Verklaring van die Kabinetsvergadering van 21 Augustus 2013


1. Kabinet se posisie oor prominente kwessies in die huidige omgewing


1.1. Die Kabinet verwelkom die openbare bekendstelling van die sesde uitgawe van die Ontwikkelingsaanwysers deur die Minister in die Presidensie vir Prestasiemonitering en -evaluering. In die aanloop tot die feesvierings ter herdenking van 20 Jaar van Vryheid, kan Suid-Afrikaners tereg trots wees dat die lewe sedert 1994 ten goede verander het.


Die aanwysers toon verbeterings in sleutelareas en wys terselfdertyd op die harde werk wat nog nodig is om sommige van die meer hardnekkige uitdagings die hoof te bied. Daarbenewens bevorder die aanwysers debatvoering oor die uitdagings waarvoor ons land te staan kom en dien as bakens langs ons pad van sosio-ekonomiese vooruitgang.


1.2. Die Kabinet wens die 41% (115) van die munisipaliteite wat finansiële ongekwalifiseerde verslae op die 2011/12-oudits ontvang het, geluk. Die verbetering wat aangeteken is deur die 21 munisipaliteite wat in die vorige jaar ongunstige ouditmenings of weerhoudings van ouditmenings gekry het, word ook erken.


Die Kabinet waardeer die werk wat deur die Ouditeur-Generaal gedoen word om munisipaliteite te help om algaande beter te voldoen aan die vereistes vir goeie korporatiewe bestuur. Die verbintenis wat deur die munisipaliteite gemaak is om deurlopend te verbeter in die areas wat deur die Ouditeur-Generaal uitgelig is, word ook erken.


1.3  Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners vir hul ondersteuning van die Nelson Mandela Sport-en-Kultuurdag wat aangebied is ten bate van die Nelson Mandela Kinderhospitaalprojek. Suid-Afrikaners word aangemoedig om aan te hou werk in gemeenskappe en met die Regering in vennootskap te tree om die lewe van ons burgers te verbeter en die ideale waaraan Madiba sy lewe gewy het, 'n werklikheid te maak.


1.4. Die Kabinet neem kennis van die komende besoek van President Jacob Zuma aan die Russiese Republiek. Hy sal op 5 en 6 September 2013 die Groep van 20 (G20) Beraad in St Petersburg bywoon met die oog op die bevordering van Suid-Afrika se politieke en ekonomiese belange.


Suid-Afrika gaan voort om die G20 se ontwikkelingsagenda te ondersteun ter versterking van internasionale ekonomiese stabiliteit en langtermyn volhoubare groei en werkskepping.


1.5 Die Kabinet skryf die eerste vergadering van die Sakeraad van Brasilië, Indië, Sjina en Suid-Afrika (BRICS), waartydens sakeleiers van hierdie lande in Suid-Afrika byeengekom het, hoog aan. Die vergadering is ook bygewoon deur vooraanstaande sakeleiers uit 19 ander Afrika-lande.


1.6  Die Kabinet verwelkom die versekering wat die 12de jaarlikse African Growth and Opportunity Act (AGOA) Forum gegee het oor die hernuwing van die AGOA voor die verstryking daarvan in 2015. AGOA het reeds vele voordele meegebring vir sowel die Verenigde State van Amerika (VSA) as die Afrika-kontinent en ondersteun 'n groeiende en relatief gebalanseerde bilaterale handelsverhouding tussen Suid-Afrika en die VSA.


Suid-Afrika glo dat AGOA 'n toepaslike raamwerk bied om sterker, wedersyds voordelige handels-en-beleggingsbande te bou en samewerking tussen die VSA en die breër Afrika-kontinent te bou.


1.7 As deel van die landswye viering van Vrouemaand sal Adjunk-President Kgalema Motlanthe op Vrydag, 23 Augustus 2013 'n besoek bring aan Gombani Village in Mutale Munisipaliteit, Limpopo, om huise aan die gemeenskap te oorhandig. Die vroue van Gombani het aktief deelgeneem om hierdie huise te bou.


1.8 Die Minister van Toerisme sal op 28 Augustus 2013 Toerismemaand van stapel stuur by Amazingwe Lodge, Hartebeespoort, met die tema: “Water is Pret”.


As deel van die maand se aktiwiteite sal 'n Nasionale Toerismeloopbaan Ekspo tussen 19 en 21 September 2013 by die Oos-Londense Internasionale Konvensiesentrum gehou word, waartydens die kollig sal val op werksgeleenthede in hierdie ontwikkelende sektor, wat reeds werk verskaf aan meer as 'n halfmiljoen Suid-Afrikaners.


1.9 Die Kabinet neem kennis dat die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming op Saterdag 24 Augustus 2013 amptelik 70 huise aan bevoordeeldes van Distrik Ses sal oorhandig. Dit is deel van 'n poging om die nalatenskap van die 1913 Swart Grond Wet wat duisende swart mense haweloos en grondloos gelaat het, om te keer.


1.10 Die Kabinet oorweeg die kwessies voortspruitend uit die Kabinet Lekgotla wat op 13–15 Augustus 2013 gehou is. Minister Rob Davies verskaf 'n oorsig van die Kabinetsbesluite in hierdie verband.


Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)

Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore