Verklaring van die Kabinetsvergadering op 26 Junie 2013

1. Die Kabinet se standpunt oor belangrike sake in die huidige omgewing

1.1. Die Kabinet bid saam met die land en die internasionale gemeenskap vir die vader van die nasie, voormalige president Nelson Mandela. In hierdie moeilike tyd is dit belangrik dat almal hul liefde en medelye betoon en Madiba sodoende trots maak. 

1.2. Die Kabinet neem kennis van die 58ste herdenking van die ondertekening van die Vryheidsmanifes op 26 Junie 1955, wat die grondslag van ons demokrasie en Grondwet vorm. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hul deel te doen om die land nader te bring aan die visie van ’n verenigde, nie-rassistiese, nie-seksistiese, demokratiese en voorspoedige Suid-Afrika.

1.3. Die Kabinet verwelkom die hernude verbintenis deur die Departement van Gesondheid om, saam met navorsers, kwessies aan te pak wat gesamentlike pogings in die stryd teen MIV bedreig. Die Kabinet verwelkom ook voorbereidings deur die Departement van Gesondheid om ’n aantal nuwe ingrypings vir bestaande strukture bekend te stel, wat meer bewustheid van MIV en vigs insluit en maatreëls om die risiko van MIV-besmetting te verminder.

1.4. Die Kabinet dra hul medelye oor ná die wrede aanval op die Verenigde Nasies (VN) se Gesamentlike Kamp in Mogadisjoe, Somalië op 19 Junie 2013 waarin 15 mense, insluitend twee Suid-Afrikaners, gesterf het. Ons doen ’n beroep op alle onafhanklike politieke partye in Somalië om die geweld teen te staan en op ’n opbouende en versoenende wyse hul besware aan die Federale Somaliese Regering oor te dra.

1.5. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om op Nelson Mandela-dag (18 Julie) 67 minute van hul tyd op te offer om te help om hul gemeenskappe en Suid-Afrika ten goede te verander. Hierdie jaar se tema is “Neem aksie; inspireer verandering; maak van elke dag ’n Mandela-dag”, met ’n fokus op voedselsekuriteit, huisvesting en geletterdheid.

1.6. Die Kabinet neem kennis dat die bekendstelling van die slim-ID-kaarte in fases sal plaasvind as deel van Nelson Mandela-dag. Hierdie bekendstelling is ’n beduidende losmaak van ons verlede en die einde van die pasboek-era in Suid-Afrika. Die slim-ID is ’n geheuekaart met die vermoë om inligting van verskeie belanghebbendes te stoor – nou en in die toekoms. Die Minister van Binnelandse Sake sal meer besonderhede bekendmaak tydens ’n beplande inligtingsessie.

1.7. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Departement van Basiese Onderwys se veldtog genaamd 94+ Projekte vir Madiba om Nelson Mandela se verjaarsdag en nalatenskap te vier. Die veldtog is daarop gemik om infrastruktuur in meer as 94 skole te verbeter ten einde moderne instansies vir gehalte-onderwys te skep. Die veldtog gee hoop en waardigheid aan skole dwarsoor die land. Tydens Mandela-maand in Julie 2013, sal die department elke week die oorhandiging van voltooide skole behartig as deel van die verbintenis om die gehalte van basiese onderwys te verbeter.

1.8. Die Kabinet verwelkom die voltooiing en oorhandiging van die Nkosi Dalibhunga Mandela-erfenisbrug aan die Mvezo-gemeenskap, wat gelei word deur Nkosi Mandla Mandela, kleinseun van voormalige president Nelson Mandela, op 18 Julie 2013. Die oorhandiging val saam met voormalige president Mandela se 95ste verjaarsdag op daardie dag.

1.9. Die Kabinet neem kennis van Suid-Afrika se viering van die Verenigde Nasies se Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Handeldryf op 26 Junie 2013 in Kimberley. Dit was daarop gemik om te beklemtoon hoe belangrik dit is om die uitdagings wat met dwelmmisbruik verband hou die hoof te bied, insluitend misdaad, MIV en vigs, morele verval, gesinsgeweld en tienerswangerskappe.

1.10. Die Kabinet verwelkom die aanbieding van die Beraad vir Wetenskap, Tegnologie en Innovering, wat van 20 tot 21 Julie plaasvind. Die beraad sal verslag doen oor ’n aanbeveling van die Ministeriële Oorsigkommissie-verslag, beter samewerking en integrasie binne die Nasionale Stelsel van Innovering, en beter gesprekvoering tussen die Regering, bedryf en akademici.

1.11. Die Kabinet verwelkom die verslag oor vordering wat gemaak is in Muyexe in Giyani, Limpopo rakende die inwerkingstelling van beloftes wat deur die Regering gemaak is om die lewe van die mense te verbeter. Die Kabinet benadruk ook die President se pleidooi dat alle regeringsvlakke dienslewering moet bespoedig soos ooreengekom.

1.12. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van SIP-18 op Saterdag, 29 Junie 2013, wat betrekking het op kwessie van infrastruktuur met die oog op die lewering van water en sanitasie. Die projek sal die voorsiening van volhoubare watervoorrade verseker om aan maatskaplike behoeftes te voldoen en ekonomiese groei te ondersteun.

1.13. Die Kabinet verwelkom die inligting wat ontvang is rakende kartel-bedrywighede in die boubedryf. Die Kabinet verwelkom die uitslag van die ondersoek wat bewyse van deurdringende prysvasstelling, samespanning en korrupsie in die privaat boubedryf opgelewer het. Die omvang van die onderhandse verstandhouding regverdig streng optrede deur die mededingingsowerheid. Die Kabinet wag vir die uitkoms van die Mededingingsraad-proses, maar neem kennis dat die bewyse dui op beduidende skade aan die publiek se belange, met geïnfleerde pryse wat die Staat betaal het weens die onderhandse verstandhouding. 

2. Sleutelbesprekings en -besluite van die Kabinet

2.1. Die Kabinet het die Nasionale Dwelm-meesterplan (2013-2017) en die imwerkingstelling daarvan oor die volgende vyf jaar goedgekeur. Die plan dien as die land se bloudruk om alkohol- en dwelmmisbruik en die verwante maatskaplike en ekonomiese gevolge daarvan op die Suid-Afrikaanse samelewing te verminder.

2.2. Die Kabinet het die aanbieding van die Beraad vir Nasionale Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging in Oktober 2013 goedgekeur. Die nasionale beraad sal suksesstories bekendmaak en regeringsingrypings ter ondersteuning van doeltreffende en volhoubare ekonomiese deelname en toegang vir swart mense tot die hoofstroom van die ekonomie ter tafel lê op so ’n wyse dat dit sal bydra tot inklusiewe groei.

2.3. Die Kabinet het goedgekeur dat Suid-Afrika op 5 en 6 September 2013 die mede-gasheer van die “Leier van Verandering in die Stad”-konferensie is, saam met die Verenigde Nasies se Menslike Nedersettingsprogram. Die fokus van die konferensie is vroue se deelname aan stedelike lewe in Afrika. Die konferensie sal ’n platform bied vir Afrika om die uitdagings van verstedeliking voldoende aan te pak en die verstedeliking vir menslike ontwikkeling benut.

2.4. Die Kabinet het die Konsep-Witskrif oor Families en die plan om dit in werking te stel goedgekeur. Die witskrif sal die Regering en ander belanghebbers in staat stel om die familie as wegspringplek vir die skep van gesonde gemeenskappe te gebruik. Die witskrif stel drie sleutel-strategiese prioriteite voor, naamlik die bevordering van gesonde gesinslewe, die versterking van familiebande en die behoud van families.

2.5. Die Kabinet het die finalisering en publisering van die tweede Nasionale Waterhulpbronstrategie goedgekeur. Hierdie strategie bou voort op die 2004 Nasionale Waterhulpbronstrategie. Nasionale Waterhulpbronstrategie 2 bied ’n uiteensetting oor die rol van water in die ekonomie en identifiseer die spesifieke uitdagings, ontwikkelingsgeleenthede en optrede wat nodig is om ’n ooreengekome raamwerk vir die prioriteitsgebiede van die land saam te stel. Die strategie poog ook om volhoubare, billike en veilige watervoorsiening te verseker vir ’n beter lewe en omgewing vir almal en om te verseker dat water doeltreffend bestuur word vir billike en volhoubare groei en ontwikkeling.

2.6. Die Kabinet het die verslag oor die Uitkomste van die 16de Vergadering van die Konferensie van Partye tot die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Diere en Plante (CITES CoP 16) wat van 3 tot 14 Maart 2013 in Bangkok, Thailand gehou is, goedgekeur. Die Kabinet het ook goedgekeur dat Suid-Afrika ’n handelsooreenkoms vir oorweging voorberei en by CITES CoP 17 wat in 2016 in Suid-Afrika plaasvind, indien.

2.7. Die Kabinet het die uitnodiging van die Afrika-Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika aanvaar om ’n lid van die Infrastruktuur-konsortium vir Afrika (IKA) te word, wat bekendgestel is tydens die G8 Gleneagles-beraad in 2005. Suid-Afrika se grootskaalse belegging in infrastruktuur oor die medium termyn sal bevorder word deur sy lidmaatskap aan die IKA, veral ten opsigte van die ontwikkeling van data en kennisprodukte en die koördinering van ontwikkelingsbeleide tussen die G20 en Afrika-lande.

2.8. Die Kabinet het goedgekeur dat die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Protokol vir Handel in Dienste aan die Parlement voorgelê word vir goedkeuring, ingevolge artikel 231 van die Grondwet. Die doelwitte van die protokol is om handel in dienste binne streke te liberaliseer op grond van billikheid, balans en wedersydse voordeel. Die protokol stel ook ’n raamwerk uiteen vir die verslapping van handel in dienste tussen SAOG-lidstate en dien as ’n basis vir onderhandeling.

2.9. Die Kabinet neem kennis van die bekendstelling van die Baccalaureus-graad in Menslike Ontwikkeling van die Departement van Hoër Onderwys in samewerking met die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. Die graad is daarop gemik om doeltreffende menslike-nedersettings-bestuurders en
-praktisyns op te lei wat die toepaslike kennis en vaardighede sal hê wat nodig is om volhoubare menslike nedersettings in Suid-Afrika te skep, te verbeter en te bespoedig.

2.10. Die Kabinet doen ’n beroep op alle regeringsdepartemente, munisipaliteite en semi-staatsinstellings wat in Gauteng bedryf word om alle staatsvoertuie vir e-skyfies te registreer.

2.11. Die Kabinet het die voorgestelde stappe om ‘n Agentskap vir Grensbestuur te vestig goedgekeur. Die agentskap sal migrasie, doeane en grenslynbeheer bestuur en die dienste van alle departemente by inklaringshawens doeltreffend koördineer. Die Departement van Binnelandse Sake sal die proses om die agentskap te vestig lei.

3. Die Kabinet het die volgende wetsontwerpe vir voorlegging aan die Parlement goedgekeur:

3.1. Doeanebeheer-wetsontwerp, die Doeanebelasting-wetsontwerp, 2013 en die Doeane-en-Aksyns-wysigingswet, 2013 – Hierdie wetsontwerpe bied ’n grondslag vir die vergemakliking van internasionale handel en beskerming van die ekonomie en samelewing en skep sodoende ’n balans tussen doeanebeheer en makliker handel.

3.2. Waternavorsing-wysigingswet – Hierdie wysiging is daarop gemik om die wet in lyn te bring met grootskaalse veranderinge met betrekking tot instansies, beleid, waterwetenskap en die regsomgewing en ook om die Waternavorsingskommissie se bydra tot Suid-Afrika se waternavorsingsbehoeftes te verbeter, asook om te verseker dat die land strategies reg geposisioneer is om die behoeftes en probleme van ’n droë land soos Suid-Afrika die hoof te bied.

3.3. Nasionale Omgewingsbestuur-wysigingswet, 2013 – Die konsepwet stel wysigings aan sekere bepalings voor kragtens die Nasionale Omgewingsbestuurswet, 1998 (Wet 107 of 1998) en verseker verder dat die land se natuurlike hulpbronne beskerm word vir huidige en toekomstige generasies, soos beoog deur die Nasionale Ontwikkelingsplan.

3.4. Konsep-wysigingswet op Nasionale Omgewingsbestuur: Luggehalte, 2013 - Die konsepwet stel wysigings voor aan sekere bepalings kragtens die Nasionale Omgewingsbestuurswet: Luggehalte, 2004, wat luggehalte in die land reguleer deur redelike maatreëls daar te stel vir die voorkoming van besoedeling en ekologiese agteruitgang terwyl dit geregverdigde ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling bevorder.

3.5. Nasionale Omgewingsbestuur-wysigingswet: Afvalbestuur, 2013 – Die konsepwet wysig die Nasionale Omgewingsbestuurswet: Afvalbestuur, 2008 (Wet 59 van 2008), wat afvalbestuur reguleer ten einde gesondheid en die omgewing te beskerm.

3.6. Nasionale Omgewingsbestuur-wysigingswet: Beskermde Gebiede, 2013 - Die konsepwet wysig die Nasionale Omgewingsbestuurswet: Beskermde Gebiede, 2003 (Wet 57 van 2003). Wysigings sluit die bestuur van seelewe- beskermde gebiede in die bestuurstelsel van ander beskermde gebiede in en gee uitvoering aan die Presidensiële Proklamasies wat die funksies van visserye en omgewingsbestuur van mekaar skei.

3.7. Wysigingswet op die Suid-Afrikaanse Posbank Bpk. – Die hoofdoelwit van die Wet op die Suid-Afrikaanse Posbank Bpk., 2010 (Wet 9 van 2010) is om ’n finansiële instelling te vestig vir massa-mobilisering ten opsigte van spaar en belegging en om ’n bank van eerste keuse te skep vir die laer inkomstegroep.

3.8. Die Kabinet het die Wysigingswet op Werkloosheidsversekering 2012 vir openbare kommentaar bekendgemaak, asook vir oorweging deur NEDLAC maatskaplike vennote. Hierdie konsepwet wysig die Wet op Werkloosheidsversekering, Wet 63 van 2001. Die wysiging is daarop gemik om aandag te gee aan die kwessie van werkers wat tans nie deur die Wet gedek word nie en die betaling van voordele aan die bydraer te verbeter, die tydperk van betaling aan die bydraer van agt tot 12 maande te verleng en voorsiening te maak vir die benoeming van begunstigdes in die geval van doodsvoordele.

3.9. Die Kabinet het die voorlegging van die Verkiesingswysigingswet, 2013 aan die Parlement goedgekeur. Die wysigingswet is daarop gemik om voorsiening te maak vir spesiale stemme ten opsigte van verkiesings in die Nasionale Vergadering, asook om voorsiening te maak vir die registrasie van kiesers wat gewoonlik buite die Republiek woon om hul spesiale stemme uit te bring.

4. Aanstellings

4.1. Die Kabinet beaam die aanstelling van mnr. Romeo Adams in die posisie van Adjunk-Direkteur-Generaal: Korporatiewe Dienste in die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling.

4.2. Die Kabinet beaam die aanstelling van me. Irene Rofhiwa Singo in die posisie van Hoof Finansiële Beampte in die Departement van Minerale Hulpbronne.

4.3. Die Kabinet beaam die aanstelling van me. Kalayvani Pillay in die posisie van Adjunk-Direkteur-Generaal: Wetsontwikkeling in die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling.

4.4. Die Kabinet beaam die aanstelling van dr. Bismark Tyobeka in die posisie van Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale Kernkrag-reguleerder van Suid-Afrika.

4.5. Die Kabinet beaam die heraanstelling van mnr. Tsietsi Mokhele as Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse See-veiligheidsowerheid (SAMSA) vir ’n tydperk van vyf jaar met ingang van 1 April 2013.

4.6. Die Kabinet beaam die heraanstelling van die volgende nie-uitvoerende lede tot die raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkrediteringstelsel (SANAS), wie se huidige ampstermyn op 30 November 2013 sal verval, om vir ’n tweede termyn vanaf 1 Desember 2013 tot 30 November 2018 te dien.
• Vernon Roderick Seymour
• Phakamisa Zonke

4.7. Die Kabinet neem kennis van die heraanstelling van 13 lede van die Suid-Afrikaanse Raad vir Ruimte-sake (SACSA) met ingang van 24 Junie 2013 tot 24 Junie 2015. Die Kabinet neem ook kennis van die heraanstelling van verteenwoordigers van die Departement van Verdediging, die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking met ingang van 24 Junie 2013 tot 24 Junie 2015.
a. Dr. Peter Martinez
b. Me. Nomfuneko Majaja
c. Mnr. Kim Victor Gorringe
d. Dr. Sandile Bethuel Malinga
e. Me. Pontsho Maruping
f. Me. Andiswa Mlisa
g. Dr. Valanathan Munsami
h. Mnr. Tenza Themba
i. Mnr. Ron Olivier
j. Mnr. Linden Petzer
k. Mnr. Hendrik Rheeder
l. Adv. Phetole Patrick Sekhule
m. Dr. Jo-Ansie Karina van Wyk
n. Benoeming deur die Departement van Verdediging
o. Benoeming deur die WNNR
p. Benoeming deur die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking

4.8. Die Kabinet neem kennis van die aanstelling van mnr. Kutoane Obed Kutoane as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Uitvoer-kredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika vir ’n tydperk van drie jaar met ingang van 1 Augustus 2013 tot 31 Julie 2016.

4.9. Die Kabinet neem kennis van die heraanstelling van professor Linda de Vries as die Nie-Uitvoerende Voorsitter van die Nasionale Dobbelraad vir ’n tweede ampstermyn met ingang van 1 Desember 2013 tot 30 November 2018.

4.10. Die Kabinet neem kennis van die aanstelling van mnr. Ndwakhulu Samuel Mukhufhi as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale Meteorologiese Instituut van Suid-Afrika (NMISA) vir ’n tydperk van vyf jaar met ingang van 1 Augustus 2013 tot 31 Julie 2018.

4.11. Die Kabinet neem kennis van die aanstelling van me. Agnes Tsele-Maseloanyane as ’n voltydse Tribunaal-lid van die Maatskappye-tribunaal vir ’n tydperk van vyf jaar met ingang van 1 Julie 2013 tot 31 Junie 2018.

Uitgereik deur die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS)
Navrae: Phumla Williams (Waarnemende Kabinet-woordvoerder)
Kontaknommer: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore