwoordiger bygewoon. Op daardie vergadering het die ambassadeur beklemtoon dat hy nie toegerus was om die betrokke tegniese en wetlike kwessies te hanteer nie en wou 'n ander vergadering reël waar mense wat wel dié kwessies kon hanteer teenwoordig sou wees.

'n Tweede vergadering vir dié doel is vir Maandag 15 Junie 2015 gereël. Die werklike raadpleging ingevolge artikel 97, is geskeduleer om op daardie datum plaas te vind. Maar die ICC wou die vergadering voor daardie datum hou, en dit is toe vir Sondag 14 Junie 2015 om 12:30 gereël. Laat die aand van Saterdag 13 Junie, 2015, het die ICC se aanklaer egter 'n dringende aansoek by die ICC ingevolge die volgende bepalings ingedien:

"Aanklaer se dringende versoek vir 'n bevel wat verduidelik of raadpleging met Suid-Afrika ingevolge artikel 97 afgehandel is, en dat Suid-Afrika onder 'n verpligting is om Omar al-Basjhir onmiddellik in hegtenis te neem en uit lewer."

Die aanklaer het die dringende versoek aan die ICC gerig, sonder om Suid-Afrika hoegenaamd in kennis te stel. Die aanklaer het gevra dat die besonderhede van die dringende versoek vertroulik bly, maar dat die besluit van die ICC openbaar gemaak word.

Die ICC het die saak onmiddellik aangehoor en sy besluit uitgereik. In effek het die ICC, sonder om Suid-Afrika se saak aan te hoor, besluit dat die raadpleging ingevolge artikel 97 afgehandel is en dat Suid-Afrika onder 'n verpligting was om President Omar al-Basjhir in hegtenis te neem en uit lewer. Soos reeds genoem, is die besluit gemaak sonder enige kennisgewing aan Suid-Afrika.

Suid-Afrika as 'n staatparty tot die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof en as 'n lid van die Byeenkoms van Staatpartye is geregtig op ’n kennisgewing van die aanklaer se dringende versoek aan die ICC en om oor die saak aangehoor te word, veral aangesien die raadpleging reeds gereël was.

Suid-Afrika se soewereiniteit as 'n nasie dui ook daarop dat die land daarop geregtig is om gelyk en met respek behandel te word, ongeag van die omstandighede.
Dit wil voorkom asof die ICC se uitnodiging aan Suid-Afrika om hom ingevolge artikel 97 te raadpleeg nie in goeder trou of in 'n ernstige en opregte poging om Suid-Afrika te help, gerig is nie. Suid-Afrika het dus besluit om sy deelname aan die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof te hersien.

Twee artikels in die Statuut van Rome is belangrik vir oorweging rakende die standpunt wat Suid-Afrika oor toekomstige samewerking met die ICC behoort in te neem.

Dit is artikels 119 en 127.

ARTIKEL 119

Beslegting van geskille

1. Enige geskil oor die geregtelike funksies van die strafhof sal deur die beslissing van die hof geskik word.

2. Enige ander geskil tussen twee of meer staatpartye met betrekking tot die interpretasie of toepassing van hierdie statuut, wat nie deur middel van onderhandelinge binne drie maande van hul aanvang, geskik is nie, sal na die Byeenkoms van Staatspartye verwys word.

Die Vergadering kan self probeer om die geskil te besleg of kan aanbevelings maak oor aanvullende maniere om die geskil te besleg, insluitende verwysing na die Internasionale Geregshof in ooreenstemming met daardie hof se wette.

Artikel 119 het betrekking op twee situasies:

Eerstens, geskille oor die geregtelike funksies van die ICC; en tweedens, 'n geskil tussen twee of meer staatspartye met betrekking tot die vertolking of toepassing van die Roomse Statuut .

Wat die eerste kwessie betref, kan Suid-Afrika wel 'n geskil met die ICC hê oor die besluit wat geneem is het op grond van die aanklaer se dringende versoek om 'n bevel om vas te stel of raadpleging ingevolge artikel 97 met Suid-Afrika afgehandel was, en dat Suid-Afrika onder 'n verpligting was om President Omar al-Basjir onmiddellik in hegtenis te neem en uit te lewer.

Suid-Afrika sal formele samesprekings met die ICC oor die saak hou met die oog om die ICC se uitgangspunt oor hoe artikel 97 vertolk moet word te probeer verstaan.

Suid-Afrika wil ook van die ICC  weet wat sy verpligtinge is ingevolge artikel 98(2) teenoor 'n versoekte staat wat nie in skending van 'n internasionale verpligting 'n lasbrief vir inhegtenisname kan uitreik nie.

Suid-Afrika is ook van voorneme om die saak by die volgende byeenkoms van die Byeenkoms van Staatspartye tot die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof aanhangig te maak. Gegewe die kompleksiteit van die tegniese en wetlike probleme wat ons het, sal Suid-Afrika ook oorweeg om die saak na die Internasionale Geregshof te verwys vir 'n besluit oor die aangeleentheid.

Artikel 97 is nog nooit voorheen deur die ICC gebruik nie. Dit was die eerste keer dat 'n lidstaat deur die ICC genooi is om hom te raadpleeg oor probleme rakende die uitvoering van 'n lasbrief wat kan lei tot die Staatsparty se verbreking van sy internasionale verpligtinge. Die ICC moes die saak ernstig opneem en albei partye was verplig om in goeder trou te onderhandel.

Suid-Afrika kan as 'n laaste uitweg ook oorweeg om uit die ICC te onttrek. So 'n besluit sal eers geneem word wanneer Suid-Afrika alle ander moontlike oplossings uitgeput het wat ingevolge die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof, die Handves van die Verenigde Nasies en ander internasionale regshulpbronne beskikbaar is.

Artikel 127 handel oor die ontrekking uit die ICC en maak onder meer voorsiening vir die volgende:

1. 'n Staatsparty kan deur ’n skriftelike kennisgewing wat aan die Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies gerig is, uit hierdie statuut onttrek. Die onttrekking word van krag een jaar ná die datum van ontvangs van die kennisgewing, tensy die kennisgewing 'n later datum spesifiseer

Suid-Afrika sal in onmiddellike gesprek tree met die Afrika-unie en sy Staatspartye oor hoe Afrika-geskilbeslegtingsmeganismes sonder versuim geïmplementeer kan word "om te verseker dat die mees ernstige misdade van kommer vir die internasionale gemeenskap as 'n geheel nie ongestraf bly nie en dat doeltreffende vervolging van sulke misdade verseker moet word deur die neem van maatreëls op nasionale vlak en deur die verbetering van internasionale samewerking."

Meer spesifiek sal Suid-Afrika multilaterale en bilaterale samesprekings met ander Afrika-lande voer om die hervorming van die Afrika-hof vir Menseregte en ander plaaslike tribunale te bespoedig. Dit sal verseker dat ernstige misdade teen die mensdom vinnig en doeltreffend deur hierdie liggame hanteer kan word en dat 'n bykomende bepaling bestaan waarvolgens sulke misdade vervolg kan word deur óf die ICC of die plaaslike liggame.

Suid-Afrika sal binnekort reëlings tref vir formele samesprekings met die ICC oor sake wat van belang is.

Suid-Afrika sal 'n verslag voorberei oor sy interaksie met die ICC ingevolge artikel 97 en die probleme rondom artikel 98(2) en dit aan die volgende Byeenkoms van Staatspartye voorlê.

Suid-Afrika sal ook wysigings aan die Roomse Statuut van die Internasionale Strafhof voorstel om die konsultasie- en samewerkingsverpligtinge van die ICC teenoor lidstate te verduidelik en te versterk.

Gesprekvoering met die AU en Afrika-state sal ook begin. Die Regering sal 'n span van ministers aanstel wat onmiddellik met samesprekings tussen die ICC, die AU en die Afrika-state sal begin.

7. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verfikasie van kwalfikasies en klaring deur die betrokke owerhede.

7.1  Aanstelling van nie-uitvoerende direkteure tot the Raad van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (SAMSA):
a) Mnr Mavuso Msimang (Voorsitter)
b) Nomsa Cele (Ondervoorsitter)
c) Me Anna Sekabiso Molemane
d) Mnr Mervyn Robert Burton

7.2 Mnr Virgin Anzel Seafield is aangestel as Adjunk-direkteur-generaal van Arbeidsbeleid en Nywerheidsbetrokkenheid in die Departement van Arbeid.

7.3 Professor Richard Michael Levin as  Hoof van die Nasionale Skool van die Regering vir ’n vyf-jaarkontrak wat in Desember 2019 ten einde loop.

Navrae:
Me. Phumla Williams
(Waarnemende Kabinetsvoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore