Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 12 Augustus 2015

1. Implementering van belangrike regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die vordering wat gemaak is met Projek Mikondzo, 'n diensleweringsinisiatief wat daarop gemik is om die reikkrag van welsynsdienste in die land se armste gemeenskappe uit te brei. Dit is gedemonstreer by De Doorns in die Wes-Kaap, waar hulp verleen word aan
4 021 gesinne waar die broodwinners meestal seisoenale plaaswerkers is. Die hulp sluit onder meer die verskaffing van saad en saailinge vir gesinstuine in, asook befondsing vir die vestiging van gemeenskapsgebaseerde organisasies en koöperasies. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gebruik De Doorns ook om 'n beleid oor seisoenale werkers te ontwikkel.

Daarbenewens het die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid 'n uitgebreide Maatskaplike Noodlenigingsprogram van stapel gestuur om kos en ander noodsaaklikhede soos skooluniforms aan kinders van behoeftige gesinne te voorsien. Danksy 'n toekenning van R1 083 160 deur die Nasionale Ontwikkelingsagentskap word bystand verleen aan 11 nie-sentrumgebaseerde speelgroepe vir Vroeëkinderontwikkeling (VKO, met 975 kinders wat nou VKO in die gebied bywoon, waarvan 789 voordeel trek uit die regering se VKO-subsidie.

1.2. Die Kabinet prys die voortgesette suksesse van Operasie Fiela, waarvan die mees onlangse in die Noord-Kaap was, waar die geïntegreerde optrede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en staatsdepartemente, asook provinsiale en munisipale wetstoepassingsagentskappe verseker het dat die mense veilig is en veilig voel. Die Inter-Ministeriële Komitee oor Migrasie sal aanstaande week 'n mediakonferensie hou om die jongste gedetailleerde inligting bekend te maak.

1.3. Die Kabinet prys vakbonde en mynmaatskappye vir hul samewerking met die Regering om die mynbousektor, wat die ruggraat van ons ekonomie is, te vernuwe en moedig alle partye aan om hul verpligtinge na te kom.

Die Regering, in samewerking met die sake- en arbeidsektor, streef daarna om behoorlike behuising en beter lewensomstandighede in myndorpe te skep. Altesaam R18 miljard is aan die voortsetting van werk in myngemeenskappe wat in nood verkeer toegewys, waarvan die grootste deel deur die Regering gedra word en ongeveer 'n derde van die befondsing deur mynmaatskappye.

1.4. Die Kabinet het die insluiting van die ministers in die Veiligheidsgroepering by die Inter-Ministeriële Komitee (IMK) vir Immigrasie, wat deur President Zuma aangekondig is, goedgekeur.

1.5. Die IMK, gelei deur Adjunk-president Cyril Ramaphosa, sal die potensiële en onbedoelde gevolge van die nuwe immigrasieregulasies oor verskeie sektore, insluitend toerisme en belegging, ondersoek en oplos. Die IMK sal uit die ministers van toerisme; binnelandse sake; handel en nywerheid; maatskaplike ontwikkeling; en kleinsake-ontwikkeling, asook die Sekuriteitsgroepering bestaan.

2. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

2.1. Die Kabinet verwelkom die Vrouedagvierings wat in Sasolburg in die Vrystaat gehou is onder die tema: "Vroue Vereniging om Suid-Afrika Vorentoe te Beweeg". Duisende vroue het by die Harry Gwala-stadion in Sasolburg bymekaargekom om erkenning te gee aan die belangrike rol wat politieke aktivisme deur vroue tydens die vryheidstryd teen kolonialisme en apartheid gespeel het.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle sektore van die samelewing om die tema vir Vrouemaand te handhaaf en om voort te gaan om te verseker dat alle vroue, veral jong meisies, bemagtig en bevry word van maatskaplike vooroordele sodat geslagsgelykheid in die land gevestig word.

Daarbenewens het President Zuma ook 'n eerste-van-sy-soort-verslag oor die status van vroue in Suid-Afrika vrygestel. Die verslag maak melding van die beduidende vordeing wat sedert 1994 in die land gemaak is om die status van vroue te verbeter. Die verslag is saamgestel deur die Departement van Vroue nadat daar tussen Maart en Junie vanjaar (2015) regoor die land verskeie gesprekke gevoer is. Die verslag dien as 'n basiese dokument vir die bevordeing van vroue se sosio-ekonomiese bemagtiging, geslagsgelykheid en menseregte.

Die Regering sal die res van die maand gebruik om vrouepresteerders en hul deelname aan die ekonomie, veral in gebiede waar hulle onder-verteenwoordig is, bekend te stel. Dit sluit die Toekenning vir Vroue in Wetenskap (13 Augustus) en die Toekenning vir Vroue in Water en Sanitasie (23 Augustus) in.

2.2. Die Kabinet prys die Proteas dat hulle Suid-Afrika trots gemaak het by die Netbal-wêreldbekertoernooi in Sydney, Australië. Die Suid-Afrikaanse span is op die rand om te kwalifiseer vir die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi nadat hulle tot dusver hul wedstryde met mening en deursettingsvermoë gespeel het.

Volgens die Internasionale Netbalfederasie, is Suid-Afrika nou vyfde op die wêreldranglys. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om die Proteas te ondersteun wanneer hulle hul pogings om die Wêreldbeker te verower voortsit.

2.3.  Die Kabinet het saam met President Zuma sy meegevoel aan die families, vriende en kollegas van die vermoorde lede van die SAPD oorgedra. Sulke sinnelose moorde moet deur alle Suid-Afrikaners veroordeel word.

Polisiemanne en -vroue speel 'n deurslaggewend rol om gemeenskappe teen kriminele elemente in ons samelewing te beskerm. Die sinnelose moorde ontneem nie net die land en die samelewing van wetstoepassingsoffisiere nie, maar hulle ontneem ook gesinne van hul mans, vroue, broers, susters en ouers.

Die Kabinet doen 'n beroep op mense wat inligting oor hierdie sinnelose moorde het om na vore te kom en met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om te verseker dat die oortreders in hegtenis geneem word sodat reg en geregtigheid kan geskied.

2.3. Die Kabinet wens die Suid-Afrikaanse span geluk met hul uitstaande prestasie by die 16de FINA (Internasionale Swemfederasie) Wêreldkampioenskap in Kazan, Rusland waartydens hulle twee goue en drie silwer medaljes ingepalm het.

3. Belangrike Kabinetsbesluite

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Groenskrif oor 'n Nasionale Spoorwegbeleid oor goedere- en passasierspoorvervoer vir openbare raadpleging vrygestel word. Hierdie beleid, wat in lyn is met die werk van die Presidensiële Infrastruktuur Koördinerende Kommissie, maak die herlewing van die spoorwegnywerheid moontlik deur middel van beleidsingrypings gelei deur strategiese beleggings wat belyn word met die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).

Die doel is om 'n doeltreffende vervoerstelsel te skep wat plaaslik en internasionaal kan kompeteer, en vervoerkoste sal verminder. Dit sal die gebruik van toepaslike tegnologieë aanmoedig om produktiwiteit en die verkryging van broodnodige vaardighede in die ekonomie te verhoog. Dit verbeter ook toegang tot landelike gebiede, verhoogde mobiliteit en werkskepping.

3.2. Die Kabinet keur goed dat die dokument oor die “Nasionale Vaardigheidontwikkelingstrategie en Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid nà 2016 binne die konteks van 'n geïntegreerde, gedifferensieërde naskoolse onderwys- en opleidingstelsel vir openbare oorlegpleging vrygestel word.

Die dokument bespreek die doeltreffendheid en effektiwiteit van vaardigheidontwikkelingsinstansies en hul integrasie in die breër naskoolse onderwys- en opleidingstelsel.

In die besonder, stel dit voor dat die volgende Nasionale Vaardigheidontwikkelingstrategie, voorkeur gee aan beroepe wat geklassifiseer is as in hoë aanvraag vir die implementering van nasionale prioriteitsprogramme. Dit bespreek ook die doeltreffendheid en effektiwiteit van die bestuursaangeleenthede van sektor onderwys- en opleidingsowerhede in die uitreiking van toelaes vir prioriteitsberoepe.

3.3. Die Kabinet keur goed dat 'n permanente bedryfslisensie aan die Transnet Haweterminaal uitgereik word om die mangaanhouerterminaal by die Hawe van Ngqura, wat aan Suid-Afrika se ooskus, 20 kilometers noord-oos van Port Elizabeth en halfpad tussen Durban en Kaapstad geleë is, te bedryf. Dit strook met die Regering se prioriteite rakende Operasie Phakisa oor die ontwikkeling van die oseane-ekonomie. Dit sal tot gevolg hê dat die mangaanbedrywighede van Port Elizabeth en Saldanha se hawens na die Hawe van Ngqura hervestig word.

3.4. Die Kabinet keur goed dat Suid-Afrika tot die  Internasionale Konvensie oor  Aanspreeklikheid en Vergoeding vir Skade met die Vervoer van Gevaarlike en Skadelike Stowwe ter See, 2010 toetree.

Die konvensie verseker vergoeding vir skade aan mense of hul eiendom, die koste van skoonmaak- en herstelmaatreëls, en ekonomiese verliese wat voortspruit uit die maritieme vervoer van gevaarlike en skadelike stowwe wat die oseaan kan besoedel. Suid-Afrika sal sodra al die parlementêre prosesse om hierdie konvensie plaaslik van krag te maak afgehandel is, toegang hê tot die fonds om bystand te verleen tydens insidente waarby gevaarlike en  skadelike stowwe betrokke is.

4. Wetsontwerpe

4.1. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswet op Films en Publikasies, 2015  aan die Parlement voorgelê word. Die Wysigingswetsontwerp wysig die Wet op Films en Publikasies, 1996 (Wet 65 van 1996). Die wysigings maak voorsiening vir tegnologiese vooruitgang, veral ten opsigte van aanlyn- en sosiale mediaplatforms, om kinders teen blootstelling aan ontstellende en skadelike media-inhoud op alle platforms (fisies en aanlyn) te beskerm.

Die Wetsontwerp versterk die pligte van mobiele netwerke en Internet-diensverskaffers om die publiek en kinders te beskerm tydens die gebruik van hul dienste. Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika sal nie lisensies of hernuwings uitreik sonder bevestiging van die Film- en Publikasieraad dat sy wetgewing ten volle nagekom word nie.

5. Komende gebeure

5.1. President Zuma sal die 35ste Gewone Spitsberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Staatshoofde van 17 tot 18 Augustus 2015 in Gaborone, Botswana bywoon. Tydens die spitsberaad sal die President die voorsitterskap van die SAOG Orgaan vir Politieke, Verdediging- en Sekuriteitsamewerking oorhandig. Suid-Afrika het in hierdie rol ses SAOG-verkiesingsoorsigmissies gelei, wat gesertifiseer het dat al die verkiesings vreedsaam en geloofwaardig was.

5.2. Adjunk-president Ramaphosa sal van 24 to 25 Augustus 2015 'n amptelike besoek aan Japan onderneem. Dit sluit 'n hoflikheidsbesoek aan Eerste Minister Shinzo Abe in, asook deelname aan die Suid-Afrika-Japan Eksterne Handelsorganisasie se Seminaar.

Die Kabinet verwelkom dié amptelike besoek aan Japan, wat die vriendskap en wedersydse begrip tussen die twee lande sal versterk. Suid-Afrika en Japan stem ook saam oor die belangrikheid van multilateralisme en die behoefte om die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad en die VN-stelsel by die organisasie se 70ste Algemene Vergadering volgende maand te hervorm.

5.3. President Zuma sal op 21 Augustus 2015 'n Presidensiële Imbizo na Eersterust, Pretoria onderneem om kwessies wat met die misbruik van middels verband hou, te bepreek. Die Nasionale Dwelmmeesterplan, 2013-2017, koördineer die Regering se pogings in die stryd teen alkohol en dwelmmisbruik.

Die Kabinet doen 'n beroep op gemeenskappe om met die Regering en wetstoepassingsagentskappe saam te werk om dwelmmisbruik, wat die oorsaak van talle maatskaplike probleme is, insluitend geweld teen vroue en kindermishandeling, in ons gemeenskappe uit te wis. Ouers en voogde speel 'n deurslaggewende rol om te verseker dat kinders beskerm en gekoester word.

5.4. Die Kabinet verwelkom die nuwe opgegradeerde Makgatho Mandela Lewanika Laerskool in Mvezo in die Oos-Kaap, wat op 25 Augustus 2015 deur President Zuma geopen is.

Die skool is deel van die Regering se voortgesette werk om leerders se waardigheid te herstel en skole in landelike gebiede met meer moderne geriewe toe te rus. Deur die Departement van Basiese Onderwys se inisiatief vir die versnelde lewering van infrastruktuur by skole (ASIDI), het die Regering verskeie skole wat swak gebou is, tot niet gemaak en 'n meer bevorderlike leeromgewing geskep. ASIDI het tot dusver 116 skole voltooi en het water aan 499 skole, en sanitasie en elektrisiteit aan 425 298 skole voorsien.

5.5. Adjunk-president Ramaphosa sal van 15 to 21 Augustus 2015 die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings se Wêreld Biblioteek- en Inligtingsdienste-kongres bywoon. Die kongres word in Kaapstad se Internasionale Konferensiesentrum gehou onder die tema: "Dinamiese Biblioteke: Toegang, Ontwikkeling en Transformasie".

Die kongres val saam met die Regering se bekendstelling van meer as 1 000 skoolbiblioteke regoor die land vanaf 18 Julie 2015 tot 18 Julie 2016, om meer leerders aan te moedig om te lees. Die Departement van Basiese Onderwys werf ook steun by verskeie private sake-ondernemings en nie-regeringsorganisasies om die veldtog te ondersteun deur, onder meer, boeke te skenk en biblioteke te vestig.

Die Kabinet doen 'n beroep op ouers en onderwysers om te poog om boeke meer toeganklik vir jong mense te maak, en versoek gemeenskappe om boeke te skenk en leesklubs te stig, omdat 'n nasie wat lees, 'n wen-nasie is.

5.6. Die Minister van Toerisme, Derek Hanekom, sal Toerismemaand op 16 Augustus 2015 by die Euphoria Gholf-landgoed in Mookgophong, Limpopo van stapel stuur, onder die tema: “'n Miljoen nuwe geleenthede wag”, wat afgelei is van Wêreld Toerismedag (27 September) se tema: “1 Miljard toeriste – 1 miljard geleenthede”. 

Die internasionale en plaaslike temas het ten doel om toeriste bewus te maak van die belangrikheid van verantwoordelike toerisme. As deel hiervan, word toeriste aangemoedig om kulture te respekteer, erfenisse te beskerm, energie en water te bespaar, en die belangrikste, om plaaslike produkte te koop en sodoende plaaslike werksgeleenthede te ondersteun.

Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om ons fassinerende en pragtige land te verken, en deur dit te doen mense te help om hul werk te behou en plaaslike produkte te ondersteun.

5.7. Die Departemente van Sport en Ontspanning, en die Departement van Vroue het met G-Sport saamgespan om Suid-Afrikaanse vroue wat aan sport deelneem te vereer.

Die Departement van Sport en Ontspanning en G-Sport sal verdienstelike vroue-atlete en -administrateurs wat ondanks alle vorms van onderdrukking daarna gestreef het om ons land se vlag hoog te hou, vereer.

Die departement bly bewus van die werk wat gedoen moet word om die agenda vir gelykheid van alle vroue wat by sport betrokke is, as administrateurs sowel as deelnemers, te bevorder. Terwyl die departement erken dat meer werk in dié verband gedoen moet word, is dit daartoe verbind om kragte saam te snoer met mense wat vasbeslote is om 'n verskil aan die lot van vroue te maak.

5.8. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om Kandidate vir die 2016 Nasionale Orde-toekennings te nomineer. Dit is die hoogste toekennings van Suid-Afrika aan sy burgers en aan vooraanstaande buitelandse burgers wat 'n bydrae gemaak het om demokrasie te bevorder en 'n beduidende rol gespeel het om die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter.

Die ses Nasionale Ordes is die Orde van Mendi vir Dapperheid, die Orde van Ikhamanga, die Orde van die Kremetart, die Orde van Luthuli, die Orde van Mapungubwe, en die Orde van die  Metgeselle van OR Tambo.

Die sluitingsdatum vir nominasies is 31 Augustus 2015. Nominasievorms kan afgelaai word by www.presidency.gov.za en moet vergesel word van 'n motivering van een bladsy lank vir die genomineerde persoon.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verfikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

6.1.     Nie-uitvoerende lede van die Raad van die Suid-Afrikaanse Poskantoor.
a. Dr Simosezwe Dugmore Lushaba (Voorsitter);
b. Me Bulelwa Patricia Soci (Adjunk-voorsitter);
c. Mnr Robert Nkuna;
d. Mnr Mduduzi Eric Zakwe;
e. Mnr Zibuse Comfort Ngidi;
f. Me Nomahlubi Victoria Simamane;
g. Dr Lynette Moretlo Molefi;
h. Me Marion Lesego Dawn Marole;
i. Mnr Joel Sihle Ngubane; en
j. Mnr Phetole Elvis Rabohale.

6.2. Nie-uitvoerende direkteure van die South African Forestry SOC Ltd
a. Mnr Lungile Rudolph Mabece (Voorsitter);
b. Mnr Stanley Mandla Mnguni;
c. Mnr Gabriel Christiaan Theron;
d. Dr Petros Mbiji Mahlangu;
e. Mnr Maroale Jacob Rachidi;
f. Me Sakekile Baduza;
g. Me Caroline Phumzile Mavasana Ngwenya;
h. Me Nazia Carrim; en
i. Dr Pulane Elsie Molokwane.

6.3. Nie-uitvoerende direkteure van die Raad van Alexkor:
a. Me Hantsi Bhetilda Mayeza(Voorsitter);
b. Me Mamoroke Lehobye;
c. Mnr Vimal Bansi;
d. Mnr Tshediso John Matona;
e. Mnr Trevern Marais Haasbroek;
f. Mnr John Sembie Danana;
g. Dr Roger Paul (heraanstelling); en
h. Me Zukiswa Zandile Ntlangula (heraanstelling).

6.4. Mnr Mathanzima Hubert Mweli – Direkteur-generaal (DG), Departement van Basiese Onderwys.

6.5. Mnr Petrus Mduduzi Shabane – verlenging van die dienskontrak van die DG, Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.

6.6. Dr Nontsikelelo Tshayingca-Mashiya – Adjunk-DG van Institusionele Prestasie, Monitering en Evaluering: Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering. 

6.7. Mnr Nkhumeleni Victor Tharage – DG, Departement van Toerisme.

Navrae:
Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore